Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:3-4) – Francois Malan

2:3 ‘deur nie iets uit selfsug of ydelheid (te doen) nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;’

Eenheid in die gemeente is onmoontlik as elkeen net vir homself lewe. Daarom beklemtoon Paulus in verse 3-4 sekere
optredes en houdings wat prysgegee moet word, sowel as dié wat moet voortgaan en ontwikkel in die gemeente. Die
eerste strofe het nie ’n werkwoord nie, en moet bygedink word.

‘selfsug’ (eritheía selfsugtige ambisie, of wedywering soos sommige in Rome, Fil 1:15) Dit is ’n gegriefdheid gebore
uit jaloesie wat wedywer impliseer. Teenoor ’n mede-mens mag ek nie selfsugtig of jaloers wees nie – Galasiërs 6:2 is
dubbelsinnig: ‘dra mekaar se laste’ – nie selfsugtig wees nie. Die woorde kan ook beteken: verdra mekaar se
voortreflikhede, deur nie jaloers op mekaar wees nie.

Ydelheid’ (kenodoksía leë roem/trots of selfsugtige ambisie). Ek moet myself nie goed voordoen terwyl ek dit nie is nie
– in Romeine 3:12 haal Paulus Psalm 14:1-3 en Ps 53:2-4 aan: ‘Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie.’
Ek moenie dink my idee of opinie is altyd reg, terwyl dit moontlik verkeerd of oningelig kan wees nie. Die gelowige
weet hy is deur Jesus geregverdig voor God maar bly sondaar, tegelyk regverdig en sondaar, ‘simul justus et peccator’
soos Martin Luther Romeine 7:21-25 opgesom het.

‘nederigheid’ (tapeinofronsunê nederige houding, sonder arrogansie); ‘ag’ (hêgeomai) beskou, om ’n opinie te hê oor
mekaar; ’hoër’ (huperéchō) beter wees, van oortreffende of besondere waarde; die ander beskou as hoër as ek self.

Die een ding (Fil 1:27) waarop die gemeente moet konsentreer is nederigheid teenoor mekaar omdat hulle uit God se
genade lewe. Dit is waarin die gemeente moet vorder (1:25) en wat dit noodsaaklik maak dat Paulus nog in die lewe
moet bly (1:24). Die nederigheid wat Christus kom toon het, beteken dat jy die ander wat ook uit God se genade lewe,
hoër ag as jouself.

Wanneer jy na jou medemens kyk moet jy aan die een ding dink, aan God se genade waaruit jy en hulle lewe. Dit is God
se genade aan iemand waarvoor ons respek moet hê. Daardie respek vir God se werking in die ander gelowiges, is die
fondament van die gemeente. Paulus plaas my mede-broer en -suster as my meerdere, nie omdat hy of sy beter
kwaliteite het as ek nie, maar omdat God se genade uit hom tot my spreek. God het uit sy genade van my ’n broer of
suster van sy Seun gemaak. Deur die genade van God ontmoet ek Christus in my mede-broer en suster. Omdat Christus
in hulle woon, word ek geroep om hulle hoër te ag as myself en hulle in nederigheid en met vreugde te dien. Omdat
Christus in my woon, weet ek ook van my nietigheid en absolute afhanklikheid van God en sy genade. So kan ek as
afhanklike van God se genade die ander hoër ag as myself omdat ek Christus in hom/haar met dankbaarheid in liefde
dien (vgl. Matt 25:40: ‘Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers of susters van My gedoen het, het julle vir
My gedoen).

2:4 ‘deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.’

By die jaloerse selfsug en die ydelheid om jouself goed voor te doen (2:3) word ’n derde afbreker van gemeenskap in
die gemeente van Filippi genoem wat afgelê moet word: die selfsugtige eiebelang wat die belange van die ander uitsluit;
‘elkeen se eie belange’ letterlik: ‘die dinge van elkeen van julleself;’ ‘omsien’ skopéō, beteken ‘om aan te hou om fyn te
kyk en aandag te gee aan.’…

In Fil 2:21 sê Paulus van die meeste van sy medewerkers: Almal soek net hulle eie belang, nie díé van Jesus Christus
nie. Die belange van die ander is juis die belange van Christus wat ook in die ander woon. Vir die Korinthiërs wat gesê
het ‘alles is geoorloof’ en vleis geëet het wat aan die afgode geoffer is, wat die swakkes in die geloof laat struikel het,
het Paulus ook gesê: ‘Niemand moet sy eie belang soek nie, maar dié van ander’ (1 Kor 10:24). In 1 Kor 13:5 het
Paulus gesê: ‘die liefde jaag nie eiebelang na nie.’ Die najaag van eiebelang staan teenoor die wese van God van wie
hulle sê dat hulle Hom dien – 1 Johannes 4:7-8 sê: Geliefdes laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God en elkeen
wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.

‘maar ook na die belange van elkeen van die ander’ – die Griekse woord kai kan ‘en’ of ‘ook,’ beteken, soos meeste
vertalings, ook die 2020 vertaling, dit beskou. Dit impliseer dat jy ook na jou eie belange fyn moet omsien. Maar die
woord kai kan ook ’n saak beklemtoon, veral as dit ’n onverwagte verrassing aandui – ‘maar inderdaad na die belange
van elkeen van die ander. Die voorbeeld wat Paulus in hierdie paragraaf vir die Filippense voorhou om na te volg, is van
Jesus wat Homself geheel en al prysgegee het ter wille van ons sondaars, sonder om aan Homself te dink (Fil 2:5-8). Dit
moet die ingesteldheid van jou lewe wees teenoor ander mense en veral in die gemeente. Jesus het vir die skare en sy
dissipels gesê: ‘As iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy
lewe wil red , sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My en van die evangelie verloor, sal dit red’ (Mark
8:34-35; Matt 16:24-25; Luk 9:23-24).

Die paragraaf het begin met ’n verwysing na die bemoediging van Christus, die aanmoediging van die liefde, die
gemeenskap deur die Gees, die innige toegeneentheid en barmhartighede as die redes om na die belange van die ander
om te sien, en so die eenheid van die gemeente uit te lewe tot die eer van God ons Vader wat vir ons liefhet.




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:1 – 18) – Francois Malan

Christus se nederigheid as voorbeeld vir die gelowige se nederigheid (Fil 2:1-18)

Oproep tot nederigheid teenoor mekaar (2:1-4), Christus se nederigheid en verhoging (2:5-11), oproep om Paulus te gehoorsaam (2:12-18).

Oproep tot nederigheid teenoor mekaar (Fil 2:1-4)

2:1 Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde, as daar enige gemeenskap
van die Gees, as daar enige meelewing en ontferming…’

Die teks het vier sinsnedes sonder enige werkwoord (‘is’ word veronderstel). Elkeen begin met ei tis: dit is merkers
wat iets aandui of enige onseker omstandigheid soos in die 2020-vertaling ‘…as daar enige troos is….’

ei tis kan ook ’n rede aandui op grond van ’n werklike situasie van iets belangriks:
‘Omdat bemoediging in Christus dan belangrik is, omdat aanmoediging uit die liefde belangrik is,
omdat gemeenskap deur die Gees belangrik is, omdat innige toegeneentheid en barmhartighede belangrik is…’

Dit is ook onduidelik wie, wat, aan wie, doen. Waarskynlik gaan dit oor die belangrikheid van wat Christus in die
gemeente in Filippi gedoen het, onder andere deur Paulus.

‘bemoediging in Christus’ – paráklêsis kan ‘troos’ beteken, maar Paulus gebruik die woord as ‘bemoediging’ 19 maal in
sy ander briewe volgens 2020, en nêrens anders as ‘troos’ nie. Daarom lyk dit of Paulus met die kompakte sinsnede hier
sê: omdat Christus my woorde van bemoediging in die verlede gebruik het om julle te help om getrou te bly aan die
geloof in Christus, laat dit julle ook nou bemoedig.

‘aanmoediging in die liefde’ – paramúthion die basis van vertroosting of aanmoediging. Omdat Paulus met Christus se
innige liefde vir hulle (vgl. Fil 1:8), hulle aangemoedig het om te midde van hulle lyding te volhard om in Christus te
bly glo, laat hulle dan sy aanmoediging in 2:3-5 ook aanvaar en daarvolgens lewe.

‘gemeenskap deur die Gees’ – Paulus pleit hier: omdat julle behoort aan die gemeenskap wat deur die Heilige Gees tot
stand gebring is, en julle as gevolg van sy werking die onderlinge gemeenskap van gelowiges begin beleef, lewe voluit
daarvolgens!

‘innige toegeneentheid en barmhartighede -’ splánchna kaì oiktírmoi. Die eerste woord het reeds in 1:8 voorgekom met
verwysing van Christus se innerlike toegeneentheid wat ook in Paulus is teenoor die Filippense. Die tweede woord
verwys na genadige ontferming met sensitiewe meegevoel. In Romeine 12:1 en 2 Kor 1:3 vertaal 2020 dit as die
barmhartigheid van God. Daarom verwys die twee woorde waarskynlik na God en Christus se innige toegeneentheid en
tere barmhartigheid teenoor die Filippense.

Die vier sinsnedes verdeel in 2 groepe: die eerste twee verwys na Christus se bemoediging en liefde wat Hy deur Paulus
aan die gemeente bewys het; die laaste twee na die Vader en Christus wat die Filippense omring met hulle innige
toegeneentheid en barmhartighede. Die Heilige Gees is besig om dié soort innige gemeenskap onder die gemeentelede
te bewerk.

Paulus bevestig hiermee Jesus se woord in Johannes 14:23: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en
my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.’ Joh 14:17 sê ook ‘die Heilige Gees sal
by julle bly en sal in julle wees.’ Die Vader, Seun en Heilige Gees is liefdevol besig om die gemeente te verander om in
nederigheid mekaar lief te hê en te dien (Fil 1:6).

2:2 ‘maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke;’

‘Maak dan my blydskap volkome’ – die enigste hoofwerkwoord in die lang sin wat strek van 2:1-4, is ‘maak volkome.’
Maar dit is eintlik slegs die inleiding tot die hoofidee wat deur verskeie moeilik-verklaarbare bysinne uitgedruk word.
Paulus se gevoelens, sy vreugde, is slegs ’n bysaak. Die hoofsaak is sy ernstige versoek aan die gemeente om te strewe
na eenheid wat deur nederigheid bereik kan word.

‘deur dieselfde gesindheid te hê,’ tò autò fronête; dit beteken om saam op ’n spesifieke manier te dink, maar dit
sluit ook jou emosies, houdings en wil in. (2020: deur eensgesind te wees). Die uitdrukking gebruik hy ook in Fil 4:2
(en in Rom 12:16; 15:5). Dit dui die gemeenskaplike doel van die gemeentelede aan, naamlik die uitlewing,
verkondiging en verdediging van die evangelie, die goeie boodskap oor Christus.

‘deur dieselfde liefde te hê’ (2020: ‘een in liefde’) – liefde van Christus wat deurwerk na mekaar toe. Dit gaan
om die selfopofferende liefde van Christus wat die vrug is van die werking van die Heilige Gees in die harte van die
gelowiges (Gal 5:22).

‘mense wat in siel saam is’ súmpsuchoi – om verenig in een gees te wees, harmonieus saam te lewe (2020: een
van gees’). Dit is die enigste keer dat die woord súmpsuchoi in die Bybel en klassieke Griekse werke gebruik word;
blykbaar Paulus se skepping om die erns van die saak van alle kante te beklemtoon: denke, gesindheid, liefde, gees.

‘terwyl julle die een ding bedink – tò hèn fronountes om een mening of opinie oor iets te hê. Die werkwoord
van die eerste van die vier uitdrukkings word weer in die vierde in die teenwoordige tyd gebruik en dui aan dat hulle
moet voortgaan om dieselfde gesindheid teenoor mekaar te hê wat in Christus Jesus was (2:5) – die één ding waarvoor
almal moet strewe (2020: een in strewe), naamlik om in nederigheid teenoor mekaar die eenheid van die gemeente uit te
lewe.

Op vier verskillende maniere herhaal Paulus dieselfde idee en hy hoop die Filippense neem die saak ernstig op. Die
onderlinge liefdeseenheid van die gemeente in hulle denke en strewe oor Christus en sy nederige diens is belangrik vir
die geestelike ontwikkeling van sy kerk, vir die voortgang van die evangelie, en die getuienis van die gelowiges in die
wêreld.

Paulus se vreugde oor alles wat die Here reeds in die gemeente van Filippi gedoen het, kort nog een belangrike ding, die
hartlike eenheid tussen die gemeentelede, soos hy reeds in 1:27 geskryf het. Daarom skryf hy hierdie brief aan hulle en
hoop hy om hulle te besoek wanneer hy vrygelaat word. As die Here die onderlinge eenheid in die gemeente sou bewerk
sal Paulus se blydskap volkome wees.

Hoe dié soort eenheid moontlik is, word in die volgende verse uitgespel.




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:27 – 30) – Francois Malan

Aansporing tot volharding en eensgesindheid

1:27 ‘Nog net dit: lewe saam met mekaar op ’n manier wat die evangelie van Christus waardig is,
sodat òf ek kom en julle sien òf nie teenwoordig is nie, ek van julle omstandighede hoor dat julle in één gees
vasstaan, en met één doel en begeerte saamstry vir die geloof in die evangelie,’

Verse 27-30 is een Griekse sin met een werkwoord, politeúomai, ‘om as burgers saam te lewe.’ Net een ding geld in
God se koninkryk. Of Paulus vrygelaat gaan word of nie, moet nie hulle gedagtes in beslag neem nie, maar hulle moet
konsentreer op die een ding waarop dit aankom, om as burgers van die hemel (3:20) saam te lewe. Hulle optrede as
burgers van die Romeinse ryk onder die keiser van Rome met sy voordele en vereistes waarin hulle lewe, moet bepaal
word deur hulle nuwe burgerskap in die koninkryk waar God die koning van hulle lewe is. Om die evangelie van
Christus waardig te wees, wys na die goeie boodskap dat Christus ons uit genade verlos van die bande van die sonde en
van ons selfsugtigheid. Hulle moet daarop konsentreer om God se genade waardig te wees deur uit sy genade te lewe en
genade aan mekaar te betoon as burgers van die genadige God se koninkryk. Met sy liefde in hulle moet hulle mekaar
liefhê en ook hulle vyande (vgl. Matt 5:44).

‘’hulle stryd om hulle geloof in Christus uit te leef en te verdedig teen hulle teenstanders in Filippi (vers 28), kan slegs
slaag as hulle in één gees vasstaan, soos soldate wat saam vasstaan teen die vyand, hier teen die aanslae teen hulle
geloof in Christus. Die oproep om saam vas te staan vir hulle geloof, word versterk met één doel en begeerte om saam
te worstel (sunathléō) teen en ten gunste van hulle teenstanders. Dit is ’n woord wat in die Nuwe Testament slegs in
Filippense 1:27 en 4:3 gebruik word. Waar saam ‘vasstaan’ na ’n groep soldate wat weerstand bied verwys, wys hierdie
worstel-woord na sportmanne wat in ’n span as ’n eenheid teen hulle opponente optree. Om hulle geloof in Christus te
verdedig en daarvoor te stry, is dit noodsaaklik dat hulle saam optree as burgers van die hemel.

1:28 ‘en julle in geen opsig deur julle teenstanders laat afskrik nie. Vir hulle is dit ’n teken van ondergang,
maar vir julle is dit ’n teken van verlossing – en dit kom van God.

Die werkwoord vir afskrik (ptúromai om verskrik te wees en terug te deins vir ’n taak as gevolg van intimidasie) kom
slegs hier in die hele Nuwe Testament voor. Dit beteken hulle moet geensins van hulle geloof in die Here Jesus en sy
evangelie terugdeins of hulle beheer oor die situasie verloor as gevolg van die intimidasie van hulle teenstanders nie.
Wie die teenstanders is, word nie uitgespel nie. In hoofstuk 3:2-4,18-19 verwys hy egter na honde, slegte werkers, valse
besnyding, mense wat op menslike dinge vertrou, vyande van die kruis, wie se maag hulle god is en aardse dinge
bedink. Die harde afgetrede Romeinse bevolking van die stad, die besigheidsmanne wat Paulus-hulle voor die hof
gesleep het, ens. kan deel wees van die gemeente se teenstanders.

‘Dit’ verwys waarskynlik na hulle eenheid in die geloof in Jesus Christus as hulle Verlosser en Koning en hulle vasstaan
en worsteling om hulle geloof te verdedig (1:27). Dít is vir hulle teenstanders ’n duidelike teken van ondergang (apōleia
vernietiging, soos in Fil 3:19 verderf). As teken vir die ongelowiges, laat dit ’n moontlikheid van die ongelowiges se
bekering. As hulle saam staan en stry vir die geloof in Christus is dit die gelowiges se bewys van hulle redding (sōtería
verlossing, soos in Fil 2:12: werk met vrees en bewing aan julle verlossing). Die ewige verdoemenis staan gereed vir die
mense wat die geloof in die evangelie verwerp. Hulle lewe onder die skaduwee van die oordeelsdag. Die gelowiges
lewe egter in die lig van Christus se verlossing wat God vir hulle bewerk het (Fil 2:15: Onder die krom en ontaarde
geslag van ongelowiges skyn die gelowiges soos sterre aan die hemelruim, vgl. Daniël 12:3).

1:29 ‘Dit is immers ter wille van Christus aan julle as genadegawe gegee om nie net in Hom te glo nie,
maar ook vir Hom te ly.’

Om vir Christus te ly maak ons gemeenskap met Hom volmaak. Daarom moet hulle saam vasstaan in die geloof, saam
die evangelie verdedig (1:27) om so die evangelie van Christus waardig te lewe (Fil 1:26; vgl. Rom 8:17: ‘ons is medeerfgename
van Christus; sodat, as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom verheerlik sal word). Om vir Christus
te ly beteken dat die Filippense gewillig is om te ly omdat hulle vir Hom liefhet en aan Christus toegewy lewe (vgl.
Hand 5:41). 1 Petrus 4:12-13 beskou die vurige beproewings wat oor die gemeentes kom as deelname aan die lyding
van Christus, waaroor hulle moet bly wees.

‘Om in Hom te glo’ (pisteúō om te glo tot die mate van volkome vertroue en jou geheel op Hom te verlaat). Die geloof
in Christus is God se werk; ’n genadegeskenk van God. Die mens het nie in homself die geloof in Christus nie. God
skenk dit en werk dit in ons.

1:30 ‘Julle stry dieselfde stryd wat julle my sien stry het en waarvan julle nou hoor dat ek nog steeds stry.’

Die woord vir stryd (agōn) het begin as ’n atletiese kompetisie, wat later gebruik is vir enige intense stryd, met fisiese
of nie-fisiese geweld teen ’n sterk opposisie. Die Filippense het Paulus se stryd in Filippi self gesien, hoe hy voor die
regters gesleep is (Hand 16:19), die skare wat teen hulle gedraai het, die stadsbestuurders wat hulle klere laat afskeur
het, met stokke baie houe geslaan is (Hand 16:22-23) en hulle voete in die blok in die binneste deel van die tronk
geklem is vir die nag, waar hulle lofliedere tot eer van die Here gesing het (Hand 16:24-25,37; vgl ook 1 Thess 2:2).
Nou het hulle gehoor dat Paulus onder bewaking van ’n Romeinse soldaat is (Hand 28:16).

In hulle Romeinse provinsie het die Filippense daagliks te doen met harde afgetrede Romeinse soldate voor wie hulle
moet lewe en getuig van hulle nuwe koning Christus en hulle nuwe burgerskap in die hemel. Die apostel se voorbeeld
moet hulle versterk in hulle eie stryd vir die evangelie, om ter wille van Christus te ly (1:29), om almal saam met hom
in die genade van God te deel (1:7).




Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? – Jan van der Watt

Johan vra:

“Why do bad things happen to good people? There are numerous examples of believers being killed etc.

 

Antwoord

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n eeu-oue vraag, wat handel oor die almagtige en goeie God in wie se teenwoordigheid daar steeds bose en slegte dinge gebeur, veral ook tussen sy eie goeie mense. Waarom laat Hy dit toe? Hy is dan ‘n God van liefde – dit is tog nie liefde om jou kinders te laat ly nie, ens. Deur die eeue is daar baie antwoorde gegee. Hier gaan ek net een of twee noem wat in die Bybel sentraal staan.

1)     Die boek Job hanteer onder andere die vraag. Job was ‘n goeie man, verloor toe alles en kry baie swaar. Uiteindelik het dit weer goed met hom gegaan. Hy het juis geworstel met die vraag waarom hy as goeie, regverdige man so moet ly. Een ding wou hy nie aanvaar nie en dit is dat God hom gelos het. Nee, daar moet ‘n ander antwoord wees! Uiteindelik kom antwoord God hom, maar gee hom nie ‘n direkte antwoord nie. Hy wys vir Job die skepping en vra of Job daar was toe dit alles tot stand gekom het. Hy wys vir Job die diere – vra of Job ‘n krokodil vir sy dogter as speelding sal gee (dit is God se ‘speelding’), of waarom ‘n voël (volstruis) ‘n perd kan weghardloop, maar nie kan vlieg nie. Met ander woorde, As God werk, werk Hy ‘anders’ omdat Hy anders is. Wat Hy doen verstaan mense nie altyd nie. Ons moet besef, Hy is God en ons is mense. Daarom kan ons nie alles verstaan of verklaar nie en moet maar berus in die grootheid van God. Die belangrike punt is egter: Job se lyding was nie sommer vir niks nie. Aan die begin van die verhaal praat God met die duiwel wat God uitdaag – hy sê vir God dat Job huigel en God net vir die goeie dinge dien. Sodra God die goeie dinge wegvat sal Job vir God los. God stem nie saam nie en laat die duiwel toe om alles van Job af weg te vat. Op daardie oomblik het God sy eie eer, sy eie woord op die spel geplaas. As Job faal beteken dit God het misluk en was verkeerd oor Job – Satan was dan reg en het dan gewen. In sy lyding het Job eintlik ‘n geweldige vrag op sy skouers gedra, sonder dat hy dit besef het: hy het die eer van God op sy skouers gedra. Dit bevestig net weer: hoewel Job nie verstaan het waarom hy ly nie, kon hy as mens nie die groter plan van God raaksien nie. Hy het nie besef wat regtig aangaan nie. Vir ons vandag beteken dit dat ons nie alles sal kan verstaan of verklaar wat met ons gebeur nie. Ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy die groter prentjie sien.

Dus, een antwoord is dat ons nie alles in die lewe sal kan verklaar nie. Die lewe is nie soos ‘n wiskundesom wat  ons kan uitwerk nie, bloot omdat ons die God wat ons aanbid nie soos ‘n wiskundesom kan uitwerk nie.

Deel van hierdie antwoord is ook die lewe van Jesus – as die liefde van God sou beteken dat alles net altyd goed moet gaan, sou dit beteken dat God nie vir Jesus liefgehad het nie (ook nie vir Paulus, of Johannes nie, want hulle het ook gely). Jesus het gely – gelukkig het Hy die plan van God geken. Tog sê dit vir ons dat ons nie God se liefde en teenwoordigheid direk moet koppel aan hoe dit met ons gaan nie. Die Bybel sê dit werk nie altyd so nie. Daarmee het God ons egter nie sommer in lyding gelos nie. Soos met Jesus (lees Fil 2:6-11) en Job wag daar ook in die toekoms die saligheid en heerlikheid wat niks kan oortref nie. Uiteindelik seëvier God se liefde en kry die gelowige net wat goed is.

2)     Die boek Openbaring voeg ‘n ander perspektief by: ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie. Die bose (Satan, die ou draak en sy metgeselle – die diere wat uit die aarde en see opkom: Open 12-13) doen alles in hulle vermoë om God se mense en sy werk in hierdie wêreld te probeer afbreek (lees maar weer Open 12-13). Die bose is dus verantwoordelik vir die gemors wat in die wêreld gebeur. Dit beteken nie dat alles buite God se beheer is nie. Nee, Open 4 vertel vir ons dat God op die troon van die heelal sit, en dat almal uiteindelik voor Hom sal verskyn (Open 20) om geoordeel te word. God is in beheer, hoewel die duiwel nog sy laaste stuiptrekkings hier op aarde gee. Waarom gaan dit so sleg? Omdat die bose nog op aarde vernietiging aanrig en die gelowiges ontkom dit nie. Tog wag daar vir hulle die nuwe Jerusalem wat alles in alle heerlikheid sal oortref.

Hier is twee antwoorde uit die Bybel. Ons kan natuurlik wonder as dinge met ons skeefloop. Tog moet ons nie te veel antwoorde hier soek nie, want God is groter as die antwoorde wat ons kan uitdink. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt