Die derde teken: genesing van ‘n sieke (5:1-18)

Die derde teken: genesing van ‘n sieke (5:1-18) – Francois Malan

5:1 Hoe lank Jesus in Galilea gewerk het, word nie aangedui nie. Jesus gaan op na Jerusalem, waar daar baie mense by die fees teenwoordig sou wees – en van nou af begin Jesus tussen skares rondbeweeg.

5:2 Die Skaappoort is in Nehemia se tyd na die ballingskap herbou  (Neh.3:1,32; 12:39). Betesda  (huis van barmhartigheid) het  Noord van die Skaappoort gelê, en was in Jesus se tyd moontlik nog nie ommuur nie. Tans lê dit naby die Stefanuspoort.  Daar was twee waterpoele waarin mense gebad het. Die opgrawings wys daar was twee pilaargange aan die kante van die twee poele en ‘n vyfde pilaargang wat dwarsoor die middel van die twee poele gestrek het.

 

5:3 Hier het ‘n groot getal gestremdes gelê. Volgens vers 7 het hulle gewag dat die waters in beweging kom.

[In die vyfde eeu n.C. word 5:3b,4 ingevoeg: ‘wat op die roering van die water gewag het. Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat eerste ingegaan het ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.’ Dit kom nie in die oudste en beste tekste voor nie en weerspieël ‘n volksgeloof:]

 

5:5,6 Jesus kom na die lamme wat reeds 38 jaar lank siek is, en waarskynlik alle hoop op herstel verloor het. Daarom vra Jesus of hy gesond wil word.

 

5:7 Die man se hopeloosheid spreek uit sy klagte: Ek het niemand om my te help nie. Hy praat van die enkelinge wat met die roering van die water voor hom inspring (die poel kry blykbaar van tyd tot tyd water wat uit die Kedronspruit inloop wat die roering veroorsaak – soos tydens die opgrawings opgemerk is).

 

5:8,9a Met drie kort bevele genees Jesus die man: staan op, neem jou bed op, en loop. En dadelik was die mens genees. Hy gehoorsaam die bevel van die man wat hy van geen kant af ken nie: neem sy matras op en loop – nie soos hy verlang het deur iemand wat hom in die water inhelp nie, maar deur die woord van Jesus, die Woord van God wat mens geword het, die Skepper wat dié man se liggaam met sy woord herskep het.

 

Gesprek oor Jesus se sabbatswerk (5:9b-18)

5:9b,10 Die genesing vind op die sabbatdag plaas en die Jode sê vir die geneesde: ‘dit is sabbat, en dit is nie vir jou toegelaat om jou matras te dra nie.’ Die benaming ‘Jode’ word in Johannes gebruik vir Jesus se teenstanders, veral onder die leiers van die volk, en hier waarskynlik die Fariseërs wat hulle toewy aan die studie van die Wet-Profete-Geskrifte (die Joodse Tenach). In Num.15:32-36 is ‘n man wat op die sabbat hout bymekaargemaak het  bv. in opdrag van die Here met klippe doodgegooi; in Neh.13:15-19 het Nehemia die poorte van die stad op die sabbat gesluit vir alle handel; in Jer.17:21-23 waarsku die Here dat mense met sabbatswerk hulle lewens op die spel plaas. En hier dra ‘n man sy bed op die sabbat.

 

5:11 Die man lê die skuld op die man wat hom genees het – die Man wat gekom het om ons skuld op Hom te neem.

 

5:12,13 Die geneesde weet nie eers wie dit was wat hom genees het nie, en kan hom nie tussen die skare sien nie, omdat Jesus Hom onttrek het weens die skare op die plek.

 

5:14 Die geneesde man gaan vier sy genesing op die sabbat in die tempel. Daar kry Jesus hom apart onder vier oë, en waarsku hom om nie voort te leef in sonde op pad na die ewige verdoemenis nie – dit beteken nie sy siekte was die gevolg van sonde nie (vgl. 9:2,3), maar dit is Jesus se persoonlike sielsorg aan die man, wat pas ‘n nuwe liggaamlike lewe gekry het, om sy lewe in die regte verhouding tot God te bring.

 

5:15 Die man weet nou wie hom genees het en getuig van Hom voor die Jode. Daarmee verdwyn die man uit die verhaal. Hy het die rol vervul om Jesus met die Jode te konfronteer, en nou begin die aanval op Jesus.

 

5:16 Die Jode vervolg Jesus, omdat Hy die dinge op ‘n sabbat doen.  Die twee werkwoorde ‘vervolg’ en ‘doen’ in die onvoltooide tyd,  dui op die Jode se voortgaande vervolging van Jesus, en van Jesus se voortgaande werkwyse op die sabbat. 

 

5:17 Wat die woorde was waarmee die Jode vir Jesus aangeval het, word nie gesê nie, maar wel Jesus se antwoord daarop: ‘My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook.’ Die Jode het geglo dat God op die sewende dag sy skeppingswerk voltooi het en op die sewende dag gerus het van al sy werk wat Hy gemaak het (Gen 2:2; sjabat beteken om op te hou werk, te rus). Daarna sou God voortgaan as Regter om regverdiges te seën en sondaars te oordeel. Jesus sê egter dat die sewende dag geen dag van ledigheid by God is nie, maar dat Hy voortgegaan het met die onderhouding van sy skepping. Die sabbat het die onderhoudingswerk van God nie onderbreek nie. Geen oomblik laat Hy sy skepping sonder sy sorg nie. Anders as die skeppingsdae wat ‘n begin en ‘n einde gehad het, het God se rusdag slegs ‘n begin gehad, en sal die einde van sy rusdag eers aanbreek wanneer die volheid van alles bereik is. God het alles deur die Seun geskep…en deur Hom bly alles in stand (1:3-4; Hebr.1:3). Daarom: werk die Seun ook in eenheid en gehoorsaamheid aan sy Vader  en doen Hy goed op die sabbat deur lydendes te genees en te bevry. Jesus praat van ‘my Vader’ om die intieme band tussen Hom en die Vader aan te dui en dat Hy die Seun van God is.

 

5:18  Die Jode soek al meer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die sabbat ontheilig nie (letterlik: losgemaak, verbreek, beëindig nie), maar God ook sy eie Vader genoem  en daardeur Homself gelyk aan God gestel. Die Jode interpreteer Jesus verkeerd. Hulle meen dat gelykheid aan God beteken dat Hy onafhanklik van God is, terwyl Jesus juis daarmee sy totale afhanklikheid van sy Vader uitdruk. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede teken: ‘n nuwe huisgesin (4:43-54)

Die tweede teken: ‘n nuwe huisgesin (4:43-54) – Francois Malan

Die eerste teken in Kana (2:1-12) en die tempelreiniging (2:13-22) is aanduidings van Jesus se program van optrede: die ou reinigingsgebruike word vervang deur ‘n nuwe fees van die verhouding met God deur wedergeboorte van Bo af (3:1-36); die ou  tempeldiens deur ‘n nuwe aanbidding van God in Gees en Waarheid (4:1-42). Só dui die tweede teken in Kana (4:43-54) op die begin van ‘n nuwe lewenswyse.

4:43,44 Jesus vertrek uit Samaria waar die mense Hom as profeet geëer het, en Hom as die Messias aanvaar het.  Hy vertrek na Galilea, waar Hy groot geword het,  om ‘n vreemde rede: ‘want Hy het self verklaar dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Ten spyte van aanvanklike vriendelikheid sou Hy mettertyd in Galilea teenstand ondervind, selfs van sy broers (7:3-5). Dit was deel van sy lydingsweg, en Hy is bereid om daardie weg te gaan, al het Hy geweet wat vir Hom wag.

 

4:45 Die Galileërs verwelkom Hom, omdat baie van hulle die fees in Jerusalem bygewoon het en die wonders gesien het wat Hy gedoen het – dit is egter geloof in ‘n wonderwerker, en nie as hulle Messias-Verlosser nie. Later mor hulle oor sy woorde (6:41), dat dit te erg is (6:60) en baie verlaat Hom (6:66).     

