Terug na die Ou Testament: Allerlei (4)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (4) – Adrio König

6.4 Ure, dae, maande, jare, kersfees, verjaarsdae

Kom ons kyk na die ure, dae, maande en jare van die Bybel. Miskien kan dit ons help om oor ons kersfees- en verjaarsdagviering te dink. 

Ure  Waar kom ons vier en twintig-uur indeling van die dag vandaan? In die Bybel kom dit eers baie laat tydens die ballingskap in Babilon voor (Dan 3:6, 15; 4:19, 33; 5:5, King James). Die Bybel het dit dus by die Babiloniërs gekry. Voor die ballingskap het die Bybel ‘n baie eenvoudige dagindeling gehad: Dagbreek (Gen 19:15), oggend, middag, laat middag, aand, nag (Gen 24:11).

 

Maar in die Nuwe Testament het ons skynbaar twee verskillende sisteme om die bepaalde uur van die dag te bereken.

  • Volgens Markus word Jesus die derde uur gekruisig (15:25). 
  • Volgens Lukas duur die verduistering van die sesde uur tot die negende uur (23:44).
  • Maar volgens Johannes gee Pilatus Jesus die sesde uur oor om gekruisig te word (19:14).

 

Iewers pas iets nie. Skynbaar gebruik Johannes ‘n ander tydsberekening as Markus en Lukas. Hulle twee gebruik die tydsberekening van sonop af. Dan is Jesus teen nege uur gekruisig (die derde uur ná sonop) en van twaalf uur af was die verduistering tot drie uur toe.

 

Maar dan het Johannes ‘n ander berekening. Jesus kon nie deur Pilatus oorgegee gewees het drie ure nadat Hy gekruisig is nie. Dit moes lank voor die derde uur, nege uur die oggend, gewees het. Kon dit so vroeg as ses uur gewees het? Volgens Johannes is die Joodse leiers in elk geval vroeg die oggend na Pilatus toe.

 

Maar dan sou dit beteken dat Johannes die tyd van middernag af bereken het. Dan is Jesus ses uur die oggend oorgegee, nege uur gekruisig, twaalf uur het die duisternis gekom tot drie uur toe.

 

Wat nou hier belangrik is, is die feit dat die Bybel se uur-berekening van die Babiloniërs af kom, en vryelik in die Bybel gebruik is. Maar dit was dan ‘n heidense gebruik?

 

Dagname In die Bybel het net een dag ‘n naam gehad: Sabbat. Verder het hulle nommers vir die ander dae gebruik soos “die eerste dag” (na Sabbat), of “die tweede dag” (na Sabbat). Dis moontlik dat ons so ‘n voorbeeld van “die derde dag” het (Joh 2:1).

 

Maandname  Die maande se name is nogal bietjie ingewikkelder.

  • Daar is vier ou Kanaänitiese name wat Israel oorgeneem het: Abib (Eks 13:4), Sif (1 Kon 6:1), Etanim (1 Kon 8:2), Bul (1 Kon 6:38).
  • Later het hierdie name in onbruik geraak en is deur nommers vervang of verduidelik, sodat die maand Sif “die tweede maand” genoem word (1 Kon 6:1; Hag 1:1; 2:1; Sag 1:7; 7:1).
  • Ná die ballingskap het Israel ‘n aantal Babiloniese name aanvaar. Sommige van hulle kom in die Ou Testament voor, en ander nie. Nisan (Neh 2:1), Tammus (Eseg 8:14), Elul (Neh 6:15), Kislef (Neh 1:2), Adar (Esra 6:15). Die name self, en die blote feit dat die meeste van hierdie name eers in Esra en Nehemia voorkom, bevestig dat dit uit Babilon afkomstig is.

 

Dit beteken dat dit skynbaar nie so vreemd in die Bybel is om dinge van heidense oorsprong oor te neem nie. Israel het selfs vir God name van Kanaänitiese gode gebruik soos die  woord El. Ook El Eljon was ‘n heidense godenaam.

 

Moet dit by dagname en maandname en Kersfees juis anders wees?

 

Jare  Die berekening van jare is ook interessant. In die Ou Testament was daar twaalf maande, maar dit was maanmaande. Dit het beteken dat hulle twaalf maande net 354 dae vir ‘n jaar gehad het, sodat hulle elke drie jaar een maand moes byvoeg om by die sonjaar te bly. Hulle het hierdie dertiende maand “die tweede maand Adar” genoem. 

 

Kersfees  Dit is nogal algemeen onder hierdie Christene om nie meer Kersfees te vier nie. Dit sou dan ‘n heidense feesdag gewees het, Christus sou nie op 25 Desember gebore wees nie, en ons sou nooit in die Bybel ‘n opdrag gekry het om sy geboorte te vier nie.

 

Dit is alles waar. Maar hierdie feite kan seker ook anders verstaan word.

 

Seker omtrent alle mense weet al teen hierdie tyd dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. Trouens die vroeë Christene het dit nog beter geweet as ons. Hulle het in Israel gewoon en geweet 25 Desember is die middel van die winter. Daarom sou die skaapwagters nie in die nag in die oopte by die skape gewees het nie (Luk 2:8ev).

 

Wat die heidense karakter van kersfees betref, is dit ook taamlik algemeen bekend dat dit in die noordelike halfrond die fees was by die draai van die jaar, by die “geboorte” van die nuwe jaar. Hulle was wel ‘n paar dae uit. Die draai is eintlik 22 Desember.

 

Wat doen die Christene toe? Hulle vier op die heidense feesdag ‘n fees vir Jesus. Hulle het dit met ander dinge ook gedoen. Hulle het telkens ‘n heidense tempel oorgeneem en as Christelike kerkgebou gebruik. Is dit nie wonderlik nie! Sê nou ons kan ‘n paar dobbelhuise oorneem en as mega-gemeentes se kerkgeboue inrig! Prys die Here. Wat onder die son kan daarmee verkeerd wees? Dis oorwinnings vir Jesus.

 

Verjaarsdae  Hier en daar is daar nou ook teenstand teen die vier van verjaarsdae. ‘n Mens sien natuurlik op ons kalender wanneer jy verjaar. Maar die argument is nou dat ons kalender die Gregoriaanse kalender is, deur Gregorius ingestel, en dit mag ons nie meer volg nie omdat daar ‘n ander kalender in die Bybel is. Die Bybel het ander dag- en maandname. As ons dan “Bybels” wil wees, moet ons terugkeer na hierdie name. Beide ons dagname en maandname is van heidense oorsprong. Sondag was die dag van die songod, Maandag van die maangod.

 

Hoe moet ons hierop reageer?

 

In die Bybel lees ons van Herodes se verjaarsdagviering (Matt 14:6). Natuurlik is hy en sy feeste geen goeie voorbeeld vir ons nie, maar dis tog seker duidelik dat dit nie net hy sal wees wat in die Bybel sy verjaarsdag gevier het nie. Mense het deurgaans geweet hoe oud hulle is.

 

Maar wat het ons intussen geleer oor die Bybel se gebruik van heidense gegewens? 

  • Ure
  • Maandname. Hulle het sommige van die Kaänaniete en later ander van die Babiloniërs gekry.

 

Hoekom mag ons dit dan nie met Kersfees doen nie, en selfs Goeie Vrydag en Paassondag?

 

Trouens waarom moet ons ‘n opdrag in die Bybel hê om Jesus se geboortedag, of sterfdag, of opwekkingsdag te vier? Daar is ook geen opdrag om die dag van my eie bekering te vier nie. Of my troudag. Ook verkeerd? 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Allerlei (3)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (3) – Adrio König

6.3 En die besnydenis?

Dit is opvallend dat, sover ek weet, geen groep wat op pad is terug na die Ou Testament, die besnydenis weer in gebruik geneem het nie. ‘n Mens sou minstens net sulke sterk argumente vir die besnydenis as vir die Sabbat kon aanvoer, en selfs sterker argumente as vir die feeste. 

  • Die besnydenis word net soos die Sabbat en die ander gebruike “ewige” gebruike genoem. Alreeds by die instelling van die besnydenis word dit ‘n “ewige verbond” genoem (Gen 17:13 – 1953-vertaling).
  • Wie nie besny was nie, moes net soseer uit die volk uitgesluit word as dié wat nie die Sabbat onderhou het nie, en was ook met die dood strafbaar (Gen 17:14; Eks 4:24-26).
  • Die Here maak byna vir Moses dood omdat hy nie sy seun besny het nie (Eks 4:24-26).
  • Toe die volk vir ‘n tyd lank tydens die woestyntog nie meer besny is nie, het die smaad van die Here op hulle gerus, die smaad wat eers weer weggeneem is toe Josua almal laat ná die intog in Kanaän besny het. (Jos 5:9).
  • Die besnydenis word selfs baie sterker direk met die werk van die Here verbind as die Sabbat. Die Here sal self die Israeliete besny met ‘n geestelike besnydenis (Deut 30:6 –  1953-vertaling).
  • Jesus is self ook besny (Luk 2:21).
  • Ons weet die Christene in Jerusalem het nog hulle seuntjies besny (Hand 21:21).

 

Dis opvallend hoe die ooreenkoms lui wat tydens die beroemde kerkvergadering in Jerusalem bereik is (Gal 2:7-9). Die vraag wat die Christene in Jerusalem so hewig ontstel het, was of Paulus toegelaat mag word om die evangelie sonder die besnydenis aan die heidene te verkondig.  Die ooreenkoms het toe gelui dat, terwyl Paulus dit wel mag doen, Petrus sou voortgaan om “die evangelie van die besnydenis” aan die Jode te verkondig (Gal 2:7). Dit was ‘n toegewing aan Paulus dat hy die besnydenis mag los. Die standaard-evangelie het die “besnydenis-evangelie” gebly.

 

Waarom gebruik ek juis hierdie vreemde uitdrukking: “die evangelie van die besnydenis”? Dit is hoe die Grieks lui in Galasiërs 2:7, 8, 9. Die 1953-vertaling het dit nog só. En dit wys hoe belangrik die besnydenis nog vir die vroeë Joodse Christene was.

 

En dié wat wil terugkeer na die Ou Testament? 

 

Waar is die besnydenis in die Nuwe Testament vir die Jode afgeskaf?

 

Is daar nie net sulke sterk gronde om weer met die besnydenis te begin as met die Sabbat nie, of selfs sterker gronde? 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




God en die hel

God en die hel – Francois Malan

Michell vra:

As God Alomteenwoordig is, is Hy in die hel?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In Matteus 25:41 sê Jesus: Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant (die bokke v12-13) sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is…’

            Dit is God wat die ewige vuur vir die duiwel en sy engele en vir die ongelowiges voorberei. Die hel is die plek wat God voorberei het vir die duiwel en sy engele, om hulle te straf.

 

Vergelyk die beelde van Johannes se gesig oor die oordeelsdag in Openbaring 20:9 waar die Satan en die nasies wat hy oor die hele aarde verlei het, die gelowiges aanval. ‘Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gegooi, daar waar die dier en die valse profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word  tot in alle ewigheid.’ –           Die vuur uit die hemel kom van God af, en die poel van swawel en vuur is ‘n beeld van die straf van God wat Hy berei het vir die duiwel en sy volgelinge. 

Vergelyk ook die beeld van die boeke wat oopgemaak word in Openbaring 20:15: ‘As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.’

 

Maar dié wat in Jesus glo, dat Hy die Seun van God is wat mens geword het en uit liefde vir ons gesterf het, ons sonde op Hom geneem het en van ons kinders van God gemaak het saam met Hom, dan is ons name geskryf in die boek van die lewe, en kom ons nie in die oordeel nie (vgl. Matteus 25:34; Johannes 3:36). Omdat ek ‘n kind van God is, is Jesus nou die Here van my lewe, en lewe ek as kind van God, wat deur sy Gees gelei en versterk word vir ons stryd teen die sonde en selfsug in ons, en ons lei om ander te dien (vgl. Matteus 25:35-40).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

 




God se wil en die mens se wil

God se wil en die mens se wil – Francois Malan

Karen vra:

Is dit so dat God nie kan of sal teen ‘n mens se wil gaan nie? Indien wel, maak dit nie sin om dan bv jou hele lewe lank vir jou kind te bid as hy as volwassene in elk geval dalk verkeerde keuses maak en God dan nie teen sy wil sal gaan nie. Dan maak die teks van ‘n kragtige gebed van ‘n regverdige wat groot krag het nie sin nie. As God dan nie ‘n invloed kan uitoefen op so ’n kind se wil nie, wie kan.?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

In die brontaal (Grieks) van Jakobus 5:16b staan: ‘groot is die krag van gebed van ‘n regverdige wat uitgewerk word.’ Die 1983-vertaling vertaal: ‘die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ Dit word bewys deur verse 17-18 se verwysing na Elia se gebed dat dit nie moet reën nie, en vir drie jaar het die Here dit nie laat reën nie, en Elia het weer gebid en die Here het oorvloedige reën gegee. Deur die gebed van God se kind, sal God kragtig werk in die persoon vir wie gebid word. 

 

            Elia was ‘n gewone mens soos ons (die gelowiges vir wie Jakobus skryf). 1 Konings 17:1 beskryf hoe Elia, ‘n bywoner uit Gilead oorkant die Jordaan, vir Agab, die goddelose koning van Israel, in die hoofstad Samaria sê dat hy, wat Elia is, in diens van die God van Israel staan, en dat daar die volgende paar jaar geen reën of dou sal val nie, behalwe as hy so sê. Konings 18:1 sê dat na omtrent drie jaar, die woord van die Here tot Elia gekom en vir hom gesê het om weer na Agab toe te gaan en te sê: ‘dit sal weer reën.’ Daarop volg dan die hele gebeure op Karmelberg waar die Baälpriesters die hele dag lank tevergeefs gebid het vir vuur uit die hemel om hulle offer aan Baäl aan die brand te steek, en die Here laatmiddag vuur gestuur het op die gebed van Elia om sy offer te laat brand. Daarna het Elia sewe maal gebid, totdat ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand begin verskyn het van die see se kant af en vinnig groot donderwolke geword het wat laat reën het.

 

            As Jakobus praat van ‘n ‘regverdige,’ word daarmee bedoel iemand wie se verhouding tot God reggestel is deur geloof in Jesus Christus, die Seun van God, wat mens geword het om vir ons sondes te sterf, en van ons, wat aan Jesus verbind is deur geloof, kinders van God te maak (Romeine 8:12-17).

 

            Volgens Johannes16:7-12 stuur Jesus die Heilige Gees om die wêreld te weerlê/oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (1983-vertaling verduidelik die Grieks soos volg: ‘bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het).  

 

Dit is nie so dat God nie ‘n invloed kan uitoefen op iemand se wil nie. Dit is juis die werk van die Heilige Gees om vir die sondaar oortuigend te bewys dat hy verkeerd is. Dit doen die Gees egter deur die woord van God, wat so ‘n persoon probeer oortuig deur die liefde van God vir die wêreld wat so groot is, dat Hy sy enigste Seun gegee het, om die sonde van die wêreld te sterf (Johannes 3:16; Romeine 8:3). Maar ons mense is die draers van die boodskap van God se liefde deur ons woorde en ons optrede. God wil deur ons werk om ander te oortuig, en Hy sal ons woorde en lewenswyse gebruik om ander na Hom toe terug te bring (vgl. Jesus se gebed in Johannes 17:20; en sy opdrag aan sy volgelinge in Matteus 28:18-20). 

 

            Jakobus 5:19,20 spel dit uit: ‘My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.’

 

God gaan juis teen ‘n mens se wil in, en leer ons om sy wil te doen. Maar Hy gryp jou nie aan die nek en dwing jou nie om jou sonde te laat staan nie. Hy het juis die mens geskep om self te besluit. Maar God doen alles om ons te oortuig van sy wil. Uit liefde het Hy sy Seun gestuur, en die Heilige Gees gestuur om ons te oortuig totdat ons besluit om in Jesus te glo, en dan vir ons te lei in die wil van God, deur ons wil aan Hom en sy woord te onderwerp en soos Hy uit liefde te begin lewe (vgl. die vrug van die Gees in ons, Galasiërs 5:22; Romeine 8:9-17). God kan ook omstandighede gebruik om mense tot inkeer te bring, soos bv. die droogte wat Hy in Elia se tyd gestuur het. Maar ten spyte daarvan het Agab nie tot bekering gekom nie. Die grootste deel van Israel het egter in God geglo en die 400 priesters van Baäl uitgeroei, wat hulle verlei het tot afgodsdiens om hulle vrugbaarheid en reën van Baäl te verwag (1 Kon.18:18). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan