Jesus en/of engele-Vraag

Jesus en/of engele – Kobus Kok

Christa vra:

Verduidelik die raamwerk van Jesus se Goddelikheid en menslikheid en die waarde van engele in Hebreërs 1-2. Dit klink of die “skrywer” verkeerdelik te veel waarde aan die engele geheg het.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Die antieke mense het oor die eeue baie waarde aan engele geheg. Die woord engel is afgelei van die Griekse woord angelos wat boodskapper beteken. In Paulus se brief aan die Kolossense sien ons hoe Paulus die aanbidding en verering van engele afwys. Hy stel die probleem reg deur die lesers die regte perspektief op die Christologie (Leer van Christus) te gee in Kolossense 1:15-20. Paulus (of die skrywer van Kolossense) se argument is eenvoudig: God het in en deur Christus die ganse kosmos geskep. Dit beteken dat Christus bo alles is. Die wat engele aanbid, mis die punt vir twee redes: In die eerste plek het mense direkte toegang na God en hoef nie te poog om deur die engele heen in God se teenwoordigheid te kom of sy wil te soek nie, en in die tweede plek is die aanbidding van engele tweede prys omdat Christus die hoogste kosmiese posisie ingeneem het. Diegene wat verstaan wie Christus werklik is, sal dus nie in die slaggat trap om tweedehandse aanbiddingskanale te wil volg nie. Ware aanbidders weet immers dat daar vrye toegang tot God is. Sulke mense hoef ook nie engele of hemelse magte gelukkig te probeer hou nie, maar alleen vir Christus wat in die triomftog van God/Christus elke mag oorwin het (Kol 2:15).

 

Dieselfde punt word ook in Hebreërs 1 gemaak. In die verlede het God deur die profete en engele met mense gekommunikeer. Dink maar aan Adam, Abel, Enoch, Noag, Abraham, Isak, Jakob se droom, Josef en Moses (Eks 33:11).Maar nou het Christus die belangrikste plek in die kosmos ingeneem en is Hy die kanaal waardeur God sy wil bekend gemaak het. Hebreërs skep ʼn troonsaal beeld en maak dit duidelik dat Jesus aan die regterhand van God, die Koning sit – dit is ʼn posisie wat kwalitatief verhewe is bo die posisie van die engele. Openbaring 4:1-11 gee vir ons dieselfde prentjie.

 

Hebreërs 1:3 maak ʼn baie sterk saak vir die posisie en aard van die Seun. Die Seun straal die glorie van God uit en is ʼn kopie van God. Enige muntstuk is op ʼn model gebou en is ʼn presiese kopie van die oorspronklike. Hebreërs wil ons laat verstaan dat Christus die beeld van God is. God het gekies om Homself teenwoordig te stel deur die beeld van die Seun. Die wat die Seun aanbid, aanbid dus die Vader. Dit is soos ʼn koning wat Sy enigste Seun bemagtig om namens hom na ʼn bepaalde plek te gaan met die volle sanksionering van die Koning self. Die wat die koning se seun vriendelik ontvang, ontvang dus die koning. Die wat die seun verwerp, verwerp die koning. Juis om hierdie rede moet die lesers van Hebreërs verstaan dat engele en profete meteens plek moet maak vir die gekose verteenwoordiger wat deur God aangewys het, naamlik Jesus. Jesus is God se verteenwoordiger en Hy neem die ereplek in. Daarom moet Christus vereer word net soos God vereer word. Hierdie ereposisie van die Seun maak profete en engele minder van belang. Vanuit hierdie ereposisie dien Jesus dus ook as middelaar tussen mense en God.

 

Literatuur wat geraadpleeg kan word:

  •          Kistemaker, S. J., & Hendriksen, W. (1953-2001). Vol. 15: Exposition of Hebrews. New Testament Commentary (26). Grand Rapids: Baker Book House

 

  •          Kok, J., 2010, ‘Die Irrglaube in Kolosse: Aanbidding van of met engele in Kolossense 2:18?’,
  •          HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art. #765, 7 pages. DOI: 10.4102/hts.v66i1.765

 

  1. U kan bogenoemde artikel gratis bekom deur die volgende skakel te druk (http://www.hts.org.za/index.php/HTS/article/view/765/788)

 

Skrywer: Prof. Kobus Kok




Christene en Gewere in ‘n Gevaarlike land

Christene en Gewere in ‘n Gevaarlike land – Kobus Kok

‘n Leser vra:

 

Ek het nog altyd met vuurwapens in die huis groot geword, en glo nog altyd in selfverdediging. Ek glo daarin dat ek myself en die waarvoor ek lief is, asook die wat nie fisies in staat is om hulleself te beskerm nie, te beskerm teen bose mense. Ek dra 24/7 my pistool aan my en glo dat hy niks werd is as hy in die kluis lê nie. Ek neem ook verder deel aan sport skiet, en doen gereeld opleidingkursusse. Ek oefen gereeld, en het onlangs gekwalifiseer as “Expert” in die IDPA sport, wat net een vlak bo die hoogste “Master” is. Dit, nie om myself goed te laat voel nie, maar die doel is dat as ek ooit my vuurwapen moet gebruik om myself of my familie te beskerm, ek wil seker wees ek sal nooit per ongeluk my eie vrou of kinders raak skiet nie. Ek glo dat as mens ernstig is oor vuurwapen besit, mens die persoonlike verantwoordelikheid moet neem om jouself fisies op te lei, asook jou kennis in terme van wette, wanneer jy mag nie nie mag skiet nie, ens. Ek het onlangs, in die afgelope jaar waardig na Christus gedraai, en ‘n groot groeiproses ondergaan. Ek wil dus seker maak dat die “alledaagse” dinge waaraan ek glo volgens Jesus is. So ek wil graag weet, moet ek as Christen alleenlik in Jesus vertrou vir my beskerming, of stel Hy my in staat deur my vermoëns met so ‘n wapen om Sy wil uit te voer?

Wat glo julle sê die Bybel oor die saak? Volgens wat ek persoonlik in die Bybel kan sien, sê dit geensins dat mens dit nie moet doen nie. Volgens Luke 22:35-39:  And He said to them, “When I sent you without money bag, knapsack, and sandals, did you lack anything?” So they said, “Nothing.” 36 Then He said to them, “But now, he who has a money bag, let him take it, and likewise a knapsack; and he who has no sword, let him sell his garment and buy one. 37 “For I say to you that this which is written must still be accomplished in Me: ‘And He was numbered with the transgressors.’ For the things concerning Me have an end.” 38 So they said, “Lord, look, here are two swords.” And He said to them, “It is enough.” 39 Coming out, He went to the Mount of Olives, as He was accustomed, and His disciples also followed Him. Ek glo dat die woord “swaard” hier pleinweg “swaard” beteken, en dat Jesus letterlik gesê het hulle moet letterlike swaarde aanskaf en dra. Laat weet gerus wat julle dink.

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Moet Christene op gewere staatmaak in ons gevaarlike land? Gee die Bybel daaroor raad?

 

Dit lyk so vinnig as mens daarna kyk of Handelinge op een plek vir gelowiges sê dat hulle met die swaard gewapen moet wees. Is dit ʼn teks wat die gebruik van geweld regverdig?

 

In die eerste plek moet ons in gedagte hou dat die teks aan antieke mense in ‘n bepaalde sosiaal-historiese konteks geskryf is. In hierdie gedeelte (Hand 22:36) wil Lukas dit duidelik maak dat navolgers van Jesus maar moet vrede maak met die feit dat die wêreld hulle sal verwerp, en dat hulle op hulle eie aangewese sal wees. Baie geleerdes is egter van mening dat die opneem van die swaard hier nie letterlik geneem moet word nie, maar simbolies. Die rede is dat ons op baie ander plekke sien dat Jesus die opneem van geweld sterk afwys (vgl. bv.  22:49–51). In Handelinge 4:25–31; 8:1–3; 9:1–2; 12:1–5 sien ons ook duidelik hoe geweld afgewys word. In Handelinge 4:25–31 stel die skrywer dit duidelik dat die gelowiges eintlik net gewapen moet wees met gebed en geloof. Indien al hierdie teksgedeeltes in ag geneem word kry ons eerder die prentjie dat Lukas die swaard net as simbool aanwend in Handelinge 22:36, en die gedagte word verskerp in Handelinge 22:38. Hou egter deurgaans in gedagte dat Handelinge nie in die eerste plek ʼn situasie in 2013 in Suid-Afrika in gedagte gehad het nie. Ons moet dus nie te vinnig probeer om na tekste te gryp om ons eie behoeftes en vrese te regverdig nie.

 

Prakties: Ons bly egter ongelukkig in een van die gevaarlikste lande in die wêreld. In sommige statistieke vergelyk ons met lande wat in oorlog verkeer. Dit bly elke gelowige se eie verantwoordelikheid om hulself te beskerm met die middele tot hulle beskikking. Daar is baie maniere om jouself en jou gesin te beskerm. Wapens is maar een daarvan. Sommige mense se wapens het hulle lewens gered. Ander is weer met hulle eie wapens vermoor. Dit bly ‘n moeilike keuse en daar is nie maklike antwoorde op die vraag nie. Bid egter daaroor en vra vir wysheid.

 

Geraadpleegde bron:

Bock, D. L. (1996). Luke Volume 2: 9:51–24:53. Baker Exegetical Commentary on the New Testament (1747). Grand Rapids, MI: Baker Academic.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Is Sondagskool belangrik?

Is Sondagskool belangrik? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek wil graag uitvind in verband met die belangrikheid van Sondagskool. Beide ek en my man kom uit NG kerke. Ons was vir ‘n geruime tyd in ‘n NG gemeente, waar my kinders nie regtig aanklank gevind het by die preek nie, maar was wel mal gewees oor hulle Sondagskool!! Selfs ek en my man het soms gevoel die dominee praat bo mens se kop, en dit is deels hoekom dit nie die kinders vreeslik geïnteresseer het nie! Selfs die sang was dood!! Al wat my daar gehou het, was die feit dat die kinders die Sondagskool geniet het.

Ek en my man het so paar maande weer opnuut ons lewe vir die Here gegee, nadat onsself deur ‘n moeilike tyd was! Ons is een sondag saam vriende genooi na ’n ander NG gemeente, en my asem was weggeslaan – kon nie glo dat twee NG gemeentes soveel kan verskil nie. Hulle sang was fantasties, en dan praat ek nie eens van hulle preke nie. Elke preek is iets besonders, en daar word soveel moeite gedoen om dinge vir nie net die kinders nie, maar selfs ons as ouers te illustreer. Elke preek is vir my soos ‘n geskenk wat oopgemaak word – elke keer leer ons iets nuuts, en ek besef net weereens hoeveel ek self as Christen gemis het!!! Ek wil nie daardie “geskenk” van my kinders ontneem, deur eerder by die vorige gemeente te bly, net omdat die kinders die Sondagskool saam die maats geniet nie!! Tans voel dit of ek in ‘n tweestryd is met wat reg en verkeerd is, want ons het geskuif na die gemeente waar ons elke sondag kan “uitsien” na ‘n preek!! Die enigste nadeel is dat hulle Sondagskool weer nie die kinders vreeslik interesseer nie – die kinders neem nie regtig deel in die gesprekke nie, en hulle Sondagskool is ook glad nie verpligtend nie (behalwe die finale jaar). Dus, het die kind die keuse van Sondagskool of kerk saam die ouers. In my hart voel ek, dit is vir my belangrik dat my kinders eerder dan die preek saam ons bywoon, in plaas van die Sondagskool en ek voel hulle verstaan en ervaar die Here met elke diens. Is dit verkeerd omdat ons hulle nou weerhou van Sondagskool?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Dit is belangrik dat julle as gesin om ‘n tafel sit en die saak uitpraat. Daar kan baie redes wees waarom die kinders meer van die Sondagskool hou. Dalk is die redes nie altyd so goed nie. Dit is belangrik dat die gesin saam kerk toe gaan en dat die kinders ‘n positiewe belewenis van kerkwees ervaar. Op die ou einde wil mens graag hê dat hulle by ‘n kerk sal aansluit as hulle eendag klaar is met Sondagskool. Miskien lê die antwoord in ‘n gebalanseerde kompromis. Laat die kinders Sondagskool toe gaan, en woon ‘n aand erediens by die nuwe kerk as gesin by. So kan almal se belange gedien word. 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Die Seun en die laaste oordeel (5:25-30)

Die Seun en die laaste oordeel (5:25-30) – Francois Malan

5:25 Die volgende waarheid word ook beklemtoon. Die uitspraak van v22 dat die Vader die oordeel aan die Seun gegee het, word tweeledig uitgewerk. Dit verwys na die opwekking van die dooies en die eindoordeel – die uur wat aan die kom is, maar ook na die ‘nou’ – dié wat die stem van die Seun nou reeds hoor. Die wat reeds gesterf het, sal opstaan op die roepstem van die Seun, en dié wat nou reeds sy stem hoor, sal nou uit die dood in die lewe oorgaan. In beide gevalle, in die hede en in die toekoms word die lewe bepaal deur jou verhouding tot die Seun van God, wat deur die Jode verwerp word. Hier en in 10:36 en 11:4 noem Jesus Homself die ‘Seun van God’, origens ‘die Seun’ of ‘Seun van die mens’ (vgl. die gesig van Daniël 7:13-14)..

5:26 God is die bron van alle lewe (Ps 36:10). Omdat die Seun aan die Vader gelyk is, het Hy ook van ewigheid af die lewe ín Hom (1:4) – ‘gegee’ want God is die lewende God (Ps 42:3; Jer.10:10), wat aan die Seun die lewe in Homself gegee het. Ook daarin is Hy aan God gelyk.

 

5:27 God het aan Jesus die bevoegdheid gegee om te oordeel – ‘n algemene stelling wat strek oor die hele lewe, en dit word in verse 28,29 toegespits op die eindoordeel. Die rede wat aangegee word, is ‘omdat Hy die ‘Seun van ‘n mens’ is = omdat Hy is mens is. Aan Hom, wat as mens onder die mense verskyn het, het God die volmag gegee om te oordeel, volgens Dan 7:13-14 ‘Een soos die Seun van ‘n mens’ aan wie heerskappy, eer en koningskap gegee is. Sy oordeel is nou reeds, as mens, die waarheid – ook sy oordeel oor sabbatswerk. Hy en die Vader oordeel saam  (8:16). Elke mens se optrede word deur Hom beoordeel.

 

5:28,29 As die Jode verbaas is dat hierdie man Jesus dooies kan opwek en regverdig kan oordeel oor mense, sal die volgende uitspraak hulle nog meer verbaas.  Hierdie Jesus, wat hulle van godslastering beskuldig, gaan op die oordeelsdag almal wat  in die grafte is daaruit roep, hulle gaan opstaan uit die dood en Hy is die finale Regter. Die wat goed gedoen het, gaan lewe, en die wat kwaad gedoen het gaan veroordeel word. Hoewel die ewige lewe slegs uit God se genade en deur die geloof verkry kan word (1:16; 5:24), is ‘goeie dade’ die bewys van die innerlike gesteldheid van die mens. Goeie en slegte dade vloei voort uit aanvaarding of verwerping van die Verlosser-Openbaarder van God (3:16-21). Die lewe wat ‘n mens lei, lewer getuienis van sy verbondenheid aan die Vader en die Seun (‘n goeie boom dra goeie vrugte, en ‘n slegte boom dra slegte vrugte (Mat.7:17-18; 12:33).

 

5:30 Die argument keer terug na v19, maar in plaas van die derde persoon ‘die Seun’ praat Jesus in die eerste persoon ‘Ek’, soos die ‘Ek is’ van Eks 3:14 : ‘Ek kan nie iets op my eie doen nie; soos Ek hoor, oordeel Ek, en my oordeel is regverdig, want Ek soek nie my wil nie, maar die die wil van Hom wat my gestuur het.’ In alles handel Hy in die nouste verbondenheid met die Vader en doen net wat Hy by die Vader sien (v19) en wat Hy van Hom hoor (v30). Die Seun vorm sy eie oordeel, maar dit is op dieselfde wyse en van dieselfde aard as die oordeel van die Vader. Die is ‘n regverdige oordeel omdat eie-belang geen rol speel nie. Die wil van die Vader is dat aan elkeen reg sal geskied.

 

Die getuies ten gunste van Jesus (5:31-40)

5:31,32 Soos in ‘n hofsitting roep Jesus in verse 31-40 getuies op om vir Hom te getuig, teen die Jode wat getuienis eis om sy aansprake te regverdig. Sy eerste getuie is  ‘Iemand Anders” waarvan Jesus weet dat sy getuienis waar is. Die ‘Iemand Anders’ is ‘die Vader’ (v36,37), wat die volgende getuies aan Jesus voorsien het:

            Johannes die Doper vv33-35, die man wat God gestuur het om van die Lig te getuig (1:6-7)

            Die werke wat sy Vader aan Hom gegee het om te doen, soos bv. die genesing op die sabbat (v36)

            Die woord van God, wat die Vader in die Skrif laat opteken het (vv37-40).

Die Jode het hierdie getuienisse oor Jesus nie aangeneem nie, en staan daarom as die skuldiges, en Jesus is die waarheid (vv41-47).

            Die Vader se getuienis is eintlik die enigste wat tel; maar Jesus erken die beginsel van Deutr. 19:15 in hierdie hof-opset: ‘n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies. Aangesien die Jode nie die stem of die persoon van die ‘Iemand Anders’ ken nie, wys Jesus na drie wyses waarop die Vader getuienis aflê,  sodat die Jode dit kan verstaan. Van die ‘Iemand Anders’ sê Jesus letterlik (met ‘n teenwoordige deelwoord wat voortduur aandui): ‘wat besig is om getuienis oor My te lewer’ – wat steeds voortgaan om getuienis oor Jesus te lewer.

 

5:33 Die eerste getuie is Johannes die Doper, wat die Jode reeds as getuie gaan ondersoek het (1:19-28), en Johannes het onomwonde getuig: Hy is die Seun van God (1:34), die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29), die Een wat met die Heilige Gees doop (1:33). Van Johannes die Doper sê Jesus letterlik (met ‘n voltooide werkwoord waarvan die gevolge voortduur): ‘hy het die waarheid getuig, en dit bly waar’. Daarom moes die Jode dit aangeneem het. God het hulle nie in onkunde oor die koms van die Messias gelaat nie; Hy het die wegbereider, wat in Maleagi 4:5 voorspel is, gestuur om hulle op te roep tot bekering. As die Jode soos die eerste dissipels Johannes se getuienis aangeneem  het, sou hulle die weg tot die lewe gevind het (vgl. 1:41: ‘Ons het die Messias gekry’).  

 

Skrywer: Prof francois Malan