Bybellees en bid

Bybellees en bid – Francois Malan

’n Leser vra:

 

Ek is n kind van die Here en baie lief vir Hom. In besige tye en selfs nie besige tye sal ek nalaat om my Bybel te lees en te bid. Ek voel later so skuldig en vra keer op keer om vergifnis omdat ek nie by Hom uitkom nie. Soms weet ek nie waar om te begin lees nie. Sal Hy nog vir my lief wees?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Om na te laat om jou Bybel te lees en te bid is jou skade, nie die Here se verhouding met jou s’n nie.

 

Hy is liefde (1 Johannes 4:816). Liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat God die wêreld lief het, het Hy sy Seun gegee om die sonde van die wêreld op Hom te neem om ons met God te versoen (vgl. Johannes 3:16), en het Hy sy Gees gestuur om in ons te kom woon, om ons tot geloof in Jesus te lei, en ons al meer soos Jesus te laat lewe (Joh. 14:15-17; 16:7-11; Romeine 8:8-11; 2 Korintiërs 3:18). Ons word deel van sy liefde, deur die Heilige Gees, sodat ons ook sal liefhê: vir Hom en vir mekaar (1 Johannes 4:16-21). Dit beteken ‘n persoonlike verhouding met God, wat Hy met ons het en wat ons steeds met Hom behoort te onderhou. 

 

Wanneer ons die Bybel lees, luister ons na wat die Here vir ons sê. Die Heilige Gees wat in ons kom woon het, gebruik die woord van God om ons te oortuig van verkeerde dinge in ons lewe en hoe ons moet lewe as kinders van God. Wanneer ons bid, dank ons die Here vir wat Hy elke dag vir ons doen, vra ons sy vergifnis vir ons oortredings van sy goeie wil vir ons, doen ons voorbidding vir ander, en bring ons ons eie versoeke na die Here en vra dat Hy sal gee wat die beste vir ons sal wees volgens sy oordeel.

      Bybel lees en gebed is die gesprek wat ons met ons Vader voer: Hy praat met ons deur sy woord se riglyne, beloftes en waarskuwings, en maak ons lewe vir Hom oop. En so groei ons in ons geloof in Hom en in ons vertroue op Hom.

        As ons nalaat om na Hom te luister en met Hom te praat, word ons lewe al meer ingewikkeld en besig, en al meer vrugteloos; omdat ons dan al meer op ons self vertrou met wat ons doen, en nie vertrou dat Hy die beste pad vir ons sal wys nie.

         In die gelykenis van die saaier verduidelik Jesus dat baie van die saad, nl. die woord van God, wat gesaai word, nie vrug lewer nie: (i) deurdat die Bose dit wegvat uit die hart van dié wat die woord gehoor het, maar nie verstaan het nie; (ii) deurdat die woord nie by die persoon wortel skiet nie, en dit nie lank hou nie; (iii) deurdat die bekommernisse en sorge van die lewe, en die verleidelikheid van die rykdom die woord verstik, sodat dit sonder vrug bly. Maar waar die woord gehoor en aanvaar word, volg baie vrug (Mat. 13:18-23; Mk 4:21).

Vir bedrywige Marta, wat kla dat haar suster wat by Jesus se voete sit en na sy woorde luister, sê Jesus: Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Lk 10:41-42).   

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Moses en sy geloof

Moses en sy geloof – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Na aanleiding van Hebreërs 11:24-26, veral vers 26. Wat het Moses geglo?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Moses was ʼn aangenome seun van die Farao. Dit het hom ‘n erfgenaam gemaak. Hy het die keuse gehad om die rykdom en posisie wat daarmee saamgaan te hou. Tog kies hy om sy eie posisie van mag en voorreg op te gee en homself oor te gee aan die plan wat God vir sy lewe en sy eie mense gehad het. God se plan vir sy lewe sou behels dat hy homself moes leegmaak, en nie vas moes hou aan sy magtige posisie nie. Daardie pad het ‘n pad van lyding ingehou ter wille van dit wat God in en deur Moses wou doen – by name die verlossing van sy mense uit die greep van die oorheersing deur die Egiptenare. Moses moes die rykdom van ‘n paleis opgee vir die grenservaring van ‘n onsekere woestyn-tydperk. Moses kon net een ding doen – en dit is om te glo. Hy moes glo dat God ‘n pan en ‘n toekoms het. Geloof veronderstel vertroue in iets wat mens nie kan sien nie. Dit behels letterlik ‘n geloofsprong. Die vraag is of ons bereid sal wees om te doen wat Moses en Abraham gedoen het? Sal ons God vertrou vir sy beloftes?

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5) – Adrio König

8.3.4 Israel

Intussen bly Israel vir sommige gelowiges ‘n baie belangrike saak. En in ons tyd kom dit weer sterk na vore. Mense is oortuig dat bepaalde dinge wat nou in Israel gebeur die vervulling van profesieë is.

Kom ons kyk eers wat ons in die Nuwe Testament oor die toekoms van Israel het. 

 

  • Matteus 10:23  Dit is nogal een van die moeiliker uitsprake van Jesus oor Israel, maar dit sê nie meer nie as dat die verkondiging van die evangelie aan Israel sal voortgaan tot Jesus kom.
  • Matteus 19:28  Hier staan net dat Jesus se volgelinge iewers in die toekoms oor Israel sal regeer. Die woorde: “Wanneer alles nuut gemaak word” laat ‘n mens aan die nuwe aarde dink (Openb 21:5), maar dis moeilik om dit daarby in te pas.
  • Matteus 23:39  Dis ‘n besonder interessante uitspraak. Dis eintlik moeilik om te vertaal, want die Griekse vorm van “julle sal uitroep” dui  ‘n moontlikheid aan, nie ‘n voldonge feit nie. Dit beteken iets soos: “Julle sal My nie weer sien nie behalwe as julle sal uitroep …” Is dit nie van Jesus se kant af ‘n oproep tot bekering nie? Kom ons kyk na die verband.

 

Matteus 23 het die skerpste uitsprake van Jesus in die hele Nuwe Testament. Dit is oordeel op oordeel op oordeel. En dan volg die laaste, vernietigende oordeel: Jerusalem sal verwoes word. Dit beteken eintlik dat God se besondere verhouding met Israel verbreek word. Dit het Jesus al vroeër aangekondig (Matt 21:43).

 

Maar dan hou Jesus nie hier op nie. Dan nooi Hy hulle uit om tot bekering te kom. Hy gebruik dieselfde woorde wat die juigende skare kort tevore by sy intog gebruik het: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom” (21:9). Hierdie volksleiers moet soos die skare word: Juigend oor Jesus. Vers 39 beteken dus skynbaar iets soos: Julle sal My net kan sien as julle tot bekering kom. Of: Indien julle tot bekering kom, sal julle My sien.

 

  • Lukas 21:20-24  Dis ‘n deel van Jesus se profetiese rede. Dit gaan oor die verwoesting van Jerusalem. Heidene sal Jerusalem inneem en “vertrap totdat ook hulle tyd verby is”. Die heidene sal Jerusalem dus vir ‘n bepaalde tyd lank vertrap. En daarna? Dit is die vraag. Hier staan niks oor wat daarna sal gebeur nie. Daar is mense wat dan baie dinge inlees wat daarna sal gebeur. Maar dit staan nie hier nie. Dit is dus ook moontlik dat die einde daarna kom, die wederkoms van Jesus en die nuwe aarde. Trouens dis presies waaroor Jesus dan verder praat (21:25-27).
  • Handelinge 3:19-21  Dit is Petrus se oproep aan Israel om hulle te bekeer. “Dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom.” Wat sal in hierdie tye gebeur? God sal alles nuut maak en vir Jesus stuur. Dit verwys tog seker na die wederkoms en die nuwe aarde.
  • 1 Tessalonisense 2:16  “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.” Dit is die toekoms van Israel.

 

Wat het ons tot hiertoe oor die toekoms van Israel gekry?

  • Ons sal nie klaar kry om die evangelie aan Israel te verkondig voor Jesus kom nie.
  • Jesus se volgelinge sal iewers in die toekoms oor Israel regeer.
  • Die Israeliete wat tot bekering kom, sal die Here Jesus sien en Hom prys.
  • Jerusalem gaan verwoes word, en skynbaar deur heidene vertrap word tot Jesus kom.
  • Die oordeel van God het Israel begin tref.

 

Wat het ons gekry? Israel wat hulle moet bekeer, en die oordeel van die Here is oor hulle.

 

En die vyeboom? Sal die Here Jesus nie kom wanneer die vyeboom blare kry nie? Is die “vyeboom” nie Israel nie, en is “blare kry” nie Israel wat teruggaan na die staat van Israel nie?

 

Nee. Ons kry dieselfde woorde van Jesus in Lukas: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop , weet julle vanself dat die somer naby is” (Luk 21:29ev).

  

As “die vyeboom” Israel is, en as “begin uitloop” beteken teruggaan na hulle land toe, dan moet al die ander volke ook teruggaan na waar hulle vandaan gekom het. 

 

As ‘n vyeboom iewers in die Ou Testament ‘n simbool van Israel is, beteken dit nie dit is elke keer so ‘n simbool nie. Hier is dit nie. Dis ‘n gewone vergelyking: Wanneer bome blare kry, weet ons die somer is naby. Net so weet ons die koms van Jesus is naby wanneer ons die tekens sien waarna Hy verwys het.

 

Wat bly oor in verband met Israel se toekoms? Natuurlik Romeine 11. Dit is ongetwyfeld die belangrikste en insiggewendste deel oor hulle toekoms in die Nuwe Testament.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (4)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (4) – Adrio König

8.3.3 Die heidensending      

Die evangelie moes eers aan alle mense verkondig word voor die Here sal kom. Jesus het self ‘n duidelike uitspraak: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Mat 24:13). 

Beteken dit dat die Here dus nie nou al kan kom nie, trouens dat sy koms selfs nie eens naby kan wees nie? Immers daar is baie mense, selfs volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Maar pas dit regtig in by die prentjie van die Nuwe Testament? Sy koms was dan al in die tyd van die Nuwe Testament naby. 

 

Wat het Jesus bedoel? Dis interessant om Paulus se briewe hieroor te lees.

  • In Romeine 16:26 skryf Paulus van die evangelie wat “aan alle nasies bekend gemaak is”.
  • In  Kolossense 1:6 skryf hy van die evangelie “wat in die hele wêreld vrug voortbring,”
  • en in Kolossense 1:23 van “die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is”,
  • en later lees ons: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor” (2Tim 4:17).

 

En skielik is dit duidelik waarom Paulus, en al die ander skrywers in die Nuwe Testament, kon verkondig dat die koms van Christus (in hulle tyd!!) naby was. Hulle was oortuig dat die uitspraak van Jesus deur hulle optrede in vervulling gegaan het: al die nasies (waarvan hulle geweet het) het reeds in hulle leeftyd die evangelie gehoor. En dit was ‘n teken dat Jesus reeds in die tyd van die Nuwe Testament enige oomblik kon kom. Ons kan immers nie aanvaar dat Jesus onder “al die nasies’ iets anders bedoel het as wat die apostels daaronder verstaan het nie.

 

Skrywer:  Prof Adrio König