Jesus se getuienis voor die hele wêreld (18:1-21:25)

Jesus se getuienis voor die hele wêreld (18:1-21:25) – Francois Malan

Die eerste  hoofdeel van die Evangelie vertel hoe Jesus deur woord en daad getuig het voor die Joodse volk, sy eie mense wat Hom nie aangeneem het nie (hoofstukke 1-12). Die tweede hoofdeel handel oor sy getuienis in die kleiner kring van sy volgelinge (13-17). Die derde hoofdeel sluit die boek af met Jesus se openlike getuienis waar die hele wêreld kan sien en hoor wat met Jesus gebeur (18-19) en sy verskynings aan sy volgelinge na sy opstanding (20-21).

Johannes beskou die hele lydensgeskiedenis as Jesus se verhoging tot goddelike heerlikheid. Die koningskap van Jesus blyk deur die hele vertelling, selfs tot by sy begrafnis. Al lyk dit of Hy die slagoffer is, is Hy in werklikheid die Een wat die gang van sake bepaal. In gehoorsaamheid aan die Vader voltooi Hy die verlossing van die wêreld, en deur sy sterwe openbaar Hy die uitnemendheid van sy heerlikheid, die toppunt van sy liefde in die offer van Homself, God wat ook mens geword het om die sonde van die wêreld wegneem (1:1,14,29).

 

Die eerste twee hoofstukke kan in drie dele ingedeel word: gevangeneming en verhoor voor die hoëpriester (18:1-27), die verhoor deur Pilatus (18:28-19:16a), kruisiging, dood en begrafnis (19:16b-42).

 

Jesus word gearresteer (18:1-11)

18:1-2 Na Jesus se onderrig van sy dissipels in hoofstukke 13-16 en sy gebed in hoofstuk 17 het Hy en sy dissipels uitgegaan (uit die bovertrek, en uit die stad; die Griekse woord vir uitgaan word ook gebruik vir doodgaan) oor die Kedronspruit (letterlik: troebel wadi, wat net in die winter water het). ‘n Duisend jaar tevore het Dawid deur die Kedronspruit Jerusalem verlaat op vlug vir sy seun Absalom tot oorkant die Jordaan  (2 Sam 15:23). Die spruit (630-680 meter bo seespieël) loop tussen die koppie Ofel (680 meter) waarop Jerusalem gebou is met die tempelberg (740 meter) aan die Weste en die Olyfbergreeks (812 meter) in die Ooste van die stad.  Jesus en sy dissipels het dikwels in die tuin aan die voet van die Olyfberg ‘saamgekom.’ Daarom weet Judas waar om na Hom te gaan soek.  Dit was vereis dat die feesgangers in Jerusalem se gebied moes bly tydens die Paasnag. Dit het Getsemane ingesluit, maar Betanië aan die oostekant van die Olyfberg was buite die gebied van Jerusalem.

 

18:3. Die Romeinse owerheid het gewoonlik met die Joodse feestye, veral met Paasfees, hulle getal soldate in Jerusalem versterk met soldate uit Sesarea om te verhoed dat daar ‘n oproer teen die Romeinse owerheid begin word deur die skare. Die Joodse Raad het waarskynlik hulle hulp ingeroep omdat hulle bang was vir ‘n opstand  van die volk wanneer Jesus gevang word (vgl. 11:48). Daarby het die Raad se wagte die vorige keer nie geslaag om Jesus te arresteer nie (7:45-46). Judas lei hulle na Jesus om Hom te arresteer. Die drie groepe verteenwoordig die opstand van die wêreld teen die Here en sy Gesalfde (Ps 2:2): die Joodse wêreld, die nie-Joodse mensdom, en afvallige dissipels van Jesus. Ten spyte van die volmaan met Paasfees, kom hulle met lampe en fakkels om die Lig vir die mensdom (1:4) met wapengeweld uit te doof. Die Sinoptiese Evangelies meld nie die Romeinse deelname nie; Johannes nie Jesus se gebedstryd in Getsemane nie.

 

18:4-6 Jesus weet dit is die uur wat deur die Vader bepaal is vir die voltooiing van sy liefdesgawe van sy enigste Seun vir die verlossing van die wêreld (3:16), daarom neem Hy die inisiatief vir sy eie gevangeneming. Hy vra na wie hulle soek. Op hulle antwoord, Jesus van Nasaret, reageer Hy met ‘Ek is’ (Eks.3:14). Judas wat die groep gelei het om Hom  aan hulle oor te gee (Hom te verraai), staan nog saam met die wêreldse mag (vgl. sy soen van Jesus in die Sinoptiese Evangelies). Maar hy is saam met die groep deur vrees oorweldig voor Jesus se openbaring van sy godheid. Hulle tree terug en val op die grond (vgl. Ps.27:2-3; 56:10; so ook Esegiël 1:28, Daniël 10:7-9; Paulus in Hand.9:3-4; Johannes in Openb.1:17). 

 

18:7-9 Aan sy teenstanders wat plat op die grond lê (soos in nederige aanbidding) vra Jesus weer wie hulle soek (en rig hulle op met sy vraende woord). Hulle verwys weer na ‘Jesus die Nasarener’ (Jesus beteken Verlosser, uit die onbenullige stadjie). En Jesus herhaal sy ‘Ek is,’ as die Goeie Herder van sy groepie gelowiges, wat Homself aanbied as die een na wie hulle soek (10:11,15), maar vra sy arresteerders om sy dissipels te laat gaan. So vervul Hy wat in Hy in 17:12 gebid het. In 6:39 het dit gegaan om die ewige lewe vir sy volgelinge, in 10:10 om die huidige nuwe lewe wat strek tot in die ewigheid, hier in 18:8 om hulle redding uit ‘n gevaar wat hulle aardse lewens bedreig. Drie maal het Jesus bevestig dat dit Hy is vir wie hulle soek (18:4-5,7,8). 

 

18:10-11 Petrus trek sy kort swaard/dolkmes waarmee die Paaslam  geslag word. Petrus het nog nie vrede gemaak met Jesus se lyding as God se liefdesoffer vir die reiniging van ons sonde nie (13:6-10).  Hy wil Jesus nog met geweld verdedig teen die wêreld (Romeinse soldate) en die kerk (hoëpriester se verteenwoordigers) se aanslag teen God se gesant. Jesus is egter gereed om die beker van lyding, wat die Vader vir Hom gegee het (beker van God se toorn oor die sonde Ps.75:9; Jes.51:17,22), te drink tot die droesem toe, tot verheerliking van God en verlossing van die mensdom (12:23-24).  In die Sinoptiese Evangelies gaan Jesus se gebedspleit dat die beker by Hom mag verby gaan (Mat.26:39-44, en parallelle tekste). Hier het Hy reeds berusting gevind en sy besluit staan vas om dit te drink.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg)

Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg) – Francois Malan

17:22-23 Hierdie verse herhaal wat in 20-21 gesê is, om die belangrikheid van die eenheid tussen die gelowiges te onderstreep, effens van ‘n ander kant af beskryf: In 21 word die gelowiges een deurdat hulle deel kry aan die gemeenskap tussen die Vader en die Seun. In 23 word die gelowiges een deurdat Christus in hulle kom woon en die Vader in Hom is, met Jesus as Middelaar.

So word gelowiges ‘volkome-gemaaktes’ (teteleioomenoi) tot een liefdesgemeenskap. Jesus sê in Mat,5:44-48 dat ons  volmaak moet wees, soos ons hemelse Vader volmaak is, deur ons vyande lief te hê. Die Heilige Gees kom maak ons volmaak in die liefde, wat ook insluit vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).

            In v21 word die vrug van die eenheid beskryf as ‘sodat die wêreld mag glo dat U My gestuur het.’ In v23 word ‘glo’ vervang met ‘weet’ (ginooskoo kan ook aandui: ‘leer’, ‘erken’ ‘begryp’). Geloof lei tot kennis, en kennis vermeerder die geloof. Hier word bygevoeg: ‘en hulle liefhet, soos U My liefhet’ – uit hulle onderlinge liefde sal die wêreld God se liefde vir sy kinders aflei, die liefde wat die Vader vir die Seun het, aan wie die Heilige Gees ons kom verbind (Rom.8:17 sê ons is erfgename saam met Christus, wat deel het aan sy lyding en sy heerlikheid).

            Vers 22 praat van die heerlikheid wat die Vader aan Jesus gegee het, en wat Christus aan ons geskenk het sodat ons, soos Hy en die Vader, een mag wees. Hierdie Evangelie sien Jesus se verhoging aan die kruis as deel van sy heerlikheid (12:28,33), soos ook sy opstanding en hemelvaart. Die heerlikheid wat die gelowiges ontvang is die voorreg om lief te hê soos Jesus, wat Homself opgeoffer het vir sy vriende (15:13; vgl. Luk.9:23-24), en om deel te word van die ewige lewe saam met God, ‘n nuwe manier van lewe wat nou reeds begin, die lewe in liefde vir mekaar.

 

17:24 Die laaste verse is ‘n eggo van 17:1-5 oor die ewige heerlikheid  van die Seun. Hier gaan dit daaroor dat  die gelowiges sy heerlikheid mag sien (die woord theooreoo sluit ook in ‘om in te sien’ en ‘om te beleef’). God word weer as Vader aangespreek, die Vader in wie se huis Jesus ‘n plek vir sy volgelinge gaan gereedmaak (14:2). Hier bid Hy dat sy volgelinge ook by Hom sal wees in sy verheerlikte staat, wat 17:5 in die vooruitsig stel. Die woord ‘Ek wil graag hê’ (theloo, druk nie slegs sy begeerte uit nie, maar ook sy doel met sy volgelinge se lewe, en ook sy vreugde daaroor).  ‘Hulle wat U My gegee het’, wys weer na dié mense wat God uit genade gekies het om altyd by Jesus te wees, ook in hulle lyding en swaarkry. Maar saam met die huidige insig in Jesus se heerlikheid aan die kruis, gaan die gebed tot in die ewigheid, waar Hy verhoog is en waar sy volgelinge ook by Hom gaan wees. Die liefde van  die Vader vir die Seun is ewig, en dié mense wat aan die Seun verbind is, word deel van God se ewige liefde vir sy Seun. So kan hulle ook mekaar begin liefhê.

 

17:25-26 is die grond vir die bede in v24, en ‘n opsomming van die evangelie. Slegs hier word God ‘Regverdige Vader’ genoem,  om sy regverdige oordeel oor die wêreld uit te druk. Die wêreld ken nie die Vader nie, want hulle het Jesus se openbaring van God nie aanvaar nie. Daarom sal hulle nie die heerlikheid van Jesus sien nie en  bly die straf van God op hulle (3:36). Sy dissipels, ‘hulle hier,’ het egter in Hom geglo, en weet dat Hy deur die Vader gestuur is. Daarom val hulle nie onder die oordeel van die wêreld nie (3:36: hulle hét die ewige lewe). Jesus sal voortgaan om die Naam van die Vader (sy woord en sy wese) aan hulle bekend te maak deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om Jesus se lewe, woorde en werke aan hulle te verduidelik (14:26; 16:12-15).

            Dat die liefde, waarmee die Vader vir Jesus liefhet, in die dissipels sal wees, en Hy in hulle, wys op die volgende: (i) dit impliseer dat ons insig in die liefde van die Vader vir die Seun steeds sal toeneem (selfs die kruis getuig van die liefde van God vir die Seun, hoe teenstrydig dit ook al klink); (ii) dat ons begrip van die wonder dat daardie liefde ook deel word van die gelowiges, steeds sal toeneem; (iii) dat ons wederliefde vir die Vader sal toeneem as ‘n krag wat ons hele lewe bepaal, en wat ons gemeenskap met ons Vader en met ons medegelowiges sal laat ontwikkel. Dit spruit alles uit ons verhouding met die Seun, wat al hegter word met die liefde van die Vader vir die Seun in ons, en die Seun in ons, met sy liefde. Met die Heilige Gees wat in ons woon dring die liefde van God deur in ons hele wese (vgl. 2 Kor.3:18; 5:14-15).

 So word Jesus se liefdesgebod van 13:34 al beter uitgeleef, en dit bereik sy vervulling wanneer ons na Hom toe gaan in die huis van sy Vader. So word die gebed in 17:24 ook ten diepste verklaar: die heerlikheid van Christus is die heerlikheid van God se liefde, wat deur sy eie mense aanskou sal word, en sal deurwerk om hulle te verander in draers van Christus se liefde. Dit is die einddoel van Jesus se koms na die wêreld. Hy is die Openbaarder van God, wat liefde is (1 Joh.4:8,16); Hy is die goddelike Verlosser van die wêreld, deur wie die liefde van God vir die Seun in ons lewe kom oorneem.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus bid vir sy dissipels – hulle toewyding aan God (17:16-19)

Jesus bid vir sy dissipels – hulle toewyding aan God (17:16-19) – Francois Malan

17:16 Die verandering van die gelowiges se posisie in die wêreld, dat hulle aan God behoort (17:14), word hier met groter klem herhaal,.en is die oorgang na die gedeelte van die gebed oor hulle toewyding aan God. Deur hulle geloof in Christus behoort hulle nie meer aan die wêreld nie. Hulle is nie meer van die wêreld nie, nie meer mense onder die mag van die owerste van hierdie wêreld nie. Hulle is nog in die wêreld, maar behoort nou aan Christus as sy getuies, deur wie Hy  in hierdie wêreld werk, as kinders en beelddraers van God. Daarom is gebid vir hulle bewaring teen die Bose (17:14-16)  en word gebid vir hulle toewyding aan God (17:17-19)

17:17 ‘Heilig hulle in die waarheid, U woord is die waarheid.’ Heilig beteken om toe te wy. Jesus bid dat die Vader Jesus se volgelinge sal toewy in die waarheid, sodat hulle met hart en siel, in gedagtes, woorde en dade aan God toegewy sal wees, weg van die wêreld se lewenswyse af, en dat hulle lewens omvorm sal word volgens die openbaring van God in en deur Christus, wat die lewende gestalte is van die goddelike woord. Soos Hy aan God en sy diens in die wêreld toegewy was, moet sy volgelinge ook in gemeenskap met God en sy diens in die wêreld  lewe soos Jesus, volgens God se woord en sy liefdesdiens in die wêreld. Om ons in die volle waarheid te lei, stuur God die Heilige Gees om in ons te kom woon (16:13).

 

17:18 Soos die Vader die Seun ‘geheilig’/toegewy (1983-vertaling: afgesonder) het  vir sy taak en Hom na die wêreld toe gestuur het (10:36), so stuur Jesus sy volgelinge, wat deur God ‘geheilig’/toegewy is aan God en sy liefde vir die wêreld, as voorbeelde en werktuie van Jesus in die wêreld.

 

17:19 is die klimaks van die gebed om ‘heiliging’/toewyding van die dissipels. Jesus het sy lewe aan God toegewy as volmaakte offer om die volgende dag vir die sonde van die wêreld te gaan sterwe aan ‘n kruis (vgl. die wydingsoffer vir die eerstelinge in Eks.13:1-2; Deutr.15:19,21; van Jesus self in Joh.10:17-18; 18:11; 19:30). Hy het, ter wille van sy volgelinge, Hom aan God se verlossingsplan toegewy, ‘sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees’ – aan dieselfde taak om God se verlossing na die wêreld toe te bring, in dieselfde gees van selfverloëning en liefde as wat Jesus dit gedoen het. Vir hierdie goeie nuus, ‘die waarheid’, is hulle nou God se instrumente en lewende voorbeelde vir die wêreld van toewyding aan God en sy liefdesuitreik na die wêreld, wat ook bereid is om daarvoor saam met Jesus te ly (vgl. Rom.8:17).            

 

Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (17:20-26)

 

17:20-21 Die derde gedeelte van Jesus se gebed is ‘n uitbreiding op 17:11b se gebed vir die eenheid van Jesus se volgelinge, om die belangrikheid daarvan te beklemtoon. Die gebed word uitgebrei na die kerk deur die eeue. Jesus weet dat sy sending deur sy volgelinge vrug sal dra vir die Landbouer (vgl. hulle uitsending in 17:18; en baie vrug 15:2,5), ook dat hulle, deur sy toewyding, toegewydes aan God is vir die taak (17:19). Deur ‘hulle woord’ sal mense ‘in My’ glo. As gestuurdes van Christus word die woord van God hulle woorde, en deur hulle woorde en optrede gaan die woord van God uit sodat die hoorders tot geloof in Christus kan kom.

            Die eenheid van almal wat in Jesus glo, waarvoor Hy bid, word gekwalifiseer met: ‘net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees.’ Die Qumran gemeenskap het hulle beywer vir hulle eenheid met die engele. Maar die eenheid waarvoor Jesus bid is meer radikaal (met sy wortels in die liefde van God)  en fundamenteel (met die liefde van Christus as fondament – vgl. Ef.3:16-20). Dit is ‘n eenheid wat gewortel is in die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun, soos Jesus dit vir ons geopenbaar het deur sy woord en daad, in die verlossing van God in en deur Christus vir die wêreld. Die gelowige word deur sy geloofsband met die Seun van God opgeneem as kind  in die gesin van God, wat anders lewe as die wêreld, nie meer selfsugtig soos die wêreld nie,  maar in liefde vir God met my hele hart, vir medegelowiges soos Jesus my liefhet, en vir my naastes in die wêreld soos myself. Daardeur sal die wêreld glo dat die Vader vir Jesus gestuur het om die weg na God en sy verlossing oop te maak. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Drie dae tot opstanding

Drie dae tot opstanding – Francois Malan

Linelle vra:

Met Jesus se dood het die voorhangsel geskeur en sommige grafte oopgegaan met die opstanding van die gelowiges. Wat het in die 3 dae tot Jesus se opstanding gebeur? Waar was hierdie gelowiges voor hulle Jerusalem binne gegaan het?(met verwysing na Matt.27:52)

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Matteus gee nie vir ons die antwoord op vraag waar die opgewekte gelowiges vir die drie was nie. Dit het baie spekulasies deur die eeue ontlok, maar dit bly spekulasies.

            In die oorspronklike teks is dit selfs moeilik om te bepaal of ‘na sy opstanding’ verwys na die voorafgaande hoofsin en dat hulle uit die grafte gekom het ‘na Jesus se opstanding’ – dan het hulle as opgewektes in die grafte gebly, wat deur die aardbewing geopen is, tot Jesus uit die graf gegaan het. Of, waarskynlik moet ‘na sy opstanding’ saam gelees word met die volgende werkwoord: na Jesus se opstanding het hulle in die stad ingegaan – dan word geen aanduiding gegee wat met hulle gedurende die drie dae gebeur het nie; en dit beteken dat Matteus 28:2 verwys na ‘n tweede aardbewing toe Jesus se graf oopgegaan het en toe eers het die gelowiges in die stad ingegaan – of was die bedoeling eintlik dat daar net een aardbewing was? Die eerste aardbewing verbind die oopgaan van die grafte met Jesus se sterwe. As daar net een was verbind dit die oopgaan van die grafte met Jesus se opstanding.

           

Dwarsdeur Matteus word telkens verwys na Ou Testamentiese tekse en beloftes om die Joodse Christene, vir wie Matteus skryf, te oortuig dat Jesus die profesieë van die Ou Testament kom vervul het. Soms word die profesieë aangehaal, soms word op hulle gesinspeel.

            Esegiël 37:13 sê bv. wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. Dit het waarskynlik ‘n rol gespeel in Matteus se verklaring van die aardbewings – ‘n gedeelte wat net hy in sy Evangelie ingevoeg het.

 

Matteus vertel van ‘n aantal wonders wat gebeur het rondom Jesus se dood en opstanding. Sy boodskap daarmee is die belangrike.

            Met Jesus se dood skeur die gordyn van bo na onder, die voorhangsel wat die Allerheiligste afgesper het van die gewone priesters en gelowiges, waaragter die hoëpriester slegs een maal per jaar ingegaan het om voor die Here versoening te doen vir die sondes van die volk (Mt 27:51) – daarmee word aangedui dat die toegang tot God nou oop is vir almal deur die offer van Jesus aan die kruis vir die sonde van die wêreld. Die ou tempeldiens met sy offers van kalwers en lammers deur priesters is verby. Elke gelowige kan deur Jesus vrymoedig tot God nader, in die wete dat sy sonde vergewe is en dat hy/sy God se kind geword het deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het om ons aan Jesus te verbind en al meer soos Jesus laat word.

            Die aardbewing en die geopende grafte is ‘n bewys dat Jesus die mag van die dood verbreek het, en die ewige lewe vir ons oopgemaak het; dit simboliseer die waarheid van die komende opwekking van die gelowiges as Jesus weer kom. As ‘n groep gelowiges uit die ou bedeling letterlik uit die dood opgewek is en in Jerusalem rondgeloop het, is dit verdere bevestiging van die komende opwekking van al die gelowiges.

            Die wonders tydens die kruisdood van Jesus en van sy opstanding bevestig dat Jesus die Seun van God is. Dit is egter ironies en profeties dat die heidense offisier en die soldate wat saam met hom was (nie-Jode, soos ons), dit bely het, en nie sy eie Joodse volk en hulle leiers nie (Mat 27:54; vgl. Psalm 22:28-29 mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as Koning erken, want die koningskap behoort aa die Here. Hy heers oor die volke). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan