Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(4)

 

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(4) – Hennie Stander

Huise

Toe die semi-nomadiese Israeliete onder Josua die dorpe en stede in Kanaän ingeneem het, het hul wonings ook oorgegaan van tente na huise. Die Kanaäniete was toe reeds ‘n sterk gevestigde bevolking en die Israeliete kon baie van hulle kultuur oorneem. Ons kennis van die huise van hierdie tyd berus hoofsaaklik op die vondse van argeologiese navorsing.

   Ook huise is beskou as ‘n gawe van God, en nadat ‘n huis voltooi is, is dit ingewy (Deuteronomium 20:5)

huise

‘n Eenvoudige huis van die Bybelse tye. Let op die dakbalke wat tangs die kant van die mure uitsteek, asook sekere produkte wat op die dak uitgedroog word. Daar is ook ‘n klein venstertjie in die muur en trappe aan die buitekant. 

 

Huiskonstruksie

Huise is gebou op ‘n fondament van ongekapte klippe. Baie van hierdie fondasies word vandag nog deur argeologiese opgrawings gevind. Die huise van die behoeftiges was baie eenvoudig en het gewoonlik uit slegs een reghoekige vertrek bestaan met n ingang in een van die lang sye. Die mure was dik en is van modderstene of ruklip gebou. In Galilea was die klip gewoonlik swart basalt en aan die kus was dit geel sandsteen; in die res van die land in die kalksteengebied was die klip wit. Die mure was baie rof gebou en daar kon selfs ongediertes daarin skuil (Amos 5:19). Verder was daar nisse in die mure waarin daar kos of ander gebruiksartikels gebêre kon word. Die vloere is van klei gemaak wat vasgeslaan is. In sommige gevalle is die vloere ‘n dun lagie kalkpleister gegee.

 

Die vensters was gewoonlik baie klein. Eintlik was dit niks anders as vierkantige of reghoekige openinge in die muur nie. Glasvensters soos ons dit vandag ken, het nie destyds bestaan nie. Hierdie vensters het soms traliewerk voor gehad (Spreuke 7:6; 2 Konings 1:2) om indringers uit te hou. In die winter is die traliewerk bedek met ‘n vel of een of ander vorm van gordyn. Omdat vensters oop gate in die muur was, moes hulle klein wees om koue uit te hou, en ook om veiligheidsredes.

huiskonstruksie

 

 

huisswartbasalt

‘n Huis te Gorasin, noord van die See van Galilea. Dit is gemaak van swart basalt, en is gedeeltelik gerestoureer deur argeoloe.

Die deur na buite (gewoonlik was daar net een), is met ‘n grendelslot gesluit. Aan die onderkant het die deur op ‘n pen geskarnier wat in ‘n gat in die drumpel gedraai het; aan die bokant het die pen in ‘n gat in die latei gedraai. Daar is egter etlike huise, selfs uit die tyd van Dawid, gevind waar daar beslis geen aanduidings in die latei of die drumpel is dat daar ‘n deur was nie. Waar daar meer as een vertrek in ‘n huis was, was daar bloot ingange, maar geen deure nie.

 

Die beligting in die huis was nie baie goed nie, vanweë die feit dat daar net een deur na buite was, en omdat die vensters baie klein was. Dit verklaar waarom die vrou wat die penning verloor het, ‘n lamp opgesteek het om die penning te soek (Lukas 15:8). So ‘n olielampie het gewoonlik op ‘n staander gestaan sodat dit meer effektief kon wees (Matteus 5:15). Die mense het dikwels saam met hulle diere in een vertrek geslaap.

 

Skrywer: Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke (3)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke (3) – Hennie Stander

Grotbewoners

In die antieke tye in die Midde-Ooste het talle mense in grotte gebly, alhoewel die meeste mense oor die algemeen egter reeds uit hul grotwonings getrek het. Gedurende die Bybelse tye, was daar nog steeds mense wat in grotte gewoon het. So lees ons van Lot wat saam met sy twee dogters in ‘n grot gaan woon het na sy vlug uit Sodom (Genesis 19:30). Ook die Edomiete het hulself stewig ingegraaf in die rotsagtige gebiede van Petra (wat “klip” beteken).