 

4:46 Die eerste teken in Kana was die begin van die bruilofsfees van die nuwe lewe; die tweede Jesus se stryd teen siekte en dood. Hy het huisvriende gehelp uit hulle nood, deur nuwe wyn te voorsien; toe ‘n gesin uit die nood van ‘n sterwende kind, op versoek van sy pa, wat in diens van Herodes Antipas is, wat vir Johannes die Doper vermoor het. Kapernaum aan die noord-wes-oewer van die see van Galilea was ‘n belangrike kontrolepunt op die hoofpad tussen Sirië en Egipte. Herodes, die Idumeër (afstammeling van Esau), en deur die Romeine aangestel as die heerser oor Galilea, het ‘n militêtre eenheid en hoë amptenare daar geplaas.

 

4:47 Die pa stap/ry te perd self die berg-op en -af en weer –op tot by Kana (27 km soos die kraai vlieg) met sy diepe nood oor sy kind, toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het. Hy vra dat Jesus saam met hom gaan om sy seun te kom genees. Sy motivering daarvoor is dat die seun op sterwe lê.

 

4:48 Jesus vertrou Homself nie toe aan  mense wat glo dat Hy slegs ‘n wonderwerker is nie (2:23,24); dié soort geloof wys Hy af. Geloof moet veel dieper gaan as ‘n oppervlakkige aanhang van ‘n man wat wonders kan doen. Dit gaan om geloof in die persoon van Jesus, om ‘n permanente toegewyde verbinding met Hom.

 

4:49 Die hofamptenaar lê al sy aansien en status af. Hy spreek Jesus aan as ‘Here’, sonder enige aanspraak op sy eie posisie of verdienste. As ‘n radelose pa pleit hy vir die lewe van sy seun by Hom in wie die Lewe is (1:4).   

 

4:50 Jesus antwoord sy versoek anders as wat hy verwag of gehoop het: ‘Gaan, jou seun lewe.’ Dit is Jesus se skeppende en vernuwende woord. Hy gaan nie saam met die man nie, maar gee ‘n geloofsopdrag met ‘n versekering. Die mens  (ho anthroopos,  NAV die man)  het die woorde van Jesus geglo. Daarmee erken Hy Jesus se goddelike gesag oor lewe en dood; hy is ‘n mens soos alle mense, en daarom ook voorwerp van God se liefde en  reddende genade. So gaan hy gewillig huis toe – hy het in Jesus geglo en sy woord aanvaar sonder om te sien, en sal weldra sien omdat hy geglo het.

 

4:51,52 In Kapernaum het die wonder gebeur. Die kind het teen alle verwagting gesond geword. Van die diensknegte het uit blydskap dadelik vertrek om die goeie nuus aan die pa te gaan vertel: jou seun lewe! Op sy vraag wanneer die genesing begin het, antwoord hulle: gister op die sewende uur het die koors hom verlaat.

 

4:53 Hy kry bevestiging van Jesus se woord: jou seun lewe! In verse 50,51,53 word die woord ‘lewe’ drie maal herhaal. Johannes onderstreep daarmee die betekenis daarvan vir sy lesers: wie in Jesus glo, vind by Hom die lewe, in Hom is die ewige lewe. Die pa en sy hele huis, sy vrou, kinders en  slawe ingesluit, het in Jesus geglo, en daardeur ‘n nuwe gesin geword. Hulle erken Jesus as die Gesant van God aan wie hulle hulle lewe toewy in gehoorsaamheid.

 

4:54 Johannes het die siklus van gebeurtenisse begin met die wynwonder in Kana en sluit die siklus af met die genesingswonder in Kana, altwee nadat Jesus uit Judea in Galilea aankom. Tussenin word na ander wondertekens verwys (2:23; 3:2; 4:45), maar met hierdie twee wondertekens stel Johannes vir Jesus aan sy lesers voor as die Vernuwer van die Joodse reinigingsgebruike en die goddelike Geneser. In dié siklus word van drie persoonlike ontmoetings vertel: aan Nikodemus die Fariseër lid van die Joodse Raad, wat Hom as ‘n leermeester wat van God af kom beskou, openbaar Jesus Hom as die Seun van God (3:16); aan die halfheidense Samaritaanse vrou en haar stadjie, wat Hom as ‘n profeet aanvaar, openbaar Hy Hom as die Messias,  ‘Ek is’, die Woord van God wat reeds in die Ou Testament God se Woord gespreek het; aan die heidense hofamptenaar en sy gesin openbaar Hy Hom as die Here oor lewe en dood, wat lewe gee.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42)

 

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42) – Francois Malan

4:30 Die inwoners van die dorp stroom na die fontein toe. Die eerste dissipels het enkelinge na Jesus toe gebring, maar die vrou bring ‘n haar hele stadjie na Jesus toe. Nikodemus se gesprek met Jesus dra eers vrug na die dood van Jesus, toe hy kom help om Hom te begrawe (19:39,40); die oorvloedige vrug op die vrou se gesprek met Jesus is dadelik sigbaar. Die dissipels bring brood van die stad af, die vrou bring mense. Jesus open ‘n nuwe lewe vir vroue en Samaritane, oor die vooroordele van die verlede heen.

4:31,32 Terwyl die vrou weg was, dring die dissipels by Jesus aan om te eet van die brood wat hulle,gebring het. Maar Jesus het brood wat hulle nie van weet nie. Soos Jesus met die vrou oor water begin praat het, praat hy nou met die dissipels oor kos, waaraan Hy ‘n geestelike betekenis gee, en die mens se prioriteite regstel (vgl. Mat 6:31-33). Sy het nie verstaan wat Jesus vir haar wil gee nie, en die dissipels nie waarby Hy self lewe nie (vgl. Mat 4:1-4).

 

4:33,34 Hulle vraag bevestig dat hulle seker is dat niemand vir Hom iets te ete gebring het nie. Hulle verstaan Jesus se antwoord letterlik; vandaar die misverstand (soos die Jode in 2:20). Die volvoering van God se wil is die ‘voedsel’ wat Hom bevredig. Gehoorsaamheid aan die geestelike roeping  moet voorrang geniet, bo die behoeftes van die liggaam. Johannes beskryf Jesus se hele bediening as gehoorsaamheid in aksie, wat Hom eindelik lei tot sy oorgawe in die dood – die woord ‘voltooi’ is in Grieks dieselfde as sy kruiswoord ‘dit is volbring’ (19:30). Hy volbring die taak waarvoor die Vader Hom gestuur het (17:4).

 

4:35 Jesus se onderrig van sy dissipels gaan voort: Julle sê dit is nog vier maande voor die oes, wat in die middel van April kom. Daarom is die besoek aan Sigar waarskynlik middel Desember. Maar Jesus wys hulle na die skare wat van Sigar af kom, die lande is ryp vir die oes. So is dit altyd oestyd vir die oes wat God besig is om voor te berei in die lewens van mense. Die oes waarvan Jesus praat is die insameling van mense vir die ewige lewe.

 

4:36 Saai en oes in God se diens gaan gelyktydig aan. Dit is die dringende taak van Jesus se volgelinge om mense na die ewige lewe te lei, om voort te gaan met die saai van die woord, en die oes van mense wat ryp is vir geloof in Jesus. Nou reeds word die vreugdeloon aan saaier en maaier uitbetaal wanneer mense die woord van God aanneem deur tot bekering te kom. 

 

4:37 Om deel te hê aan die gesamentlike blydskap moet elkeen getrou bly in die arbeid wat aan hom toegesê is. Hier is nie plek vir onderlinge afguns tussen saaier en maaier nie. Arbeiders in diens van die Here verskil in aanleg en opdrag, maar werk saam vir een groot saak. Elkeen se taak is belangrik vir God se sending in die wêreld.

 

4:38 Ander het gearbei – dit wys waarskynlik na die Ou-Testamentiese profete, Johannes die Doper, en Jesus se werk self. Vir die Samaritane het Deuteronomium die verwagting van Taheb gewek, en die vrou by die put het die saad in die stad gesaai. Jesus stuur sy dissipels om die oes uit ander se werk in te samel.

 

4:39 Op haar getuienis glo die Samaritane dat Jesus ‘n profeet is, moontlik die verwagte Messias. Daarom wil die bewoners meer van Hom sien en hoor. Haar ommekeer en vrymoedigheid lei tot die geloof van die stadjie se mense.

 

4:40,41 Die Samaritane wil meer hoor en sien van hierdie man wat die vrou se lewe omgekeer het, en nooi Hom om by hulle oor te bly. Vir twee dae onderrig Jesus hulle en baie meer van die stadjie glo in Hom op grond van sy  woord (logos); Hy wat die Woord (logos 1:1-3) van God is in sy persoon en sy boodskap. Dit is so anders as die Joodse Paasfeesgangers in Jerusalem, wat in sy Naam geglo het toe hulle die wondtekens gesien het wat Hy gedoen het. Later sal die Jode skreeu: ‘nie hierdie man nie, maar Barabbas’ die rower – wat vir hulle losgelaat moet word (18:40); en: ‘as jy hierdie man loslaat, is jy nie die keiser se vriend  nie’ (19:12), en toe Pilatus vir die Jode sê: Kyk, julle koning!, skreeu hulle: ‘weg met hom, weg met hom, kruisig hom’ (19:15).

 

4:42 Die Samaritane  sê vir die vrou: Ons glo nie meer op grond van wat jy gepraat het nie,  want  self het ons gehoor – nl. Homself en sy Woord – en ons weet dat Hy waarlik die Redder van die wêreld is (vgl. God se liefde vir die wêreld 3:16). Die vrou se uiters onvolledige getuienis was die middel om dié mense by Jesus self uit te bring, by hulle Redder wat die Redder van die wêreld is. Die Romeine het die keiser as god aanbid met die titel: Redder van die wêreld, maar in die belydenis van die Samaritane is dit ‘n egte Messiasbelydenis.

 

Die vrou wys die vreemde man wat dors is eers af, wys haar teenstand teen die Jood, spot met die rabbi, maar word oorwin deur die profeet, en aanbid die Messias. So openbaar hierdie hoofstuk die Christus se optrede teenoor vroue, sondaars  en ander volke. Hy openbaar Homself as die verwagte Messias-Verlosser, wat self die ‘Ek is’ wat Hom aan Moses bekendgemaak het, wat sy Heilige Gees as die lewensbron van ons lewe gaan gee aan elkeen wat in Hom glo, om die Vader in Gees en Waarheid te dien.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29) – Francois Malan

4:22 Met hulle vyf-boek Bybel het die Samaritane nie die volle openbaring van God nie, al verwag hulle ook ‘n profeet soos Moses (Deutr. 18:15,18). Hulle aanbid ‘wat’ hulle nie ken nie, hulle ken nie ‘n persoonlike verhouding met God nie. Vir baie Jode het hulle God ook ‘n ‘wat’ geword en nie ‘n ‘Wie’ nie. Dit is juis die Profete-boeke en Geskrifte van die Ou Testament wat die verwagting van ‘n verlossing verkondig; ‘n Verlosser vanuit die Jode, wat God uitgekies het, waaruit sy Verlosser sou kom  (vgl. Jes.2:2-5 se verheffing van Sion bo alle berge, waar alle volke na die Here sal kom luister, Hom sal dien, en in vrede begin lewe; die vervulling van dié profesie is met Jesus se koms begin, Lk 2:32, en sal voltooi word wanneer alles aan Hom onderwerp is (1 Kor 15:25).

4:23 Nie op Gerisim of in Jerusalem nie; die nuwe tyd het aangebreek met Jesus se menswording, soos reeds met die tempelreiniging aangekondig is. Jesus beweeg verder as die vrou se persoonlike en huislike tragiek, haar skuld en haar skuiling agter die godsdiens. Ware aanbidders volg die wil van die Vader. Hulle aanbid Hom deur  Gees en Waarheid: deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om hulle te lei; en deur die Waarheid – in 14:6 sê Jesus ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

 

4:24 God is Gees – nie aan ‘n plek verbonde nie, maar oral teenwoordig deur die Heilige Gees. Die Gees leer ons hoe om God te aanbid; die Gees is verbonde aan die Waarheid, wat vir ons die weg na God open deur sy liefdesoffer aan die kruis (14:26; 15:26; 16:14).

 

4:25 Volgens Deutr.18:18 verwag die Samaritane ‘n profeet soos Moses. Hulle noem Hom  Ta’eb (‘bekeerder’), wat die vrou met Messias bedoel (Christus in Grieks). Maar sy het nie Jesus se woorde in vers 23 gehoor nie: ‘daar kom ‘n tyd, en dit is nou’.

 

4:26  Jesus sê ‘Ek is, wat met jou praat’. Dit is die eerste keer in Johannes dat Jesus die uitdrukking ‘Ek, Ek is’ gebruik (vgl. 6:20; 8:24,28,58; 13:19). Dit herinner aan die selfbekendstelling van die Here aan Moses by die braambos (Eks 3:14: ‘Ek is’, Jaweh, HERE vgl. Jes 52:6). Hy is voortdurend aktief teenwoordig. In die res van Johannes word ‘Ek is’ uitgebrei, bv. met Ek is die goeie herder (10:14), die brood van die lewe (6:35), die ware wynstok (15:15), die weg, die waarheid en die lewe (14:6), die lig (9:5), ens.

            Vir die vrou is Jesus se selfbekendstelling ‘n bevestiging: Ek is die Messias wat julle nog verwag, jy hoef nie meer te wag nie! Dit is die hoogtepunt van die gesprek – Jesus se selfopenbaring aan ‘n Samaritaanse vrou, as teken van Jesus se sending om God se verlossing vir alle volke te verkondig, ook vir vroue, en hier ‘n vrou met ‘n slegte reputasie. ‘n Nuwe era vir God se verhouding met die mense het aangebreek met God se liefdesgawe van sy enigste Seun vir die wêreld om die ewige lewe saam met God te verkry. 

 

4:27 Die dissipels kom terug van die dorp waar hulle gaan kos koop het, daag by die fontein op, juis toe die gesprek sy hoogtepunt bereik het. Hulle verwonder hulle dat Jesus met ‘n vrou praat. Vir die Jode was dit verbied. Die Rabbi’s het later nog geskryf: ‘n Man moet nie met ‘n vrou op straat praat nie, nie eers met sy eie vrou nie, en vir seker nie met iemand anders se vrou nie, vanweë die geskinder van mense. Dit was selfs verbied om ‘n vrou op straat te groet. En hier kom Jesus en die eerste persoon aan wie Hy Homself as die Messias openbaar, is ‘n vrou. Die dissipels vra egter nie vrae oor Jesus se afwyking van die gedragspatrone van sy tyd nie. Dit sou van wantroue getuig en hulle het te veel eerbied vir Hom. Later sou hulle begryp dat Jesus vroue kom bevry uit hulle ondergeskikte posisie in die samelewing, en dat Hy van hierdie vrou  sy getuie gemaak het.

 

4:28,29 Met groot geesdrif los die vrou haar waterkruik net daar by die put. Sy het iets gevind van baie meer waarde as die water wat sy gaan haal het, nl. die blye boodskap. Sy haas haar daarvandaan na die stad, en gaan  vertel van haar heel persoonlike ondervinding, van Jesus wat haar sondige lewe en verlede oopgevlek het, en dat sy daardeur bevryding gevind het by die verwagte Redder Messias. Die Samaritane het die Ta’eb, die hersteller en openbaarder van die waarheid, verwag. Sy nooi hulle uit: kom kyk! Die wind waai waar hy wil…maar jy weet nie waarheen hy gaan nie; so onverklaarbaar is die lewensvernuwing deur die Heilige Gees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan