Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (4)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (4) Adrio König

4.2.4 Hebreërs 11

Kom ons kyk nou na hierdie merkwaardige hoofstuk. Ons vraag is of die Hebreërbrief die Ou Testament verwaarloos. Hebreërs 11 is seker een van die bekendste hoofstukke in die Bybel: die geloofshelde. Die tema van die hoofstuk is die geloof van die belangrike figure in die Ou Testament. En die een is positiewer as die ander. En almal is uit die Ou Testament!

Maar kom ons kyk na drie dinge:

  • die plek waar hierdie hoofstuk staan,
  • die begin van die hoofstuk,
  • en die woorde direk ná die hoofstuk (hoofstuk 12 se eerste woorde).

 

Plek  Hierdie hoofstuk staan direk aan die einde van die middeldeel van Hebreërs (hoofstukke 7-10) wat eintlik die hoofdeel in hierdie Brief is en waarin die negatiwiteit oor die Ou Testament sy hoogtepunt bereik. Maar hierdie hoofstuk is nou skielik merkwaardig positief oor die Ou Testament. Dit vorm dus ’n skerp kontras met die hoofdeel van die brief.

 

Het die skrywer dit so beplan? Wou hy die lesers oortuig sy negatiwiteit oor die Ou Testament is nie ’n beginsel nie, en dit raak glad nie die hele Ou Testament nie, maar net bepaalde sake in die Ou Testament? Wou hy die moontlikheid van misverstand uit die weg ruim deur, ná die negatiwiteit, te beklemtoon watter wonderlike positiewe betekenis die Ou Testament wel het?

 

Begin  Dan die begin van die hoofstuk (11:1). Dit begin met ’n “definisie” van geloof: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

 

Die punt wat die skrywer hier maak, is dat ons nog nie die dinge sien en beleef waarop ons hoop nie. Paulus skryf iewers: “Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie” (2 Kor 5:7). Waarom skryf Hebreërs juis hier dieselfde gedagte neer, dat ons nog nie alles sien wat ons glo nie? Is dit nie dalk omdat die lesers diep bekommerd is omdat hulle nou ly juis vandat hulle Jesus as Messias aanvaar het nie? Wil hy nie vir hulle sê dat ons nog net uitsien na (hoop op) die heerlikheid wat kom, dat ons dit nog nie kan sien en beleef nie, en dat hulle swaarkry hulle dus nie moet ontstel nie? Wil hy sê dat vervolging vir Christene volkome “natuurlik” is, dat alle volgelinge van Jesus vir hulle geloof ly, en dat die heerlikheid eers in die toekoms lê? “Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nog nie sien nie.” Nou sien hulle nog net lyding. Maar dit sal verander.

 

Trouens hy beklemtoon dit sommer gou weer in hierdie hoofstuk. Wanneer hy oor Henog se geloof praat, beklemtoon hy dat ons nie God se wil kan doen as ons nie glo nie (11:6). Dit gaan dus glad nie oor wat ons beleef nie, maar oor wat ons glo. Daarom moet hulle nie bekommerd wees oor wat hulle nou beleef nie, oor hulle huidige swaarkry nie. Dis eintlik normaal. Die res van die Nuwe Testament is dan ook duidelik hieroor (Hand 14:22; 2 Tim 3:12). Miskien wou hy ’n soort “prosperity gospel” by hulle beveg.

 

Maar dit alles beteken dat die onderwerp én die plek van hoofstuk 11 baie netjies beplan is.

 

Einde  Derdens is die eerste verse ná hoofstuk 11 ook belangrik (12:1-3). Miskien het ons hier die hoogtepunt van die hele Brief. Kyk na die einde van hoofstuk 11: Die gelowiges van die Ou Testament word geprys oor hulle geloof, al het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het  nie, en al het hulle vreeslik gely (11:39, 11:32ev). Dis mos nou presies die posisie van die lesers.

 

Maar waarom het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het nie? “Omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie” (Heb 11:40). Maar hier sluit hy dus, nes Paulus en Petrus, volkome positief aan by die Ou Testament. Die Ou Testament is “open ended” want hulle het vir ons gewag.

 

Wat moes dan met ons gebeur? Wat het nog kortgekom in die Ou Testament? Waarom kon hulle nie, sonder ons, die voleinding bereik nie?

 

Omdat Christus nog nie gekom het nie. Hy voltooi alles.

 

Wat bedoel die skrywer? Ons het, net soos die gelowiges in die Ou Testament, ’n wedloop wat voor ons lê. In plaas daarvan om nou te huiwer, “geestelik moeg te word en uit te sak” (12:3), moet die lesers met volharding die wedloop hardloop, “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (12:2).

 

Wat probeer hy sê? Die hele Ou Testament het op Jesus gewag. Julle het nou by Hom uitgekom. Hou vas aan Hom. Hy is alles. Julle het die logiese eindpunt van die Ou Testament bereik.

 

Verre daarvandaan dat die Hebreërskrywer negatief is teenoor die Ou Testament, is hy inteendeel volkome positief. Hy is net negatief teenoor dié aspekte waarheen sy lesers wou terugkeer omdat dit ten koste van Christus sou wees, dié aspekte van die Ou Testament wat deur Christus vervul is én só ver oortref is dat om daarheen terug te keer, sou beteken om Christus te verag, sy bloed te minag, en sy Gees te beledig (10:29). 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Waar kry Petrus die insig?

Waar kry Petrus die insig? – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor Petrus en ek vermoed die antwoord gaan maar net weer God se almag onderstreep . As ons 1 en 2 Petrus lees, is dit wonderlike teologie wat ons daar vind en wat vandag nog net so relevant is en dit getuig van ‘n persoon wat God se genade verstaan het . My vraag is waar en hoe het Petrus hierdie insig en kennis gekry? Ek vermoed hy het as visserman nooit enige skool van n Rabbi bygewoon nie en het heel waarskynlik nie die die Here Jesus altyd reg verstaan in die 3 jaar wat Hy op aarde gewerk het nie . Was dit n ook n wonderwerk wat gedurende Pinkster plaasgevind het , maw dat hy die insig en kennis daar en dan by God ontvang het as n wonderwerk?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Volgens Handelinge 4:13 was Petrus en Johannes in die oë van die Joodse Raad ongeleerde (agrammatikoi – sonder formele opleiding – deur ‘n rabbi?) en eenvoudige mense (idiootai – leke – op godsdienstige gebied?).

 

In 1 Petrus 1:1 noem Petrus homself slegs ‘’n apostel’ van Jesus Christus – ‘n gestuurde van Jesus, wat met die gesag van Jesus die goeie boodskap van Jesus en oor Jesus oordra aan ander. Dit nadat Petrus die besondere voorreg gehad het om omtrent drie jaar saam met Jesus te wandel, deur die Seun van God self geleer is deur sy voorbeeld en sy woorde, en sy regstelling van Petrus se verkeerde opvattings en ondeurdagte woorde. Na sy opstanding stel Jesus hom aan as herder van Jesus se volgelinge, die swakkes in die geloof (lammers) en sterkeres (skape), volgens Joh 21:15,16, 19. Al vereiste wat Jesus aan hom gestel het, is dat hy Jesus liefhet.

 

In 1 Petrus 5:1 stel Petrus homself voor as ‘n mede-ouderling van die ouderlinge in die gemeentes, een wat langs hulle staan in die diens van die Here. Ná sy belydenis dat Jesus ‘die Christus is, die Seun van die lewende God’, sê Jesus Simon die seun van Jona is gelukkig, want dit is nie ‘n mens wat dit aan hom geopenbaar het nie, maar Jesus se Vader wat in die hemel is, ‘en jy is Petrus (‘rots’) en op hierdie rots sal Ek my kerk bou…. ‘Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly, en wat jy op die aarde oopsluit sal in die hemel oopgesluit bly’ (Matteus 16:17-19) – dieselfde sleutelmag word ook aan die ander dissipels gegee (Johannes 20:23), en aan die gemeente – want waar twee of drie in my Naam vergader is, daar is Ek by hulle’ (Matteus 18:18,20). Die hemel word oopgesluit deurdat Christene van Jesus getuig, en Jesus gebruik hulle verkondiging om mense se harte oop te sluit. Die hemel word toegesluit, bv. deur die kerklike tug (Matteus 18:15-17).

 

Toe Jesus, ná sy opstanding, sy dissipels uitgestuur het om dissipels van al die nasies te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus hulle beveel het, het Hy gesê: ‘Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld’ (Matteus 28:19-20).

 

Volgens Johannes 14:26 het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Johannes 16:13: ‘Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê sal nie van Homself kom nie. Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat kom, aan julle verkondig.’ In Matteus 10:16-20 sê Jesus dat as die mense julle aan geregshowe uitlewer, en voor goewerneurs en konings bring, ter wille van Hom, is dit ‘n geleentheid om van Hom te getuig. ‘Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle sal sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.’

 

Die brief 1 Petrus word geskryf in die beste Grieks van al die Nuwe Testamentiese geskrifte. Die brief bevat heelwat aanhalings uit die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament. Daarby is daar groot ooreenkoms in die teologie van Petrus en Paulus. In 1 Petrus 5:12-14 kom Petrus self aan die skryf. Hy skryf: ‘Silvanus, wat na my mening ‘n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel…’ Silvanus (ook so in 2 Kor. 1:19; 1 Tes.1:1;  2 Tes 1-1) is die Latynse vorm van die Hebreeuse naam Silas (so in Hand. 15:22,27,32,34,40; 16:19,25,29; 17:4,10,14,15; 18:5), die man wat van die tweede sendingreis af saam met Paulus gestap het deur Klein-Asië (Hand.15:40), saam in die tronk was in Filippi (Hand.6:25), saam in Griekeland. Die goeie Grieks van 1 Petrus en van die formulerings van gedagtes kom waarskynlik van Silvanus af. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals?

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals? – Kobus Kok

Chantelle vra:

Iemand het my gevra om hulle te help met ‘n vers in die Bybel. Ek self is nie seker of dit so staan in die Bybel nie. “elkeen sal volgens hul eie geloof salig/gered word”. Waar staan dit in die Bybel? Of is dit net ‘n stelling wat mense maak en dit met verskeie ander verse in die Bybel koppel?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

 

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word:

Waar of vals?

Mens hoor dikwels dat mense sê: “Elkeen sal volgens sy eie geloof gered word”. Daarmee bedoel sommige mense dat dit eintlik nie saak maak in watter geloof of hoe jy glo nie, want almal gaan uiteindelik hemel toe. So ʼn begrip van redding is universalisties van aard – dit is, almal sal uiteindelik gered word. Hierdie tipe siening is al so oud soos die kerk self en word al van die vroegste tyd af  verwerp.

 

Die Christendom verstaan redding Christosentries – dit beteken dat daar buite geloof in Christus nie redding te vinde is nie (Joh 14:6). Mense wat universalisties oor redding dink, glo dat almal gered gaan word ongeag of hulle Christus as persoonlike verlosser aanvaar of nie.

 

Indien iemand op ʼn universalistiese wyse ʼn stelling maak soos “almal sal volgens hulle eie geloof gered word”, kan die Christen hulle antwoord met Johannes 14:6 en argumenteer dat hulle saamstem dat die aard van jou geloof die aard van jou redding gaan bepaal. Kwalifiseer dan jou stelling deur te sê dat indien jou geloof nie Christus as die sentrum het nie, sal jy volgens die aard van jou geloof, nie gered word nie.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Metodiste of Presbiteriane?

Metodiste of Presbiteriane? – Kobus Kok

Jeanette vra:

Wat is die verskil tussen die Nederduits-Hervormde kerke en die Metodiste kerk? Ek wil graag my kinders na n Engelse kerk neem oor hul akademiese taal engels is. Watter Engelse kerk stem ooreen met die NG en Hervormde kerke? Help asb?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Metodiste of Presbiteriane?

Beide die Metodiste en die Presbiteriane het ʼn noue verwantskap met die NG Kerk in die sin dat beide binne die Gereformeerde Protestantisme ontstaan het en Calvinisties van aard is. Beide het ook ʼn lang geskiedenis in Suid Afrika.

Die Presbiteriaanse kerk se naam kom van die Griekse woord “presbiteros” wat ouderling beteken. Die kerk se wortels gaan terug na Engeland en Skotland, en by name John Knox wat saam met Johannes Calvyn in Geneva, Switserland studeer het. Presbiteriane fokus veral op gasvyheid, omgee, konstante vernuwing en sosiale geregtigheid. Die Metodisme gaan weer terug na John Wesley en sy broer Charles Wesley en hulle vriend George Whitefield. Die kerk het ontstaan as ʼn herlewingsbeweging in die 18de eeu binne die Church of England. Wesley (1703-1791) en sy jonger broer Charles (1707-1788) het aan Oxford studeer en daar die sogenaamde “Holy Club” begin. Die klub het weekliks vergader en gefokus op die leef van ʼn heilige lewe. Die mede-studente het spottenderwys na hulle verwys as die groepie wat te veel “metodies” lewe. Wesley het die grappie omgedraai en dit die naam van sy beweging gemaak.  Na Wesley se dood het die beweging weggebreek van die Church of England en ʼn eie denominasie gevorm. Hierdie denominasie het ʼn baie sterk fokus op die missionêre geplaas en vinnig oor Engeland en Amerika versprei. Vandag is daar ongeveer 80 miljoen lidmate in die kerk. Die Metodisme het steeds ʼn sterk missionêre karakter en is bekend daarvoor dat hulle arm of hulpelose mense help. Hulle fokus dus veral op die bou van liefdevolle verhoudings met mense en druk dit veral uit in die vorm van omgee, sosiale diensbaarheid en inklusiwiteit.

In die NG Kerk se geskiedenis het die Skotse Presbiteriaanse invloed ʼn belangrike rol gespeel. In 1820 het ʼn groot hoeveelheid Britse setlaars die land ingestroom. Lord Charles Somerset, met sy Angliseringsbeleid, sou teen 1822 Engels die amptelike taal van die land maak. In die proses is al hoe meer Skotse predikante ingevoer. Die rede daarvoor was onder meer dat die Skotse Presbiteriane sterk ooreenkomste het met die Calvinisme, wat natuurlik eie is aan die NG Kerk. Andrew Murray snr was byvoorbeeld iemand wat uit hierdie groep gekom het, en uiteindelik het hy en sy familie ʼn reuse geskiedkundige invloed op die herlewing van die 1800’s in die NG Kerk gehad. Toe die Presbiteriaanse Moederkerk in Kaapstad gebou is, het baie geld uit die NG Kerk se fondsinsamelings gekom, wat net wys hoe mooi hulle mekaar ondersteun het. Toe die hoeksteen op 9 November 1827 gelê is, het die lidmate van beide kerke eers saam nagmaal gehou.

Die Metodiste Kerk het ook invloed in die NG Kerk uitgehad veral in die negentiende en twintigste eeue. Die Metodistiese invloed het aangesluit by die Nederlandse Nadere Reformasie (gereformeerde piëtisme) wat gelei het tot ‘n evangeliese stroom in die NG Kerk. Die Metodiste is bekend vir hulle praktiese realisme en hulle besondere vroomheid. Die kombinasie van die twee eienskappe het neerslag in die NG Kerk gevind en die dampkring geskep waarbinne baie bekende NG predikante ontwikkel het, soos Ben Marais, David Bosch, Beyers Naude en Willie Jonker.

U kan dus gerus by enige van hierdie kerke aansluit. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok