Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:14-16) – Francois Malan

2:14 ‘Doen alles sonder kla of teenpraat,’

Die wyse en gesindheid waarmee die gelowiges gehoorsaam moet saamwerk word onderstreep. ‘Sonder kla’ (chōrìs
gongusmõn: sonder om jou misnoeë met ’n geknor of murmerings te kenne te gee). Dit bevorder slegte gevoelens in
plaas van goedgesindheid. ‘Sonder teenpraat’ (chōrìs dialogismõn sonder om te argumenteer oor verskille van mening,
twisgesprekke). Dit kan die gemeenskap uitmekaar skeur, by gebrek aan nederigheid. ‘Alles’ – die gemeentelede moet
nie loop en kla of in vrugtelose argumente verval oor enige saak wat hulle saamlewe in die gemeente kan benadeel nie.
In 2:3 het Paulus verwys na selfsug en ydelheid in die gemeente, teenoor 2:12 se vrees en bewing voor God. Dit gaan
oor die eenheid van God se gemeente in die wêreld.

In 1 Korinthiërs 10:10-11 verwys Paulus na die Israeliete wat in die woestyn gemurmureer het en deur die vernietiger
verdelg is, wat as voorbeeld en waarskuwing vir ons opgeteken is (vgl. Numeri 14:2,36 en 16:41-49) Israel se
murmurering word ook in Ps 106:25-27 aangehaal.

2:15 ‘sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ’n krom en
ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos ligte in die kósmos (heelal, die wêreld van mense).’

Paulus beskryf die lewe van die gelowiges met drie woorde wat in Grieks begin met die voorvoegsel ‘a’ (sonder, soos
Arikaans se ‘on’), wat aandui van watter slegte eienskappe hulle vrygemaak kan wees: amemptoi, akeraioi, amōma –
onbevlek/blaamloos, onskuldig/rein, onbesmet/sonder gebrek of vlekke.

Paulus beskryf in 2:15-16 die doelwit van wat die Christene behoort te word (génêsthê, die vorm van die werkwoord
beskryf iets wat nog moet gebeur), en hoe hulle in die wêreld behoort te lewe as mense wat in die genade van God lewe.

Hulle behoort blaamloos te wees (ámemptoi wat nie deur mense blameer of gekritiseer kan word van selfsug, leë roem,
arrogansie, murmurerings en twisgierigheid nie, 2:3-4,14);
      onskuldig (akéraioi soos wyn wat nie gemeng is met iets anders nie, of ’n suiwer metaal wat nie deel van ’n
allooi is nie, hier: sonder ’n mengsel van boosheid, rein) onskuldig ten opsigte van die kwaad (Rom 16:19) sonder enige
kwaad wat hulle sou gedoen het;

      onbesmet – ámōma sonder gebrek of vlekke soos Christus, wat soos ’n lam is, wat vlekkeloos en sonder
liggaamsgebrek is. 1 Petrus 1:19 sê Hy is sonder sonde. As kinders van God wat die karakter van hulle Vader het, moet
hulle sy waardige verteenwoordigers wees. God het hulle bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word
(Rom 8:29). In Christus is hulle reeds rein (Joh 13:10), maar hulle moet ook in die lig van God se woord lewe. 1 Joh
1:7: ‘as ons in die lig lewe soos wat God in die lig is, is ons aan mekaar verbonde en reinig die bloed van Jesus, sy
Seun, ons van elke sonde.’

‘te midde van ’n krom (skoliá beginselloos, gewetenloos) en ontaarde (diestramménês verdraaide, misleide) geslag’-
LXX Deuteronomium 32:5 beskryf Israel as ’n valse en korrupte geslag (geneà skolià kai diestramménê). Daarmee
verwys Paulus nie net na Jode nie, waarvan daar min in Filippi is, maar na die hele heidense bevolking tussen wie die
gemeente lewe.

‘julle skyn onder hulle soos ligte (fōstêres in LXX Gen 1:14-6 verwys die woord ‘ligte’ na die son en die maan en nie na
die sterre astéres nie ) in die heelal’ – As die Filippense in harmonie, onselfsugtigheid en diens aan ander lewe, sal hulle
die mense van die wêreld rondom hulle as ligdraers beïnvloed soos die ligte aan die heelal wat die wêreld verlig. Dit
word eintlik as ’n uitdaging aan hulle gestel om as God se begenadigde kinders van die lig te lewe, deur te lewe volgens
die woord van die Here (2:16). As kinders van God sal Hy hulle ook bewaar teen die krom en verdraaide geslag en hulle
as sy getuies gebruik onder die ongelowiges.

Daniël 12:3: ‘die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre (astéres) .’ Volgens
Matteus 5:14 het Jesus in die bergrede gesê: ‘Julle is die lig (fōs) vir die wêreld.’ In Efesiërs 5:8 sê Paulus: ‘Vroeër was
julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig (fōs). Leef as kinders van die lig!’).

2:16 ‘deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede
tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie.’

‘aan die woord van die lewe vashou’ (epécho ‘om volhardend te bly glo’). Die woord wat lewe gee en wat aan ander
deurgegee kan word. Dit verwys na die lewe saam met God waaraan ons nou reeds deel kry om sinvol te lewe. Dit is die
evangelie, die goeie nuus wat Paulus verkondig, wat die Filippense gehoor het en glo, en waardeur God aan hulle die
nuwe soort lewe onder leiding van sy woord en deur sy Gees skenk. Daardeur het hulle kinders van God geword wat die
woord begin uitlewe en aan ander met woord en daad oordra om hulle te verlig soos die ligte aan die hemelruim. In
Filippense 1:21 het Paulus reeds gesê: ‘om te lewe is vir my Christus.’ In Kolossense 3:3-4 sê hy: ‘Christus is ons lewe’
en ‘ons lewe is saam met Christus verborge in God.’

Die dag van Christus is reeds na verwys in Filippense 1:10-11 as die dag waarop rekenskap gegee word aan die Here
oor ons rentmeesterskap, of ons innerlik suiwer en onberispelik is; of ons vervul is met die vrug van geregtigheid wat
ons deur Christus ontvang het tot verheerliking en lof van God.

As die Filippense volhardend vashou aan die lewegewende woord en dit bly aanbied aan ander sal dit Paulus se rede
wees om trots te wees (kaúchêma rede om trots te wees) dat die Here hom gebruik het om die evangelie aan hulle te
verkondig; dat hy nie verniet gehardloop het nie – die woord ‘hardloop’ (trechō) saam met ‘die woord’ verwys na die
woord van die Here wat vinnig versprei; dat hy hom nie vergeefs ingespan het nie (kopiáō om hard te werk onder
moeilikhede en moeite vgl. Jesaja 49:4; die profeet het gedink hy het hom tevergeefs vermoei en hom heeltemal verniet
afgesloof. In die nuwe hemel en nuwe aarde sal die inwoners hulle nie tevegeefs vermoei nie (Jes 65:23).

Paulus gebruik twee metafore vir sy verkondiging van die evangelie: 1 om te hardloop soos ’n atleet wat hard geoefen
het, volgens die reëls deelgeneem het en nie teleurgestel is op die groot dag van die spele nie, en van ’n arbeider wie se
werk aanvaar sal word (Gal 4:11). As Christus deur hom die Filippense kan wen vir die nederigheid van Christus en
hulle daarin kan laat volhard, sal Paulus, as slaaf van Christus Jesus (1:1) sy werk aan die Filippense se nederige
onderwerping aan Christus as sy roem aan Christus se voete neerlê (vgl. Jesus se gelykenis van die goeie en getroue
slaaf (Matt 25:21,23).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:12-18) – Francois Malan

Ligdraers in die wêreld (Fil 2:12-18)

2:12 ‘Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was, nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook
nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle (as gemeente se) eie verlossing.’

Met ‘daarom’ verbind Paulus die vermaning in hierdie gedeelte aan die hele gedeelte 1:27-2:11: aan die vermaning in
1:27-30 om hulle die evangelie waardig te gedra in eenheid en bereidheid om te ly, en 2:1-11 om die nederige voorbeeld
te volg van Jesus se prysgawe van Homself vir ons, en sy verhoging deur God.

Paulus spreek hulle aan as sy geliefdes, deur Christus se liefde aan mekaar verbind. Hy maak die gevolgtrekking
(‘daarom’) van hulle bestaan in Christus, die nederige Christus wat gehoorsaam geword het tot die dood aan die kruis
en deur God verheerlik is (2:45). Om in Christus te wees beteken dat ons soos Hy, onsself in nederigheid sal prysgee om
aan God gehoorsaam te wees in die uitlewing teenoor mekaar van die liefde van God in elke gelowige.

Die gemeentelede was altyd aan Paulus gehoorsaam om, deur God se genade, in Christus te glo. Die Here het
byvoorbeeld in Filippi Lidia se hart oopgemaak om Paulus se woord te aanvaar om in die Here te glo (Hand 16:14-15);
vir die tronkbewaarder het Paulus gesê: ‘Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.’

‘nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid…’ Paulus moedig hulle aan om
soos hulle gehoorsaam was aan die woord wat hy verkondig het, hulle tot ’n baie groter mate daarmee moet voortgaan
in sy afwesigheid. Die woord vir gehoorsaamheid hupakoúō om te gehoorsaam op grond van aandag wat gegee is, wys
na die hoor van die woord van die Here wat verkondig is en die onderwerping aan die woord.

Die hoofwerkwoord van 2:12 is katergázomai om iets deeglik te doen. Die teenwoordige tyd van die opdrag beteken dat
die gemeente dit deeglik moet toepas en uitlewe. ‘Werk aan julle eie verlossing – ‘eie’ heautōn in die meervoud verwys
na die wedersydse verhouding tussen die gemeentelede waaraan deeglik gewerk moet word om verlos te word van
hoogmoed, onenigheid en selfsugtigheid onder mekaar, wat skynbaar in die gemeente voorkom. Soos Christus homself
prysgegee het (2:5-8), moet die gelowiges hulleself ook prysgee, saam met Christus sterf aan hulleself, en hulle toewy
aan Christus. Hy kom na ons in ons medemens. Gaan voort daarmee met fóbos vrees/respek en trómos bewing, met die
grootste respek en bewende ontsag voor God. Dit gaan om gehoorsaamheid aan sy opdrag tot liefdevolle eenheid onder
gemeentelede.

Bewus van ons verlossing deur die Almagtige Skeppergod wat alles in sy skepping en herskepping vir ons bewerk deur
sy Seun, wat alles vir ons opgeoffer het, moet die gemeente verlos word van hulle onenigheid. Die verlossing wat God
in ons bewerk, moet ons daagliks uitlewe in ons afhanklikheid van Hom en soos Hy dit wil hê. Hy wil dat ons as
gemeente in eenheid en as gelowiges in nederigheid met mekaar moet saamlewe. Oor die liefdeseenheid van die
gemeente stem Johannes met Paulus saam:

Jesus het in sy laaste gebed in Johannes 17:21-22 vir almal wat in Hom sal glo, tot sy Vader gebid: ‘Ek bid dat hulle
almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U; en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo
dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net
soos Ons een is. In Joh 17:26 sê Jesus: ‘Vader, Ek sal U Naam verder aan hulle bekendmaak, sodat die liefde waarmee
U My liefgehad het in hulle kan wees, en Ek in hulle.’ Dit doen Jesus elke dag deur sy Gees in ons.

2:13 ‘Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

‘want’ gee die rede aan vir die oproep aan die gemeente tot hulle verlossing uit selfsug, om in nederigheid die eenheid
van die gemeente uit te werk met vrees en bewing.

‘want dit is God wat steeds in julle werksaam is’ – energéō ‘om ’n spesifieke funksie moontlik te maak en te laat
geskied.’ Dit is ’n ander woord vir ‘werk’ as 2:12 se katergázomai ‘om iets deeglik te doen.’ Energéō, is waar ons
woord energie vandaan kom. Paulus gebruik die woord 20 maal in sy briewe van die 23 maal wat dit in die Nuwe
Testament voorkom, byvoorbeeld in 1 Korinthiërs 12:6,11 en Efesiërs 3:20. Die woord energéō beklemtoon die
effektiwiteit van God se genadewerk in die gemeente. Dit is ‘n teenwoordige deelwoord wat wys dat God steeds aan die
werk is in sy gemeente. In 1:6 het Paulus gesê hy is oortuig dat Hy wat ’n goeie werk in hulle begin het, dit sal voltooi
tot op die dag van Christus Jesus (se wederkoms).

‘sodat julle gewillig is en optree soos Hy dit goedvind’ letterlik: ‘beide om te wil en te werk (energéō) volgens wat
(Hom) behaag.’ Die sin begin met God en eindig met God. Hy skep in die gemeente die wil om saam te werk vir die
Here. Deur sy woord en sy Gees bring Hy sy volgelinge tot selfverloëning om mekaar in nederigheid te dien. God skep
behae in ’n gemeente wat nederig met mekaar saamlewe as ’n eenheid. Hulle eenheid sal ook Paulus se blydskap
volkome maak (2:2).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:9-11) – Francois Malan

2:9 ‘Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom dié Naam geskenk wat bo elke naam is,’

Hier kom ’n radikale verandering in die loflied waarmee Paulus Jesus se nederigheid besing. Die eerste helfte het Jesus
se selfvernedering beskryf. Die tweede helfte gaan oor God se verhoging van Jesus.

As gevolg van sy volkome gehoorsaamheid aan sy Vader deur Homself te verneder tot die dood aan die kruis, is Hy die
verhoogde Here omdat God Hom verhoog het. Selfvernedering lei tot verhoging. Dit is die reël in die koninkryk van
God (Matt 23:12; 18:4). Jesus se offer aan die kruis is ook sy verhoging. Volgens Johannes 12:32-33 het Jesus van sy
kruisiging gesê: ‘As Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê om aan te dui
watter dood Hy sou sterf (vgl. Joh 3:14-15; Num 29:9). Die kruis het die simbool van die ganse Christendom geword.

‘God het Hom uitermate verhoog’ (huperúpsōsen om aan iemand besondere eer te gee). Sy Naam (ónoma sy reputasie
op grond van sy optrede; hupér wat status bo ander aandui) bo elke naam is aan Hom gegee (charízomai ryklik en met
graagte ‘generously’ gegee).

Volgens vers 11 is die Naam kúrios, Here, die soewereine Heerser oor die hele skepping, vgl. Matteus 28:18 ‘Aan My is
gegee alle mag in die hemel en op die aarde.’ So stel God vir Jesus bekend aan almal en alles in die hemel en op aarde
en kondig Hy Hom aan as die Heerser oor die hele skeppping.

2:10 ‘sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – ’

Om die knie te buig is ’n Semitiese idioom as simbool van toewyding, ‘om te aanbid.’ Dat elke knie voor Here Jesus sal
buig, is ’n vervulling van Jesaja 45:23: ‘voor My sal elke knie buig, in my Naam sal elke tong ’n eed aflê.’

Die Naam word in vers 11 gegee, naamlik kúrios, HERE, wat in die Ou Testament verwys na Jahweh, die ‘Ek is’ van
Eksodus 3:14-15. Die Naam wat God aan die vernederde Jesus gegee het, is Here, die ‘Ek is,’ een met die Vader. Jesus
het volgens Joh 14:11 gesê: ‘Glo My dat Ek in die Vader is en die Vader in My.’ Volgens Johannes het Jesus dikwels
gesê ‘Ek is:’ 6:35: Ek is die brood van die lewe; 8:12: Ek is die opstanding en die lewe; 10:7,9: Ek is die ingang vir die
skape; 10:11: Ek is die goeie herder; 11:25: Ek is die opstanding en die lewe; 14:6: Ek is die weg en die waarheid en die
lewe’ 15:1: Ek is die ware wynstok. Paulus sê: ‘As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat
God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.’

Elke knie in die drie dele van die skepping soos die mense van die ou tyd gedink het, sal voor Hom buig: elke knie ‘in
die hemel, op die aarde, onder die aarde’ – engele in die hemel, mense op die aarde, demone en mense wat dood is
onder die aarde, alle redelike skepsels sal voor Hom in aanbidding kniel of in vrees moet kniel.

Dié wat deur God se genade in Jesus glo, buig gewilliglik, in nederigheid en in liefde voor Hom, om Hom te aanbid en
te dien. Hulle lewe vir en onder Jesus as hulle Here, onder sy wet en volgens sy opdragte (Jes 45:25). Hy wat volmaak
gehoorsaam was, moet nou ten volle gehoorsaam word.

Dié wat nie glo nie, sal ontnugter word dat hulle voor Jesus as die wêrekdregter moet verskyn om sy oordeel oor hulle
ongeloof en lewenswyse te ontvang. Ps 81:16 sê: Hulle wat die HERE haat, sal nog voor Hom kruip; dit is hulle lot vir
altyd. Jesaja 45:24: Almal wat teen die Here te kere gegaan het, sal beskaamd daarvan afkom, wanneer hulle voor Hom
moet verskyn. Jesus se woord in Matteus 25:46: die vervloektes sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na
die ewige lewe.

2:11 ‘en elke tong sal bely: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader’

Die loflied oor Christus se selfvernedering en sy verhoging deur die Vader bereik hier sy klimaks, met die belydenis van
elke tong dat Jesus Christus die Here is. Dit was die vroegste belydenis van die kerk, Hand 2:36: ‘Laat die hele huis van
Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het’ (vgl. Rom
10:9). ‘Elke tong’ is nie beperk tot gelowiges nie, maar verwys na elke rasionele wese wat ’n intelligente erkenning van
die Heerskap van Jesus Christus sal maak. Ook ongelowiges sal tot hulle ontnugtering moet erken dat Jesus die Here en
wêreldregter oor hulle is.

Die einddoel van Jesus se nederige selfopoffering en sy verhoging is die eer van God die Vader wat dit alles beplan en
gelei het. Jesus het van God uitgegaan, Jesus het Hom gehoorsaam, God het Hom verhoog en God het vir Jesus as die
Here oor die ganse skepping aangestel.

Met die lofsang aan die Here Jesus Christus tot eer van God die Vader, wil Paulus die Filippense leer dat nederige
selfopoffering vir ander, God se doel is met sy skepsels en dat Hy daardeur verheerlik word.




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:5-11) – Francois Malan

Die voorbeeld van Christus se nederigheid (Fil 2:5-11)

Die pragtige loflied oor Christus se selfvernedering en opoffering van Homself en sy verhoging deur God, is die
grondbeginsel van ons geloof. Dit wys duidelik die verkeerde verhoudings onder die Filippense, en hoe onmisbaar
noodsaaklike optrede vir Paulus is, wat in 1:24 en 2:3-4 beskryf word. Die hoogtepunt van die brief is Christus se
dieptepunt van sy lyding. Die gedeelte het baie vertaalprobleme omdat sinne nie alles duidelik uitspel nie.

2:5 ‘Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:’

Die gesindheid van Christus wat in 2:6-8 uitgespel gaan word, staan teenoor die selfsug, ydelheid en eiebelang waarteen
Paulus die gemeente in 2:3-4 waarsku.

Die sin handel oor wat die gesindheid van die gemeentelede onder mekaar moet wees, hoe elkeen in die gemeente se
gesindheid teenoor die ander in die gemeente moet wees.

fronéō bedink, optree, gesindheid, word in Romeine 8:5 van elke gelowige gebruik: ‘Wie volgens hulle sondige aard
leef, bedink (fronéō) immers die dinge van die sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink (fronéō)
die dinge van die Gees. In Filippense, waar dit veral gaan oor die eenheid van die gemeente, gaan dit veral oor die
gesindheid teenoor mekaar in die gemeente.

‘wat daar inderdaad (kaí) in Christus Jesus (was/is).’ 2020 laat kai uit. ‘Inderdaad’ beklemtoon die gesindheid van
Christus Jesus. As ‘was’ by gedink word, verwys dit na wat Jesus met sy menswording moes prysgee. As ‘is’ by gedink
word, beskryf dit Christus Jesus se aard as die nederige God. In Matteus 11:29 sê Jesus: ‘Ek is sagmoedig en nederig
van hart.’

Paulus hou Christus se gesindheid vir die gemeente en gemeentelede voor as voorbeeld en maatstaf vir elke gelowige se
denke, optrede en gesindheid. Die gesindheid wat Paulus in 2:2-3 beklemtoon, word hier verduidelik as die gesindheid
van Christus wat nagevolg moet word. Almal wat in Jesus Christus glo, behoort al meer volgens sy gesindheid te lewe,
om soos Paulus te kan sê ‘vir my om te lewe is Christus’ (1:21).

Hier gaan dit veral oor Christus se nederigheid en selfprysgawe as voorbeeld vir elke gelowige oor hoe hulle in ’n
gemeente nederig saam behoort te lewe. Christus is nie net ’n voorbeeld en die maatstaf nie, maar ook die bewerker van
die gemeentelede se liefde vir mekaar en van hulle eenheid as gemeente of liggaam van Christus in die wêreld.

2:6 ‘Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie.’

Paulus se beskrywing van Christus begin met sy identiese goddelike gestalte (en morfê theou hupárchō – morfê verwys
na die natuur en wese, wat meer as die gestalte behels, wat ons nie kan deurgrond nie; hupárcho beteken reeds om
identies te wees. Sy gestalte wys na die majesteit en heerlikheid van sy goddelike bestaan in die ewigheid saam met die
Vader. Daarin stem Paulus saam met Johannes 1:1 ‘In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die
Woord was God.’ In 1 Kor 8:6 sê Paulus: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één
Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’ In Johannes 17:5 bid Jesus die aand voor sy kruisiging en
verwys na sy hemelvaart: ‘En nou, Vader, verheerlik My by U, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die
wêreld bestaan het.’

Christus het egter sy gelykheid aan God nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie (ouch harpagmòn iets wat
met geweld behou word of met geweld afgeneem word), maar wat Hy in liefde vir die mensdom prysgegee het.

2:7a ‘maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word,

Hy het Homself prysgegee – dit was nie sy lot of onder dwang nie, maar sy eie keuse en wil. In sy soewereine goddelike
vryheid het Hy sy goddelike gestalte van heerlikheid afgelê (kenóō heeltemal leegmaak), alle aspekte van sy hoë status,
sy voorregte en regte as God.

Uit eie keuse word Hy ’n mens wat die gestalte van ’n slaaf aanneem, sonder enige regte of voorregte. In Romeine 8:3
stel Paulus dit nog skerper: ‘…in die gestalte van ’n sondige mens (sarkos hamartias ’n mens wat deur sonde beheers
word)….’ Johannes 1:14 sê: ‘…die Woord het mens geword (sarks ’n lewende mens, die menslike natuur met die klem
op fisiese aspekte daarvan) en onder ons kom woon…’ Jesus het Hom ten volle met die mensdom kom identifiseer.
Soos ’n slaaf, was Hy die voete van sy dissipels (Joh 13:5). Sy eie getuienis was: ‘Die Seun van die mens het nie gekom
om gedien te word nie, maar om te dien (diakonéō) en sy lewe te gee as losprys vir baie’ (Mark 10:45; Matt 20:28; vgl.
Luk 22:27). Hebreërs 2:17: Omdat Hy oor Abraham se nageslag besorg is, ‘daarom moes Hy in elke opsig gelyk word
aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word om as offer te dien tot versoening van die volk
se sondes.’ Hebreërs 4:15: ‘Want ons het nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een
wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het.’

In Filippense 2:3 het Paulus verwys na kenodoksía, die leë roem/trots of selfsugtige ambisie van gelowiges in Filippi.
Daarteenoor staan Jesus as dié voorbeeld van nederigheid vir sy volgelinge. Hy het Homself leeggemaak (kenóō) van sy
ware goddelike gestalte en ’n mens geword sonder enige roem, ‘in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê omdat daar
nie vir hulle plek in die huis se bokamer was nie’ (Luk 2:7 katalúma bokamer Luk 22:12). Gegesel, met die doringkroon
op sy kop en ’n purperrooi mantel om, het Pilatus hom aan die skare voorgestel met: ‘Kyk daar is die mens!’ (Joh 18:5).
So lyk ons geweldgeteisterde mense met wie Hy Hom kom vereenselwig het.

2:7b ‘En toe Hy in die vorm (schêma) van ’n mens verskyn het (eurískō gevind is, verkry het),
2:8 het Hy Homself verneder deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.’

Toe Hy as mens in die wêreld gekom het, het Hy Homself verneder, nie soos die Filippense wat volgens vers 3 streef na
aansien, eer en hulle regte nie. Sy hele lewe word gekenmerk deur selfoorgawe, selfverloëning, selfopoffering, en
gehoorsaamheid tot die dood – die mens se laaste vyand (1 Kor 15:26). Daarvoor het Hy sy lewe gegee as ’n losprys vir
baie (Mark 10:45); gehoorsaam aan God en God se verlossingsplan vir die mensdom. Deur sy dood dra Hy God se straf
op die mens se ongehoorsaamheid aan God (vgl. Gen 2:16).

In sy staat as mens wat Hy aangeneem het, verneder Hy Homself verder tot die lydensbeker van die dood aan die kruis
(Mark 10:38; 14:36), die wreedste en vernederendste straf om naak aan ’n kruis vasgespyker te word (Mark 15:24; Joh
20:25). Dit is die diepste vernedering van die Skeppergod wat as misdadiger saam met misdadigers gekruisig word en
deur God verlaat word (Mark 15:27,34). In Lukas 22:37 het Jesus verwys na Jesaja 53:12 wat in Hom vervulling moet
vind: dat Hy ‘by oortreders gereken is.’ Hy sterf met die woorde van Ps 22:1 ‘My God, my God, waarom het U My
verlaa?’ Jesus het die lydensbeker van sy dood aanvaar. Markus 14:36 ‘..nie wat Ek wil nie, maar wat U wil’ was die
toppunt van sy gehoorsaamheid aan God om Homself te gee in sy diens van en vir die mensdom.

Hebreërs 5:9-10 beskryf sy sterwe as die volmaaktheid van sy gehoorsaamheid, die volmaakte offer as Hoëpriester, vir
almal wat aan Hom gehoorsaam is, as die bron van ewige verlossing. Romeine 3:25 sê: God het Hom daargestel as ’n
versoeningsoffer in sy bloed wat deur geloof in Hom verkry word. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die
vergewing van ons oortredings (Ef 1:7).

Jesus se volmaakte oorgawe aan die wil van sy Vader is die voorbeeld van nederigheid wat Paulus aan die Filippense
stel as die voorbeeld vir elke gelowige volgeling van Jesus (Fil 1:5 ‘..dieselfde gesindheid wat in Christus Jesus was’).