Jesus se toewydingsgebed (17:1-26)

Jesus se toewydingsgebed (17:1-26) – Francois Malan

Na Jesus se openbare onderrig  in die wêreld (1:19-12:50), het Hy sy groepie vriende dieper  ingelei in die geheim van sy liefde vir hulle, tot die uiterste toe (13:1-16:33). In hoofstuk 17 laat Hy hulle deel word van sy gebedslewe. Hy laat sy vriende insit in sy intieme gesprek met sy Vader. In verse 1-5 gaan dit om sy verhouding tot sy Vader; in 6-19 bid Hy vir sy dissipels; in 20-26 bid Hy vir die hele kerk wat deur hulle getuienis tot stand gaan kom. [Cyrillis wat in 412 n.Chr. biskop van Alexandrië in Egipte geword het, het al gepraat van die ‘hoëpriesterlike gebed’, na aanleiding van die verklaring van Jesus as ons hoëpriester in Hebr.4:14 tot 8:6. Die benaming is in die 16e eeu deur David Chitreus van Rostok in Duitsland gebruiklik gemaak]. Baie van die temas in hoostukke 13-16 word hier herhaal.

17:1 Na Jesus se verklaring dat Hy die wêreld oorwin het, kyk Hy op na die hemel met ‘n feestelike gebed om sy oorwinning te vier: ‘Vader (Aramees Abba – ‘n verkleinvorm van Ab Vader – soos kindertjies hulle pa aangespreek het as uitdrukking van hulle liefdes- en vertrouensverhouding) die uur het gekom!’ Deur die Evangelie het Hy telkens gesê: my uur het nog nie gekom nie (2:4; 7:6,8,30; 8:20) en van hoofstukke 12 en 13 af dat die uur wel gekom het. ‘Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik’ – dit is die grondtoon en samevatting van die gebed. Hier reg voor sy kruisiging is dit Jesus se begeerte dat Hy sy lewe in hierdie uur aan sy Vader sal wy as ‘n aanvaarbare offer vir die sonde van die wêreld (17:19); dat die Vader Hom uit die dood sal opwek tot die troon van heerlikheid (13:31-32); dat almal dit sal erken as die begin van die koms van God se koningskap oor die hele wêreld; dat die heerlikheid van die Vader sal straal uit sy liefde om mense te oortuig en te verlos.

 

17:2 Die heerlikheid van die Vader en die Seun word aangedui as die seggenskap van die Seun oor die mensheid (oor alle vlees). Hy oordeel oor alle mense. Dié wat in Jesus glo word nie veroodeel nie, maar het reeds die ewige lewe (3:18). Dit is hulle wat die Vader aan Hom gee om in Hom  te glo (6:37-40). Die Vader trek hulle na Jesus toe (6:44) en gee dit aan hulle om na Jesus toe te kom (6:65). Daarteenoor bly die straf van God op dié wat ongehoorsaam is aan Jesus en sal hulle die lewe nie sien nie (3:18). Joh. 12:37-42 verwys na Jes.53:1, na die mense wat nie in die lydende Kneg van die Here glo nie, en na Jes.6:10,13 na die volk wat doof bly en net ‘n stomp oorbly. Maar ‘n takkie sal uit die stomp spruit (Jes.11:1) en ‘n oorblyfsel sal terugkom na die almagtige God toe (Jes.10:21). Aan hulle wat in Jesus glo, skenk Hy die ewige lewe, die lewe saam met God, met die inwoning van die ewige God in ons (14:25).

 

17:3 Die ewige lewe word omskryf as ‘om die enigste ware God en sy gesant, Jesus Christus, te ken.’ Die Griekse woord ‘ken’ het die volgende aspekte: om te leer ken deur persoonlike betrokkenheid, om bekend te wees met, om te begryp en te erken. Die ewige lewe is ‘n persoonlike liefdesvriendskap met die ware God as die God vir wie ons lewe en as Vader wat vir ons sorg, en met sy Seun Jesus (as ons Verlosser uit die mag van sonde), die Christus (gesalf as ons Koning wat oor ons lewe heers met sy opofferende liefde).

 

17:4 Jesus se ganse bediening was tot verheerliking van sy Vader, wat die opdrag daartoe gegee het. Hy het die werk van sy Vader volbring. Met ‘dit is volbring’ sterf Jesus aan die kruis (19:30) as die kulminasie van sy verheerliking van sy Vader  – tot die dood getrou as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29) – van die God wat die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het (3:16).

 

17:5 Nou vra Jesus dat die Vader aan Hom die heerlikheid, wat Hy voor die skepping by die Vader gehad het, weer sal gee by die Vader self – terug in die gestalte van God (Flp.2:6), aan God se regterhand (Rom.8:34), sodat Hy as God in ons kan woon, en sy werk op aarde deur ons kan voortsit. Op aarde was sy goddelike heerlikheid verberg, en moes dié wat Hom in geloof aanvaar, dit uit sy woorde en optrede aflei, dat Hy vol genade en waarheid is (1:4); deur te glo dat sy wondertekens (2:11) openbarings is van die mag van God, om Hom te verheerlik (11:4,40). Soos sy heerlikheid van die begin af aan die liefde van die Vader verbind was (3:16), so is Jesus se heerlikheid ná sy hemelvaart steeds met dié liefde vervul en daardeur bepaal. Deur sy terugkeer na die Vader behou die Woord van God wat mens geword het (1:14) die heerlikheid van God in die volste sin van die woord as lig tot verligting van die nasies (Luk. 2:32; 2 Kor.4:4,6), as liefdesmag van God se genade (Ef.3:16-19), as openbaring van God se woord en wil aan die mensdom.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus het die wêreld klaar oorwin (16:25-33)

Jesus het die wêreld klaar oorwin (16:25-33) – Francois Malan

16:25 Tot nou toe het Jesus met hulle gepraat in beelde, metafore, om sy boodskap te verduidelik vir dié wat glo, en te verberg vir die ongelowiges (vgl. Mark. 4:11 se geheim van die koninkryk van God). Maar daar kom nou ‘n tyd waarin Hy reguit (openlik, met vrymoedigheid) vir hulle van die Vader sal vertel, sonder om iets te verberg. Dit sal Hy doen deur die inwoning van die Heilige Gees wat ons die volle waarheid sal inlei, en Jesus se woorde en werke vir ons sal laat verstaan  (Joh.16:12-15), sodat ons die God van liefde as ons liefdevolle Vader sal ken en vertrou (Joh.3:36; Rom.8:31,32) en Hom eendag  ten volle sal ken (1 Kor.13:12).

16:26-27 Jesus se opstanding lei ‘daardie dag’ in, waarop ‘n nuwe verstaan van sy openbaring begin, en die nuwe vrymoedigheid en effektiwiteit van gebed in sy Naam, namens Hom, op grond van wat Hy vir ons gedoen het, en deur ons eenheid met Hom (16:23-24). Hier lê die klem op die gemeenskap met die Vader, vir wie hulle sal ken as een met Jesus (lote in die ware wingerdstok). Die Vader hoor hulle gebede, want Hy het hulle self lief. In 15:13-15 het Jesus hulle sy vriende genoem, in sy vriendekring opgeneem. Hier sê Jesus, sy vriendekring is ook die Vader se vriendekring (die woord fileoo praat van liefde onder vriende). Die Vader het ons lief, omdat ons deel is van Jesus se vriendekring, mense wat aan Jesus met liefde verbind is.

 

16:28 Sonder beeldspraak som Jesus sy hele bediening en die hart van die evangelie op:  Hy, wat God is, het van die Vader af na die aarde gekom, mens geword; nou gaan Hy van die aarde af, nadat Hy sy versoeningswerk aan die kruis voltooi het en uit die graf opgestaan het, terug na die Vader. Hy het die mens se gemeenskap met God kom herstel en God se gemeenskap met die mens; Hy gaan sit ook as mens aan die regterhand van sy Vader as regeerder oor die ganse skepping, en sal ook altyd by ons wees (Mat.26:64; 28:18-20;Openb.5:6-7; 1 Kor.15:27-28). 

 

16:29-30 Vir die dissipels is dit nou duidelik dat Jesus alles weet van die verhouding tussen God en die mens, van oordeel en verlossing, en van God se koningskap oor die skepping. Hulle begryp nou Hy praat nie in beelde as Hy sê Hy kom van die Vader en gaan na die Vader nie. Niemand hoef Hom of sy kennis met vrae te toets nie (soos hulle in 16:16-24 gedoen het nie). Hulle glo dat Hy waarlik van God af kom, nou dat hulle weet (oortuig is) dat Hy alles weet (vgl. 16:27 vir die Vader se liefde).

 

16:31-32 Hulle entoesiastiese vertroue word egter deur Jesus geskok. ‘Glo julle nou?’  Hulle dink die tyd vir reguit praat het gekom, maar die donkerste uur/tyd in die skepping  is voor die deur. Dan gaan hulle getrouheid aan Jesus soos nog nooit tevore getoets word, en die broosheid van hulle geloof en hulle ontrou aan Jesus vir hulle duidelik word. Elkeen gaan net aan sy eie veiligheid dink en Jesus verlaat (Mark. 14:50). Die voorspelling van Sagaria 13:7 gaan nou in vervulling, en die skape gaan verstrooi word. Daarteenoor staan die getrouheid van die Vader wat Hom nie sal verlaat nie, en by Hom wees ook in sy diepste verwerping (vgl.8:29). 

 

16:33 Jesus sluit die tweede gesprek met sy dissipels af met ‘n bemoediging. Hy verwag ‘n spoedige herstel ná hulle ontsteltenis en lafhartigheid (Joh.14:27) tydens die toets van hulle geloof met sy gevangeneming, verhoor, kruisiging, en dood.  ‘Hierdie dinge,’ eintlik altwee sy gesprekke met hulle (hoofstukke 13-14 en 15-16), het Hy vir hulle gesê, sodat hulle in Hom, in die nouste verbondenheid met Jesus deur die Gees wat in hulle kom woon, vrede kan hê (bly in My en Ek in julle,14:.4-5,7). In 15:11; 16:22,24 het Hy aan hulle vreugde beloof; hier vrede, soos in 14:27, ‘n innerlike vrede wat voortvloei uit die regte verhouding met God. Hierdie vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees/lafhartigheid (deilia), selfs in die grootste moeilikheid, lyding en vervolging in die wêreld (thlipsis), want God het self in ons kom woon as ons Helper wat ons bystaan  (16:7).  Jesus roep hulle op om met vertroue op Hom, dapper te wees in gevaar en beproewing (tharseite 1983-vertaling: hou moed), want Hy het die wêreld met sy boosheid en sy owerste klaar oorwin (die werkwoord in die perfektum;  vgl.12:31) deur sy gehoorsaamheid aan sy Vader en sy onwankelbare liefde vir die Vader en sy skepping (14:30-31). In gemeenskap met Jesus het elke gelowige deel aan sy oorwinning. 1 Joh 5:4 sê ons oorwin die wêreld deur ons geloof/vertroue in/op God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Vreugde in beproewing en droefheid (16:16-24)

Vreugde in beproewing en droefheid (16:16-24) – Francois Malan

Hierdie gedeelte sluit aan by 16b-6 oor die droefheid van die dissipels oor Jesus se weggaan, na die invoeging van die drie uitbreidings op die belofte van die Heilige Gees as Helper nadat Jesus weg is.

16:16 Kernagtig word Jesus se vertrek en terugkoms geteken: Die ‘klein tydjie’ van sy weggaan na die Vader is al ‘n paar maal gestel: eers aan die Jode (7:33) en toe aan die dissipels (13:33a). Hier word egter gepraat van nog ’n ‘klein tydjie’ en dan sien hulle Hom weer.

 

16:17-18 Die dissipels is verwar. Hoe rym dit met sy gaan na die Vader toe (14:1-3)? Hulle besef nog nie wat in die volgende drie dae vir Jesus en vir hulle voorlê nie, en ook nie dat Hy op die derde dag weer aan hulle gaan verskyn nie.

 

16:19 Die Griekse woord ginooskoo kan beteken ‘opmerk’ (soos 1983-vertaling hier) of ‘ken’. ‘Opmerk’ beteken Jesus het uit hulle onderlinge gesprek afgelei waaroor hulle verwar is. ‘Ken’ beteken Jesus het hulle gedagtes geken, soos in Joh. 6:61 waar dit uitgespel is as ‘n ken ‘in Homself’ (1983-vertaling: Jesus het vanself geweet) (vgl. ook 1:48; 2:24-25; 6:42).

 

16:20 Plegtig verseker Jesus hulle: binnekort gaan julle huil en treur/rou soos by ‘n begrafnis waar klaagliedere gesing word (threneoo; volgens Lukas 23:27 het van die vroue van Jerusalem al treurende agter die kruisdraende Jesus aangeloop en klaagliedere gesing). Met die rouwoorde verwys Jesus na sy dood. Maar terwyl die dissipels sal rouklaag, sal die blye gejuig van die triomfantlike wêreld weerklink. Jesus verseker sy dissipels dat dit waaroor hulle gaan treur sal die rede vir hulle vreugde word (ginomai;  hulle droefheid sal nie bloot plek maak vir vreugde nie). Sy doodsoffer is juis die bron van ons ewige lewe. Oor sy dood vir ons sonde kan ons elke dag juig en sing met ‘n vreugde wat niemand of niks van ons kan wegneem nie (vgl. Rom 8:38-39).

 

16:21 Jesus verduidelik die verandering van droefheid in vreugde met die beeld van ‘n vrou in kraam, wat een oomblik skreeu van die pyn, en die volgende oomblik straal van vreugde oor dieselfde kindjie wat die pyn veroorsaak het.  Van die swanger vrou word gesê dat haar uur gekom het. So het Jesus se uur nou gekom. Haar vreugde is oor ‘n mens wat in die wêreld gebore word (gennaoo). So is Jesus se opstanding die geboorte van ‘n nuwe mens, van ons wedergeboorte (gennaoo anothen van Bo af; Joh. 3:3) as kinders van God (na sy opstanding noem Jesus sy dissipels ‘my kinders’ paidia; Joh. 21:5;  1983-vertaling: ‘mense’). Die beeld van die vrou in kraam word in die Ou Testament gebruik (i) vir God se oordeel oor die sonde , bv. in Jes.21:2-3 waar angs die profeet oorval, soos vir ‘n vrou in kraam, oor  sy boodskap van God se oordeel oor Babel; in Jer.13:21 dat dit vir Jerusalem netso pynlik sal wees wanneer die Here gaan straf; Miga 4:9-10 dat Jersualem geroep word om so te krul van pyn oor hulle wegvoering na Babel. (ii) en oor God se verlossing van sy volk: bv. in Jesaja 66:7-14 word Jerusalem se ballingskapspyn en terugkoms in vreugde oor hulle nuwe lewe vergelyk met ‘n vrou wat kraam in pyn is en juig oor die geboorte. So word die opstanding uit die dood vergelyk met ‘n vrou wat geboorte gee in Jes.26:16-21. Met ‘n geboorte se pyn en vreugde vergelyk Johannes Jesus se sterwe en die koms van die Heilige Gees om ons aan die Seun van God te verbind tot kinders van God saam met Jesus in sy sterwe en opstandingslewe.     

 

16:22 In 16:16 het Jesus gesê: na ‘n kort rukkie sal hulle Hom weer sien. Hier sê Jesus: Julle het nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien. Hy sal kom en Hom sigbaar aan hulle vertoon, soos na sy opstanding gebeur het (hfs. 20). Hulle harte sal bly wees – die oorsprong van hulle denke, gevoel en wil, wat hulle hele lewe bepaal  (vgl. wat  uit die hart kan kom, volgens Mk 7:21 -22). Wanneer die hart vol blydskap is, is die hele lewe vol blydskap. Hierdie blydskap in die hart kan niemand of niks van hulle wegneem nie. Die dood en opstanding van Jesus is nie ‘n geïsoleerde gebeurtenis nie, maar die begin van ‘n nuwe skepping, met God wat in hulle kom woon. Hulle lewe word deel van die liefdesgemeenskap tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 

 

16:23 Die vreugde van die nuwe tyd wat deur hierdie Paasfees ingelei word, is eerstens die vreugde van verstaan:  Die dissipels gaan niks meer vir Jesus vra nie, want Hy sal nie meer fisies by hulle wees nie. Maar die Gees sal hulle in die volle waarheid lei (16:13 die waarheid van God se openbaring van Homself  as ons Vader, Christus ons Verlosser, Die Gees as ons Leidsman na Jesus). Die tweede aspek van hierdie vreugde is verhoorde gebed: voorwaar, voorwaar, wat hulle ookal in sy Naam (as sy verteenwoordigers) vir die Vader vra, sal Hy vir hulle gee. Nou het hulle direkte toegang tot die Vader in gebed. Soos Jesus direk met die Vader gepraat het, kan hulle nou, deur Jesus as hulle middelaar, direk met die Vader praat. Christus is ons voorspraak by die Vader (1 Joh. 2:1).  In Jesus se Naam beteken ook volgens sy wil, en soos Hy ons geleer het. In ons gebed praat Jesus met sy Vader, soos die Gees ons lei in die volle waarheid – takke in die ware wingerdstok wat met vreugde vir die landbouer vrug dra.

 

16:24  Terwyl Jesus by hulle was, het hulle nog niks van die Vader in Jesus se naam gevra nie. Nou rig Jesus hulle gebede, om tot die Vader te bid in sy Naam,  as mense wat in Hom bly en Hy in ons (Joh.15:4), om te bid vir sy saak en vir sy heerlikheid; en julle sal ontvang, uit die Vader se hand (vgl. Joh.15:7). Hy sal gee dat ons vrug sal dra wat sal hou (Joh.15:16), sodat ons vreugde sal ‘vol wees’, ons blydskap volkome sal wees (Joh.15:11)  – ‘n vreugde wat die weerspieëling is van ons innige verbondenheid aan Jesus en die Vader, deur die inwoning van die Gees (vgl. Flp. 3:1; 4:4 verbly julle/wees bly in die Here), die blydskap wat niemand of niks van ons kan wegneem nie – ‘n lewe vervul met vreugde in die Here onder alle omstandighede (Rom.8:38-39).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Heilige Gees leer die gemeente (16:12-15)

Die Heilige Gees leer die gemeente (16:12-15) – Francois Malan

16:12 Die werk van die Heilige Gees is op die wêreld gerig, maar Hy werk ook deur die volgelinge van Jesus. Die gemeente word ook deur die Gees geleer om hulle toe te rus vir hulle taak. Die Gees sal die gelowiges lei tot dieper insig in wie Jesus is en in die betekenis van sy prediking en werk (vgl. 14:26). Hulle kan baie dinge wat Jesus nog wil sê, nie nou begryp nie (bastazoo letterlik: om te dra, te ondergaan, aanvaar of ontvang van ‘n waarheid wat moeilik is om te verstaan). Die vermoë om Jesus en sy getuienis te verstaan sal later kom, ná Jesus se opstanding, met hulle verligting deur die Heilige Gees (vgl. 2:22; 12:16).

16:13 Die Gees van die waarheid sal hulle in die hele waarheid lei (soos ‘n gids of ‘n leier) om die diepte en hoogte en breedte en lengte van die openbaring van God beter te begryp (vgl. Ef 3:18 oor die liefde van Christus). Vanweë sy verhouding met Jesus gee die Gees God se openbaring aan Jesus se volgelinge. So het Jesus ook dit wat Hy van die Vader ontvang het aan die dissipels oorgedra. Jesus het die waarheid in die wêreld ingebring deur sy teenwoordigheid; die Heilige Gees maak die waarheid oop en skep die ingaan van die waarheid in die gelowiges, vgl. Jer.31:33 Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê (grondteks: Ek sal my wet in hulle binneste gee en dit op hulle harte skryf) . Die Gees sal julle inlig oor die besonderhede van die dinge wat gaan kom – oor die betekenis van Jesus se aanstaande dood en opstanding, sy wederkoms en oordeel, en van die gelowiges se betrokkenheid daarby, by sy lyding, sy oorwinning (15:20) en die hoop op die ewige toekoms ‘in die huis van my Vader’ (14:1-3). Die woord anangello ‘blootlê, oopmaak’ het die gedagte van inlig oor die besonderhede, en word in verse 14,en 15 herhaal om te verwys na die betekenis van die hele en finale openbaring van God in Christus. 

 

16:14 Die woord ‘verheerlik’ word in hierdie Evangelie gebruik in verband met Jesus se dood en opstanding (bv. in 12:23,27-28; 13:31-32; 17:1). Dat die Gees Jesus sal verheerlik beteken dat Hy juis sal blootlê wat die betekenis is van Jesus se versoeningswerk. Jesus se kruisdood is die toppunt van die openbaring van God se liefde vir die wêreld. so het God sy geliefde Seun gegee (Jn 3:16). Die Heilige Gees sit Jesus se versoeningswerk in die gelowiges voort. Die Gees ontvou  aan ons die openbaring van God se liefde in Jesus se lewe, dood en verhoging sodat ons ook Jesus sal verheerlik. Die werk van die Gees sentreer op Jesus.

 

16:15 Die Vader is ten nouste verbind aan die werk van die Seun en die Gees. Die Vader is die bron van alles. Hy het alles aan die Seun oorgedra, en die Seun dra alles oor aan die Gees. ‘Alles’ omvat die hele heilsopenbaring van God se liefde. Die ware, volledige openbaring van God het deur Christus gekom, deur sy menswording, dood en opstanding vir die lewe van die wêreld. Dit word deur die Heilige Gees aan die gelowiges ‘blootgelê.’ Die Gees bring geen ander openbaring van God nie.

 

In hierdie Evangelie is daar vyf paragrawe oor die Heilige Gees: twee, 14:15-17; 14:26,  in die eerste gesprek, en drie, 15:26; 16:7-11; 12-15,  in die tweede gesprek met die dissipels.

            Die kort uitsprake oor die Gees in die eerste gesprek vertel van die teenwoordigheid van God by die kerk, van die teenwoordigheid van die opgestane Here by ons, deur die inwoning van die Gees. Die Vader het Jesus na die wêreld toe gestuur. Die Seun se sending onder mense gaan voort deur die Heilige Gees. (i) 14:15-17 gaan oor die bystand van die Helper aan Jesus se volgelinge in ‘n vyandige wêreld. (ii) 14:26 gaan oor die Gees se bediening aan die dissipels om God se voltooide openbaring in Jesus aan hulle bloot te lê. Die implikasie daarvan is dat die Gees by die kerk gaan bly om voortdurend God  se selfopenbaring in Jesus aan die kerk van alle eeue te ontvou. Die Gees maak God se openbaring in Jesus relevant vir elke geslag.   

            Die rol van die Heilige Gees word in die tweede gesprek breër uitgespel. (iii) 15:26-27 brei uit op Jesus se belofte van ‘n ander Helper as antwoord op hulle ontsteltenis oor sy weggaan (14:1): Hy stuur die Gees van die waarheid om van Hom te getuig, soos die Vader vir Jesus gestuur het om God te openbaar. Die Gees gaan die dissipels help om Jesus se getuies te wees in die wêreld. (iv) 16:7-11 brei uit op die werk van die Gees deur die dissipels in die wêreld (15:26-27): (a) om hulle sonde bloot te lê en hulle te oortuig van  hulle sonde; (b & c)  hoe om die geregtigheid van God te verkry, of dat hulle onder die oordeel van God bly. Dit is alles ten nouste verbind verbind  aan Jesus: aan hulle verwerping en veroordeling van Jesus, maar God se aanvaarding van sy offer.

(v) 16:12-15 fokus op die gelowiges (‘n uitbreiding op 14:25-26), dat die Gees hulle sal lei en leer om Jesus beter te ken en te verstaan in hulle getuienis oor Jesus in die wêreld.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan