Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6) – Adrio König

8.3.5 Romeine 9-11

Hier het ons die enigste deel in die Nuwe Testament wat enigsins breedvoerig aandag gee aan die toekoms van Israel. Die agtergrond is die feit dat die kerk in Paulus se tyd vol heidene sit met baie min Jode, en dit terwyl Jesus die Jode se Messias is. Dit is vir Paulus ‘n hartseer saak (Rom 9:1-4).

Die rede waarom die heidene “oorgeneem” het in die kerk, is eenvoudig: hulle het die evangelie van vrye genade geglo, terwyl Israel self hul heil deur die wet wou verdien (Rom 9:30-33).

 

En wat nou van die toekoms? Met ‘n baie interessante beeld verduidelik Paulus dit, die beeld van die twee olyfbome (11:16ev). Die mak olyfboom is die volk van God, die wilde boom is die heidene. Die stam of wortel van die mak boom is die gelowiges van die Ou Testament. Die Jode wat nie vir Jesus as Messias wou aanvaar nie, is die takke van die mak boom wat afgekap is. Die heidene wat tot geloof kom, is takke wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom geënt is (11:17-24). Hierdie beeld verduidelik die huidige situasie baie goed. Die kerk sit vol heidene, en Israel is in die geheel gesien, in ongeloof. 

 

En die toekoms? In ‘n sekere sin is die toekoms oop. Die Jode kan nog inkom. Dié van hulle wat Jesus as Messias aanvaar, is soos afgebreekte takke wat weer op die mak boom geënt word (11:23). En die heidene wat hulleself verhef en nie in die geloof volhard nie, is soos takke wat van die mak boom afgebreek word (11:22).

 

Hier kom nog iets by. As die Here die wilde lote op die mak boom kon ent, sal dit soveel makliker wees om die mak lote wat afgebreek is, weer terug te ent op hierdie boom (11:24). Dit beteken dat Paulus verwag dat dit maklik gaan wees om die Jode te oortuig dat Jesus hulle Messias is. Trouens dit is ook sy eintlike oogmerk met sy sending onder die heidene. Hoewel hy die apostel vir die heidennasies is, strewe hy in sy bediening daarna om sy eie mense jaloers te maak deur die heidene wat tot bekering kom (11:13-14). Dit is sy hoop omdat Jesus eintlik hulle Messias is.

 

Dit beteken dat Paulus nie die bekering van Israel sien as ‘n massale gebeurtenis iewers in die verre toekoms wanneer die hele volk eensklaps vir Jesus as die Messias sal aanvaar nie. Dit kan nooit die betekenis wees van “die hele Israel” wat gered word nie (11:26). Een enkele geslag iewers ver in die toekoms is nie “die hele Israel” nie, maar net een geslag.

 

Daar is Christene wat meen 11:26 volg op 11:25, in plaas daarvan dat 11:26 ‘n  verduideliking is van 11:25. 11:26 begin nie met: “en daarna” nie, maar met “en op hierdie manier.” Hier staan nie dat die hele Israel gered sal word nadat die volle getal uit die heidennasie ingegaan het nie. Daar word niks gesê oor wat sal gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie (netsoos in Lukas 21:24). Wat hier gesê word, is hoe die hele Israel gered sal word: As gevolg van Israel se verharding word die evangelie nou aan die heidene verkondig om Israel jaloers te maak. Dus terwyl die heidene tot geloof kom, moet hulle Israel jaloers maak, en só sal “die hele Israel” gered word. Hierdie proses sal aanhou totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het. Daar is nie goeie rede om te aanvaar dat daar dan op daardie stadium iets anders as die wederkoms van Christus sal plaasvind nie.

 

Daar is nie sprake van ‘n ander toekoms van Israel nie as dat hulle verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word, gered sal word.

 

Die vraag is dan natuurlik hoe dit kan beteken dat die hele Israel gered sal word? Die eintlike vraag is wie “die hele Israel” is. Dit is moontlik dat ‘n mens ‘n antwoord kry in die slotgedeelte, 11:28-32. Dit eindig met die nadruk op die herhaalde woord “almal:” God het almal (Jode én heidene) aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal (Jode én heidene) kan ontferm.”  Hierdie “almal” is die Jode en heidene saam. Elders noem Paulus die gelowiges van die Nuwe Testament ook “Israel” (Gal 6:16). “Die hele Israel” is dus nie die hele volk Israel nie maar die nuwe gestalte van die volk Israel: die volle getal gelowiges uit die Jode en die heidene.     

 

Dit alles beteken dat Paulus nie vir Israel as volk ‘n ander toekoms sien nie as dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word en dus weer deel word van die eintlike “Israel,” die gemeente van die Nuwe Testament.

 

Van ‘n aparte toekoms vir die volk Israel is daar nie in die Nuwe Testament sprake nie.

 

In watter sin is Israel as volk dan ‘n teken van die nabye wederkoms van Christus? Israel se voortdurende verharding en die feit dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word, moet ons daaraan herinner dat Christus enige oomblik weer kan kom. Van ‘n terugkeer van Israel na die staat Israel kort voor die wederkoms van Christus is daar nie sprake in die Nuwe Testament nie. Die profesieë oor die terugkeer van Israel in die Ou Testament is vervul in die terugkeer uit die ballingskap in Babel. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Doopkwessies

Doopkwessies – Adrio König

[Jan Smith het sekere sake oor die doop na vore gebring. Prof Adrio König reageer op sekere aspekte. Die gedeeltes van Prof Adrio is in groen.]

In die artikels oor die doop van prof Adri König wat op die webblad  verskyn lyk dit of hy die kinderbesprenkeling en die grootdoop aan mekaar gelykstel as sou beide aanvaarbaar wees in die bediening van die kerk.

In sy boek Die Groot Geloofswoordeboek bespreek prof König onder andere die kinderdoop, die grootdoop en die doopmetode.

Aanhaling: Alle kerke wat die kinderdoop aanvaar, aanvaar ook die grootdoop. (Bladsy 115).

As die stelling korrek is, om welke rede word lidmate onder tug geplaas en predikante van die Gereformeerde kerke in hul ampte gestuit sodra dit bekend word dat hulle groot gedoop is deur onderdompeling? Omdat hulle alreeds gedoop is.. n Herhaling van die Christelike doopis nie vir hulle aanvaarbaar nie. Maar ek het self baie huiwering oor wat hierdie kerke doen. En die meeste gemeentes wat ek ken, doen dit nie meer nie. Trouens die NG Kerk het al in 1996 besluit om dit nie meer met lidmate te doen nie.  

Aanhaling: Volgens hulle doop hulle nie kinders of kleintjies nie, maar kinders van gelowige ouers, kinders van ouers wat in die verbond is. Sommige verkies dus verbondsdoop. (Bladsy 116).

Soos prof König sê het Jesus met Sy kruisiging ALLES volbring en so ‘n totale nuwe dimensie teweeggebring wat die geskiedenis onherroeplik beinvloed het. Die ou verbonde en die Wet is vervul, die besnydenis het nie meer waarde nie, dit wat die profete ten opsigte van die Messias voorspel het, het waar geword, die heidene kry ook ‘n plek in die son, ‘n evangelie van liefde en vrede en wat nog meer kry beslag, bekering en geloof in Christus word aan die orde gestel.

Voor Jesus se hemelvaart gee Hy aan Sy dissipels egter ‘n vaste opdrag. Math 28 vers 19: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Dan gaan Markus verder en hy voeg by: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat GLO en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat hom nie laat doop nie sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg:

Hulle sal duiwels uitdryf.

Met nuwe tale spreek.

Gif sal hulle niks doen nie.

Hulle sal die hande op siekes lê en hulle sal gesond word.

 

Die bedoeling van wat Jesus wou hê, is uit die voorgaande tog heel duidelik. Weg is julle! Gaan die hele wêreld in, maak dissipels, leer hulle, doop die wat glo en hulle sal die gawes soos aangedui ontvang en dit beoefen. ‘n Mens se verbeelding moet dan sekerlik tot die uiterste gerek word om enige kinder betrokkenheid hierin te sien? Hoe glo ‘n baba of hoe praat hy met nuwe tale of hoe neem hy gif in en les bes hoe lê hy hande op die siekes om hulle gesond te maak? Ten spyte hiervan sê prof Konig: “ Aan die kruis het God ook die baba versoen, en wanneer die baba dit hoor moet hy/sy  dit in die geloof aanvaar”. Hierdie is die prof se eie stelling en ek glo nie dit kan skriftuurlik wees nie. As die baba wanneer hy/sy groot is nie ‘n opregte bekering ondergaan nie sal geloof in ‘n besprinkeling vir so ‘n persoon van geen nut wees nie. Die besnydenis was “’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het (Rom 4:11). Dit was die begin van die verbond. Maar toe die verbond voortgaan, is Isak besny vóór hy kon glo. Maar alle babaseuntjies is nie besny nie, net dié van die geloofsgemeenskap van Israel. Klink dit nie bekend nie?

 

Die boodskap van Paulus lê klem op ‘n persoonlike verhouding met Christus. Daar kan nie sprake wees dat een gelowige vir die ander kan instaan met betrekking tot die saligheid nie. So sê Esegiël ook in hoofstuk 18 vers 20: Die siel wat sondig, die moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie, die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees; en die ongeregtigheid van die goddelose sal op hom wees.

Ek verstaan nie hoe gelowige ouers vir hulle kindertjies kan instaan soos wat geimpliseer word nie. Ek weet nie wie impliseer dit nie. Ek weet net dat die doop ons in die Abrahamverbond opneem (Gal 3:26, 27, 29) en dat daar altyd in hierdie verbond vir twee groepe plek was: dié wat uit die heidendom tot bekering gekom het en dan besny is soos Abraham, en dié wat uit gelowige ouers gebore is soos Isak. Ek lees nie dat dit in die Nuwe Testament verander het nie. Ek lees wel in die Nuwe Testament dat Abraham die vader van alle gelowiges is.

 

Ek is van mening dat die hele saak van die doop verstaan moet word in die konteks van Jesus se vaste opdrag soos hierbo aangehaal en dat die menings van die woorde “doop” en “besprinkeling” nie geag kan word as om ander betekenisse te hê as wat in beginsel daarmee verstaan word nie.

 

Jesus verwys wel na Sy kruisiging as ‘n “doop” maar hoekom is dit nie as ‘n metafoor aanvaarbaar nie? Die woordspeling dui op die totale  werlikheid van wat Hy in Getsemane en aan die kruis deurgemaak het. Eweso sê Petrus van die ark van Noag as ‘n metafoor dat dit ‘n teëbeeld is van die doop, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete – deur die opstanding van  Jesus Christus …. Wat se gewete sou ‘n kindertjie nou kon hê om voor te bid?

Dan sê prof Konig:” Hierdie voorbeelde veronderstel egter nie regtig onderdompeling nie. Sowel die Etiopiër as Filippus gaan in die water in, dan doop Filippus hom ( hoe word nie gesê nie) en dan kom beide weer uit die water uit”. Met alle respek: Die Etiopiër was op ‘n baie lang reis en derhalwe sou hy beslis genoeg water aan boord gehad het om selfs twee hande vol op sy kop te laat gooi as dit besprinkeling was. Verder, waarom al die moeite om van die wa af te klim in die rivier in te voeter en weer uit as alles sommer gou-gou op die wa afgehandel kon gewees het. Waarom sou Johannes die Doper dan ook in die Jordaan gedoop het – juis omdat daar “baie water was”. Besprinkeling is in die Nuwe Testament met baie water gedoen. Daar was nooit sprake van ‘n bietjie water oor iemand uitgooi nie. Die doop word selfs “was” en “bad”genoem, iets wat niemand deur onderdompeling doen nie, maar wel deur water oor jou te gooi wat die vorm van besprinkeling in die Nuwe Testamwent was. Ons lees dan ook herhaaldelik in die Nuwe Testament van besprinkeling” wat nie op iets anders as die doop betrekking kan hê nie, maar nooit van onderdompeling nie, al het ek geen probleem met onderdompeling nie. Dit gaan oor die betekienis van die doop, nêrens in die Nuwe Testament word die metode beklemtoon nie.

 

Die “besprinkelterme” waarna die prof op bladsy 119/120 verwys kan myns insiens net betrekking hê op ‘n volwasse gelowige wat hierdie besondere aspekte verstaan en dit in sy lewe kan toepas en kan glo dat dit met hom gebeur het. Paulus praat verder dat ‘n mens jou met Christus moet beklee, Ek lees dat die een wat gedoop is, hom/haar met Christus moet beklee (Gal 3:27). Dit het ek my gedoopte babas geleer toe hulle groot genoeg was om te verstaan. Ek het hulle ook geleer dat Christus al die offer vir hulle sonde aan die kruis gebring het nie net toe hulle nog babas was nie, maar lank voor hulle gebore is. Net soos ‘n grootmens kan ook ‘n kind agterna aanvaar wat die Here vooraf gegee het. Die gemeente in Rome moet lank nadat hulle gedoop is, eers by Paulus leer wat hulle doop beteken en dit dan in die geloof aanvaar. dat jy die dinge wat daarbo is moet bedink met die oë gerig op Jesus, die Voleinder en Waarmaker van ons geloof. Ek betwyfel die vermoëns van kindere om hieraan te voldoen. As mens gaan bad dan weet almal wat jy gaan doen. Mens sê tog nie ek gaan gou besprinkel nie. Maar as jy sê ek gaan jou doop sal die aksie wat betrokke is duidelik verstaanbaar wees – jy gaan kop onder die water beland!Dis net as jy aanvaar doop moet deur onderdompeling gedoen word.

 Om ‘n baba te besprinkel kan vir die naaste famililede ‘n groot geleentheid wees en ouers kan opreg glo dat dit korrek is maar eintlik is dit opreg verkeerd.

Prof Konig se artikels wat op die webblad verskyn word sekerlik wyd gelees maar ek sien nêrens enige kommentaar daaroor nie en as ek stilbly meen dit ek stem saam terwyl dit hoegenaamd nie die geval is nie.

Groete en dankie vir die gesprek. Die Here seën jou.

 

 

Adrio König




Gelowiges moet spesialis spoorsnyers word

Gelowiges moet spesialis spoorsnyers word – Kobus Kok

Vandag het Prof Nelus Niemandt by ‘n ontmoeting ‘n belangrike punt gemaak. In ons tyd, volgens Niemandt, word ons oorspoel met inligting of data oorstroming. Vir hierdie rede is onderskeiding een van die belangrikste vaardighede wat gelowiges in Millennium drie kort. Ons leef in ‘n wêreld van kodes, tekens en metafore.

Sit jy jou selfoon aan, dan sleutel jy jou kode in. Maak jy oorplasings op die internet, dan sleutel jy jou geheime kodes in. Ons wêreld is vol tekens wat gekodeer moet word. Katastrofiese gevolge kan volg indien ons ‘n gebrek aan kodering het. Dit was ook die geval in die tyd van Jesus. Ons sien dikwels hoe die Bybel vir ons prentjies skets van mense wat die spoor gemis het, of wat nie die tekens van die tyd reg kon lees nie. Dink maar aan Johannes 10 waar Jesus in beelde of metafore met sy gehoor praat. Jesus sê dat hy die goeie herder is, en die ingang van die kraal. Niemand kan na die Vader gaan as dit nie in en deur Jesus gebeur nie.Tog staan daar in die teks dat al het Jesus in beelde en metafore met hulle gepraat, het die wat na hom geluister het nie verstaan nie. Hulle kon nie die spoor lees nie. Hulle het nie die semiotiek of tekens van die tyd reg gelees nie. Dieselfde gebeur met Thomas in Johannes 20. Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Jesus aan ʼn paar van sy volgelinge verskyn. Hulle het vir die res vertel dat hulle vir Jesus gesien het. Thomas het nie geglo nie. Hy het gesê dat hy definitief nie sal glo nie, alvorens hy fisies sy hande in Jesus se wonde steek. Ongelowige Thomas kon aanvanklik nie die geestelike spore sny nie. Hy kon nie die boodskap kodeer nie. Dieselfde gebeur met die Emmaus-gangers. Hulle wandel saam met Jesus op die pad, maar kon nie die geestelike spore sny nie. Die ryk jongman slaag ook nie daarin om die spoor te sny of die tekens van die tyd reg te lees of raak te sien nie.

 

Tog is dit telkens die blindes en die onrein siekes wat wel raaksien en die tekens reg lees. In Johannes 10 is daar ʼn duidelike boodskap. Die wat die stem van die Herder hoor en die tekens reg lees, is die wat na groen weivelde geneem word en lewe in oorvloed kan beleef (Joh 10:10). Diegene wat by die hek ingaan, is die wat geslaag het om reg te onderskei.

 

Nelus Niemandt vertel van die bekende Karl Barth wat eendag in ʼn tram in Basel ry. Langs hom was daar ʼn student. Barth het die student vriendelik gegroet en agter gekom dat die persoon ʼn besoeker in Basel was. Barth vra toe vir hom wat hy in Basel doen. Die jong man sê toe dat hy en sy vriendin die bekende Karl Barth se Universiteit wil besoek. “Ken u vir Karl Barth?”, vra die student. “Ja”, sê Barth, “Ek het vanoggend sy hare geskeer en gekam”, sê Barth. By die busstop by die Universiteit klim hulle uit, en die jong student se vriendin wag toe ook by die busstop. Die jong man stel toe sy vriendin voor aan die ouer man wat hy pas ontmoet het. “Jy sal nie glo wie dit is nie!” Hierdie man is Karl Barth se barbier!”.

 

Dit is die gevaar as mens die tekens van die tyd of die semiotiek verkeerd lees. My en jou uitdaging is dat ons opgeskerp moet word om die geestelike tekens van die tyd reg te lees en die semiotiek te dekodeer.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Bybellees en bid

Bybellees en bid – Francois Malan

’n Leser vra:

 

Ek is n kind van die Here en baie lief vir Hom. In besige tye en selfs nie besige tye sal ek nalaat om my Bybel te lees en te bid. Ek voel later so skuldig en vra keer op keer om vergifnis omdat ek nie by Hom uitkom nie. Soms weet ek nie waar om te begin lees nie. Sal Hy nog vir my lief wees?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Om na te laat om jou Bybel te lees en te bid is jou skade, nie die Here se verhouding met jou s’n nie.

 

Hy is liefde (1 Johannes 4:816). Liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat God die wêreld lief het, het Hy sy Seun gegee om die sonde van die wêreld op Hom te neem om ons met God te versoen (vgl. Johannes 3:16), en het Hy sy Gees gestuur om in ons te kom woon, om ons tot geloof in Jesus te lei, en ons al meer soos Jesus te laat lewe (Joh. 14:15-17; 16:7-11; Romeine 8:8-11; 2 Korintiërs 3:18). Ons word deel van sy liefde, deur die Heilige Gees, sodat ons ook sal liefhê: vir Hom en vir mekaar (1 Johannes 4:16-21). Dit beteken ‘n persoonlike verhouding met God, wat Hy met ons het en wat ons steeds met Hom behoort te onderhou. 

 

Wanneer ons die Bybel lees, luister ons na wat die Here vir ons sê. Die Heilige Gees wat in ons kom woon het, gebruik die woord van God om ons te oortuig van verkeerde dinge in ons lewe en hoe ons moet lewe as kinders van God. Wanneer ons bid, dank ons die Here vir wat Hy elke dag vir ons doen, vra ons sy vergifnis vir ons oortredings van sy goeie wil vir ons, doen ons voorbidding vir ander, en bring ons ons eie versoeke na die Here en vra dat Hy sal gee wat die beste vir ons sal wees volgens sy oordeel.

      Bybel lees en gebed is die gesprek wat ons met ons Vader voer: Hy praat met ons deur sy woord se riglyne, beloftes en waarskuwings, en maak ons lewe vir Hom oop. En so groei ons in ons geloof in Hom en in ons vertroue op Hom.

        As ons nalaat om na Hom te luister en met Hom te praat, word ons lewe al meer ingewikkeld en besig, en al meer vrugteloos; omdat ons dan al meer op ons self vertrou met wat ons doen, en nie vertrou dat Hy die beste pad vir ons sal wys nie.

         In die gelykenis van die saaier verduidelik Jesus dat baie van die saad, nl. die woord van God, wat gesaai word, nie vrug lewer nie: (i) deurdat die Bose dit wegvat uit die hart van dié wat die woord gehoor het, maar nie verstaan het nie; (ii) deurdat die woord nie by die persoon wortel skiet nie, en dit nie lank hou nie; (iii) deurdat die bekommernisse en sorge van die lewe, en die verleidelikheid van die rykdom die woord verstik, sodat dit sonder vrug bly. Maar waar die woord gehoor en aanvaar word, volg baie vrug (Mat. 13:18-23; Mk 4:21).

Vir bedrywige Marta, wat kla dat haar suster wat by Jesus se voete sit en na sy woorde luister, sê Jesus: Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Lk 10:41-42).   

 

Skrywer:  Prof Francois Malan