Satan se gesag

Satan se gesag – Francois Malan

Hans vra:

In Lukas 4 vers 5 en 6 bevestig Satan aan Jesus, met verwysing na die koninkryke, dat al hierdie mag aan hom (satan) oorgegee is. Is dit soos hy beweer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Johannes 12:31 verwys Jesus na die Satan (satan beteken ‘teenstander;’ duiwel ‘aanklaer’) as ‘die owerste oor hierdie wêreld,’ Jesus het juis gekom om hierdie wêreld te oordeel en sy owerste uit te gooi buitentoe, deur die sonde van die wêreld op Hom te neem aan die kruis. In Joh 14:30 sê Jesus dat Hy nie meer lank met sy dissipels kan praat nie, want die ‘owerste van die wêreld’ is aan die kom (om Hom gevange te laat neem). Die duiwel, het egter geen mag oor Jesus nie, Jesus gee Homself oor om gekruisig te word. In Joh 16:11 sê Jesus: die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel. Wie God nie as Koning van sy lewe ken nie, het die duiwel as heerser oor hom. In Markus 3:22 word hy Beëlsebul (god van alle onreinheid wat van jou besit neem) genoem; in 2 Kor 4:4 ‘die god van hierdie wêreld’ wat die ongelowiges se verstand verblind – wat sy groot mag aandui oor mense, wat nie in ‘n geloofsverbondenheid met God lewe nie.

 

In Joh 8:44 sê Jesus: die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen. Daarom het Jesus ook nie geval vir die Satan se aanbod van die wêreld se mag en glorie uit die aardsleuenaar se hand nie, omdat Jesus in gehoorsaamheid God alleen erken en dien (Lk 4:8)

 

‘My vraag is net, wie het hierdie mag en of glorie aan satan oorgegee soos hy beweer?’

 

Elke mens wat toegee aan die Satan se versoekings en leuens, gee aan hom die seggenskap oor sy lewe. Daarvan was Eva die voorbeeld: toe sy sien dat die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad begeerlik is omdat dit kennis kan gee, om soos God te wees, het sy haar rug op God gedraai en haar eie god geword. So lewe elke mens vir homself; is elke mens sy eie god wat eerste kom in sy lewe. Daarmee het die duiwel vir haar en elke mens wat vir homself lewe met sy leuen gevang (Genesis 3:4-6).

 

So wou Satan ook met sy aanbod van wêreldoorheersing vir Jesus vang om voor hom te buig en hom te aanbid. Die sondigheid van die mens is sy smag na eie roem en mag, terwyl God die mens met bepaalde vermoëns geskep het om God en die mense wat God geskep het, uit liefde met jou lewe en vermoëns te dien. Daarom sê Jesus vir die Jode, wat geglo het hulle is kinders van Abraham en kinders van God, dat hulle eintlik kinders van die duiwel is, omdat hulle vir Jesus, wat God aan hulle kom openbaar, wil doodmaak. Vir sy lewe van liefdesdiens sien hulle nie kans nie (Joh 8:33-47).

 

Maar omdat God sy wêreld met al sy mense, wat Hy goed geskep het, liefhet, ten spyte van hulle verwerping van Hom, het Hy sy Seun gegee om ons van die mag van die sonde en die bose en van onsself te verlos, deur ons straf te dra, en ons van die mag van die bose te verlos. Sodat elkeen wat glo dat Jesus God is, wat vir ons verlossing gesterf het, en as oorwinnaar oor die bose en die dood opgestaan het, die ewige lewe kan hê, deurdat die liefde van God in ons kom woon deur die Heilige Gees, en ons aan Jesus verbind in die geloof (vgl. Joh 3:16; 14:16,17).

 

Maar dit vra ook van ons om die stryd teen die Bose en teen onsself te stry met die wapens wat Hy vir ons gee (vgl. Efesiërs 6:10-18: met die waarheid, die regte verhouding tot God, bereid om die evangelie van vrede te verkondig, geloof in Christus, ons verlossing deur Christus, die woord van God, gebed tot God, waaksaam bly).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Twee verduidelikings van die betekenis van die voetwassing (13:6-17)

Twee verduidelikings van die betekenis van die voetwassing (13:6-17) – Francois Malan

13:6 Toe Jesus by Petrus kom, is sy verbouereerde reaksie: ‘Here…U…vir my…die voete was? Hy stotter van verbasing en onbegrip (amper soos sy reaksie op Jesus se aankondiging dat Hy verwerp en doodgemaak gaan word, Mat. 16:22: dit…tog nooit…vir U nie!). Dit getuig van sy vereringsvolle liefde vir Jesus, en sy totale misverstand van Jesus se optrede. Hy dink in terme van eer en oneer, terwyl dit vir Jesus gaan om redding uit verlorenheid.

13:7 Jesus begryp sy onbegrip, maar later sal hy dit verstaan, na Jesus se verduideliking in 13:8, na sy kruisiging en opstanding, maar eintlik nadat die Heilige Gees gekom het om hulle te herinner aan alles wat Jesus gedoen het en hulle in die waarheid ingelei het (Joh. 14:16,17,23,26;  16:8; vgl. ook 2:22; 12:13).

 

13:8 Petrus verwerp dit ten ene male dat Jesus ooit sy voete sal was. Maar Jesus gee daarop ‘n skrikwekkende antwoord, wat die ewige erns van sy optrede openbaar: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie! – geen deel aan die ewige lewe saam met God nie, soos in Jesus se beloofde koninkryk nie (vgl. Luk. 22:29-30, Joh. 14:3; 17:24).

 

Simboliese betekenis

13:9-11 Petrus verstaan al weer verkeerd. Dit gaan nie om die wassing van sy liggaam nie, maar om die bereidheid om deur Jesus se offer aan die kruis gereinig te word van al jou sonde. Daarvan is hierdie voetwassing van Jesus ‘n teken (hupodeigma v15). Dit gaan om jou erkenning van jou sonde en dat jy alleen deur Jesus se nederige en onderworpe ‘liefdesdiens tot die uiterste’ daarvan verlos kan word. Dit word gesimboliseer deur hierdie voetwassing van sy volgelinge deur die Seun van God self, en hulle aanvaarding van sy reiniging.

            Die wat (tuis) gebad het, het niks meer nodig as dat sy voete gewas word (na die loop feesmaal toe) nie – as jy eenmaal deur Jesus gereinig is, is jy heeltemal skoon; maar jy kom daagliks met sonde in aanraking, en het daagliks reiniging nodig deur te bid: Ons Vader…vergeef ons ons oortredings, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Mat. 6:12).             

Jesus sê hulle is alreeds rein, maar nie almal nie. In Joh. 15:3 sê Jesus: Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het (1983-vertaling reggesnoei). Jesus se woord en sy diens is onafskeidbaar. Hy bring die openbaring van God deur woord en daad. Die woord moet ontvang en geglo word, sodat jy deel van die ewige lewe kan wees (Joh. 3:16-21). En so gebeur dit dat Judas, wat Jesus se woorde en dade verwerp en besluit het om Hom te verraai, nie rein is nie, ten spyte daarvan dat Jesus sy voete ook gewas het as ‘n laaste oproep tot hom om hom te bekeer.

 

Die voorbeeld vir elke gelowige

13:12-15 Die simboliese betekenis van sy voetwassing (13:10-11) sal hulle later verstaan; maar  die etiese voorbeeld moet nou al duidelik wees: die meerdere moet juis die mindere dien. Jesus het hulle voete gewas as ‘n ‘voorbeeld’ (hupodeigma ) van gedrag, ‘n model of maatstaf  om te volg. Hulle noem Hom tereg hulle leermeester (didaskalos of rabbi)  en Here (kurios meneer, maar ook gebruik vir God). As Hy dan voor hulle kniel om ‘n slaaf se taak aan hulle te bewys, hoeveel te meer moet hulle nie, soos Hy, mekaar in nederigheid dien nie! Hy het aan hulle ‘n voorbeeld gestel: ‘soos Ek…ook julle’ (vgl. 13:34; Flp 2:3-11). 

 

13:16-17  Die vergelyking in 13:13 word verdiep met ‘n woord van Jesus wat ook in Matteus 10:24-25 voorkom: leerder en leermeester word hier net vervang met slaaf en Eienaar,  gestuurde en sy Sender. Die saligspreking van 13: 17 bou op vers 15 se doen soos Jesus: Jesus se ewige geluk en vreugde is die deel van elkeen wat nie alleen die betekenis ken van Jesus se diens aan sy leerders/slawe/gestuurdes, soos gesimboliseer deur sy nederige voetwassing nie, maar wat daarvolgens lewe! in gehoorsaamheid jou roeping as leerder/slaaf/gestuurder van jou Leermeester/ Eienaar/Sender. Dwarsdeur die Bybel en Jesus se lering word die noodsaaklikheid van ken en doen van God se wil beklemtoon (die hele bergrede in Mat. 5-7; veral Mat.7:21-23 hoor en doen; 24-27 bou op sand of rots; 23:1-3 skrifgeleerdes doen nie wat hulle leer nie; Jak 1:22-25 gelukkig as jy doen wat jy hoor; vgl. Deutr 28 se seëninge en strawwe). Jesus-volgelinge se status voor God en mens is hulle dienslewering, nie roem op hoogheid nie, maar bereidheid om aan mekaar die nederigste liefdesdiens te verrig. Dit is nie benede jou waardigheid as jou Here dit vir jou gedoen het nie – Hy het sy alles, sy lewe vir jou gegee aan ‘n kruis! (Mk 10:45). Ware geluk word verkry deur ‘n lewe van vrywillige liefdesdiens aan ander. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die voetwassing deur Jesus (13:1-5)

Die voetwassing deur Jesus (13:1-5) – Francois Malan

13:1 Die uur waarvoor Jesus na die wêreld toe gekom het, het aangebreek (Jn 12:27). In hierdie uur sal God vir Jesus verheerlik, en Jesus sal die Vader verheerlik deur sy dood vir die redding van die wêreld, met ‘n dood wat van alle heerlikheid ontneem is – ontbloot hang Hy daar  (Jn 12:24-26). Dit is ook die uur vir die oordeel oor die wêreld, die oorwinning oor die duiwel, en die verhoging van Jesus om as God oor die ganse wêreld te regeer (Jn 12:31-32).

Dit is die uur wat Hy weer ‘oorgaan’  na die Vader in die heerlikheid wat Hy vantevore gehad het (Jn 17:5). Op hierdie draaipunt van sy lewe, die doel van sy menswording, wys Hy sy liefde tot die uiterste toe vir sy eie mense. Sy eie mense sluit almal in wat aan Hom behoort, almal wat in Hom glo. Sy liefde tot die einde toe (eis telos tot in die end) druk voltooidheid, die volmaaktheid van sy liefde uit, sy volkome selfverloëning, sy volkome offer vir die sonde van die hele wêreld). Hierdie vers is die inleiding tot die hele lydensweg van Jesus, van hoofstuk 13 tot hfs. 20; 13:1-3 is weer ‘n soort voorspel of overture tot die res van die Evangelie, met temas wat in die res uitgewerk word, soos 1:1-18 die geval was.

 

13.2 ‘En tydens die aandete (deipnon)’ (1983-vertaling: Jesus en sy dissipels was aan tafel). Saam eet is ‘n teken van vriendskap en verbondenheid. En hier sit Judas, in wie se hart die duiwel dit alreeds gelê het om Jesus te verraai (paradidoomi beteken ‘om oor te gee’ hier in die sin van aan die vyand uitlewer, aan die owerheid). Verraad geskied net deur een van die binnekring, wat saam eet. Soos die duiwel dit in die harte van die Jode gelê het om Jesus dood te maak, vir wie Jesus noem ‘kinders van die duiwel,’ ‘n moordernaar van die begin af (8:44), so gebruik die duiwel vir Judas in sy finale aanval op Jesus. Maar soos die Jode verantwoordelik is vir hulle moordplanne, so is Judas self verantwoordelik vir sy besluit om Jesus te verraai. In 13:18-30 word hierop uitgebrei. Judas is die voorbeeld van die mens wat nie van harte in Jesus glo nie.            

 

13:3 Deurdat Jesus en die Vader alles saam bedink, want Hy en die Vader is een (Jn 10:30),  weet Jesus dat Hy na die Vader oorgaan. Dit word hier herhaal uit vers een, met twee betekenisvolle variasies: (i) Hy het van die Vader af gekom – met die Vader se opdrag en gesag, (ii):die Vader het alles in sy hande geplaas (Jn 3:35) – Hy het die gesag om God se soewereine wil in oordeel en verlossing te vervul (5:21-23), die oppermag wat deur die wêreld en die duiwel nie kan oorwin kan word nie. Hulle kan slegs daaronder buig, óf gewilliglik tot verlossing, óf deur te bly onder God se veroordeling (3:36). En wat doen Jesus in die wete van sy oppermag? Hy was die voete van die dissipels, ‘n nederige slawediens, maar ook ‘n simbool van sy selfoorgawe in die dood om sy eie mense te reinig vir die ewige lewe in gemeenskap met God. Sy mag is die mag van die liefde wat vir die wêreld aangebied word (Jn 3:16).

 

13:4-5 Op grond van Levitikus 25:39-46 het die rabbi’s geleer dat Joodse slawe nie so ‘n nederige werk soos voetewas mag doen nie, slegs ‘n slaaf uit ‘n ander volk (die Joodse rabbi’s het Gen.21:14 so verklaar dat Abraham vir Hagar ‘n skeibrief gegee het, haar bokleed uitgetrek het, en dit om haar heupe gebind het as teken dat sy ‘n slavin is). Die voete van gaste by ‘n eetmaal is destyds deur ‘n slaaf gewas, ‘n welkome bewys van gasvryheid aan mense wat te voet deur die stofpaaie en strate geloop het (Lk 7:44; vgl. egter 1 Sam 25:41). Nie een van die dissipels doen dit nie. Tydens die paasmaal redeneer hulle oor wie van hulle die belangrikste is (Lk 22:24-27). Die Seun van God was hulle voete as die lydende dienaar van die Here, wat die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het as voorbeeld vir elkeen wat Hom volg (Mt 20:28; Mk 10:45). Dit word uitgespel in  13:12-17 en  34-35.  Die voetewassing is ook ‘n teken en simbool van Jesus se nederige liefde tot die uiterste toe vir sy eie mense in die wêreld. Dit word verder verduidelik in 13:6-11 en 31-33. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels (13:1-17:26)

Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels (13:1-17:26) – Francois Malan

Soos Jakob aan sy seuns in Genesis 49, Josua aan die volk in Josua 22-24, Dawid aan Salomo in 1 Kronieke 28-29 en Moses aan die volk Israel in die hele boek Deuteronomium, plaas Johannes Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels tydens die laaste paasmaal/eerste nagmaal, net voor sy verhoor, kruisiging, opstanding en verskynings.

Jesus, wat ‘meer is as Moses’ (Hebr. 3:1-19; Johannes verwys na Moses in 1:17,46; 3:14; 5:45,46; 6:32; 7:19,22,23; 8:5; 9:28,29), lei die tweede eksodus, na lewe in die koninkryk van God, die nuwe beloofde land vir die nuwe Israel, wat bestaan uit Jode en nie-Jode (vgl. die Grieke van hfs 12). Hulle is die werktuie van God se reddende heerskappy in die wêreld. Elke gelowige word daarvoor toegerus deur die Heilige Gees; Hy is God, wat self in hulle kom woon.

Die Gees van die waarheid sal ewig by julle bly en in julle wees (14:15-17);  die Vader en die Seun sal na dié een toe kom wat vir Jesus liefhet en by hom woon (14:23); Jesus bid ook vir dié wat deur die woorde van die dissipels tot geloof in Hom sal kom, dat hulle almal een mag wees, netsoos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees…Ek in hulle en U in My….sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het (17:20-23); dit ‘n eenheid in en deur die liefde van God wat deur die Heilige Gees in ons kom woon en werk.  

 

Die eerste 12 hoofstukke van Johannes word soms die ‘boek van die tekens’ genoem, en hoofstukke 13-17 die ‘boek van die woorde.’ Baie van die onderrig in die laaste hoofstukke stem ooreen met aanwysings wat in die ander Evangelies verspreid voorkom en dwarsdeur Jesus se bediening. Markus 13, Mt 24,25 en Lk 21 het egter die profetiese rede wat as afskeidsboodskap aan die dissipels dien, en oor ‘n paar dae strek. Johannes druk dit alles in een nag in.

 

Die woorde van Jn 14:31 ‘Staan op, laat ons hiervandaan weggaan’ en 18:1 ‘nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan’ laat vermoed dat hoofstukke 13-14 en 15-17 twee stukke van Johannes se getuienis is oor alles wat Jesus die aand in die bovertrek gesê en gedoen het; dat dit eers apart opgeteken is, en later hier saamgevoeg is.

 

In hierdie weergawe van die laaste maal in die nag vertel Johannes niks van Jesus se instelling van die nagmaal met brood en wyn wat na sy liggaam en bloed as tekens van die nuwe verbond verwys, soos in die ander drie Evangelies nie. Maar in die lang hoofstuk 6, oor Jesus as die brood van die lewe, sy liggaam wat geëet moet word, het Jesus ‘n uitgebreide verduideliking van  die wese van die brood van die nagmaal gegee; so gee Hy in hierdie afskeidsrede in vyf hoofstukke ‘n uitgebreide verklaring vir die instellingswoorde van die nuwe verbond van God se genade (Jn 1:14,16).

 

Daar is ook ‘n verskil tussen Johannes en die ander drie Evangelies of dit ‘n paasmaaltyd was of nie. Volgens Eksodus 12:6,8 moes die paaslam laatmiddag op die veertiende van die maand geslag word (Abib, die ‘aremaand’ Eks 13:4, word na die ballingskap Nisan ‘eerste maand’ van die Joodse jaar genoem, Neh. 2:1 – Mrt-Apr). Teen sononder begin die 15e Nisan en dié nag moes hulle die gebraaide lam haastig eet, op vertrek uit Egipte (hier anapiptoo ‘aanlê’ op kussings of rusbanke om die tafel,  soos die latere gebruik was; Jn 13:12,25,21:20 ).

 

Al vier Evangelies plaas die kruisiging op Vrydag, die dag voor die sabbat wat reeds met sononder aanbreek (vgl. Jn 18:28; 19:31), maar Johannes noem die Vrydag ‘die dag van voorbereiding’ wanneer die lammers geslag word vir die paasfees, waarop Jesus, die Lam van God, die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29). 

Die ander drie Evangelies plaas die paasfees, wat Jesus saam met sy dissipels geëet het en die nagmaal ingestel het, op Donderdagaand (Vrydag begin al teen sononder van ons Donderdag)., en  noem daardie Donderdag  ‘die dag van voorbereiding’ wanneer die paaslammers geslag word (Mt 26:17;27:62,  Mk 14:12;15:42,  Lk 22:7).  Hy is Vrydag gedurende die dag gekruisig; en voor sononder begrawe, Lk 23:56 noem ook dié Vrydag ‘die voorbereiding’ vir die sabbat).

 

Skrywer: Prof Francois Malan