Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43)

Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43) – Francois Malan

12:37-38 Die skrywer kyk terug op Jesus se hele bediening. Ten spyte van  die baie wondertekens wat Hy voor sy eie mense, die Jode, gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie (1:11)  . Hulle reaksie op Hom was volgehoue ongeloof. Johannes sien hierin ‘n vervulling van Jes 53:1 wat hy uit die Griekse vertaling aanhaal: ‘Here, wie het ons boodskap geglo (Jesus se woorde wat Hy van die Vader gekry het, 3:34; 7:16-17; 8:26,28; 12:49-50 ), en aan wie is die arm van die Here (Jesus se wondertekens) geopenbaar?’  Die klag in Jes. 53 oor die Jode se ongeloof in die dienaar van die Here wat verag en deur mense verstoot is, gaan voort tot by die Jode se ongeloof teenoor Jesus en sy boodskappers – en tot vandag toe onder mense.

12:39-40 Dit is nie net dat die mense nie in Jesus geglo het nie, hulle kon ook nie in Hom glo nie, soos reeds in Jesaja 6:10 uitgespel is: ‘Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart begryp en omdraai en Ek hulle sal genees nie’ (die teks word deur Johannes vry aangehaal ; Jes. se opdrag word hier iets wat reeds gebeur het, en Jesaja se ‘sodat hulle nie genees word nie’, word ‘sodat Ek hulle nie sal genees nie’). Toe hulle Jesus se woorde gehoor en wondertekens gesien het,  moes hulle die besluit geneem het om in Jesus as Seun van God te glo. Agter hulle beslissing staan die beskikking van God. Daarmee is hulle nie van hulle verantwoordelikheid onthef nie, en word hulle deur God verwerp en geoordeel (3:36). Slegs dié wat die Vader aan Jesus gee, húlle glo in Hom (6:37,44,65; 10:29). Hulle is soos ‘n stuk hout wat uit die vuur gered is (Sag.3:2).

 

12:41 Die heerlikheid van die Here wat Jesaja gesien het (Jes 6:1-3) word hier geïdentifiseer met die heerlikheid van die Seun van God (1:14). Sy verwerping deur die ongelowiges en sy vernedering, waarvan die aanhalings uit Jesaja getuig, is deel van die openbaring van die heerlikheid van die Messias. Jesus se lyding en sy offer aan die kruis vir ons sonde is sy heerlikheid; die bevestiging dat Hy ‘vol genade en waarheid’ is (1:14).

 

12:42 Daar was egter selfs baie van die lede van die Joodse Raad wat in Jesus geglo het, om nie eers van die gewone mense te praat nie. Maar hulle posisie op die Raad en status as leiers van die volk was in gevaar as hulle openlik sou bely het dat hulle in Jesus glo. Dan sou hulle aposunagoogoi  word,  ‘uitgebandes-uit-die-sinogoge’ (vgl. 9:22), met verlies van hulle sitting op die Raad, en toegang geweier word tot die weeklikse samekomste van die volk in die sinagoges. So sou hulle aansien in die gemeenskap verloor.   

 

12:43 Johannes se beoordeling van hulle optrede is: hulle het die eer/erkenning van mense liewer gehad as die eer/erkenning van God. Die weg tot die eer van God is deur Jesus aangedui: dit gaan deur lyding en vernedering tot verhoging en heerlikheid. Dit is ‘n stille beroep op Johannes se lesers om die eer van God hoër te ag as die eer van mense, en met vrymoedigheid te bely dat Jesus God is wat in ons plek gesterf het, en dat Hy ons, wat in Hom glo, se Here oor ons lewe is. Jesus is God se Gestuurde, met die opdrag om met gesag te praat en op te tree in sy Vader se Naam (vgl. Johannes die Doper se getuienis oor Hom in 3:31-36;  en Jesus se getuienis in 6:38; 7:33; 8:16,18; 28-29; 44;  10:36-38). 

 

Hier eindig die vertelling van Jesus se openbare optrede (hoofstukke 1-12). In hoofstukke 13-16 word vertel van Jesus se onderrig van sy enger groep dissipels en sy gelowige volgelinge deur die eeue, deur sy gesprekke met sy dissipels, en in hoofstuk 17 voor hulle deur sy gesprek met sy Vader oor hulle en dié wat deur hulle tot geloof in Jesus sal kom.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Watter kerk is die regte kerk?

Watter kerk is die regte kerk? – Kobus Kok

Sarie vra:

Daar is soooo baie kerke en leerstellings. Watter kerk (denominasie) is die mees Bybel korrek? Net as mens dink NOU het jy die regte plek vir aanbidding opgespoor, is daar weer n dwaalleer wat êrens kop uitsteek!!

Antwoord:

Prof. Kobus Kok antwoord:

Dit is baie moeilik om sommer so breedweg en kategories te kan sê watter kerk is goed en watter kerk is sleg. Gelowiges word deur God se Gees bemagtig om gees-geïnspireerde besluite te neem. Wat vir sommiges reg is, is dikwels vir ander verkeerd. Kyk maar net na die vroegste Christene. Selfs binne die kerke van Paulus was daar gelowiges wat verskillend oor sake geoordeel het. Vat maar net die groot debat in die gemeente in Korinte (1 Kor 8) rondom die eet van offervleis. Vir baie van die gelowiges was dit problematies om offervlies te eet. Vir ander gelowiges was dit nie ʼn probleem nie. Paulus verstaan beide kante en dink dat nie een van die twee opsies problematies is nie. In die oplossing wat Paulus aanbied, beveel hy aan dat die gelowiges wat voel dat die eet van offervleis aanvaarbaar is, eerder ter wille van die ander gelowiges vir wie dit onaanvaarbaar is, moet wegbly daarvan. Die punt is net dat selfs die heel vroegste Christene in die Bybelse tyd ook dikwels gevoel het dat hulle medegelowiges nou te ver gegaan het of die grense oorsteek het. Dit leer ons dat mense reeds van die heel begin af van mekaar verskil het oor die wyse waarop die geloof vergestalting moes kry.

 

Die antieke Christene het altyd gesê: “Lex orandi, lex credendi” – “die wet van gebed is die wet van geloof”. Anders gestel – soos wat mens bid, so glo mens. Die vroeë Christene het geglo dat die barometer van ʼn goeie kerk gemeet kan word aan die hand van die wyse waarop die betrokke kerk hulle gebedslewe inkleur. In die aanbidding kan mens sien hoe naby of hoe ver mense aan God is. Tog is die saak nie so eenvoudig nie. Mense wat bid is ook maar dikwels mense wat sondig. Luther het eenmaal gesê ons is almal Simul Iustus et Peccator – dieselfde tyd regverdig, maar ook sondige oortreders. Waar daar liefde is, daar is God – maar waar daar mense is, is daar sonde. Daarom moet mens maar vrede maak met die feit dat kerke ook kan foute maak en dat mens soms teleurgestel gaan word. Juis om hierdie rede het mens onderskeiding van geloof nodig. Dit word net in die dampkring van God se troonsaal, en aan sy voete gevind. Bly daarom naby aan God se voete, vergewe mense wat in hul eie menslikheid foute maak. Wees ook oop vir jou eie foute en bely dit voor God. Voel vrymoedig om die saak wat jy voel God op jou hart plaas met jou kerk en haar leiers te bespreek. Met jou oë gerig op God, sal Hy jou wys of jy by jou kerk met bly, en of ʼn nuwe seisoen vir jou aangebreek het, en jy na ʼn ander plek moet gaan. Dalk is jy geroep om binne jou kerk ʼn verskil te maak – om nie net ʼn passiewe volger te wees nie, maar ʼn leier. Onthou dat daar ook ruimte binne ʼn kerk is vir verskillende standpunte. Net so het jou standpunt ook ruimte, en mag jy verskil van jou kerk op sekere punte. Dalk wil die Here jou juis binne jou kerk gebruik om daar ‘n verskil te maak. 

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Jesus se kruisdood is sy verheerliking (12:32-36)

Jesus se kruisdood is sy verheerliking (12:32-36) – Francois Malan

12:32 ‘En Ek, as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.’ Die Satan word onttroon en die Seun van die Mens gekroon oor die wêreld waarvoor Hy gesterf het. Sy verhoging is nie slegs aan die kruis nie, maar via die kruis na die troon in die hemel. Hy sal alle mense na Homself toe trek as die gekruisigde en opgestane Verlosser. Alle mense verwys na die universele trefwydte van sy reddende heerskappy (1 Kor 15:25), dit word aan alle mense aangebied, en die liefde van God vir die wêreld wat in Jesus se selfoffering weerspieël word, trek almal wat die Vader aan Hom gegee het na Hom toe (vgl. 6:37; 10:29; vgl. 2 Kor 5:14).

Dit is die grootsheid en verhewenheid van die Seun se vrywillige opoffering  van Homself tot  in die dood wat die Evangelis gelei het om die kruis te assosieer met die goddelike heerlikheid, en om sy dood en sy verheerliking in een woord hupsoothenai ‘verhoog’ saam te vat (vgl. Joh. 3:14 vir ‘n letterlike en ‘n figuurlike gebruik van hupsooo; Josef se uitleg van die skinker en die bakker se drome, letterlik albei ‘jou hoof oplig’ vir kop optel en vir kop ophang; Gen.40:13,19). Deur sy verhoging aan die kruis gaan mense oor die hele wêreld in Hom glo en hulle lewe aan sy redding en heerskappy oorgee as hulle Here, en so deel kry aan die ewige lewe, maar ook om saam met die gekruisigde Christus te ly (Rom 6:5; 8:17; Flp 1:29; 1 Petr 3:14; 4:16,19). Die skare gelowiges is ook ‘n bewys van die ontmagtiging van die owerste van hierdie wêreld (v31).

 

12:33 Dit het Jesus gesê om aan te dui met watter soort dood Hy sou sterwe. Dit is Johannes se verduideliking van wat Jesus gesê het, dat ‘verhoog’ ‘n toespeling is op die oplig om aan die kruis te hang. Daardie smadelike teregstelling is in die raad van God ook ‘n verheffing tot heerlikheid. Selfverloëning en die kruis word simbole vir gelowiges, en sy nederige liefdesdiens die rede vir sy verhoging deur God tot heerskappy oor die wêreld (vgl. Flp 2:5-11; Openb 5:5-6). Die kruis die simbool van Jesus se lyding en verwerping deur mense, sy gehoorsaamheid aan die Vader, sy verheerliking as die hoogste liefdesoffer deur God, en oorwinning oor sonde, dood en die Satan. 

 

12:34 Die mense is deur dié woord van Jesus verward. Hulle verstaan dat Hy met die woord ‘verhoog’ na sy dood verwys. Uit die wet=Ou Testament verwag hulle dat die Messias (soos Jesus by die intog deur hulle begroet is as die Koning van Israel; 12:12 ) vir altyd bly (Ps 110:4; Jes 9:6; Dan 7:14; vgl. ook Eseg 37:24-28;  ). Hoe rym dit met die ‘Seun van die mens’ van Dan 7:13 se ewige heerskappy van die verwagte Messias-Koning, as Jesus nou sê dat Hy moet ‘verhoog’ word/sterf?

 

12:35-36a Jesus gaan nie op hulle vraag in nie, maar doen vir oulaas ‘n dringende beroep op die skare (soos Hy in 8:21 hulle ook gewaarsku het). Hy gebruik weer ‘n dubbelsinnige beeld: as jy op reis gaan, benut jy die daglig om te sien waar jy loop, voordat die donkerte toesak en jy begin verdwaal. Die mens wat in die duister lewe weet nie waarheen hy op pad is nie, soos hulle vraag bewys, wat uit hulle geestelike duisternis spruit. Jesus is die Lig van God se selfopenbaring aan die wêreld (9:4-5; 11:9-10; 1:4-5; 8:12). Hulle geestelike duisternis verhinder dat hulle Hom erken (1:5,10). Hy is nog net ‘n kort tydjie by hulle, daarom sy dringende beroep: Glo in die Lig! So word julle kinders van die Lig, wat eers begin verstaan en begin lewe as jy in Hom glo, omdat jou hele lewe dan geleef word in die Lig van die Seun van God en sy liefde wat aan die kruis bewys is. 

 

12:36b Met die dringende oproep tot geloof sluit Jesus se openbare optrede af. Daarna onttrek Hy Hom aan die skare vir sy laaste gesprekke met sy dissipels. Hy het Hom self ‘verberg/onsigbaar gemaak’ (kruptoo NAV ‘skuil gehou’). Daar word nie gesê waarheen Jesus vertrek het nie, net dat Hy weggegaan het (van die skare Jode af), maar hulle sou Hom nie kon vind waar Hy sy laaste onderrig aan sy dissipels gegee het nie, totdat Jesus self besluit het dat Judas vir hulle kon gaan vertel waar Hy is (13:27) .

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se worstelstryd (12:27-31)

Jesus se worstelstryd (12:27-31) – Francois Malan

12:27-28a  Jesus sê: ‘Nou is my hele wese (psuche binneste/hart/denke/gevoel/emosies), ek, in diepe benoudheid/beroering (tetaraktai)’ – sy innerlike stryd word geopenbaar. Sy uur, waarop die Lam van God die sonde van die wêreld op Hom moet neem en wegneem (1:29), het gekom. ‘En wat sal Ek sê? Hy moet die grootste besluit van sy aardse lewe neem. ‘Vader, red My uit hierdie uur!’ is sy gebed. Johannes het nie die ander Evangelies se berig oor Jesus se drie maal herhaalde gebed in Getsemane oor die beker wat Hy moet drink nie, maar slegs hierdie enkele vers oor sy  worsteling as mens, oor wat Hy geweet het dat dit vir Hom voorlê, as Hy die toorn van God oor die sonde van die hele wêreld moet dra.

‘Maar daarvoor het Ek gekom, vir hierdie uur.’ Vir hierdie besluit van Jesus, sy aanvaarding van die Vader se wil, vergelyk Mat.26:42. En daarom sy gebed: ‘Vader, verheerlik U Naam!’ – sy gehoorsaamheid, sy sterwe aan Homself,  ís die verheerliking van die Vader se Naam (vgl. Mat 6:9), en is die fondament van die Christelike geloof en lewe (vgl. Hebr 5:7-10).             

 

12:28b Toe kom daar ‘n stem uit die hemel oor wat Jesus gedoen het en gaan doen (Johannes vertel nie van die stem oor wie Jesus is, soos by Jesus se doop en op die berg van verheerliking nie. Die ander Evangelies het weer nie hierdie geval nie). ‘Soos in die verlede’ verwys na Jesus se hele optrede tot dusver, met sy openbaring van die Vader dwarsdeur sy bediening, ‘het Ek dit verheerlik, en sal Ek dit verheerlik’ – met die kruisiging, opstanding en hemelvaart wat voorlê, sal die Vader die heiligheid van sy Naam bevestig en verheerlik. Die Vader se Naam is sy Persoon en alles wat Hy van Homself openbaar oor die redding van die sondaar. Hy het sy beloftes waar gemaak, en so sy betroubaarheid bevestig, en sy eer gehandhaaf. Die eer van die Vader is ook die eer van Jesus (5:37; 7:18; 9:4; 11:4; 17:4).

 

12:29 Party van die skare wat daar gestaan het, interpreteer die stem van God as ‘n donderslag, en ander dat ’n Engel  met Hom gepraat het. Al is albei die verklarings nie voldoende nie, bevestig hulle daarmee dat daar ‘n reaksie uit die hemel was op Jesus se gebed.

 

12:30 Jesus en die Vader is een, en daarom het Hy die woorde van die Vader  nie so nodig soos die mense nie. Al het hulle die woorde van die stem nie verstaan nie, het dit tog duidelik geword dat God aan die werk is deur Jesus se optrede.

 

12:31 Nou, dat Jesus se worstelstryd oorwin is en bevestig is deur die Vader se stem uit die hemel, is dit die oordeel oor die wêreld. Die beslissing het geval in die sterwe van Jesus, die Seun van God, wat self ook God is. Die sonde van die wêreld se eiewilligheid en ongehoorsaamheid aan God word op Hom gelê, wat vrywillig in gehoorsaamheid aan die Vader die straf daarvoor dra. Die mensdom se opstandigheid teen God verskyn in onbedekte naaktheid  aan die kruis, en daarmee ook God se verwerping van alles en almal wat sy Offerlam in ongeloof verwerp (vgl. Joh. 3:36). Agter die boosheid van die wêreld staan die owerste van hierdie wêreld, die Satan, wat van sy mag ontneem word. Jesus se sterwe is die oorwinning oor die persoonlike mag van die Satan (sy ‘teenstander’), wat Hom nog tot op die end geteister het in die worstelstryd in Homself. Selfs die mensemoordenaar (Joh. 8:44) se werktuig, die dood, word deur Jesus se opstanding uit die dood oorwin en van sy betekenis ontneem, en die Satan sal uiteindelik uit die wêreld uitgegooi word (vgl. Mat.25:41). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan