Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Wenke aan die Leser

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Wenke aan die Leser –  Hennie Stander

Hierdie boek probeer om by elke item wat behandel word, na toepaslike gedeeltes uit die Bybel te verwys. Die inhoud van hierdie gedeeltes word gewoonlik nie woordeliks herhaal nie. Daarom is dit noodsaaklik dat die leser ‘n Bybel byderhand sal hê om elke keer die verwysing na te slaan. So sal jy ‘n volledige verduideliking van die saak kry. Hoewel hierdie boek ‘n deurlopende geheel maak en jy vir vinnige lees kan klaarkom sonder om dieBybelgedeeltes na te slaan, moet jy besef dat jy baie gaan verloor as jy dit nie doen nie. Die naslaan van die teksverwysings in die Bybel sal vir joutegelykertyd baie handige Bybelstudiemateriaal bied: Op hierdie manier kan die boek heel goed deur Bybelstudiegroepe gebruik word.

Jy sal nog meer nut uit hierdie boek kry as jy verskillende Afrikaanse en. Engelse vertalings gebruik, maar dan moet jy net op twee sake let. Eerstens, veral in die Ou Testament, mag die nommers en volgorde van versies in sommige Bybelboeke van mekaar verskil. Tweedens, die woorde en uitdruk­kinge in Bybelvertalings verskil. Die raakpunt van die verwysing mag dus dalk in een vertaling duideliker as in ‘n ander wees,

 

In enkele gevalle word daar ook uit die Ou Testamentiese Apokriewe boeke aangehaal wat jy in sommige Engelse Bybelvertalings ingesluit kan vind. Hoewel Apokriewe boeke deur baie kerke nie as gesaghebbend vir leerstellings gebruik word nie, gee hulle tog waardevolle inligting oor gebruike en gewoontes van die antieke wêreld.

 

Hierdie boek bevat ook gedeeltes met inligting wat die toeris in moderneIsrael nuttig sal vind omdat die agtergrond van al die gebruike en gewoontes wat in hierdie boek behandel word, vir jou ‘n beeld sal gee van die destydse wêreld. Dit sal jou ook help om inligting van sommige toergidse versigtig te beoordeel.

 

Alhoewel hierdie boek ‘n nuutgeskrewe Afrikaanse teks bevat, gebruik dit die fotomateriaal van die boek The New Manners and Customs of Bible Times van Ralph Gower met toestemming van The Moody Bible Institute of Chicago. Die fotomateriaal het die huidige skrywers aan die opset en uitleg van die oorspronklike boek gebind, maar die Afrikaanse weergawe verskil aansienlik van die Engelse teks omdat dit van nuwe kennis en inligtings­bronne oor die antieke wêreld gebruik maak.

 

 

Skrywer: Prof Hennie Stander

 




Vergifnis en tyd saam spandeer

Vergifnis en tyd saam spandeer – Francois Malan

Christina vra:

Is dit reg in God se oë, om jou broer en suster te vergewe vir iets wat hulle gedoen het aan jou, maar omdat hulle nie in God glo nie, is dit reg dat ek nie tyd met hulle wil spandeer nie?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Om jou broer en suster te vergewe vir iets wat hulle gedoen het aan jou

Jesus het gesê elkeen moet sy broers (= medegelowiges) van harte vergewe (Mat 18:35). In Matteus 6:14-15 sê Hy: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander  mense nie vergewe nie, sal julle Vader ook nie julle oortredings vergewe nie.

Die rede waarom Christene moet vergewe, gee Paulus aan in Efesiërs 4:32: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe. En in Kolossense 4:3:13: Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

 

maar omdat hulle nie in God glo nie…’

Is dit so dat hulle nie in God glo nie – het hulle dit vir jou gesê, of dink jy maar net so?

 

Indien hulle openlik bely dat hulle nie in God glo nie, het jy as kind van God, wat glo dat Jwasua Christus die Seun van God is wat mens geword het en vir jou sonde gesterf het, nog altyd die roeping om vir hulle te bid, dat die Heilige Gees in hulle sal werk om tot geloof te kom in die Here Jesus as hulle Verlosser en die Here van hulle lewe; en as daar vir jou ‘n geleentheid kom, jy ook met hulle sal praat oor die groot liefde van God vir die wêreld, dat Hy uit liefde sy enigste Seun gegee het om ons sondeskuld op Hom te neem, sodat ons vergewe kan word en ons die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16).

            Jakobus 4:16,19-20 sê: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. As een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaling terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.

            In Matteus 5:44-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag? Maak die tollenaars nie ook so nie? En as julle net julle broers (medegelowiges) groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader volmaak is (deur julle vyande lief te hê).

 

‘is dit okay dat ek nie tyd met hulle wil spandeer nie?’

Die vraag het eintlik twee kante. Enersyds het die Here vir jou ‘n broer en ‘n suster gegee vir wie jy eintlik verantwoordelik is, al is daar ‘n vraagteken oor hulle lewe of hulle God al leer ken het as die God wat sy liefde ook vir hulle aanbied, deurdat Hy die straf op al ons sondes klaar in ons plek gedra het. Dit is God se roeping vir elkeen van sy kinders om getuies te wees van sy liefde deur ons woorde en ons optrede.

            Maar as hulle optrede en hulle soort lewe vir jou ‘n bedreiging is van jou lewe of jou geloof in die Here Jesus, om jou weg te lei van die Here af om saam met hulle verkeerd begin te lewe, dan is dit seker reg dat jy nie tyd met hulle spandeer nie. Maar dan bly dit nog jou verantwoordelikheid om vir hulle te bid.   

            In Galasiërs 6:1-2 sê Paulus: Broers (mede-gelowiges), as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se Moeder tydens sy kruisiging

Jesus se Moeder tydens sy kruisiging – Francois Malan

Nick vra

 

Waar was Jesus se moeder gedurende die kruisiging.

 

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Johannes 19:25-27 sê: By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: ‘Daar is u seun.’ Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Daar is jou moeder.’ Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Pleeg ek egbreuk as ek met ‘n geskeide vrou trou?

Pleeg ek egbreuk as ek met ‘n geskeide vrou trou? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek is nog nooit getroud nie. Ek is nou saam met ‘n meisie met 2 kinders wat ek graag wil vra om met my te trou. Sy is al lankal geskei a.g.v ex.man wat ontrou was teenoor haar. Ek weet nie wat om te maak nie, sal dit egbreuk wees as ons trou?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord: 

In Matteus 19:9 lees ons dat iemand wat met ‘n vrou trou wat reeds getroud was egbreuk pleeg. Tog is die saak nie so eenvoudig nie. Jesus se woorde moet in konteks verstaan word. In die antieke tyd kon mans sommer vir enige rede hulle vrouens skei, selfs al brand hulle die kos. Moses het glo die mans die reg gegee om skeibriewe te gee (Matt 19:7). Mans het die situasie misbruik en vrouens het dikwels in die slag gebly, Die Fariseërs wou ‘n strikvraag aan Jesus stel. Sou Jesus die gesag van Moses betwyfel? Indien wel, maak Hy hom skuldig aan ‘n oortreding. Dit is waaroor die hele kwessie gehandel het.  

 

Jesus bring ‘n nuwe wet wat die ganse uitbuitende en harde sisteem van die dag uitdaag. Jesus se woorde ontmagtig die mans wat hulle mag misbruik. Jesus sê dat mans wat sommer vir enige rede skei en weer trou in God se oë sondig. Tog moet ons dit nie as ‘n letterlike tydlose reël beskou nie, maar die saak waaroor dit gaan in konteks beskou. Indien jy vandag met ‘n vrou trou wat reeds getroud was, pleeg jy nie egbreuk nie. Hoekom nie? Omdat die konteks totaal verskil. Die bedoeling van Jesus se woorde destyds was om ‘n bepaalde saak reg te stel.

 

Kyk gerus na ‘n meer breedvoerige artikel wat ek oor die betrokke saak geskryf het wat die konteks in meer diepte verduidelik: http://www.bybelkennis.co.za/index.php/bybelse-temas/16-algemene-arikels-in-bybelse-temas-en-sake/539-mag-n-christen-wat-geskei-het-weer-met-iemand-anders-trou 

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok