Die vyfde gesprek: Jesus se verdere selfopenbaring (7:14-39)

Die vyfde gesprek: Jesus se verdere selfopenbaring (7:14-39) – Francois Malan

Die gesprek verloop in twee fases: 14-36 in die middel van die fees; 37-52 op die laaste dag van die fees. 

1.   Die oorsprong van Jesus se gesag (7:14-20)

7:14 Teen die middel van die sewe dae van die loofhuttefees, gaan Jesus openlik na die tempel (vgl.Mal 3:1 se voorspelling), waar Hy begin om die mense  in die openbaar te onderrig (nie om, soos sy broers verwag het,  wondertekens te doen nie, v3; vgl. egter v31). Die onderrig was waarskynlik in die voorhof waar die heidene en die gewone volk ook kon inkom.

 

7:15 Die Jode was verbaas – die woord kan ‘n gunstige of ongunstige reaksie aandui, afhangende van die konteks. Johannes  gebruik die term ‘die Jode’ vir die ongelowige Jode, veral vir die leiers van die volk. Daarom is hulle verbasing hier negatief. Hoe ken/verstaan hierdie een die Skrifte terwyl hy ongeleerd is? – Hy het nie onderrig gehad nie. ‘hierdie een’ verwys minagtend na Hom, want Hy is nie deur een van die rabbi’s opgelei nie. Hulle beskou Hom as een van die ‘volk van die land,’ een van die menigte, wat nie die wet ken nie, wat vervloektes is (7:49). En nou tree Hý as ‘n rabbi/leermeester op. Die leiers verwerp Hom en sy lering.

 

7:16 Jesus wil onmiddellik die misverstand uit die weg ruim: Julle rabbi’s is in ‘n rabbynse skool van ‘n ander rabbi geskool, Ek het geleer by Hom wat my gestuur het (my Vader in die hemel, 3:17; 5:37): ‘My leer is nie my leer nie, maar van Hom wat My gestuur het.’ Hy kom nie die volk mislei as ‘n selfaangestelde leraar nie. God die Vader is die oorsprong en bron van die gesag van sy leer.

 

7:17 Die waarheid van sy lering sal duidelik wees vir elkeen wat die wil van God doen, nl. van  sy Sender (sy Vader). Die gewilligheid om God se wil te doen verwys na ‘n innerlike gesteldheid van die hart teenoor God en sy Gesant. Dit is gelyk aan ‘glo in Jesus’ (6:29), aanvaar dat sy leer van God kom, en nie deur ‘n mens voortgebring is nie. Dit beteken dat die mens ingestel moet wees op die stem van God, om die EEN te herken wat God se woord verkondig. Om God se wil te doen vereis gehoorsaamheid, en hierdie gehoorsaamheid beteken om te glo, en deur te glo, begryp wie Jesus is.

 

7:18 Iemand wat sy eie denkbeelde of leerstellings verkondig, soek gewoonlik sy eie eer; streef na selfverheerliking, selfverheffing. Iemand wat egter die eer nastreef van sy opdraggewer is betroubaar. Jesus span Hom in om alleen die wil van die Vader te doen (4:34) en om sy Vader te verheerlik (13:31; 17:1). Daarmee word sy leer se egtheid as God se woord bewys.

 

7:19 Die leiers beroem hulle daarop dat hulle dissipels van Moses is (9:28), op wie hulle vertrou (5:45). Maar nie een van hulle onderhou Moses se wet nie. Hulle verwerp bv. Moses se getuienis oor Jesus (5:45-47), en wil Hom doodmaak, die Messias, wat Moses voorspel het, lê nou vir hulle die wil van God uit, wat Moses opgeteken het.

 

7:20 Die feesgangers van buite Jerusalem is nie bewus van die leiers se planne om Jesus dood te maak nie. Daarom beskuldig hulle Jesus van duiwelbesetenheid, dat hy mal is om te dink iemand wil Hom doodmaak (8:48,52; 10:20) .

 

2.   Die regte onderhouding van die sabbat (7:21-24)

7:21-23 Die bedreiging van Jesus se lewe kom nie uit ‘n sieklike verbeelding nie, daarom wys  Jesus terug na die rede waarom die Joodse leiers Hom wil doodmaak – die genesing van die lam man op die sabbat en sy gesprek oor sy goddelike sending daarna (5:1-9,10-18). Hulle is almal ontsteld verskrik oor een ding wat Hy gedoen het, wat strydig is met hulle sabbatsgebruike. Maar hulle breek voortdurend die sabbat deur seuntjies op die agste dag te besny al val dit op ‘n sabbat – omdat Moses gesê het dit moet op die agtste dag gedoen word. Dan mag die besnydenis op ‘n enkele ledemaat van ‘n manlike kind toegepas word; hoeveel te meer kan die hele liggaam van die mens nie genees word op die sabbat nie?  Moses het die aartsvaders se wet van die besnydenis op die agste dag weer opgeneem. Lank voor Moses, het God dit vir Abraham  ingestel as teken van die verbond (Gen.17:10,14,23,27; Lev 12:3), ‘n voorafskaduwing van die verlossing van die hele mens deur die Christus, wat ook die sabbatsgebod oorskry met sy liefde vir die naaste.    

 

7:24 Die Jode hou streng aan die letter van die wet en beoordeel die optrede van iemand alleen op grond van wat hulle sien, sonder om te vra na die motiewe of beweegredes agter die optrede. Daarom is hulle oordeel oppervlakkig en onregverdig. As hulle na die rede vir iemand se optrede sou soek, sou hulle moontlik ontdek dat dit juis uit barmhartigheid is wat Hy op die sabbat gedoen het, uit liefde vir die medemens en tot eer van God. So ’n werk kan nie ‘n skending van die sabbat wees nie. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Wees lief vir medegelowiges

Wees lief vir medegelowiges – Francois Malan

Hester vra:

Ek wil graag net kenners se interpretasie hê van 1 Pet 2:17 – “wees lief vir medegelowiges” of soos dit in die King James verskyn, love the brotherhood? Ek wil dit verklaar met wees lief vir die wat glo soos ek glo – maar is nie seker of dit reg is nie? Eintlik strek die opdrag veel verder as wat ons ooit kan dink, nie waar nie. Maar dan dink ek aan die toepassing van die wet – jy moet die Here jou God liefhê met … en jou naaste soos jouself. Hier is die woord net jou naaste? Wat van die mense wat nie Jesus Christus in hulle harte het nie. Die vraag word net al hoe wyer en wyer! Baie dankie Hester

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Vers 17 is eintlik ‘n kort opsomming van wat voorafgaan om dit te verduidelik en te beklemtoon. Daar word vier verhoudings genoem:

 

1 Eer almal – alle mense, bv. deur hulle rol in die samelewing te eer en te respekteer, as mense wat deur God geskape is. In 2:1 is gesê gelowiges moet met elke vorm van die kwaad ophou, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery, alles sake wat die lewe in verhouding met mense raak. In 2:13 word aan gelowiges gesê dat hulle hulle altyd goed moet gedra (selfs) onder die heidene…sodat hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. 

 

2 Julle moet die broederskap liefhê – in 1:14,17 is al gesê ons is kinders van God se huisgesin, ons Vader wat elke mens onpartydig volgens sy dade beoordeel; in 1:22 dat ons gereinig is tot ongeveinsde broederliefde, en dat ons mekaar uit ons harte ernstig moet liefhê.

 

3 Vrees God –  dit gaan om die oorweldigende ontsag vir die heilige Vader, die neerbuig in aanbidding voor die Almagtige voor wie die mens sy volstrekte nietigheid besef. Aanbidding en onderwerping aan sy woord is die houding van die gelowige kind van God voor die heilige, genadige en liefdevolle God. Aan Hom kom al die lof toe (1:3), Hy wat ons in sy groot ontferming deur Jesus gered het en ons veilig bewaar (1:3,5). Hy het ons vir Hom afgesonder (2:9). Hy het ons vrygemaak om Hom te dien as sy dienaars wat aan Hom behoort (2:16).

 

4 Eer die koning – en elke menslike owerheid (2:13).Ook hulle is deur God aangestel om die kwaad in die samelewing te keer, en goeie samelewing te bevorder.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Kan ek my uitverkiesing verloor?

Kan ek my uitverkiesing verloor? – Kobus Kok

‘n Leser vra

Ons worstel met die Uitverkiesing. Ons kinders is as Christene grootgemaak. Een van ons seuns het uitgestyg en leef nou in weelde. As jongeling het hy ‘n innige verhouding met die Here gehad en wou selfs predikant word. Hy gaan nou nie meer kerk toe nie en is heeltemal ontoeganklik tov die Here. Ons karring nie aan hom nie, bid net. Is al ons gebede, vir sy redding, dalk tevergeefs…is hy dalk net nie uitverkies nie? Dit maak ons so verskriklik hartseer. Hy is verder steeds dierbaar en ‘n goeie mens.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Kan ek my uitverkiesing verloor?

Wat bedoel die Bybel as hy sê dat God ons uitverkies het (Efes 1:4), en kan mens jou uitverkiesing verloor? Calvyn het eenmaal gesê dat God voor die grondlegging van die aarde alreeds geweet het wie sou Hy kies en wie sou Hy nie kies nie. Dit plaas God in die sentrum en mense dooie skaakpionne op die dramatiese verhoog van lewe en dood. Een van ons Griekse dosente het my eenmaal vertel van die dominee wat gepreek het oor die uitverkiesing toe hy nog ʼn kind was. Die dominee het die verhaal vertel van Shaka of Dingaan wat sy impies op ʼn afgrond laat staan het en hulle so een vir een om die beurt laat aftuimel het tot hulle dood, net omdat hy wou. Die dominee sê toe God se uitverkiesing werk ook so – eintlik kan mens niks daaraan doen nie. As God jou afstamp kan jy niks doen om weer terug te kom nie. Mens moet egter onder geen omstandighede so oor die uitverkiesing dink nie. Mense wat so dink kry maklik ʼn skeefgetrekte teologie. Sommige mense dink hulle is nou eens en vir altyd uitverkies deur God en dan gaan hulle heerlik aan met hulle sondige en afvallige lewe. Ander mense dink weer dat hulle in elk geval nie deur God uitverkies is nie en probeer nie eers om in God se goeie boekies te kom nie. Ander mense wonder sommer net en bly lou in die geloof.

In Johannes 5:24 lees ons dat iemand wat glo van ʼn bestaanstoestand van dood na ʼn bestaanstoestand van lewe oorgegaan het. In die Grieks staan dit in die perfektumvorm van die werkwoord. Dit beteken dat God mens oor laat beweeg het in die verlede, met jou bekering, en dat mens nog steeds in daardie staat verkeer. Sulke mense ontvang die reg om kinders van God genoem te kan word (Joh 1:12). Tog maak die Bybel dit duidelik dat mens jouself uit spel kan plaas. Indien mense wat kinders van God was teen God kies, dan plaas hulle hulself eintlik in die dampkring van die duiwel wat hulle nuwe vader word (Joh 8:44). Ja, dit is dus moontlik dat iemand sy uitverkiesing kan “verloor”. Lees maar net die eerste brief van Johannes. Die brief maak dit duidelik dat sommige mense so kan optree of dink dat hulle eintlik nie meer God se kinders is nie.

Aan die ander kant is ons nie God nie, en kan ons nie sit en spekuleer oor die vraag of iemand nou in- of uitgesluit is uit God se groot verlossingsplan nie. Selfs in die laaste minute van sy lewe het die sondaar langs Jesus aan die kruis God se geskenk van lewe ontvang. God kan mense nog steeds oorhaal na die lig! (1Pet 2:9). 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Die loofhuttefees in Jerusalem (7:1-52)

Die loofhuttefees in Jerusalem (7:1-52) – Francois Malan

Na die lang redes in hoofstukke 5-6, volg hier in hoofstukke 7-8 korter strydgesprekke tussen Jesus en die vyandige Joodse leiers, ook met elemente uit die massa; soms selfs onderlinge stryd oor Jesus tussen feesgangers, en dan weer onder die Joodse leiers in Raad (7:40-52).

7:1 In Judea het die vyandigheid teen Jesus so toegeneem dat hulle Hom wou doodmaak (5:18). Daarom vertrek Jesus na Galilea waar Hy rondgaan met sy boodskap.  Die ‘Jode’ verwys veral na die leiers: lede van die Joodse Raad (7:26),  die priesterhoofde (Sadduseërs) en Fariseërs (7:32,45),  in 7:12-13 durf die feesgangers nie openlik oor Hom praat nie, uit vrees vir die Jode. Terwyl die sinoptiese Evangelies heelwat skryf oor Jesus se bediening in Galilea, sê Johannes slegs Jesus het daar rondgegaan, waarskynlik op die platteland. Jesus wou nie nou al na Jerusalem toe gaan nie, want dit was nog nie sy tyd daarvoor nie (7:6; vgl. 2:4).

 

7:2 In 6:4 is gesê die paasfees was naby. Hier, die huttefees was naby. Paasfees word in April gehou met die grootvee- en kleinvee-oes (Deutr.16:1,2) en die huttefees ses maande later in Oktober met die olywe- en druiwe-oes (Deutr. 16:13); pinksterfees 50dae na paasfees in die tyd van die koringoes (Deutr.16:9,10). Die Griekse naam vir die huttefees is skenopegia ‘fees van die tente’; in Hebreeus chag hassukkoth ‘fees van die groentakskuilings’ of ‘hutte/tente’, in Engels ‘booths’ of ‘tabernacles’ soos in Latyn tabernaculum ‘klein tabernakeltjies’; ‘loof’-huttefees verwys na die groen takke waarmee die tydelike skuilings gebou is om die reis deur die woestyn te gedenk. 

 

7:3-5 Die broers van Jesus (vgl. Mk 6:3 vir die vier se name) dring by Hom aan om na Judea toe te gaan ‘sodat jou dissipels die ‘werke’ (NAV wondertekens) wat jy besig is om doen, sal sien/belewe.’ Die dissipels waarna verwys word, sluit volgelinge van Jesus in Judea in (3:22; 4:1). Die huttefees sal ‘n goeie geleentheid wees om sy ‘werke’ aan die hele Joodse wêreld ten toon te stel. Sy broers meen skynbaar dat Hy die wêreld wil imponeer – ‘’n mens wat welbekend wil wees.’ Johannes die broers was ongelowiges, wat nie begryp het wie Jesus is en waarvoor Hy gekom het nie. Sy broers dink Hy werk te plaaslik, terwyl Hy eintlik in die openbaar moet optree.

 

7:6  Jesus se tyd is nog nie daar om op te gaan na die fees nie. Sy tyd word deur sy Vader bepaal. Sy broers bepaal hulle eie tyd, en kan self besluit wanneer hulle sal optree. Daarom kan hulle nou al na die fees toe gaan. Jesus sal op sy Vader se tyd en wyse gaan.

 

7:7 Baie beslis en duidelik stel Jesus sy oordeel oor die werke van die wêreld se mense, dat dit boos en korrup is – teen God se wil. Daarom haat die wêreld Hom vir die blootlegging van hulle waardelose godsdiens en hulle siek samelewing. Sy broers is nie deel van hierdie stryd nie; daarom haat die wêreld hulle nie.   

 

7:8,9  ‘Ek gaan nog nie op na dié fees toe nie, want my tyd het nog nie ten volle gekom nie’ (sy tydglas is nog nie vol nie). Daarom beveel Hy sy broers om na die fees toe gaan. Hy bly vir eers in Galilea.

 

7:10 Toe sy broers, wat ‘n ophef van sy verskyning by die fees wou gemaak het, weg is, gaan Jesus ook op na die fees, nie na waar die mense Hom opsigtelik kan sien nie, maar  sonder om aandag op Homself te vestig; nie soos in 12:12-15, toe Hy op ‘n donkie die stad binnegery het om daar te gaan sterf nie. Toe het Hy geweet dat sy uur gekom het (12:23, 13:1). Jesus verlaat Galilea om nie weer daarheen terug te kom tot na sy opstanding uit die dood nie.

 

7:11 Die Jode wat soek om Hom dood te maak (7:1), soek Hom ook by die fees, en doen oral navraag of iemand  nie ‘daardie een’ (minagtend) gesien het nie.

 

7:12 Daar was baie onderling gemor en gekla oor Jesus onder die feesskare – ‘n onderlangse onrustigheid. Hý is die onderwerp van bespreking by die leiers en die feesskare. ‘Goed’ verwys onder die Jode as ‘optrede volgens die wet’ – Hy doen niks wat teen die wet is nie. Ander beskou Hom as ‘n misleier, op ‘n pad wat strydig is met die wet, bv. teen die sabbatswette. In Deutr.13:1-5 word die doodstraf beveel vir ‘n profeet wat wonders doen, maar die volk weglei van die wet van die Here om ander gode te dien, wat hulle nie voorheen geken en gedien het nie, want so iemand mislei (LXX planesai) julle weg van die Here af. In die latere Joodse tradisie word Jesus ook gebrandmerk as die misleier van die volk. 

[In die Talmud  Sanhedrin 43astaan: Aan die vooraand van die paasfees het hulle Yeshu gehang…want Hy het toordery beoefen en Israel verlei en mislei.]

 

7:13 Niemand waag dit om vryuit te sê wat hy van Jesus dink nie, omdat almal bang is vir die leiers van die volk, die Sanhedrin, die Joodse Raad van 71. Die meeste daarvan behoort aan die party van die Sadduseërs, terwyl die Fariseër-skrifgeleerdes die meeste invloed op die volk gehad het. Dit was veral die Fariseërs wat die volk geterroriseer het met strenge onderhouding van die wet (4:1). Daarom wou niemand met hierdie volksleiers in ‘n meningsverskil betrokke raak nie. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan