Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(4)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(4) – Hennie Stander

Betreding van volwassenheid

Dit is aanvaar dat die Joodse seun op die ouderdom van dertien jaar volwassenheid bereik het, maar dit is nie seker wanneer hierdie praktyk begin het nie. In die Nuwe Testamentiese tye reeds het‘n seun van dertien jaar oud ‘n “seun van die Wet geword’. Die vader is verantwoordelik gehou vir die seun se dade tot op die ouderdom van dertien jaar en daarna is die seun as ‘nverantwoordelike lid van die Joodse gemeenskap beskou en kon by ‘n lid van die sinagoge word.

Die verhaal aangaande die twaalfjarige Jesus wat by die tempel agtergelaat is (Lukas 2:41-52), toon aan ons dat Jesus homself begin voorberei het vir sy toetrede tot volwassenheid. Dit sou die laaste keer gewees het dat by die Pasga as ‘n kind bygewoon het.

 

Poligamie

Lameg was die eerste persoon van wie ons lees wat twee vrouens gehad het (Genesis 4:19). Esau weer het drie vroue gehad (Genesis 26:34; 28:9; 36:1-5). Jakob het met beide Lea en Ragel getrou, en daarbenewens het by ook ‘n seksuele verhouding met die slavin van elk van hulle gehad (Genesis 29).Nogtans, alhoewel dit toelaatbaar was om tegelykertyd met meer as een vrougetroud te wees, soos in bostaande gevalle, was poligamie nie so algemeen in Israel in die Bybelse tye as wat dikwels beweer word nie. Een van die redes hiervoor was dat ‘n man redelik ryk moes wees om meer as een vrou te kon bekostig en dus was monogamie die meer algemene vorm van die huwelik onder die gewone mense in Israel. Poligamie het meer onder die koninklikes voorgekom. Dawid, byvoorbeeld, het baie vrouens gehad (insluitende Migal, Abigail en Batseba) en Salomo het selfs nog meer gehad gedurende die meer florerende tydperk van sy koningskap. Verskeie Ou Testamentiese figure het egter slegs een vrou gehad. Hieronder tel byvoorbeeld Noag, Isak, Josef en Moses. Dit is dikwels deur die rabbis uitgewys dat dit net tot probleme lei wanneer ‘n mens meer as een vrou het-byvoorbeeld in die geval van Lea en Ragel (Genesis 30) en Hanna en Peninna (1 Samuel 1).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Die Eerste Brief van Johannes: Ken God. Die derde vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp wêreldgesindheid en oorwin die bose (2:12-17) (a) Ken God (2:12-14)

In digterlike vorm, met twee stelle van drie sinne elk parallel geskryf, word die gelowiges se oorwinning oor die mag van die Bose besing. Teenoor die vorige verse oor die valse Christene, wat sê dat hulle in die lig is, maar in duisternis lewe, kan van die egte gelowiges gesê word dat hulle waarlik God se vergifnis ontvang het, Hom persoonlik ken, en die bose oorwin. Hulle word verseker van hulle verlossing. Verse 15-17 is ‘n waarskuwing aan Johannes se ortodokse lesers om die versoekings te weerstaan, en nie aan te pas by die wêreldse lewenswyse nie, wat die valse gelowiges vasgevang het.

Die eerste drie sinne begin met ‘Ek skryf aan julle…’ en verwys na die positiewe opdragte in 2:3,7,8,10 om lief te hê; die tweede groep van drie sinne begin met ‘Ek het aan julle geskryf…’ en verwys na die negatiewe aanwysings in 2:4,9,11 moenie sondig nie.
Die drie terme ‘kindertjies,’ ‘vaders’ en ‘jongmense’ word verskillend verstaan. ‘Kindertjies’ word deur Johannes gewoonlik gebruik vir die hele gemeente (2:1); vaders kan na ouer persone verwys, of na die rypheid van gelowiges wat leiding gee; jongmense kan verwys na fisiese ouderdom, of na die energie van die jeug in diens van die Here. Augustinus (354-430 n.Chr) het die drie benamings gesien as geestelike kwaliteite wat by elke gelowige pas: ‘kinderstjies’ in onskuld, ‘jongmense’ in sterkte, ‘vaders’ in ervaring. Van al die gelowiges kan gesê word: julle sondes is vergewe, julle het Hom geken wat van die begin af was, julle het die bose oorwin. Met Johannes se manier om woorde te gebruik met meervoudige betekenisse, kan al die moontlikhede waarskynlik in die oog gewees het, maar met digterlike afwisseling om die hele gemeente te betrek, word telkens die hele gemeente bedoel.
Die ses maal ‘omdat’ kan ook ‘dat’ wees: met ‘naamlik dat’ herinner die skrywer sy lesers aan hulle Christelike erfenis, en hy moedig hulle aan om verantwoordelik te bly lewe in die lig. Hy kan dit egter ook sê ‘omdat’ hulle verlossing waar is.

2:12 ‘Ek skryf aan julle, my geliefdes (kindertjies as liefdesnaam), omdat julle sondes vergewe is op grond van sy Naam.’ Die gelowiges se sondes is deur God vergewe en dit bly so (is vergewe – passiewe voltooide tyd). ‘sy Naam’ verwys na alles wat God in die persoon en bediening van Jesus Christus gedoen het. Dit is die rede waarom God hulle sondes vergewe het, en gelowiges as God se gereinigde ‘kindertjies’ kan lewe (Hand 4:12). Jesus Christus is die fondament van ons ganse lewe (1 Kor 3:11) en die ruimte waarin die Christen leef (1 Kor 3:1 ‘in Cristus’). Hulle is aan Hom verbind en dra sy Naam.

2:13 Die ‘vaders’ van die gemeente kan verwys na die ouer persone (moeders ingesluit) of die meer ervare gelowiges, maar ‘die kennis van Hom wat van die begin af is’ is die voorreg van elke gelowige. Joh 1:1 sê reeds dat die Woord van God wat mens geword het van die begin af was, dat Hy by God was en self God was – die gelowige is seker dat Jesus God is, teenoor die dwalende Joodse gelowiges, wat Jesus se Godheid betwyfel en teenoor die ‘verligte’ Hellenistiese gelowiges, wat op hulle siening en kennis van God vertrou en nie op Jesus wat God kom openbaar het nie.

Die ‘jongmense’ kan na die jeug in die gemeente verwys, of na nuwe gelowiges. Maar die oorwinning oor die Bose verwys na alle gelowiges. ‘Julle het oorwin’ is ook in die voltooide tyd, wat verwys na ‘n oorwinning in die verlede wat daaglks voortgaan, nadat Jesus aan die kruis die Bose oorwin het (Jn 12:31; Kol 2:15). Ons oowinning is die daaglikse toepassing van Jesus se oorwinning, deur nie toe te gee aan die Bose en ons sondige selfsugtige begeertes nie. Van die 28 keer wat die werkwoord ‘oorwin’ in die Nuwe Testament voorkom, kom 24 daarvan in die Johannese geskrifte voor en ‘oorwinning’ slegs in 1Jn 5:4.
Wat die gelowiges en die kerk onderskei van die valse aanspraakmakers op geloof in verse 12-13, word opgesom as die vergifnis van hulle sonde deur Christus, hulle kennis van God deur Jesus, en hulle oorwinning oor die duiwel deur hulle verbondenheid aan Jesus se lewe, sterwe en opstanding.

2:14 Die stellings in verse 12-13 word hier opgesom en ‘n bietjie uitgebrei as inleiding tot die vermanings wat daaruit voortvloei in verse 15-17.

‘Geliefdes’ (paidia ‘kindertjies’ is ook ‘n troetelnaam soos vers 12 se teknia) as aanduiding van al die gelowiges, van oud tot jong, vaders en jonges ingesluit. ‘omdat julle die Vader ken’ (in vers 12 was dit omdat hulle sondes vergewe is);
‘Vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is (dieselfde as in vers13)

‘Jongmense, omdat julle sterk is, en die woord van God in julle bly (‘n uitbreiding), en julle die Bose oorwin het’ (‘n herhaling van v13).

Deur Jesus te ken, ken ons die Vader (Jn 14:7; vgl. 14:10: die Vader is in Jesus en Jesus in die Vader). Die gelowiges is geestelik sterk deurdat die woord van God in hulle bly, deur die inwoning van die Heilige Gees. Hy is die Gees van die waarheid, wat ons alles leer en herinner aan alles wat Jesus vir die dissipels gesê het (Jn 14:17,26). Daarom is die egte gelowige in staat om die Bose te oorwin (soos Jesus Hom oorwin het deur gebruik van die woord van God (Mat.4:4,7,10).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die tweede vereiste om in die lig te kan lewe: gehoorsaamheid (vervolg): (b) Bly in God en sy gebod (2:6-8)

2:6 Waar 2:4 gesê het dat ons weet dat ons God ken as ons sy gebooie gehoorsaam, en 2:5 dat ons weet dat ons in Hom is, sê 2:6 ‘wie sê dat hy in Hom bly…’ – dit bou op na die klimaks. ‘Bly’ veronderstel ‘n intieme persoonlike kennis van God, ‘n lewe waar ek, deur die Heilige Gees se inwoning in my, permanent en onafgebroke aan God toegewy leef, soos Jesus op aarde geleef het – ‘… behoort te leef (letterlik: ‘moet wandel’) soos Hy geleef het.’

Die gelowige se lewe is een van toewyding aan God, soos Jesus ons voorgelewe het op aarde. Sy lewe het gedraai om die doen van sy Vader se wil (Jn 4:34; 5:30). Vir die lesers van 1 Johannes beteken dit dat hulle sal lewe soos die lewe van Jesus beskryf is in die Evangelie volgens Johannes, wat aan hulle bekend is. Daarvolgens het Jesus reeds gesê: julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet (13:34; 15:12). Om in die lig te lewe vereis gehoorsaamheid aan God, soos Jesus.

2:7 Waar Johannes in 2:1 die gemeentes in en om Efese aanspreek as ‘my liewe kindertjies’, noem hy hulle hier ‘geliefdes.’ Hierdie gedeelte gaan voort met gehoorsaamheid as vereiste, met klem op die praktiese implikasies van die wet van Christus. Voor hy daarmee begin, beoefen Johannes reeds die liefdesgebod, deur hulle sy geliefdes te noem. Dit is ook ‘n sinspeling op 2:5a dat die liefde van God in ons volkome gemaak word deurdat God die Heilige Gees, die Gees van die liefde, in elke gelowige woon.
Vir dié gemeentes van tweede geslag Christene is Jesus se nuwe wet ‘Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het,’ nie ‘n nuwe gebod nie, maar ‘n ou gebod waarmee hulle grootgeword het, en wat hulle goed behoort te ken. Maar by die uitvoering daarvan skiet hulle, of party van hulle, skynbaar te kort. Daarom herhaal Johannes die ou bekende liefdesgebod, want dit is die toets vir Christelike toewyding aan God, en ‘n opsomming van die gehoorsaamheid wat van die gelowige volgeling van God, wat in sy lig leef, vereis word. Dit is ook die grondbestanddeel van die evangelie van Jesus, en die primêre verpligting wat van sy volgerlinge vereis word. Dat die liefdeswet ‘n ou wet is, is moontlik ook ‘n teregwysing aan die valse leraars, wat met nuwighede kom, wat op kennis van God en belewenis van God die klem lê, maar by die liefdesgebod verby kyk en verby leef.

2:8 Tog skryf Johannes vir hulle ‘n nuwe gebod – paradoksaal: oud omdat hulle dit ken, nuut omdat die ou wet nuut bly en nie verstar nie – soos die Jode daarvan iets wetties, los van God as persoon, gemaak het (vgl. Mat 5-7 julle het gehoor dat daar vir mense van die ou tyd gesê is….maar Ek sê vir julle, en dan brei Jesus die ou wette uit en wys wat God se doel daarmee is). Jesus het ook ‘n nuwe maatstaf gebring (julle moet mekaar liefhê ‘soos Ek julle liefhet’).

Die Jode het gepraat van die huidige bedeling en die toekomstige bedeling. Met Jesus se koms het die toekomstige bedeling aangebreek. Ons lewe nou reeds in die eindtyd saam met God, al gaan die ou bedeling nog voort. Daarom bly die manier van lewe in liefde vir ander, in die huidige tyd, nuut in ‘n wêreld waar almal vir hulleself lewe. Maar daarvan sê 1 Johannes dat die duisternis aan die verbygaan is, en die ware lig is reeds aan die skyn. Jesus is die ware lig (Jn 3:19) wat alreeds skyn, en besig is om die duisternis te verdryf, veral in ons lewe (die werkwoord ‘aan die verbygaan’ is in die teenwoordige tyd en passief om aan te dui dat God besig is om die duisternis te laat verbygaan, veral in die lewe van elke gelowige).

Johannes sê dat hierdie wet nuut is. Dit is uit sy liefde dat Jesus mens geword het om vir ons te kom sterwe en te wys hoe God wil hê dat ons moet lewe. Ons is geroep om in dié liefde te leef, wat God die Heilige Gees in ons bewerk deur sy inwoning in ons. So sit Jesus sy liefdeswerk in die wêreld voort deur ons woorde en optrede en gesindhede. Dit vra van ons om al meer liefde aan ander te bewys in ons daaglikse omgang met mense by die huis en by die werk en in ons samelewing om die Bose te oorwin met ons liefde, die liefdesmag van Jesus wat almal na Hom toe trek (Jn 12:32-33). .

Skrywer:  Prof Francois Malan




Hoe definieer ons die wêreld

Hoe definieer ons die wêreld – Francois Malan

Thelma vra:

Ek wil graag weet in 1 Johannes 2:15-17 praat dit van ons moenie in die wêreld wees of dinge van die wêreld doen nie. Hoe definieer ‘n mens die wêreld?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Verse 15-17 verwys in drie parallele frases  na die ou orde wat nog voortbestaan tot die wederkoms van Jesus, en die verhouding van die gelowige teenoor die voortgaande ou bedeling:

            15 Liefde vir die wêreld  –           Liefde vir God

            16 kom van die wêreld   –           kom van God

            17 die wêreld gaan verby-          wie God gehoorsaam, bly vir ewig.

 

2:15 ‘Julle moet nie die wêreld liefhê of die dinge van die wêreld nie…’ Die woord ‘wêreld’ (kosmos) word in Johannes in twee betekenisse gebruik: as God se hele skepping, mense ingesluit (Jn 3:16),  of die menslike samelewing wat in die mag van die bose lewe, teen God en sy wil vir sy skepsels, die ‘sondige wêreld,’ wat gelei word deur bose selfsugtige begeertes (Jn 16:11). Gelowiges het van die ‘wêreld’ van duisternis oorgegaan in die lig van God. Hulle word geroep om ‘die dinge van die wêreld’ te weerstaan. Dit beteken nie dat hulle nie aan God se wêreld moet deelneem nie, maar om in die wêreld te wees en nie van die wêreld nie  (1 Jn 4:17;  Jn 17:14-16).

               ‘As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van (en vir) die Vader nie in hom nie.’ God se gawe van sy liefde en lewe moet reg gebruik word, deur Hom lief te hê, in sy liefde te leef in die wêreld, liefde vir die sondige wêreld  te verwerp, en selfsugtige begeertes te weerstaan. Liefde is nie ‘n onbeheerbare emosie nie, maar konstante toewyding van jou wil. Die een wat die dinge van die wêreld liefkry, gee homself daaraan oor en leef volgens die norme van die wêreld wat nie met God rekening hou nie.

 

2:16 Hier verduidelik Johannes wat ‘al die dinge wat in die wêreld’ is, wat teen God staan:

(i)  ‘die begeerte van die vlees’ – eintlik is dit ‘n opsomming van  alles wat deur die volgende twee dinge verder verduidelik word. Die woord ‘vlees’ (sarks) word gebruik vir die natuurlike swak liggaam, en vir die sondige gees. So is daar ook goeie begeertes en slegte begeertes. Hier gaan dit om die sondige begeertes van die sondige mens wat uitinge van sy selfsug en hoogmoed is (vgl. die lys van Gal 9-21). Begeerte (epithumia) verwys na ‘n sterk begeerte (neutraal), en ook om te kry wat aan iemand anders behoort, ‘n lus daarna (negatiewe betekenis). Laasgenoemde  gaan om ‘n eiewillige selfbeskikking en selfgerigtheid los van die wil van God.   

(ii) die begeerte van die oë – ‘n drang om dit wat die oë sien te verkry – sondige begeerlikheid na dinge wat teen die wil en wense van God is. Die oë is nie vanself  verkeerd nie, maar word die instrumente waarmee verkeerde begeertes toegelaat word om wortel te skiet en te groei in die menslike wil.

(iii) ‘praalsug’ of  ‘grootpratery /arrogansie van die lewe’ – (lewe, bios, verwys na jou daaglikse optrede of gedrag, of na jou besittings) die dinge in die wêreld maak dat ‘n mens op hulle gaan roem en hom op hulle verlaat. Die woord  (arrogansie, of pretensie) verwys na iets  wat spruit uit ‘n valse  waardering van wêreldse besittings, houdings en aktiwiteite. Daarmee wil ‘n mens wys dat hy beter is as ander, en versteur só juis sy verhouding met ander (vgl. Flp 2:3-5 vir egte nederigheid).

Bose begeertes (i) en valse waardes (ii) gaan oor onheilige begeertes na dinge en posisies wat ons nie het nie, en egoïsme (iii) gaan oor onheilige trots oor prestasies of dinge wat ons het.

Johannes het verduidelik wat al die dinge van die wêreld is wat die gelowige moet vermy en nie moet  liefhê nie: selfsugtige begeertes, wat gestimuleer word deur wat die oë sien en tot uiting kom in ‘n uiterlike vertoon.

            Sondige begeertes is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.’ Hervorming moet van binne af begin. Die wêreld, die menslike bestaan, aardse besittings, is nie in sigself sondig nie; dit is die mens se ingesteldheid daaroor en die mens se drang om daarmee verbind te wees sonder God, in die plek van God en selfs teen God. Dit is ‘n vervreemding van God (vgl. die derde groep sade wat tussen die onkruid geval het as beeld van bekommernis van die lewe, en die verleidelikheid van rykdom wat die woord verstik dat dit sonder vrug bly, Mat 13:22) .

 

2:17 Die wêreld met sy dinge wat begeer word, is aan die verbygaan. Dit is die tweede rede waarom ‘n Christen nie die wêreld moet liefhê nie (die eerste rede in 2:15-16: liefde vir die wêreld en liefde vir God sluit mekaar uit). Die dinge van die wêreld het egter nie permanente waarde nie, so ook nie die begeerte na die dinge van die wêreld nie

(1 Kor 7:31 sê: ‘hierdie wêreld soos ons hom ken (letterlik: die huidige vorm of voorkoms van hierdie wêreld), is aan die verbygaan.’  Daarom het dit nie blywende waarde nie. Daarom moet die Christen sy liefde vir dinge van die wêreld en sy verlange na die eer van mense aflê. Dit is deel van sy selfverloëning.

            ‘maar  hy wat God se wil doen, bly vir ewig’ – God se wil is boweal om lief te hê. Liefde teenoor God, deur sy gebooie te gehoorsaam, deur  steeds in liefde op te tree teenooor  alle mense met wie ek in aanraking kom (vgl. Rom 13:16 die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet). Liefde vir die wêreld kom uit die wêreld (2:16) wat aan verbygaan is. Liefde vir God kom uit God, en God is ewig, so ook die lewe wat Hy vir die gelowige gee. Omdat dit uit God is, is dit permanent, ewig. Dit behoort aan ‘n heeltemal ander dimensie as die wêreldlike lewe wat die Christen omring met verloklikhede om hom weg van God se wil af te lei, en jou eiewilligheid wat jou soos ‘n tipiese wêreldling laat optree. Maar om afstand  te hou teenoor die wêreld se aansprake  is daar slegs een manier, naamlik om die wil van God te doen deur lief te hê – dit bly vir ewig en gee sin en rigting in die lewe.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan