Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5) – Adrio König

3.3 Moet Christene nog dié feeste vier?

Dit is ‘n tweede vraag oor die feeste. Sommige eis dat alle Christene en Messiaanse Jode nog die feeste moet vier.

 

Maar het die feeste nie maar net dieselfde pad geloop as die Sabbat nie? Het hulle nie eenvoudig ná Jesus se opstanding geleidelik verdwyn uit die lewe van die Christene nie, net soos die Sabbat?

Ná Jesus se opstanding word daar nie weer na enige van die feeste verwys nie, behalwe drie keer na die pinksterfees en een keer na die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6).

  • Die Heilige Gees is op die Ou Testament se pinksterfees uitgestort (Hand 2).
  • Die pinksterfees as ‘n blote tydsaanduiding (1 Kor 16:8).
  • Paulus se begeerte om vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (Hand 20:16).
  • Die fees van die ongesuurde brode as ‘n blote tydsaanduiding (Hand 20:6).

 

Dit is nie vreemd dat Paulus wel nog ‘n keer by die pinksterfees wil wees nie. Ons vergeet maklik dat die vroeë Christene Jode was wat eintlik net van die ander Jode verskil het in hulle oortuiging dat die Messias al gekom het. Hulle het aanvanklik nog tempel toe gegaan (Hand 3), sommige het selfs nog taamlik lank hulle seuntjies besny en die gewone “Joodse gebruike” onderhou ( Hand 21:21).

 

Maar twee belangrike dinge het geleidelik gebeur. 

  • Hulle het verwyder geraak van die Joodse leiers en van die Joodse godsdiensgemeenskap omdat die Jode hulle al meer vervolg het (Hand 20-26).
  • Hulle het los geraak van die tempel, die wet en al die “Joodse gebruike”. Dit het baie ingesluit: die besnydenis, die Sabbat, die feeste, die tempelkultus (priesters, offers).

 

En is Paulus nie baie duidelik daaroor nie?

 

Ons het reeds gekyk na sy houding oor die Sabbat (hoofstuk 2). En nou die feeste. Hy bespreek nooit die feeste breedvoerig nie. Daar is eintlik net twee spesifieke opmerkings (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17).

 

Kolossense is ‘n sagter uitspraak as Galasiërs. In Kolossense vermaan hy die gemeente om hulle nie te laat voorskryf om sekere gebruike na te kom nie, terwyl hy in Galasiërs die vrees uitspreek dat hy dalk tevergeefs die evangelie aan die gemeente verkondig het as hulle met die feeste voortgaan.

 

Waarom is hy sagter in Kolossense? Is dit omdat die situasies in die twee Briewe verskil?

 

In Galasiërs was dit ‘n radikale saak: Geloof in Jesus sonder die wet of saam met die wet. En sy antwoord was radikaal: Christus óf die wet. Waarom so radikaal? Omdat dit gegaan het oor die vraag hoe mense gered word. Indien die wet by Christus moet bykom om ons redding te verseker, beteken dit dat Hy nie volle voorsiening gemaak het vir ons redding nie. Dit onteer Hom. Daarom is dit uit.

 

Dit beteken om nog te besny of die feeste te vier, is uit.

 

Maar in Kolossense is die posisie nie so radikaal nie. Die groot saak in hierdie Brief is nie die wet nie. Daarom kom die sabbat en die feeste meer terloops ter sprake. Dit kom nie voor in die verband van hoe mens gered word nie, maar hoe ‘n gelowige leef. En dan is Paulus se posisie eerder iets soos: Dis nie meer nodig nie. Sou dit beteken indien gelowiges tog gekies het om daarmee voort te gaan, hy inskiklik sou wees?

 

Miskien. Maar dit sou tog vreemd wees. Hy noem daar die voedselvoorskrifte, die sabbat en die feeste ‘n skaduwee, terwyl die werklikheid Christus is. Dit sou tog vreemd wees om aan ‘n skaduwee vas te hou as die een wie se skaduwee dit is, gekom het! 

 

Hebreërs stel dieselfde saak nog sterker. Hy is ook met die wet besig, hierdie keer in die vorm van die tempelkultus. Volgens hom is die wet van Moses nie eens ‘n werklike beeld van die heil wat deur Christus gekom het nie, maar “net ‘n skadubeeld” (10:1). Negatiewer kan dit amper nie. Dan het dit geen sin om daarmee voort te gaan nie.  

 

Skaduwee  Maar nou word die gedagte dat die wet ‘n skaduwee was wat vooruitgewys het na Christus, soms juis positief deur hierdie Christene gebruik. Dit word veral in verband met die feeste gebruik. Dit sou beteken dat die feeste vooraf die hele heilsplan van God afgebeeld het. Een vir een sou ‘n mens in die afsonderlike feeste na die groot heilsdade kon kyk.

 

Na die vraag of die feeste wel die groot heilsdade voorafskadu, het ons reeds gekyk (3.2). 

 

Maar nou kyk ons na Paulus en Hebreërs se gebruik van die begrip “skaduwee”. In beide Kolossense en Hebreërs word dit in ‘n negatiewe sin gebruik om te sê hulle het hulle waarde verloor, hulle word vervang met Jesus self. En nêrens word gesê dat hulle inderdaad dié besondere betekenis gehad het om een-een na die groot heilsdade te verwys nie.

 

Daar is nie regtig ‘n verantwoordelike manier om die sterk uitsprake van Paulus téén die feeste soveel te versag dat Christene maar kan aanhou daarmee nie.

 

Sabbat en feeste op die nuwe aarde?

Op twee plekke in die Ou Testament lees ons iets hiervan:

Jesaja 66:22-23: “Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef voor My in aanbidding kom buig.” Dit staan in die oudste gedeelte wat handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Sagaria 14:16-19. Hier word geskryf dat iewers in die toekoms die huttefees gevier sal word. Dit is nie duidelik na watter geleentheid verwys word nie, maar dis in die toekoms.

 

Hieruit lei sommige dan af dat die Sabbat en die feeste nou nog gevier moet word omdat hulle in die toekoms, en selfs op die nuwe aarde nog gevier sal word.

 

Die vraag is of ons nie hier die tipiese verskynsel het dat iemand in die taal van sy of haar tyd iets oor die toekoms sê, terwyl dit nie noodwendig presies só sal wees wanneer dit gebeur nie.

 

Kom ons kyk na ‘n uitspraak van Jesus in die Evangelies. Hy stuur die dissipels uit op ‘n sending onder Israel (Matt 10:16-23). Dit is ‘n sending wat nie voltooi sal word voor sy wederkoms nie (10:23). En dan verklaar Hy dat hulle vervolg sal word en in die sinagoges gegésel sal word. Die uitspraak moet ook vir ons tyd geld, die tyd voor sy wederkoms. Maar daar word nie meer mense in sinagoges in Israel gegésel nie. Maar Jesus het die toekomstige vervolging uitgedruk in die terme van sy tyd.

 

Jesus vertel die gelykenis van die tien meisies wat vir die bruidegom wag (Matt 25:1-13). Dit gaan ook oor sy wederkoms. Hulle wag met olielampe. Maar dit beteken tog nie mense sal nog olielampe gebruik by die wederkoms nie. Jesus praat oor die toekoms in terme van sy tyd.     

 

Wil God in Jesaja en Sagaria nie maar net in terme van daardie tyd sê dat Hy in die toekoms gedien sal word nie?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (4)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (4) – Adrio König

3.2.3 Die laaste drie feeste 

Intussen is daar nog drie feeste wat dan nog nie vervul sou wees nie:

  • die fees van die ramshorings.
  • Die groot versoendag.
  • Die (loof-)huttefees.

Dit sou dan die feeste wees wat vervul gaan word by die wederkoms van Christus.

Hierdie feeste word in die najaar gevier, al drie binne 15 dae.

 

Die fees van die ramshorings of die trompetfees  Daar is meer besonderhede oor hierdie fees in Numeri 29:1-6. Dit word soms die nuwejaarsfees genoem alhoewel dit nie so in die Bybel genoem word nie, en hier ook geen aanduidings is dat dit die betekenis van hierdie fees is nie. Dit was ‘n vreugdefees wat aangekondig moes word met ramshorings of trompette. Daar moes offers aan die Here gebring word.

 

Hierdie fees sou dan die voorteken wees van die wegraping omdat ons in die Nuwe Testament lees van die trompet van God wat sal weerklink wanneer Christus kom (1 Kor 15:52; 1 Tes 4:16). Verder sou die tien dae tussen hierdie fees en die groot versoendag sinspeel op die tien dae verdrukking van Openbaring 2:10 wat ‘n simbool vir die groot verdrukking ná die wegraping sou wees.

 

Maar dié soort verwysings kan darem nie werk nie. Hierdie fees het eenvoudig nie hierdie betekenis in die Ou Testament nie. Nóg in die Ou Testament, nóg in die Nuwe is daar enige verwysings of sinspelings daarop dat hierdie gegewens oor die fees (die trompet en die tien dae) na iets in die toekoms verwys. En nêrens in die Nuwe Testament is daar enige aanduiding dat hierdie gegewens (die trompet en die tien dae) na die koms van Christus of die verdrukking verwys nie. Dit beteken dat daar iets willekeurigs in hierdie aansprake is.

 

Die groot versoendag  Dit is die dag waarop daar versoening gedoen moes word vir die hele volk se sonde. ‘n Bul, twee bokramme en een skaapram moes geoffer word (Lev 16). Die bul word eerste geoffer vir die sonde van die priesters, en dan die bokke vir die sonde van die volk. Daar is nog heelwat besonderhede oor presies hoe daar versoening vir sonde gedoen moes word. Immers versoening van sonde is waaroor hierdie dag gaan. 

 

Volgens  die mense wat wil terug na die Ou Testament is hierdie fees ‘n vooruitwysing na die wederkoms van Christus. Maar ‘n mens sal natuurlik dadelik vra of dit nie eerder verband kan hou met die kruisoffer vir ons sonde nie. Het die wederkoms te doen met ‘n offer vir ons sonde?

 

Ja, is die antwoord. Op die dag van sy wederkoms sal die Here Jesus die sonde van Israel beëindig. Hiervolgens verteenwoordig hierdie versoendag eintlik die behoefte aan versoening vir die volk Israel, en dit word dan deur Jesus vervul. Vooraf, tydens die bruilof van die Lam, wat direk ná die wegraping gevier sal word, sal Jesus ook as sodanig erken en geëer word.

 

Maar is dit nie erg gedronge nie? Dit het by die groot versoendag nie gegaan oor die behoefte aan versoening nie, maar oor versoening. Daar is die volk se sonde versoen. Daar staan niks daarvan dat hulle sonde eers beëindig sal word by die wederkoms van Jesus nie. Ook nie in die Nuwe Testament nie.

 

Verder word interessante ooreenkomste getref tussen

  • die nederige klere van die priester op daardie dag, en Jesus wat in nederigheid gekom het,
  • die wit klere van die priester en die reinheid van Jesus,
  • die offer wat eers vir die sonde van die volk gebring moes word en die sondeloosheid van Jesus. 

 

Maar daar word nêrens in die Bybel enige verbande gelê tussen hierdie dinge nie. Ek sou nou regtig kon dink ‘n mens kan probeer om ‘n verband te lê tussen die groot versoendag en die kruisiging van Jesus. Maar ek het selfs dit nog nie in die Bybel raakgesien nie.

 

Die huttefees  Dit is die sewende en laaste van die feeste in Levitikus 23. Die volk moet vir sewe dae in hutte woon wat van blare en takke gemaak is. Die doel van die fees word uitdruklik uitgespel: “dat julle nageslag moet onthou dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het” (Lev 23:43).

 

Daar word taamlik algemeen aanvaar dat hierdie fees ‘n voorskou is van die duisend jaar van vrede wat begin by Jesus se wederkoms. Die woon in hutte sou dan heenwys na Jesus wat op die aarde kom woon. Dit sou dan natuurlik nog nie die nuwe aarde wees nie. Volgens hierdie siening sal die nuwe aarde eers kom ná die duisend jaar en na die duiwel in die vuuroond gegooi is.

 

Net twee opmerkings. Daar is nie veel ooreenkoms tussen die hutte waarin Israel tydens hierdie fees gewoon het, en die paleis van Dawid waar Jesus in Jerusalem sou gaan woon tydens die vrederyk nie. 

 

En verder is dit opvallend dat hierdie mense glo die feeste is ‘n voorskou van die hele verlossingsplan van God, maar die laaste fees wys net na die duisend jaar. Eindig God se verlossingsplan met die vrederyk op die ou aarde, of op die nuwe aarde?

 

As ‘n mens terugkyk op die pad wat ons die afgelope aantal bladsye geloop het, is dit nie oortuigend nie. Dit is gedronge. Daar word ten alle koste gegryp na vreemde soorte van ooreenkomste. Daar is die absolute minimum Bybelse verwysings waarvan die meeste eenvoudig nie sê wat hulle veronderstel is om te sê nie.

  • Daar is geen aanduidings in die Ou Testament dat hierdie feeste hierdie betekenis het nie.
  • En die Nuwe Testament verwys ook nie terug na hierdie feeste as ‘n soort belofte van dit wat in Jesus se lewe gebeur nie. 

 

Volgende keer die vraag: Moet Christene nog hierdie feeste vier?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (3)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (3) – Adrio König

3.2.2 Die eerste vier feeste

Maar kom ons kyk een vir een na elke fees en die heilsdaad wat dan daarmee in verband sou staan.

Paasfees Dit is duidelik dat daar in die Nuwe Testament ‘n bepaalde verband gelê word tussen die paasfees en die kruisiging van Jesus. Jesus word die paaslam genoem (1 Kor 5:7).  Verder is dit interessant dat Hy volgens Johannes gekruisig is op die dag vóór die paasfees, die dag toe die paaslammers geslag sou word vir die fees die aand. Hy word immers ook “die Lam van God” genoem (Joh 1:29). Maar dit is ‘n verband wat vanuit die Nuwe Testament terug gelê word na die paasfees, nie ‘n verband wat in die Ou Testament bekend was nie. Die paasfees was dus nie in die tyd van die Ou Testament ‘n “repetisie” of voorbereiding vir die kruisiging nie. 

 

Die paasfees het sy eie waarde, die viering van die bevryding van Israel uit die slawerny van Egipte. Dit is nie regtig ‘n baie direkte verband met ons verlossing uit die sonde nie. Daarvoor moet ‘n mens die bevryding uit die slawerny in Egipte erg vergeestelik.

 

Die fees van die ongesuurde brode  Hierdie fees het die dag ná die paasfees begin en vir ‘n week aangehou. Die Israeliete moes brood sonder suurdeeg eet. Dit moes hulle doen ter herinnering aan hulle swaarkry en verdrukking in Egipte, en ook aan hulle haastige vertrek. Dié brood word eintlik in Hebreeus “die brood van verdrukking” genoem. Ongesuurde brood word baie makliker en vinniger gebak as brood met suurdeeg, maar dis onaangenaam om te eet. In die lig van Deuteronomium 16:3 kan die vinnig bak die simboliese betekenis hê van die vinnige vertrek die nag uit Egipte, en die onaangename brood die swaar werk en swaar kry terwyl hulle daar slawe was.  

 

Die Christene wat wil teruggaan na die Ou Testament, sien verskillende betekenisse in hierdie fees. Sommige sien dit as ‘n simbool van Jesus se begrafnis en sy sondelose lewe, ander sien dit as ‘n simbool van ons heiligmaking. Die sewe dae wat die fees duur word ook gesien as ons volkome oorgawe en toewyding aan die Here. In alle gevalle verwys hulle na Paulus wat suurdeeg sien as ‘n simbool van sonde (1 Kor 5:7).

 

Maar die feit dat Paulus suurdeeg sien as ‘n simbool van sonde het niks te doen met die betekenis wat die fees in die Ou Testament gehad het nie. Dáár het suurdeeg niks met sonde te doen gehad nie, en die fees niks met sondeloosheid en heiligmaking nie. Die fees kon dus nie ‘n soort profesie van Jesus se begrafnis (?), sy sondeloosheid, of ons heiligmaking gewees het nie.  Dit was niks anders nie as ‘n sinvolle terugkyk op die uittog uit Egipte, op hulle swaarkry (harde, onsmaaklike brood), en hulle vinnige vertrek.

 

Die betekenis van suurdeeg as sonde kom dus uit die Nuwe Testament, wat nogeens beteken dat hierdie fees nie in die Ou Testament die betekenis van sondeloosheid gehad het en dus ‘n soort nie vooruitskou op ons heiligmaking of Jesus se sondeloosheid was nie.

 

Die fees van die eerstelinge  Hierdie fees is op die tweede dag ná die paasfees gevier. Die drie feeste, paasfees, ongesuurde brode en eerstelinge was dus baie na aan mekaar en is eintlik as ‘n eenheid gevier. Op hierdie dag moes elkeen ‘n gerf van die eerste ryp graan aan die Here kom offer. Ons lees van ‘n “beweegoffer” (Lev 23:12). Dit verwys na die feit dat die priester die gerf met ‘n beweging aan die Here moes wy. Daarmee saam moes ook nog ander dinge geoffer word. Daar is min verdere besonderhede bekend oor hierdie fees.       

 

Dit is taamlik seker dat Jesus juis op hierdie dag opgestaan het, dit wil sê as ons die Sinoptiese Evangelies volg waarvolgens die paasfees die Donderdagaand gevier is. Verder word Jesus die eersteling genoem van dié wat gesterf het (1 Kor 15:20). Die derde dag en die eersteling herinner sterk aan die fees van die eerstelinge. En die feit dat Jesus die eersteling uit die dood was, het natuurlik wonderlike betekenis.

 

Maar in die Ou Testament is geen aanduiding dat hierdie fees op enige manier vooruitgewys het na iets anders nie. Dit was ‘n fees waarin die Israeliet die eerste gerf aan die Here gewy het, waarna hy dan die res van die oes kon gebruik (Lev 23:14). Meer as dit kry ons nie in die Ou Testament nie.

 

Die oesfees of die fees van die weke (die pinksterfees)  Die woord “pinkster” het verband met “pente” wat vyftig beteken. Engels: “Pente-cost”. Hierdie fees is vyftig dae na die eerstelingefees gevier. Dis eers in die Nuwe Testament waar dit die pinksterfees genoem word (Hand 2:1; 20:16; 1 Kor 16:11). Dit is waar ons as Christene ons woord “pinksterfees” vir die koms van die Gees kry, want die Gees is op hierdie Ou Testamentiese fees uitgestort (Hand 2:1). 

 

Dit was die fees waarop ‘n offer van die pas geoeste graan aan die Here gebring is, dus ‘n fees aan die einde van die oes (Lev 23:16ev). Die fees het skynbaar ook verband met die tyd toe Israel die wet by Sinaï ontvang het.

 

Dit is baie moeilik om ‘n verband te lê tussen hierdie fees en die koms van die Gees. Maar hierdie Christene probeer dit tog. Hier is een so ‘n poging.

  • Israel het vyftig dae ná die paasfees die wet by Sinaï ontvang wat hulle ‘n volk gemaak het wat daaraan toegewy was om die Here te dien. Hierdie fees is nou vervul deur die koms van die Heilige Gees. Dit verteenwoordig die begin van die liggaam van Christus op aarde waarin alle gelowiges, versoen deur die bloed van die Messias, voor die Here verhef word en afgesonder word as heilig (Hand 2; Joh 14:15-18; Ef 2:11-22). 

 

Wat het ons hier?

  • Die opmerking oor Israel is baie vreemd. Dis nie die wet wat hulle aan die Here toegewyd gemaak het nie. Trouens niks het nie. Hulle het voortdurend ontrou gebly.
  • Volgens hierdie beskouing is die werk van die Gees om die gelowiges vir die Here af te sonder. Maar is dít regtig die belangrikste? Kom die Gees nie om die wêreld vir Christus te wen nie?
  • En dan die verwysings uit Handelinge, Johannes en Efesiërs. Wat sê dit oor die verband tussen die fees van die weke en die koms van die Gees?

 

Dit is nie die eerste keer dat ‘n mens die gevoel het dat daar ‘n verband gesoek word wat nie regtig bestaan nie.

 

Van die eintlike inhoud van die fees, die offer van die pas-geoeste graan aan die Here, kom niks ter sprake in die “vervulling” in die koms van die Gees nie. En die ontvangs van die wet is op sy beste ‘n afgeleide betekenis, maar presies wat het dit nou te doen met die koms van die Gees? Trouens die wet staan juis by Paulus téénoor die Gees. In Galasiërs staan die wet van Moses en “eie krag” téénoor die evangelie, die Gees en die geloof (3:2-5).

 

Sou daar dalk wel ‘n ander verband kon wees? Hierdie fees is gevier aan die einde van die oes. Maar die Gees kom aan die begin van die groot “sendingoes”. Beteken dit dat die Gees dit so seker maak dat die sendingoes wel ingesamel sal word, dat Hy al vóór die sendingoes kan kom terwyl die fees in die Ou Testament eers ná die oes gevier is? Maar ook hierdie keer kry die fees dan eers in die Nuwe Testament hierdie betekenis, wat dit nog nie in die Ou Testament gehad het nie.

 

Is dit nie net teveel om te glo dat die vier groot feeste al vier presies vervul is in Christus en die Gees nie?

  • Paasfees in sy kruisiging.
  • Ongesuurde brode in sy begrafnis.
  • Eerstelingefees in sy opstanding.
  • Pinksterfees in die koms van die Gees.

En veral dat die feeste eintlik profesieë is wat in Christus en die Gees vervul word. Het ons regtig so ‘n gedagte in die Ou Testament gekry? Of in die Nuwe Testament?

 

Indien ek daarvoor Skrifsteun gekry het, sou ek dit graag aanvaar het. Maar ek kry dit nie. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Legio

Legio – Francois Malan

Jan vra:

In Lukas 8: 26 tot 39 word beskryf hoe die besetene van Gadara van ‘n legio duiwels bevry word. Hulle smeek Jesus om hulle nie in die onderwêreld in te beveel nie. Toe smeek hulle Hom om hulle toe te laat om in ‘n trop varke wat daar gewei het in te vaar. Hy laat hulle toe en die trop varke storm die krans af in die see en verdrink. Nou het die duiwels ook nie meer ‘n blyplek nie en ek wonder en ek wonder wat het dan verder van hulle geword het?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Oënskynlik het die duiwels met hulle versoek om in die varke in te vaar vir Jesus uitoorlê. Die mense van die streek sien hulle verlies aan varke en hulle vrees die ongekende en geweldige gesag van Jesus wat die duiwels uit die man verdryf het. Hulle almal van die hele gebied vra dat Hy van hulle af weggaan.

 

Maar Jesus laat ‘n getuie agter wat, die deur hele dorp gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Volgens Markus 5:20 gaan hy selfs verder, deur die hele gebied van Dekapolis, die tien Griekse stede Oos van die Jordaan. Toe Jesus weer in die gebied van Dekapolis kom, bring die mense ‘n doofstomme na Jesus om te genees (Markus 7:31-32), en Jesus voed ‘n skare van omtrent 4,000 mense wat na Hom kom luister (Markus 8:1-9).

 

[Die Grieke het baie gode gehad, met Zeus as die hoofgod. Vir hulle gode is o.a. varke geoffer wat in Sirië en Fenisië as heilige diere beskou is. So het Antiogus Epifanes varke laat offer op die tempelplein in Jerusalem waar hy ‘n altaar vir Zeus opgerig het, vgl. Daniël 11:31; 12:11. So vrees die Geraseners toe Jesus hulle afgodsoffers die see in stuur.]

 

Volgens Matteus 8:29 was die duiwels bang dat die Here hulle voor die tyd sou pynig. Daarom hulle versoek om in die varke te vaar. Hulle vrees was dat hulle voor die eindoordeel reeds in die hel gewerp sal word, wat God vir hulle berei het (vgl. Mat. 25:41).

 

Die duiwels het nog steeds in die gebied gewerk (vgl. hulle versoek aan Jesus in Markus 5:10 dat Hy hulle nie uit die landstreek moet wegstuur nie), maar met Jesus se optrede en die getuienis van sy verteenwoordiger, is die mag van die duiwels beperk. Lk 8:36 sê die man is genees. Die Griekse woord soozoo word ook gebruik vir ‘gered.’ Hy was nie slegs van die duiwels genees nie, maar het ‘n volgeling van Jesus geword, wat gesmeek het om by Jesus te bly, en toe Jesus se eerste sendeling in hierdie heidense landstreek geword het, deur wie Jesus onder die mense gewerk het.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan