Die betekenis van die doop

Die betekenis van die doop – Francois Malan

Thys vra:

Wat is die betekenis, doel en verskil m.b.t. die Gelowige Doop, die Heilige doop, die klein(kinder/baba) doop, die groot(volwasse doop) en doping met die HeiligeGees. Doping met vuur. Water doop besprinkeling en /of onder dompeling.?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die betekenis van die doop:

Die doop is die uiterlike bevestiging deur God dat die dopeling verbind is aan Jesus Christus, die Seun van God, wat uit sy genade en groot liefde aan die kruis gesterf het vir die sonde van die wêreld, en deur sy opstanding die dood as straf op die sonde oorwin het. Die verbinding aan Jesus Christus word gedoen deur die Heilige Gees wat reeds in die dopeling kom woon het soos God belowe het. Deur die werking van die Heilige Gees is die dopeling weergebore tot kind van God. Die doop is ‘n uiterlike teken wat God gee, om daarmee sy seël van eienaarskap op ons te plaas – die dopeling behoort nou aan God, die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 

 

            Romeine 6:3-4: Of weet julle nie dat ons wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood ingedoop is nie? Deur die doop is ons dus saam met Hom in sy dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.

 

`           Johannes 3:3: As iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (die Griekse woord het ‘n dubbele betekenis en beteken altwee: ‘van bo gebore’ en ‘weer gebore’).

 

Johannes 3:8: die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan  nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

 

Johannes 14:16-17 Die Vader sal die Heilige Gees gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees…en in julle sal wees.

 

Romeine 8:11: As die Gees van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

 

Romeine 8:15 Julle het die Gees van kindskap ontvang deur wie ons roep ‘Abba, Vader!’(Abba is die Aramees vir Vader)  Die Gees self bekragtig aan ons gees dat ons kinders van God is.

 

Doop met die Heilige Gees, en doop met vuur:

Johannes die Doper het gesê: Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom…sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop…die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand (Matteus 3:11-12; vgl. Markus 1:8; Lukas 3:16) – hier is die vuurdoop die ewige vuur as ewige straf vir die ongelowiges (Matteus 18:8; 25:41 die vuur wat God vir die duiwel en sy volgelinge berei het). Jesus Christus kom as Regter om te oordeel tussen gelowiges en ongelowiges (Matteus 25:31-33).

 

Die doop met die Heilige Gees word verduidelik in Johannes 7:38-39:  Jesus het gesê: Hy wat in My glo, soos die Skrif sê (vgl. Jesaja 58:11): ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê, wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie – volgens die Evangelie van Johannes begin Jesus se verheerliking aan die kruis, as die hoogste liefdesoffer van God vir ons. Deur sy liefde trek Hy ons na Hom toe (vgl. Jn 12:32-33). Die vrug van die werking van die Gees in ons is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). So lyk ‘n mens wat met die Heilige Gees gedoop is.

 

Die Heilige Gees is God wat in ons kom woon om ons daagliks te lei en te leer en te ondersteun; Johannes  16:7-8: As Ek weggaan sal Ek die Heilige Gees na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid  en van oordeel – Hy wys ons op ons sonde; Hy oortuig ons dat die enigste manier om ons sondaars se verhouding met God reg te kry, is om aan Jesus Christus verbind te wees in die geloof en help ons om soos kinders van God te leef. Paulus sê in 2 Kor 3:18 dat die Heilige Gees ons verander om al meer soos Jesus te word. Hy sal ons ook oortuig van God se oordeel oor die duiwel en oor die bose in die wêreld (Jn 16:11).

 

Die doop met die Heilige Gees verwys na God se onsigbare werking in ons lewe. Dit gaan van God uit en Hy werk ons hele lewe lank aan ons.

 

Kinderdoop:

Die doop is God se uiterlike teken aan ons dat Hy ons sondes vergewe deur die bloed van die Here Jesus wat vir ons gestort is. Soos water ons liggaam reining, is die water van die doop die uiterlike teken dat ons sonde gereinig is deur die bloed van Christus. Sy ‘bloed’ is ‘n beeld van sy offer. Hy het in ons plek die straf op ons sonde gedra. Die Seun van God is deur God verlaat aan die kruis, deurdat Hy, uit sy genade en liefde vir ons, Homself oorgegee het in die dood. God het die dood as straf op die sonde gegee (Genesis 2:17). Deur self die straf van die dood op Hom te neem het Jesus ons bevry van die straf op die sonde, met die een offer wat vir God aanneemlik is, dat God ons straf op Homself neem. En die doop is God se seël wat nou bevestig dat ons vir ewig aan Hom behoort as sy kinders. Hy het ons losgekoop uit die straf op die sonde, en ons dood verander in die deurgang na die ewige lewe saam met God. 

 

Chrisus het sy bloed nie minder gegee vir die reiniging van die kinders van gelowiges as vir volwassenes nie (vgl. Markus 10:14: Laat die kinders na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle). Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het. Die Christelike doop is ‘n bevestiging van die doop van Jesus aan die kruis vir die vergewing van ons sonde – in Lukas 12:50 verwys Jesus na sy kruisdood as ‘n doop waarmee Hy gedoop moet word. Die doop op Golgotha raak die ganse wêreld – vgl. Johannes 1:29: Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die kinders van ‘n gelowige ouer is geheilig = aan God gewy, deur die gelowige ouer (1 Korintiërs 7:14).

 

Kolossense 2:11-12:  In Christus is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige aard weggeneem is, toe julle in die doop saam met Hom begrawe is. In Hom is julle ook opgewek deur die geloof in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

            So verbind Paulus die doop aan die besnydenis van Joodse seuntjies op die agtste dag, wat die teken was van die ou verbond van God se genade aan Abraham en sy nageslag (Genesis 17:9-14). Die doop is die teken en seël van die nuwe verbond van God met ons en ons kinders,dat seuntjies en dogtertjies van gelowige ouers ook kinders van God is.

            Op die Pinksterdag verklaar Petrus: die belofte van vergifnis van sonde deur Jesus Christus en die ontvang van die Heilige Gees geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep (Handelinge 2:38-39). Nadat die Here die hart van Lidia oopgemaak het om ag te slaan op Paulus se getuienis, is sy en haar hele huishouding gedoop (Handelinge 16:14-15); soos almal in die huis van die tronkbewaarder van Filippi (Handelinge 16:32-33).

           

Volwasse doop – gelowige doop:

Die Heilige Gees kom om mense, wat nie gebore is uit gelowige ouers nie, uit ouers wat nie deel het aan God se verbond van genade nie, om ongelowige mense te oortuig dat Jesus die Seun van God is, wat vir hulle die pad na God toe kom oopmaak het. Die Gees gebruik vir sy oortuigingswerk die woord van die Here. wat verkondig word met mense se woorde en lewensvoorbeelde, deur gebeurtenisse, ens. So word mense wat nog nie in Jesus glo nie, deur die Gees gelei tot die besluit om in die Here Jesus te glo, hulle lewe aan Hom oor te gee as die Here van hulle lewe, en te lewe volgens Jesus se woord en sy voorbeeld van liefdediens. 

            So is die mense op die Pinksterdag diep in hulle hart getref deur die woorde van Petrus, en het hulle gevra wat hulle moet doen. Petrus het hulle antwoord dat hulle hulle moet bekeer (die Griekse woord metanoia verwys na ‘n verandering van hulle harte en denke oor Jesus) en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word. En julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang (Handelinge 2:37-38).

            Dit was ook Jesus se opdrag aan sy dissipels ná sy opstanding: Gaan dan en maak dissipels (leerlinge, volgelinge van Jesus) van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees (met die teken en seël dat hulle aan God behoort), en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19-20).

 

            God se genade word aan mense verkondig, en as hulle besluit om dit te aanvaar, en met geloof daarop antwoord, word dit in die doop bevestig. Met die doop neem God die gelowige op in sy huisgesin, in sy gemeente. (Efesiërs 2:8: Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.

 

Besprinkeling en onderdompeling 

1 Petrus 1:2 noem die gelowiges in Klein-Asië: hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.           

Daarmee knoop Petrus aan by die beseëling van God se verbond met Israel by Sinai: Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het (Eksodus 24:8). So sien Petrus die samehang tussen die besprenkeling met die water van die doop van die nuwe verbond en die besprenkeling met die bloed van die ou verbond.

            Vir die doop van klein kinders is die besprenkeling met water dus aangewys as die teken en seël wat God aan hulle gee. Vir ‘n teken en ‘n seël maak die hoeveelheid water nie saak nie.

 

Die onderdompeling is ‘n baie realistiese teken van die sterwe aan jouself en jou ou lewe, deur jou heeltemal onder die water te druk, en die opstanding tot ‘n nuwe lewe waarin God die beheer oor jou lewe neem met die uithelp uit die waterbad deur die persoon wat jou doop. Romeine 6:4: Deur die doop is ons dus saam met Christus in sy dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.

 

Maar die hoeveelheid water is nie belangrik nie. Dit is ‘n teken wat heenwys na Jesus se sterwe en opstanding, en dat ons hele lewe daaraan verbind word, om saam met Hom daagliks ons sonde af te lê, versoekings te weerstaan, en te lewe in gehoorsaamheid aan wat Hy sê (vgl. Efesiërs 4:22-24 om jou ou lewenswandel af te lê, die aard van jou denke te verander, en die nuwe mens aan te trek wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is). In. Johannes 13:34 sê Jesus: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê – dit beteken selfs tot die dood toe mekaar liefhê.

 

Die doel van die doop

God beseël met die doop dat die dopeling aan sy Seun verbind is en dat God hom/haar daarom as kind aangeneem het en opgeneem het in die gemeente as deel van die ligaam van Christus. 1 Korintiërs 12:13: Ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Efesiërs 1:22-23: God het Christus as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(2)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(2) – Hennie Stander

Die gordel:

Die onderkleed.is om die persoon se middellyf met ‘n gordel vasgemaak wat van leer (Matteus,3:4) of van ‘n growwe kledingstof gemaak is. Omdat die gordel so lekker breed was, is dit dikwels so gevou dat geld of ander besittings daarin gebêre kon word (Markus.6:8 – die Griekse woord wat hier in die Afrikaanse vertaling met “.beursie vertaal word, beteken eintlik gordel). Hierdie gordel was baie handig en ‘n mens kon ook wapens of ander werktuie daarin steek (1 Samuel 25:13).

As enigiemand meer vryheid van beweging wou hê om te kon werk of te hardloop, het hulle bloot die pant van die onderkleed opgelig en in die gordel ingesteek. Dit het hulle “die omgord van die lendene” genoem, en hierdie uitdrukking het later ‘n idioom geword met die betekenis van “jouself in gereedheid te bring”. Petrus, byvoorbeeld, vermaan die Christene om heldere en nugtere denke aan die dag te lê wanneer by hulle aanraai om “die lendene van hul verstand te omgord” (1 Petrus, 1:13). Ook die vrouens het die pant van hul onderkleed opgelig wanneer hulle iets van een plek na ‘n ander daarin wou dra.

 

Die bokleed (of mantel)

‘n Mantel het bestaan uit ‘n lang strook materiaal wat los om die liggaam gehang is en bo-oor die onderkleed gedra is. So ‘n mantel kon een van twee soorte wees. In gebiede waar daar behoefte was aan warm bedekking, is n omhangsel van dik wolstof gemaak. Dit was by die skouers. vasgewerk met splete aan die kant vir die arms. Die ander vorm van ’n .mantel het byna soos ‘n japon gelyk en het wye moue gehad. Mantels van systof gemaak was as baie kosbaar beskou en die rykes het dit gedra wanneer hulle in die openbaar verskyn het.

 

Die soom van die mantel kon ongetooid of ook geborduurd wees. Die ongetooide soom was die algemene gebruik. Dit was waarskynlik hierdie soom van Jesus se kleed wat die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aangeraak het (Matteus 9:20).

 

‘n Leersandaal uit die eerste eeu n.C. gevind in die Masada vesting.

 

Sandaal

In navolging van Numeri 15:38-41 het die Fariseërs se mantels some gehad met tossels wat aan die vier hoeke vasgemaak is. Hulle het dikwels ook die soom en die tossels baie prominent en opvallend gemaak om daardeur die aandag op hul piëteit te vestig. Dit was dan juis ook hierdie grootdoenerigheid van hulle waarteen Jesus horn uitgespreek het (Matteus 23:5).

 

Hierdie mantel is ook as kombers gebruik. Snags het die mense hulle daarin toegewikkel en vir baie mense was hierdie kleed die enigste vorm van beskerming wat hulle gehad het. Gevolglik, in gevalle waar so ‘n mantel verpand is, was die houer daarvan verplig om dit aan die eienaar terug te gee voor sononder sodat laasgenoemde daarin kon slaap (Eksodus 22:26-27). Om hierdie selfde rede sou ‘n Joodse hof nooit op iemand se mantel beslag nie.

 

Skoeisel

Die armes het dikwels kaalvoet geloop, maar ander weer het eenvoudige sandale gedra. Die sool daarvan is van beesvel gemaak om by die vorm van die voet te pas. Dit is aan die voet vasgemaak deur ‘n lang riem wat deur die sool gegaan het, tussen die groottoon en die toon langsaan deur, en dit is dan om die enkel vasgebind (vgl Lukas 3:16). Soms het die riem die lussies verbind wat rondom die sool aangebring is en dan het dit heen en weer oor die boog van die voet gestrek.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(1) – Hennie Stander

Die kleredrag van ‘n persoon wat in die Bybelse tyd geleef het, was redelik eenvoudig. Dit het basies bestaan uit ‘n onderkleed en ‘n bokleed en daar was ook een of ander vorm van hoofbedekking. Die dra van skoeisel of ‘n lendedoek was opsioneel. Die geringe variasies wat daar in hierdie patroon bestaan het, het meer gegeld ten opsigte van die kleur, materiaal en styl as van die soorte kledingstukke, omdat bogenoemde klere die mees geskikte vir ‘n relatiewe warm klimaat was.

Mansklere. Van links na rags: ‘n werker met sy onderkleed wat in sy gordel ingesteek is; ‘n man wat ‘n dik wolmantel (bokleed) oor sy onderkleed dra; ‘n ryk man met ‘n kleurvolle mantel met ‘n brae soom.

 kleredrag1

Die lendedoek

Soms is ‘n lendedoek (of ‘n kort onderrok) gedra. Dit was ‘n strook materiaal wat.om die heupe gedraai is en die lyf was kaal. Dit was egter die algemene drag wanneer swaar handearbeid verrig moes word. Petrus het byvoorbeeld heel waarskynlik so ‘n lendedoek of onderkleed gedra toe hy “naak” was of sy klere uitgetrek het om in die familie se vissersboot to werk (Johannes 21:7). Met sy bokleed aan sou hy minder vryheid van beweging gehad het. Ons lees ook van ‘n jongman wat slegs so n lendedoek om sy naakte lyf aangehad het toe Jesus gevange  geneem is. Hy het dit egter laat val en nakend weggevlug (Markus 14:51). In teenstelling met moderne voorstellings van die kruisiging van Jesus, het Hy waarskynlik heeltemal nakend aan die kruis gehang omdat ons lees dat die soldate al sy klere uitgetrek het (Johannes 19:23). Dit was die gebruik dat die soldate al die klere wat ‘n veroordeelde aangehad het vir hulle geneem het as hulle die kruisiging voltrek het.

 

Die onderkleed (of lyfrok)

Die onderkleed (of lyfrok) was ‘n eenvoudige kleed wat van twee stukke materiaal gemaak is en wat horisontaal, op heupvlak, aanmekaar vasgewerk is. Wanneer daar strepe in die kledingstuk ingeweef is op die weefraam, was hierdie strepe altyd vertikaal in die eindproduk. Hierdie onderkleed het nogal baie na ‘n sak gelyk. ‘n V-vorminge opening is vir die kop ingesny en in die twee hoeke is daar snitte gemaak waardeur die arms kon steek. Die. onderkleed is van wol, linne of selfs van katoen gemaak, afhangende van hoe ryk die persoon was wat dit gedra het. ‘n Lyfrok (= onderkleed) wat van saklinne of van bokhaar gemaak was, was baie ongemaklik omdat dit velirritasie tot gevolg gehad het. Dit is dus in tye van roubeklag en boetedoening gedra. Die onderkleed van mans was gewoonlik kort en kleurvol; die van vrouens weer het tot op die enkels gehang en het versierde some rondom die kante van die V-nek gehad.

 

Die onderkleed wat Jesus gedra het, was egter sonder ‘n soom in die middel (Johannes 19:23). Dit is as een stuk geweef en is nie in die middel aanmekaar vasgewerk nie. Dit was dus blykbaar ‘n redelike waardevolle kleed. Miskien het van Jesus se volgelinge hom met so ‘n kleed vereer. Dit is dus te verstaan dat die soldate oor Jesus se kleed die lot gewerp het. Josefus, ‘n Joodse historikus wat omtrent dieselfde tyd as Jesus geleef het, vertel vir ons dat die hoëpriesters altyd so ‘n kleed gedra het. Die dertig “linnehemde” wat Simson beloof het om te gee aan diegene wat sy raaisel korrek kon beantwoord, was waarskynlik soortgelyk aan hierdie onderkleed (Rigters 14:12 ev). Die mense van die Bybelse tye het nie spesiale klere, soos nagklere, gehad waarin hul geslaap het nie. Hulle het net hul gordel losgemaak en elkeen het dan in sy of haar onderkleed gaan slaap, en as dit warm was, het hulle sonder klere geslaap.

 

Dit is egter baie belangrik dat ons duidelik sal verstaan wat ons met elke term bedoel aangesien dit nie altyd moontlik is om ‘n moderne ekwivalent uit te wys vir elke antieke kledingstuk nie. In die eerste plek moet ons nie dink dat die onderkleed die onderlyf bedek het en die bokleed weer die bolyf nie. Met onderkleed word bedoel dat dit onder die bokleed gedra is. Maar nog belangriker, ons moet nie die onderkleed met onderklere probeer gelykstel nie. Dit sou ‘n heeltemal verkeerde begrip wees aangesien dit in die Bybelse tyd heeltemal betaamlik was om net met jou onderkleed ‘aan in die openbaar te verskyn.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Inleiding

 

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Inleiding – Hennie Stander

Een van die grootste probleme wat Christene ervaar wanneer dit by die Bybel kom, is die kwessie van betekenis, m. a. w. hoe verstaan ‘n mens dit wat jy lees. Die Woord van God het op spesifieke plekke en op spesifieke tye na spesifieke mense gekom. Ons moet dus probeer om ons so goed as moontlik in te dink in die situasie van daardie betrokke mense, sodat ons reg kan verstaan wat God aan hulle gesê het. Deel van die inleef in hulle situasie is omdie taal te verstaan waarin die openbaring gegee is. Die probleem rakende die taal is egter in ‘n groot mate oorbrug deur die werk wat die Bybelvertalers doen.

‘n Joodse seun lees uit die Torah tydens ‘n bar mitzvah plegtigheid by die Westelike Muur in Jerusalem

Inleiding

 

Die ander aspek rakende die inleef in die situasie van die Bybelse persone, behels ‘n “gevoel” vir dit waarna woorde en uitdrukkinge in die Bybel verwys, d.w.s. om vir jouself ‘n beeld daarvan te kan vorm. Om so ‘n “gevoel” te kry, moet ons onsself kan indink in die Bybelse.:konteks deur onsself te sien in hul huise, op die platteland en op die markplekke, en wel soos dit in die Bybelse era gelyk het. Met hierdie boek het ons probeer om die leser ‘n gevoel vir die Bybelse tye te gee sodat die hele Bybel daardeur meer lewendig kan word.

     

Gelukkig vir ons het die lewenswyse van die “mense van die Bybel” vir honderde jare redelik konstant gebly met die gevolg dat ons selfs in die twintigste eeu die Bybelse lande kan besoek en enkele dinge kan sien wat eeue gelede feitlik net so gebeur het. Maar die lewenswyse van die antieke mense is ook opgeteken in dit wat hulle geskryf en gemaak het, asook in kunstonele – ja, selfs in hul rommel. Dit is dan juis deur die bestudering van hierdie bronne dat dit vir ons moontlik word om iets te kan-beleef van hoe dit in die Bybelse tye was.

 

Die kultuur van die mense van die Bybel was ryk en divers. In die sogenaamde Vrugbare Halfmaan (destyds meer boomryk as vandag) tussen die Middellandse See en die Persiese Golf, was daar ‘n groot verskeidenheid van kulturele gebruike. Die lewenswyse van die armes was nie dieselfde as die lewenswyse van die rykes nie; die lewenswyse in die warm vallei van die Jordaanrivier het verskil van die lewenswyse op die koel berge rondom Jerusalem; die lewenswyse in die somer het verskil van die lewenswyse in die winter; die lewenswyse van ‘n nomadiese herder het verskil. van die lewenswyse van ‘n besigheidsman in die stad; en in ‘n land wat dikwels in ‘’n oorlogstryd gewikkel was, was die lewe anders tydens die besetting deur die Assiriërs, as tydens die besetting deur die Grieke en die Romeine.

 

Hierdie boek word in twee groot dele verdeel:

  1. Die individu in die gesinslewe. Dit sluit dinge soos kleredrag, woonplekke, die familie, opvoeding, landbou, voedsel, vakmanne, ens. in.
  2. Nasionale instellings en gewoontes soos stede en dorpe, reise, gasvryheid, oorlog, ontspanning, regering, godsdiens, ens. in.

 

Skrywer: Prof Hennie Stander