Die loofhuttefees in Jerusalem (7:1-52)

Die loofhuttefees in Jerusalem (7:1-52) – Francois Malan

Na die lang redes in hoofstukke 5-6, volg hier in hoofstukke 7-8 korter strydgesprekke tussen Jesus en die vyandige Joodse leiers, ook met elemente uit die massa; soms selfs onderlinge stryd oor Jesus tussen feesgangers, en dan weer onder die Joodse leiers in Raad (7:40-52).

7:1 In Judea het die vyandigheid teen Jesus so toegeneem dat hulle Hom wou doodmaak (5:18). Daarom vertrek Jesus na Galilea waar Hy rondgaan met sy boodskap.  Die ‘Jode’ verwys veral na die leiers: lede van die Joodse Raad (7:26),  die priesterhoofde (Sadduseërs) en Fariseërs (7:32,45),  in 7:12-13 durf die feesgangers nie openlik oor Hom praat nie, uit vrees vir die Jode. Terwyl die sinoptiese Evangelies heelwat skryf oor Jesus se bediening in Galilea, sê Johannes slegs Jesus het daar rondgegaan, waarskynlik op die platteland. Jesus wou nie nou al na Jerusalem toe gaan nie, want dit was nog nie sy tyd daarvoor nie (7:6; vgl. 2:4).

 

7:2 In 6:4 is gesê die paasfees was naby. Hier, die huttefees was naby. Paasfees word in April gehou met die grootvee- en kleinvee-oes (Deutr.16:1,2) en die huttefees ses maande later in Oktober met die olywe- en druiwe-oes (Deutr. 16:13); pinksterfees 50dae na paasfees in die tyd van die koringoes (Deutr.16:9,10). Die Griekse naam vir die huttefees is skenopegia ‘fees van die tente’; in Hebreeus chag hassukkoth ‘fees van die groentakskuilings’ of ‘hutte/tente’, in Engels ‘booths’ of ‘tabernacles’ soos in Latyn tabernaculum ‘klein tabernakeltjies’; ‘loof’-huttefees verwys na die groen takke waarmee die tydelike skuilings gebou is om die reis deur die woestyn te gedenk. 

 

7:3-5 Die broers van Jesus (vgl. Mk 6:3 vir die vier se name) dring by Hom aan om na Judea toe te gaan ‘sodat jou dissipels die ‘werke’ (NAV wondertekens) wat jy besig is om doen, sal sien/belewe.’ Die dissipels waarna verwys word, sluit volgelinge van Jesus in Judea in (3:22; 4:1). Die huttefees sal ‘n goeie geleentheid wees om sy ‘werke’ aan die hele Joodse wêreld ten toon te stel. Sy broers meen skynbaar dat Hy die wêreld wil imponeer – ‘’n mens wat welbekend wil wees.’ Johannes die broers was ongelowiges, wat nie begryp het wie Jesus is en waarvoor Hy gekom het nie. Sy broers dink Hy werk te plaaslik, terwyl Hy eintlik in die openbaar moet optree.

 

7:6  Jesus se tyd is nog nie daar om op te gaan na die fees nie. Sy tyd word deur sy Vader bepaal. Sy broers bepaal hulle eie tyd, en kan self besluit wanneer hulle sal optree. Daarom kan hulle nou al na die fees toe gaan. Jesus sal op sy Vader se tyd en wyse gaan.

 

7:7 Baie beslis en duidelik stel Jesus sy oordeel oor die werke van die wêreld se mense, dat dit boos en korrup is – teen God se wil. Daarom haat die wêreld Hom vir die blootlegging van hulle waardelose godsdiens en hulle siek samelewing. Sy broers is nie deel van hierdie stryd nie; daarom haat die wêreld hulle nie.   

 

7:8,9  ‘Ek gaan nog nie op na dié fees toe nie, want my tyd het nog nie ten volle gekom nie’ (sy tydglas is nog nie vol nie). Daarom beveel Hy sy broers om na die fees toe gaan. Hy bly vir eers in Galilea.

 

7:10 Toe sy broers, wat ‘n ophef van sy verskyning by die fees wou gemaak het, weg is, gaan Jesus ook op na die fees, nie na waar die mense Hom opsigtelik kan sien nie, maar  sonder om aandag op Homself te vestig; nie soos in 12:12-15, toe Hy op ‘n donkie die stad binnegery het om daar te gaan sterf nie. Toe het Hy geweet dat sy uur gekom het (12:23, 13:1). Jesus verlaat Galilea om nie weer daarheen terug te kom tot na sy opstanding uit die dood nie.

 

7:11 Die Jode wat soek om Hom dood te maak (7:1), soek Hom ook by die fees, en doen oral navraag of iemand  nie ‘daardie een’ (minagtend) gesien het nie.

 

7:12 Daar was baie onderling gemor en gekla oor Jesus onder die feesskare – ‘n onderlangse onrustigheid. Hý is die onderwerp van bespreking by die leiers en die feesskare. ‘Goed’ verwys onder die Jode as ‘optrede volgens die wet’ – Hy doen niks wat teen die wet is nie. Ander beskou Hom as ‘n misleier, op ‘n pad wat strydig is met die wet, bv. teen die sabbatswette. In Deutr.13:1-5 word die doodstraf beveel vir ‘n profeet wat wonders doen, maar die volk weglei van die wet van die Here om ander gode te dien, wat hulle nie voorheen geken en gedien het nie, want so iemand mislei (LXX planesai) julle weg van die Here af. In die latere Joodse tradisie word Jesus ook gebrandmerk as die misleier van die volk. 

[In die Talmud  Sanhedrin 43astaan: Aan die vooraand van die paasfees het hulle Yeshu gehang…want Hy het toordery beoefen en Israel verlei en mislei.]

 

7:13 Niemand waag dit om vryuit te sê wat hy van Jesus dink nie, omdat almal bang is vir die leiers van die volk, die Sanhedrin, die Joodse Raad van 71. Die meeste daarvan behoort aan die party van die Sadduseërs, terwyl die Fariseër-skrifgeleerdes die meeste invloed op die volk gehad het. Dit was veral die Fariseërs wat die volk geterroriseer het met strenge onderhouding van die wet (4:1). Daarom wou niemand met hierdie volksleiers in ‘n meningsverskil betrokke raak nie. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die belydenis van Petrus (6:67-71)

Die belydenis van Petrus (6:67-71) – Francois Malan

 6:67 Vir die eerste keer word in hierdie Evangelie na ‘die twaalf’ verwys (vgl. ook 20:24 toe Thomas nie by hulle was nie). Hulle het die binnekring van Jesus se volgelinge/leerders gevorm. Johannes vertel net van die eerste ses se roeping (1:35-51). Jesus se vraag suggereer ‘n ontkennende antwoord: ‘Julle wil nie ook weggaan nie?’ Hy weet ook wie dit is wat in Hom glo, maar hier stel Hy die twaalf voor ‘n beslissing.

6:68,69 Petrus antwoord namens die twaalf. Sy antwoord behels drie uitsprake wat sy besluit en sekerheid beklemtoon:

(i) Here, na wie toe sal ons gaan – ons kan na niemand anders gaan nie. Hulle wat Jesus waarlik ‘gesien’ en ‘gehoor’ het, weet daar is niemand anders nie (vgl. Jes.49:9 ‘Ek is God, daar is geen ander nie. Ek is God, daar is niemand soos Ek nie’). Later  sou Petrus voor die Joodse Raad oor Jesus verklaar: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Hand. 4:12).

            (ii) U het die woorde wat ewige lewe gee – daarmee bevestig Petrus dat hulle die selfgetuienis van Jesus in 6:48,63 aanvaar.

            (iii) En ons glo en weet dat U die Heilige van God is – die twee werkwoorde ‘glo’ en ‘weet’ is altwee in die voltooide tyd. Dit beteken hulle het reeds geglo en het geweet, en dit bly so. Hulle is oortuig. ‘Die Heilige van God’ is ‘n uitsonderlike benaming vir die Messias (vgl. Mk 1:24; Lk 4:34 in die mond van duiwelbesetenes). Israel het van God gepraat as ‘die Heilige van Israel’ (2 Kon 19:22; Ps 71:22; Jes 1:4; Jer 51:5; Eseg 39:7). Om Jesus die Heilige van God te noem, is ‘n reaksie op Jesus se ‘Ek is’ van v20; en omdat hulle Hom as God erken, kan Hy die ewige lewe aan hulle gee. (In die ander drie Evangelies bely Petrus Jesus as die Christus; Matteus voeg by: die Seun van die lewende God; Mt 16:16, Mk 8:29; Lk 9:20). 

 

6:70 Jesus ken die mens deur en deur (2:25). Hy het die twaalf uitgekies, en van die begin af geweet, een van hulle sal Hom verraai (6:64). Dit is deelhê in sy lydensweg. Hier noem Hy daardie dissipel ‘n duiwel (die Griekse woord diabolos kom van die werkwoord diaballoo  ‘skinder, kwaadpraat’; vir Petrus noem Jesus ‘Satan’ toe hy probeer om Jesus te keer teen sy lydensweg; Mt 16:23; Mk 8:33; satan is ‘n Aramese woord vir ‘teenstander’). Jesus ken die planne van die duiwel (Johannes het nie die versoeking in die woestyn van Mt 4; Mk 1; en Lk 4 opgeteken nie). In Jn 13:18-30 wys Jesus sy verraaier aan, ook sonder om sy naam te noem, as ‘n laaste oproep tot Judas om tot inkeer te kom. Maar Jesus verwys daar na Ps 41:10 wat lui ‘Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek (letterlik: ‘het sy hakskeen teen my opgelig’ – sy rug op sy vriend draai en wegstap). Jesus sien Judas se verraad as ‘n vervulling van die Skrif (13:18).  Hy weet Hy is op sy lydensweg na die kruis om die sonde van die wêreld te dra.   

 

6:71 Johannes gee die naam van die verraaier as Judas, die seun van Simon Iskariot (‘man van Keriot’, in die gebied van Juda; Josua.15:24). Hy is die enigste van die twaalf wat nie van Galilea af kom nie, maar soos Jesus in Judea gebore is. Johannes voeg by dat Judas een van die twaalf was, een van die vertroude binnekring, om daarmee die afskuwelikheid van die daad skerp in die lig te stel. In Jn 12:4,6 verwys Johannes weer na Judas wat Jesus sou verraai, en noem hom ‘n dief, wat nogal die dissipelgroep se beursie gehad het en van die bydraes gevat het. Johannes 18:2-5 noem ook dat Judas die soldate en wagte wat Jesus gaan vang het na Getsemane gelei het.

 

Die Evangelie volgens Johannes het nie die instelling van die nagmaal deur Jesus soos Mt 26:26-30; Mk 14:22-25; Lk 22:31-23; 1 Kor 11:23-25 nie. Maar wat die wese van die nagmaal is, word in Jn 6 duidelik uiteengesit, met die reaksie van Jesus se volgelinge op sy openbaring van Homself as die Brood wat lewe gee – party glo, ander nie. Met kos- en drank -metafore word die intieme geloofsverhouding tussen Jesus en die gelowiges verduidelik: wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom (v56). Met Jesus wat in ons bly, hét ons reeds die ewige lewe (vv57,58), want Hy ís die lewe (vv47-51). Hy bly in ons deur die Heilige Gees wat in ons kom woon (v63). Ons bly in Hom deur in Hom te glo en Hom gehoorsaam te volg (vv29,45,57).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se woord bring skeiding (6:60-66)

Jesus se woord bring skeiding (6:60-66) – Francois Malan

6:60 Die dissipels waarvan hier sprake is, is die breër groep volgelinge van Jesus, wat reeds tot Hom aangetrokke gevoel het. Die mense (letterlik: menigte) van  6:22,24, wat van die brood geëet het, en die Jode van 6:41,52, wat gemor het dat Jesus kon sê Hy is brood uit die hemel en dat Hy sy liggaam vir hulle gee om te eet, het skynbaar al klaar vir Jesus verlaat.

Die breër groep volgelinge begin ook twyfel oor Jesus se verduideliking wat die dood van die Messias behels. Dit is so anders as hulle verwagting van die Messias, wat hulle gister met geweld wou koning maak, ‘n politieke leier wat hulle van Rome sou bevry (v15). Sy woord, dat ‘n gekruisigde Christus (Messias) die bron van lewe sou wees, is vir hulle hard/veeleisend – dit vereis selfverloëning. Eintlik is dit nie die woord wat so hard is nie, maar hulle harte, wat nie kans sien om hulle lewe in geloof aan ‘n gekruisigde Messias se gebroke liggaam en bloed te verbind nie.

 

6:61 Jesus ken die morrende gedagtes van hierdie volgelinge/leerders (soos van Nataniël 1:47-48; Hy weet hoe mense is 2:25; van die Samaritaanse vrou se vyf mans, 4:18, ens.). Hy vra hulle of sy woorde vir hulle ‘n struikelblok is (NAV afskrik), wat verhinder dat hulle Hom verder volg en in Hom glo.

 

6:62 As hulle aanstoot neem dat Jesus  die brood is wat uit die hemel neergedaal het, hoeveel te meer as hulle sou sien dat die mens Jesus na die hemel toe opvaar? Die term ‘Seun van die mens’ word deur Jesus vir Homself gebruik as die lydende wat gaan sterf, maar ook as die opgewekte wat na die hemel toe terugkeer (Jesus se selfbenaming ‘Seun van die mens’ kom uit Daniël 7:13-14 van die man/menslike wese, wat vir ewig oor die wêreld sal regeer). In Johannes begin Jesus se hemelvaart reeds met sy verhoging aan die kruis (3:14; 12:32). As hierdie morrende volgelinge Jesus sien sterf, naak aan ‘n kruis verhoog, gaan hulle nog meer aanstoot neem, en glad nie in Hom glo nie. Slegs die ‘oorblyfsel’ van die dissipels sal Hom in sy heerlikheid van sy sterwe, opstanding en hemelvaart aanskou (vgl. 1:14b).            

 

6:63 Die beeld om Jesus se liggaam te eet, het die mense afgeskrik. Dit is egter sy woorde wat ewige lewe gee (6:68). Wie luister na wat Jesus sê, en in die Vader glo wat vir Jesus gestuur het, het die ewige lewe (5:24). Maar wie vaskyk teen die sterwende liggaam van Jesus aan die kruis, sal nie begryp dat Hy God is, wat, as die Lam van God, die sonde van die wêreld wegneem nie (1:29). Wie egter Jesus se woorde aanneem, word deur die Gees lewend gemaak.

 

6:64 Al is Jesus se woorde die woorde van die leweskeppende Gees, is daar party wat na Hom luister en tog nie glo nie. Jesus het van die begin van sy bediening af geweet van elkeen wat na Hom luister, of hy/sy glo of nie,en wie dit is wat Hom sou verraai (paradidoomi beteken oorgee in die beheer van iemand anders, en word daarom ook van ‘verraai’ gebruik) hier spesifiek verraai deur Judas (vgl. v71). In 18:35 is dit sy volk en sy priesterhoofde wat Hom aan Pilatus uitgelewer het; in 19:16 het Pilatus Hom oorgelewer om gekruisig te word.

 

6:65 Dat daar mense is wat nie tot geloof in Jesus kom nie, is nie vir Hom ‘n verrassing nie. Die normale toedrag is dat mense voortgaan om in sonde en ongeloof te leef. Die wonder is dat God aan ‘n sondige mens die genade skenk om te kan glo. Die Vader bring dié begenadigde mens in beweging om na Jesus toe te kom, as dié mens, deur die oortuiging deur die Heilige Gees, besluit om die woord van God aan te neem, en in Jesus te glo as God wat vir my sonde sterf.

 

6:66 Jesus se byvoeging in vv62-63, dat Hy opvaar na waar Hy voorheen was, het die morrende volgelinge/leerders van Jesus nie bevredig nie. Die mense wat Hom entoesiasties met geweld wou koning maak omdat Hy brood kan vermeerder, stel nie belang in ‘n koning in die hemel nie. Daarom het baie ‘weggegaan na wat agter is’ (NAV omgedraai huis toe) om op hulle eie aan te gaan met hulle eie sake, en het nie meer rondgegaan saam met Jesus nie. Hulle breek met Jesus. Die groot afval van Jesus af het begin (In Mk 4, Mt 13, Lk 8 se gelykenis van die saaier, val net ‘n kwart van die saad in goeie grond. Driekwart gaan verlore as gevolg van die hardheid van hulle hart, of oppervlakkigheid van hulle geloof, of deur die sorge en verleidings van die wêreld). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die wegraping en fratsongelukke

Die wegraping en fratsongelukke – Francois Malan

Rhodes vra:

 Is fratsongelukke,aardbewings,modderstortings en wat gebeur het met die “worldtrade centre”nie wegraping nie. Dit gebeur sonder waarskuwing en op tye wat ons dit nie verwag nie.”Markus 13:32-37”

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Markus 13 handel oor twee vrae: wanneer die tempel afgebreek gaan word, en wat sal die teken wees van wanneer alles voleindig gaan word (13:4).

 

Oor die eerste vraag sê Jesus dit sal nog in die leeftyd van  hierdie geslag gebeur (13:30) en in die jaar 70 n.C. (40 jaar na Jesus se dood) het die Romeine die tempel afgebreek. Die gelowiges word gewaarsku dat, voor die inname van Jerusalem, moet hulle wat in Judea is, die berge in vlug (13:14). Die Christene het in 70 n.C. reeds na Pella oorkant die Jordaan gevlug.

 

Oor die tyd van die voleinding sê Hy: niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (13:32). Oor die tekens sê Hy: wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.  Want die een nasie sal teen die ander nasie te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. Christene sal gehaat en vervolg word omdat hulle aan Jesus behoort, en die goeie nuus oor verlossing deur Jesus moet eers aan al die nasies verkondig word (13:9-13).

 

Daarom is fratsongelukke,aardbewings, modderstortings en wat gebeur het met “worldtrade centre”nie die wegraping  met die tweede koms van Christus in heerlikheid nie,  ‘dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie…dit is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd’ (13:7,8).

 

Die Griekse woord harpagesometha  in 1 Tessalonisense 4:17 word in die 1983-vertaling weergegee as ‘ons sal weggevoer word’ (nie weggeraap nie), RSV: we shall be caught up. Dit handel oor die gelowiges in Tessalonika se vraag wat van mense sal word wat reeds gesterf het voor die koms van die Here. Paulus se antwoord is dat, met die koms van die Here self uit die hemel , sal hulle wat as gelowiges gesterf het, eers opstaan, en daarna sal ons wat nog in die lewe is saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in om die Here te ontmoet, soos in ‘n erestoet wat ‘n koning gaan ontmoet, wat terugkom as oorwinnaar in ‘n stryd. En so sal ons altyd by die Here wees.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan