Ongehoorsaam in die ewigheid

Ongehoorsaam in die ewigheid – Francois Malan

Johan vra:

Is dit ‘n moontlikheid dat God se kinders na die wederkoms van ons Here Jesus Christus ongehoorsaam kan wees aan God, in opstand kom teen God se gesag. Miskien slaan my vraag ook daarop of ons steeds ‘n vrye wil sal hê en ‘n verkeerde keuse sal kan maak wat God se gesag betref.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

‘Steeds ‘n vrye wil’? – die mens het geen vrye wil nie! In Romeine 7:15 sê Paulus: Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. In Rom 7:19 sê hy: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.’

 

God het die mens geskep om Hom vrywillig (uit vrye wil) te dien uit dankbaarheid en in liefde met sy hele hart en lewe (Gen 1:26-27 as sy verteenwoordiger, as beeld van God, wat liefde is, (1 Joh 4:8). En toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed (Gen. 1:31).

 

Die mens het egter geluister na die vader van  die leuen, die mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:24) en begeer om soos God te wees om kennis te verkry (Gen 3:4-7). Toe het die mens sy eie god geword, ‘n wese wat net vir homself lewe en nie meer vir God nie, met ‘n wil wat nie meer vry is nie, maar ‘n slaaf van die sonde (Rom 7:14 ‘maar ek is aards en soos ‘n slaaf aan die sonde verkoop’; Rom 7:17,18 ‘Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard  nie’). Daar bestaan by my geen vrye wil meer nie!

 

Daarom roep Paulus in Rom 7:24,25 ‘Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.’ En in Romeine 8 beskryf Paulus hoe God ons verlos, deurdat die Heilige Gees ons kom oortuig om in Christus te glo as die enigste wat ons kan verlos, dat die Heilige Gees ons aan Jesus, die Seun van God verbind om saam met Hom kinders van God te wees wat ons  nie deur ons sondige natuur laat beheer nie, maar deur die Gees van God, vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. En Jesus sê in Johannes 8:31-32: ‘As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ 

 

Die werk van die Heilige Gees is om ons te verander om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18). Hy wat in alles aan sy Vader gehoorsaam was, wat Homself verloën het en sy lewe gegee het as ‘n liefdesoffer vir ander. Daarom het Jesus gesê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor sal dit terugkry (Matteus 16:24-25).

 

Die mens behou ‘n vrye wil slegs deur God se wil te doen. Die mens kan slegs ‘n slaaf wees van of die sonde of van God (Romeine 6:16). Jesus het ons kom vry maak om weer vir God te kies en in gehoorsaamheid aan Hom te leef. Iemand wat deur die proses is, sal weet dat om teen God te kies die dood beteken. Om vir Hom te kies beteken die lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42) – Francois Malan

Die kontraste in hoofstukke 2 en 3 word uitgebrei in hierdie gesprek:

Met die water-in-wyn-teken by Kana stel die wyn die gawe voor van Jesus se koninkryk teenoor die Joodse reinigingswater van die klipkanne (2:1-11), so simboliseer die lewende water wat Jesus aan die vrou aanbied die lewe en verlossing van die koninkryk, teenoor die water van Jakob se put uit die ou verbond  (4:5-15). Die reiniging van die tempel lei tot die afbreek van Jesus se liggaam en sy opbou van  die ‘nuwe tempel’ met sy offer aan die kruis as toegang tot God (2:13-21) – so word die ou aanbidding in Jerusalem en Gerisim vervang met die aanbidding deur die Gees en Jesus as die Waarheid (4:19-26). 

Jesus se optrede word verplaas van die Jode in Judea (hfs 3) na die Samaritane, ‘n volk buite die Jodedom

Hoofstuk 4 neem ons van ‘n gesprek in die nag met ‘n toegewyde godsdienstige man, Nikodemus (3:1-15) na ‘n gesprek in die middel van die dag met ‘n sondige vrou (4:7-26); altwee die gesprekke gaan oor ‘water’ en ‘Gees’; aan Nikodemus word die geboorte tot ‘n nuwe lewe verkondig, aan die vrou word die nuwe lewe en nuwe godsdiens verduidelik. Die hoofstuk bring ‘n nuwe dimensie, van die uitbreiding van die koninkryk van God na ander volke.

 

4:1 Die Fariseërs, wat die wet nougeset wil uitlewe en waak teen godsdienstige afwykings, wil Jesus ook kom ondersoek, soos vir Johannes die Doper (1:19-25). Hulle hoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes – nog meer mense wat afdwaal van die tradisionele leermeesters, die Fariseërs.

 

4:2 Die Evangelie maak ‘n korreksie op 3:22,26. Jesus aanvaar die doop as seël op die besluit om sy dissipel te word, maar laat sy dissipels die doop met water bedien soos Johannes, om Jesus aan Israel bekend te stel (1:31). Jesus doop met die Heilige Gees (1:33).  

 

4:3,4 Toe Jesus hoor van die Fariseërs se vyandskap teen Hom, verlaat Hy Judea – sy tyd het nog nie gekom nie  (13:1; vgl. ook 11:8,16). Hy gaan sy bediening in Galilea voortsit – waar minder vername Jode gebly het. Maar Hy gaan met die kortpad deur Samaria omdat Hy moet – gewoonlik ‘n aanduiding dat God dit so bepaal. In Samaria moet Jesus ‘n opdrag van God gaan vervul; die koninkryk van God is vir alle mense van alle volke bedoel. Jode wat haastig was, het deur Samaria na Galilea gestap op ‘n drie dae tog. Maar indien hulle nie haastig was nie, het hulle Samaria vermy en oorkant die Jordaan deur Perea na Galilea gegaan, soos gewoonlik met die feestye. Herodes Antipas het oor beide Galilea en Perea regeer. Die vyandskap tussen die Jode en Samaritane gaan vér terug na die jaar 536 v.C. toe die Jode uit die ballingskap in Babel teruggekom het en die tempel begin herbou het. Toe het hulle geweier dat die Samaritane saam met hulle aan die tempel bou (Esra 4:2) en die Samaritane het die Jode by die koning aangekla om die bou te verhinder (Esra 4:10,11). Die Samaritane het die diens van die Here met dié van ander gode vermeng sedert 720 v.C. (2 Kon 17:33,34).  

 

4:5,6 Sigar lê naby die stuk grond wat Jakob aan Josef gegee het (Gen 48:22). Die ‘fontein van Jakob’ is ‘n diep put, wat deur onderaardse water gevoed word. Jakob het die put blykbaar gegrawe nadat hy die stuk grond van die Sigemiete gekoop het (Gen 33:18,19). Die gebied is geleë in die dal tussen die berge Ebal en Gerisim.


            Jesus is moeg na die dag se reis en gaan sit by die fontein. Dit was ongeveer die sesde uur, waarskynlik na aan 12 uur die middag. 

 

4:7-9 Die antipatie tussen die Jode en Samaritane is reeds eeue oud. Die Jode het die Sanaritane as ‘n gemengde volk met ‘n gemengde godsdiens afgemaak, sedert die koning van Assirië in die 6e eeu v.C. mense uit verskillende volke in Samaria tussen die agtergeblewene Israeliete gevestig het, en vir hulle ‘n priester uit die ballinge gestuur het om hulle die regte verering van die God van die land te leer, nadat die leeus onder die bevolking gemaai het  (2 Konings 17:24-41). 

            Toe die Jode ná die ballingskap die tempel begin bou, wou die Samaritane saam met hulle bou (Esra 4:1,2). Toe die Jode weier, het hulle die bouery gesaboteer (Esra 4:3-6, 23). Vgl ook hulle teenstand teen die bou van die muur in Nehemia se tyd (Neh.6).

            Die vrou sê vir Jesus: ‘die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie’  (letterlik die Jode gebruik nie saam met die Samaritane ‘eetgerei/bekers’ nie, want hulle beskou dit as onrein), en hier vra ‘n Jood vir haar water om te drink (uit haar skepding). Jesus doen dit om ‘n gesprek met hierdie vrou aan te knoop, en ignoreer die Joodse gebruike. Hy deurbreek ‘n eeu-oue vyandskap deur Hom van die vrou afhanklik te stel. Omdat Jesus die rasse-geskeidenheid deurbreek, word Hy deur die Jode vir ‘n Samaritaan uitgeskel  (8:45). Johannes plaas  die gebeurtenis ook aan die begin van sy Evangelie om die Woord van God se menswording ()1:1-3,14) en sy boodskap bekend te stel en te verduidelik.   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die getuienis van die EEN wat van die hemel af kom (3:31-36)

Die getuienis van die EEN wat van die hemel af kom (3:31-36) – Francois Malan

Dit is onseker wie hier aan die woord is. Die Doper is nie meer in die eerste persoon enkelvoud aan die woord soos in die vorige paragraaf  nie – dit gaan nou oor persone. Dit word nie aangebied as ‘n woord van Jesus nie – Jesus word aangedui as ‘die Een wat van Bo kom’ (anothen), dieselfde woord wat in 3:3 gebruik word vir ‘van Bo gebore’, en Johannes die Doper as ‘die een wat uit die aarde is’. Die gedeelte is moontlik die besinning van die skrywer, wat op die getuienis van die Doper uitbrei. Die gedeelte sluit ook nou aan by 3:11-21. Soos in hoofstuk  1,  het die skrywer die getuienis van Johannes die Doper tussenin ingevoeg (vgl. bv. 1:6-8; 1:1, 1:19-28).

3:31 is blykbaar ‘n algemene stelling wat nie vir Jesus vergelyk met Johannes die Doper alleen nie, maar ook met al die profete van die Ou Testament wat voor hom gekom het. Jesus is bo almal. Die feit dat Hy uit die hemel kom, die Woord van God waarvan hoofstuk 1 praat, maak sy openbaring van God gans anders as die van mense soos Johannes en alle ander mense wat van die aarde is, wat aardgebonde en begrens is. Johannes en die profete praat wel oor wat hulle van God ontvang het, Jesus is God self wat praat.

 

3:32  Jesus praat van wat Hy gesien en gehoor het – 5:19-20,30 praat bv. van ‘n voortdurende gemeenskap tussen die Vader en die Seun as die bron van Jesus se woorde en optrede. ‘Niemand’ staan teenoor ‘almal’ van 3:26, maar word opgelos deur 3:33 se ‘wie sy getuienis aanvaar het’.  Jesus kom God aan ons bekend maak (1:18).

 

3:33 Wie Jesus se getuienis aangegryp het – dit glo en daarvolgens handel, ‘het verseël dat God die waarheid is/ waarlik God is.’ ‘n Seël is onder andere gebruik om te getuig dat die inhoud van ‘n geskrewe stuk eg is, die waarheid is.

 

3:34 Jesus is deur God gestuur en praat God se woord, want Hy is die Woord van  God, die openbaring van God. Wie sy woord van harte glo, glo in God! God gee aan Hom voortdurend die Heilige Gees met onbeperkte volheid – so is Hy in voortdurende gemeenskap met God.

 

3:35 Die verhouding tussen die Vader en die Seun is liefde, want God is liefde (1 Joh 4:8,16) – liefde is nie slegs ‘n gevoel van toegeneentheid nie, maar ‘n wilsbesluit en ‘n volle onderlinge vertroue. Daarom dat ‘God ook alles in sy hand gegee het.’ Die Vader bly intens betrokke met alles wat die Seun doen (vgl. sy liefde in 5:20; 10:17; 15:9,10). Volgens vers 34 bring Jesus die volle woord van God sodat dit gehoor kan word; in vers 35 is sy handelinge God se handelinge sodat hulle gesien kan word: wie vir Jesus sien, sien God self aan die werk; wie Jesus se woord hoor, hoor God se woord wat sy wil bekend maak ( 14:9-11).

 

3:36 Die doel van Jesus se koms na die wêreld word in hierdie teks saamgevat.  Van sy woorde word ‘n klompie in hierdie Evangelie opgeteken  om God se wil aan ons te openbaar. Van sy handelinge word sewe tekens in hierdie Evangelie opgeteken, saam met die liefdesoffer van sy lewe vir ons aan die kruis en sy opstanding. Dit gaan alles daarom dat ons deel word van die ewige lewe. Hy is die lewe (1:4). Dit verkry ons deur in Hom te glo (3:15). Uit vers 36b blyk dit dat dit gehoorsaamheid aan Hom insluit  (Rom 1:5). ‘Wie in die Seun glo, het die ewige lewe – is reeds deel van die nuwe wyse van lewe wat Jesus gebring het. Ook geloof is nie ‘n gevoel of ‘n stemming nie, maar  ‘n wilsbesluit om myself in vertroue oor te gee aan Jesus en Hom te volg.

.

Wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, wat weier om in die Seun te glo, sal die lewe nie sien nie – verstaan ook nie eers wat die soort lewe saam met God beteken nie. Ongeloof word gesien as weiering om die Seun te gehoorsaam .  Die toorn van God  bly op die ongehoorsame  omdat hy in sy sondige staat volhard deur vir homself te leef en weier om hom in vertroue aan God oor te gee. Die verhouding van ‘n mens tot Jesus bepaal sy verhouding tot God (vgl. Hebr 3:12). Hierdie is die enigste plek in hierdie Evangelie wat van die toorn van God gepraat word. In 3:16 is gesê so iemand gaan verlore.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die getuienis van Johannes die Doper (3:22-3:30)

Die getuienis van Johannes die Doper (3:22-3:30) – Francois Malan

3:22 Na die Paasfees in Jerusalem (2:13,23) en Jesus se gesprek met Nikodemus (3:1-21) gaan Jesus en sy volgelinge na die platteland van Judea. Teenoor Johannes die Doper se doopwerk, begin Jesus se groep (4:2) ook mense doop. Daarmee sluit Jesus by Johannes die Doper se werk aan (in die ander drie Evangelies preek Johannes en Jesus ook albei: ‘bekeer julle’, vgl. Mt 3:2; 4:17). So gee Jesus sanksie aan die werk en prediking van die Doper, en verleen Hy gesag aan Johannes se getuienis in die volgende verse. 

3:23 Johannes doop nog, maar nou by Enon (‘fontein’) naby Salim (‘vrede’), waarskynlik in die suide van Galilea (Skitopolis, die ou Betsan?) en nie meer by Betanië oorkant die Jordaan nie (1:28). Johannes doop blykbaar op ‘n plek waar daar ‘n aantal fonteine was – ‘baie waters’ (NAV water). Jesus se dissipels doop in Judea (3:22). 

 

3:24 Volgens Johannes het Jesus en Johannes ‘n tyd lank albei opgetree. Volgens Matteus 4:12,17; Markus 1:14 het Jesus se bediening  begin nadat Johannes in die tronk was. Johannes bring hier ‘n aanvulling by die gegewens van die ander Evangelies, van ‘n bediening van Jesus in Judea voordat Hy in Samaria en Galilea gaan werk (hfs.4).

 

3:25 Die woordewisseling gaan oor die reiniging van sonde deur Jesus se doop en deur Johannes se doop. Waarskynlik is die Jood deur Jesus se dissipels gedoop, en hy sou dit beskou het as ‘n beter doop as die doop van Johannes.

 

3:26 Johannes se dissipels is lojaal teenoor hom en jaloers op Jesus (almal gaan na Hom toe). Jesus trek blykbaar die skares, en Johannes se gehore word kleiner. Maar sy eie dissipels beskou Johannes  belangriker as Jesus, omdat Johannes eerste gedoop het, omdat Jesus self ‘n dopeling van Johannes is, en dat Johannes oor Jesus getuig het. Hulle beskou Jesus se optrede as aanmatigend en ‘n gevaar vir Johannes se bediening. [In Alexandrië en Efese was daar  blykbaar  groepe wat by die doop van Johannes vasgesteek het, vgl. Hand 18:24-25; 19:3. Later is Johannes deur hulle gekanoniseer, en tot in die 3e eeu n.C. was daar nog aanhangers van die Doper. Dié Evangelie bestry duidelik dié hoë opvatting oor Johannes met Johannes se eie getuienis oor homself, 1:26,27]

 

 

3:27 ‘Johannes het geantwoord en gesê: ‘n mens kan nie op enigiets beslag lê (of verkry) as dit nie aan hom uit die hemel gegee is nie.’ Daarmee verwys Johannes na sy opdrag om mense tot bekening te roep om die Lam van God te volg, en na die taak wat Jesus kom vervul as die Lam van God. Daar is by hom geen jaloesie omdat ‘almal na Hom toe gaan nie’ (v26). Dit is juis die doel van sy prediking. Dit gaan nie om hom, Johannes, nie. Hy is maar die ‘stem wat roep in die woestyn’ (1:27) wat die pad vir die Here kom voorberei. Dat mense Jesus begin volg is ‘n gawe wat van God af kom. Dieselfde beginsel word deur Jesus vir Pilatus gegee in 19:11,  vgl. Kor 4:6,7.

 

3:28 Johannes herinner hulle aan sy vorige woorde in 1:20,30,  hy is slegs die voorloper van die Christus (Gesalfde) vir wie hulle moet volg as hulle koning, profeet, priester.

 

3:29   Om sy opdrag en gesindheid te verduidelik, gebruik Johannes die beeld van die ‘vriend van die bruidegom’ (strooijonker), die man wat die bruidegom en bruid aan mekaar voorgestel het en alles in gereedheid moes kry vir die bruilof. Hy staan wag by die bruidskamer en verheug hom oor die stem van die bruidegom. So is die begin van die openbare optrede van Jesus vir Johannes die vervulling van sy vreugde, en dat ‘almal na Hom toe gaan’ is die vervulling van Johannes se taak  om die pad vir die Here reg te maak (1:23).

 

3:30 ‘Hy moet belangriker word (auxanoo: die woord wat gebruik word vir ‘n plant wat ontkiem en groei) en ek minder belangrik (elattoomai: van ‘n plant wat kwyn en verlep)’ – moet: dit is God se wil, sy raadsplan,  en daarom verheug Johannes hom daaroor. Johannes is getrou in sy opdrag en in die nuwe bedeling met sy liefdevolle gelowige verering  van sy Here. Die volgelinge van die ‘vriend’ moet nou ook die ‘bruidegom’ volg.  Nou dat Jesus gekom het, het hy sy taak volvoer en moet hy van die toneel verdwyn, en hy doen dit met blydskap. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan