Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21)

Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21) – Francois Malan

3:11 Vir die derde keer begin Jesus met ‘amen, amen, Ek sê vir jou…’ om die betroubaarheid van sy getuienis te bevestig. Jesus stel ‘ons’ teenoor Nikodemus se ‘ons’ van vers 2: Jesus en dié wat in Hom glo (soos bv. Johannes die Doper en Jesus se dissipels), wat vir Jesus aanvaar en sy wonders as tekens van sy goddelike sending aanvaar, teenoor ‘julle’, bv. Nikodemus en die Jode wat Hom en die heil wat Hy bring nie aanvaar nie.

3:12 Jesus stel die aardse en hemelse dinge teenoor mekaar. Die aardse verwys waarskynlik na wat Hy nou reeds aan hulle vertel het van die geboorte uit die Gees; die hemelse na wat nog verborge is van God se planne, soos bv. Jesus se wederkoms en die komende koninkryk van God. 

 

3:13 Alleen Jesus is in staat om die hemelse dinge bekend te maak, omdat Hy in die hemel was – in voortdurende verkeer tussen die Vader en die Seun. Elke poging van die mens om op sy eie die hemel te bereik is nutteloos. Hy, wat in die hemel by God was, het uit die hemel gekom, mens geword (1:51), sodat weergeboorte kan geskied. Die hemel het van Bo af oopgemaak.

 

3:14 Soos in 1:51 gebruik Jesus ‘n Ou-Testamentiese beeld (Numeri 21:4-9). Soos Moses die slang op ‘n paal gesit het, moet die Seun van die mens ‘verhoog’ word. Die ‘moet’ wys weer na God se besluit wat agter sy kruisdood sit (8:29). ‘Verhoog’ word in Johannes in twee betekenisse gebruik; vir Jesus se verhoging aan die kruis, soos hier en in 12:32,33 – goed sigbaar soos Moses se koperslang; ook vir Jesus se verhoging na die hemel, soos in 8:28. In 12:23,24 word Jesus se verheerliking en sy sterwe gekoppel. Sy kruisdood is in Johannes deel van sy verhoging uit die graf en verheerliking in die hemel, wat mense na Hom toe trek (12:32). Vergelyk Genesis 40:13 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die skinker word in sy amp herstel; in 40:19 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die bakker word opgehang (NAV aan jou aandag gee). Terwyl die ander Evangelies die kruisiging sien as Jesus se diepste vernedering, sien die Johannes-Evangelie die kruisiging as die klimaks van Jesus se gehoorsame selfopoffering, sy verheerliking as dienskneg.   

 

3:15 Jesus antwoord Nikodemus se vraag: ‘hoe is dit moontlik?’: ironies, soos wat elkeen, wat deur ‘n slang gepik is en na die koperslang opgekyk het, bly leef het, sal elkeen wat glo, in Jesus die ewige lewe hê. Vir die eerste keer word ‘ewige lewe’ genoem, vgl. ‘lewe’ in 1:4. Anders as die sinoptiese Evangelies, wat met ‘ewige lewe’ na die lewe hierna verwys (Mk 10:30), gebruik Johannes die woorde vir die nuwe lewe wat nou reeds begin en aanhou tot in die ewigheid. Die sleutel tot hierdie lewe is die geloof en vertroue waardeur  ons lewe verbind is aan die gekruisigde en opgestane Seun van die mens. Hy is God se gawe aan ons, en in Hom is die ewige lewe.

 

3:16  Hier is die fundamentele opsomming van die boodskap van hierdie Evangelie, die agtergrond van die doek waarop die  die evangelie geskilder word: die blye boodskap begin by die liefde van God vir sy ongehoorsame wêreld; die kern daarvan is dat God sy enigste Seun (dit dui op intieme liefdesverhouding, Genesis.22:2) vir die wêreld gegee het (deur sy menswording en plaasvervangende dood); die einde daarvan is dat mense nie sal verlore gaan nie, maar sal lewe onder die reddende heerskappy van God, nou reeds en tot in die ewigheid. Die hele sondige wêreld word reeds in 1:4 se ‘mense’ veronderstel, ook in 1:7 en 12:32 se ‘almal’ en 1:9 se ‘elke mens’. Maar die liefde van God plaas die mens voor ‘n keuse en elke mens is self verantwoordelik vir sy beslissing. Die liefde van God open die deur tot redding, maar wie daardie liefde nie met geloof beantwoord nie, gaan verlore. Volgens die voorafgaande gesprek is dit die wedergeborenes wat tot geloof kom en die lewe kry – die antwoord op Nikodemus se vraag: hoe is dit moontlik?. Die geloof is in sy oorsprong die werk van God, maar ook ‘n bewuste wilsbesluit van die mens (1:11,12). God wil dat die mens Hom vrywillig liefhê en dien as reaksie op sy liefde en liefdesoffer.

 

3:17,18  Die Seun het gekom as die Redder van die wêreld (4:42), vir die hele wêreld (die woord kosmos wat in vv16-17 vier maal gebruik word, verwys na die ganse skepping). Maar sy koms stel die mensewêreld voor ‘n beslissing. Hy is die verlossing, maar sy koms staan ook in die teken van oordeel. God het die oordeel aan Hom toevertrou (5:22,27) en Hy oordeel regverdig (5:30) en na waarheid (8:16), en Hy sal ook die eindoordeel volvoer (5:27-29). Die oordeel is reeds gevel, die ongelowige veroordeel homself deurdat hy die Redder afwys. Deur te weier om in Jesus te glo lewer hy homself oor aan die veroordeling. Die eindoordeel deur Jesus is net ‘n bevestiging daarvan.

 

3:19 Die woord ‘oordeel’ word in twee betekenisse gebruik: as ‘n besluit oor wat reg of verkeerd is, soos hier (NAV ‘skeiding’), en ‘veroordeling’ soos in v18. Die Verlosser het as die Lig in die duisternis van die wêreld ingekom . Party mense kom na die Lig toe (1:4,5,9; 8:12) en ander draai weg van die Lig af. So skei hulle, of besluit hulle verskillend, en dit geskied nou in hierdie lewe. God se groot reddingsaksie word ‘n oordeel deur die slegte of sondige reaksie van die mense, omdat hulle die duisternis liewer het as die Lig.

 

3:20 Elkeen wat kwaad (faula  gemeen, veragtelik, sedelik vuil spel) doen, verkies om in die duisternis te bly, sodat sy dade nie oop en bloot as verkeerd aangewys kan word in die Lig-Jesus nie.

 

3:21 Die een wat die waarheid doen, het die waarheid as die norm en inhoud van sy leefwyse. In 14:6 sê Christus ‘Ek is … die waarheid …’. Iemand wie se gedrag dieselfde kenmerk as Christus dra, hoef nie die dekmantel van die duisternis op te soek nie; hy kom na die Lig, in geloof na Jesus, ‘sodat sy werke duidelik kan word, dat dit deur God gedoen is’ (NAV in gehoorsaamheid aan God gedoen is). Sy lewe wys dat hy weergebore is, kind van God is en aan God gehoorsaam lewe. Maar dit kom nie uit homself nie; dit is die vrug van God se genade, God werk in en deur hom.           

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die eerste gesprek (2:23-3:36)

Die eerste gesprek (2:23-3:36) – Francois Malan

2:23 Na die wynwonder het die dissipels begin glo in Jesus (2:11). Die wondertekens waarvan in 2:23 gepraat word, word nie beskryf nie (20:30), maar daardeur het ‘baie’ wat dit gesien en begryp het, tot geloof gekom in sy Naam, dit is in Hom as persoon, wat God aan ons kom openbaar.

 

2:24 Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie. Hy ken die mens deur en deur en weet: geloof op grond van wondertekens hou nie. Hulle begin glo dat Hy die verwagte Messias-Redder is, maar as Hy nie aan hulle verwagtings voldoen nie, draai hulle teleurgesteld van Hom af weg, wondertekens ten spyt (Jn 6:66).

 

2:25 Jesus as God ken die swakheid en wispelturigheid van die mens deur en deur (1 Kon. 8:39).

 

Die twee magsdade van Jesus word in die volgende twee gesprekke verder uitgewerk om die radikale nuwe verhouding tussen die mens en God bekend te stel. Persoonlike vernuwing, wat gesimboliseer is deur die wyn wat die reiningingswater vervang , word aan die Joodse leier Nikodemus uitgespel. Die nuwe godsdienstige verhouding, wat gesimboliseer is deur Jesus se liggaam wat die tempel vervang, word aan die nie-Joodse Samaritaanse vrou aangekondig.

 

3:1 ‘n Mens kom na Jesus wat die mens deur en deur ken (2:25). Deur die wondertekens  begin hy in Jesus glo. Hierdie Fariseër, wat teen die Grieks-Romeinse invloed op die Joodse volkslewe veg, het ‘n Griekse naam: Nikodemus (oorwinningsvolk), ‘n leier van die volk as leraar en raadslid (3:10).

 

3:2 Nikodemus kom na Jesus in die nag, ‘n simbool van die duisternis waarin Israel verkeer (11:10). Hy spreek Jesus eerbiedwaardig aan  as rabbi/my leermeester – al is Jesus nie deur rabbi’s opgelei nie, maar die wondertekens bewys dat God by Hom is, dat Hy deur God geleer is. ‘ons’ – Nikodemus en ‘n groepie begin insien dat Jesus van God af kom.

 

3:3 Jesus weet wat Nikodemus wil vra en antwoord sy ongestelde vraag oor hoe ‘n mens deel kan word van die koninkryk van God. Jesus antwoord met ‘n dubbele versekering (‘voorwaar, voorwaar’) om die gesag en waarheid van sy woord te onderstreep. ‘Koninkryk van God’ kom in Johannes slegs in 3:3,5 voor. Om die koninkryk, waar God as koning regeer, te ‘sien’, kan nou reeds beleef word deur ‘n geboorte; die Griekse woord anoothen beteken ‘weer’ maar ook ‘van bo af.’  Nikodemus verstaan dit as ‘weer’ ‘n slag gebore word; Jesus bedoel ‘van Bo af’ gebore word, soos 1:13 ‘uit God gebore.’  Menslike prestasie gee nie toegang tot God se koninkryk nie. Slegs God gee die toegang, deur ‘n geestelike geboorte van Bo af.

 

3:4 Nikodemus kan dit nie met sy gesonde verstand verstaan nie. ‘n Tweede geboorte uit sy moederskoot is onsin en onmoontlik vir ‘n volwasse man soos hy. Hy begryp nie dat dit ‘n vernuwing is van sy hele wese van die grond af nie. Dit is ‘n nuwe soort lewe wat God met jou begin. Die ‘kan’ van die mens kom teenoor die ‘kan’ van  God (vgl. die vyf maal  ‘kan’/’kan nie’ in v2, v3, v4 tweemaal, v5).

 

3:5 Jesus verduidelik op sy versoek weer met ‘voorwaar, voorwaar.’  Sy  antwoord herinner aan Esegiël. 36:25-27 se reinigingswater en God se Gees in ons. Die water is simbool vir Jesus se bloed (6:53-56). Die Heilige Gees oortuig mense van sonde en dat Jesus jou verhouding met God regmaak deur in Hom te glo (16:8). .     

 

3:6 Waarom weergeboorte nodig is word verduidelik: wat uit ‘n mens gebore is, is ‘n mens met sy swakhede, sterflikheid en sondigheid (1:13), en wat uit die Gees gebore is, is gees – ‘n geestelike mens  (1:13 ‘uit God gebore’), ‘n kind van God. Die koninkryk van God is geestelik, en word gebou deur die Gees van God in die harte van mense (4:23-24). 

 

3:7 Om in die Godsryk te kom, moet  jy weergebore of liewer ‘van Bo af gebore’ word. Die ‘moet’ verwys altyd dat God dit vereis. Maar die wedergeboorte kan nie deur ‘n mens gesoek of verdien word  nie. Dit word deur die Heilige Gees in ons gewerk deur ons met die woord van God te oortuig sodat ons in die Seun van God glo.

 

3:8 ‘uit God gebore’ word verduidelik as ‘uit die Gees gebore’, en die Gees se werking word vergelyk met die wind, wat ons nie kan beheer nie, maar voel en bome sien buig. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Ons kan niks doen om in die koninkryk van God te kom nie – Hy doen dit vir, en aan, en in ons. Ons kan slegs die veranderde lewe van mense sien, en self ook weet van ons nuwe dryfveer. Die Hebreeuse woord ruach en die Griekse woord pneuma word altwee gebruik vir ‘wind’ en vir ‘gees’ of ‘Gees’. Vandaar die vergelyking van die werking van die Gees in ons gees met dié van die wind.

 

3:9,10 Nikodemus weet nou wat Jesus bedoel: nie ‘n tweede keer liggaamlik gebore word nie, maar verstaan nog nie hoe die geboorte deur die Gees plaasvind nie. Nou is dit nie meer ‘n teoretiese vraag nie, maar een wat hom persoonlik raak. Die antwoord daarop gee Jesus eers van vers 14 af, ná ‘n inleiding daarop. Jesus noem  Nikodemus ‘die leraar van Israel,’  ‘n verteenwoordiger van die ware volk van God (nie van ‘die Jode’ wat gebruik word vir die ongelowige verwerpers van Jesus nie). As Fariseër kon hy uit die Skrifte iets aflei van  die nuwe verbond wat God beloof het (Esegiël 11:19-20; 36:26-29; Jesaja 44:3-5; 59:21; Ps 51:12-13).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tempelreiniging (2:13-22)

Die tempelreiniging (2:13-22) – Francois Malan

Die Johannes-Evangelie plaas dit aan die begin van Jesus se bediening in Judea om te verduidelik dat die Messias vernuwing bring in die diens van God, soos die wynwonder ‘n nuwe reiniging simboliseer; ook dat Jesus se optrede skeiding bring onder mense: sommige kom tot geloof (v11), en ander kom in verset (v18-20).

 

2:13  Vir sy nie-Joodse lesers onderskei die skrywer tussen die Joodse paasfees wat die uittog uit Egipte vier en die Christelike paasfees wat die opstanding van Jesus vier. Soos vir die Jode voorgeskryf is, gaan Jesus ook Jerusalem toe vir die paasfees wat volgens Johannes begin op Vrydagaand  (13:1; 18:28; 19:31).  ‘opgegaan’ – Jerusalem lê 700 meter bo seespieël, Kapernaum 200 meter onder seespieël en die Jordaan by Jerigo nog verder onder seespieël. Daarby gaan die pad van Jerigo na Jerusalem berge op en berge af.

 

2:14 In die voorhof vir vroue en nie-Jode bied verkopers offerdiere, wat deur die priesters goedgekeur sal word, te koop aan (duiwe vir die armes se offers (Lev 5:7) , skape vir die paaslammers (Eks 11:3-6), beeste vir dankoffers van die rykes (Lev 1:1-9). Die geldwisselaars ruil die Romeinse geld met die keiser se kopbeeld op, vir tempelgeld waarmee die jaarlikse tempelbelasting betaal word.

 

2:15 Jesus vleg ‘n sweep van tou (waarskynlik van die toue waarmee die diere vasgemaak is); dit is soos ‘n koning se teken van gesag. Dat geharde besigheidsmanne luister, is ‘n wonder. Jesus tree op met die gesag van die Seun van God wat die eer en heiligheid van die huis van sy Vader beskerm. Die handelaars trek die aandag af van die dankbare aanbidding van God, en godsdiens word besigheidstransaksies om God se guns met offers te wen.   

 

2:16:  Die duiweverkopers moet die duiwe met hokke en al wegvat. Hulle maak die huis van ‘my Vader’ ‘n huis vir handeldryf/’n mark. Vir die eerste keer in Johannes praat Jesus van God as sy Vader. Johannes lê klem op die ontheiliging van die tempel. Die sinoptiese Evangelies beklemtoon die oneerlike praktyke ‘’n rowersnes’ (Jer.7:11) omdat die pryse so hoog was, en die priesters wins gemaak het uit die handelaars se stalletjies en ‘n persentasie van die wins.

 

2:17 Jesus se volgelinge sien sy optrede as ‘n vervulling van Ps 69:10 (volgens die Griekse vertaling). Met dié Messiaanse psalm identifiseer hulle Jesus met die verwagte Messias. Jesus kom alles wat die ware aanbidding van God kan verhinder uit die weg ruim. Die dissipels vrees dat Jesus se optrede sy dood sal kos, maar niemand roep die tempelpolisie om Hom te stuit nie.

 

2:18 Die Joodse leiers, Jesus se teenstanders , eis ‘n wonderteken om sy volmag van God vir sy optrede tot hulle bevrediging te bewys. Jesus weier om sy ongelowige teenstanders te bevredig.

 

2:19 Jesus antwoord met ‘n metafoor/beeldspraak wat ook ‘n raaisel is (vgl. Mk 4:11,12). In Grieks het elke woord hier twee betekenisse:  ‘breek af’ (maak los)  kan na die tempel verwys en na ‘n mens wat sterwe; ‘die tempel’ kan ook na die mens se liggaam verwys (1 Kor 16:9); ‘oprig’ word gebruik van ‘n gebou en opwek uit die dood.  Jesus verwys na die toekomstige optrede van die Jode wat Hom gaan  uitlewer om gekruisig te word. Hulle sal dan saamwerk aan die teken wat hulle vra, ‘en na drie dae sal Ek dit weer oprig’. Maar die tempel waar die offers gebring word, gaan ook afgebreek word, omdat Jesus se liggaam die afdoende offer gaan bring (Hebr 10:19-20). Met sy opstanding verrys Hý as die nuwe tempel, nadat die voorhangsel van die ou tempel geskeur het, sodat Hý die vrye toegang tot God is vir elke sondaar  wat na Hom toe kom (vgl. Jn 14:7).          

Volgens Matteus 26:61 word hierdie antwoord van Jesus as getuienis teen Hom gelewer.

 

2:20 Die Jode verstaan Jesus se antwoord as ‘n verwysing na die tempelgeboue. Hulle beskou dit lagwekkend en onmoontlik. Die gebou wat Herodes in 19 v.Chr. begin bou het, is eers in 64 n.Chr. voltooi en in 70 n.Chr. deur die Romeine afgebreek  Indirek het hulle self die tempel afgebreek deur hulle jarelange weerstand teen die Romeine.  Die 46 jaar na 19 v.C. beteken dat Jesus ongeveer 28 n.Chr. gekruisig is.

 

2:21 Johannes verduidelik Jesus se uitspraak om ‘n misverstand by sy lesers te voorkom. Na drie dae sal sy liggaam opgewek word. Die liggaam van Jesus is die tempel waarin God teenwoordig is; ‘n ander manier om te sê: die Woord het mens geword (Jn 1:14).  Met sy uitspraak bedoel Jesus dat in sy liggaam word die vervulling gegee van alles wat deur die tempel afgebeeld word. Sy sterwe maak die offerdiens oorbodig (Jn 4:21-26; 10:11), en sy opstanding maak die tempel self oorbodig (vgl. Jn 11:25,26). Hy is die nuwe tempel van Openb 21:22 en 22:1-2.  Nie ‘n gebou nie, maar die Persoon van Christus in wie die Gees van God woon is die tempel van God (1:33), deur wie ons na God gaan.

 

2:22  Na sy opstanding het dit alles eers vir die dissipels duidelik geword, onder die leiding van die Heilige Gees (vgl. Jn 14:26; 16:13).  Toe het die dissipels geglo dat sy woorde dieselfde gesag het as die Ou Testamentiese Skrif, dat Hy die Woord van God is en bring. Toe het hulle aanvaar dat die tempelreiniging ‘n teken is dat die ou  bedeling plek gemaak het vir die nuwe. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die begin van die tekens: water word wyn (2:1-12)

Die begin van die tekens: water word wyn (2:1-12) – Francois Malan

2:1 ‘Op die derde dag’ Filippus lei Jesus se aardse bediening in, en ‘in drie dae’ (2:19,20) sluit dit af en lei die bediening van die opgestane Jesus in. Jesus se moeder was daar, òf as bekende òf as familie van die egpaar. In Johannes word sy nooit op haar naam ‘Maria’ genoem nie, maar deurgaans word verwys na sy moeder (2:1,3,5,12; 19:25,26).  Johannes wat Jesus se goddelike oorsprong beklemtoon, noem vir die eerste keer iets van sy aardse herkoms in 1:46 na Josef (vgl. 6:42), en hier na sy moeder. Met sy Vader word 118 keer na God verwys.

 

2:2 Jesus en sy dissipels was ook genooi. Of dit deur Maria of Natanael se verbinding met die egpaar was, word nie gesê nie.

 

2:3  Maria het skynbaar iets met die reëlings van die huweliksfees te doen gehad en weet wat in die kombuis aangaan. Die bruidegom en sy familie was verantwoordelik vir genoeg wyn, en as die wyn opraak gedurende die sewe dae se fees, is dit vir hulle ‘n skande, want die wyn maak die harte van die mense bly (Ps 104:15).  Toe die wyn opraak, kom sê Maria dit vir Jesus.

 

2:4 Jesus sê vir haar: (letterlik: wat vir my en vir jou, vrou? My uur het nog nie gekom nie) NAV gee dit mooi weer: Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie. Die aanspreekvorm ‘vrou’ vir jou ma is ongewoon, maar is ‘n aanduiding dat Jesus voortaan onafhanklik van sy moeder moet optree om die Middelaarswerk volgens die wil van sy Vader te doen. Daar kan sy moeder nie indring nie. Maar die ‘nog nie’ laat tog vir sy moeder die opening om iets te doen. Sy tyd/uur – Jesus neem self die beslissings in gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader.

 

2:5 Maria het duidelik gesag in die kombuis en sê vir die dienaars om te doen netsoos Jesus hulle beveel. Sy het volle vertroue dat Jesus iets sal doen op sy tyd en op sy manier, en sy tref daarvoor voorsorg.

 

2:6-7 Die ses klipkanne hou die water vir die weeklange fees se reiniging van die gaste se hande wat voor en na die ete afgespoel  word deur water oor die hande te gooi (Mat. 15:2), ‘volgens die reiniging (ritus/gebruik) van die Jode’. Dit gaan om rituele reiniging en daarom word klipkanne gebruik, wat nie onreinheid optel nie. Die ses kanne hou elkeen tussen ‘2 tot 3 mate’ (‘n maat is gelyk aan die Hebreeuse ‘bat’ van 39.39 liter elk, wat saam in die omgewing van 600 liter moes wees). Die groot inhoudsmaat beklemtoon die ryke oorvloed wat Jesus geskenk het. ‘tot bo toe volgemaak’ is simbool van die volheid/oorvloed van Christus se genade  teenoor die beperkings van die ou verbond (Jn 1:16-17 genade op genade, teenoor die wet wat misbruik is vir selfverlossing).

 

2:8-10  Gewoonlik word die swakker wyn  bedien wanneer die mense al dronk geword het, en nie meer die goeie van die slegte kan onder“““““““““““““““““skei nie. Vir die Evangelis is dit ‘n getuienis van die volmaaktheid van Jesus se wonderteken. Jesus het die verantwoordelikheid van die bruidegom op Hom geneem (Joh. 3:29), en van hierdie bruilofsfees ‘n simbool gemaak van die feesmaal van Jesaja 25:6.  Jesus het die water van die ou verbond se reinigingsvereistes in wyn verander. Nie die uiterlike reiniging van jou liggaam deur water nie, maar die volkome reiniging deur die bloed van die Lam van God skep nuwe lewe. Die ou orde word vervang met ‘n nuwe orde, die ou verbond met ‘n nuwe verbond tussen God en die mense.

 

2:11 Die dissipels/volgelinge van Jesus word versterk in hulle geloof deur die wonderteken waardeur sy heerlikheid vol genade blyk (1:14). Die Evangelis noem dit ‘n wonderteken  (semeion) met ‘n dieper liggende betekenis, wat iets meedeel oor wie en wat Jesus is, en wat die doel van sy koms is.

 

2:12 Jesus lei die groep van Kana na Kapernaum aan die noordoewer van  die see van Galilea, op die grootpad van Damaskus na die Middellandse See, die gebied van Sebulon en Naftali (Jes. 8:23-9:2). Sy moeder gaan saam en ons hoor nie weer van haar tot by die kruis nie. Sy broers, kinders van Josef en Maria gaan saam, sy susters nie (Mk:6:3). Volgens Johannes 7:3-5 kon sy broers nie glo dat Hy die Seun van God is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan