Drie dae tot opstanding

Drie dae tot opstanding – Francois Malan

Linelle vra:

Met Jesus se dood het die voorhangsel geskeur en sommige grafte oopgegaan met die opstanding van die gelowiges. Wat het in die 3 dae tot Jesus se opstanding gebeur? Waar was hierdie gelowiges voor hulle Jerusalem binne gegaan het?(met verwysing na Matt.27:52)

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Matteus gee nie vir ons die antwoord op vraag waar die opgewekte gelowiges vir die drie was nie. Dit het baie spekulasies deur die eeue ontlok, maar dit bly spekulasies.

            In die oorspronklike teks is dit selfs moeilik om te bepaal of ‘na sy opstanding’ verwys na die voorafgaande hoofsin en dat hulle uit die grafte gekom het ‘na Jesus se opstanding’ – dan het hulle as opgewektes in die grafte gebly, wat deur die aardbewing geopen is, tot Jesus uit die graf gegaan het. Of, waarskynlik moet ‘na sy opstanding’ saam gelees word met die volgende werkwoord: na Jesus se opstanding het hulle in die stad ingegaan – dan word geen aanduiding gegee wat met hulle gedurende die drie dae gebeur het nie; en dit beteken dat Matteus 28:2 verwys na ‘n tweede aardbewing toe Jesus se graf oopgegaan het en toe eers het die gelowiges in die stad ingegaan – of was die bedoeling eintlik dat daar net een aardbewing was? Die eerste aardbewing verbind die oopgaan van die grafte met Jesus se sterwe. As daar net een was verbind dit die oopgaan van die grafte met Jesus se opstanding.

           

Dwarsdeur Matteus word telkens verwys na Ou Testamentiese tekse en beloftes om die Joodse Christene, vir wie Matteus skryf, te oortuig dat Jesus die profesieë van die Ou Testament kom vervul het. Soms word die profesieë aangehaal, soms word op hulle gesinspeel.

            Esegiël 37:13 sê bv. wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. Dit het waarskynlik ‘n rol gespeel in Matteus se verklaring van die aardbewings – ‘n gedeelte wat net hy in sy Evangelie ingevoeg het.

 

Matteus vertel van ‘n aantal wonders wat gebeur het rondom Jesus se dood en opstanding. Sy boodskap daarmee is die belangrike.

            Met Jesus se dood skeur die gordyn van bo na onder, die voorhangsel wat die Allerheiligste afgesper het van die gewone priesters en gelowiges, waaragter die hoëpriester slegs een maal per jaar ingegaan het om voor die Here versoening te doen vir die sondes van die volk (Mt 27:51) – daarmee word aangedui dat die toegang tot God nou oop is vir almal deur die offer van Jesus aan die kruis vir die sonde van die wêreld. Die ou tempeldiens met sy offers van kalwers en lammers deur priesters is verby. Elke gelowige kan deur Jesus vrymoedig tot God nader, in die wete dat sy sonde vergewe is en dat hy/sy God se kind geword het deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het om ons aan Jesus te verbind en al meer soos Jesus laat word.

            Die aardbewing en die geopende grafte is ‘n bewys dat Jesus die mag van die dood verbreek het, en die ewige lewe vir ons oopgemaak het; dit simboliseer die waarheid van die komende opwekking van die gelowiges as Jesus weer kom. As ‘n groep gelowiges uit die ou bedeling letterlik uit die dood opgewek is en in Jerusalem rondgeloop het, is dit verdere bevestiging van die komende opwekking van al die gelowiges.

            Die wonders tydens die kruisdood van Jesus en van sy opstanding bevestig dat Jesus die Seun van God is. Dit is egter ironies en profeties dat die heidense offisier en die soldate wat saam met hom was (nie-Jode, soos ons), dit bely het, en nie sy eie Joodse volk en hulle leiers nie (Mat 27:54; vgl. Psalm 22:28-29 mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as Koning erken, want die koningskap behoort aa die Here. Hy heers oor die volke). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus bid vir sy dissipels – hulle posisie in die wêreld (17:11-15)

Jesus bid vir sy dissipels – hulle posisie in die wêreld (17:11-15) – Francois Malan

17:11 Op die aarde het Jesus die Vader verheerlik deur sy lewe, werk en dood (17:4). Nou keer Hy terug na die Vader, en gaan Hy sy werk op die aarde voortsit deur sy volgelinge. Daarom bid Hy vir hulle, vir hulle lewenswyse en taak in die wêreld.

‘Heilige Vader’ – hierdie aanroep kom slegs hier in Johannes voor. Dit woord ‘heilig’ druk hier die goddelikheid van die Vader uit: sy andersheid, ontsagwekkendheid, heerlikheid, majesteit, grootsheid. Dit druk Jesus se houding teenoor die Vader en sy onderrig oor die Vader uit – die Vader se bonatuurlikheid; met ‘Vader’ druk Hy sy intieme verhouding met die Vader uit (in Mat.11:25 bid Jesus: Ek dank U, Vader, Here van hemel en aarde).

            ‘Bewaar hulle in U Naam, die Naam  wat U aan My gegee het’ – in verse 6-8 het Jesus sy bekendmaking van die Vader se Naam verduidelik saam met sy bekendmaking van God se woorde aan die dissipels. Om hulle ‘in U Naam te bewaar’ beteken dat die Vader die dissipels sal hou aan wat Jesus aan hulle geopenbaar het van die Vader se wil en eienskappe. Die doel van die bewaring in hulle toewyding aan die Vader is dat hulle een mag wees, soos die Vader en die Seun een is in hulle liefde en optrede. Slegs as die dissipels volhard in die waarheid wat Jesus aan hulle oor God geopenbaar het, kan hulle volhard in die toewyding van Jesus aan sy Vader, en so in die taak wat hulle nou kry om God se versoening met die mens te gaan uitlewe en verkondig. As gelowiges nie in versoening met mekaar lewe nie, openbaar hulle nie God se versoening met die mens aan die wêreld nie (17:17-23).

            ‘net soos Ons een is” – in hulle liefde en verbondenheid aan mekaar (vgl. die nuwe gebod van Jesus in 13:34: soos Ek julle liefhet). Dit is slegs moontlik as ons aan Jesus verbind is in ons toewyding aan God. Ons heiliging is ons liefde vir mekaar as mense wat met Christus Jesus verenig is. Met Hom sterwe ons aan onsself en staan saam met Hom op tot die nuwe ewige lewe in liefde (vgl. 1 Kor.1:30: Hy is ons heiliging).

 

17:12 Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam  van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘  kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee –  Mat. 26:8 gebruik dié Griekse woord vir die dissipels se afkeuring as ‘verkwisting’ van die reukolie wat op Jesus se kop uitgegiet is, vgl. Mat.7:13 vir die wye poort wat na die ‘verderf’ lei; 1 Tim 1:19 sê: omdat sommige hulle gewetens onderdruk het, het hulle geloof ‘skipbreuk gely.’). 2 Tes.2:3 gebruik die naam  ‘Seun van die verderf’ saam met  ‘man van wetteloosheid’ vir die  Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9;  en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van  God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).

 

17:13 In verse 13-15 herhaal Jesus in sy gebed wat Hy reeds vir sy dissipels gesê het (vgl. 16:1,4). ‘Hierdie dinge’ wat Hy herhaal, wys dat sy vertrek na die Vader die klimaks is van sy verlossingswerk. Nou gaan die dissipels in hulle gemeenskap met die Vader die eenheid tussen die Vader en die Seun beleef. As ons tot die Vader nader, is dit in die wete dat alles wat Jesus gesê en gedoen het van die Vader af kom, dat die Vader dit goedgekeur het, en dat ons daarom met vrymoedigheid na die Vader kan gaan in gebed. Dit vervul Jesus met blydskap en sy volgelinge kan  ten volle deelhê aan sy vreugde (15:11). Dit is die vreugde dat my lewe ten volle aan God verbind is deur my verbondenheid aan Jesus. Ek is kind van God, deel van God se groot gesin van mense wat in Jesus glo deur die werking van die Heilige Gees wat in ons kom woon het. Vreugde is die grondtoon van die gelowige se lewe, en dit kan niemand en niks van ons wegneem nie.

 

17:14 Met sy vertrek bly sy dissipels agter in die vyandige wêreld, wat vir hulle haat omdat (i) hulle Jesus se woord oor die Vader aangeneem het as woord van God, (ii) daardeur wys die dissipels dat hulle, soos Jesus, aan God behoort en nie aan die mense van die wêreld en hulle lewenswyse, wat deur die woord van God veroordeel word nie.

 

17:15 Jesus herhaal sy gebed van 17:11 dat hulle uit die kloue van die Bose gehou sal word. Maar dit beteken nie dat hulle uit die wêreld weggeneem moet word nie. God gee die wêreld met sy opstand teen God nie prys nie. Die sterwe van sy Seun is juis die begin van sy proses om die wêreld te verlos van hulle sonde. Sy dissipels moet juis in die wêreld getuies wees van God se genade, wat opstandelinge wil vergewe en laat deel in die nuwe soort lewe in Christus.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se gebed vir die dissipels (17:6-19)

Jesus se gebed vir die dissipels (17:6-19) – Francois Malan

Na Jesus se gebed vir Homself, om die verheerliking van die Seun van God/Seun van die mens, deur sy kruisdood tot sy hemelvaart (1-5), bid Jesus vir sy dissipels(volgelinge)/apostels(gestuurdes): 6-11a: die rede vir die gebed, 11b-16: vir hulle situasie in die wêreld, en dat God hulle sal bewaar om in Hom te bly en uit die kloue van die Bose te bly, 17-19: vir hulle toewyding aan God  deur aan Jesus verbind te bly (17-19).

17:6 Ses redes word gegee waarom Jesus vir sy volgelinge bid: (1) die Vader het hulle aan Jesus gegee – Hy het hulle uit die wêreld gekies om aan sy Seun te behoort as sy volgelinge en dienaars; (ii) Jesus het die Vader se Naam aan hulle geopenbaar – dit is God se karakter en gesindheid, sy liefde vir die wêreld om hulle te red, sodat hulle vir Hom sal lewe as hulle God, wat oor hulle lewens die seggenskap het; (iii) hulle het die woorde van God wat die Seun aan hulle oorgedra het, bewaar – hulle daaraan probeer hou om daarvolgens te lewe. Vers 6 onderstreep dat die gemeente as volgelinge van Christus deur Jesus se woord tot stand gekom het.        

 

17:7 (iv) hulle het geleer en weet nou (net voor Jesus se kruisiging) dat alles wat God aan Jesus gegee het van die Vader af kom (Jesus doen niks op sy eie, sonder die Vader nie; 12:49-50) – veral na die twee gesprekke in hoofstukke 13-16 het hulle geloofskennis  tot rypheid gekom (16:29-30);

 

17:8 (v) die gawes van die Vader aan Jesus is juis die woorde wat Jesus aan hulle oorgedra het, die dissipels het die woorde aangeneem as die waarheid, as woorde wat van God af kom (in teenstelling met meeste van hulle tydgenote); (vi) hulle weet nou uit oortuiging dat Jesus inderwaarheid van die Vader af kom (dit wat die Jode nie wou aanneem nie), en glo dat Hy  God se sending kom uitvoer – om God te openbaar en sy reddende Koningskap te kom vestig. Omdat hulle Jesus as Seun van God aangeneem het en in Hom glo, is hulle bevoorreg om kinders van God te wees (1:12). Weet en glo verwys na dieselfde saak: hulle weet dat Ek van U uitgegaan het, en hulle glo dat U My gestuur het. Verse 7&8 stel die wese van die gemeente: sy oorsprong is uit God wat hulle gekies het en aan Jesus gegee het as sy eiendom. Deur sy woord het Jesus hulle uit die wêreld geroep en in hulle die geloof gewek dat Hy deur God gestuur is. So word hulle ‘n gemeenskap wat van die wêreld geskei is, en in die kennis en geloof in God en Christus leef.

 

17:9 Jesus se sending na die wêreld gaan Hy van nou af deur sy volgelinge voortsit. Daarom bid Hy vir hulle sodat Hy die wêreld deur hulle kan bereik (v18; in hierdie Evangelie word die woord erootao gebruik vir Jesus se gebede, wat minder dringend is as aiteoo wat vir die mens se (pleitende) gebede gebruik word – by Jesus is daar geen onsekerheid dat sy Vader Hom hoor en verhoor nie (6:11; 11:41-42). Die kerk vervul sy sendingroeping deur in liefde met mekaar te lewe en deur die eenheid van die kerk sal die wêreld erken dat Jesus deur God gestuur was (vv21-22). Jesus se gebed vir sy dissipels is indirek ook vir die wêreld. Die wêreld vir wie Jesus nie bid nie, is die vyandige mensheid wat ‘n stryd voer teen Christus en sy kerk (16:9), nie die mensheid as sodanig, na wie die Here sy volgelinge stuur nie, vir wie die Vader liefhet nie (3:16). Uit hierdie mensheid gee die Vader aan Jesus die mense wat aan Hom behoort (6:39,44,65; 10.:29; 17:2).

 

17:10 Alles/almal wat aan die Vader behoort, is ook Jesus s’n – daar is ‘n onbegrensde wederkerigheid tussen die Vader en die Seun. Hier verwys dit veral na die dissipels (in 16:15 verwys dit na die volle openbaring van God), die mense wat aan die Vader behoort, wat Hy uitgekies het, behoort ook aan die Seun, wat hulle geroep het om Hom te volg. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Groepe op Pinksterdag

Groepe op Pinksterdag – Francois Malan

Mandie vra:

Watter 5 groepe was vervul met die Heilige Gees op pinksterdag – 50 dae na Christus se opstanding?

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Handelinge 1&2 praat nie van vyf groepe nie.

Handelinge 1:13-14 noem die name van 11 mans, vir wie Jesus as apostels uitgekies het. Hulle het saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook die moeder van Jesus, en die broers van Jesus (wat in Markus 6:3 en Matteus 13:55 genoem word) ná die hemelvaart van Jesus bymekaar gekom in Jerusalem (40 dae na die kruisiging tydens die Paasfees). Hand 1:15-26 vertel dat dié groep aangegroei het tot omtrent 120 gelowiges, waaruit  Mattias as die twaalfde apostel deur loting aangewys is. Hand 2:1-4 vertel dat hulle almal op een plek bymekaar was op die dag van die pinksterfees, en op die dag is hulle almal met die Heilige Gees vervul.

 

Op dié dag was daar baie Jode en mense wat die Joodse geloof aangeneem het, wat van ander lande gekom het vir die fees. Die mense het verskillende moedertale gepraat. Die nasies wat genoem word in Hand. 2:9-11 kom uit die Ooste (huidige Iran): Perse, Mediërs, Elamiete; en (huidige Irak) mense uit Mesopotamië; uit die dorpe en platteland van Judea; uit die Noorde (huidige Turkye): Kappadosië, Pontus, Frigië en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië; uit die Suide (Noord-Afrika): Egipte, dele van Libië om Sirene; uit die Weste: mense uit Rome, van die eiland Kreta;  ook Arabiere uit die Suid-ooste. Hand.2:41 sê: omtrent 3,000 van dié mense is op dié dag by die getal van die gelowiges bygevoeg, en dat hulle almal saam deur die werking van die Heilige Gees in geloof verbind is deur die liefde van God aan die Here Jesus en sy woord en aan mekaar om ook mekaar lief te hê (vgl. Hand. 2:38-42) – almal saam een groot groep wie se sonde vergewe is en wat die gawe ontvang het dat die Gees van God in hulle kom woon het (vgl. ook Johannes 14:15-17; Romeine 8:9,11).

 

Die Griekse woord pentekonta beteken 50, en pentekoste 50ste. Die Jode het op die 14e van hulle jaar se eerste maand Nisan (April-Mei wat in die Noordelike halfrond tydens hulle lente val) die Pasga gevier ter herdenking aan die uittog uit Egipte toe die Here die huise, wat bloed aan die kosyne gehad het, ‘oorgeslaan’ het (Hebreeus pasag, Engels: ‘pass over;’ Eksodus 12:13; Levitikus 23:5).

Op die volgende dag, die 15e Nisan, het die ‘fees van die ongesuurde brood’ begin, ter herinnering aan die ongesuurde brood wat hulle op die woestynreis saamgeneem het, wat nie so gou sleg geword het nie. Dit was ook die dag waarop die eerste gerwe van die Jode in Palestina se graanoes aan die Here gewy is (Levitikus 23:6-14).

Sewe weke daarna, op die vyftigste dag, word die ‘fees van die weke’ gehou (Levitikus 23:15-16; in Grieks pentekoste genoem). Dit is gehou met die voltooiing van die graanoes se insameling, as ‘n dankdag vir die oes. Die eerste Christelike Pinksterdag was waarlik ‘n oesdag met die 3,000 bekeerlinge in wie die Heilige Gees kom woon het, sodat Jesus sy verlossingswerk deur hulle kon voorsit, soos Handelinge verder vertel, en soos Hy vandag nog sy koninkryk oor die hele aarde uitbrei.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan