Aan die duiwel oorgegee

Aan die duiwel oorgegee – Francois Malan

Jan vra:

‘n Vriend bel my eendag en vra wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee? In 1 Kor 5: 1 tot 5 praat Paulus oor die sedeloosheid van die Korinthiërs. Daar is hoerery en in die opsig is daar selfs iemand wat sy vader se vrou het. Paulus sê dan in vers 5: om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. Wat is hier aan die gang, asseblief?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Sedeloosheid het die Grieks-Romeinse kultuur gekenmerk, en die stryd van die evangelie was om gelowiges te verlos van die oorheersende siening oor seksuele losbandigheid. Vrye seksuele omgang is vanuit die evangelie beskou as ‘n kenmerk van die wêreld wat onder die heerskappy van die Satan staan (Galasiërs 5:19, Johannes 12:31). Daarteenoor is selfbeheersing vrug van die werking van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22-23), en is seksuele omgang eksklusief bedoel vir man en vrou in die huwelik (1 Korintiërs 7:3-5; Genesis 2:24; Matteus 19:4-6).

            Maar hier was ‘n geval van bloedskande, wat selfs deur die heersende Grieks-Romeinse kultuur ten strengste afgekeur is. En die reaksie van die gemeente in Korinte was nie berou daaroor nie, maar arrogante spog daarmee. So asof die vryheid van die Gees tot sulke uiterstes kan gaan (vgl. hulle roemwoord: alles is my geoorloof, 1 Korintiërs 6:12; 10:23).

 

Paulus se reaksie op die berig wat hom bereik het, is een van verontwaardiging, dat die gemeente oor so iets kan spog. As gesant van Jesus Christus, wat as die Here oor sy kerk regeer, spreek Paulus ‘n woord in die Naam van die Here. Die woord moet deel word van die gemeente se besluitneming, deurdat die Heilige Gees die gemeente lei om aan die woord wat van die Here deur Paulus kom, uitvoering te gee. Die gemeente moet oortuig word dat dit die pad is wat die Here vir hulle aanwys.

 

Om die lidmaat tot inkeer te bring, moet die hele gemeente eers tot inkeer kom en hulle siening van die seksuele lewe verander. Dit word in hoofstuk ses en sewe van 1 Korintiërs weer aangespreek. Dat hulle hulle liggame sal begin sien as ‘n tempel van God waarin die Heilige Gees woon , en dat die mens se liggaam nie vir seksuele losbandigheid bedoel is nie, maar vir diens aan die Here. Vir die verlossing van die seksuele lewe uit die kloue van die duiwel het Jesus sy lewe aan die kruis afgelê (1 Korintiërs 6:13,19-20).

 

Met so ‘n veranderde siening van die seksuele, behoort die gemeente bedroef te word oor die broer in Christus wat met sy pa se vrou saamleef; hom uit die sfeer van die gemeente wat deur die Here beheer word oorgee aan die wêreld, waar die duiwel regeer, om sodoende te leer dat sy huidige lewe in bloedskande nie vir die Here aanvaarbaar is nie, vgl. Levitikus 18:7-8 (die feit dat die vrou nie aangespreek word nie, wys moontlik daarop dat sy nie ‘n gelowige is nie). Deur so op te tree verwyder die gemeente die ‘ou suurdeeg’ van onsedelikheid sodat hulle as nuwe ongesuurde suurdeeg met reinheid en waarheid kan feesvier oor Christus, ons paaslam, wat vir ons geslag is (1 Korintiërs 5:7-8).

 

In vers 5 stel Paulus die man se ‘vlees’ (NAV sondige aard) wat vernietig moet word, teenoor sy ‘gees’ wat gered moet word. Met vlees en gees beskryf Paulus gewoonlik die hele mens van twee kante af bekyk: ‘geestelik’ beteken dit dat die hele persoon deur God se Gees beheer word; ‘vleeslik’ beteken dat die persoon deur sy sondige begeertes beheer word (vgl. Romeine 6:19). Dit is hierdie sondige aard wat vernietig moet word, sodat die hele mens na God toe draai en deur die Gees van God beheer moet word. Hoe dit moet gebeur, spel Paulus nie uit nie, maar deurdat hy oorgegee is in wêreld, die gebied van die duiwel, moet die man tot inkeer gebring word om sy lewe in bloedskande te los, sodat hy weer opgeneem kan word in die gemeente se gemeenskap met die Here en met mekaar.   

 

In Matteus 18:15-20 word ‘n prosedure voorgestel in ‘n ander verband, wat ‘n aanduiding kan gee hoe opgetree moet word.

 

In Job 2:8 gee die Here Job oor in die mag van die Satan, met ‘n enkele beperking. Maar dit is ook weer ‘n ander situasie, want Job het nie in sonde verval nie.

 

Die pad wat Galasiërs 5:24-5 en Romeine 7:5-6 vir die gelowige aanwys, is om jou sondige natuur te kruisig deur ons aan die beheer van die Gees oor te gee. Dit sou die aangewese weg wees vir die man wat in bloedskande leef, om weer in die gemeente opgeneem te word. Maar as hy sou volhard op die pad van die sondige natuur, is hy op die pad na die ewige dood (vgl. 1 Korintiërs 6:9-11).

 

‘Wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee?’ – ek sal versigtig wees om dit te doen. Gewoonlik gee mense hulle self aan die duiwel oor deur Jesus te verlaat. Paulus sê dat die toorn van God kom oor mense wat Hom nie eer en dank nie, en sy toorn is dat Hy hulle oorgee aan hulle eie begeertes om hulle eie lewe daardeur te verwoes (vgl. Romeine 1:18,24-32 se lys sondes). 1 Johannes 5:16-17 onderskei tussen sonde wat nie tot die dood lei nie en dat ons vir so iemand moet bid, en sonde wat tot die dood lei, waarvoor hy nie sê dat ons vir so ‘n persoon moet bid nie – al verbied hy nie sulke voorbidding nie – die sonde tot die dood gaan oor mense wat die geloof in Jesus as Seun van God wat mens geword het, verwerp, en God se gebod van onderlinge liefde versaak (2 Johannes 7-9).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Om ‘n oordeel oor jouself te drink met die nagmaal

Om ‘n oordeel oor jouself te drink met die nagmaal – Kobus Kok

Karen vra:

Ek verstaan van die vers oor die nagmaal dat ‘n mens ‘n oordeel oor jouself kan drink die volgende. Mens drink ‘n oordeel oor jouself wanneer jy nagmaal gebruik en nie besef waarom en hoekom jy dit gebruik nie. Dat jy nie besef wat Jesus kom doen het nie.

Ek het egter al ‘n hele paar kere in kerke predikante hoor sê dat jy moet regmaak met mense voordat jy nagmaal kan gebruik anders drink jy ‘n oordeel oor jouself. Ek verstaan dat Jesus het juis gekom en gesterf omdat ons nie volmaak is nie. Omdat ons nie onsself kan red nie en daarom gebruik ons ook die nagmaal om ons te herinner dat Hy die prys betaal het. Ek glo wel dat ons nie met onvergifnis in ons harte moet rond loop nie. Mense voel klaar veroordeeld wanneer die vers so oorgedra word, want hulle wonder of hulle nie dalk iets teen iemand het waaraan hulle nie nou kan dink nie. Verstaan ek dit reg?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Karen verstaan die nagmaal reg. Die doel van die nagmaal is dat dit ‘n teken is wat ons herinner aan die lewe van Jesus en ‘n sakrament wat ons verbind aan die Christus-gebeure en God se beloftes. In die nagmaal dink ons aan, en herdenk die lewe van Jesus, en probeer ons opnuut om onsself te verbind aan ‘n lewe wat wesenlik daarvan getuig dat ons kinders van God is. Kinders van God vat God se Woord ernstig. In God se woord word ons aangemoedig, soos ons in die Bergrede (Matt 5-7) lees, om ander te vergewe en nog vele meer. Die oproep tydens die nagmaal moet eerder gekommunikeer word as ‘n belyning as ‘n oordeel. Die nagmaal belyn ons opnuut in ‘n feesmaal om ons identiteit te omhels. Dit is waar ons God se gasvryheid beleef en waar ons dan graag gasvryheid en vergifnis na buite wil straal. God se eerste tree is om ons tydens die nagmaal by die hand te vat, en nie om ons te straf nie. Daarom is die eerste ding wat met jou moet gebeur by die nagmaalstafel nie om skuldig te voel nie, maar dankbaar en ingenooi te voel. Tydens die hele proses beleef ons nuutskepping. Vrees vir oordeel wat tot “korrekte” optrede lei, klop nie die ritme van God se hart  nie. Dankbaarheid wat tot geestelike vrug lei, klop ritmies die evangelie se hart – ‘n goeie-nuus boodskap wat mense belyn om op nuut in lyn met God se wil te leef. Juis om hierdie rede moet ons versigtig wees om te maklik te dink ons drink onsself in oordeel in. As ons die nagmaal reg gebruik nooi dit ons eerder in die dampkring van God se genade, as die oordeel-kring in. Tog kan/mag niemand onaangeraak by die nagmaal verbystap nie, net soos ons ook nie onaangeraak by die voete van die Here in gebed mag wegstap nie. Ons geloofspad behels konstante groei, verdieping en vernuwing.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Terug na die Ou Testament: Allerlei (6)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (6) – Adrio König

6.6 Huisskoonmaak en Christelike skole

Daar is soveel kleiner dingetjies wat voortvloei uit die hierdie ingesteldheid van terug na die Ou Testament. Dis uit met feetjies, kaboutertjies en dwergies, met hekse en selfs “liewe heksie”, met Boeddha-beeldjies en nog baie ander goed.

Teen die meeste van hierdie dinge is daar goeie argumente. Maar gooi ‘n mens nie later die baba saam met die badwater uit nie? Ek weet feetjies, kaboutertjies en dwergies toor, en ‘n mens mag nie (probeer) toor nie. Maar is hierdie “toor” regtig toor, die soort wat verkeerd is? Hoe ver verskil dit van dagdrome?

 

‘n Kind van omtrent tien jaar lê en droom. Hy kry ‘n miljoen rand onder ‘n klip. En wat kan hy nie alles koop nie. En wat kan hy nie alles doen nie. En waarheen kan hy nie oral reis nie. Na kammaland. En daar hang die lekkers soos perskes aan die bome!

 

Hoe ver is dit van die feetjies se “toor” af? Moet “kammaland” se bootjie dan ook uit?

 

Sou dit nie dalk juis goed kon wees dat  kinders hierdie feeverhale hoor en geniet, en dan terugkom in die gewone lewe en uitvind die lewe werk nie so nie?

 

En die Boeddha-beeldjies? Ek hoor die gevaar is dat hierdie beeldjie jou huis onder ‘n bose mag bring. Moet ek wens dit is waar? Dan kry ek net ‘n paar honderd klein Nuwe Testamentjies en versteek hulle in Boeddhiste se bagasie, en hulle is onder die mag van Jesus. 

 

Daar is erger verhale in die Bybel as enigiets wat by huisskoonmaak betrokke is. Maar ons leer ons kinders om sinvol, met onderskeiding, na die Bybelverhale te kyk. En selfs dit is nie altyd so maklik nie.

 

Kan ‘n mens nie maar sinvol, krities met hierdie dinge omgaan nie? Sê nou ek gebruik hierdie Boeddha-beeldjie om my elke dag te herinner om vir hierdie mense te bid, en iewers betrokke te raak by die sending onder hulle? 

 

Sê nou Rooikappie leer my kind om versigtig te wees en seker te maak?

 

Tuisonderrig  En dan die tuisonderrig. Daar is sekerlik situasies waarin dit wonderlik is om dit te mag doen. Daar is mense wat eenvoudig te ver van die naaste skool af is. En daar sal ander situasies ook wees.

 

Maar die beginsel? En raak dieselfde beginsel nie ook die Christelike skole nie?

 

Wat doen ons? Haal ons nie ons kinders uit die hoofstroomsamelewing uit, en maak hulle groot in ‘n groepie wat nie weerspieël wat in die wêreld aangaan waarin hulle eendag moet leef nie? Is dit nie deel van oorbeskerming, en dan ten koste van die kind se blootstelling aan die werklike wêreld nie? Gaan hulle in staat wees om die stampe en stote van die samelewing te hanteer as hulle nie daarmee groot geword het nie?

 

En is daar nie selfs veel meer op die spel nie?

  • Onderskat ons nie kinders as ‘n evangelisasiemag nie?
  • Onderskat ons nie die vermoë van ons jong kinders wat die Here Jesus ken om standpunt in te neem en ander te beïnvloed nie?
  • Onderskat ons nie die vermoë van kleintjies wat Jesus ken en liefhet om dit met maatjies te deel en hulle lus te maak om Hom te ken nie?
  • Ontneem ons nie die kinders wat in openbare skole sonder Hom grootword die geleentheid om spontaan van Hom te hoor nie?
  • Ontneem ons nie ons eie kinders die heerlike voorreg om ander na Jesus te lei nie?
  • Stroop ons nie ons openbare skole van ‘n eg Christelike element nie?
  • Is ons nie bang Christene in plaas van dapper Christene nie?
  • En maak ons nie ons kinders só groot nie? 
  • Glo ons meer aan die krag van die duiwel om ons kinders te verlei, as aan die krag van die Gees om hulle nie net weerbaar te maak nie, maar aanvalsoldate vir Jesus?

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Allerlei (5)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (5) – Adrio König

6.5 Drome

In die Bybel is daar dikwels sprake van drome. En drome word as ‘t ware van alle kante bekyk.

 

  • In ‘n paar boeke is daar dikwels sprake van drome (Genesis, Daniél, Matteus 1 en 2), maar in die res van die Bybel baie selde of selfs glad nie.
  • Skynbaar word die meeste drome deur ‘n mens se daaglikse besigwees veroorsaak, en het nie veel waarde nie (Pred 5:2,6).
  • Daar is selfs uitsprake wat beteken dat drome nie betroubaar is nie, en nie werklik waarde het nie (Jes 29:7-9, Job 20:8). Dit is vandag ‘n algemeen aanvaarde oortuiging, ook deur mense wat wetenskaplik na die verskynsel van drome kyk.
  • Die Bybel is dus negatief oor drome (Deut 13:1-5; Ps 73:20; Jer 23:27; 29:8; Sag 10:2), maar ook positief (Job 33:15; Dan 1:17).
  • Daar is sprake van goeie drome (Gen 40:9ev; 1 Kon 3:5; Matt 1:20; 2:13, 19) en ook van slegte drome (Gen 40:16ev; Jud :8).
  • Die Here kan wonderlike dinge deur drome vir mense sê (Gen 31:10ev; 1 Kon 3:5ev), maar ook vreeslike dinge (Gen 40:16ev).
  • Drome kan op die regte manier gebruik word (Matt 1:20ev; 2:13ev; 2:19ev), maar ook op baie verkeerde maniere (Deut 13:1-5; Jer 23:25ev; 28:8ev).
  • Daar is sprake daarvan dat God deur drome en visioene met profete kan praat (Num 12:6), maar daar is ook ernstige waarskuwings teen profete wat valslik daarop aanspraak maak dat God deur drome met hulle gepraat het (Jer 23:25ev; 29:8). 

 

Die uitleg van drome  Drie dinge is baie belangrik:

  • Daar is geen geval in die Bybel waar die Here deur ‘n reeks opeenvolgende drome met iemand praat nie. Dis altyd enkeldrome. 
  • Verder is die reël dat gelowiges se drome altyd dadelik duidelik is. Hulle het nie hulp of inligting nodig om die droom te verstaan nie.
  • Dis wanneer die Here met ‘n heiden/ongelowige in ‘n droom praat, dat die persoon nie die droom verstaan nie (Gen 40,41; Dan 2,4). Dan word dit deur ‘n gelowige uitgelê.
  • Voorbeelde van gelowiges se drome wat dadelik duidelik is: Jakob (Gen 31), Salomo (1 Kon 3), Josef (Mat 1:20ev; 2:19ev).
  • Voorbeelde van heidene/ongelowiges wie se drome nie duidelik is nie, en dan uitgelê moet word: Die skinker en die bakker (Gen 40), die farao (Gen 41), Nebukadneser (Dan 2).
  • Na albei kante is daar een uitsondering: Daniël se droom wat deur ‘n omstander uitgelê word (Dan 7), en die ongelowige Midianiet wat vir sy maat sy droom uitlê (Rigt 7:13ev).
  • Dit is opvallend dat Daniël, wat self die gawe gehad het om drome uit te lê (Dan 1:17), nie sy eie droom verstaan nie.  Dit is ook interessant dat hyself nie in hierdie geval van ‘n “droom” praat nie, maar van ‘n “visioen” (Dan 7:13, 15).

 

Maar dit is wel duidelik dat daar nooit sprake is van meganismes of sisteme wat ontwikkel moes word om drome uit te lê nie.

 

Ná die droom van Josef en dié van die sterrekykers, verdwyn drome omtrent heeltemal in die Nuwe Testament. Daar is wel ‘n verwysing dat ou mense drome sal droom (Hand 2:17), maar daar is geen verdere verwysings daarna nie.

 

Dit is dus moeilik om in die lig van Bybelse gegewens te aanvaar dat die Here vandag op ‘n gereelde basis met gelowiges deur drome praat, en dat daar vandag ‘n hele sisteem van uitleg ontwikkel moet word sodat gelowiges hulle drome kan verstaan. Hiervoor sal ‘n mens openbaring nodig hê wat ná die Bybel gekom het, en daarvoor huiwer die meeste Christene.

 

Skrywer:  Prof Adrio König