Kundalini

Kundalini – Jan van der Watt

Jan Smith vra:

Na aanleiding van die artikel “Bid en omval” het ek verneem oor iets wat die Kundalenigees genoem word wat sogenaamd die plek van die Heilige Gees inneem en mense so verlei. Wil graag verneem wat die omvang van hierdie verleiding is, asseblief?

Antwoord

Prof Jan van der watt antwoord:

 

Kundalini is ’n woord wat ‘die opgerolde’ beteken. Dit verwys na ‘n soort energie wat glo in ’n spiraalvormige kanaaltjie aan die onderkant van die rugwerwelkolom sit. Daar word gesê dat die energie deur meditatiewe tegnieke ontsluit kan word, hoewel dit in beperkte mate daagliks in mense ook kan werk. Dit is hoofsaaklik bekend in areas en godsdienste wat met meditasie te doen het. Die Christendom is nie een van die godsdienste nie. Daarom sal waarskynlik heel min Christene die woord ken.

 

Christene glo in die een ware God en Gees wat nie plek maak vir ander spirituele kragte nie. Hy is almagtig en alle krag lê by hom. Dit is wel moontlik dat ’n mens jou egter oopstel vir die werk van ander geeste. In 1 Joh 4:1-3 word daar gewaarsku teen sulke geeste wat mense kan mislei. As dit nie van God af kom nie, is dit van die bose af en moet dus vermy word. Die toets of ’n Gees die regte Gees is, is of die Gees jou in die arms van Jesus plaas en jou laat doen wat Hy gedoen het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die fees van die tempelwyding – die Jode verwerp Jesus (10:22-42)

Die fees van die tempelwyding – die Jode verwerp Jesus (10:22-42) – Francois Malan

Die Jode vra: is U die Christus? (vervolg)

 

10:26-27 Die Jode het die woorde van Jesus gehoor en sy wonders gesien, maar ten spyte daarvan het hulle nie geglo nie, omdat hulle nie van sy skape is nie – daarmee is Jesus terug by die beeld van die Herder wat soggens sy skape kom roep. Volgens 6:36-37,44,65 kom slegs dié agter Hom aan wat die Vader vir Hom gee, wat die Vader na Hom toe trek, aan wie die Vader dit gegee het, terwyl die Jode Hom sien, maar nie in Hom glo nie. Die verantwoordelikheid rus op hulle om vír Hom te kies. In 10:38 pleit Hy weereens dat hulle sy werke moet glo om te kan insien dat Hy God is.

 

Hy ken sy skape – in 10:14-15 is daarop gewys dat ‘ken’ ‘n ryk betekenis het. Dit dui op ‘n intieme verhouding van erken, deurgrond en liefhê, ‘netsoos die Vader My ken en Ek die Vader ken.’ Sy skape luister na sy stem. Gewillig gehoorsaam hulle Hom, en volg Hom as persoon volgens sy woord, in die vertroue dat hulle aan Hom behoort en Hy vir hulle sal sorg en reg lei. Vir die mens is dit ‘n keuse, ‘n wilsbesluit. Van God se kant af is dit ‘n roep, ‘n uitnodiging, oortuigingswerk, deur sy genadige liefdesaanbod in Christus om tot die mens deur te dring. 

 

10:28 Jesus se volgelinge hoor Hom en volg Hom (twee aksies) – Hy ken hulle en gee aan hulle die ewige lewe (twee aksies). In 10:10 het Hy gepraat van lewe in oorvloed. Nou verduidelik Hy dat dit ook vir ewig is, en nou reeds begin. Daarby gee Hy twee beloftes: (i) hulle sal nooit verlore gaan soos skape wat verdwaal of uitmekaar gejaag word nie, en (ii) niemand sal hulle uit die hand van die Herder ruk nie (anders as met ‘n huurling v12). Hulle is vir tyd en ewigheid geborge. Niemand en niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie (Rom 8:38,39; vgl. Jes 43:1-2).

 

10:29 Die Griekse teks is onseker weens die verskillende weergawes in verskillende manuskripte. Die 1983-vertaling volg Vaticanus (4e eeu): Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal’.  Die 1953-vertaling volg kodeks Sinaïticus (4e eeu) se lesing wat grootliks met papirus 66 (3e eeu) saamstem: My Vader, wat hulle vir my gegee het, is groter as almal.’ Dit gaan in elke geval om die skape/mense wat die Vader aan Jesus gegee het. Die grootste of belangrikste van almal is óf die Vader, óf die mense wat die Vader gekies het. In die eerste geval gaan dit om die Vader wat groter is as enige ander mag in die heelal. In die tweede geval is dit die mense wat aan Jesus toevertrou is, wat vir Hom die kosbaarste is. Die  Vader is die almagtige en sy almag waarborg die ewige bewaring van dié mense wat aan Jesus behoort. Daarom het Jesus se volgelinge niks te vrees nie.     

 

10:30 In 10:28-29 het Jesus gepraat van sy hand en die Vader se hand – dat niemand sy volgelinge uit hulle hand sal ruk nie. Hier volg nou ‘n kernagtige gevolgtrekking. Dit beteken: Ek en die Vader is een. Die Griekse onsydige woord hen ‘een’ dui aan dat hulle een is in optrede, nie in persoon heis (die manlike vorm van ‘een’) nie, soos geblyk het uit 1:1-2 ten opsigte van die die verhouding tussen die Vader en die Seun: die Woord van God by God en self God, deur wie alles tot stand gekom het. Daarmee verklaar Jesus openlik dat Hy, net soos die Vader, ook God is.

            Die Jode het geëis dat Hy reguit sê of Hy die Christus is (10:24). In sy antwoord bevestig Hy dat Hy wel die Gesalfde Koning is, nie om ‘n nuwe koninkryk vir Israel op te rig nie, maar om as die goeie Herder aan sy skape die ewige lewe te skenk en hulle veilig te lei en te bewaar. Nou sê Hy veel meer as wat die Jode gevra het. Hy verklaar openlik dat Hy en die Vader een is, en dat Hy dus self ook God is. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Verdeelde reaksie onder die Jode (10:19-21)

Verdeelde reaksie onder die Jode (10:19-21) – Francois Malan

10:19 Daar het toe weer verdeeldheid onder die Jode gekom (vgl. 7:43; 9:16) oor ‘hierdie woorde’. Veral twee woorde in die voorafgaande gedeelte het aanstoot gegee: (i) die wyse waarop Jesus gepraat het oor die verhouding tussen Hom en die Vader, wat deur sommige as godslastering beskou is; (ii) die gedagte dat Hy sy lewe kan aflê en weer opneem, het buite die ervaring en verbeelding van die mens gelê.

10:20 Baie sê Hy het ‘n duiwel – is in bondgenootskap met die duiwel (soos drie maal tevore 7:20; 8:48,52), en voeg by: Hy is mal – irrasioneel, onder beheer van ‘n bose gees. Met uiters beledigende taal sê hulle Jesus is nie vir sy woorde verantwoordelik nie, omdat Hy onder beheer van die duiwel sou staan.  Daarom moet niemand na Hom luister nie.

 

10:21 Ander is verwonderd oor die wonderdade wat Jesus gedoen het, veral die blindgeborene se oë wat geopen is. Dit kon alleen deur ‘n gunsgenoot van God gedoen word (9:31), nie in diens van die duiwel nie, en daarom moet na sy woorde geluister word, as iemand wat van God af kom. Maar of hulle dit alles kan glo bly moeilik. 

 

Die fees van die tempelwyding – die Jode verwerp Jesus (10:22-42)

 

Die Jode vra: is U die Christus? (10:22-30)

10:22-23 Tydens die Loofhuttefees in Jerusalem (7:10) verwys Jesus na die Heilige Gees as ‘strome van lewende water’ wat sal vloei uit die binneste van dié een wat in Hom glo (7:38). Daarop volg sy strydgesprek met die Jode (hoofstuk 8), die genesing van die blindgeborene (hoofstuk 9), en die goeie herder (10:1-21). Twee maande na die Loofhuttefees, volg die fees van die Tempelwyding (Chanukkah –weidingsfees) wat op die 25e van die maand Kislev (November-Desemer) vir 8 dae lank begin.

            [Na hulle terugkeer uit ballingskap in Babilonië in 538 v.C. bly die Jode onder die Persiese regeerders tot die Grieke onder Alexander die Grote die Perse in 333v.C. verslaan. Na sy dood in 323 v.C. word Alexander se ryk verdeel onder drie van sy generaals: Antigonus in Griekeland, Seleukus in Asië, Ptolemeus in Afrika. Die Jode val toe onder Ptolemeüs in Egipte in die suide, totdat Seleukus se nageslag, wat in Sirië noord van Israel regeer, die Ptolemeërs in 198 v.C. verslaan en Palestina vir hulle vat.  Antiogus IV Epifanes regeer van 175-164 v.C. Hy beveel die Jode om hulle godsdiens en wette te los en die Griekse god Zeus te aanbid, rig ‘n beeld van Zeus in die tempelterrein op, en begin om varke op die altaar vir Zeus te offer op 25e Kislev 167 v.C. (vgl. Dan. 11:31 se gruwel vir die Here, wat ‘n toekoms simbool word in  Mat 24:15). Daardie dag begin die Joodse opstand onder leiding van Judas Makkabeus,  wat die tempel in 165 v.C. reinig en op 25 Kislev weer offers bring ‘soos die wet dit bepaal.’  Die volk vier vir 8 dae fees, en dit word bepaal dat die fees jaarliks gehou word. Die fees word nie in die Ou Testament genoem nie. In 63 v.C. neem die Romeine beheer oor Palestina oor by die Joodse Makkabeërs, en in 47v.C. stel Julius Caesar die Idumeër Antipas, die pa van Herodes die Grote, aan as die goewerneur van Judea.]

            15 Desember tot 15 Februarie is winter in Palestina, maar weerspieël ook die vasgevriesde gees van die Jode en hulle koudheid teenoor Jesus, juis tydens die fees wat die groot bevryding van die Jode uit die afgodsdiens en die triomf van die ware godsdiens in Israel vier. Die groot vreugdefees is in elke huishouding gevier, en is gekenmerk deur lig, daarom word die fees ook Foota‘(‘ligte’ in Grieks) genoem. Op elk van die 8 dae van die fees word ‘n lamp aangesteek tot al 8 brand op die laaste dag.  Jesus loop in die 15 meter breë pilaargang van Salomo wat al langs die oosgrensmuur om die tempel opgerig is om die volk te leer. Dit is reëntyd, en die pilaargang bied skuiling teen wind en weer. Later is dit ook die plek waar die eerste gemeente vergader (Hand.5:12).

 

10:24  Die vyandige Jode/leiers omsingel Jesus sodat hy van sy volgelinge afgesonder is. Hulle verwyt Hom dat Hy hulle onnodig in onsekerheid hou. Hulle eis ‘n ondubbelsinnige uitspraak dat Hy die Christus is. Dit terwyl Jesus telkens duidelik gepraat het van sy unieke verhouding tot die Vader (vgl. 5:17; 10:15,17, ens.). Maar hulle het geweier om te aanvaar dat Hy deur God gestuur of die Seun van God is. Maar omdat Jesus soms beelde gebruik het, soek hulle ‘n antwoord wat nie in beeldspraak of met vergelykings ingeklee is nie. Die Jode verwag ‘n politieke bevryder as Messias/Christus (Gesalfde). As Jesus nou openlik verklaar dat Hy die Christus is, kan die Jode Hom by die Romeinse owerheid aankla as die leier van  ‘n opstand.       

 

10:25 Jesus antwoord met ‘n indirekte vraag wat na sy woorde en wonderwerke verwys as getuienis dat Hy van God af kom. Hy is God se besondere Gesant, wat God sy Vader noem. Hy is inderdaad die  beloofde Messias, maar gee nie ‘n direkte antwoord nie, want hulle beskou die Messias as ‘n politieke figuur wat hulle van die Romeinse owerheid sal verlos. Dit is Jesus beslis nie. Hulle  idee en verwagting van die Messias maak dit vir Hom onmoontlik om bloot te sê Hy is die Messias, want Hy is ‘n ander soort Messias as waaraan hulle aan dink. Hulle ongeloof en onwilligheid om ‘n ander soort Messias as hulle vooropgestelde idee te aanvaar is die probleem, nie sy getuienis nie. Aan die Samaritaanse vrou wie se geloof begin blom het, het Hy dit duidelik gesê (4:25,26; ook aan die blindgeborene 9:35). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Bid en omval

Bid en omval – Jan van der Watt

Annalie vra:

Ek was gister by ‘n dames byeenkoms waar iemand vir my gebid het. Sy het gebid en my liggies agtertoe gestamp. ‘n Ander person het vir my gevang en op die vloer laat lê. Ek kan nie verduidelik wat in die tyd met my gebeur het nie, maar wil weet of dit tot God se eer strek. Ek is in ‘n baie konserwatiewe kerk en ken nie hierdie manier van bid nie, ook nie om in tale te praat nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

 

Miskien net so klein bietjie breë agtergrond oor hierdie saak. Net na die periode van die Verligting (einde 17 en begin 18e eeu, wat die einde van die Middeleeue ingelei het) het die mense baie met hulle verstand (rede) na dinge begin kyk, ook na die Bybel. Hulle het geargumenteer dat as jy iets nie met jou verstand kan verklaar nie, dit eintlik nie waar is nie. So het hulle ook na die Bybel toe gegaan en met hulle verstand die Bybel probeer dissekteer. Dit het natuurlik daartoe gelei dat mense aan die Bybel begin twyfel het, want die Bybel vertel ons mos van God en wonders wat nie met die verstand verklaar kan word nie. Veral in die wetenskap het dit gebeur. Gelowiges het toe teen hierdie wantroue in die Bybel begin reageer en herlewingsbewegings wat die fokus meer op geloof in God en sy nabyheid geplaas het, het begin. Aan die einde van die 19e eeu was daar groot herlewing in Amerika (en elders ook) en die Heilige Gees se teenwoordigheid het veral ’n rol begin speel. Daar moes ‘gesien’ kon word dat die Gees teenwoordig is en werk, en die spreek in tale met allerhande ander manifestasies het toe as tekens gedien dat die Gees aan die werk is. Dit het so belangrik geword, dat mense begin sê het dat as dit nie gebeur nie, die Gees nie daar was nie. Dit het met ander woorde ’n soort ‘kenteken’ van die teenwoordigheid van die Gees vir hierdie mense geword. In hierdie tyd het sendelinge uit Amerika gekom en ook in ons land kom werk, wat beteken het dat dit ook in ons land bekend geword het.

 

Nou moet ons onthou dat nie alle Christene aan hierdie bewegings op dieselfde wyse deelgeneem het nie. Dit was, om die waarheid te sê, mense wat hierdie ervarings meegemaak het, was in die minderheid. Daar was dus ander maniere ook om die Gees te ervaar wat niks te doen het met spreek in tale of omval nie. Vir hulle was en is dit ook nie belangrik om die dinge te ervaar nie. Dit is waar van die oorgrote meerderheid Christene.

 

Daarmee word nou nie gesê dat die ervarings nie outentiek of opreg is nie. Die Bybel sê die Gees werk soos Hy wil. Ons besluit met ander woorde nie wat moet gebeur en hoe nie, maar die Gees besluit dit (1 Kor 12:11). Hierdie vryheid mag ons nooit van die Gees af ‘wegdink’ nie. Maar ons moet ook nie na die ander kant toe sondig nie. Ons moet nie dink dat as dit nie met ons gebeur nie, ons nie die Gees het nie, of mense moet ons dit ook nie wysmaak nie. Dit is doodgewoon nie waar nie. Die Gees werk baie wyer as dit. Dit Gees gee lewe (Joh 3:3,5; 1 Kor 2:1-5), lei ons in die waarheid van Jesus (Joh 14:26; 15:26), hou ons verhouding met die Vader goed (Gal 4:6), en so kan ons aangaan. Om die Gees toe te sluit in ’n spreek-in-tale of omval hokkie is nie reg nie. As die Gees natuurlik wil, kan Hy dit doen, maar dit is nie al wat Hy doen nie. Hy kan ook kies dat dit nie gebeur nie.

 

Nou is die vraag wat tot eer van God is. ’n Algemene en wyse manier om jouself in sulke omstandighede te help, is juis om die Gees te vertrou. As mens baie ongemaklik daaroor voel en nie vrede in jou hart het nie, moet jy daaroor bid – miskien het die Gees die dinge nie vir jou in gedagte nie. Dan moet jy dit liewer nie doen nie. God is nie ’n God van onvrede nie. ’n Algemene reël is dat om  dinge te doen waaroor jy sleg voel of wat jou pla gewoonlik nie tot eer van God is nie. Dit bly maar ’n algemene reël wat altyd met gebed en soeke na die waarheid gepaard moet gaan. 

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt