Jesus antwoord op besware van die Jode (6:41-51)

Jesus antwoord op besware van die Jode (6:41-51) – Francois Malan

6:41 Na Jesus se verklaring dat Hy die brood uit die hemel is, het die Jode teen God en sy Gesant gemor, soos Israel in die woestyn (Eks 15:24; 16:2; 17:3; Num 11:1,4; 14:1).  Ps 78:18-22 sê hulle het God daarmee getart en Hom uitgedaag. Nou glo die Jode ook nie in Jesus nie, en vertrou nie op Hom as die lewegewende Brood nie.

6:42 Wat hulle wel van Jesus ‘gesien’ het, en ken, is dat hulle sy pa en ma ken, gewone mense. Hoe kan Hy beweer Hy kom uit die hemel? Vir hulle sluit sy bekende aardse herkoms sy hemelse afkoms uit. So kan die Messias tog nie verskyn nie, so gewoon, so nederig, so verklaarbaar egte mens. Hier is weer die tipiese misverstand van die ongeloof, wat telkens in hierdie Evangelie opduik. Die menswording van die Seun van God was en bly die groot struikelblok vir die Jode, vandag nog. Maar nie net vir die Jode nie.

 

6:43-44 Jesus gaan nie op hulle argument in nie, maar vermaan hulle om nie onder mekaar te mor nie. Die positiewe stellings van verse 37,39,40 oor die wil van die Vader en dat Hy mense gee om in Jesus te glo, word hier skerp negatief gestel: Niemand kan na Jesus toe kom as die Vader hom/haar nie na Hom toe trek nie. Dit geskied deur die werking van die Heilige Gees in die harte van mense. Vir die derde keer gee Jesus die versekering dat Hy elkeen wat die Vader vir Hom gegee het/na Hom toe getrek het, op die laaste dag sal laat opstaan uit die dood. God se genade begin by ‘n mens om jou na Jesus toe te trek, en word voltooi met jou opwekking. Dit is ‘n indirekte oproep tot die Jode om Jesus aan te neem.  

 

6:45 Jesus verwys na Jesaja 54:13 wat in Hom vervul word. Elkeen wat die Vader gehoor het en by Hom geleer het, kom na My toe. Dit is hulle wat die Vader na Jesus toe ‘trek’ (v44), wat gehoor gee aan God se woord en gewillig is om deur Hom geleer te word. Hulle glo in Jesus as die Seun van God wat self vir ons kom leer het (vgl. Jeremia 31:33; 1 Tessalonisense.4:9). God se Woord het mens geword en deur die Heilige Gees woon sy Woord/woord in ons.

 

6:46 Om misverstand te voorkom, asof enigiemand vir God direk sou ‘sien’, sê Jesus dat net Hy die Vader gesien het (vgl. 1:18). Maar wie die Seun ‘sien’ en in Hom glo, sal die ewige lewe hê (v40; 14:9). Dit is deur die Seun dat God die mense leer.   

 

6:47 Die mens se verantwoordelikheid word voorop gestel, ingelei met ‘voorwaar, voorwaar’ om die erns en sekerheid daarvan aan te dui. In die geloofskeuse vir Jesus word die welbehae van die Vader voltrek. Jesus is die ewige lewe (14:6). In die geloof gee die gelowige sy selfhandhawing prys en werp homself slegs op God vir sy behoud, nie op menslike moontlikhede nie.

 

6:48 Op grond van sy uitspraak in vers 47 oor geloof in Hom, herhaal Jesus sy uitspraak wat aanstoot gegee het (v41). Daarmee word die volgende verse ingelei oor hoe in Jesus geglo moet word, en wat die ewige lewe inhou.

 

6:49 Jesus kom terug op die Jode se argument in v31. Hulle voorouers het wel in die woestyn God se manna geëet, waarmee hulle liggaamlik gevoed is, maar dit het geen uitwerking gehad op die lewe na die dood nie. Hulle het almal gesterwe.

 

6:50 Die brood wat uit die hemel kom,  moet geëet word om nie te sterf nie. Die metafoor word in vers 51 verduidelik, maar is reeds in verse 41en 47 uitgespel: Jesus is die brood van die lewe, en om die brood te eet, beteken om in Hom te glo. ‘Gesterwe’ in v49 verwys na die liggaamlike dood van die voorouers in die woestyn. ‘Nie te sterf nie’ in vers 50 verwys na die ewige dood as jy nie in Jesus glo nie.

 

6:51 Die kontras tussen die manna van die voorouers wat gesterf het (v49) en Jesus as die brood wat lewe gee (v50) is ‘n waarskuwing aan die Jode van Jesus se tyd (en latere lesers) sodat die lot van die voorvaders hulle nie tref nie, en is ‘n oproep om te ‘eet’ en te lewe. Die twee redes waarom die Brood die lewe gee is (i) die ‘lewende brood’ het uit die hemel neergedaal, die Woord van God het mens geword (1:14), en Hy het die lewe in Homself (5:26); (ii) die ‘brood’ is sy liggaam wat Hy as offer gaan gee vir die lewe van die wêreld – Hy gaan sterf sodat die wêreld mag lewe (10:11,15; 11:51,52).  Johannes  6:4 plaas hierdie gesprek in die tyd van die paasfees van die Jode met die slagting van hulle paaslammers, en Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29). 

            Hier plaas Johannes die klem op Jesus se dood vir die lewe van die wêreld (vgl. 3:16; 12:32,33). Vir die lewe van die wêreld word die Seun van God met sy swakke menslike liggaam aan die kruis gehang as die ‘Brood uit die hemel’ wat ‘geëet moet word en nou reeds deel word van die ewige lewe.

            Vir die Jerusalemmers was die verbreking van die sabbat die steen des aanstoots – tussen hulle en Jesus staan hulle wettisisme. Die Galileërs word van Jesus geskei deur hulle wêreldse begrip van die Messias – hulle verwag ‘n Moses met  daaglikse manna. As die gekruisigde is die Messias egter die ewige lewensbrood.   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus is die brood van die lewe (6:34-40)

Jesus is die brood van die lewe (6:34-40) – Francois Malan

6:34 Soos deur Nikodemus en die Samaritaanse vrou, word Jesus misverstaan deur die ongeloof van die Jode. Hulle dink net aan letterlike brood, wat hulle beleefd (meneer) vir altyd vra. Soos die Samaritaanse vrou wil hulle vir altyd versorg wees (4:15).

Die hele Johannes-Evangelie is vol metafore – beeldspraak om geestelike waarhede plasties aanskoulik uit te druk, veral oor God as ons Vader, Jesus as die Seun van God/Seun van die mens,  en die Heilige Gees as skeppingswind/lewensasem (3:8).

6:35 Jesus verduidelik die brood-metafoor: ‘Ek, Ek is die brood van die lewe.’ Die ‘Ek is’ van Eks 3:14 word vir die eerste van sewe maal aan ‘n metafoor verbind: Ek is die brood van die lewe (6:34,41,48,51; die lig vir die wêreld (8:12); die deur (10:7,9); die goeie herder (10:11,14); die opstanding en die lewe (11:25); die weg, die waarheid en die lewe (14:6); die ware wingerdstok (15:1,5). Elkeen van die gevalle openbaar ‘n belangrike aspek van Jesus se persoon en dienswerk, met die ondertoon van die bekendstelling van Hom as God: Ek is wat Ek is.

            Soos daaglikse brood lewe onderhou, gee hierdie Brood lewe en onderhou die ewige lewe wat nou reeds begin vir dié persoon wat na Jesus toe kom – na Hom jou toevlug neem; wat in Jesus glo – ‘n sinoniem vir ‘na Hom toe kom.’ Brood verbeeld die nouste verbintenis aan Jesus self as jou Here aan wie jy in vertroue die seggenskap oor jou lewe gee.

            So iemand sal nooit weer (baie sterk gestel) ‘honger’ of ‘dors’ word nie – twee metafore vir

geestelike nood . Hy sal ten volle versadig wees, want hy het in homself die ewige lewe (vgl. Jn 17:13;21-26) deur die Heilige Gees in ons kom woon (Joh 7:38-39).

 

6:36 Hulle het ‘gesien’ en tog nie ‘geglo’ nie – by die vermeerdering van die brood het hulle die brood gesien, daarvan geëet, en steeds nóg brood gesoek, maar hulleself nie aan Jesus oorgegee as hulle Here nie, Hom nie as God herken of geglo nie. Jesus wys die Jode in Galilea op hulle sonde deur te weier om in Hom te glo, soos Hy die Jode in Judea op hulle sonde gewys het deur nie na Hom toe te kom om die lewe te kry nie (5:40).

 

6:37 Terwyl die ongelowige self die skuld dra vir sy ongeloof, gee die Vader geloof aan dié mense wat wel na Jesus toe kom. In 16:8-10 verduidelik Jesus dat die Heilige Gees mense sal oortuig van (i) sonde (ongeloof in Jesus), (ii) geregtigheid (dat Jesus die verhouding met God regmaak) en (iii) oordeel (oor ewige lewe of ewige dood). Die woord vir ‘oortuig’ het ook die betekenis van aankla of veroordeel. Vir die gelowiges oortuig Hy; die ongelowiges kla Hy aan. Die mens wat tot geloof in Jesus kom kan die Vader net loof en dank vir sy genade, dat Hy sy/haar oë oopgemaak het om homself/haarself in geloof aan Jesus oor te gee.

            Jesus se blye versekering is dat Hy nooit iemand wat na Hom toe kom sal verwerp (letterlik: uitwerp buitentoe) nie – al is sy geloof so swak en sy ‘kom na Jesus’ ‘n struikelgang (vgl. die pa se pleitroep om hulp met sy ongeloof in Mark 9:24). 

 

6:38-39 Die rede waarom Jesus niemand wat na Hom toe kom, sal verwerp nie, is dat Hy die wil van sy Vader kom doen. Tussen Hom en die Vader is daar volkome ooreenstemming. In hierdie hoofstuk word sewe maal verwys na die koms van die Seun van die hemel na die aarde (vv 33,38,41,42,50,51,58). Daarmee word sy bereidheid om die hemelse heerlikheid te verlaat om op aarde redding vir die mense te bewerk besonderlik beklemtoon. 

 Die doel van Jesus se menswording (1:14) is dat Hy nie een sal verloor wat die Vader Hom gegee het nie, en dat hulle almal op die laaste dag opgewek word uit die dood. Die behoud van die gelowige is nie van sy swak geloof afhanklik nie, maar is gegrond op die wil van die Vader en die bewaring deur die Seun. Sy bewaring loop uit op die lewe by God.

 

6:40 Die aandeel van die Vader in die redding van die mens word vir die derde maal aangedui: elkeen wat die Vader vir My gee (v37), dit is die wil van Hom wat My gestuur het…almal wat Hy My gegee het (v39). Hier in v40 is dit: want dit die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun ‘sien’ en in Hom glo, die ewige lewe sal hê.,Agter elke gelowige staan die wil en besluit van die Vader. Dit is die sekerheid wat elke gelowige kan hê.

            Die ‘sien’ sluit hier meer in as blote kyk na Hom. Dit is die Vader wat die mens se geestelike oë oopmaak, sodat hulle Jesus waarlik as die Seun van God kan sien. Van die gelowige sê Jesus met klem op ‘Ek’: ‘Ék sal hom op die laaste dag opwek.’ Daarmee verklaar Hy ondubbelsinnig dat Hy en die Vader een is, want dit is slegs God wat kan dood maak en lewe gee (Deutr. 32:39;  1 Sam.2:6).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die vyfde wonderteken: Jesus loop op die see (6:16-21)

Die vyfde wonderteken: Jesus loop op die see (6:16-21) – Francois Malan

6:16-17 Toe dit aand word klim die dissipels in ‘n boot (volgens die beste manuskripte; 1933-vertaling  ‘die boot’ wat veronderstel dat hulle ook met dieselfde boot daar aangekom  het). Jesus het nog nie teruggekom nie – moontlik het Hy met hulle gereël om te vertrek as Hy nie teen sononder terug is nie. Die skrywer stel nie belang in dié besonderhede nie. Hy knoop sy diepgaande gesprekke oor wie Jesus is aan by grepe uit die optredes van Jesus.

6:18-19 Die see van Galilea, wat tussen die berge lê, kry maklik onverwagte storms. Die see is sowat 12 km breed. Die dissipels het tussen 25-30 stadia gevaar toe die storm hulle in die donker oorval het – ongeveer 5 km die see in. Hulle sien Jesus op die water na hulle toe aankom; en word baie bang vir dié verskynsel in die stormnag. Ps 77:20 sê oor Israel uittog: ‘U het deur die see gekom, u weg deur die magtige waters gebaan.’ Die skrywer sien Jesus as die openbaring van God, wat sy dissipels in hulle nood kom help, in die tweede uittog uit die slawehuis van sonde en dood.

 

6:20 Jesus sê: ‘Ek, Ek is, moenie bang wees nie,’ en  identifiseer Homself as: ‘dit is Ek’, maar doen dit met die Naam wat God aan Moses geopenbaar het (Eks 3:14; Jes 43:10-11). Die 16 keer wat Johannes die uitdrukking “Ek, Ek is’ gebruik verduidelik Jesus se eenheid met die Vader; Hy is die Openbaarder in wie God Homself aan die mense openbaar (Joh 1:14).

 

6:21  Die dissipels neem Hom bly in die skuit op. En nog ‘n wonder: uit die diepte van die see, direk tot op die strand, bý die plek waarheen hulle wou gaan.  

 

Die vierde gesprek: Jesus, die Brood van die lewe (6:22-71)

 

Die gedeelte kan in sewe onderafdelings verdeel word, waarin die hoofmomente telkens opduik : die Woord is aan die werk, die Woord as die onverganklike spyse van die ewige lewe, die Woord van die Seun van die mens wat lewensbrood gee. 

 

1 Die oproep om die Brood uit die hemel aan te neem (6:22-33)

 

6:22-24 Na die nag op die gras waar hulle geëet het, het die mense besef hulle het die dissipels sonder Jesus sien vertrek met die enigste skuit wat daar was, en Hy het nie van die berg af na hulle teruggekom nie. Toe daar ander skuite van oorkant die see aankom  naby die plek waar hulle die brood uit die Here(!) se hand ontvang het, gaan soek dié, wat met die skuite kon vertrek, vir Jesus in Kapernaum (sy tuisdorp, vgl. Mat 9:1; 4:13).

 

6:25  Hulle erken Jesus as ‘n leermeester (rabbi), omdat Hy hulle waarskynlik daar aan die oos-oewer geleer het. Hulle is egter verbaas dat Hy reeds in Kapernaum is, in die sinagoge (v59).

 

6:26 Jesus se antwoord vlek hulle motiewe oop. Die sin begin ook met ‘Voorwaar, voorwaar.’ Hulle soek Hom nie omdat hulle die betekenis van die wondertekens begryp het nie (vgl. Mk 6:52). Vir hulle gaan dit om die kos wat hulle gratis gekry het, die einde van hulle gebrek aan hulle daaglikse nood, soos hulle dink.   

 

6:27 Die kos wat hulle geëet het hou jou net vir ‘n dag. So het die manna in die woestyn weggesmelt as die son begin bak (Eks 16:21). Die Here se doel met die manna was om hulle ‘te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef uit elke woord wat uit die mond van God kom’ (Deutr. 8:3). Hulle moet hulle beywer/werk vir ‘die kos wat bly bestaan tot die ewige lewe’, wat die Seun van die mens gee. Jesus se selfbenaming ‘Seun van die mens’ wys heen na sy sterwe vir ons sonde en sy opstanding tot die lewe. Daarvoor het God die Vader sy seël op Hom gesit (NAV Hom die mag daartoe verleen) om  die verhouding met God reg te stel. Dit het Jesus aan die kruis vir ons kom doen. Die regte verhouding met God moet in stand gehou word deur ons verbintenis aan Jesus en sy woord.

 

6:28  Die Jode verstaan Jesus verkeerd. Hulle interpreteer sy woord oor ‘werk vir die kos wat tot in ewigheid bly’ as verdienstelike werke wat God sal behaag, om aan hulle die ewige lewe te gee as beloning. Hulle het nie verstaan wat dit beteken dat die ewige lewe deur die Seun van die mens aan hulle gegee sal word nie.

 

6:29 God verlang nie ‘n veeltal werke wat die mens moet ophoop nie. Dit gaan om net een werk, wat eintlik nie ‘n werk is nie. Glo in Hom wat Hy gestuur het. Die ‘werk’ veronderstel ‘n bewuste beslissing en daad van ‘n mens. Die inhoud van die geloof is Jesus self – in Hom moet geglo word. Glo is om God te laat werk. Die mens se ‘werk’ is om Jesus aan te neem as jou Here (1:12).

   

6:30-31 Om te glo dat Jesus van God af kom, vra hulle ‘n meer opspraakwekkende teken as die vermeerdering van die brode. Die manna vir hulle voorvaders in die woestyn het daagliks uit die hemel gekom – daarom wou hulle Hom  koning maak na die vermeerdering van die brode (v15). Geloof op grond van wonders bly twyfelagtig. Dit vereis steeds nuwe en sterker bewyse om die verwondering in stand te hou.

 

6:32-33  Jesus stel eers hulle misvatting reg. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle: Nie Moses nie, maar my Vader het gesorg het vir die daaglikse verganklike manna uit die hemel (Eks 16:14-15), en gee nou en voortgaande aan  julle  die ware brood uit die hemel, wat daagliks lewe gee, soos die manna in die woestyn. Die Brood is Jesus, die Seun van God, wat uit die hemel hier is; en Hy is besig om aan die wêreld die ewige lewe te gee deur sy dood. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71)

Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71) – Francois Malan

In hierdie hoofstuk word twee natuurwondertekens vermeld, daarna twee gesprekke, dan ‘n lering oor die Brood van die Lewe, en weer twee gesprekke. Dit begin by die see van Galilea en eindig in Kapernaum. Waar die sabbat die aanknopingspunt van die gesprek oor die gesag van die Seun in hoofstuk 5 was, is die Paasfees, wat Israel se bevryding uit Egipte en behoud van hulle eersgeborenes herdenk, die aanleiding tot die gesprek oor die redding uit die mag van die dood, van die Seun wat gekom het om die weg tot die ewige lewe te open in hoofstuk 6. Die vermeerdering van die brood wek die verwagting van ‘n nuwe eksodus met lewende brood uit die hemel, en van die offerdood van die Lam van God, wie se liggaam geëet en sy bloed gedrink moet word (Johannes vertel nie van die instelling van die nagmaal  nie).

Die vierde wonderteken: spysiging van die menigte (6:1-15)

6:1 ‘Hierna’ – letterlik: na die dinge. Dit is ‘n verwysing na ‘n onbepaalde tyd. Johannes gee nie die gebeurtenisse kronologies weer nie. Hy knoop sy bekendstelling van wie Jesus is aan sekere gebeurtenisse. In hoofstuk 5 was Jesus nog in Jerusalem. Daarna is Hy blykbaar na Galilea, waar Hy ‘n klomp siekes genees het (v2), en toe na die gebied oos van die see van Galilea gegaan het. Dit is die gebied Dekapolis, die tien Griekse stede (deka 10, polis stad; ‘n gebied in die huidige Jordanië, wat destyds elkeen sy eie stadsbestuur gehad het, onafhanklik van die Herodusse). Slegs in Johannes word die see van Galilea ook die see van Tiberias genoem, na aanleiding van die stad Tiberius, wat deur Herodes Antipas in 26 v.C. ter ere van keiser Tiberius gebou het aan die wes-oewer van dié see (Tiberius was die opvolger van  keiser Augustus, tydens Jesus se geboorte, Lk 2:1, en Tiberius was keiser in Rome tydens Jesus se kruisiging, Lk 3:1).

            Johannes sê nie waarom Jesus daarheen gegaan het nie. Mark 6:30-32 sê: ‘Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie’ – na ‘n baie besige tyd waarin mense aanmekaar na hulle toe gekom en gegaan het. Mat.14:13 sê: ‘Jesus het met ‘n skuit daarvandaan (uit die gebied van Herodes Antipas) weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees’ – nadat Herodes Antipas vir Johannes die Doper laat onthoof het.

 

6:2 Jesus word deurgaans gevolg deur ‘n skare wat die genesingswonders gesien het, wat Hy deurentyd gedoen het (waarvan Johannes slegs enkele beskryf het, Jn 20:30,31). Hulle volg Hom blykbaar om nog wonders te sien.

 

6:3 Jesus gaan die berg op – dit is die bergwêreld van Jordanië, met baie berge in die omgewing. Waarskynlik om sy dissipels te leer.

 

6:4 Die pasga, die fees van die Jode, was naby. Dit vorm die agtergrond vir die gesprekke wat volg.

 

6:5-7 Jesus aanvaar die versorging vir die groot getal volgelinge. Jesus toets Filippus se vertroue in Hom om ‘n menslik-onmoontlike situasie op te los. Filippus het reeds ‘n aantal wondertekens van Jesus gesien, maar sy berekening van die koste wys sy menslike denke. Twee honderd dinarii (een dinarius was die dagloon vir ‘n arbeider) sal nie genoeg wees om vir elkeen ‘n klein stukkie brood te koop nie.

 

6:8-9 Andreas, Petrus se broer, kom vertel van wat beskikbaar is: ‘n seuntjie met vyf garsbroodjies (kos van die armes), en twee stukkies toekos, gewoonlik gedroogde vis – slegs genoeg vir twee mense.  Sy skeptiese vraag is: wat is dit vir so baie mense?  Soos Filippus, sien hy ook geen uitweg nie (vgl. egter 2 Kon 4:42-44).

 

6:10-11 Vir Jesus is dit nie ‘n verleentheid nie. As gasheer laat Hy die mense in groepies sit, waarskynlik gesinne bymekaar, met omtrent 5,000 hoofde van gesinne. Nadat Hy God gedank het vir die voedsel, deel Hy die brood en die vis uit, sonder beperking van die hoeveelheid wat elkeen kan kry nie.

 

6:12-13 Die oorvloed mag nie aanleiding wees vir verkwisting nie; maar die 12 vol mandjies oorskiet wat deur die twaalf dissipels bymekaarmaak word vergelyk met die skamele vyf broodjies om die oorvloed te beklemtoon. Soos die oorvloed wyn van 2:6, is die oorvloed kos simbole van die oorvloed van die nuwe lewe saam met Jesus (1:16: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang).

 

6:14 Die mense beskou Jesus as die beloofde profeet soos Moses (Deutr. 18:15), maar  nie as ‘n lydende Messias nie. Dat Hy na die wêreld toe moes kom, en nie net na die Jode nie, spreek uit die feit dat die spysiging in die heidense gebied van Dekapolis geskied het; dit pas by 3:16 met God se liefde vir die wêreld, en 1:29 se Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

 

6:15 Die mense sien hierdie wonderwerker as die ideale koning om hulle te lei teen die Romeine. Hulle wil Hom met geweld koning maak, maar Jesus weerstaan die versoeking om ‘n aardse koning te word, wat sy goddelike mag misbruik vir geweld en vir sy eie eer. Hy is nie so ‘n aardse Messias koning nie. Hy gaan alleen hoër op teen die berg (Mk 6:46 en Mt 14:23 sê: ‘om te bid’).

 

Skrywer: Prof Francois Malan