Varkvleis, Sabbat, nuwe Maan

Varkvleis, Sabbat, nuwe Maan – Francois Malan

Rina vra:

Is daar n verband oor wat in Kolossense 2 staan oor die sabbat, nuwe maan, eet en drink ens en Jesaja 66 wat praat van wanneer die Here in vuur en vlamme kom om te oordeel oor die wat varkvleis eet en die laaste verse waar almal op die Sabbat en nuwe maan sal kom om te aanbid.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Varkvleis

Jesaja 66 is gerig teen Israeliete wat ná die terugkeer uit Babilon wel sê dat hulle die Here dien, maar wat nog voortgaan met die afgodsgebruike wat hulle in Babilon aangeleer het. In Jes 65:4; 66:3,17 word verwys na die offers van varkvleis. Die verbod op die eet van varkvleis kom voor in Lev 11:7 en Deutr 14:8 as onrein diere omdat varke nie herkou nie. Varkvleis en hulle spek is ook deur sommige van Israel se bure gebruik as offers aan hulle afgode. Daarby het varke se manier om in modder te rol en afval kos eet ‘n teensin gewek (vgl. Spr.8:11 die skoonheid van ‘n dom vrou is soos ‘n goue ring aan ‘n vark se snoet; Mt 7:6 moenie julle pêrels voor die varke gooi nie).

 

Jes 65:4 verwyt die ballinge wat teruggekeer het dat hulle nog voortgaan met die offerandes aan ander gode; dat hulle die wette oor rein en onrein voedsel ignoreer en daarom onrein is in hulle aanbidding van die Here. Al praat hulle oor hulle godsdienstigheid, sny hulle hulleself van die Here af. Volgens Jes 66:4 offer hulle bulle, skape en graan, maar ook menseoffers, honde en varkbloed, hulle afgodsoffers word met hulle offers aan die Here vermeng. Die dubbelhartigheid word deur die Here verwerp, en vir hulle optredes kondig Jes 66:17 aan dat hulle uitgeroei gaan word.

 

Die Here het in Jesaja 1:11-14 al, voor die ballingskap, aan Juda en Jerusalem gesê Hy is sat van hulle offers, dat Hy ‘n afsku het aan hulle nuwemaansfeeste en sabbatsvierings wat Hy haat en Hom moeg maak.  

 

In Hosea 6:6, wat nog voor Jesaja geprofeteer het, sê die Here: Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers (vgl. Ps 40:7 Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie, U wil gehoorsaamheid hê; vgl. 1 Samuel 15:22-23).

 

Volgens Matteus 9:13 en 12:7 haal Jesus Hosea 6:6 aan: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.

 

Vir die Kolossense skryf Paulus dan: julle moet nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie….dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom, die werklikheid is Christus (Kol 2:16); in Kolossense 1:20: deur Christus het God alles met Homself versoen; deur die bloed van God se Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Christus het God alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Hebreërs 10:14: Deur die één offer het Jesus Christus dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volome van sonde vry gemaak. Daarmee is die offer van diere uitgedien en vervang deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis: 1 Kor 5:7: Want ook ons paaslam, Christus, is geslag (Jes 53:7: ‘soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei is…’).

 

            En wat die eet van varkvleis aan betref verwoord Paulus in Kolossense wat in Markus 7:18-19 staan: ‘Begryp julle dan nie dat niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit die liggaam uitgaan? Daarmee het Jesus alle kos rein verklaar.’

 

Vraag: Kolossense 2 oor sabatte en nuwemaan – Jes 66 ‘die laaste verse waar almal op die Sabbat en nuwe maan sal kom om te aanbid?’ 

 

‘n Letterlike vertaling van Jesaja 66:23 is: En dit sal gebeur dat van nuwe maan tot nuwe maan (of ook: van maand tot maand), en van sabbat tot sy sabbat (of ook van rusdag tot rusdag) sal alle vlees (mense) kom om hulle voor my te buig, sê die Here.

 

            Dit verwys nie na die sabbatdag wat elke sewende dag gehou word nie, of na die nuwemaanfees wat elke maand gehou word nie, maar dat alle mense elke dag van die week en van die maand hulle voor die Here sal verootmoedig.   

 

            So sê Kolossense 2:16-17 dat niemand vir die gelowiges ‘moet voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse fees of die nuwemaanfees of die sabbatdag moet vier nie (letterlik vertaal: moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of die Sabbat nie). Hierdie dinge is net ‘n skaduwee van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.’ 2:20: Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die godsdienstige wettiese reëls van hierdie wêreld. 3:1 ‘aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is…’

 

            Dit beteken, soos Jes 66:23, dat ons elke dag sal lewe voor die aangesig van God om te doen wat Hy wil. In Johannes 13:34 en 15:12 het Jesus duidelik uitgespel hoe ons moet lewe: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Netsoos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. God vra liefde vir Hom en vir mekaar en nie die onderhouding van reinheidswette en spesiale dae nie om daarmee iets te verdien nie. Kolossense 1:22-23: ‘Maar nou het God se geliefde Seun julle deur sy liggaam met Homself versoen, sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel. Maar dan moet julle in die geloof bly, gegrondves en onwrikbaar, en nie losgeruk word van die hoop wat die evangelie bring nie.’ En daarom die vermaning in 2:16: ‘Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of die Sabbat nie…’

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(7)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(7) – Hennie Stander

Die voorportaal

Sommige rykes het ook voorportale (of voorhowe) tot hul huise gebou. Ons lees in Handelinge 12:13 en Matteus 26:71 van sulke voorhowe. In so ’n voorportaal is pilare parallel met die mure gebou sodat ‘n veranda of ‘n kolonnade gevorm is. Allerhande versierings is aangebring en daar is byvoorbeeld op lateie, drumpels en pilaarkoppe verskillende motiewe uitgekerf. Die mure is gepleister en versier en ook soms met teëls bedek. Die binnehowe is soms selfs in tuine omskep.

Die voorportaal het ‘n deur voor die ingang gehad. Rykes het ‘n diensmeisie gehad wat die deur oop en toe gemaak het. Ons lees in Handelinge 12:13-14 dat ‘n diensmeisie met die naam van Rhode gegaan het om die deur van die portaal vir Petrus oop te maak (sy was egter so bly om sy stem te hoor dat sy na binne gehardloop het sonder om die deur oop te maak).

 

Die deure is met sluitbalke gesluit (Nehemia 3:3). Dit kon ook met ‘n sleutel oopgesluit word (Rigters 3:25) wat van hout of metaal gemaak was. Die antieke sleutels was geweldig groot-soveel so dat ‘n mens selfs jou hand deur die sleutelgat kon steek (Hooglied 5:4). Dit was gevolglik baie opsigtelik as iemand ‘n sleutel by hom gehad het en gevolglik kon die huiskneg wat die sleutel gedra het baie maklik raakgesien word. Dit was dus ‘n simbool van die gesag wat by beklee het (Lees gerus Jesaja 22:22 asook Matteus 16:19).

 

Meubels

Uit ‘n moderne oogpunt gesien, sou ‘n antieke huis vir ons redelik leeg gelyk het. Let byvoorbeeld op dat die ryk Sunemmitiee vrou die kamer van Elisa met slegs ‘n bed, tafel, stoel en lamp toerus (2 Konings 4:9-10). Voorts sou daar ook in die huise potte en kruike rondstaan wat vir stoordoeleindes gebruik is. Oor die bed kon daar mooi linnegoed wees (Spreuke 7:16-17).

 

Ondanks die feit dat die meubels so eenvoudig was, het die Israeliete veel meer gerief geniet as wat hulle voorvaders gehad het toe hulle in die woestyn rondgetrek het. Alhoewel Palestina deur Rome regeer is, het hulle egter nie die ryk versierde smake openbaar wat die Romeine gehad het nie.

 

romeinsebed

‘n Romeinse bed

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Die merk van die dier

Die merk van die dier – Francois Malan

Netty vra:

Ek wil graag weet hoeveel keer word daar gepraat van die merk van die dier (666) en die verse asb as iemand my kan help.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In die oorspronklike Griekse teks word twee woorde gebruik vir ‘n merk. Die woord chargama (spreek uit Garagma) word vir die merk van die dier gebruik, wat die verhouding van die betrokke persoon met die dier aandui, ‘n merk wat die persoon se lojaliteit teenoor die dier aandui, dat iemand aan die dier se groep behoort. Die woord word sewe maal in Openbaring gebruik slegs as ‘n verwysing na die volgelinge van die dier. Die merk op die voorkop is simbool vir die denke en innerlike toewyding van die persoon aan die dier en die lewenswyse waartoe die dier hom/haar verlei; en aan die regterhand die praktiese uitlewe van hulle innerlike toewyding aan die dier. Die merk is ‘n karikatuur van die seël op die gelowiges.

 

            In Openbaring 13:16 -17 word gesê dat die dier uit die aarde almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier (uit die see) of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie – as jy nie deel is van die wêreld se selfsugtige maniere, gebruike en maatstawwe nie.

 

            In Openbaring 14:9-11  roep ‘n engel met ‘n harde stem: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se woede wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word. En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie – so waarsku Openbaring die mense wat hulle rug gedraai het op God en ‘n lewe wat deur God gelei word. 

 

            In Openbaring 16:2:…daar het toe kwaadaardige en bose swere uitgeslaan op die mense wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid – die innerlike verrotheid van die ongelowiges breek deur na hulle uiterlike gedrag.

 

            In Openbaring 19:20: die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi – en in 20:15 word dié wat nie die seël van God het nie, saam met die dier in die vuurpoel gewerp vir ewig.

 

            In Openbaring 20:4: …Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie – hulle word deel van Christus se opstanding uit die dood..

 

Die ander woord sfragis seël of sfragizoo verseël word in Openbaring gebruik vir die gelowiges. ‘n Seëlring is gebruik om eienaarskap aan te dui. In Openbaring onderskei die seël of verseëling die gelowiges van die ongelowiges:

            7:2,3 die engel hou die seël van die lewende God vas en sê: Moenie die land of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie (vgl. 7:4,5,8 waar ‘seël’ ook voorkom).  

 

            9:4: En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie

 

Vergelyk ook 14:1: dié wat by die Lam staan met sy Naam, en ook sy Vader se Naam , op hulle voorkoppe geskryf; en 22:4: Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe.  

 

            Waar die mense die merk van die dier verkry deur hulle keuse en selfsugtige besluite om die wêreldse lewenswyse waartoe die dier mense verlei, gee God sy seël van eienaarskap aan hulle wat op God vertrou en glo in die Seun van God, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, en Hom as die Here van hulle lewe volg.    

 

 

666

Openbaring 13:18 sê dit is die getal van ‘n mens, of  letterlik: ‘n menslike getal.

Verklaarders wat dit sien as die getal van ‘n spesifieke mens verbind dit met  keiser Nero volgens die gebruik om aan letters getalwaarde toe te ken. In Grieks, waarin Openbaring geskryf was, tel qsr nrwn  vir die bose ‘keiser Nero’ 666 (q=100, s=60; r=200; n=50; r=200; w=6; n=50; totaal 666). Nero was toe al lankal dood, maar verteenwoordig die regeerders en regerings van die dag.  

            Verklaarders wat dit as ‘n  menslike getal beskou, sien dit as ‘n simbool vir die hele mensheid, wat te kort skiet. Waar sewe die getal van volledigheid of volkomendheid aanwys, skiet ses telkens een te kort. Dat daar drie sesse is, verwys na die draak en die twee diere in sy diens wat telkens probeer om die God wat is en wat was en wat sal wees (1:4,8) na te aap, en self sy plek in te neem, sodat die mensdom hulle sal volg op hulle bose weg. As dit gebeur skiet die mensdom te kort aan God se doel met hulle lewe, en lewe hulle vir hulleself en nie vir hulle Skepper nie.  

             

Daarteenoor staan die getal van God se verseëldes, 144,000 (7:4), simbolies vir al die gelowiges van voor en na Christus, na aanleiding van die 12 stamvaders en die 12 apostels as hulle verteenwoordigers: 12×12=144,  x1,000, die volledige getal 10 tot die mag drie (10x10x10), dieselfde as 7:9-17 se ‘baie groot skare wat niemand kon tel nie, afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal voor die troon van God, wat vir God aanbid.’  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(6)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(6) Hennie Stander

Water

Water is altyd saam met brood gesien as dit wat noodsaaklik is vir die menslike bestaan (1 Samuel 25:11; 1 Konings 18:4). Juis daarom het stede ook ontstaan in die nabyheid van waterbronne. So ‘n put of fontein was gemeenskaplike besit en die vrouens het die water daarvandaan na hul huise gedra. ‘n Mens wat sy eie put gehad het, was baie bevoorreg en ons lees dat koning Sanherib van Assirië aan die Israeliete beloof het dat, indien hulle hulself aan hom sou oorgee, elkeen sy eie put sou hê (2 Konings 18:31). n Goed toegeruste huis het ook sy eie sisterne (opgaarbakke) gehad waarin reënwater opgevang is.

Daar is argeologiese getuienis gevind dat verskeie stede waterkanale gehad het. By Megiddo, byvoorbeeld, is daar ‘n uitstekende watervoorsieningsisteem gevind wat waarskynlik uit die dae van Koning Agab dateer. By Jerusalem het argeoloë die Siloam-tonnel ontdek. Hierdie tonnel het water na die stad gebring van die bron Gihon af. 2 Samuel 5:8 verwys heel moontlik na hierdie tonnel. Voorts is daar ook etlike putte in die stede gegraaf.

Water

 

‘n Bedoeienmeisie skep water uit ‘n put in die woestyn. Let op die waterbak (sistern) Iangsaan die put.

Daar was geen sanitasiesisteem in gewone huise nie, alhoewel daar later goeie dreineringsisteme ge­bou is, soos byvoorbeeld in Sesarea en by die Tempel in Jerusalem. Nogtans is daar streng gesondheids­wette in die Torah uitgespel (dit is byvoorbeeld in Deuteronomium 23:13 bepaal dat gedurende oorlogstyd menslike ontlasting in gate begraaf moes word).

 

Huise vir die rykes

Een van die verskille tussen ‘n huis van ‘n ryke en ‘n huis van ‘n arme het gelê in die teenwoordigheid van ‘n binnehof al dan nie. In sy eenvoudigste vorm was so ‘n binnehof bloot ‘n ommuurde vierkant wat aan die huis toegevoeg is. Maar so ‘n binnehof het ‘n groot verskil gemaak. Diere kon “buitekant” die huis gehou word; daar kon ook in hierdie vierkant gekook word; die trappe van die dak kon daarop uitloop en dus was toegang tot die dak meer beperk; waterbakke kon daar aangehou word, ens.

 

Die meer vermoëndes kon twee of meer addisionele vertrekke aanbou wat aan die binnehof aangegrens het. Sommige van hulle het ook ‘n ekstra kamer op die dak aangebou (2 Konings 4:10; sien ook Handelinge 1:13; 9:37,39; 20:8). Die rykes kon hul huise van gekapte klip maak (Amos 5:11) en ook baie marmer inbou (Ester 1:6). Afwerkings is met sederhout en ander houtsoorte gedoen (Jeremia 22:14; Haggai 1:4). Ivoorinlegsels in die mure het tot gevolg gehad dat daar selfs van “ivoorhuise” gepraat is (1 Konings 22:39; Amos 3:15). Welgesteldes het selfs verskillende huise gehad vir die somer en die winter sodat hulle meer gemak kon hê in die onderskeie seisoene (Amos 3:15).

Rykhuis

 

Die binnekant van ‘n huis van ‘n ryk familie. Dit is duidelik beinvloed deur Romeinse smaak. Let op die sentrale area (of “atrium”) met ‘n groot bad onder ‘n groot opening in die dak.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander