Die roeping van die eerste dissipels en hulle getuienis (Johannes 1:35-51)

Die roeping van die eerste dissipels en hulle getuienis (Johannes 1:35-51) – Francois Malan

1:35-36 Die dag na Johannes se eerste aankondiging van Jesus as die Lam van God, staan twee van sy dissipels by Johannes toe Jesus verbykom. Johannes kyk reguit na Jesus en sê weer: Daar is die Lam van God. In dié Evangelie  is die besef van Christus se komende lyding van die begin af aanwesig met die aankondiging dat Hy die Lam van God is.

1:37 Die aankondiging van Johannes is ‘n indirekte aanduiding dat hulle die een wat meer as Hy is behoort te volg.  Op die suggestie volg die twee dissipels van Johannes uit hulle eie om agter Jesus aan te loop. Dit is hulle eerste stap om dissipels (leerlinge, volgelinge) van Jesus te word, soos die werkwoord aandui: hulle hét Hom gevolg.

 

1:38 Jesus draai Hom om en kyk hulle in die oë. Sy eerste woorde in hierdie Evangelie is ‘n vraag: Wat soek julle? Daarmee open Hy ‘n gesprek met hulle, soos nog dikwels verder in die boek. Hulle sit ook dadelik die gesprek voort, spreek Hom as Rabbi aan (rab-groot, i– my ‘my Grote, die Hebreeuse aanspreekvorm vir ‘n leermeester, didaskalos, t.w.v. die Griekse lesers). Dit veronderstel dat hulle by Hom wil kom leer, en hulle antwoord met ‘n wedervraag: Waar bly U? – sodat hulle  rustig met Hom kan gesels oor wat hulle by Hom soek.

 

1:39 Jesus nooi hulle saam vir die gesprek, en hulle bly die hele dag by Hom.  Waaroor hulle gepraat het, word nie gesê nie, maar die uitkoms daarvan word in 1:41 aangedui.

 

1:40,41 Andreas (‘n Griekse naam: ‘manlik, sterk’) is een van die twee, maar die ander een wat nie genoem word nie, is waarskynlik die Geliefde dissipel (13:23; 19:26; 20:2; 21:7), wat nie sy naam in die Evangelie noem nie [In die sinoptiese Evangelies word die dissipels eers later in Galilea geroep, en daar is Andreas en Petrus, en Jakobus en Johannes van die eerste dissipels wat geroep word, Mk 1:16-20.].  Die eerste ding wat Andreas doen, is om sy broer Simon (Hebreeus: sterk/vrugbaar/vet; ook Simeon ‘Die Here hoor’ genoem in Hand 15:14; 2 Petr 1:1);  te gaan soek. Andreas word voorgestel as die broer van Simon Petrus, die bekende apostel, wat eers hierna sy naam Petrus by Jesus gekry het. Andreas vind vir Simon, en sê vir hom: Ons het die Messias gevind (Messias in Hebreeus, in Grieks: die Christus, beteken: die Gesalfde). Wat Johannes die Doper oor Hom gesê het, het hulle ondersoek, ‘n dag lank met Hom gesels, en oortuig daar weggestap.      

 

1:42 Die eerste dissipel van Jesus, Andreas, word ‘n sendeling en lei sy broer na Jesus. So bring Andreas ook ander mense na Jesus toe, 6:8 ‘n seuntjie; 12:22 Grieke. Jesus kyk die broer in die oë en sê: Jy is Petrus, die seun van Johannes,  jy sal genoem word Kefas (Aramees vir rots, Grieks: Petros; vgl. Mat 16:17).

 

1:43 Die volgende dag wil Jesus begin met sy openbare werksaamhede in Galilea, waar Hy groot geword het. Hy het reeds vier dissipels van Johannes die Doper as volgelinge, wat Hom gevind het, en Hy vind  Filippus (Grieks: ‘perdeliefhebber’) en sê vir hom: Volg My. Slegs in hierdie Evangelie hoor ons iets van Filippus se optredes (6:5-8; 12:21-22; 14:8-10;  in die ander Evangelies word hy net in die naamlyste van dissipels genoem).

 

1:44  Filippus kom soos Andreas en Petrus van Betsaïda af, aan die noordelike strand van die see van Galilea, oos van die Jordaan wat daar die see van Galilea instroom. Filippus was waarskynlik saam met hulle by Johannes die Doper in Perea toe Jesus hom as volgeling geroep het.

 

1:45 Soos Andreas, word Filippus ook sendeling en vind vir Natanael (‘geskenk van God’). In die ander Evangelies word hy nie genoem nie (sommige meen dat hy Natanael seun van/Bar Tolomai = Bartholomeus is; vgl Mt10:3; Mk 3:18; Lk 6:14 waar hy telkens saam met Filippus genoem word). Volgens Joh. 21:2 kom hy van Kana in Galilea af, waar Jesus die water in wyn verander het (Jn 2:1).  Filippus sê vir Natanael: ons het Hom gevind van wie Moses in die wet geskryf het, en ook die profete;  wat hulle twee waarskynlik saam oordink het om die Messiaanse profesieë te bespreek. Dié Messias het hy nou gevind in Jesus, die seun van Josef van Nasaret, Kana se buurdorp. Na watter Skrifte verwys word, word nie gesê nie, maar Deutr. 18:15 voorspel dat ‘n profeet soos Moses sal kom, en Jes.11:1-10 voorsien iemand uit die geslag van Isai (Dawid se pa) .

            Christus vind die mens (v44), die mens vind Christus (v46), die mens vind sy naaste (vv42,46).  Tussen die drie verhoudings is daar ‘n samehang.  Deurdat Hy ons vind, en ons Hom vind, vind ons ook mekaar.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Johannes die Doper se getuienis oor Jesus (Johannes 1:29-34)

Johannes die Doper se getuienis oor Jesus (Johannes 1:29-34) – Francois Malan

1:29 Die Doper onderbreek sy prediking, en voor die volk wat by hom vergader het, lewer hy die hoogtepunt van sy getuienis, die volle openbaring van die naamlose verhewe ‘Iemand’: ‘Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (die woord airoo beteken: om op te tel en weg te dra, weg te neem, of verwyder soos die skare later geroep het: vat Hom weg, vat Hom weg, kruisig Hom, 19:15). 

Volgens Jesaja 53 ly die Kneg van die Here onskuldig, soos ‘n lam geduldig vir ander se sonde:  ‘óns lyding het hy op hom geneem’ (53:4a), ‘oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir óns vrede moes bring, was op hom’ (53:5), ‘die Here het ons almal se sonde op Hóm laat afkom (53:6), soos ‘n Lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie (53:7). ‘My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra’ (53:11). Johannes herken Jesus as  Jesaja 53 se lydende Kneg, wat volgens die Evangelieskrywer die ewige Woord van God is. Volgens Jn 19:31  word Jesus gekruisig op die dag voor die Paasfees, op dieselfde dag waarop die Paaslammers vir die fees geslag word, ter herinnering aan die Here se verlossing van Israel uit Egipte, toe hulle die nag die bloed aan die kosyne moes smeer (Eks 12:7,13,14) en geen been van die lam gebreek moes word nie (Jn 19:36; Eks 12:46; Num 9:12) . So noem Paulus vir Christus as ‘ons paaslam’ wat geslag is (1 Kor 5:7; vgl. 1 Petr 1:19), en die lammers word op die dag van die voorbereiding geslag by die tempel op Moria (2 Kron 3:1), waar Abraham vir Isak moes offer (Gen 22:2).

            Die Jode het uitgesien na ‘n Messias (‘n Gesalfde koning) om  hulle, soos ‘n leeu uit die stam van Juda (Gen 49:8-10), met geweld uit die Romeinse verdrukking te verlos. En kom hier ‘n lam wat deur sy lyding, verwerping en dood die hele wêreld verlos.

 

1:30 Die Iemand wat Johannes aangekondig het (1:15,26,27), is nou hier! Hierdie man  kom wel nadat sy koms voorberei is, maar Hy kom uit die ewigheid, voor die skepping (1:1-3). Hy is ten volle mens, en ten volle God.

 

1:31 Soos die skare (1:26) het Johannes  Hom ook nie geken nie; moontlik wel as ‘n familielid (Luk.1:36) wat in Galilea groot geword het en Johannes in Judea. Maar hy nie kon droom dat Hy die verwagte Messias is, oor wie hy preek nie. Totdat hy vir Jesus self moes doop. Toe het die lig vir Johannes opgegaan.

‘Israel’ wat net vyf maal gebruik word, is nie in hierdie Evangelie dieselfde as ‘die Jode’ (54 maal) wat teen Jesus is nie. Israel is in die Johannes-Evangelie die nuwe volk, wat deur God geheilig is en aan Hom verbind is. Aan hulle word Hy geopenbaar.

 

1:32 Die Gees, wat God se nuwe bedeling inlei, het uit ‘n geopende hemel afgedaal, en bly op Jesus, soos die profete voorsien het (Jes 11:1-2; 42:1). Jesus is die blywende draer van die Gees van God, toegerus vir sy Middelaarswerk (Jn 3:34).

 

1:33 Johannes herhaal dat hy nie geweet het dat Jesus die Messias is nie. Maar Hy wat my gestuur het (God), wat aan Johannes die opdrag gegee het om met water te doop (hier verwys Johannes nou na sy gesag waarna die Fariseërs gevra het, 1:25),  het vir hom die teken gegee waarmee die doel van sy hele doop duidelik sou word. Die Doper met water, simbool van afwassing van sonde,  moet getuig van die Doper met die Heilige Gees, van God wat in die mens kom woon. Die teken wat God vooraf aan Johannes gegee het was dat die Gees soos ‘n duif op die ‘Doper met die Heilige Gees’ afkom en op Hom bly.

 

1:34 Die toppunt van Johannes die Doper se getuienis, waarvoor hy gekom het (vgl. 1:7,8), en as ooggetuie van die neerdaling van die Gees geword het, is: ‘Hy is die Seun van God.’ Die Johannes-Evangelie begin in 1:1-3 duidelik sê dat Hy die Woord van God is en self God. Johannes die Doper is die eerste getuie daarvan en ongelowige Tomas die laaste in hierdie boek, met sy erkenning: ‘My Here en my God’ (20:28). Die hele boek is geskryf sodat mense sal glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God (20:31; en nog 7 maal).  Johannes die Doper, die getuie van die Lig, getuig oor Jesus: Hy is die Lam van God, Draer van die Gees van God, Doper met die Heilige Gees, Seun van God. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34)

Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34) – Francois Malan

1:19-28 voor die Joodse leiers 

1:19 Die afvaardiging bestaan uit priesters en Leviete (die enigste plek in dié Evangelie waar hulle saam genoem word), wat wys na ‘n opdrag van die Joodse Raad van 71 lede (die Sanhedrin). Johannes die Doper uit die priesterlike geslag (Lk 1:5) is bestem om self priester te word, maar tree  heeltemal afwykend op. Die Leviete was sangers en tempelwagte, lg. het skynbaar saam gekom om Johannes gevange te neem as dit nodig sou blyk. Die ondersoek volg op Johannes se optrede en die spekulasies oor hom.

 

‘Die Jode’ kom  in Johannes 71 maal voor as verwysing (i) na die Joodse volk (etnies en histories as die nageslag van Juda, (bv. 3:1,25; 4:9) wat die aansprake van Jesus verwerp (6:41; 7:11; 8:22), (ii) na die Joodse leiers, veral die Fariseërs, wat Jesus teenstaan (10:24,31; 18:14,31,36,38). ‘Die Jode’ verwys hier blykbaar na die Joodse Raad, soos in 18:12 waar ‘diensknegte van die Jode’ saam met die soldate Jesus arresteer.

            Hulle vra: ‘wie is jy?’ – sy naam, herkoms en werkkring is bekend,  maar hulle vra rekenskap oor sy optrede, waar kry hy die reg en gesag om ‘n beroering onder die volk te bring, om selfs Jode te doop asof hulle heidene is? Die Joodse Raad  het die gesag oor godsdienstige sake van die Jode.

 

1:20 Met ‘n openbare verklaring, versterk met ‘n direkte ontkenning, het Johannes gesê: ‘ek, ek is nie die Christus nie’ (vgl. 1:8). Dit is blykbaar in reaksie op die volk se groeiende verwagting oor hom (Luk 3:15), wat  agter die Joodse Raad se ontsteltenis sit. Onder die juk van Rome was daar ‘n sterk verwagting dat die beloofde Messias, ‘n koning soos Dawid, wat ook profeet en priester was, hulle sou kom verlos. In die Johannes-Evangelie kom dit telkens ter sprake: by die mense uit Galilea (1:41,45,49), in Samaria (4:25,29,42); in Judea (7:26,27,31,41,42; 10:24)

 

1:21 Die vraag of hy Elia is kom vanuit die Here se belofte in Maleagi 4:5 dat Elia sal kom voordat die groot, die verskriklike dag van die Here kom. Johannes ontken dat hy die oordeelsprofeet is.  Johannes se kleredrag en leefwyse laat hulle aan Elia dink (vgl. 2 Kon 1:8). Die verwagting het gegroei dat Elia die koms van die Messias sal aankondig.

            Die verwagting van ‘n profeet soos Moses, wat alles sal sê wat die Here hom beveel, gaan terug na die belofte in Deutr. 18:15,18. Die verwagting was dat hy wonders sal doen en die volk verlos. Johannes ontken dat hy die heilsprofeet is.

 

1:22,23 Die afvaardiging is verleë oor wat hulle aan die Raad moet rapporteer. Daarom moet hy  uitspel wie hy is en wat sy volmag is vir wat hy doen. Johannes wys na sy werk, en die Skrif: ‘ek is ‘n stem wat roep in die woestyn’ (Jes. 40:3),  ‘n boodskapper wie se persoon nie van belang is nie. Die hoofsaak is sy boodskap. Die woestyn is beeld van die Jode se verdorde en vrugtelose godsdienstige lewe onder die Sanhedrin.

‘maak die pad vir die Here reguit,’ roep hulle op, om hulle harte vir die Here oop te maak (vgl. Jer. 32:39; Eseg. 36:26-27), sy woord te gehoorsaam, en gereed te wees om Hom  te ontvang.

 

1:24,25 Die twee groot partye in die Joodse Raad was die Sadduseërs en die Fariseërs. Die Sadduseërs was die priesterparty wat net die vyf boeke van Moses aanvaar het, maar nie die profete nie. Die Fariseërs, wat die wet en die profete aanvaar het, wou die volk se lewe reël tot in die fynste besonderheid van die wet volgens hulle uitleg daarvan. Toe Johannes uit Jesaja aanhaal, is hulle vraag: waarom doop jy, as jy nie die Christus of Elia of die profeet is nie?

            Die Jode het twee vorms van doop gehad: herhaalde  rituele reinigings en die eenmalige doop van ‘n proseliet wat die Joodse geloof aangeneem het, as simbool van afwassing van hulle heidense onreinheid. Johannes eis nou dat alle bekeerlinge, veral onder die Jode, gedoop word as teken van die afwassing van hulle sonde. Daarmee word die Jood gelykgestel met ‘n heiden wat van sy onreinheid afstand moet doen. Hulle kon dink die Messias sou mense doop (Eseg 36:25; 37:23-24; Sag 13:1), maar Johannes ontken ten sterkste dat hy die Messias is.          

 

1:26,27 Iemand wat reeds onder hulle is, is so verhewe dat Johannes nie eens waardig is om slawewerk vir Hom te doen nie, soos  ‘n riempie van sy sandale los te maak nie. Vir sy koms berei Johannes voor met sy oproep tot bekering, en doop hy mense wat hulle sonde bely, as teken van hulle reiniging met die oog op die koms van die groot Iemand.

 

1:28 Betanië word hier aangedui as ‘oorkant die Jordaan’ om dit te onderskei van Betanië op die berg by Jerusalem. [Betabara (huis van voorbereiding) is deur Origenes ingevoer omdat dit so mooi pas by Johannes se doop as voorbereiding. So het die naam in die 1933-vertaling ingekom, terwyl die oudste manuskripte Betanië lees, soos in die 1983-vertaling].

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbare bediening van Jesus (Johannes 1:19-12:50)

Die Openbare bediening van Jesus (Johannes 1:19-12:50) – Francois Malan

Na die proloog volg die verhaal van Jesus se selfopenbaring onder sy eie mense, die Jode, waardeur baie tot geloof gekom het, maar die meerderheid besluit het dat Hy moet sterwe.

 

Sewe wondertekens word vertel: die wynwonder (2:1-12), genesing van ‘n seun (4:43-54), genesing van die sieke in Betesdabad (5:1-9), vermeerdering van die brode (6:1-15), wandel op die see (6:16-21), gesondmaking van die blindgeborene (9:1-7), opwekking van Lasarus (11:1-44).

Tussenin is sewe gesprekke te onderskei as die belangrikste deel van Jesus se selfopenbaring: met Nikodemus oor die nuwe geboorte (3:1-21), met die Samaritaanse vrou oor die nuwe godsdiens (4:1-26), oor Jesus as die Seun van God (5:19-47), oor die brood van die lewe (6:22-66), oor die vraag of Jesus die Christus is (7:1-52), oor die lig van die wêreld (8:12-59), oor die goeie herder (10:1-42).

Daar word aangeknoop by die feeste van die Jode: paasfees (2:13; 5:1), gesprekke na aanleiding van die sabbat (5:1-18),  paasfees (6:1-71), huttefees (7:1-8:59), tempelwyding (10:22-42), afsluiting met die laaste paasfees (11:55; 12:1-50).

 

Skrywer: Prof Francois Malan