Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vodeselsoorte en Etes(3)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vodeselsoorte en Etes(3) – Hennie Stander

Vrugte

Vrugte was ‘n. verdere belangrike bestanddeel van die Jode se dieet. Beide vars en gedroogde vye is gebruik (Jeremia 24:2; 1 Samuel 25:18). Ook druiwe en granate was bekende vrugsoorte (Numeri 13:23; Deuteronomium 8:8). Druiwe is gedroog en as rosyntjies gebruik en rosynekoeke is daarvan gemaak (1 Samuel 25:18; 2 Samuel . 6:19; 1 Kronieke 12:40). Neute en amandels is van die vroegste tye af gebruik (Genesis 43:11). Die vrugte van die appelboom is as lekker .beskou (Hooglied 2:3) en dit het ‘n aangename reuk gehad (Hooglied 7:8). Ook olywe is geëet maar olywe is dikwels uitgedruk en dan is dit vir die maak van olie aangewend. Hierdie olie is dan of vir die lampies (Eksodus 27:20), of vir bak en kookdoeleindes gebruik (vgl. Levitikus 2:5).

Heuning

In die Bybel is daar talle verwysings na die soetheid van heuning. Dawid sê byvoorbeeld dat die bepalings van die Here soeter is as heuning (Psalm 19:10-11). Die Israeliete het heuning as versoetmiddel gebruik aangesien hulle nie suiker gehad het soos wat ons dit vandag ken nie. Daar is etlike gevalle in die Bybel waar ons lees dat heuning geëet is: Simson het dit in die karkas van ‘n leeu gekry (Rigters 14:8-9); Jonatan het dit in ‘n bos gekry (1 Samuel 14:25-27); heuning is ook uit klipskeure gekry (Deuteronomium 32:13). Toe Jerobeam se seun siek was, het hy sy vrou met, onder andere, ‘n kruik heuning na die profeet toe gestuur (1 Konings 14:3). Johannes die Doper het van sprinkane en veldheuning geleef (Matteus 3:4).

 

Volgens die Ou Testamentiese wette was dit egter verbied om heuning te verbrand as ‘n offer vir die Here (Levitikus 2:11).

 

Sout

Baie groot voorrade sout was by die Dooie See beskikbaar. Aan die een kant is southope en -panne gebruik as simbool van verlatenheid en dorheid (Deuteronomium 29:23; Sefanja 2:9). Aan die ander kant was sout simbool van dit wat vrugbaar en waardevol was. Wanneer daar byvoorbeeld vriend­skap met iemand gesmee is, het dit gepaard gegaan met die skenk van sout (Die Arabiere doen dit vandag nog). Daarom is die verbond tussen God en mense dikwels ‘n soutverbond genoem omdat dit onverbreekbaar was (Numeri 18:19; 2 Kronieke 13:5-vgl ook ons uitdrukking in Afrikaans naamlik. om ‘n sak sout met iemand op te eet”). Maar sout is verder gebruik om smaak aan kos te verskaf (Job 6:6). Dit is ook in graanoffers gegooi (Levitikus 2:13). Daar is voorts geglo dat sout medisinale waarde gehad het, en dus, is pasgebore babas daarmee ingevryf (Esegiël 16:4).

soutpanne

Hope voorrade sout was naby die Dooie See beskikbaar.

 

Handewas

Die hande is altyd voor ete gewas omdat daar met die hande self, en nie met messe, vurke en lepels nie, geëet is. In ‘n ryk huis was dit die taak van die dienskneg om diegene wat op die punt gestaan het om te eet, se hande te was. Ons lees byvoorbeeld dat Elisa die een was wat gewoonlik die water oor die hande van Elia gegooi het (2 Konings 3:11). In hierdie geval het die uitdrukking “om water oor iemand se hande te gooi” eintlik al idiomaties geword vir die betekenis van “iemand se assistent te wees”. In Genesis 18:4 stel Abraham aan sy gaste voor dat by water sal gaan haal, sodat hulle eers hulle voete kon was, rus en ‘n bietjie eet.

 

In die tyd van die Nuwe Testament is die hande nie meer om slegs higiëniese redes gewas nie, maar dit was veel meer seremonieel van aard. Die dissi­pels van Jesus is dan ook gekritiseer omdat hulle met ongewaste hande geëet het. Jesus het egter gereageer teen die ritualisering van hierdie praktyk (Markus 7:1-8). Hy het self ook die rol van ‘n dienskneg aangeneem deur die dissipels se voete te was voordat hulle die Laaste Avondmaal saamgeëet het (Johannes 13:4-5).

