Die Eerste Brief van Johannes: Antichriste Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe – behou die geloof en oorwin die antichris (2:18-29) (a) antichriste (2:18-19)

Van 1:5 af bespreek die skrywer hoe ‘n Christen in die wêreld moet lewe. Die goeie nuus wat alles bepaal, is dat God lig is (1:5-7). Daarna volg vier praktiese aanwysings hoe ‘n Christen in God se lig behoort te lewe, waaraan ‘n Christen ook getoets word: i) negatief: deur sonde te verwerp (1:8-2:2); ii) positief: deur gehoorsaam te wees (2:3-11); iii) negatief: deur wêreldgesindheid te verwerp; iv) positief: deur die geloof te behou (2:18-29).

In die eerste deel van hierdie gedeelte word drie merktekens bespreek: i) tekens van die einde (2:18-19); ii) merktekens van die gelowige (2:20-23); iii) merktekens van lewe in die lig (2:24-25).

2:18 Die aanspreekvorm ‘Geliefdes’ (paidia) van 2:14 word herhaal om die betrokkenheid en intieme liefdesverhouding van die skrywer met die gemeentelede uit te druk.

‘dit is die laaste uur’ – die ‘dag van die Here’ aan die einde van die huidige bedeling, is met Jesus se menswording, lewe, sterwe, en opstanding vervul, maar nog nie afgesluit nie; vgl. bv. Joh 6:47 ‘wie in My glo, het die ewige lewe’ (nou reeds), en Joh 6:40 ‘dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan’ (met sy wederkoms);  vgl. ook Joh 14:3 ‘En as Ek gegaan en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is’(met sy wederkoms); en Joh 14:23 ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon’ (nou reeds).        

‘Julle het gehoor dat die antichris aan die kom is’ –  ‘antichris’ (een wat teen Christus is, in die sin van Christus se rol wederregtelik oorneem; anti dui ‘teen’ en ‘in die plek van’ aan) Die term  antichris kom slegs in die Johannes-briewe voor (1 Jn 2:18,22; 4:3; 2 Jn 7; vgl. Paulus se ‘wettelose mens, seun van die verderf,’ 2 Ts 2:3-4; Jesus noem Judas ook ‘seun van die verderf’ Jn 17:12.

‘julle het gehoor’ – Johannes veronderstel dat die lesers reeds ingelig is oor die antichris. Die verwagting is blykbaar dat daar voor die wederkoms ‘n aardsvyand van Christus sal kom om mense, ook Christene, te verlei met sy wondertekens en groot woorde (2 Ts 2:3-10).

            ‘en daar is/bestaan nou reeds baie antichriste’ – die voltooide vorm van  ‘is’ wys dat hulle verskyn het en hulle invloed duur voort. Daarmee verwys Johannes skynbaar na die lidmate wat besig is om die gemeentes te verlaat of reeds verlaat het, en die gemeentelede mislei met ‘n valse prentjie van Christus met wat hulle verkondig (dat Hy nie waarlik God is nie of waarlik mens was nie) en met hulle lewe (òf wetties hulle eie verlossing probeer uitwerk, òf wetteloos lewe sonder Christus se wet van die liefde). In wese misken hulle vir Christus.

            ‘hieraan weet ons dat dit die laaste uur is’ – uit die valse idees oor Christus en uit die wettelose optrede van die dwalendes kan ons seker wees dat ons, sedert die koms van Christus, in die laaste uur lewe. Hy het gesê dat daar baie valse profete sal kom, wat baie mense sal verlei (Mt 24:11); dat baie onder sy Naam sal kom en sê ‘Ek is die Christus’ en baie mense mislei. Dit is nog nie die einde nie, maar deel van die geboortepyne, die begin van die nuwe tyd (Mt 24:4-8).  

2:19 Sedert die skrywe van die Evanglie tot hierdie eerste brief het ongeveer 10jaar verloop. Party van die gemeentelede het skynbaar weggebreek van die gemeente af, deurdat hulle siening van Christus nie langer kon saamleef met die Johannes Evangelie se skildering van Christus as God wat volledig mens geword het en sy liefdes-eis nie. So het baie van die vroeë volgelinge van Jesus ook omgedraai  oor sy woorde dat niemand na Hom toe kan kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie, ‘en hulle het nie meer saam met Hom gegaan nie’ (Jn 6:66).

            ‘’hulle het van ons uitgegaan’ –  verwys na  ‘n besliste breek met die gemeente (dieselfde woord ekselthein word gebruik in Jn 13:30a: Judas ‘het dadelik uitgegaan, en dit was nag’). Johannes die Doper het reeds voorspel dat Jesus die koring van die kaf sal skei (Mt 3:12), en Jesus verwys na die eindoordeel as ‘n skeiding van die koring en die kaf (Mt 13:30; 40-43; vgl. die slegte vrugte van slegte bome, as kenmerk van die valse profete, wat uitgekap word, Mt 7:15-20).

            ‘maar hulle was nie van ons nie’ – al het hulle aan die gemeente behoort en gemeen het dat hulle aan Christus behoort, het die groep seker nie die volle konsekwensie besef wat dit beteken om Jesus te volg nie. Hulle het hulle verbindtenis met die gemeente verbreek òf omdat hulle nooit in die geloofsoortuigings van die gemeente gedeel het nie, òf nie meer daarmee kon voortgaan nie.

            ‘want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het’ – as hulle waarlik toegewy was aan die waarheid van die evangelie wat die apostels verkondig het, sou hulle in die gemeente gebly het. Die voltooide verlede tyd van ‘bly’ druk die gedagte uit van voortgang van die verlede tot in die hede: hulle sou tot nou toe nog by ons gebly het in die gemeenskap van die gemeente.

            ‘maar (hulle het uitgegaan) sodat duidelik gewys is dat nie een van hulle van ons is nie’ – die passief ‘duidelik gewys is’ veronderstel dat God, met hulle uitgaan uit die gemeente, geopenbaar het dat nie een van hulle van ons is nie. God het hulle aan hulleself oorgegee om te doen soos hulle goed dink, omdat hulle nie sy Seun as God en ware mens met sy liefdesgebod en al, wou aanvaar nie. So het hulle hulle ware kleure gewys. Die Antichris maak sy verskyning op die plek waar hy die minste verwag word. Soos Judas een van die binnekring van Jesus se vertrouelinge was, en tog van hulle uitgegaan het, so ook die antichriste.

            Jesus het gesê: wie tot die einde toe volhard, sal gered word (Mk 13:13). Volharding in die geloof in Jesus is die kenmerk van mense wat deur God gered is.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Wat beteken dit om te vas?

Wat beteken dit om te vas? – Francois Malan

Thayne vra:

Verduidelik asb. Vir my Matteus 9:16 – 17

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In Mt 9:16-17 verduidelik Jesus met twee analogië hoe sy koms na die wêreld die Fariseërs en die Jode se opvatting van geregtigheid, dit is die regte manier van lewe voor God, verander het.

In die vorige twee paragrawe het eers die Fariseërs en toe die dissipels van Johannes die Doper, Jesus se optrede, wat strydig is met hulle siening van die regte optrede, bevraagteken.

 

Die Fariseërs, toegewydes aan die wet van God, glo as hulle met tollenaars en sondaars saam eet, word hulle onrein voor God. En in Mt 9:10 eet Jesus (die Seun van God) ‘n vreugdevolle feesmaal in die huis van die tollenaar Matteus, wat pas ‘n volgeling van Jesus geword het, en dit ook saam Matteus se tollenaar- en sondaar-vriende wat hy genooi het. Die Fariseërs glo hulle regte lewe voor God word besmet deur in die huis van ‘n heiden en ‘n sondaar in te gaan en saam met hulle te eet. Hulle vra vir Jesus se dissipels (sy leerlinge) waarom hulle leermeester saam met tollenaars en sondaars eet. Jesus, die Leermeester wat van God af kom, leer die Fariseërs oor God se wil: Hy kom soos ‘n dokter wat siekes genees van hulle siekte, en sondaars verlos van hulle sonde. God vra barmhartigheid en nie offers wat die Fariseërs en Jode  vir Hom bring nie. 750 jaar tevore het die profeet Hosea al dié woord van die Here vir Israel en Juda gesê: ‘Ek verwag liefde eerder as offers.’ Dit haal Jesus nou vir hulle aan (Mt 9:13; vgl. ook Miga 6:6-8: die Here vra nie offers nie, maar om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor jou God). Hulle verstaan die geregtigheid wat God van ‘n mens vra verkeerd. God vra dat ons mense met liefde sal behandel.

 

Johannes die Doper het ‘n asketiese lewe gevoer, en sy prediking was bedoel om die mense voor te berei vir die koms van die Messias deur berou oor en bekering van hulle sondes (Mt 3:1-4). Sy dissipels vra waarom Jesus en sy dissipels nie soos hulle en die Fariseërs vas nie (Mt 9:14). Jesus antwoord dat Hy gekom het as die bruidegom (soos Johannes die Doper van Jesus gepraat het as die bruidegom oor wie se stem hy baie bly is; Jn 3:29), en sy bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie – hulle sal wel vas wanneer Hy van hulle weggeneem word met sy kruisiging en dood, maar na sy opstanding verseker Hy hulle: ‘Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’ (Mt 28:20). Jesus se bediening roep sy volgelinge op tot volle vreugde in liefdesdiens van God en medemens (Mt 22:27-29; 25:21,23).

 

Om die nuwe pad te beskryf van die geregtigheid voor God wat Jesus vir ons gebring het, beskryf Hy toe die twee ooreenstemmende voorbeelde in Mt 9:16-17. Jy kan nie die nuwe pad van geregtigheid volg deur vas te klou aan die ou vorme van godsdiens om God mee te behaag nie: die Fariseërs met beskerming van hulle reinheid voor God deur nie met tollenaars en sondaars te meng nie, en die Jode met vas as teken van berou oor die sonde voor God nie:

            ‘n Nuwe lap wat nog nie gekrimp het nie, kan nie oor ‘n ou lap se skeur vasgewerk word nie. Met die eerste was, krimp die nuwe stuk lap, en skeur die ou lap. Nuwe wyn (mos) wat nog gis, kan nie in ou leersakke gegooi word waarvan die leer al verhard het nie. Die gistingsproses sal die sakke laat bars, die wyn is daarmee heen sowel die ou leersakke. Nuwe wyn wat nog bruis van lewe word in nuwe leersakke gegooi wat kan rek in die gistingsproses. Die nuwe lewe vereis nuwe godsdienstige vorme. Uit onselfsugtige liefde het Jesus in ons plek ons sonde op Hom geneem en ons verhouding met God reg gemaak – dit is God se geregtigheid wat ons verkry deur in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam. Die gehoorsaamheid wat Jesus vra het Hy saamgevat in sy nuwe gebod dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34-35; 15:12-17).

 

God vra liefde, selfs teenoor ons vyande (Mt 5:43-48), en dat jy nie dink jy is beter as en neerkyk op die tollenaars en sondaars nie, maar om hulle met liefde na Christus toe te trek (vgl. ook 1 Tim 1:15). Om so te vas dat die mense dit kan sien, het geen waarde voor God nie (Mt 6:16-18). Die Christen se lewe word nie gekenmerk deur treurmares en vas nie, maar deur vreugde oor die genade en volheid van God waaruit hy/sy daagliks lewe. Daarom is vas om God se guns daarmee te wen en die vreugde van burgers van die koninkryk van God onverenigbaar. Jesus se soendood laat ons reeds in God se guns lewe. Ons vas bestaan uit selfbeheersing, wat ‘n vrug is van die werking van die Heilige Gees in ons (Galasiërs 5:22-23). Ons hele optrede moet getuig van die bruidegom, Jesus, en die goeie nuus wat Hy verkondig, die nuwe tyd van vreugde (nuwe wyn) saam met die bruidegom – selfs in tye van lyding en swaarkry (Rom 8:17 as ons saam met Hom ly, kan ons ook saam met Hom verheerlik word).  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(6)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(6) – Hennie Stander

Egskeiding

Huwelike kon en het ook soms opgebreek, en dit was moontlik vir iemand om van sy vrou te skei as by “iets onbetaamliks aan haar ontdek het” (Deuteronomium 24:1). Joodse geleerdes het hierdie vers op verskillende wyse geïnterpreteer. In die tyd van Jesus het die volgelinge van Shammai geglo dat met “onbetaamlike gedrag” verwys is na egbreuk of seksuele wangedrag. Die volgelinge van Hillel, daarenteen, het geglo dat hierdie vers ook van toepassing was op ‘n vrou wat die kos van haar man nie goed voorberei het nie. In die gemeenskap van daardie tyd was dit moontlik vir ‘n man om sy vrou eenvoudig mee te deel dat sy geskei is, maar daar is van die Jode verwag om ook ‘n egskeidingsbrief aan haar te gee wat die oorspronklike huwelikskontrak tot niet verklaar het.

Die man moes dan ‘n egskeidingsbrief uitskryf wat die vrou toegelaat het om weer te trou (Deuteronomium 24:1-2). ‘n Man wat egter ‘n meisie as vrou moes neem omdat by haar tevore verkrag het, was geensins toegelaat om weer daarna van haar te skei nie (Deuteronomium 22:28-29). Voorts, iemand wat sy vrou valslik daarvan beskuldig het dat sy nie ‘n maagd was toe by met haar getrou het nie, was ook nie toegelaat om van haar te skei nie (Deuteronomium 22:13-19). Wanneer ‘n geskeide vrou weer getrou het, en haar nuwe man tot sterwe gekom het of ook van haar geskei het, mag die oorspronklike man nie weer met haar getrou het nie (Deuteronomium 24:3-4). Hosea se tweede huwelik met dieselfde vrou was egter deur die wet toegelaat aangesien sy vrou tussen die twee huwelike nie weer getrou het nie, maar ‘n prostituut was (Hosea 3). God se yolk was egter nooit in die duister oor die feit dat egskeiding geheel en al onaanvaarbaar vir God was nie (Maleagi 2:16). Jesus het dit verder bevestig dat dit wat God saamgevoeg het, geen mens weer mag skei nie (Matteus 19:6; vgl Matteus 5:31-32). Vrouens was egter nie toegelaat om ‘n egskeiding te inisieer nie.

Dood

Die Psalmdigter se dat die gemiddelde leeftyd van n mens 70 jaar is en dat as by tagtig jaar oud word, sy lewe net vol leed en swaarkry is (Psalm 90:10). Die meeste mense het egter voor hierdie ouderdom gesterf vanweë oorloë, siektes en wanvoeding. Met die dood betree ‘n mens die laaste fase van jou lewe en ook rondom hierdie fase het daar rites ontwikkel.

 

In die Ou Testament is daar nie juis sprake van ‘n geloof in ‘n opstanding of lewe na die dood nie. Daar is wel verwysings na die onderwêreld of die doderyk (die Sheol). Vir die Jode was dit ‘n plek waar die dooies (regverdiges en onregverdiges) vergader word. Dit was hoegenaamd nie n plek van aangenaamheid soon dit deur Jesus in die Nuwe Testament geskilder word nie. In die onderwêreld kan ‘n mens ook nie aan God dink of God loof nie (Psalm 6:6). Opgrawings toon dat daar wel ‘n tyd was dat die Israeliete die gebruike van die Kanaäniete nagevolg het deur houers met kos in die grafte van afgestorwenes te sit. Dit mag moontlik toon dat daar wel geglo is dat die dood nie geheel en al ‘n finale stap was nie. In die periode na die ballingskap is daar wel tekens dat daar ‘n geloof ontwikkel het in ‘n opstanding na die dood. In Daniel 12:2 lees ons “Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting.

 

Maar dit is eers na die opstanding van Jesus dat Paulus kon uitroep dat die angel uit die dood uitgehaal is en dat die doderyk finaal oorwin is (1 Korintiërs 15:55). Christus wat uit die dood opgewek is, was inderdaad die eersteling uit die wat gesterf het (1 Korintiërs 15:20).

 

Onmiddellik nadat ‘n persoon gesterf het, was daar ‘n tyd van rou en geweeklaag. ‘n Klaagkreet is aangehef en so is dit aan die buurt berig dat iemand te sterwe gekom het. Gewoonlik het hulle uitgeroep “ag tog, ag tog” (Amos 5:16) of “ag, my broer” (1 Konings 13:30). ‘n Pa sou sy seun by sy naam roep

(2 Samuel 19:1,4). Wanneer dit die enigste seun was wat gesterf het, was die klaagkrete hartverskeurend (Jeremia 6:26; Amos 8:10). Die klaagkrete kon tot ‘n klaaglied ontwikkel (2 Samuel 1:17). Ook Jesus het op so ‘n geweeklaag afgekom toe by na die huis van Jaïrus, die owerste van die sinagoge, gegaan het toe Hy sy dogtertjie uit die dood opgewek het (Markus 5:38). Ryk families het selfs mense gehuur wat professionele rouklaers was (Jeremia 9:17-18; Amos 5:16) ten einde die “rumoer” (sien Markus 5:38) nog groter te maak. Kledingstukke van bokhaar (saklinne) is dan gedra om ongemak te verskaf. Daar is op die bors geslaan (Lukas 23:48) en die klere is geskeur om te wys hoe bedroef  jy was (2 Samuel 3:31). Verder het jy ook as op jou hoof gegooi en jou hare en baard onversorgd gelaat, of jou kop kaal geskeer (Jesaja 15:2).

graf 

Die ingang tot hierdie grafte wat in die rotse uitgegraaf was, is met ‘n ronde plat klip verseel. Hierdie grafte in Jerusalem staan bekend as die Grafte van die Konings.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Hoe is Judas dood?

Hoe is Judas dood? – Francois Malan

Japie vra:

My vraag gaan oor Judas waar daar twee verskillende dinge oor sy dood in die Bybel staan. ‘n Vriend van my het my daaroor gevra en ek sal hom wil antwoord met julle verduideliking, want ek het geen antwoord oor hoekom dit so verskil nie. Baie dankie Groete Japie

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Volgens Mt 27:3-10 neem Judas die 30 silwerstukke terug na die leierpriesters en familiehoofde en sê: Ek het gesondig, want ek het onskuldige bloed verraai. Toe hulle nie gehoor wou gee aan sy onskuldverklaring van Jesus nie, gooi hy die geld in die tempel neer en gaan weg en het homself opgehang. Die leiers oordeel dat dit ontoelaatbaar is om die geld in die skatkis te gooi omdat dit bloedgeld is. Hulle koop toe daarmee die grond van die pottebakker as begraafplaas vir vreemdelinge. Matteus sien daarin ‘n vervulling van Jeremia (Jer 18:2-3 praat van afgaan na die pottebakker se huis, Jer 19:4 praat van onskuldige bloed vergiet; 19:10-13 van die potskerwe wat gegooi word op die ashoop Tofet waar kinderoffers gebring is aan die god Molog, as beeld van wat met Jerusalem sal gebeur). Matteus se aanhaling kom eintlik uit Sagaria 11:12-13 waar o.a. staan: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.’

 

(Matteus het voor Jesus se vonnisoplegging twee getuies van sy onskuld, vgl. Deuteronomium 17:6; 19:15 se vereiste vir die doodstraf: Judas getuig van sy onskuld voor die Joodse Raad,  en die vrou van Pilatus van sy regverdigheid voor haar man die Romeinse vonnis van kruisiging uitspreek; Mt 27:19).

 

Markus en Lukas Evangelies vertel niks van Judas se optrede na sy verandering van gedagte nie (die Griekse woord vir berou en bekering word nie in Mt 27:3 gebruik nie, maar ‘spyt kry’), maar in Lukas se tweede verhaal, Handelinge 1:16-20, verwys Petrus na Ps 41:10  in sy toespraak voor die gelowiges oor Judas se optrede teen Jesus: ‘Selfs my vriend, wat ek vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’

 

            Petrus se weergawe van die gebeure is dan dat Judas ‘mos ‘n stuk grond aangeskaf het uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het onder die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. Want daar staan in die boek van die Psalms geskryf: Laat sy woonplek verlate word en laat geen inwoner daarin bly nie (Ps 69:2). En: Laat ‘n ander sy amp as opsiener oorneem (Ps 109:8).’ Daarom het hulle toe vir Mattias in Judas se plek gekies en by die elftal gevoeg.

 

Matteus en Handelinge se weergawe van Judas se dood het twee punte van ooreenkoms: Hy het geweldadig gesterf, en hy is verbind aan ‘bloedgrond’. Maar daar is opmerklike verskille: volgens Matteus het hy selfmoord gepleeg, die priesters het die grond gekoop, die grond was bekend as die pottebakker se grond. Volgens Handelinge het Judas self die grond gekoop, dit is bloedgrond genoem omdat Judas daar geweldadig dood is (moontlik per ongeluk) – nie omdat dit met bloedgeld gekoop is nie. Hier is duidelik twee onafhanklike weergawes van die basiese verhaal oor Judas se dood wat hom aan die stuk grond, nl bloedgrond verbind. Matteus verbind die naam aan die onskuldige bloed van Jesus; Handelinge aan die skuldige bloed van die verraaier. Volgens Matteus is Judas se einde die gevolg van sy oordeel oor homself; volgens Lukas die oordeel van God – in Deuteronomium 27:25 staan: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ‘n onskuldige dood te maak.

Matteus skryf waarskynlik vir Christene wat in Palestina woon, en Lukas verduidelik in Handelinge  vir sy lesers, wat buite Palestina bly, wat gebeur het. Hy verduidelik bv. vir hulle wat nie Aramees ken nie, die Aramese naam Akeldama  as ‘bloedgrond’.

 

Matteus se hele Evangelie wil telkens vir sy lesers wys dat wat met Jesus gebeur het ‘n vervulling is van die Skrif (vgl. bv. Mt 26:54,56) en die skandelike optrede van die owerpriesters. Hierdie verhaal oor Judas se dood, wat net in sy Evangelie voorkom, is ‘n vervulling van Jesus se waarskuwing in Mt 26:24: ‘Die Seun van die Mens gaan wel heen soos daar oor Hom geskryf staan (Jesaja 53:9), maar ellende wag op daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.’ Die owerpriesters het erken hulle geld is bloedgeld, maar het tog vir Judas daarmee omgekoop, en dit gebruik om die pottebakker se grond te koop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge.

 

Matteus se weergawe is waarskynlik beïnvloed deur die Sagaria-teks: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi (Sag. 11:13).

 

In die verlede is pogings aangewend om die twee verhale se verskille te verklaar. Vir die koop van die grond deur Judas self of deur die priesters is voorgestel dat die priesters die geld as die wettige besit van Judas beskou het en die grond daarmee in sy naam gekoop het. So sou hulle naam of die tempel nie daaraan verbind wees nie. Dat Judas homself opgehang het volgens Matteus en hy voorgeval het en oopgebars het volgens Handelinge is deur Augustinus al gekombineer: dat Judas se liggaam afgeval het nadat hy homself opgehang het, en toe oopgebars het; dat Matteus meer klem lê op Judas se wroeging wat tot selfmoord gelei het, terwyl Petrus in Handelinge wys na wat ná Judas se dood plaasgevind het, en die inwoners van Jerusalem die plek ‘Bloedgrond’ genoem het.

 

Die Johannes Evangelie het net ‘n sydelingse opmerking oor Judas se dood in Jesus se priesterlike gebed in Jn 17:12: ‘…Ek het hulle (wat die Vader aan Hom gegee het om in Hom te glo) beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.’

 

             Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam  van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘  kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee). 2 Tes.2:3 gebruik die naam  ‘Seun van die verderf’ saam met  ‘man van wettelossheid’ vir die  Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom hy die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9;  en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van  God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan