Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(1) – Hennie Stander

Daar word vandag na ons gesinne as kerngesinne” verwys omdat dit so kleinis-ons gesinne bestaan gewoonlik uit slegs ‘n vader, ‘n moeder en een of twee kinders. Families in die Ou Testamentiese tye was baie groot en dit het letterlik elke lid van die familie ingesluit – ooms, tannies, neefs; niggies en diensknegte. Aan die hoof van die familie het ‘n familiehoof gestaan. Die kleiner groeperinge binne ‘n familie het elk weer sy eie gesinshoof gehad.

Abraham en sy opvolgers was sulke familiehoofde en op een stadium kon Abraham 318 weerbare manne, wat in sy huishouding gebore is, in die veld stoot. In so ‘n uitgebreide gesin is die familie deur die oudste manlike familielid regeer wat die vader of grootvader was. So byvoorbeeld toe Jakob na Egipte afgetrek het, is Jakob as die vader van die familie beskou alhoewel sy seuns reeds vrouens en kinders gehad het (vgl Genesis 46:8-27). Hy het dan ook tot sy dood oor die familie geheers. Moontlik het Maria en Josef saam met so ‘n familie gereis toe hulle met Jesus na Jerusalem gegaan het toe Hy twaalf jaar oud was, want ons lees dat hulle met “familie en bekendes” gereis het (Lukas 2:44).

 

Die vader

Die familie was dus soos ‘n “klein koninkrykie” wat deur die familievader regeer is. Hy het heerskappy gevoer oor sy vrou, kinders, kleinkinders en slawe – almal in die huishouding. Die kinders is ook geleer om hierdie gesag te aanvaar (Eksodus 20:12). Indien die kinders geweier het om hulself onder , hierdie gesag te stel en sodoende die, familie-eenheid in gevaar gestel het, kon hulle met die dood gestraf word (Deuteronomium 21:18-21).

 

In die gesin het die vader die geestelike leiding geneem en het hy byna soos ‘n priester namens die gesin opgetree (vgl Job 1:5). Voorts was by ook daarvoor verantwoordelik dat die verskillende godsdienstige rites nagekom word, soos byvoorbeeld met die besnydenis en die pasga rites. Daar het ook verder die verpligting op die vader gerus om sy kinders op te voed in die vermaning van die Here (Efesiers 6:4).

 

Vrouens

In Genesis 2:18 word gestel dat God die vrou geskep het as ‘n hulp vir die man. Die rol van-die vrou was in die Ou Testamentiese tyd altyd ondergeskik aan dié van die man. Wanneer gaste teenwoordig was, was sy uit sig (vgl Genesis 18:9). Ook in die Nuwe Testament vind ons dieselfde. Paulus het dit ook baie duidelik uitgespel dat die man die hoof van die vrou was (1 Korintiërs 11:3). Die apostel Paulus motiveer die ondergeskikte posisie van die vrou deur daarop te wys dat die man eerste geskape is en dat dit die vrou was wat eerste God se gebooie verontagsaam het (1 Timoteus 2:13-14). Dit was die klimaat van die tyd.

 

Ondanks die ondergeskikte tradisionele rol van die vrou, was sy beslis nie sonder eerbied en respek nie. In Spreuke 31 word die rol van ‘n deugsame vrou besing. Die Tien Gebooie het vereis dat beide die vader en die moeder vereer moet word. In Levitikus 20:9 word dieselfde straf bepaal vir die een wat of sy vader of sy moeder vloek. Voorts lees ons van verskeie mans dat hulle hul vrouens liefgehad het (vgl Genesis 24:67; 1 Samuel 1:5). Dit was inder­daad van die man verwag om sy vrou lief te he (Efesiërs 5:25). Die vrou se primêre rol was om kinders vir haar man te verwek (vgl Psalm 128:3) en om na die huishouding om te sien.

 

Ondanks al die liefde en respek wat aan die vrou betoon is, het sy nie dieselfde regte as die man geniet nie. Dit lyk of sy veel eerder saam met sy besittings, grond, en slawe gereken is. Sy kon ook nie haar man skei nie, alhoewel hy van haar kon skei.

 

Jesus het egter, ondanks die sosiale klimaat van sy tyd, deur sy optrede ‘n heeltemal anderse hou­ding jeens die vrou openbaar. Hy het byvoorbeeld in die openbaar met ‘n vrou in gesprek getree tot die verbasing van sy dissipels, want so iets was nie die gebruik nie – boonop was sy van Samaritaanse afkoms (Johannes4:27). In sy hele bediening het hy nooit enige onderskeid tussen man en vrou gemaak nie en verskeie vroue, onder andere Maria en Marta, het ‘n belangrike rol in sy bediening ge­speel. Na Sy hemelvaart het etlike vroue ‘n belang­rike rol gespeel in die vroeë Kerk. Sommige vroue is selfs in die amp van diakones aangestel (Romeine 16:1) – terwyl ander weer as profetesse opgetree het (Handelinge 21:9).

 

God het vir Adam slegs een vrou gegee. Tog word daar in die Ou Testament soms, maar veral onder koninklikes en rykes, die verskynsel van poligamie (meer as een vrou) gevind. In die Nuwe Testament word die beginsel van monogamie (een vrou) soos in die skeppingsverhaal, herbevestig. Veral kerkleiers is sterk hieroor vermaan (1 Timo­teus 3:2).

Josef

‘n Relief van Josef wat hom ontferm oor sy gesin nadat Herodes besluit het om alle kinders onder twee jaar om die lewe te bring.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Die eerste brief van Johannes: Onderhou Jesus se woord Die tweede vereiste om in die lig te kan lewe:

In 1:5-7 is die noodsaaklikheid gestel om in die lig te lewe. Die eerste vereiste vir egte Christelike lewe is negatief gestel: breek met die sonde (1:8-2:2). Die tweede, positiewe vereiste, is gehoorsaamheid, veral aan die wet van die liefde (2:3-11). Die onmiddelike effek van die lig is om sonde bloot te lê, en die primêre doel van die lig is om ons verantwoordelikheid te belig: om God te ken en God en ons mede-gelowiges lief te hê.

2:3 Voor die koms van Christus was daar al ‘n beweging onder Jode en Grieke om kennis (gnoosis) as die sleutel tot die lewe en tot God te beskou. En hulle, wat geroem het oor hulle wysheid en kennis van dieper dinge, het gewoonlik nie belang gestel in die etiek of hoe jy lewe nie. Dit was ‘n soeke na intelektuele kennis ter wille van meerdere kennis, en hulle was selde bekommerd oor morele optrede. Een van hulle spreuke was ‘ons weet dat ons weet.’

Johannes begin vers 2 met die spreuk van die Gnostieke, maar vul dit met egte Christelike inhoud: ‘en dit is hoe ons weet dat ons Hom ken…’ Die werkwoord ‘dat ons Hom ken’ is in die voltooide tyd. Dit beteken dat ons Jesus leer ken het in die verlede, en die effek daarvan duur voort in die hede. Ons ken God nie deur die regte denkprosesse nie, maar deur ‘n egte verhouding met Hom. Dit is nie in die eerste plek ‘n verstandelike saak nie, maar ‘n geloofsverhouding tot God. Om God te ken beteken om in gemeenskap met Hom te lewe. Jesus het mens geword om onder mense konkreet liefde te betoon, en vra nou konkrete liefde. Om God te ken beteken ook om op Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Hy gee ons die krag om in dié gehoorsaamheid te lewe.

Die toets vir egte kennis van God is: ‘as ons sy gebooie onderhou/gehoorsaam.’ Die woord vir ‘onderhou’ of gehoorsaam, is in die teenwoordige tyd. Dit beteken dat ons sy gebooie deurgaans gehoorsaam as ons lewenswyse (vgl. Hosea 4:1-2). Ons gehoorsaamheid aan sy gebooie is die bewys dat ons Hom ken, en is die toets vir ons kennis van Hom (vgl. Jn 15:10: As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly).

Sy gebooie is in Eksodus 20:2-17 saamgevat, en deur Jesus vir die skrifgeleerdes opgesom as liefde tot God en ons medemens (Mt 22:37-40) en met sy nuwe gebod vir sy volgelinge in Jn 13:34 en 15:12 om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet; en selfs om jou vyande lief te hê omdat jy kind is van jou hemelse Vader, wat vir die hele skepping sorg (Mt 5:43-48).

2:4 Die gesprek met die dwaalleraars word voortgesit met klem op drie van hulle aansprake, en ‘n negatiewe en positiewe uitbreiding daarop oor gehoorsaamheid wat voortvloei uit die regte verhouding met God:
2:4 Iemand wat sê: Ek ken Hom…moet gehoorsaam wees (v5) anders lieg hy’

2:6 Wie beweer dat hy in Hom bly… moet lewe soos Jesus gelewe het (met ‘n uitbreiding daarop vv7-8).’

2:9 As iemand beweer dat hy in die lig is… moet hy sy broer/suster liefhê (v10) anders is hy in die duister.’ Die ‘iemand’ kan egter ook ‘n gelowige wees, wat homself moet toets aan die drie kenmerke wat gestel word.

Wie beweer dat hy God ken, sonder dat hy die gewoonte het om Hom te gehoorsaam, soos Christus Hom aan ons bekendgemaak het, is ‘n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie (die werkwoord ‘onderhou’ in die teenswoordige tyd wys na ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God). In 1:10 het die een wat beweer dat die mens sondeloos is, van God ‘n leuenaar gemaak. In 2:4 is die een self ‘n leuenaar, wat ‘n verhouding met God bely, sonder ‘n gehoorsame lewe. Dit word versterk deur die byvoeging: en die waarheid (Christus, die woord van lewe 1:1, as God se waarheid, Jn 14:6) is nie in so iemand nie.’

2:5 ‘Wie ookal sy (God se) woord hou (steeds daarvolgens lewe)…’ – in 2:3 het dit gegaan oor onderhouding (gehoorsaam) van sy gebooie. Om sy woord te hou dui op ‘n meer persoonlike verband met God as die gehoorsaming van sy gebooie, en verwys dit na God se morele wet en die volle selfopenbaring van God in Jesus Christus, die Woord van God; dat ons steeds sal lewe bewus daarvan dat ons in die teenwoordigheid van God lewe.

‘…in dié persoon is die liefde van God waarlik volbring’ (‘volbring’ die woord waarmee Jesus aan die kruis gesterf het). Die passief ‘is volbring’ verwys na die werk van God in die gelowige, in wie die liefde van God so deurgewerk het, dat hy/sy volgens God se woord lewe, en al meer soos Jesus word in sy/haar liefdesdiens aan ander. Dit bewys dat die Heilige Gees in dié persoon woon en werk.

Die ‘waarlik’ is waarskynlik gerig teen die gemeentelede wat valslik beweer dat hulle in gemeenskap met God lewe. maar nie sy woord/sy wil uitlewe nie. Die liefde tot God kom nie uit in ‘n gevoel of ‘n ekstatiese belewenis nie, maar in ‘n lewe volgens die woord van God wat Jesus aan ons geopenbaar het.

‘Hieruit weet ons dat ons in Hom is’ – ‘hieruit’ verwys in 1 Johannes gewoonlik na wat daarop volg. Om in Hom te wees, verwys na die wonder dat God ons opgeneem het in die gemeenskap tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees; dat die Heilige Gees ons met geloof aan sy Seun verbind, sodat ons saam met die Seun kinders van God se gesin is.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Voedselsoorte en Etes (5) – Interessante Bybelgedeeltes

Voedselsoorte en Etes (5) – Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Sout van die aarde (Matteus 5:13)

Jesus noem die Christene hier “die sout van die aarde.” Soos ons reeds in hierdie hoofstuk gesien het, is sout gebruik om of smaak aan kos te gee, of om kos te preserveer, Of dit is vir die genesende krag daarvan gebruik, en verder het dit ook ‘n rol by verbond- of vriendskapsluiting gespeel. Wanneer Jesus egter die Christene met sout gelykstel, verwys Hy waarskynlik na die “deurtrekkende” funksie van sout. Net soos sout alles deurtrek, so moet ook die Christene in die wêreld wees: hulle moet hul invloed deeglik laat geld.

Vleis sonder bloed en die drink van bloed Levitikus 7:26-27; 17:10-14; Deuteronomium 12:23)

 Volgens die vleiswette van die Ou Testament, was dit verbode om vleis met bloed te eet, m.a.w. om rou vleis te eet. Die rede wat hiervoor gegee word, is dat die “die siel van die vlees in die bloed is” en dat “die bloed versoening bewerk”. Bogenoemde verse het al baie dispute ontlok en dit is al sells gebruik om die moderne gebruik van mediese bloedoortappings te  veroordeel. ‘n Mens moet egter hierdie verse binne hul historiese konteks verstaan. Die heidene het die gebruik gehad om die bloed van diere te eet en die vleis rou te eet. Hulle het geglo dat hulle hierdeur deel sou kry aan die krag van die diere en dat hulle sodoende makliker met die (af)gode in aanraking sou kom. Die Hebreeuse woord wat in bogenoemde gevalle met siel vertaal word, moet dan eintlik ook eerder met lewe(nskrag) vertaal word, omdat dit niks te doen het met die hedendaagse gebruik van die woord siel soos wanneer ons praat van die siel van die mens nie. Voorts staan daar in Levitikus 17:11 dat bloed versoening bewerk het. God wou dus he dat bloed vir Sy yolk ‘n heeltemal ander interpretasie moes inhou as die interpretasie wat die heidene daaraan gegee het. In die Nuwe Testament het die bloed van Jesus vir ons versoening gebring en daarmee is die Ou Testamentiese soenoffer vervul. Ons sal dus bogenoemde tekste heeltemal uit verband ruk indien ons dit aanwend om moderne bloedoortappings of te keur.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Die eerste brief van Johannes: Breek met die sonde Die eerste vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp sonde (vervolg) (b) breek met sonde (2:1-2)

2:1 Anders as in die vorige twee pare sinne in 1:8-9, begin die antwoord hier negatief: hy skryf hierdie brief om enige sondige gedrag te ontmoedig. Daarna kom die ‘Maar as…’ sin.

Hy spreek sy lesers nou direk aan as ‘my liewe kindertjies’ (teknia klein kindertjies as ‘n lieflingsnaam; vgl. Jn 13:33)  nie bloot kinders (tekna) of ‘my kinders’ nie – daarmee word sy intieme verhouding met die gemeentes uitgedruk. Hy gebruik ook die eerste persoon ‘Ek skryf aan julle’ waar hy tot nou toe die meervoud ‘ons’ gebruik het, waarmee hy soms verwys na hulle apostels se verkondiging, en hom soms identifiseer met die gemeente se probleem.

Die eerste en belangrikste voorwaarde om in die lig van God te leef is om sonde as ‘n lewenswyse te los. Daarmee sê hy nie dat ons sondeloos kan lewe nie, maar pleit hy dat ons die geneigdheid tot sonde wat uitloop op sondige gedagtes en woorde en dade sal teenstaan, en so ver as moontlik onberispelik sal lewe in die lig van God. Die doel van die hele brief is dat hulle nie meer sal sondig nie (vgl. Jesus se opdragte in Jn 5:14 en 8:11).

Die positiewe antwoord op die probleem van sonde is: as iemand sondig in woord of daad, God het daarvoor voorsiening gemaak, op twee maniere:

(i) God het vir ons ‘n voorspraak/advokaat/helper  voorsien (parakletos iemand wat geroep is om langs my te staan; ‘n woord wat in die Bybel slegs in die Johannes Evangelie en hier in 1 Jn voorkom). Jesus staan ons by en tree vir ons in by die Vader (Rom 8:34; Hebr.7:25;  9:24). God se vergewende aard word geopenbaar deur sy voorsiening van ‘n Middelaar tussen ons en God: ‘as enigiemand sondig (uit swakheid), ons het ‘n Helper in die teenwoordigheid van die Vader, wat vir ons intree, nl. Jesus Christus, self God, wat ons mensheid aangeneem het. In Jn 14:16 het Hy na die Heilige Gees verwys as ‘n ander Helper (parakletos)  wat beteken dat Jesus die eerste Helper is, wat vir ons by die Vader sal vra (Jn 16:16; vgl. 14:12-14; Hand 16:7 praat van die Gees van Jesus;  Flp 1:19 van die Gees van Christus; Rom 8:9 praat van die Gees van God en noem die Heilige Gees ook die Gees van Christus). Soos Jesus vir sy volgelinge intree by God, pleit die Heilige Gees by ‘n ongelowige wêreld om in Jesus te glo en Hom te volg. Jesus (Grieks vir die Hebreeuse Joshua ‘die Here red’) is sy aardse naam wat die Engel aan Maria (Lk 1:31) en aan Josef (Mt 1:21) aangekondig het. Christus ‘Gesalfde’, deur God gestuur as Profeet: om God te openbaar, Priester: om ons verhouding met God reg te maak deur sy offer aan die kruis en sy opstanding, Koning: aan wie alle mag  in die hemel en op die aarde gegee is.                

Ons Helper in die hemel is ‘regverdig.’ Jesus het volledig voldoen aan die eise wat God aan die mens stel. Hy is volkome onskuldig aan die sonde waarvan die sondaars aangekla word.  Hy het alle geregtigheid kom vervul (Mat 3:15; Rom 10:4). Met ‘n regverdige regter (1:9) en ‘n regverdige pleitbesorger (2:1) kan ‘n regverdige oordeel verwag word.  Op grond van Jesus se regverdigheid, wat veral aan die kruis geopenbaar is toe Hy ons regverdige straf gedra het (1:2), kan Hy vra dat die geregtigheid, wat Hy vir ons aan die kruis bewerk het, toegeken word aan elke kind van God deur hulle verbondenheid aan Hom as die Seun van God. Op grond daarvan kan God ook elke soort ongeregtigheid van ons reining (1:9; Rom 3:25-26).  God self, die offerdood van Christus, en Christus as ons Voorspreek by die Vader, is die magte vanwaar  ons vergewing, reiniging en heiliging kom (vgl. 1 Kor 1:30)

2:2 (ii) God het nie slegs ‘n regverdige voorspraak vir die sondaars voorsien nie, maar die voospraak is self ook die middel vir die vergifnis van ons sondes, egter nie net vir ons s’n nie, maar ook van die hele wêreld’(1:7). Deur sy menswording, woorde, dade, dood en opstanding uit die dood, bied God aan ons, en aan die hele wêreld, die weg van verlossing van sondes aan. Deur ons verbinding aan Hom deur geloof, vergewe God ons sondes.

            ‘Versoening’ of ‘soenoffer’ beteken nie dat Jesus ‘n offer aan ‘n toornige God aangebied het om sy toorn te kalmeer (soos in die heidense godsdienste) nie. Die woord toorn in Jn 3:36 verwys na God se straf op die sonde, wat ook God se toorn oor die bose impliseer. Maar die klem lê op die straf op die ongelowige wat weier om God se verlossing in Christus te aanvaar, en nie op God se toorn oor die bose nie. Volgens Openb. 20:15 word dié mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie, saam met die duiwel, in die poel van swawel en vuur gegooi (Openb 20:10; vgl. Mt 25:41).

            Johannes se klem lê egter op God se liefde vir die wêreld, dat Hy  sy enigste Seun vir die wêreld gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Jn 3:16). Hy is die weg na God toe vir die hele wêreld, omdat Hy die verdiende regverdige straf op ons sonde gedra het, ons van die skuld/smet van die sonde reinig, en van die mag van die sonde bevry sodat ons, aan Hom verbind, geregverdig en vlekkeloos voor God en in sy lig te kan lewe. Ons word aan Hom verbind deur die geloof wat die Heilige Gees in ons harte bewerk. Die teks beklemtoon dat Jesus die soenoffer vir die sonde is, teenwoordige tyd, nou en vir altyd. Sy offer aan die kruis oorspan die eeue van die begin van die wêreld tot in ewigheid. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29), en so versoening tussen ons en God bewerk. Hy stel ons ook in staat om te breek met die sonde en daagliks te lewe in die lig.

Skrywer: Prof Francois Malan