Maria Magdalena

Maria Magdalena – Francois Malan

Lizzie vra:

My vraag gaan oor Maria Magdalena. Is dit die Maria wat van die stad Magdalena afkomstig is? Was die stad bekend as ‘n bose plek? Waar kan ek meer leer oor Maria Magdalena?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

1 Maria Magdalena kom waarskynlik, volgens haar naam, van die stadjie Magdala, waarskynlik die stadjie 6 km noord van die stad Tiberias aan die see van Galilea.

 

Sy word in die Nuwe Testament genoem in 12 tekse:

 

Mt 27:56 teenwoordig by die kruisiging van Jesus (Mk 15:40; Joh 19:25)

    

Mt 27:61 Vrydagaand by die graf van Jesus (Mk 15:47)

 

Mt 28:1  Sondagoggend by die leë graf van Jesus met ‘n engel daarby (Mk 16:1; in Lk 24:10 is Maria Magdalena een van die vroue wat dit vir die apostels gaan vertel het. Joh 20:1 het ‘n hele verhaal hieroor, met Joh 20:11-18 wat vertel van die verskyning van Jesus aan Maria Magdalena.

Mk 16:9  Nadat Jesus vroeg die oggend op die eeste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy voorheen sewe duiwels uitgedryf het.

 

Lk  8:2 met sy preekreise met die apostels saam met Jesus, is daar ook ‘n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees is, naamlik Maria Magdalena uit wie sewe demone uitgegaan het, ens.

 

2 Nee, Magdala was nie noodwendig ‘n bose plek nie, maar op verskillende plekke in die land het Jesus duiwels uitgedryf uit mense. 

 

3 Die 12 tekse hierbo is al wat ons vir seker weet van Maria Magdalena. Maar later, in die apokriewe geskrifte en in verskillende kerke is daar baie fantastiese stories oor Maria Magdalena wat nie historiese feite is nie, maar die gedagtes van mense wat baie van mekaar verskil oor wat die bose geeste is wat uit haar uitgedryf is, watter soort vrou sy was, en wat haar verhouding met Jesus sou gewees het.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die slot van die Ons Vader

Die slot van die Ons Vader – Francois Malan

Hein vra:

Mattheus 6:13 word die laaste gedeelte van die teks uitgelaat in die 1983 vertaling (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen) Kan u vir my verduidelik asb. In Openbaring 8:3 lees ons van die engel wat aan hom baie wierook gegee is om saam met die gebede van al die gelowiges voor die troon te offer. Is dit in vandag se tyd verkeerd om wierook aan te steek wanneer jy bid, of is dit heidens? Verstaan ek die teksgedeelte verkeerd?

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

 

1 Slot van die Onse Vader

 

Die oudste Manuskripte van die Nuwe Testament, kodeks Sinaïticus en kodeks Vaticanus, uit die 4e eeu n.C., kodeks Beza vyfde eeu n.C, kodeks Dublin 6e eeu n.C., het nie die slot gehad nie. Die manuskripte wat dit wel bevat, is die manuskripte wat gekry is in Parys 6e eeu n.C, Washington 5e eeu n.C, en in Koridethi 9e eeu n.C. Maar van die kerkvaders en leesroosters sedert die tweede eeu n.C. het die slot by die oorspronklike teks van die Onse Vader bygevoeg vir gebruik in die eredienste. Dit is ‘n samevatting uit die lof aan God in die dankgebed van Dawid in 1 Kronieke 29:11-13. Deur die eeue is daar ‘n verskeidenheid weergawes van die slot ingeskryf soos dit in verskillende gemeentes gebid is.

            Die 1933- en 1953-vertalings van die Afrikaanse Bybel het die teks gebruik wat Erasmus in 1515 gereed gemaak het vir die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament uit manuskripte uit die 12e eeu n.C. wat die slot in gehad het. Die Afrikaanse vertalings van 1983 en 2014 gebruik egter ‘n teks wat op die oudste beskikbare manuskripte uit die 4e eeu n.C.opgestel is, omdat dit waarskynlik die naaste aan die oorspronklike is. Die slot word beskou as ‘n latere invoeging vanuit die gebruik in die kerk om die gebed mee af te sluit in die erediens.

 

2 Wierook

 

Dit word van ouds af deur die voklke van die ou Ooste in hulle tempels gebrand. Die ou Egptiese tekse sê dit is om ‘die neusgate van die gode te behaag.’  

 

In Eksodus 30:34-38 gee die Here aan Moses presiese voorskrifte oor die meng en gebruik van wierook wat aan die Here alleen gewy word as teken van die ware en unieke teenwoordigheid van die Here in Israel, wat ook van hulle ‘n ware en unieke toewyding aan die Here alleen vra.

 

Volgens Levitikus 2:1,16 word wierook bo-op die verskillende offers gesit wat op die altaar verbrand word om die Here goedgunstig te stem. Wierook is in die huise van die Oosterlinge gebrand om ‘n gewyde atmosfeer in die huis te skep (die wyses uit die Ooste bring vir die baba Jesus o.a. wierook as geskenk om Hom eer te bewys, Matteus 2:2,11). Hooglied 4:5 vergelyk die geur van die vrou se borste met ‘n wierookheuwel. Jesaja 60:6 verwys na die nasies wat o.a. wierook na Jerusalem toe bring om die lof van die Here te verkondig. Maar in Jeremia 6:20 verwerp die Here die wierook wat die ongehoorsame Israel vir die Here brand.

 

In Openbarig 8:3 sinspeel die wierook wat met die gebede van die gelowiges gemeng is waarskynlik op die versugtinge van die Heilige Gees waarvan Romeine 8:27-27 praat, dat die Gees self vir ons pleit met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie, om ons gebede vir God aanneemlik te maak, want Hy bid volgens die wil van God vir die gelowiges.

 

In Openbaring 5:8 is die gebede van die gelowiges self die wierook wat simbolies aandui dat hulle gebede ‘n offer is wat aanneemlik is vir God (vgl. Jesus se versekering in Johannes 16:23: wat julle vir die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee). Efesiërs 5:2 verwys na Jesus se liefdesoffer van sy lewe vir ons, dat dit vir God ‘n aangename geur is, en vra dat ons soos Jesus in liefde met mekaar sal leef. In Filippense 4:18 noem Paulus die geldelike bydrae wat die gemeente vir hom gestuur het, ‘n lieflike geur, ‘n aangename offergawe wat God behaag.  

 

Openbaring 18:13 verwys onder andere na wierook wat die lus van die ongelowiges se lewe was, en met God se oordeel daarmee heen sal wees.

 

Wierook sal nie ons gebede versier of aanneemlik vir God maak nie. Jesus het gesê: ‘ware aanbidders sal van nou af die Vader in Gees en waarheid aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê (Johannes 4:23). Daarom moet ons bid dat God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, ons in ons gebede lei om volgens die wil van ons Vader te bid, en sy liefde in ons harte te gee sodat ons in liefde met mekaar sal saam lewe (vgl. Galasiërs 5:22-23 vir die vrug van die werk van die Heilige Gees in ons). In Romeine 12:1 roep Paulus die gemeente op om hulle liggame as ‘n lewende, heilige  en aanneemlike offer vir God aan te bied, en sê dat dit sinvolle godsdiens is

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Voedselsoorte en Etes(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Voedselsoorte en Etes(1) – Hennie Stander

Ons het reeds in die vorige hoofstuk, wat oor huis­houdelike aktiwiteite gehandel het, aandag gegee aan die twee hoofmaaltye van elke dag. In hierdie afdeling gaan ons van nader kyk na die spesifieke kossoorte wat in die Bybelse tye genuttig is, asook gebruike wat daarmee in verband gestaan het.

Brood

Die meeste mense se dieet was baie eenvoudig en brood was die belangrikste element daarvan. Brood was so ‘n essensiële deel van voedsel dat dit later sinoniem geword het met “voedsel” en met die leweself. Die bede “Gee ons elke dag ons daaglikse brood” (Lukas 11:3) was dus by implikasie ‘n gebed vir die daaglikse voorsiening van die hele lewensonderhoud. Brood. was so ‘n belangrike lewensmiddel dat Jesus ook na Homself verwys het as “die brood van die lewe” (Johannes 6:35). Met hierdie figuurlike aanwending van die term “brood” bedoel Jesus dat Hy die Persoon is wat lewe gee (net soos wat brood lewe gee).

 

Die brood is altyd gebreek en nooit met ‘n mes gesny nie. Dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van die uitdrukking “om brood te breek” in die betekenis van “‘n maaltyd te nuttig’. Ons lees by­voorbeeld in Handelinge 20:7 dat “hulle op die eerste dag van die week bymekaargekom het om brood te breek” (d. w. s. om ‘n maaltyd te nuttig). Die etewaarna hier verwys word, was ‘n gemeenskaplike maaltyd wat van groot betekenis was vir die eerste Christene aangesien hulle daarmee uitdrukking gegee het aan hulle liefde en besorgdheid vir mekaar. Dit is daarom ook ‘n liefdesmaalgenoem. Tydens hierdie maaltyd het die Christene hulle brood (en ander kosse) met minder bevoorregtes gedeel.

 

Benewens die feit dat koring gebruik is vir die maak van brood, is koring ook net so op ‘n metaalplaat oor die vuur gebraai (vgl 1 Samuel 17:17; 25:18). Verder is dit ook rou geëet (vgl Levitikus 23:14). ‘n Bekende voorbeeld hiervan was toe die dissipels van die Here deur die gesaaides geloop het en van die are begin pluk het om to eet. Die Fariseërs het egter geglo dat ‘n mens dit nie op ‘n Sabbatdag mag doen nie.

 

Skrywer: Prof Hennie Stander

 




Die eerste Brief van Johannes: Inleiding

Die brief is ‘n dringende oproep tot gelowiges en gemeentes (i) om te volhard in die geloof in Jesus Christus, die Seun van God, wat egte mens geword het om met ons te identifiseer, en as God die straf vir ons sondes aan die kruis gedra het; (ii) om as kinders van die God van lig en liefde, te lewe in sy lig en in sy liefde, deur mekaar lief te hê.

Die brief word waarskynlik ná die Evangelie van Johannes geskryf deur die ‘ouderling/oudste’ (presbuteros), die skrywer van 2 en 3 Johannes. Volgens 1 Jn 1:1 was die skrywer ‘n volgeling van Jesus tydens sy aardse onwandelings. Die kerklike tradisie  het, volgens die skrywers uit die 2e eeu n.C., aanvaar dat die apostel Johannes die skrywer is. Die brief is waarskynlik neergeskryf deur van Johannes se volgelinge. Die brief bevestig en brei uit op die Evangelie van Johannes, en daar sal telkens na die Evangelie verwys word om die agtergrond in te vul.

Die Evangelie volgens Johannes was voor 1 Johannes geskryf aan die huisgemeentes in en om Efese ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam  kan hê’  (Jn 20:31). Daarby is die Evangelie ook ‘n oproep om twee groepe in die gemeentes te versoen. Die Joodse Christene het hulle toewyding aan die mens Jesus bely, maar het dit moeilik gevind om Jesus se Messiaskap en sy Godheid te aanvaar, en het ‘n belangrike plek gegee aan die onderhouding van die Joodse wet om  verlossing te verkry. Die Griekse Christene (en ‘n paar van die Hellenistiese Joodse Christene) het nie ‘n probleem met Jesus se godheid gehad nie – die Griekse kultuur  het baie gode gehad. Maar hulle was nog onder die invloed van die Hellenistiese verlossingskema, dat die mens se siel juis uit die tronk van sy liggaam verlos moet word, en hulle het dit moeilik gevind om  te glo dat Christus werklik liggaamlik mens geword het. Daarteenoor het die Evangelie die klem gelê op Jesus se Godheid én sy mensheid. Dié Evangelie wou die Joodse gelowiges, wat Jesus minder as God beskou het, oortuig van sy Godheid, en die Griekse gelowiges, wat Christus nie as ‘n egte mens beskou het nie, van sy mensheid oortuig – die Woord van God, self God, wat vlees/swakke mens geword het (Jn1:1-3,14); vgl. Tomas se belydenis nadat hy die merke aan Jesus se hande gesien het: my Here en my God (Jn 20:28). Daarby beklemtoon die Evangelie wedersydse liefde (13:34-35; 15:12,17) en kerkeenheid (17:11,21-23) .

Later het die spanning in die gemeentes groter geword, soos uit 1 Johannes blyk, en het daar, benewens die middelgroep wat die boodskap van die Evangelie aanvaar het, aan die twee sykante verharding ingetree. Die Joodse systroom het dit al meer beklemtoon dat die wet onontbeerlik is vir verlossing, en die Hellenistiese aanhangers het al minder erg gehad aan ‘n lewenswyse volgens die wet en die eise van die liefde. Daar was ook ‘n vierde groep, wat op die punt gestaan het om van die gemeentes en van Christus los te breek, of reeds weggebreek het (1 Jn 2:18-19), òf oor die wet van onderlinge liefde (Helleniste), òf  oor Jesus se godheid en die vryheid wat die geloof bring (Jode).

[Die geskrifte van Ireneus en Eusebius sê dat die Hellenistiese Jood Serinthus, ‘n tydgenoot van Johannes  in Efese, verkondig het dat Jesus gebore is uit Josef en Maria (nie maagdelik nie), en dat die Christus met sy doop op Jesus neergedaal het in die vorm van ‘n duif. Van toe af het hy die onbekende Vader verkondig en wonders gedoen. Op die end het die geestelike Christus die liggaam van Jesus verlaat, die mens Jesus het gesterf en dit is Christus wat opgestaan het. So het Christus as ‘n geestelike wese sonder lyding gebly. Daarby was ‘n morele lewe vir Serinthus nie van belang nie, en was hy arrogant liefdeloos teenoor ander.  Daarteenoor beklemtoon 1 Johannes  geloof in Jesus as die Christus wat mens geword het, gehoorsaamheid aan die woord van God, en onderlinge liefde onder gelowiges.]

1 Johannes is in die eerste plek ‘n oproep tot die getroues in die gemeentes, om hulle geloof te versterk, om te bly by die evangelie wat hulle ontvang het, deur te volhard in die geloof in Jesus Christus as die Seun van God, en om in die lig te lewe as kinders van God wat in sy liefde bly en mekaar liefhet. Daarby wil 1 Jn. beskouings regstel, wat afwyk of die evangelie verdraai. Hy wys die dwaling dat Jesus nie ‘n egte mens geword het nie, af, in 1:1; 2:22-23; 3:16; 4:1-3; 5:6. Dat Jesus God is, blyk uit die hele boek (vgl. bv. 1:3; 2:1,22-24 3:8,23; 4:9,14-15; 5:1,5,9-13 en veral 5:20).  So wil hy eenheid in die gemeentes bewaar (2:26; 3:7; 4:1). Met hierdie oproep tot die gemeentes bied die skrywer van 1 Jn. ‘n lewende alternatief vir ‘n verstokte Judaisme en vir die Hellenistiese oorskatting van die menslike rede. As mens het Jesus Homself geïdentifiseer met ons versoekings, sonde, lyding en dood, en omdat Hy ook God is, kon Hy die straf op die sonde van die hele wêreld dra, ons van die mag van die sonde bevry, en die dood ‘n poort na die hemel maak.

1 Johannes gaan hoofsaaklik oor ware Christen dissipelskap. Die twee hoofafdelings van die brief verduidelik die vereistes daarvan en spoor die lesers aan om te lewe in die lig (1:5-2:27) as kinders van God (2:28-5:13).

Skrywer:  Prof Francois Malan