 

Voordat die maaltyd genuttig is, is God daarvoor gedank. Ons lees nie in die Ou Testament van tafelgebede nie, maar moontlik is dit net nie ge­noem the (maar lees 1 Samuel 9:13). Dit lyk egter wel of dit in die tyd van die Nuwe Testament reeds ‘n vaste gebruik was (Matteus 15:36; 26:26-27).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Die eerste brief van Johannes: God is Lig – lewe in die lig! (1:5-7)

Onder die tema ‘lewe in die lig’ kyk die skrywer eers na God as lig (1:5-7) en daarna na vier vereistes vir ‘n gelowige om as verligte die wêreld te verlig en die duisternis van sonde, die Bose, die wêreld en die antichris te oorwin (1:8-2:27).

1:5 Die boodsakp wat Johannes-hulle by Jesus gehoor het en aan die gemeentes verkondig, is dat God lig is. Die boodskap het hulle by Jesus self gehoor, die enigste Persoon op aarde wat vir God waarlik ken (Jn 1:18). Hy, die Woord van God, was  ook die lig vir die mense, die lig wat in die duisternis skyn, en die duisternis het dit nie uitgedoof nie (Jn 1:4-5). Die mens kan God nie uit homself ken nie. God openbaar Homself aan die mens in Christus.

Reeds in die Ou Testament is lig en duisternis simbole vir waarheid teenoor leuen, geregtigheid teenoor boosheid (Ps 104:2; 119:130; Jes 5:20; Miga 7:8-9; vgl. Ps 27:1). Ook die Grieke het die term ‘lig’ vir die goeie gebruik.

Dat God lig is beteken dat Hy in sy wese en van nature lig is. Ook as die waarheid (intellektueel) en na sy heiligheid (moreel) is Hy lig. In 2:8 word na Jesus verwys as ‘die ware lig wat reeds skyn’. Maar God is lig (1:5), soos Hy liefde is (4:8,16) en gees is (Jn 4:24). As sodanig is God oneindig, bonatuurlik, geheel anders, die bron van alle lewe en verligting (2 Kor 4:4-6). Met ‘n sterk negatief sê die skrywer: daar is (glad) geen duisternis in Hom nie. As lig (liefde, waarheid en geregtigheid) openbaar Hy juis wat duisternis eintlik is: haat, leuen en boosheid. 

God se volgelinge, sy kinders wat uit Hom voortkom, wat aan Hom behoort, met Hom gemeenskap het (1:3), moet daarom wandel  in die lig, lewe in dié lig, om God se lig te weerkaats (vgl. Lev 11:44; 19:2; 20:26; 1 Petr 1:16: ‘wees heilig want Ek is heilig’).

1:6 Hierdie is die eerste van 3 pare stellings wat begin met ‘As ons beweer…’ (vgl. 1:8 &10) en ‘Maar as ons… (1:7,9; 2:1). Dit verwys na sommige wat beweer dat sonde nie hulle verhouding tot God en hulle lewe affekteer nie, en dat hulle manier van lewe nie vir hulle belangrik is nie, die tipiese Hellenistiese skeiding tussen bose liggaam en reine siel, wat nie die mensheid van Jesus belangrik beskou nie (vgl. Paulus se stryd teen dié Griekse dwaling in 1 Kor 6:12-20).

As ons as gelowiges sou beweer dat ons gemeenskap met God het (1:3), maar tog gewoonlik in die duisternis lewe, lieg ons….’ ‘n Lewe in die duister loën gemeenskap met God wat lig is. Dit verwys na ‘n ingesteldheid wat uitloop op verkeerde optrede, en wat bepaal dat ek sonde (duisternis) kies eerder as vir God (lig).

Johannes se veroordeling daarvan  word eers reguit positief gestel en dan negatief om dit te beklemtoon: ‘…dan lieg ons, en handel/doen ons nie na die waarheid nie’ (vgl. Jer 9:3 ‘…bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie…en My ken hulle nie, sê die Here’). In hierdie brief is daar ‘n sterk beklemtoning van lieg teenoor doen van die waarheid (2:4; 4:20). In Jn 8:44 het Jesus die duiwel aangewys as die vader van die leuen. In 1 Jn 3:7-8 ontken Johannes dat ‘n mens ooit regverdig kan wees sonder om ook regverdig en reg te lewe.

Die woord ‘waarheid’ word twintig maal in die drie briewe van Johannes gebruik vir die openbaring van God se wese en sy doel deur sy Seun Jesus te red. Om die waarheid te doen beteken om te lewe volgens wat Jesus vir ons van God geopenbaar het, naamlik dat God lig is, om met ons hele bestaan vanuit God se lig te lewe met integriteit, regte gedagtes, woorde en dade van lig en liefde.

1:7  Teenoor ‘n lewe in die duisternis van sonde, wat gemeenskap met die God van lig uitsluit, staan: lewe in die lig, wat voortvloei uit gemeenskap met God wat self lig is (1:5). Die tyd van die werkwoord druk voortgang uit, ‘n bewuste en volgehoue toewyding aan ‘n lewe in ooreenstemming met Jesus se openbaring van God as lig, om te lewe as kinders van die God van lig.

Teenoor die twee negatiewe gevolge van lewe in duisternis (v6) staan twee positiewe gevolge van ‘n lewe in die lig van God, waar niks weggesteek kan word word of weggesteek hoef te word nie

  1. (i)‘dan het ons gemeenskap met mekaar…’ deur die liefde vir God se kinders, wat God deur sy Gees in ons harte inbring, word ons aan mekaar verbind (vgl. Mat 5:48 wees julle dan volmaak, soos julle hemelse Vader volmaak is, deur selfs julle vyande lief te hê).
  2. (ii)‘en die bloed van Jesus, sy Seun, reinig ons (steeds) van elke sonde’ – in die nabyheid van die heiligheid van die God van lig word ons al meer bewus van ons sondigheid. Vir elke sonde van ons het die mens Jesus, wat ook die Seun van God is, reeds gesterwe aan die kruis. Sy bloed is die simbool vir sy liefdesoffer aan die kruis. In die Ou Testament word bloed beskou as die setel van lewe (Lev 17:11). Deur die kruisdood van Jesus word ons sonde en wat daarmee saamgaan effektief en herhaaldelikSonde versper die gemeenskap met God en met mekaar as gelowiges. Met die verwydering daarvan deur Jesus is egte gemeenskap moontlik.

Met die verwysing na ‘Jesus (sy menslike naam), die Seun van God,’ word sy menslikheid en sy Godheid beklemtoon teenoor die dwaalleraars wat óf die een óf die ander loën. As mens het Hy Homself met ons vereenselwig. As God kon Hy die sonde van die ganse wêreld op Hom neem en wegneem (Jn 1:29).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vodeselsoorte en Etes(2)

Voedselsoorte en Etes (2) – Hennie Stander

Groente

Verskillende groentesoorte het ook omtrent altyd deel uitgemaak van enige maaltyd. Boontjies en lensies was baie algemeen regdeur die Ou Testa­mentiese periode (“Vat koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt …”-Esegiel 4:9). Ja­kob het ook vir Esau lensiesop gegee (Genesis 25:33-34). Aan Dawid is onder andere boontjies gegee toe by van Absalom gevlug het (2 Samuel 17:28). In Egipte was komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel baie bekend (Numeri 11:5).

Melk

Melk was ook ‘n basiese voedselsoort en dit is verkry van die beeste en kleinvee wat hulle aangehou het. Van hierdie melk is toegelaat om te gis en dit is dan as dikmelk gedrink (Genesis 18:8; Rigters 5:25).

 

Melk is egter nie net gebruik om te drink nie, maar daar is ook allerhande ander produkte daarvan gemaak. Dit is byvoorbeeld gekarring, ten einde botter daarvan te maak (vgl Spreuke 30:33). In 2 Samuel 17:29 word daar eksplisiet vertel van kaas wat van beesmelk gemaak is. Ongelukkig weet ons nie altyd presies hoe hierdie melkprodukte van die antieke tyd gelyk het en in watter mate dit met ons moderne produkte ooreenkom al dan nie.

suurmelk

 

‘n Bedoeienvrou maak ‘n suurmelkdrankie buitekant haar tent

 

Vleis en vis

Vleis het dikwels deel uitgemaak van ‘n Israeliet se dieet. Toe God ‘n verbond met Noag gesluit het, het Hy horn ook toegelaat om diere as voedsel te eet (Genesis 9:2-3). Salomo se daaglikse kosvoorrade was onder andere “tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee” (1 Konings 4:23). Abraham het kalfsvleis aan sy gaste voorgesit (Genesis 18:7). Kalf is as keurgehalte vleis beskou en ‘n vetgemaakte kalf is tydens besondere fees­geleenthede geslag, soos byvoorbeeld toe die verlore seun na sy huis teruggekeer het: (Lukas 15:23; vgl ook 1 Samuel 28:24; Matteus 22:4).

 

Die vleis van bokke was meer algemeen en goedkoper en in die verhaal vandie Verlore Seun het die oudste seun gekla dat sy vader nooit eers vir horn‘n bokkie gegee het the (Lukas 15:29). Gideon se gas het ook bokvleis geëet (Rigters 6:19). Die Jode mag ook sekere voëls geëet het (Deuteronomium 14:20), maar dit was altyd belangrik dat die bloed eers uit enige dier gedreineer moes word, alvorens dit toegelaat was om dit te eet.

 

Vis, was baie gesog alhoewel die eet van sekere soorte vis verbode was (Levitikus 11:11-12). In die woestyn het die Israeliete die vis gemis wat hulle in Egipte kon eet (Numeri 11:5). Verskeie van Jesus se dissipels was of professionele vissermanne, of sodanig vertroud met hierdie beroep dat hulle op bote kon uitgaan om vis te vang. Dit lewer bewys van hoe baie daar visgevang is in die See van Galilea. Na Sy opstanding het Jesus vis vir oggendete voorberei vir sommige van sy dissipels (Johannes 21:9-13). By ‘n ander geleentheid het die dissipels weer vir Jesus vis gegee (Lukas 24:42). Ook aan die skare is vis gegee om te eet ( Matteus 15:34; Markus 6:38). Jesus gebruik die (vang van) vis dikwels as beeld in sy leringe (Matteus 13:47-48; Lukas 11:11). Dit lyk of ook eiers geëet is (vgl Lukas 11:12).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Met geeste beset

Met geeste beset – Francois Malan

Lynette vra;

[Hierdie is ’n opvolg vraag op: Kan Satan ’n gedagte plant]

Baie dankie vir die antwoord. My volgende vraag: hoe kan ons beset word deur bose geeste sodat dit in die Naam van Jesus uitgedryf word?”

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

1     Beset deur bose geeste

Openbaring 12:9 noem die name van die leier van die bose: die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel (teenstander) en Satan (aanklaer) genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld (Jesus sê hy was van die begin af ‘n mensmoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan; Johannes 8:44).  Hy is saam met sy engele uit die hemel op die aarde neergegooi. Openbaring 12:12,17-18 vertel hoe hy woedend op die strand gaan staan het en sy trawante geroep het om hom te kom help, nl. die dier uit die see (13:1) en die dier uit die aarde (13:11).

 

Hulle drie word geskilder as na-apers van God: die draak wat as god aanbid wil word (13:4); die dier uit die see,  wie se een kop lyk of dit tot die dood verwond was, maar dat die dodelik wond genees is, wat die mense in verwondering agter hom laat aanloop (13:3), is ‘n na-apery van die dood en opstanding van Christus; die dier uit die aarde, wat soos ‘n profeet wonders doen en sy asem in die beeld van die dier uit die see blaas om te kan praat sodat mense die eerste dier sal aanbid (13:12-15), is ‘n na-apery van die Heilige Gees wat mense bekwaam maak om van Christus te getuig.

 

Die eienskappe van die twee diere wys hoe hulle die mense beset om hulle weg te lei van die ware God van liefde, wat Christus aan ons geopenbaar het met sy woorde en sy liefdesoffer vir ons sonde aan die kruis:

            Die dier uit die see word voorgestel met militêre terme van absolute mag wat hy van die draak ontvang het (13:2-10), waarmee hy die gelowiges oorwin, in tronke gooi en doodmaak. Hy regeer die wêreld met mag. Die mense volg hom slaafs op die pad van mag. Hy word voorgestel as ‘n grootbek, wat God en almal wat Hom dien belaster.

            Die dier uit die land word voorgestel as die aardsleuenaar en verleier, wat ook almal doodmaak wat nie die beeld van die dier aanbid nie. Hy laat ook alle mense merk, met sy merk op hulle voorkoppe (as teken van hulle gedagtewêreld) en op hulle regterhande (as teken van hulle werke), wat alles gerig word teen God en sy woord,  om hulle sondige/bose/selfsugtige gedagtes te laat dink en uitvoer. Sonder hierdie bose ingesteldheid sou niemand kon besigheid doen nie (13:11-17).

 

Openbaring is ‘n boek vol simbole wat beskryf hoe die bose werk en hoe God dit teenwerk.

Die dier uit die see is ‘n simbool vir die mens se soeke na mag om sy wil op ander af te druk met geweld of groepsdruk (Jakobus 4:1-2,7:  ‘Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar besit niks nie; julle pleeg moord en is vol jaloesie en julle kan niks bereik nie…Onderwerp julle aan God. Weerstaan die duiwel, dan sal hy van julle wegvlug’).      

            Die dier uit die aarde is ‘n simbool vir die valsheid en liggelowigheid van die mens, wat maklik die skepsels wat God geskep het, en die skeppings van mense, aanbid en dien (vgl. Romeine 1:23,25). God het die mens gemaak om Hom as hulle Skepper en hulle medemense as God se skepping in liefde te dien. In Openbaring hoofstukke 17-18 word die werk van die diere  voorgestel met die groot prostituut Babilon wat mense na die afgode en die dood toe lei, die stad met haar prag en praal en onsedelikheid waardeur mense verlei word.

 

Mense wat hulle gedagtes vol maak met gedagtes van mag, skelmstreke en onsedelikheid maak hulleself oop om daardeur beset te word en word deur die bose ingespan om ander mense te verlei met hulle woorde en optrede. Dit begin by onsself en word later ‘n mag wat ons nie meer kan beheer nie, en waarmee ons ander meesleur en ander mee seermaak (Jakobus 1:14,5: ‘Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood).

 

2    In die Naam van Jesus uitgedryf word

Die simbool waarmee Openbaring die werk van Jesus verduidelik, is dat die volle getal van die diensknegte van God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk word (7:3) as teken dat hulle aan die Here behoort deurdat hulle denke oor Jesus verander het. Van hulle word gesê dat hulle verlossing van ons God kom, wat op die troon sit en van die Lam (7:10), dat God sy tent by hulle opslaan (7:15; ‘n idiomatiese uitdrukking om iemand se inwoning mee te verwoord; vgl. Johannes 14:23: Jesus sê: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon’). Die Lam sal hulle soos ‘n herder versorg (Op. 7:17).

            Oor die navolgers van die dier uit die see sê Op. 13:8 dat dit elkeen is wie se naam sedert die skepping van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie.  Op. 14:1 sê die seël van die gelowiges is die Naam van die Lam en ook sy Vader se Naam, wat op hulle voorkoppe geskryf is – dit is nie ‘n letterlike geskrif wat op hulle gesigte geskryf is nie (ook nie die merk van die dier op die gesigte van die ongelowiges nie), maar simbole van hulle gedagtewêreld en ingesteldheid, wat ‘n mens wel uit hulle gesigte kan aflei, van die gelowiges se konstante blye dankbaarheid dat hulle God se kinders is, en van die ongelowiges se ongenakte hardheid. Gelowiges se gedagtewêreld word verander en gelei deur die Lam se woorde en liefdesoffer en die woord van God.

            In Grieks is daar twee woorde vir ‘bekering:’ metanoia die verandering van jou gedagtewêreld oor God en oor sy Seun Jesus, deur in Jesus te glo; en strefoo omdraai van jou ou manier van lewe, om te lewe soos Jesus, met genade en liefde teenoor ander, en hulle bereidheid om saam met Hom te ly onder ongelowiges se verwerping en teenstand teen Jesus en die liefdespad wat Hy vir ons gewys het (vgl. Johannes 13:34).

 

Ons het nie mag om bose geeste uit iemand uit te dryf bloot met die noem van die Naam van Jesus nie. Maar ons kan wel vra dat Hy dit doen. En as Hy wil, kan Hy dit deur ons doen. Die persoon word slegs verlos deur te glo in die Here Jesus en sy verlossing wat Hy vir ons sonde aan die kruis bewerk het deur die straf op ons sonde op Hom te neem. Om tot geloof in Jesus te kom, is die werk van die Heilige Gees, wat ons oortuig van ons sonde teen God, van die geregtigheid wat Jesus vir ons verkry het om ons verhoudsing met God reg te maak, en van die oordeel van God as ons nie in Jesus glo nie en onsself aan die duiwel se versoekings oorgegee het (Johannes 16:8-11). Ons kan slegs instrumente in die hand van die Heilige Gees wees.

 

 

Toe Simon van Samaria vir Petrus geld aangebied het om dié soort mag te verkry, het Petrus gesê dat hy saam met sy geld in die verderf sal beland, omdat sy hart nie opreg is voor God nie. Sy hele bose denke moet verander (metanoia) word, en hy moet bid om die Here se vergifnis vir die verkeerde bedoeling van sy hart (Handelinge 8:20-23). Om bose geeste uit mense uit te dryf is nie ‘n mag wat ons ontvang om te gebruik soos ons wl nie. Dit kan die Here Jesus alleen doen, en daarvoor kan Hy ons gebruik, deur vir sulke mense te bid dat Hy hulle daarvan verlos, vir hulle van Jesus se verlossing te vertel dat Hy reeds die duiwel oorwin het, en by hulle aandring om Hom daarvoor te vertrou. Dit is die betekenis van ‘in sy Naam vra.’       

 

Skrywer:  Prof Francois Malan