Die stadjie Magdala

Die stadjie Magdala – Francois Malan

Lizzie vra:

Baie dankie vir my navraag oor Maria van Magdala. Kan u asb vir my meer oor die dorpie en sy mense vertel?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die stadjie Magdala aan die See van Galilea,  lê ongeveer 3 myl/6 kilometer noord van Tirberias. Die Aramese woord magdala beteken ‘elegant,’ ‘groots,’ of ‘toring,’ met ander woorde ‘n mooi en redelike groot plek. Die Hebreeuse woord is Migdal ‘toring.’ 

Volgens die Joodse Talmud was daar twee plekke met die naam: die een aan die Yarmukrivier by Gadara, wat die naam Magdala Gadar gekry het (die huidige Umm Qais), en die ander, beter bekende stadjie noord van Tiberias, wat genoem was Magdala Nunayya, ‘Magdala van die visse,’ die Palestynse Arabiese stadjie Al Majdal, wat ontvolk is met die aanloop na die 1948 Israel-Arabiese oorlog. Die huidige Israeli munisipaliteit van Migdal (Kirbet Medjdel) is in 1910 gestig, het tans uitgebrei sodat die stadjie nou binne die gebiedsgrense van die stad Tiberias lê.

Sedert die jaar 2,000 n.C. is daar begin met opgrawings, en is ‘n Joodse sinagoge se fondamente oopgegrawe, en o.a. is ‘n versierde steen opgegrawe, met kerfwerk van twee kruike weerskante van ‘n menora met sewe arms van ‘n kandelaar in die middel – wat baie soos die menora van die tempel van Jesus se tyd lyk. Die Roomse kerk het nou ‘n kapel daar naby opgerig, opgrawings gaan tans aan en trek baie besoekers.

 

Die stadjie van Jesus se tyd was waarskynlik ‘n welvarende visserdorpie op ‘n baie mooi plek plangs die see van Galilea, en is seker deur Jesus besoek op sy reise deur Galilea, vgl. bv. Matteus 4:22-25 dat Jesus deur die hele Galilea rondgegaan het, in hulle sinagoges onderrig gegee, die evangelie van die koninkryk verkondig, en elke siekte en kwaal onder die volk genees het. Die nuus oor Hom het deur die hele Sirië versprei. Hulle het almal wat ongesteld was en almal wat aan allerlei siektes en pyne gely het, na Hom gebring, ook almal wat deur demone besete en maansiek was en verlamdes  – Hy het hulle genees….’

 

Maria Magdalena was waarskynlik een van dié wat op hierdie rondreise deur Jesus genees is van sewe demone (Mk 16:9). Sy word Maria Magdalena genoem (In Grieks ‘Maria die Magdaleense’) om haar van die ander Maria’s te onderskei, bv. Maria die moeder van Jesus, en Maria die ma van Joses/Jakobus (Mk 15:47; 16:1; Lk 24:10).

 

Oor die mense van die stadjie in die tyd van Jesus weet ons min, behalwe dat dit waarskynlik ‘n tipiese Galilese stadjie was, heelwaarskynlik ‘n visserdorpie wat uiters 400 inwoners sou gehad het. Volgens die opgrawings in Galilea het heropbou van die provinsie in 100v.C. begin en het Jode uit Judea daar gaan woon, waar daar min aktiwiteit was sedert die wegvoering van die 10-stamme na Assirië in 700 v.C. Herodes Antipas het sy pa Herodes die Grote in 4 v.C. opgevolg en die stad Tiberias groots gebou as sy hoofstad. Magdala sou daarby gebaat het. Dit is nie seker of die Joodse singagoge wat tans daar opgegrawe word reeds in Jesus se tyd daar was nie. Maar Jode kon ‘n sinagoge begin as daar 10 mans in ‘n dorpie gewoon het. In Jesus se tyd was Aramees die algemene taal met verskillende dialekte wat in die hele Midde-Ooste sedert 1,000 v.C. gepraat is. Grieks het algemeen geword as handelstaal nadat Alexander die Grote in 300 v.C. die Ooste ver-Grieks het sedert 300 v.C. In 63 v.C. het die Romeine Palestina verower en het Latyn die taal van die staatsdiens geword.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Kan Satan ’n gedagte in my plant?

Kan Satan ‘n gedagte in my plant? – Francois Malan

Lynette vra:

Net die Here kan ons gedagtes lees? Die vraag: Hoe kan Satan ’n gedagte in ‘n mens plant?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

1 Net die Here kan ons gedagtes lees.

 

Vir die mens wat in Jesus Christus glo, is daar nog ‘n bykomende voordeel. God die Heilige Gees het in ons kom woon (Johannes 14:17) om ons te lei met die woord van die Here wat ons hoor en wat in ons hart geskryf word (Johannes 14:26), om ons te oortuig om Jesus te glo en Hom te volg in elke besluit wat ons neem (Johannes 16:8).

 

2 Hoe kan satan ‘n gedagte in ‘n mens plant?

 

Ons stryd is in ons self. Ons wil ons lewe self beheer en in ons wese lewe ons vir onsself en nie vir God nie. In Romeine 7:18-25 beskryf Paulus die stryd: ‘Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê nie in my sondige aard nie….Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek…. die wet van die sonde wat in my ledemate is, neem my krygsgevange.’ En dan sê Paulus: ‘Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? Aan God die dank – deur Jesus Christus ons Here!’

 

Daarom het hy in Romeine 6 gesê: ‘Moet nie toelaat dat die sonde oor julle sterflike liggame heers nie om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. Julle moet ook nie julle ledemate (fisiese vermoëns) as wapens/instrumente van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie…’(6:12-13)

 

Die gedagtes wat die satan ‘in ons plant’ kom eintlik uit ons self, uit ons sondige natuur. Nou gebruik die satan die dinge van die wêreld om ons te verlei: ons sien en lees verkeerde dinge wat ons gedagtes gevangeneem; ons hoor dinge by mense wat ons mislei deurdat dit so goed lyk maar ons weglei van die Here af, ons dink dinge hoe ons ons self kan bevoordeel, soms ten koste van ander mense. 2 Korintiërs 4:4 sê dat die ongelowiges se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is. Mense is so verblind deur selfsug en die begeerte na mag en besittings dat die lig van God se selfopfferende liefde aan die kruis nie oor hulle skyn nie. 

Vir die godsdienstige Jode wat roem op hulle afkoms van Abraham en van God, maar nie vir Jesus wou aanvaar as God wat sy Vader aan hulle kom openbaar het nie, sê Jesus in Johannes 8:44: ‘Julle kom van julle vader, die duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.’ Die duiwel gebruik selfs hierdie streng godsdienstige Jode. Die feit dat hulle beplan om Jesus dood te maak (vgl. Joh 8:59; 11:50,53) bewys dat hulle instrumente is in die hand van die mensemoordenaar van die begin af.

 

Jakobus 1:14-15 sê: Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.

            Jakobus 4:7 sê: Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die duiwel, dan sal hy van julle wegvlug.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Voorwoord: Die Eerste Brief van Johannes

Jesus die mens is die enigste Seun van God, die bron van gemeenskap (1:1-4)

 1:1 ‘n Tipiese Griekse brief begin met die naam van die skrywer, die geadresseerdes en ‘n groet, soos in Paulus se briewe en in 2 Johannes. Die skrywer begin hier egter met die hoofsaak van die brief en spel die waarheid uit om alle dwalings by die wortel af te sny. Verse 1-3 is oorspronklik een sin, wat die uitdrukking ‘Woord van die lewe’ verduidelik. Die een ding wat sy gedagtes beheers, is: Jesus Christus is die Woord van die lewe!’ Die drie verse kan saamgevat word as: ons getuig en verkondig aan julle die Woord van die lewe, sodat julle met ons gemeenskap kan hê, en julle saam met ons gemeenskap kan hê met die Vader en die Seun. Ons skrywe hierdie dinge sodat die gemeenskap van die gelowiges, as kinders van God, met sy vreugde vervul sal wees. 

             ‘Wat van die begin af was’ verwys waarskynlik na die begin van alle dinge, die begin van die wêreld (Genesis 1:1), vóór alle tye  (soos in Johannes 1:1).Johannes wil baie duidelik sê dat die Woord, dat Jesus, van ewigheid af, vóór alle tyd, bestaan. Dit stel hy voorop in sy boodskap aan die gemeentes.

            Die skrywer is deel van ‘n groep mense, sy mede-dissipels, volgelinge van Jesus tydens sy aardse omwandelings, van wie hierdie getuienis uitgaan; ‘n groep wat, as oor- en ooggetuies, eerstehandse kennis het van dit wat hier oor Jesus geskrywe word. Hy wat van ewigheid af bestaan, het ‘n konkrete mens geword. Ons het sy prediking ‘gehoor,’ sy optrede ‘gesien,’ Hom ‘aandagtig bekyk,’ ‘met ons hande aangeraak.’ Die ewige God was konkreet liggaamlik by ons – dit teenoor die dwaalleraars wat òf Jesus se godheid misken, òf sy mensheid.

‘Aangaande die Woord van die lewe’ – sommige sien hierin slegs die lewende evangeliewoord wat lewe wek. Ander sien hierin die Woord van Jn 1:1,4 wat self God is, in wie die ewige lewe is, en wat ‘n swakke mens geword het (Jn 1:14). Die twee betekenisse kan altwee aanvaar word, want Jesus wat self die lewe is en dit verkondig, gee ook die lewe (Jn1:4, 12; 3:36). Alle lewe kom van God af. Die mens wat in Jesus, die Woord van die lewe glo, word verbind aan die bron van alle lewe.

1:2 Hierdie tussensin, tussen verse 1 en 3, verklaar die ‘lewe’ van vers 1 verder: ‘en die lewe is geopenbaar, en ons het gesien en getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.’ Die ‘lewe’ wat geopenbaar is aan die dissipels is sowel Jesus wat die lewe is, en die ewige lewe wat Hy aan sy dissipels meedeel, nl. lewe in gemeenskap met Hom wat ewig lewe. Ons kry deel van die ewige lewe as God se kinders deurdat ons aan die Seun van God, wat die ewige lewe is, verbind is.

Sy goddelike lewe was in die  geskiedenis sigbaar gemaak met die koms van Jesus na die wêreld. In Jesus, as die Woord van God, word die wese van God geopenbaar. Die persoonlike ontmoeting met die lewende historiese Woord van God, moet uitloop op die gelowige se getuienis oor die Woord. Onder die leiding van die Heilige Gees lei dit tot die verkondiging van die evangelie deur woord en daad.

Die ‘lewe’ word verklaar as die ewige lewe wat by die Vader was. Die klem lê nie op die tydsaspek van die ewige lewe nie, maar op die kwaliteit van die lewe. Dit is ‘n lewe in gemeenskap met die Vader, die ewige God, die bron van alle lewe. Dit is die lewe wat aan ons geopenbaar  is met die koms van die Woord van God, in wie die lewe is, en wat mens geword het.

1:3 Vers 3 herhaal vers 1 se ‘ons het gesien’ en ‘ons het gehoor’ om dit te beklemtoon. Vers 2 het die ‘lewe’ van vers 1 verduidelik as ‘ewige lewe.’ In vers 3 sê Johannes: die manier om die ewige lewe te verkry, wat God deur Jesus gee, is om Jesus te ken. Ons het Jesus geken deurdat ons die Woord, wat mens geword het, met ons oë gesien het en met ons ore gehoor het – teenoor die dwaalleraars wat party sy Godheid loën en ander sy mensheid. Ons is boodskappers wat ons kennis van Jesus, in opdrag van Hom, ook aan julle aankondig. Al het julle Hom nie gehoor of gesien nie, is die koms van die goddelike ewige Lewe in die mens Jesus ook vir julle bedoel (Jn 20:29).

            ‘Sodat ook julle met ons gemeenskap kan hê, en dié gemeenskap van ons (saam met julle) is met die Vader en met sy Seun Jesus Christus.’ Die eerste doel van die verkondiging is ons gemeenskap en verbondenheid aan God en daarmee ook met mekaar as sy kinders wat aan sy Seun verbind is – gemeenskap met God en sy kinders, wat die ganse lewe omvat, is ‘n meer omvattende begrip as net verlossing om hemel toe te kan gaan, .

Die aard van die Christelike gemeenkap word bepaal deur God. Hy is die oorsprong daarvan,  en Hy bewerk dit onder ons. God neem ons op in die gemeenskap tussen die Vader en die Seun, waardeur  gelowiges ook aan mekaar verbind word as hulle Johannes se getuienis oor Jesus glo. Sonder die onderlinge liefdesgemeenskap van gelowiges is daar ook nie sprake van gemeenskap met God nie (1 Jn 4:20).

1:4 Johannes skryf namens hulle apostels om vas te lê wat in die hele brief geskryf word. Die unieke gemeenskap met God en met mekaar is die bron van ‘ons volkome blydskap’ – bly om deel te wees van God se gesin van liefde.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Vroue in die Pauliniese gemeentes

Vroue in die Pauliniese gemeentes – Francois Malan

Tersia vra:

Wil graag u verklaring hoor van 1 Timoteus 2 vr 11-15. Is dit nog van pas in vandag se tyd? Hoekom was dit so bepaal in die Bybelse tyd.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die benaderings tot die verklaring van die verse kan in drie hoofgroepe verdeel word:

(i)             Die tradisionele hiërargiese verklaring wat vroue verbied om mans in die gemeente se samekoms te onderrig op grond van die skeppingsordinansies wat vir die hele kerk vir altyd geld.

(ii)            Die feministiese rekonstruksie van die vroeë kerk wat hierdie tipe tekse nie as maatstaf aanvaar nie, omdat dit die toepassing van die mens se bevryding wat Paulus se evangelie verkondig belemmer, en daarom geskrap moet word.

(iii)           Die derde groep begin by Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van man en vrou, en sien hierdie tekse as ‘n uitsondering wat aan ‘n spesifieke gemeente vir ‘n spesifieke tyd se probleme aanwysings gee. In 1 Timoteus waarsku Paulus juis teen ‘n valse leer wat sy kop uitgesteek het in die gemeente van Efese, waar Timoteus leiding moet gee. (Die derde verklaring word hieronder kortliks verduidelik)

 

1 Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van gelowiges

 

In Galasiërs 3:28, moontlik die eerste brief van Paulus wat ons het, geskryf tussen 52-53 n.C., sê hy: Daar is nou nie meer Jood of Griek (term vir alle nie-Jode), nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle is almal één in Christus Jesus  (3:18) – almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus (v26). 

 

In 1 Korintiërs, geskryf teen 54 of 55 n.C., waar spesifieke probleme kop uitgesteek het, wat ook weerklank gevind het in die vroue se drag en optrede in die gemeente, sê Paulus wel dat die man die hoof van die vrou is (11:3; hoewel die Griekse woord wat met hoof vertaal word, kefale,destyds eintlik na ‘n ‘bron’ verwys) en verwys hy eintlik na die algemene mode oor wat gepas is, wat nie sommerso oorboord gegooi moet word nie (11:13-15). Hy aanvaar wel dat dames in die samekoms van die gemeente bid en profeteer/preek (11:5).

In hoofstuk 12 oor die verskillende gawes van die Gees vergelyk hy die gemeente met ‘n liggaam: Want soos die liggaam ‘n eenheid is maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. En ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk (12:12-13).

 

In die brief aan die Kolossense, geskryf tussen 60 en 62 n.C., sê Paulus: By die nuwe mens, wat tot volle kennis en na die beeld van die Skepper vernuwe word, is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar (nie-Grieke) of selfs Skittiër (‘n volk wat destyds die toonbeeld van onbeskaafdheid was), slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal (3:10-11).

 

2 Vroue in die Pauliniese gemeentes

 

Volgens Handelinge18:26 het Paulus se vriende (vgl. 18:1-3,18), die vrou Priscilla en haar man Akwila, vir die prediker Apollos na hulle huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Volgens Romeine 16:3-5, waar Priska ook eerste genoem word, was daar later ‘n huisgemeente in hulle huis, waar hulle die leiding sou geneem het.

 

In Handelinge 21:9 word verwys na die evangelis Filippus  in Sesarea se vier ongetroude dogters wat oor die gawe van profesie beskik het (soos ook in 1Kor 11:5 hierbo gemeld is van vroue wat bid en profeteer).

 

Junia en haar man Andronikus in Romeine 16:7 was medegevangenes van Paulus. Hulle het reeds voor Paulus een met Christus geword, en is hoog aangeskrewe by die apostels.

 

Febe was ‘n diakones in die gemeente Kenchreë, die hawedorp van Korinte. Sy was waarskynlik die draer van Paulus se brief aan die Romeine (Rom 16:1-2; waarskynlik geskryf in 55-56 n.C.).

 

Paulus vermaan die twee vroue in die gemeente in Filippi, Euodia en Sintige, wat saam met Paulus vir die saak van die evangelie gestry het,  om in die Here eensgesind te wees (Filippense 4:2-3; moontlik geskryf  tussen 59-61 n.C.).

 

3 Moontlike spesifieke probleme in die gemeente Efese wat in 1 Tim 2 aangespreek word (waarskynlik in 62-63 n.C. geskryf).

 

Die ryk vroue in die Romeinse ryk van Paulus se tyd het oorboord gegaan met uitlokkende  kleredrag, juwele en haarkapsels, wat na die seksuele vryhede van die prostitute gelyk het. Vir die meeste mense was die ‘nuwe vroue’ se optrede ‘n skande. Die vroue se gebruik van voorbehoedmiddels en aborsie om ‘n vrye lewe te kan geniet is ook wyd veroordeel. En toe die ‘nuwe vroue-beweging’ ook  in die gemeente van Efese sy kop uitsteek, het Paulus dit in 1 Tim 2:9 aangespreek, sodat die vroue se drag nie ‘n struikelblok vir die verkondiging van die evangelie word nie. Maar dat hulle met ‘paslike kleredrag’ sal tooi –die Griekse woord katastole verwys na kleredrag as ‘n simbool van jou gedrag. Haar uiterlike drag vertoon of sy eerbaar is of seksueel uitlokkend. 

 

Volgens 1 Tim 1:3 was daar ook mense wat vreemde leringe versprei het in die gemeente (vgl. 6:20-21). In 2 Timoteus 2:18-19 word verduidelik dat hulle sê dat die opstanding reeds plaasgevind het en dit het tot ongeregtigheid gelei. Hulle is in die strik van die duiwel gevange gehou om sy wil uit te voer (2 Tim 2:26). 1 Tim 4:1-3 sê die afvalliges verhinder mense om te trou en laat hulle sekere kossoorte vermy. In 1 Tim 5:11-15 word dan ook verwys na jong weduwees wat deur die valse leraars veroordeel word as hulle weer wil trou en ander wat weggelok word om met ongelowiges te trou. Die verbod op vroue om in die gemeente onderrig te gee of hulle mans te domineer (2:12) is miskien die gevolg van hulle verkondiging van hierdie vals leer.

            Die mense van die valse leringe het gespekuleer oor die eerste hoofstukke van Genesis en dit verdraai (1:4; 4:1-5). Om die valse leer teen te gaan, wat vroue aanmoedig om die verdraaiing te verkondig om hulle optrede te regverdig en ander daartoe oor te haal, haal Paulus in 1 Tim 2:13-14 Genesis 2 en 3 aan. Maar in die lig van die rol van vroue in die pauliniese gemeentes is dit nie bedoel as ‘n algemene beginsel wat vir altyd geld nie, maar as argument in dié spesifieke situasie.  

 

Die stelling in 1 Tim 2:15 is moontlik ‘n reaksie op die ‘nuwe vroue’ se afkeer om kinders te hê, en die  dwaalleraars wat vroue verbied om te trou (4:1-3). Met Genesis 3:16 se kindergeboorte in gedagte dring Paulus by Christelike vroue aan om ten volle voort te gaan in haar rol as ‘n moeder wat haar kinders baar, en nie tot aborsie van hulle oorgaan soos die ‘nuwe vroue’ en volgens die valse lering oor die huwelik nie, wat hulle ook sal laat wegdwaal van die pad van Jesus se verlossing af.    

 

Die gedeelte oor die vroue word in 1 Tim 2:9-15 aan die begin en einde omsluit met die woord soofrosune in verse 9 en 15 (die 1983-vertaling vertaal dit met ingetoë en beskeie; 2014-vertaling altwee keer met sober). Die woord beteken om ‘n situasie te verstaan en verstandig op te tree, fyngevoelig vir wat die beste is en met selfbeheersing. Dit vat die hele bespreking oor versiering , spraak, houding teenoor die huwelik, huishouding en kindergeboorte saam. Dit gaan oor die  indruk wat gelowige vroue se gedrag op die samelewing maak.  

 

4 Toepassing van die gelykheidsuitsprake

 

Paulus werk met ‘reeds…nog nie.’ In Filippense 3:12 sê hy bv. van sy verlossing in Christus:  nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het.

 

Verlossing is ‘n proses wat progressief in elkeen se lewe moet deurwerk. In 2 Kor 3:18 skryf Paulus: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ‘n spieël (of: om dit te weerspieël), word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.’ So behaal ons oorwinning oor sonde en ou gewoontes en gebruike, en groei ons om al meer soos Jesus te word. Maar die finale oorwinning oor sonde vind eers met die opstanding plaas. So gaan dit ook in die kerk en samelewing.

 

In Filemon gee Paulus bv. aanwysings oor slawerny, dat die bekeerde slaaf Onesimus teurggaan as Filemon se geliefde broer (v16), maar hy veg nie vir die afskaffing van slawerny in sy tyd nie (vgl. bv. 1 Kor 7:20-14; Efesiërs 6:5-9; Kolossense 3:22-4:1). Die uitwerking van Galasiërs 3:28 se eenheid in Christus tussen slaaf en vryman op die gebruik van slawerny geskied eers in 1833met die vrystelling van die slawe  in die Britse Gemenebes en veroorsaak ‘n burgeroorlog in Amerika.

 

Die gelykheid van vroue en mans in die kerk moes ook eers wag vir die verandering van hulle rolle in die samelewing. In 1 Tim 2 trek Paulus terug van sy algemene reël toe ‘n nuwe sede aan die ontwikkel was in Efese terwille van die kerk se reputasie en sending in hulle samelewing waar die valse leer ‘n verswarende faktor was wat die proses vertraag het. Vandag sal dit onwys vir die Christendom wees om in die tradisionele Oosterse of Moslem konteks te vinnig met die toepassing van Galasiërs 3 te wees, omdat dit die boodskap van Christus en die geloofwaardigheid van die kerk in gevaar kan stel. Maar in die Weste kan te min en te stadig weer die getuienis van die kerk neutraliseer. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan