Die verlamde man in Markus 2

Die verlamde man in Markus 2 – Francois Malan

Jan vra:

In Markus 2 laat die verlamde man se vriende hom met bed en al deur die dak om hom by Jesus te kry. Jesus prys hulle geloof en sê vir die man jou sondes is vergewe. Dan vra die skrifgeleerdes waar Hy die mag kry om sondes te vergewe. Hy antwoord: Wat is makliker om te sê: Die sondes is vergewe of om te sê: Staan op neem jou bed op en loop. Ek verstaan nie mooi die verband in Jesus se argument nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Vir die skrifgeleerdes is die opdrag om op te staan en te loop die swaarste, want dit sou ‘n wonder wees wat deur almal gesien kan word as bewys daarvan. Om te sê ‘jou sonde is vergewe’ is die maklikste, want niemand kan sien of dit wel die geval is nie, en hulle is oortuig dat net God sonde kan vergewe, daarom meen hulle dat Jesus, wat vir hulle bloot ‘n mens is, godslasterlik praat deur die gesag van God vir hom toe te eien (Mk 2:7).

 

Vir Jesus is sondevergifnis die moeilikste, want daarvoor moes Hy sy goddelike heerlikheid verlaat en mens word (vgl. Seun van die mens), en moet Hy aan ‘n kruis gaan sterf en deur God verlaat word. Terwyl die genesing van ‘n verlamde vir die Seun van God die maklikste is met die volmag wat Hy het om te genees as bewys van sy volmag om sonde te vergewe (Mk 2:10).

 

God vergewe in Christus. Jesus se woord hang onlosmaaklik saam met sy lewe en sterwe en opstanding. Jesus kan vergewe omdat Hy as die Messias/Christus/Gesalfde ook die lydende en sterwende Kneg van die Here is. Die Seun van die mens het gekom om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense (Mk 10:45). Sy vergewing geskied nie sonder sy sterwe nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se klere

Jesus se klere – Francois Malan

Jan vra:
Na aanleiding van die artikel oor die verdeling van Jesus se klere wonder ek net in hoe mate dit van die bloed besmeer was dat mense dit nog sou wou gehad het of was daar dalk ‘n ander reëling in werking? Ek wonder net.

Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Daar was sekerlik bloed aan sy klere, nadat Jesus op sy kaal bolyf met die kats gegésel is (Mt 27:26; Mk 15:15), en toe ‘n pers soldatemantel daaroor aangetrek het om Hom te bespot, en eers daarna sy eie klere aangetrek het vir die tog na Getsemane (Mt 27:28-31; Mk 15:16-20).

Die soldate was so gretig om dit te kry dat hulle lootjies getrek het om dit aan een toe te ken en nie in vier stukke geskeur word vir elke soldaat ‘n stukkie nie.

Daarmee het hulle onwetend die Skrif vervul; Ps 22:18 handel oor ‘n sieke wat ly, en ‘n bende misdadigers behandel hom asof hy reeds dood is, deur sy klere uit te trek. Maar aan die einde sterf hy nie. Sy nood en vervolging en eensaamheid, wat in Ps 22 uitgespel word, word in die Nuwe Testament op ‘n paar plekke toegepas op Jesus, wat sy heerlikheid vrywillig neergelê het, en Homself oorgegee het aan lyding, die uittrek van al sy klere, en in die dood, ter wille van ons sonde. Maar Hy bly onder die beskerming van God, wat duisternis oor die aarde stuur om Hom te bedek, en Hom op die derde dag opwek uit die dood.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (2)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (2) – Adrio König

3.2 Die feeste en God se reddingsplan?

3.2.1 Word die feeste in Jesus vervul?

Onder Messiaanse Jode en sommige Christene wat wil teruggaan na die Ou Testament is daar ‘n besondere belangstelling in die feeste. Hulle is oortuig dat die feeste vooruitwys na die hele reddingsplan van God met die wêreld. En sommige dring dan daarop aan dat ons dit vandag nog moet vier. Kom ons kyk eers na die feeste as voorafskaduwing van God se reddingsplan.

Hulle werk baie sterk met die omvattende voorskrif oor die feeste in Levitikus 23, maar daar is baie ander gegewens en belangrike inligting op ‘n hele paar ander plekke soos Eksodus 34, Numeri 29 en Deuteronomium 16.

 

Volgens Levitikus 23 is daar sewe feeste wat gedurende die jaar gevier moet word, vier in die voorjaar (lentetyd), en drie in die najaar (herfstyd).

 

Voorjaar: Paasfees, die fees van die ongesuurde brode, die fees van die eerstelinge, en die pinksterfees.

Najaar: Die ramshoringfees, die groot versoendag, en die huttefees.

 

Daar is feeste wat nie hier genoem word nie soos die nuwemaanfeeste, die Sabbatsjaar en die jubeljaar.

 

Die inhoud en die doel van die feeste is op sigself ‘n interessante saak, maar die besonderhede is nie nou belangrik vir ons onderwerp nie. Dit gaan nou oor die vraag of hierdie feeste voortekens is van God se reddingsplan wat beteken dat hierdie feeste iets soos beloftes is wat vervul word in die heilsdade van Christus. Elke fees sou dan vooruitwys na ‘n bepaalde gebeurtenis in die groot heilsplan van God met die mense. 

 

Die algemene oortuiging is dat die eerste vier feeste reeds “vervul” is, dit beteken dat hulle vooruitgewys het na heel spesifieke gebeurtenisse in Jesus se lewe en die koms van die Gees:

  • Die paasfees na sy kruisiging.
  • Die fees van die ongesuurde brode na sy sondeloosheid, en sommige meen ook na sy begrafnis.
  • Die eerstelingefees na sy opstanding.
  • Die pinksterfees na die uitstorting van die Heilige Gees.

 

Dan volg die drie herfsfeeste wat nog nie “vervul” is nie, maar wat vooruit wys na gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê:

  • Die ramshoringfees of die fees van die trompette sou verwys na die wegraping.
  • Die groot versoendag na die bruilof van die Lam.
  • Die huttefees na die duisendjarige vrederyk.

 

Almal stem natuurlik ook nie presies saam oor die spesifieke gebeurtenis waarin die fees “vervul” word nie. Ek het maar net die algemeenste betekenis van elkeen gegee.

 

Kom ons vra ‘n paar vrae. 

  • Die eerste vraag moet seker wees of daar regtig grond in die Bybel is om die feeste só te interpreteer.
  • En dan die vraag waarom sekere feeste uitval.
  • En uiteindelik die vraag presies waarna elke fees sou vooruitwys.

 

Bybelse gronde?  Is daar regtig gronde in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste bedoel is as ‘n vooruitskouing van die heilsplan van God?  Kom ons kyk na die argumente wat ‘n mens kry.  

  • Daar word verwys na Amos 3:7: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.” Maar dit sê natuurlik niks oor die feeste nie. Dit beteken net dat ‘n mens in die Ou Testament op die uitkyk moet wees vir profesieë wat later vervul sal word in die werk van God.
  • Die Hebreeus vir “feeste” sou letterlik “vasgestelde tye” beteken. Daaruit word dan afgelei dat God presies die vasgestelde tye en volgorde beplan het wanneer en hoe elk van die sewe feeste vervul sal word. Maar dit kan nie regtig die betekenis wees nie. Die woord vir “fees” het inderdaad verskillende betekenisse soos afspraak (Rigt 20:38),  afgesproke byeenkoms (1 Sam 20:35), afgesproke tyd (2 Sam 20:5), fees, feestyd, feesbyeenkoms. Maar daar is niks in hierdie betekenisse wat in die toekoms inwys na iets wat later moet gebeur nie.  Die fees self is ‘n afgesproke byeenkoms. God spreek in Levitikus 23 af wanneer elke fees moet plaasvind.
  • Soms kry ‘n mens selfs argumente en teksverwysings wat jy op geen manier in verband met die feeste kan bring nie. So word “the blessed hope” (Tit 2:13) gesien as die hoop van gelowiges dat die drie “onvervulde” feeste nog vervul sal word.
  • Die uitdrukking “gewyde byeenkomste” in Levitikus 23:4 word in die King Jamesvertaling weergegee met “holy convocations”. Dit is ‘n verwysing na die viering van die sewe feeste. Die feeste sal met byeenkomste (“convocations”) van die volk gevier word (23:8, 21, 24, 27, 36). Maar nou word beweer dat die oorspronklik betekenis van die Hebreeuse woord vir “byeenkomste” eintlik “repetisies” is, wat dan sou beteken dat elke feesviering eintlik ‘n repetisie (vooraf-oefening) is van die heilsdaad waarna dit verwys en wat later sal plaasvind, soos die kruisiging of die opstanding. Maar ek kry nêrens enige aanduiding dat die Hebreeuse woord oorspronklik “repetisie” beteken het nie.
  • Ek weet van geen verwysing in die Bybel dat al die feeste in groot heilsdade vervul sal word nie. Die feeste word eenvoudig nêrens as ‘n soort profesie aangebied nie. Die feeste het hulle eie, wonderlike betekenis en waarde gehad. Dit is wel so dat sekere heilsdade tydens bepaalde feeste plaasgevind het, maar selfs in daardie gevalle is daar geen aanduiding dat die fees eintlik ‘n soort profesie van die heilsdaad was sodat die fees in die heilsdaad vervul is nie. Ons sal wel later kyk na die manier waarop die Nuwe Testament by sekere gebeurtenisse in Jesus se lewe terugverwys na sekere feeste soos die paasfees en die pinksterfees. Maar ook dáár is daar geen aanduiding dat hierdie verband al in die Ou Testament bekend was nie.

 

Ek kry dus nie gond in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste eintlik ‘n voorskou van die heilsplan van God was nie.

 

Verder is die vraag waarom sekere feeste eenvoudig uitgelaat word, soos die nuwemaansfees, die Sabbatsjaar en die jubeljaar? Is daar nie heilsgebeure waarvan hulle voortekens sou wees nie? Indien ek sou aanvaar daar sal ‘n duisendjarige vrederyk in die toekoms aanbreek, sou ek probeer het om die Sabbatsjaar in hierdie rigting te interpreteer. En sou die jubeljaar nie dalk by die nuwe aarde kon pas nie? Dit is tog een van die vreemde dinge van die hele skema dat daar geen verwysing na die nuwe aarde is nie. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (1)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (1) – Adrio König

3 Die Feeste

3.1 Die feeste in die Nuwe Testament

Die jaarlikse feeste het eintlik al herhaaldelik in ons bespreking van die Sabbat voorgekom. Dis ook nie vreemd nie, want in die Ou Testament word hulle dikwels saam met die Sabbat genoem. En ook in die Nuwe Testament verbind Paulus die twee. Trouens selfs die jaarfeeste, dit is die Sabbatsjaar en die jubbeljaar, is deel van die feeskompleks.

Dis interessant dat daar in die Sinoptiese Evangelies eers aan die einde van Jesus se lewe,  tydens sy verhoor, na sommige van hierdie feeste verwys word. Dis eintlik logies, want hierdie Evangelies vermeld geen besoeke van Jesus aan Jerusalem voor sy gevangeneming en verhoor nie. En die feeste was natuurlik in Jerusalem by die tempel gevier.

 

Daar word verwys na die paasfees (Matt 26:2, wat ook “pasga” genoem is, Luk 22:1), en die fees van die ongesuurde brode wat ‘n week lank geduur het (Matt 26:17). Tegnies was dit twee verskillende feeste, eers die paasfees die aand van 14 Nisan, en dan die fees van die ongesuurde brode van 15-22 Nisan. Maar in die praktyk het hulle dit as een fees beskou. Die fees van die eerstelinge is ook in hierdie week gevier.

 

Maar Johannes vertel in sy Evangelie dat Jesus meer kere in Jerusalem was en dikwels by feeste teenwoordig was :

 

  • Die paasfees saam met die fees van die ongesuurde brode (2:13, 23; 6:4; 12:1; 13:1).
  • Die huttefees  (7:2, 37).
  • Die fees van die tempelwyding (10:2).
  • Moontlik ook die purimfees (5:1). 

 

Ná die opwekking van Jesus lees ons in die Nuwe Testament nog net van die pinksterfees en die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6, 16). Dit was op die Joodse pinksterees dat die Heilige Gees uitgestort is. Dit is interessaant dat ons die Ou Testamentiese naam van hierdie fees behou het vir ons viering van die koms van die Gees: ”Pinksterfees”.

 

Die vroeë Christene was ook net konsekwent toe hulle aanvanklik nog die feeste saam met die tempeldiens onderhou het (Hand 18:21 – 1953-vertaling – 20:16; 21:26). Dit was alles saam een groot eenheid. Maar soos die verwydering tussen hulle en die Jode erger geword het, het die hele feeskompleks skynbaar uit hulle lewe verdwyn.

 

Trouens Paulus het later selfs baie negatief na die feeste verwys. In Kolossense noem hy hulle saam met die sabbat “‘n skaduwee” van Christus (2:116-17), en in Galasiërs wys hy die viering van die feeste skerp af (4:9-11). Hy noem hulle “daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls” en hy is bevrees dat dié wat dit nog vier, dalk nie regtig tot geloof gekom het nie (4:11).

 

Dis moeilik om hieruit iets anders af te lei as dat Christene nie hierdie feeste moet vier nie. Maar daar is Christene wat anders hieroor dink. Hulle sien in die feeste ‘n voorafskaduwing van die hele verlossingsplan.   Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer: Prof Adrio König