WAAROM VIND PLAASMOORDE PLAAS?

WAAROM VIND PLAASMOORDE PLAAS? – Francois Malan

Lizette vra:

Ek het eenkeer met ‘n ateïs gesels en hy wou by my weet waarom God sekere goed toelaat as Hy ‘n God van liefde is. Hierdie vraag laat my steeds ook wonder waarom plaasmoorde plaasvind want hierdie mense bid tog sekerlik ook vir God se beskerming en liefde?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Hoe seker is jy dat hulle bid vir God se beskerming en liefde? dat hulle lewe as kinders van God, wat op Hom vertrou vir hulle hele lewe, en in gemeenskap met Jesus Christus, sy Seun, lewe in die liefde van God?

 

As dit waar is dat hulle uit liefde vir God gelewe het, kan jy seker wees dat hulle nou by God is, want geen dood kan hulle van sy liefde skei nie (Romeine 8:38-39), en om heen te gaan en met Christus te wees is verreweg die beste (Filippense 1:23).

 

Maar dieselfde boek wat ons leer dat God liefde is (1 Johannes 4:7-20), sê ook: as iemand sê hy ken God, maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is hy ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie; wie beweer dat hy in God bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het; as iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis (1 Johannes 2:4,6,9).

 

 Uit sy liefde vir die mensdom het God sy Seun gegee om aan ‘n kruis te sterf vir die sonde van die wêreld, sodat elkeen wat in Jesus Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die engste Seun van God glo nie (Johannes 3:16,18).

 

            Die Heilige Gees verbind ons deur geloof aan Christus, die Seun van God, en so word ons kinders van God en saam met Christus ook erfgename van die ewige lewe. Ons kry deel aan Christus se lyding en aan sy heerlikheid, maar as ons ons nog deur ons sondige natuur laat beheers, gaan ons die dood tegemoet. As ons egter deur die Gees ‘n einde maak aan ons sondige praktyke, sal ons lewe (vgl. Romeine 8:9-17).

 

Plaasmoorde

Plaasmoorde is ‘n baie ingewikkelde probleem. Moord is nooit reg nie, en God verbied moord (vgl. Eksodus 20:13 Jy mag nie moord pleeg nie). Jesus het die gebod verder verduidelik in Matteus 5:21-22 dat moord ook insluit: kwaad wees en uitskel van jou medemens, wat strafbaar is voor die regbank, en met die helse vuur.

 

Die hele boek Amos en van die ander profete gaan oor die regverdigheid van God, wat die verdrukking van die armes veroordeel en straf (vgl. Amos 2:6-8 met die straf in 2:13-16; 3:10-11,15; 4:1-4 oor die ryk vrouens; 5:10-13; 5:16 oor die boere wat sal treur; 5:24 God se eis van reg en geregtigheid in die samelewing; 6:3-7 dat geweld oor die rykes regeer en dat hulle in ballingskap weggevoer word;  6:8,11,12 die Here se afsku van mooi huise en dat hulle platgeslaan sal word, omdat die reg en regspraak verdraai is; oor die straf van die Here in 7:17; 8:4-10 oor mense wat die armes vertrap;  .

 

Vir meer as 300 jaar was die onderskeid tussen die lewenspeil van blankes en dié van swart mense in Suid-Afrika duidelik en is dit selfs deur die wet bepaal. Daarby is daar op baie terreine en deur baie blankes neergesien op die swart mense as minderwaardig, en is hulle ook beledig en sleg behandel. In die huidige tyd het daar ‘n groter middelklas onder die swart mense gekom, en het selfs die wet en die geregshowe verander. In die samelewing is daar groter aanvaarding van mekaar as mense in eie reg, al praat die blankes nog baie oor die swakhede en tekortkomings van die swart mense. Die onderskeid is nog orals te sien, in myne, fabrieke, werkplekke en in huise met huisbediendes, in dorpe en stede se woonplekke (al daar al blanke plakkerskampe en baie swartes wat in die blanke woonbuurte ingetrek het). Op plase is dit miskien die duidelikste, waar wit en swart saam op een plaas woon en werk, en die onderskeid in hulle lewenspeile soms al groter word namate die boere ryker word en die wit kleinboere uitgeskuif word.

 

            Dat die Here nie met so ‘n situasie tevrede is nie, blyk bv. uit Amos. Lees ook Jakobus (vgl. Jakobus 1:9-11; 2:1-13; 5:1-6).

 

 Die  ateïs se vraag: waarom God sekere goed toelaat as Hy ‘n God van liefde is.

 

‘n Ateïs glo nie dat daar ‘n God is nie, en daarom probeer hy homself regverdig deur God te beskuldig omdat Hy so baie goed sou toelaat. Maar dit is duidelik dat hy nie rekening hou met God se regverdigheid nie, en dat God nie onreg verdra nie, ook nie die onreg van ‘n hele samelewing nie (vgl. Amos 9:10). Hy eis dat ons ook uit liefde sal lewe, selfs liefde vir ons vyande (Matteus 5:43-48). Maar dat ons ook reg sal lewe saam met die armes, om hulle nood en behoeftes raak te sien en hulle te help, en nie net vir ons self rykdom en mag inpalm nie. Dan sal Hy ons ook bewaar en beskerm (vgl. bv. Amos 9:13-15; Jakobus 2:8; 4:7-10).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Lasarus word opgewek (11:38-44)

Lasarus word opgewek (11:38-44) – Francois Malan

11:38-39 By die graf in die rots uitgekap (spelaion  waar ons woord ‘spelonk’ vandaan kom) word Jesus se gemoedstoestand weer beskryf as diep bewoë in Homself (embrioomenos en heautoooi). Marta wil Jesus se opdrag keer, dat die steen voor die graf weggerol moet word. Sy veronderstel dat die lyk na vier dae al begin ontbind, en sê: ‘(die lyk) stink al, want dit is die vierde dag.’ Daarmee bevestig sy dat daar geen hoop meer op lewe is nie, Lasarus is werklik dood. Die Joodse balsem met reukolies was bedoel om die stank te bedwing, anders as die Egiptiese prosedures om die liggame te bewaar.

11:40 Die brutale werklikheid van die dood laat Marta se vaste geloof in die Seun van God (11:27) wankel. Sy het vergeet wat Jesus vir haar gesê het: as jy glo sal jy die heerlikheid van God sien (vgl. 11:4,23,25) – om dit te sien moet jy eers glo. Almal sal wel die wonder van die opwekking voor hulle oë sien, maar terwyl sommige daarin die heerlikheid van God en van Jesus sal herken en in Hom glo (11:45), gaan ander van die Jode heen en sit juis die proses aan die gang om Hom dood te maak, op grond van wat hulle gesien het (11:46-50).   

 

11:41-42  Hulle het die klip weggerol (heran) en Jesus het sy oë na bo opgeslaan (heren; NAV het opgekyk) en hardop gebid terwille van die omstanders – Hy self lewe in volledige en konstante gemeenskap met die Vader;  alles wat Hy doen, doen Hy en die Vader saam (vgl. 4:34; 5:30,36) en sy woorde is die Vader se woorde (3:32; 8:26,28) . Hy spreek God aan as ‘Vader’ (nie ‘onse Vader’ soos Hy die dissipels geleer het nie), meer direk en persoonlik. Hy weet vas en seker dat God Hom altyd verhoor – en deel is van sy beplanning sedert 11:4,6.  Sy gebed is meer danksegging as ‘n versoek. Hy bid egter dat  mense tot geloof oortuig sal word deur die wonder, nie dat Hy ‘n wonderwerker is nie, maar dat die Vader Hom in die gestalte van ‘n gewone mens gestuur het as die Messias (gesalfde koning) vir die verlossing en heil van die  wêreld; die wonder moet ‘n teken wees van die koningskap van God. Dit gaan alles om die heerlikheid van God (doksa 11:40, NAV mag van God), wat deur Jesus werk. So wil Jesus ook dat elke gelowige ‘n werktuig en kanaal van God se heerlike liefde word, deur ‘n konstante gemeenskap met God deur die Heilige Gees wat in ons woon.

 

11:43 Met ‘n luide stem roep Jesus so hard dat almal kan hoor (soos in 7:37; in 5:8 en 9:7 word slegs ‘n persoonlike opdrag gegee): ‘Lasarus kom uit!’ Met slegs drie luide woorde geskied die wonder (deur die Woord skep God, Joh. 1:2; Gen.1:3, en herskep Hy, Hy is die opstanding en die lewe, in wie die Lewe is, Joh.11:25, 1:4; 5:25-26). 

 

11:44 Met hande en voete nog verbind en ‘n doek om die kop kom Lasarus uit die graf. Die toneel eindig met Jesus se opdrag om hom los te maak en te laat gaan. Daarmee word die bewys gelewer van die belofte van 11:23: Jou broer sal uit die dood opstaan.  Jesus is self die opstanding en die lewe (11:25), en wie in Hom glo sal lewe al sterf hy ook… en elkeen wat lewe en in Hom glo sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (11:25-26).

 

Hierdie sewende wonderteken deur Jesus, wat Johannes opteken, is die klimaks van die reeks tekens in hierdie Evangelie, maar wys ook na die grootste wonderteken van Jesus se opstanding uit die dood. Lasarus kom met die grafdoeke uit die graf as teken dat hy weer gaan sterf. Jesus se doeke lê opgerol in die graf as teken dat Hy nie weer sterf nie en die dood oorwin het. Lasarus word ‘n heenwysing na ons hoop op ons opstanding saam met Jesus, wat die opstanding en die lewe is, deur wie die Christusgelowige in alle ewigheid nooit sterwe nie (11:25,26); Marta is die heenwysing na ons geloof in Christus, die Seun van God wat moes kom om ons lewe van die dood te verlos tot ‘n lewe vir God (11:26); Maria is die heenwysing na ons liefde vir Jesus met haar salwing van Jesus se voete met kosbare olie, wat sy met haar hare afgedroog het (12:3).    

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde?

Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde? – Kobus Kok

Jan Smith vra:

Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde? Hoe presies is Jesus God?

Antwoord:

Prof. Kobus Kok antwoord:

Die Christelike geloof aanbid die Vader, Seun en Heilige Gees as drie-enige God. Hierdie drie entiteite is ‘n persoon in eie reg, maar is ook onlosmaaklik aan mekaar verbind. Sommige mense dink dat Jesus tydens sy aardse bestaan net uit “twee” in plaas van “drie” bestaan het, omdat hy eers na sy opstanding uit die dood deur God verhef is tot die goddelike posisie van die “Seun”. Hoe moet mens die goddelikheid van Jesus verstaan? Kan mens van die “afwesigheid” van Jesus in die drie-eenheid praat ten tye van sy aardse lewe? ‘n Ander belangrike vraag is hoe mens die Heilige Gees moet verstaan, want dit is dan eers uitgestort nadat Jesus se aardse bediening basies klaar was. Dit is sommige van die vrae waarmee een van ons lesers worstel.

 

Die drie-eenheidsleer het oor ‘n baie lang tyd ontwikkel en is eers etlike eeue na die historiese gebeure werklik eers “uitgewerk”. Die sin waartoe gekom word, word ook retrospektief terugwerkend in die geskiedenis “ingelees” deur verbande te trek tussen verskillende konsepte wat implisiet in die Bybelse tekste en die verstaan daarvan in die vroeë kerk reeds teenwoordig was.

 

Verder is daar in die Bybelse materiaal ook verskillende hoeke waaruit die verskillende skrywers die saak benader. Die leer oor die drie-eenheid is dus ‘n geabstraheerde vorm van singewing wat ‘n sintese verteenwoordig van die diverse stemme binne die Nuwe Testament.

 

Die evangelie wat dit vir my die mooiste verduidelik is Johannes.  Johannes begin in sy proloog (Joh 1:1-18) met die verklaring dat Jesus reeds van die heel begin van die skepping reeds by God en self God was. Dit is vir ons vreemd om die en-en dimensie te verdiskonteer. Vir die antieke mense was dit nie so moeilik nie. Johannes werk met die beeld van ‘n koning, sy oudste seun en die familie. In die antieke tyd sou ‘n koning dikwels sy seun stuur om namens hom bepaalde take te verrig. Vir alle praktiese doeleindes het die seun die koning verteenwoordig by die mense na wie hy gestuur was. Die wat hom goed ontvang het, het die koning goed ontvang en die wat die seun sleg ontvang het, het eintlik die koning sleg ontvang en sy eer aangetas. Volgens Johannes het God, as Koning-Vader, sy Seun gestuur na die aarde toe om Sy wil te kom bekendmaak (Joh 1:18). Jesus sê self in Johannes dat hy niks kan doen sonder die Vader nie (Joh 5:18vv). Inteendeel, Jesus sê in hierdie gedeelte dat sy vermoë om lewe te gee van die Vader af kom. Vir die antieke mense was daar net Een persoon wat lewe kon gee, en dit was God. God wat lewe is, en lewe gee, het dus sy vermoë om lewe te gee aan sy Seun “oorgegee”. God die Vader in Johannes se evangelie bemagtig dus sy Seun om lewe te gee soos wat Hy lewe gee. In Johannes 11 is Lasarus dood. Jesus bid dan tot God om Lasarus uit die dood op te wek sodat die mense ook kan sien wie Jesus regtig is, naamlik die Seun van God. Hier word Lasarus nog “bemiddelend” opgewek. Die groot vraag is egter wat gaan gebeur as Jesus self sy eie lewe verloor? Dan lees ons in Johannes 10:17-19 dat Jesus sê dat hy sy eie lewe gaan neerlê en dat hy dit self weer gaan “opneem”. Geen mens kan dit doen nie. Indien mens die dood kan oorwin en lewe kan gee, kan jy net een persoon wees, en dit is God. Maar in Johannes se denke is dit God wat aan sy Seun die vermoë gee om lewe te gee. Uiteindelik sterf Jesus aan ‘n kruis (Joh 18-19), maar wek dan homself, met die lewe-skeppende vermoë wat God aan hom gegee het, op tot lewe. Die wat hom na die tyd sien, en besef dat hy nie net die vermoë het om lewe te gee nie, maar self lewe in homself het (Joh 1:4), kan dan nie anders nie as om te verklaar dat hy (soos) God is nie. Daarom lees ons in Johannes hoe Thomas, nadat hy die opgestane Jesus sien en aan hom aanraak, verklaar dat Jesus sy “God (Theos) en Here (Kurios) is. In die Griekse Ou Testament word die woorde Theos en Kurios vir God gebruik. Thomas maak dus die (regte) verklaring dat Jesus God is. Jesus blaas (Joh 20) dan oor die dissipels en sê vir hulle “ontvang die Heilige Gees”. In Johannes is die Heilige Gees die trooster, die advokaat en die een wat die gelowiges sal lei in waarheid. Die Heilige Gees is ‘n eie entiteit, maar gaan instrumenteel uit van God en die verhoogde Christus in diens van God se wil. Die wat Johannes lees sal besef dat daar in Johannes se kop ‘n duidelike struktuur was. God is die Vader en Hy is die een wat die Seun en die Heilige Gees stuur. Hulle is een in wese maar nie dieselfde nie – hulle is immers drie persone, maar funksioneer as ʼn (een) span. Dit is dikwels moeilik vir ons om dit te verstaan omdat ons vanuit ons menslike beperkinge daaroor moet dink. Dit is soos om mannetjies in ‘n twee-dimensionele wêreld te vra om te verduidelik wat in ‘n drie-dimensionele wêreld gebeur. Die mense in die twee-dimensionele wêreld kan nie eens begin om te verstaan hoe die drie-dimensionele wêreld funksioneer nie, omdat hulle nie daartoe toegang het nie. Een van die beste voorbeelde wat ek aan kan dink is die dag toe iemand uit ons drie-dimensionele wêreld daarin geslaag het om met twee dimensionele mannetjies in ‘n papier-wêreld te kommunikeer en vir hulle moes verduidelik hoe ‘n rugbybal lyk. Hy waag dit toe om die drie-dimensionele rugbybal na die tweedimensionele wêreld te stuur. Die probleem was net dat die arme twee-dimensionele mannetjies die kontoere van die rugbybal net binne húlle dimensie kon sien. Sommige van hulle teken toe wat hulle sien. Sommiges het duidelike sirkels gesien terwyl ander weer duidelik ovaalvormige prentjies gesien het. Hulle het dag en nag verskil oor die presiese aard van die rugbybal. Dit het tot kerkskeuring gelei. Die drie-dimensionele wese probeer toe om vir hulle te sê dat die rugbybal ‘n kombinasie is van almal van hulle se perspektiewe en dat almal van hulle se perspektiewe wel reg was.  Vir hulle was dit onmoontlik om te verstaan. Die een figuur sluit dan die ander een uit. Net so is dit vir ons baie moeilik om te verstaan en kan ons dikwels tot op die fynste punte met mekaar verskil oor die aard van Jesus se goddelikheid.

Paulus het so effense anderse manier as Johannes om dieselfde saak te beskryf. In die bekende Kolossense 1:15-20 (vgl. ook Filippense 2:5-11), wat ‘n bekende vroeë Christelike himne was, verduidelik Paulus dat Jesus die beeld van die onsienlike God is, die eersgeborene van die ganse skepping. ‘n Beeld is immers ‘n prentjie van die oorspronklike. Die beeld verteenwoordig die oorspronklike. Net so verteenwoordig Jesus die beeld van God, maar is hy ook God. By Paulus vind ons egter ook soos by Johannes die gedagte van hiërargie – naamlik dat Jesus deur God verhoog is en deur God self ‘n ereplek toegeken is (vgl. Fil 2:5-11).

 

Dit is en bly ‘n moeilike vraag hoe mens die presiese aard van Jesus se goddelikheid moet verstaan. Ons is immers soos twee-dimensionele wesens wat ‘n drie-dimensionele begrip wil verstaan. In ‘n sekere mate is ons blote vrae verkeerd, omdat dit vanuit ‘n twee-dimensionele perspektief gevra word.

Die belangrike vraag is egter nie hoe presies Jesus God is nie, maar die punt dat hy God is.

Tog was die vraag rondom die hoe presies Jesus God is, vir die vroeë kerk baie belangrik. Die verskillende sentra (Alexandrië in Egipte en Antiogië in Sirië) van die vroeë kerk het ook nie heeltemal saamgestem oor die saak nie. Die Nuwe Testament op sigself vertoon ‘n verskeidenheid van stemme. Vir die eerste Christene, wat vanuit ‘n Joodse wêreldbeeld prioriteit verleen het aan die monoteïsme (dat daar net een God is), beeld Jesus uit op ‘n wyse dat die monoteïsme nie in gedrang kom nie. So word Jesus die beeld van God genoem of die Seun van God, en by sommiges soos Paulus word Jesus verklaar as God, maar dan via die aksie van God. Een so ‘n voorbeeld is Filippense 2:5-11. In Filippense 2:9-11 staan daar: “Daarom het God hom verhoog en hom die naam gegee wat bo alle name is… sodat elke knie sal buig en elke bely dat Jesus Here (kurios in Grieks) is – tot eer van God die Vader. Ons sien dus hier iets baie belangrik raak – naamlik dat God die handelende subjek is wat die aksie van die werkwoorde verrig. God is die een wat Jesus verhef tot op so ‘n vlak dat mense kan bely Hy is Here. Hierdie belydenis, volgens Fil 2:11, geskied tot die eer van God.

 

In die vroeë kerk het daar vinnig verskillende Christelike groepe regoor die wêreld ontstaan. Sommige groepe wat meer Joods georiënteerd was en bekend gestaan het as die Ebioniete, het die goddelikheid van Jesus nie aanvaar nie. Hulle het eerder klem gelê op Jesus se mensheid. Aan die ander kant was daar die Docetisme. Die word Docetisme is afgelei van die Griekse word dokêo ­, wat “dit lyk so/wil so voorkom” beteken. Hulle het weer geglo het dat Jesus God was en dat hy nie volkome mens was nie – dit het net gelyk of hy mens was.

 

Van die beginjare van die patristiese tydperk (vanaf die tweede eeu) was daar dus alreeds intense debatte oor die presiese aard van Jesus se goddelikheid. Hierdie debatte het hulself uitgespeel in die twee prominente sentra in die vroeë kerk, naamlik in die Alexandrynse skool in Alexandrië en in die Antiogeense skool in Antiogië. Die Alexandrynse skool het die klem laat val op die goddelikheid van Jesus en tekste soos Johannes 1:14 het ‘n belangrike rol in hulle denke oor die inkarnasie (menswording van Jesus) gespeel. Die Antiogeense skool het weer die klem laat val op die menslikheid van Jesus en veral ook op Jesus se lewe as morele voorbeeld vir gelowiges.

 

Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) was een van die bekendste vroeë kerklike apologete. Apologete het die Christelike geloof verdedig teen die aanvalle vanaf die kant van die heidene. Justinus, wat diep kennis van die Griekse filosofie het, ontwikkel die leer van die logos spermatikos (die saad [sperma] draende woord [logos]). Hy neem dus bekende terme en konsepte uit die heidense filosofie oor om die aard van die Christendom mee te beskryf – dit is ʼn tendens wat in die Oosterse kerk sterk was. Die gedagte van die logos (woord) kom van Stoïsisme en Middel Platonisme. Hulle het geglo dat die logos die primêre bron van alle menslike kennis is. Justinus het geglo dat die Logos bekend is en toeganklik is vir beide Christene en heidene maar dat die Christene, op grond van die feit dat Jesus self die Logos is (vgl. Joh 1:1-18), spesiale en volle toegang het tot die waarheid. Volgens Justinus kan mens wel iets van die waarheid raaksien by heidense filosowe soos Heraclitus en Socrates, maar hulle het maar net stukkies van die waarheid beet. Net so belangrik was die gedagte van die logos spermatikos, wat uit Middel Platonisme kom. Volgens hierdie leer het die Goddelike Logos saad gesaai regoor die wêreld en regoor die geskiedenis. In ander gelowe kry mens stukkies van die waarheid, maar in die Christendom kry mens die vervulling daarvan. Die Christendom bou dus voort op dit wat alreeds aanwesig was in ander gelowe (soos Judaïsme), maar die ware volheid daarvan kom eers tot vervulling in die Christendom. In sy tweede apologie skryf Justinus:

Ons geloof/religie is duidelik verhewe bo enige ander menslike leer: die Christus wat verskyn het ter wille van ons menslike wesens verteenwoordig die Logos-beginsel in sy volheid… Wat ook al regsgeleerdes of filosowe goed/reg gesê het, het hulle gedoen op grond van sommige aspekte van die Logos. Maar aangesien hulle nie die Logos in sy volheid geken het nie –  wat Christus is – weerspreek hulle dikwels hulself.

 

Volgens Justinus het ons nou volle toegang tot die Logos – die bron van wysheid, omdat Jesus die Logos was. In die jare wat volg sou die vraag steeds wees hoe is Jesus deel van die Godheid?

Een van die mees intense debatte in die vroeë kerk staan bekend as die Ariaanse kontroversie (Arian controversy). Arius (250-336 n.C.) het geargumenteer dat Jesus nie gelyk in status aan God kan wees nie. Arius het gemeen dat Jesus self deur God geskep is, soos mens byvoorbeeld in Kolossense 1:15-20 lees, alhoewel hy die eersgeborene van die skepping was. Hierteenoor het ander kerkvaders soos Athanasius hewig in reaksie gekom en geargumenteer dat indien mens nie Jesus se goddelike natuur na waarde skat nie, die soteriologie (redding van die mens) skade lei. Volgens Athanasius was Arius se Christologie (leer oor Christus) eintlik soteriologies gesproke bankrot. ʼn Ariaanse Jesus kan nie die gevalle mensdom red nie. Uiteindelik het die vroeë kerk die leer van Arius verketter.

 

Enkele jare daarna het die Appollinarian debat ontstaan. Dit het saamgehang met die leer van Apollinarius van Laodisea (310-390 n.C.). Laasgenoemde het ook hewig in opstand gekom teen die leer van Arius en geargumenteer dat Jesus nie beskou kan word as dat hy ten volle mens was nie. In sy argumente het hy gebruik gemaak van die reeds bestaande argumente en terme in die Griekse filosofie. Hy het gepostuleer dat die menslike gees van Jesus vervang was met die goddelike logos (woord). Gevolglik kan daar nie gesê word dat Jesus waarlik ʼn mens soos ons was nie. In latere jare het ander kerkleiers weer gevoel dat die leer van Appollinarius onvoldoende was en te veel teoretiese probleme tot gevolg gehad het. Een so ʼn persoon wat van Appollinarius verskil het, was die bekende Gregory van Nazianzus wat geoordeel het dat hierdie leer daarop neerkom dat Jesus nie ten volle die menslike natuur kon verlos as hy self nie heeltemal mens was nie.

 

Die debatte in die vroeë kerk was so intens dat die eerste Christelike keiser, Konstantyn, ʼn vergadering/konsilie byeen geroep het, omdat hy onder andere besef het dat al die debatte die potensiaal het om sy ryk te skeur. Die eerste konsilie staan vandag bekend as die Konsilie van Nicea wat in 325 n.C. in Nicea (vandag se Iznik in Turkye) gehou is. Konstantyn het al die biskoppe van regoor die wêreld byeen laat kom om probleme op te los. Een van die grootste debatte op die konsilie het gesentreer rondom die kontroversie rondom Arius se leer waarna ons hier bo verwys het. Die ganse debat wat vir ʼn besondere lang tyd plaasgevind het, het gesentreer rondom een Griekse lettertjie. Die vraag was of Jesus homoousios – dieselfde substansie/een in wese met God is, en of Jesus homoiousis – soortgelyke substansie – was? Nicea het uiteindelik gekonkludeer dat Jesus homoousios is – een in wese en van dieselfde substansie met God. Daarmee is die leer van Arius verwerp. In die jaar 451 is die vierde ekumeniese konsilie in Chalcedon gehou en daar is die besluite van die konsilie van Nicea weer bekragtig, en het hulle weereens intens gedebatteer oor nuwe sake wat opgeduik het oor die menslikheid van Jesus.

 

In die tyd wat daarop gevolg het, was daar nog steeds debatte. Alhoewel die konsilies uiteindelik die konsensus van die vergadering gehandhaaf het, was daar steeds baie Christelike groepe wat nie saamgestem het met die vergadering se besluit nie. In die sesde eeu het daar reuse debatte ontstaan oor die natuur van Christus en weereens was daar twee strominge  – die monophysitism – die leer dat daar net een (monos) natuur (physis) in Christus is en waar die fokus op sy goddelike natuur val. Hierdie siening was veral sigbaar in die oosterse Mediterreense kerke, insluitende die Koptiese, Arminiaanse, Siriese en Abessiniese kerke. Die Chalcedon posisie staan bekend as dyophysitism, of die twee-nature leer.

 

Daar is dus geen eenvoudige antwoord op die vraag nie. Die presiese aard, die hoe van Jesus se goddelikheid is ʼn misterie. Daarom is die belydenis dat Jesus God is, ʼn geloofsverklaring wat fokus op die feit dat Jesus God is.

 

Bronverwysing:

Indien u meer oor hierdie belangrike kwessie wil leer kan u die volgende bron raadpleeg:

McGrath, A., 2000, Christian Theology: An introduction, Blackwell Publishers, Oxford, pp. 319-357.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Jesus tot trane beweeg (11:28-37)

Jesus tot trane beweeg (11:28-37) – Francois Malan

11:28 Na haar belydenis (v27) gaan roep Marta haar suster Maria ‘in die geheim’ sodat die besoekers nie hoor nie en sy alleen met Jesus kan gaan praat, wat haar laat roep het. Marta verwys na Jesus as ‘die Leermeester (ho didaskalos)’ – Marta en Maria is ook leerlinge van ‘die Leermeester.’ ‘n Joodse rabbi het nie vroue leerders gehad nie; Jesus aanvaar mans en vroue as sy leerders.

11:29-31 Maria haas haar na Jesus wat nog buite die dorp is. Die Jode wat haar kom troos het, het nie gehoor wat Marta vir Maria gesê het nie, en dink sy gaan by die graf huil. Hulle gaan om haar daar te troos, en word so getuies van die wonderwerk van  Lasarus se opwekking uit die dood deur Jesus.

 

11:32 Maria kry Jesus nog op dieselfde plek waar Marta met Hom gepraat het. Toe sy Hom sien val sy voor  sy voete neer om haar hart voor Hom uit te stort. Sy spreek Hom aan as ‘Here’ (kurios). Sy glo ook dat Jesus as die Here hulle siek broer kon genees het; nou is dit te laat; sy dink nie aan ‘n moontlike opwekking uit die dood nie.

 

11:33 Daar bestaan twee tradisies oor die vertaling van die twee Griekse uitdrukkings in hierdie teks: (i) ‘het sy gemoed vol geskied’ of ‘Hy was kwaad in sy gees’ (ii) ‘en was Hy aangedaan’ of  ‘en Hy was self erg ontsteld.’

Die Afrikaanse vertalings volg die Engelse tradisie en vertaal op die eerste manier, wat beter pas by 11:35 ‘Jesus het gehuil.’: Toe Jesus die huilende Maria en die huilende Jode by haar  sien, het sy gemoed vol geskied en was Hy aangedaan. Jesus, ware God en ware mens, was diep bewoë deur innige meegevoel met die geliefde gesin (vgl. Rom 12:15; Mat 5:4).

            Die Duitse tradisie volg Luther se vertaling van die Griekse woord in (i): ‘kwaad wees,’ ‘n betekenis van die Griekse woord wat ook gebruik word vir ‘n perd wat snork van ontsteltenis of van woede. In Daniël 11:30 gebruik die Griekse vertaling dié woord vir ‘woedend wees,’ Matteus 9:30 gebruik die woord vir ‘streng beveel’; Markus 9:43 ‘ernstig aanspreek; Markus 14:5 ‘teen haar uitgevaar.’ (ii) Die tweede uitdrukking sê: Hy was self erg ontsteld. Die Duitse tradisie verklaar sy ontsteltenis as sy woede oor die ongeloof van die skare huilendes wat treur omdat hulle geen hoop het nie (1 Thes.4:13)  en oor die verwoestende werk van die dood op die mens.

            Moontlik het Johannes die dubbelsinnige Griekse woorde gebruik om altwee die betekenisse oor te dra.

 

11:34  Jesus begin optree. Hy vra waar die graf is. Grafte is dikwels uitgekap in rotse in die berge, om ‘n klein kamer te vorm wat ‘n mens kon binnegaan. Die opening is oop- en toegemaak met ‘n plat ronde klip, wat in ‘n groef voor die opening gerol kon word. Betanië lê aan die oostekant van die Olyfberg. Hulle nooi Jesus om te kom kyk.

 

11:35 ‘Jesus het gehuil’ (dit is die kortste vers in die Bybel); hy stort trane van droefheid en hartseer (vgl. Hebr.2:14,17; 4:15 vir sy barmhartige medelye as mens). Die Griekse woord dakruoo verwys na die trane, maar nie na ‘n luide gehuil klaioo soos Maria  en die Jode nie (v31), of  alalazoo soos die roubeklaers se geskreeu by Jaïrus se dogtertjie nie (Mk 5:38,39).

 

11:36-37 Die vyandiggesinde Jode probeer Jesus se trane verklaar. Party meen dit is ‘n bewys van die liefde tussen Jesus en Lasarus. Ander verwyt Hom dat Hy nie die siek Lasarus gesond gemaak het nie, en nou uit frustrasie huil. Daarmee werp hulle twyfel oor Jesus se mag om te kan red. Later, met sy intog in Jerusalem, huil Jesus hardop oor die onbekeerlikheid van die stad se mense, dat hulle blind is vir Hom wat vir hulle vrede bring en nie besef dat God gekom het om hulle te red nie (Lukas 19:41-44). Die Jode besef nie dat Jesus oor hulle huil en nie oor Lasarus nie (vgl. die rede vir sy gebed in 11:41).

 

Skrywer: Prof Francois Malan