Terug na die Ou Testament: Die Feeste (1)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (1) – Adrio König

3 Die Feeste

3.1 Die feeste in die Nuwe Testament

Die jaarlikse feeste het eintlik al herhaaldelik in ons bespreking van die Sabbat voorgekom. Dis ook nie vreemd nie, want in die Ou Testament word hulle dikwels saam met die Sabbat genoem. En ook in die Nuwe Testament verbind Paulus die twee. Trouens selfs die jaarfeeste, dit is die Sabbatsjaar en die jubbeljaar, is deel van die feeskompleks.

Dis interessant dat daar in die Sinoptiese Evangelies eers aan die einde van Jesus se lewe,  tydens sy verhoor, na sommige van hierdie feeste verwys word. Dis eintlik logies, want hierdie Evangelies vermeld geen besoeke van Jesus aan Jerusalem voor sy gevangeneming en verhoor nie. En die feeste was natuurlik in Jerusalem by die tempel gevier.

 

Daar word verwys na die paasfees (Matt 26:2, wat ook “pasga” genoem is, Luk 22:1), en die fees van die ongesuurde brode wat ‘n week lank geduur het (Matt 26:17). Tegnies was dit twee verskillende feeste, eers die paasfees die aand van 14 Nisan, en dan die fees van die ongesuurde brode van 15-22 Nisan. Maar in die praktyk het hulle dit as een fees beskou. Die fees van die eerstelinge is ook in hierdie week gevier.

 

Maar Johannes vertel in sy Evangelie dat Jesus meer kere in Jerusalem was en dikwels by feeste teenwoordig was :

 

  • Die paasfees saam met die fees van die ongesuurde brode (2:13, 23; 6:4; 12:1; 13:1).
  • Die huttefees  (7:2, 37).
  • Die fees van die tempelwyding (10:2).
  • Moontlik ook die purimfees (5:1). 

 

Ná die opwekking van Jesus lees ons in die Nuwe Testament nog net van die pinksterfees en die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6, 16). Dit was op die Joodse pinksterees dat die Heilige Gees uitgestort is. Dit is interessaant dat ons die Ou Testamentiese naam van hierdie fees behou het vir ons viering van die koms van die Gees: ”Pinksterfees”.

 

Die vroeë Christene was ook net konsekwent toe hulle aanvanklik nog die feeste saam met die tempeldiens onderhou het (Hand 18:21 – 1953-vertaling – 20:16; 21:26). Dit was alles saam een groot eenheid. Maar soos die verwydering tussen hulle en die Jode erger geword het, het die hele feeskompleks skynbaar uit hulle lewe verdwyn.

 

Trouens Paulus het later selfs baie negatief na die feeste verwys. In Kolossense noem hy hulle saam met die sabbat “‘n skaduwee” van Christus (2:116-17), en in Galasiërs wys hy die viering van die feeste skerp af (4:9-11). Hy noem hulle “daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls” en hy is bevrees dat dié wat dit nog vier, dalk nie regtig tot geloof gekom het nie (4:11).

 

Dis moeilik om hieruit iets anders af te lei as dat Christene nie hierdie feeste moet vier nie. Maar daar is Christene wat anders hieroor dink. Hulle sien in die feeste ‘n voorafskaduwing van die hele verlossingsplan.   Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (9)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (9) – Adrio König

2.6 En Sondag?

Nêrens in die Nuwe Testament word ons beveel om die eerste dag van die week, Sondag, te vier nie. En nêrens in die Nuwe Testament word Sondag met die vierde gebod in verband gebring nie. Ons Sondagviering is iets anders. Die vierde gebod het nie net verskuif van Saterdag na Sondag nie. Dit het verruim van Saterdag na elke dag. Sondag het bygekom as iets nuuts.

Baie van ons voorouers het dit nie só verstaan nie. Hulle was oortuig dat die Sabbat van die Ou Testament oorgegaan het na die Sondag van die Nuwe Testament. Alles sou net dieselfde gebly het, al die bepalings oor die Sabbat wat ons in die Ou Testament kry, sou nog van krag gewees het, maar dit sou alles net oorgeskuif het na die eerste dag van die week, Sondag.

 

Vir eeue lank het baie Christene nog probeer om die Sabbatswette van die Ou Testament op Sondag te hou. Hulle het Saterdag kos gemaak wat Sondag geëet is, hulle het nie op Sondag gekoop nie, nie (onnodig) gery nie, geen sport beoefen of koerante gelees nie, nie geswem as hulle by die see vakansie hou nie, en nog duisend ander dinge nie gedoen nie.

 

Dit het hulle taamlik weerloos gelaat teen die Sewende Dag Adventiste wat gevra het waar hulle dié verandering in die Nuwe Testament gekry het. Volgens die Adventiste het hierdie Christene presies reg opgetree, maar hulle moes dit net op die regte dag doen, Saterdag, die Sabbat. Die sewende dag  is die Sabbat. 

 

Maar intussen het dit tog duidelik geword dat die Nuwe Testament nie ‘n verband lê tussen Sondag en die vierde gebod nie. Nêrens in die Nuwe Testament word die Sondag in terme van die Sabbat uitgedruk nie. 

 

Sondag het skynbaar spontaan en onbepland gegroei. Kyk na die eerste spore van iets besonders op die eerste dag van die week.

  • Dat Jesus op die eerste dag van die week opgewek word.
  • Dat Jesus dan die aand aan sy dissipels verskyn.
  • Dat Hy dan juis agt dae daarna weer aan hulle verskyn (Joh 20:19, 26).
  • En dat die Gees ook op hierdie dag uitgestort is.
  • Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus om elke Sondag iets vir die armes opsy te sit (1 Kor 16:2).
  • Hy spreek die gelowiges in Troas op die eerste dag van die week toe (Hand 20:7-14).
  • Later begin die Christene hierdie dag “die dag van die Here” noem wat die besondere betekenis beklemtoon wat hierdie dag gaandeweg vir hulle gekry het. Johannes is op “die dag van die Here” deur die Gees meegevoer om die wonderlike gesigte te sien (Openb 1:10).

 

Kom ons kyk in meer besonderhede na ‘n paar van hierdie sake.

 

Dit hoef nie op sigself so opvallend te wees nie dat Jesus die aand van sy opstanding aan sy dissipels verskyn nie, maar Johannes se besondere beklemtoning dat dit juis die eerste dag was, is opvallend. Johannes skryf: “Op die aand van daardie dag” wat sy opstandingsdag is, en dan voeg hy nog by: “die eerste dag van die week” (20:19).

 

Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus om elke Sondag iets vir die armes opsy te sit (1Kor 16:2). Maar kyk presies hoe skryf hy dit. Hy sê nie hulle moet dit saamvat “kerktoe” nie. Hy sê hulle moet dit “tuis” opsy sit. Waarom? Die heidene het nie besondere betekenis aan die eerste dag gegee nie, die gelowige bediendes het nie spesifiek op die eerste dag van die week hulle loon gekry nie, trouens dis waarskynlik so dat hulle glad nie eens weekliks loon ontvang het nie. Waarom dan juis op hierdie dag tuis iets opsy sit? Ek weet van geen ander rede nie as dat hierdie dag toe alreeds vir hulle ‘n besondere godsdienstige betekenis moes gehad het. 

 

En dan die byeenkoms die Sondag in Troas. Paulus is so haastig om betyds vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (20:16) dat Éfese se ouderlinge spesiaal kus toe moet kom om hom te ontmoet. Hy het nie tyd om in die binneland by Efese na hulle te reis nie. Maar intussen wag hy sewe dae in Troas om die gemeente die eerste dag van die week te ontmoet! (20:6-7) Waarom? Seker omdat hulle net op Sondae bymekaar gekom het.

 

Dit alles beteken dat Sondag nie ‘n vervanging van die Sabbat is nie. Dis ‘n ander dag, ‘n nuwe dag, die dag van Jesus se opwekking, die dag toe die betekenis van sy kruisdood deur God bevestig is. Dis ‘n dag wat werd  is om te vier, met gejuig.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (8)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (8) – Adrio König

2.5 En die Sabbat as deel van die tien gebooie?  (Heb 4:9) 

Die Sabbat kan mos nie sommer net verdwyn nie. Dis tog deel van die tien gebooie. En Jesus het ‘n baie sterk uitspraak oor die wet wat geldig bly (Matt 5:17-19). Dit geld dan tog elke gebod, ook die vierde gebod.

Maar doen Jesus niks aan die wet nie? Waarom speel die wet so ‘n belangrike rol in die Bergrede? Omdat Jesus die wet radikaliseer, dit ‘n radikaler en dieper betekenis gee, dieper as dit wat die godsdiensleiers besef het. Eintlik gee Hy die wet sy oorspronklike betekenis nadat hulle die wet geformaliseer het.

  • Die gebod dat jy nie mag moord pleeg nie, word verdiep: Jy kan selfs net met jou woorde iemand vermoor (Matt 5:21-22). 
  • Die gebod teen egbreuk word ook verdiep: Jy kan selfs net met jou oë en in jou hart onrein wees en egbreuk pleeg (Matt 5:27-30).

Dit beteken die letterlike betekenis van die wet word tot ‘n geestelike vlak verdiep.

 

Paulus gaan konsekwent hiermee voort. Die gebod lui dat jy nie mag steel nie. Paulus verdiep dit tot die vlak dat jy hard moet werk om genoeg te hê om armes te help, anders steel jy nog steeds (Ef 4:28).

 

Ons het gesien dat die Sabbat in die Nuwe Testament skynbaar eintlik uit die lewe van die Christene verdwyn ná die opwekking van Jesus.

 

Het die vierde gebod dan verdwyn?      

 

Nee, hier moet tog seker iets meer wees. Jesus het nie sommige gebooie kom afskaf nie. Hy het juis verklaar dat Hy hulle hulle “volle betekenis” gaan gee (Matt 5:17). Ons het reeds hierna gekyk, en gesien Hy het eintlik die gebooie geradikaliseer, en hulle hulle eintlike, dieper, geestelike betekenis gegee.

 

En die Sabbatsgebod? Het die Sabbat dan nie eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene nie? Die woord “Sabbat” kom in al Paulus se Briewe net een keer voor, en dan nog in ‘n negatiewe betekenis (Kol 2:16). Terwyl die ander gebooie, in hulle geradikaliseerde vorm, oor en oor op die lewe van die gelowiges toegepas word, kom die vierde gebod in sy oorspronklike vorm nooit na vore nie. Dit is mos net nie moontlik dat die apostel die heidene wat pas tot bekering gekom het, aan al die ander gebooie moes herinner het, maar dat hulle so absoluut getrou die Sabbat gehou het dat hy nooit eens daarna hoef te verwys het nie.

 

Ons kry mooi voorbeelde hoe die gebooie een-een op die lewe van die gelowiges toegepas word  (oa Ef 4:25-5:4; Kol 3:5-17).

 

Agtereenvolgens is daar in Efesiërs 4 vermanings gebaseer op die volgende gebooie:

 

Die 9e: 4:25

Die 8e: 4:28

Die 3e: 4:29 

Die 6e: 4:31

Die 7e: 5:3,5

Die 1e: 5:3,5

 

Maar nêrens word die vierde gebod in sy oorspronklike vorm aan ‘n gemeente voorgehou nie. En indien die Sabbat nog deur die gemeentes gehou was, sou juis hierdie gebod geweldig belangrik gewees het omdat die gelowiges wat slawe was, natuurlik ernstige probleme sou gekry het om dit te onderhou.

 

Hebreërs 4:9  Maar dan kry ons iets oor die Sabbat in Hebreërs, en dan juis ook in sy geradikaliseerde vorm. Die skrywer maak eintlik ‘n nuwe woord: “Sabbatsrus”. “Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingegaan het, rus van sy werk, net soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan …” (Heb 4:9).

 

Dit is duidelik ‘n verwysing na die vierde gebod. Maar in ‘n nuwe vorm. Dit gaan nog steeds oor die Sabbat en oor rus. Maar dis nou God se rus, en om soos God te rus.

 

Wat beteken die vierde gebod nou?

  • Tot by Jesus se opstanding was dit: Rus een dag in die week, op die Sabbatdag.
  • Nou is dit: Gaan in God se rus in, rus elke dag van die week.

 

Van watter werk moet ons rus? In die Ou Testament was dit van ons gewone werk. Maar nou is dit van ons sonde, van ons ongehoorsaamheid (4:11).

 

In God se rus is daar nie sonde nie.

 

Wat beteken die Sabbatsgebod dan in sy geradikaliseerde vorm? Volle oorgawe aan die Here elke dag van jou lewe.

 

Hou dus asseblief aan om die vierde gebod te hou, maar net soos die ander gebooie, nou in sy nuwe vorm, in sy radikale vorm: Rus elke dag van jou sonde, dien die Here met jou hele lewe. Dít is die “sabbatsrus” wat na Jesus se opwekking oorbly vir God se kinders.

 

Ons sluit hierdie gedeelte oor die Sabbat af met: En Sondag?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (7)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (7) – Adrio König

2.4 Kolossense 2:16

Tog is daar Christene wat oortuig is dat ons Kolossense 2:16 verkeerd verstaan. Hulle meen dit gaan daarin nie om die gewone weeklikse Sabbat nie. Daar word onder andere twee argumente aangebied.

  • Dit gaan hier oor ander feesdae as die gewone Sabbat. Daar sou ook ander feesdae wees wat “Sabbat” genoem was.
  • Die Griekse woord vir “Sabbat” is hier in die meervoud. Dit sou bevestig dis nie die gewone Sabbat waarna Paulus verwys nie.

 Kom ons kyk eers na die meervoud. Die vorm van die Griekse woord lyk na ‘n meervoud. Maar dit is presies dieselfde woord wat in die Ou Testament (in die Septuagint) gebruik word vir die weeklikse Sabbat. Daar is twee moontlikhede: Dit is óf werklik ‘n meervoud, óf dit is die transkripsie van die Hebreeuse woord in Griekse letters. En dit maak geen saak watter een van die twee korrek is nie. Dit is die woord wat in die Ou Testament vir die weeklikse sabbat gebruik is.

 

En dan die bewering dat “sabbat” hier nie verwys na die weeklikse Sabbat nie, maar na ander feesdae.

 

Dit is inderdaad moontlik dat daar enkele gevalle is waar ‘n ander feesdag as die gewone Sabbat ook “Sabbat” genoem word (Lev 16:31; 23:9, 15, 32). Dit gaan hier onder andere oor die groot versoendag. Maar dit kan nie wees wat Paulus hier onder “Sabbat” bedoel nie. Hy noem dan klaar hierdie feeste onder “die jaarlikse feeste” (“die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbat” Kol 2:16).   

 

Wat egter veel belangriker is, is die feit dat hy die staande uitdrukking hier gebruik wat oor en oor in die Ou Testament vir Israel se totale feeskompleks gebruik word: “Die jaarlikse feeste, die nuwemaanfees, en die Sabbat”. Waar hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word, beteken “Sabbat” altyd die weeklikse Sabbatdag. Dit kan dus nie hier skielik na ‘n ander feesdag verwys nie. Kyk gerus na hierdie uitdrukking in die Ou Testament (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10. Kyk ook na 2 Kon 4:23; Jes 1:13; Eseg 46:1, 3; Amos 8:5; Jes 66:23; Klaagl 2:6). Dit is ook duidelik dat “Sabbat” in hierdie uitdrukking die weeklikse sabbat bedoel (Jes 66:23; Eseg 45:17; Neh 10:33).    

 

‘n Mens kom dus nie maklik weg van die oortuiging dat die Sabbat nie net skynbaar verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene nie, maar selfs dat Paulus die gelowiges heeltemal vry wou maak daarvan.

 

Hierdie oortuiging word nog versterk deur sy opmerking in Galasiërs. Onthou die eintlike stryd in Galasiërs gaan oor die wet en die besnydenis. Maar dit raak ook ander gebruike uit die Ou Testament. Die dwaalleraars in Galasië is Fariseërs wat tot bekering gekom het, maar nie van die Ou Testamentiese reste van hulle geloof wou afsien nie. Hulle eis dat die heidene wat Christene word, die wet moet hou, en dan veral besny moet word. Ons kry tekens hiervan meer kere in die Nuwe Testament, oa ook in Handelinge 15:2, 5.

 

Paulus wys nie net hierdie eise skerp af nie – so skerp dat dit nie eintlik skerper kán nie (Gal 5:2-4). Dis ‘n kwessie van alles of niks.

 

Maar dan kom hierdie ander gebruike uit die Ou Testament ook ter sprake. “Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:10-11).

 

Daar is gelowiges wat meen dit gaan hier ook nie oor die weeklikse Sabbat nie, maar oor hierdie (moontlike) ander “Sabbatte”.  Maar dit is om ‘n paar redes nie regtig moontlik nie.

 

Dis duidelik dat Paulus dieselfde bedoel as in Kolossense. Dit is in al sy Briewe net op hierdie twee plekke waar hy die vreemde uitdrukking gebruik: “wettiese godsdienstige reëls” (Gal 4:9; Kol 2:20). En beide kere gaan dit oor dieselfde feeskompleks. In Galasiërs is hy net baie negatiewer. Hy noem dit hier: “die minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”.  Hy skryf dus die hele feeskompleks radikaal af.

 

Verder is die reeks woorde wat hy gebruik duidelik ‘n aanduiding van die totale feeskompleks van die Ou Testament. Hy voeg eintlik by die lys in Kolossense nog een soort fees by. Naas die dagfees (Sabbat), die maandfees (nuwemaansfees), en die feesgeleenthede  (die jaarlikse feeste), voeg hy ook die “jare” by, dit is die Sabbatjaar- en die jubeljaarfees, dus letterlik al die feeste.

 

En sy waarskuwing is baie ernstig. Hy is bang hulle deel nie regtig meer in die genade nie, hulle het nie regtig gelowiges geword nie. Dit is presies ook wat hy oor hulle onderhouding van die wet en die besnydenis geskryf het (5:2-4). Dit beteken tog dis net so gevaarlik om met hierdie feeste aan te hou as om besny te word. 

 

Volgens Paulus moet mense kies:

  • óf Jesus,
  • óf die gebruike van die Ou Testament soos die besnydenis en die Sabbat en die feeste.

 

Ons sal later sien dat die skrywer aan die Hebreërs verder nog die tempel, die priesters, en die offers byvoeg. Dit gaan dus op die ou end oor die hele Ou Testamentiese kultus. Dit was ‘n eenheid.  Daaruit kan ‘n mens nie willekeurig ‘n paar kies en die ander los nie.    

 

Is die Sabbat deel van die tien gebooie? Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer:  Prof Adrio König