Obadja verwys na die Edomiete “wat woon in die rotsklowe op hoë plekke” (Obadja 3). Volgens antieke geskrifte wat nie in die Bybel opgeneem is nie, is ook Jesus in ‘n grot gebore. Hierdie tradisie weerspreek nie noodwendig die Bybelse inligting wat dat Jesus in ‘n stal gebore is nie, aangesien ons weet dat grotte dikwels as stalle gebruik is. Mense het ook dikwels in grotte gaan skuiling soek wanneer hulle gevlug het (Josua 10:16; 1 Samuel 22:1; 1 Konings 18:4). Voorts is grotte ook as grafte gebruik (Johannes 11:38).

 

In die Bybelse tye het die meeste mense egter reeds in vestings gewoon wat goed teen vyandige aanvalle beskerm was en waar daar ook ‘n watervoorraad beskikbaar was. Sommige het egter ook ‘n semi-nomadiese lewenswyse aangeneem en in tente gewoon. Hulle het dan saam met hulle kudde van oase tot oase beweeg soos wat die weiding opgeraak het.

 

Tentbewoners

Abraham het die gevestigde gemeenskap van Ur in Chaldea verlaat en deur die geloof ‘n tentbewoner geword terwyl by geglo het dat God uiteindelik ‘n permanente land aan sy nageslag sou gee (Hebreërs 11:9). Die semi-nomadiese lewenswyse van Israel voor hul vestiging in Kanaän het ‘n beweeglike woning soos die tent vereis. Verder het hul veeboerdery hul genoodsaak om dikwels van woonplek te verwissel ter wille van weiding en water vir die vee. Ons lees dikwels in die Skrif dat die tent as woonplek gebruik is (Genesis 4:20; 13:5; 18:1; 26:25; 31:33; Eksodus 33:10). Maar ons lees selfs in die Koningstyd nog van tente wat as wonings gebruik is (1 Samuel 13:2; 2 Samuel 18:17; 2 Samuel 19:8; 2 Samuel 20:1). Hierdie lewenswyse het egter nooit heeltemal doodgeloop nie en die lewenswyse van die moderne Bedoeïen stem baie ooreen met die van Abraham.

tentvroue

 

Die vrouens se gedeelte in die tent. Let op die vloerbedekkings en die verskeidenheid van potte en kruike wat vir stoordoeleindes gebruik is

Israel se tentlewe het ‘n belangrike deel van hulle verlede geword en God het later, wanneer hulle afgedwaal het, dikwels na hierdie fase in hul bestaan verwys asook na die tyd toe hulle in die woestyn deurgebring het en altyd op trek was. In Jesaja 46:9 lees ons byvoorbeeld “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie”. Verskeie terme wat verband hou met ‘n tentlewe is later in ‘n figuurlike betekenis deur Bybelskrywers aangewend. So lees ons byvoorbeeld aan die begin van die Johannesevangelie dat die Woord het mens geword en het onder onsgewoon.” (Johannes 1:14). Die woord wat met “gewoon vertaal word, het oorspronklik “tent opslaan” beteken. Ons moet egter nou net waak daarteen dat ons nie hierdie woord se betekenis “oorlaai”deur allerhande addisionele betekenissein hierdiefiguurlike betekenis in te lees nie. Dit sou byvoorbeeld verkeerd wees om in ‘n ieder en elke plek waar die woord “tent (opslaan)” voorkom,ook die konsep van “tydelikheid” of “kort tydjie” in te lees. In 2 Korintiërs 5:1,4 vergelyk Paulus wel ons liggaam met ‘n tent en daar is die bedoeling inderdaad dat die liggaam waarin ons “gehuisves” word, van verbygaande aard is. Wat Johannes 1:14 betref, wat ons hierbo aangehaal het, moet ons dit waarskynlikveel eerderin die lig vanEksodus 25:8-9 verstaan waar God die volk Israel beveelom ‘ntent te maak sodat Hy onder hulle kan bly. Vir ‘n persoon in die Bybelse tyd was dit dus ‘n algemene begrip dat God ‘n tent as woning op dieaarde het. Toe Johannes dus wou dat God onder die mense kom woon het, het hy dit figuurlik uitgedruk as “tent opslaan” sonder om noodwendig daarmee op die tydelike aard van Jesus se aardse bestaan to fokus.

bedoeintentnuite

‘n Bedoeiengesin buitekant hul eenvoudige tent naby Hebron.

 

Die tent

Die tent van mense in Bybelse tye is gemaak van velle of van ‘n lang stuk seil of materiaal wat van bokhaar geweef is: Dit is dan oor ‘n paalraamwerk getrek om ‘n langwerpige sonskerm te vorm, terwyl die twee eindpunte daarvan met tou en tentpenne in die grond vasgeslaan is (vgl Rigters 4:21). In Hooglied 1:5 lees ons dat hierdie tente n bruinerige kleur gehad het.

bedoeintentwoestyn

‘n Bedoïentent in die woestyn van Judea

Die “voorkant” en die “agterkant” van die tente is gevorm deur vertikale behangsels. Dit is gemaak van matte wat van riete of biesies geweef is, of van “gordyne” wat van bokhaar-gemaak is. Hierdie behangsels is ook gebruik om afskortings binne die tente te vorm, soos byvoorbeeld om families, te skei, of die diere van die mense te skei.

                                                                              .

Die tent kon groter gemaak word deur bloot ekstra lengtes aan die oorspronklike tentdoek aan te werk. In Jesaja 54:2 word juis hierdie “groter maak van die tent as beeld gebruik vir die uitbreiding van die Joodse volk. Hierdie tentdoek was nie waterdig alvorens die eerste reëns dit laat krimp het nie. Op die vloer was daar leer- of strooimatte.

 

Tente is dikwels so gegroepeer om al die lede van n familie te huisves. Groot tente is afgeskort in mans en vroue ontvangs en woonvertrekke, asook vir die slawe. Soms is daar ook, na gelang na die vermoë van die eienaar, afsonderlike tente opgeslaan vir die verskillende lede-‘ van die huishouding (Genesis 31:33). Tente is ook nie sommer hot en haar opgeslaan nie. Tydens die omswerwinge van die Israeliete tussen Egipte en Kanaän, is daar duidelike riglyne gegee waar die tente van die verskillende families opgeslaan moes word (Numeri 2).

 

‘n Mens moet egter nie die fout maak om to dink dat tente noodwendig almal primitief was nie. Die rykes se tente was beslis meer luuks; ook die inhoud van die tent het saamgehang met die vermoë van die eienaar.

tentfases

Die verskillende fases waarin ‘n tent opgerig is. So ‘n tent is van materiaal of van bokhaar gemaak

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




1 Petrus 4:17

1 Petrus 4:17 – Francois Malan

Jan Smith vra:

Ek wil graag vra hoe 1 Petrus 4 vers 17 vertolk moet word,asb? “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God”. Petrus praat vooraf van lyding, gebed, liefde vir mekaar,bediening volgens elkeen se genadegawes, prediking, vervolging, belediging maar hoofsaaklik lyding. Dan die bogenoemde skrif en wat volg tot vers 19 mbt redding. Die inhoud strook vir my nie met die ander onderwerpe nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Petrus word geskryf aan die klein groepies Christene te midde van ‘n heidense omgewing, wat verstrooid in die noorde van Klein-Asië (vandag se Turkye) woon in die streke Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1:1). Hulle word deur hulle eie mense uitgestoot, uitgeskel en vervolg omdat hulle nie meer meedoen aan die heidense tempelbyeenkomste en feeste nie (2:11,12; 3:13-17; 4:4; 5:9,10). Dit word gesien as ‘n stryd van die duiwel teen God en sy gemeente (5:8). In die hele brief word hulle lyding gesien as deelhê aan die verwerping en lyding van Christus. In die wêreld is versoekings en beproewings deel van die lewe van die gemeente van Christus. In 1:6 word dit as ‘veelkleurige’, soos ‘n lappieskombers,  (NAV allerlei) beproewings beskryf. Op allerlei maniere word die gemeente onder druk geplaas. Daar is belastering, verdagmakery, boikot, hulle word by die owerheid aangekla. Die gemeentes word aangespoor om dit alles te verdra as ‘n vuurproef vir hulle geloof om, soos goud gesmelt te word om onsuiwerhede uit te kook, hulle sal groei in die geloof (1:7). Maar te midde van dit alles word die gelowiges deur die krag van God veilig bewaar (1:5).

 

Petrus beskou die tyd waarin ons lewe as die eindtyd (1:20). Daarom sien Petrus vooruit na die einde van alle dinge (4:7). Die tydjie tussen Christus se eerste en wederkoms is kort, die einde staan voor die deur. Daarom moet ons verstandig wakker (letterlik: omgord die lende van julle verstand – gereed om dinkwerk te doen) en nugter lewe, met die oog op Christus se wederkoms en sy genade oor ons (1:13).

 

Die tyd vir die oordeel het aangebreek met die koms van Christus. Hy het die oordeel van God oor ons sonde kom dra in sy liggaamlike lyding (3:18; 4:1). Ons liggaamlike lyding is om deel te hê aan sy lyding (4:1-2, 13). Daarom is die oordeel van God reeds besig om voltrek te word aan die huis van God, die mense wat aan Christus en sy sterwe verbind is deur die geloof (4:17). Daarom moet die gelowiges nie verbaas wees oor die vuurproef waaraan hulle onderwerp word nie (4:12, vgl. 1:6). Dit kom juis omdat ons aan Christus behoort. Hoe meer ons ly, hoe meer moet ons daaroor bly wees, want dan sal ons ook oorloop van vreugde by sy wederkoms (4:13, vgl. 1:7,11). Ons lyding bewys dat ons deel is van Christus, dat die Heilige Gees in ons woon om ons in die lyding te versterk (4:14). Maar dan nie lyding omdat ons kwaad doen nie. Maar omdat ons aan Christus behoort (4:15-16; vgl. 3:17 dat lyding nie ‘n noodlot is nie, dit kan die wil van God wees dat ons ly). Gelowiges sal ook op die oordeelsdag voor God verantwoording moet doen (1:17). Maar die gelowige kan nou reeds iets bespeur van die oordeel van die Regter, in die lyding wat hom/haar opgelê word, as beproewing en toetsing van sy/haar geloof. Lyding kom nie toevallig oor ‘n mens nie. Dit is deel van God se plan. God se oordeel oor die sonde is deur Christus aan die kruis gedra (2:24). Deur die gelowiges se verbondenheid aan Hom, kry hulle ‘n eerste vuurproef van die oordeel. Die gelowiges in bewus van die vuurgloed van God se toorn wat hulle soos goud smelt om hulle suiwerheid te toets in hulle lyding (4:12; vgl. 1:7). Die gelowiges is geroep om die lyding te verdra, omdat Christus vir ons gely het, en so vir ons ‘n voorbeeld gestel het, sodat ons in sy voetspore kan volg (2:21; vgl. Rom.8:17; Hebr.5:8). Wanneer gelowiges insien dat hulle lyding tot hulle heil is, sal hulle hulle daarop toelê om die oordeel oor hulle as deel van God se beskikking te beskou. Daarmee wil die Here ons vorm om al meer soos Christus te word (vgl. 2 Kor.3:18; dat Christus in ons gestalte kan kry, Gal.4:19). Alle mense staan onder die oordeel van God om na die liggaam te sterwe (vgl. Gen.2:16). Dood is deel van God se oordeel oor die sonde. Maar wanneer gelowiges sterwe, lewe hulle na die gees, soos God lewe, op grond van die evangelie. Die evangelie is die goeie nuus oor Christus, wat hulle in geloof omhels het (4:6; vgl. 1 Kor.15:51-57).

 

Die ‘huis van God’ is God se huisgesin, almal wat aan God se Seun behoort, deur sy bloed losgekoop is (1:19), 2:9 noem hulle o.a. ‘die eiendom van God’,  1:1 ‘die uitverkorenes van God’, 1:17 sê: ‘julle wat Hom as Vader aanroep’, en mede-gelowiges word broers genoem (1:22). God hou sy kinders vas te midde van die druk van vervolging en lyding, ook liggaamlike lyding, in die vuurproef van die oordeel (1:5).  

 

                Die volle gloed van God se oordeel oor die sonde van die mens gaan egter die ongelowiges tref (4:18). Dit is ‘n aanhaling van Spreuke 11:31 volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament ‘as die regverdige kwalik gered sal word, waar sal die goddelose en sondaar verskyn?’ (vgl. 2:7-8; 3:12 wat Ps.34:17 aanhaal; 4:5).

 

                Dié wat ly omdat God dit wil (2:15; 3:17), moet hulle lewe toewy en toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (4:19). In die lyding staan die gelowige nie alleen nie. God is die troue Skepper wat ons nie sal loslaat nie. Selfs in lyding mag die gelowige nie kwaad met kwaad vergeld, of in opstand teen God kom nie (vgl. Jesus se voorbeeld in 2:22-24). Goed doen word uitgespel in 2:11-4:11.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Verdere aspekte ten opsigte van die doop

Verdere aspekte ten opsigte van die doop – Francois Malan

Jan Smith Vra

Vra

Ek skryf na aanleiding van Thys se vraag met betrekking tot die betekenis van die doop en prof Francois Malan se antwoord daarop. U sal onthou dat ek so ruk terug korrespndensie met prof Adrio Konig oor dieselfde onderwerp gehad het en ek neem vrymoedigheid om ook ‘n paar opmerkings te maak oor wat prof Malan geskryf het.

Soms verstaan die professore nie wat die leke skryf nie en andersom.

Doop met die Heilige Gees, en doop met vuur:

Die vuur van die Heilige Gees en die vuur waarmee die kaf verbrand sal word is na my mening twee verskillende entiteite. Die Heilige Gees was ‘n geskenk van God om as die ander Trooster na die dissipels te kom. Jesus sê juis vir hulle om nie Jerusalem te verlaat alvorens hulle nie die belofte van die Vader ontvang het nie. Johannes die Doper het wel met water gedoop maar hulle sal met die Heilige Gees gedoop word. Toe dit wel gebeur toe gewaar hulle “tonge van vuur” wat op hulle gaan sit. En hulle het in tale gespreek soos wat die Gees van God aan elkeen toebedeel het. Hierdie “vuur” het ‘n onmiddellike omkeer tot gevolg gehad. Een oomblik was Petrus nog die verloëner en ‘n swakkeling en die volgende oomblik steek hy ‘n preek af wat so kragtig en oortuigend was dat 3000 mense tot bekering kom. Hiermee saam kon hy hulle vreesloos beskuldig: Hand 2: 23 : “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose mense geneem en gekruisig en omgebring”. Hierdie “vuur” het te make gehad met die krag wat hulle sou ontvang as die Heilige Gees oor hulle kom om Sy getuies te wees in Jerusalem en daarna in die ganse wêreld. En om duiwels uit te dryf; in nuwe tale te spreek; slange op te neem en iets dodeliks te drink en niks oor te kom nie; en vir siekes die hande op te lê om gesond te word. (Markus 16: 17 en 18).

Kinderdoop

Aanhaling: “Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het”.

Prof Malan sê “behoort” maar al sê hy ook “moet” dan hou die stelling nie water nie. Eerstens, dit is nie “doop” nie maar ‘n besprenkeling en tweedens, bots dit met Christus se uitspraak in Johannes 3: 3,5,7 en 8 met betrekking tot die wedergeboorte. Vers 3: “ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”.

Bekering is ‘n persoonlike saak en ek glo nie ons kan dit anders maak nie. Die kinders soos vermeld was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.

Sekere denominasies seën kindertjies in maar selfs hiervoor vind ek nie toepaslike skrif nie maar as ritueel sou ek dink dit is eerder gepas as om ‘n paar druppels water op ‘n baba se kop te sprinkel.

Aanhaling:

“So verbind Paulus die doop aan die besnydenis van Joodse seuntjies op die agste dag, wat die teken was van die ou verbond van God se genade aan Abraham en sy nageslag (Genesis 17:9-14). Die doop is die teken en seël van die nuwe verbond van God met ons en ons kinders dat seunjies en dogterjies van gelowige ouers ook kinders van God is.”

Die nuwe verbond wat God in gedagte gehad het is vervat Esegiël 36: 26: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; En Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee”.

Besnydenis of onbesnedenheid het nou geen waarde by God nie. Slegs geloof soos wat Abraham in  God geglo en dit hom tot geregtigheid gereken is. Gal 2: 15 en 16. Ek glo nie dis skriftuurlik korrek om die besnydenis deur te trek om die besprinkeling van babas te regverdig nie. So iets gryp vir my terug na die doodsheid van die letter van die wet. (Volgens die ou verbond was dogtertjies uitgesluit; hoe kan hulle nou streng gesproke ingesluit word?).

Die Bybel praat van die huisgesin van Lidia en die tronkbewaarder en om te aanvaar dat daar klein kindertjies betrokke was kan die teendeel ook waar wees naamlik dat hulle al groot genoeg was om die evangelie te verstaan en daarop te reageer.

Volwasse doop – gelowige doop:

Aanhaling:

“Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het”.

1 Kor 7: 12 – 17 handel oor die posisie van die gesin as ‘n Joodse man met ‘n nie-Jood trou en andersom. Die Jood heilig die ongelowige in beide gevalle maar dit maak nie van hulle “heiliges” nie. Eerstens is dit nie ‘n “volwaardige doop” nie en tweedens soos reeds hierbo vermeld bots dit met Christus se uitspraak met betrekking tot die wedergeboorte in Joh.3: 3,5,7 en 8. Die kinders was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.

Besprinkeling en onderdompeling

Aanhaling:

“ en met die bloed van Jesus besprinkel  te word.”

“Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê..”

“So sien Petrus die samehang tuseen die besprenkeling met die water van die doop van die nuwe verbond en die besprenkeling met die bloed van die nuwe verbond.”

“Vir die doop van klein kinders is die besprenkeling met water dus aangewys as die teken en seël wat God aan hulle gee. Vir ‘n teken en’n seël maak die hoeveelheid water nie saak nie.”

Petrus skryf hier oor dinge wat net deur mense met verstandelike vermoëns begryp kan word. Die besprenkeling met die bloed van Jesus Christus verwys simbolies na die aksie van die Hoëpriester om die bloed op die verbondsark in die allerheiligste van die tabernakel te sprinkel om een maal per jaar versoening te doen vir die sonde van  die volk. In hoofstuk 3: 20 tot 22 skryf Petrus: “ waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl die engele en kragte aan Hom onderwerp is.

Opmerking:

In die 1953 vertaling staan daar: Exodus 24: 8: Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat God met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde”. Wat het Moses dan nou gedoen? Het hy gegooi (baie bloed) of gesprinkel (min bloed).

Terwyl ek nou van Moses skryf is die volgende tekste insiggewend: 1 Kor 10 :1 en 2: “ Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see,” Die Amplified Bible beskryf vers 2 so: “ And each one of them (allowed himself also) to be baptized into Moses in the cloud and in the sea(they were thus brought under obligation to the Law, to Moses, and the covenant, consecrated and set apart to the service of God).” Kinders was ook hier betrokke maar ek twyfel of hulle geweet het besig was om te gebeur.

Johannes die Doper het in die Jordaanrivier gedoop (baie water). Die Hofdienaar van Etiopië het uitgeroep: “Daar is water wat verhinder my om gedoop te word”. Prof Konig sê: Die dopeling het in die water gestaan (miskien halflyf) dan het die doper ‘n paar hande vol water op sy kop uitgegooi (Gesprinkel?) En daarom kan hierdie aksie ook na babas herlei word. Kan dit regtig so wees? Hoekom al die moeite om in ‘n rivier te gaan staan as dieselfde aksie met die nodige fasiliteit ‘n skottel of bad op droë grond eweso die doel kon dien?.

Die doel van die doop

 Die beskrywing wat prof Malan met betrekking tot onderdompeling verstrek in die voorlaaste paragraaf van sy skrywe kan nie op verbeter word nie – dis pragtig!!

Ek wil dan graag byvoeg dat die enigste doel van die doop enersyds geleë is in die woorde van Jesus Mat 3: 15: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” en 1 Petrus 3: “waarvan die teëbeeld, die doop, ons ook nou red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie. Maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus”.

 

Enkele opmerking by Jan se opmerkings deur Prof Francois Malan

1 Die vuur van die Heilige Gees en die vuur waarmee die kaf verbrand sal word is na my mening twee verskillende entiteite.

Die Heilige Gees is God! Die Gees van God het by die skepping gesweef het oor die waters (Gen 1:2). In Rom 8:2 word Hy die Gees van die lewe genoem. Alle lewe in die skepping, wat deur die Woord van God geskep word, kom van Hom af. Ook wat in Maria ‘verwek is, is uit die Heilige Gees’ (Mat 1:18,20); die engel het vir Maria gesê: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk 1:35). Die Heilige Gees word hier ‘die krag van die Allerhoogste’ genoem.

            In Johannes 14:15-17 sê Jesus, nadat Hy weggaan, sal Hy die Vader vra en Hy sal vir ons ‘n ander Voorspraak/Trooster/Helper stuur om vir ewig by ons te wees, naamlik die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie ken nie, maar julle ken Hom omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. In 14:20 sê Hy: Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader en julle in My en Ek in julle. In 14:23 sê Jesus Hy en sy Vader sal woon in die mens wat Hom liefhet en sy woorde ter harte neem. So woon God, die Vader en die Seun in ons deur God, die Heilige Gees, wat ook die Gees van God en die Gees van Christus genoem word (Romeine 8:9).

 

Jesus sê: die Heilige Gees sal die wêreld oortuig van sonde, omdat hulle nie in My glo nie, van geregtigheid omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sien nie (Jesus gaan vir ons intree by die Vader, en die Gees lei ons nou in die pad van geregtigheid om voor God reg te lewe), van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld (Satan) reeds geoordeel is (Johannes 16:8-11).  Die vuur waarmee die Heilige Gees ons doop is ook ‘n reinigingsvuur, omdat God, wat in ons woon, ook ons sondige gedagtes en woorde en dade kom reinig deur die woorde van Jesus (Joh 15:3). Vir die ongelowiges is dit ‘n oordeelsvuur (Hebr 12:29: Want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur). Ananias en Saffira het inmekaargesak en gesterf omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het (Hand 5:3-5,9-11).

 

 Ons geloof kom nie uit ons self nie; dit is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8). Ons moet wel die besluit neem om in Jesus te glo, maar dit is die Heilige Gees wat deur die woord van God werk om ons te oortuig dat Jesus ons Verlosser is. Dat ons tot die besluit kom, is ‘n genadegawe van God. In Johannes 6:37 sê Jesus: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. In 6:44: Niemand kan na My toe kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie. In 6:65: Niemand kan naMy toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie. In 10:29 praat Jesus van sy skape as ‘hulle wat my Vader aan My gegee het.’ In sy gebed in Johannes 17:2 verwys Hy na elkeen wat U aan Hom gegee het. 17:6,9 verwys na die mense uit die wêreld wat U My gegee het, wat aan God behoort het (vgl ook 17:12, 24; 18:9).

 

Die werk van die Heilige Gees in ons is om ons te verander om al meer soos Jesus te word (2 Kor 3:18). Jesus het vir sy volgelinge gesê: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het (tot die dood van die kruis) moet julle ook mekaar liefhê (Joh 13:37; vgl. 15:12). Die vrug van die Gees se werk in ons maak van ons mense wat liefhet, altyd bly is, in vrede met God en ons medemens lewe, met geduld teenoor mekaar, altyd vriendelik, gevul met goedheid tenoor ander, getrouheid aan God en in ons lewe, met sagmoedigheid die swakkes help, mense wat hulleself kan beheer, wat ons self verloën, volgens die Gees se leiding lewe, sonder verwaandheid of jaloesie teenoor mekaar (Galasiërs 5:22-26).

 

2 Wedergeboorte en bekering

 

Wedergeboorte kom van God af – Joh 3:3 sê letterlik: As iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Joh 3:6 praat van ‘uit die Gees gebore.’ Wanneer die Heilige Gees in ons kom woon, word ons deur Hom gebore tot kinders van God deurdat Hy ons lei, en ons aan die Seun van God kom verbind, sodat Christus in ons sal lewe as die Here wie se woord die seggenskap in ons lewe kry (vgl Rom 8:9-17).

1 Petrus 1:3 sê; God het ons deur die opstanding van Jesus Christus opnuut verwek. Ons is weer gebore deur die lewende en blywende woord van God (1 Petr.1:23).

 

Bekering word in Grieks met drie woorde bekryf: (i) metanoia wat verwys na ‘n lewensverandering as gevolg van ‘n hele verandering van opvatting en houding teenoor sonde en ONS verhouding tot God en sy woord (Mark 1:15); (ii) strefomai om jou lewenswyse te verander  deur na God toe te draai (Mat 18:3); epistrefoo om waarin jy glo en jou lewenswyse te verander deur na God toe te draai  (Mark 4:12). Bekering is ‘n besluit van ‘n mens deurdat die Heilige Gees reeds die wedergeboorte in hom gewerk het. En dit is nodig dat ons ons daagliks bekeer  van verkeerde dinge en gewoontes, soos die Heilige Gees ons van dinge oortuig.

 

3  ‘1 Kor 7:12 – 17 handel oor die posisie van die gesin as ‘n Joodse man met ‘n nie-Jood trou en andersom. Die Jood heilig die ongelowige in beide gevalle maar dit maak nie van hulle “heiliges” nie.’

 

1 Korintiërs word geskryf ‘aan die gemeentes van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, watdie Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here’ (1 Kor 1:2) – nie aan Jode nie!

 

4 ‘Die kinders was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.’  ‘Die kinders soos vermeld was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.’

Matteus 19:13 sê: ‘toe is kinders na Hom gebring sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid.’ Matteus en Markus 10:13 gebruik die algemene woord paidia vir ‘kinders,’ teryl Lukas 18:15 die woord brefe, babas gebruik, dieselfde woord wat vir die baba Jesus wat met doeke toegedraai in die krip gelê het (Luk 2:12). Die dissipels het met die mense wat die kindertjies na Jesus gebring het berispe (Mt 19:13). Maar Jesus het gesê: Laat die kinders begaan en moet hulle nie verhinder nie om na My toe te kom nie, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

 

5 ‘In die 1953 vertaling staan daar: Exodus 24: 8: Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat God met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde”. Wat het Moses dan nou gedoen? Het hy gegooi (baie bloed) of gesprinkel (min bloed).

Die Hebreeuse bronteks  in Eksodus 24:8 gebruik die woord zarak wat ‘sprnkel’ beteken, en gebruik word om bloed te sprinkel Eksodus 24:6,8; 29:16,20; Lev 1:5,11; 3:2,8,13; 7:2; 8:19,24; 9:12,18; 17:6; Num 18:17; 2 Kon 16:13,15; 2 Kron 30:16; 35:11; Eseg 43:18; ook van water in Eseg 36:25; vgl. Num 19:13,20 (in die 1953 vertaling is al die tekse ‘uitgooi’). Die ou Nederlandse Staten Bijbel van 1637 het reeds ‘sprengen’ gebuik, en die ou Engelse King James Bible van 1611ook ‘sprinkled.’

6  ‘Kinders was ook hier betrokke maar ek twyfel of hulle geweet het besig was om te gebeur’ met die deurgang deur die Rietsee.

 

Die verseëling dat hulle vrygemaakte kinders van God is, deur die Here verlos uit die slawerny van Egipte, is egter bekend by God. So is die doop ook ‘n uiterlike teken wat God gee aandié wat aan Hom behoort. Ons woord ‘kerk’ kom van die Griekse woord kuriake ‘die Here s’n. Dit is Hy wat die teken aan ons gee, en sy seël op ons plaas. In Romeine 9:132 staan: die besluit van God is gegrond op uitverkiesing: dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou  roep.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan