Die Openbare bediening van Jesus (Johannes 1:19-12:50)

Die Openbare bediening van Jesus (Johannes 1:19-12:50) – Francois Malan

Na die proloog volg die verhaal van Jesus se selfopenbaring onder sy eie mense, die Jode, waardeur baie tot geloof gekom het, maar die meerderheid besluit het dat Hy moet sterwe.

 

Sewe wondertekens word vertel: die wynwonder (2:1-12), genesing van ‘n seun (4:43-54), genesing van die sieke in Betesdabad (5:1-9), vermeerdering van die brode (6:1-15), wandel op die see (6:16-21), gesondmaking van die blindgeborene (9:1-7), opwekking van Lasarus (11:1-44).

Tussenin is sewe gesprekke te onderskei as die belangrikste deel van Jesus se selfopenbaring: met Nikodemus oor die nuwe geboorte (3:1-21), met die Samaritaanse vrou oor die nuwe godsdiens (4:1-26), oor Jesus as die Seun van God (5:19-47), oor die brood van die lewe (6:22-66), oor die vraag of Jesus die Christus is (7:1-52), oor die lig van die wêreld (8:12-59), oor die goeie herder (10:1-42).

Daar word aangeknoop by die feeste van die Jode: paasfees (2:13; 5:1), gesprekke na aanleiding van die sabbat (5:1-18),  paasfees (6:1-71), huttefees (7:1-8:59), tempelwyding (10:22-42), afsluiting met die laaste paasfees (11:55; 12:1-50).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Johannes 1:18 Opsomming en slot van die proloog tot die Evangelie.

Johannes 1:18 Opsomming en slot van die proloog tot die Evangelie. – Francois Malan

1:18 ‘Niemand het God ooit gesien nie’ – In Eksodus 33:18-20 vra Moses om God se heerlikheid, kabood, (NAV magtige verskyning) te sien. Die Here sê Hy sal al sy goedheid toob (NAV voortreflikheid) by Moses laat verbygaan, sy Naam voor hom uitroep, sy genade en ontferming skenk aan wie Hy wil, maar  niemand kan sy gesig sien en bly lewe nie.

           

Nadat Moses die twee kliptafels stukkend gegooi het, toe Israel die goue bulkalf aanbid het, en hy die Here gesmeek het om saam met hulle te trek, het die Here dit belowe, tot groot vreugde van Moses (Eks. 33:1-17). Voordat Moses die tweede stel kliptafels van die Here ontvang het, was sy versoek om die heerlikheid van die Here te sien – ‘n versoek dat die Here die belofte van sy teenwoordigheid sal bewys. Sy heerlikheid is sy teenwoordigheid. Maar vir Moses se beswil weier die Here dit. Die gaping tussen ‘n beperkte mens en die ewige God is te groot, en van die ewige God kan geen ware afbeelding of selfs ‘n prent in jou gedagte gemaak word nie. Daar is ‘n grens tussen die menslike en die goddelike. Maar wat die Here wel vir Moses sal wys, is nie ‘n beskrywing van hoe Hy lyk nie, maar van hoe Hy is en wie Hy is: sy goedheid, sy seënende invloed, sal voor Moses verbygaan  en die Here (Jahweh) sal sy Naam uitroep (Eks. 3:14 ‘Ek is’ – verwys na God se ‘aktiewe teenwoordigheid’; so het Hy Hom aan Moses bekend gestel het by sy roeping om Israel uit te lei). Die Here se genade en sy erbarming gee Hy op sy eie voorwaardes. Daarom kon Moses in die rotsskeur staan,  deur die Here bedek om nie nuuskierig te kyk terwyl die teenwoordigheid van die Here verbykom nie, en bly lewe. Uit hierdie ontmoeting volg die tweede uitreiking van die wet in Eks 34.

 

‘Sy enigste Seun, self God’, … dié het Hom ten volle en duidelik bekend gemaak. Hy het die outentieke bekendstelling en verduideliking van God aan die mens kom gee. Die woord ‘bekendmaak’ is deur die rabbi’s gebruik vir die verklaring van die wet. Die Seun kom die Vader uitlê. Sy uitleg van God is outentiek op grond van die eenheid van die Seun met die Vader ‘Hy wat in die boesem van die Vader is’ (NAV wat die naaste aan die Vader i) Vergelyk 13:23 waar die selfde woord gebruik vir die geliefde dissipel wat op die bors van Jesus lê (NAV wat die naaste aan Hom gesit het) soos wat hulle aan tafel op rusbanke gelê het – Jesus openbaar as’t ware God se hart. Daarmee word die innigste gemeenskap tussen Jesus en die Vader aangewys. Dit het reeds voor die skepping bestaan. Die verhouding gaan voort tussen die mensgeworde Woord en die Vader, Hy is in die boesem van die Vader.. God kan alleen reg geken word soos Hy Hom in Christus geopenbaar het (14:8-11).    

       

1:1-18 In die proloog van die Johannes-Evangelie word die lewe van Jesus geskets teen die agtergrond van sy verhouding met die ewige God.. Jesus Christus is die voltooiing en vervulling van  alle vorige openbarings en verlossings deur God. Hy is die Woord van God wat dwarsdeur die Ou Testament praat en optree, die bron van alle lewe en lig in die duister wêreld. Hy is die Lewe, die bron van alle lewe in die skepping en van die nuwe lewe as middelaar van die nuwe skepping. Die Evangelie begin met Christus wat by God is, en mens word om ons ‘n deel te maak van God se ewige lewe (vgl. 20:31). Die proloog is soos ‘n opera se overture, wat die luisteraars inlei in die temas van die hele werk.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Woord word mens! (Johannes 1:14-17)

Die Woord word mens! (Johannes 1:14-17) – Francois Malan

In 1-13 is die verhouding van die Woord tot God, die wêreld, mense en Israel aangestip. In 1:14-18 word die hoogtepunt van die himne ingelei met die Woord wat mens word.

1:14 ‘Die Woord het vlees, sarks,geword’  dit beteken ‘n swakke brose mens, die menslike natuur aangeneem. Die Skepper word ook skepsel. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug. Hy word God met ons, ‘Immanuel’  (Jes 7:14). Hy het sy tent onder ons kom opslaan (eskenoosen  van skene tent), onder ons kom woon. Israel het die tempel beskou as die woonplek van die Here (Eks 25:8), dat Hy tussen hulle woon (Eks 29:46) en  in die hemel woon (Ps 2:4). Die tempel nie is nie meer God se woonplek nie, maar die persoon Jesus is van nou af die woning van die lewende teenwoordigheid van God (12:45; 14:9).  Ons het sy heerlikheid aanskou (Hebreeus sjekinah met dieselfde konsonante as die Griekse skene) – die uitdrukking herinner aan die heerlikheid van die Here by die Rietsee (Eks 14,15), by Sinaiberg (Eks 19), maar veral by die tent van ontmoeting (Eks 33:7-11,19) en aan die heerlikheid in en op die tabernakel (Eks 40:34-38). Dit gaan in dié Evangelie oor die tweede uittog (exodos) uit die slawehuis van sonde, met baie sinspelings op die Ou Testament.

            ‘ons het aanskou’ – die skrywer is ‘n ooggetuie van die bediening van die Christus (vgl. 19:35). Die woord ‘aanskou, theaomai, beteken om vir ‘n tydlank stip na iets besonders te kyk en te oordink, hier na Christus se heerlikheid, doksa, die openbaring van sy goddelike wese; ‘aanskou’ kom 15 maal in dié Evangelie voor.Hy dink aan die tekens  wat Christus gedoen het (in dié Evangelie word sewe wondertekens genoem), dat Hy aan ‘n kruis verhoog is (19:35), dat Hy opgestaan het uit die dood (20:24-29), aan sy liefde vir ons. So ’n openbaring van die heerlikheid kon alleen kom van God se enigste Seun – die enigste van sy soort, uniek, sy geliefde Seun (3:16,18).

‘vol genade en waarheid’ – in Eks 34:6 sê die Here vir Moses: ‘Ek is…vol liefde en trou (Hebreeus: gesed we emet – lojale verbondenheid en waarheid. So word God se verbondsbarmhartigheid beskrywe in die Ou Testament (Ps 25:10; 40:12; 57:4; 89:25). Hierdie genadige betroubaarheid van God se liefde word in sy volheid openbaar in die Woord/Seun van God wat gekom het as Verlosser (Jn 3:16; 13:1,34; 15:9).

Die woord ‘genade’word in dié Evangelie slegs in 1:14,16,17 gebruik, maar die drie keer toon die belangrikheid daarvan vir die skrywer. Dit is die liefde wat God onverdiend gee aan sondaars wat sy wil oortree. ‘Waarheid’ is ‘n sleutelterm in die Evangelie (s.nw. 20 maal,  b.nw. 29 maal). Die Hebreeuse term druk vastigheid, betroubaarheid, bestendigheid, getrouheid en waarheid uit. Vir die Grieke het dit uitgedruk wat werklik is. In hierdie Evangelie word daarmee dikwels die ewige werklikheid uitgedruk soos dit aan mense geopenbaar word. In hierdie vers word die persoonlike aard  van God en sy openbaring  beklemtoon.    

 

1:15 Die argument word onderbreek met Johannes die Doper se getuienis, wat in v30 verder uitgewerk word. ‘Hy wat ná my kom, is my vóór (in status), want Hy was voor my al daar (voor in tyd). Die Woord/Jesus Christus is deel van die ewige voorrang van God. Johannes getuig steeds oor die Woord, wat ons swakke menslike natuur aangeneem het. Hy het ‘hard uitgeroep’, krazein (NAV gesê), soos die Ou Testamentiese profete wanneer hulle ernstige aankondigings maak (Jes 61:2). Johannes se getuienis beteken: Al het Hy mens geword, bly Hy ewig God.

 

1:16 Die argument van vers 14 word hervat. Die Woord wat  ‘n swakke mens geword het, was vol genade en waarheid ‘want uit sy volheid het ons almal ontvang genade op (anti – in die plek van) genade’ – genade wat ons ontvang het word telkens vervang met genade, en sal gedurig so voortgaan. Die verlossing, wat die Woord bring, word gekenmerk deur onuitputlike genade, ‘n belangrike uitspraak veral omdat genade nie verder as v17 genoem word in dié Evangelie nie, maar wat eintlik die hele verhaal van dié Evangelie kenmerk. Die ganse lewe van elke gelowige staan onder die goddelike volheid van die mensgeworde Woord se genade. Alles wat God in sy ontferming aan die mens wil meedeel, is in oorvloed aanwesig in Jesus. Daaruit ontvang ons ‘n onophoudelike stroom van genade, soos golwe genade oor ons.

 

1:17 Die genade en waarheid van die openbaring en verlossing wat met die Enigste Seun van God gekom het, word vergelyk met die ou verbond wat deur Moses bemiddel is. God se verlossing deur Moses het gelei tot  God se gawe van die wet, as die openbaring van God se wil vir sy verloste volk (Eks 20:2 – joú God..wat joú  bevry het). Die verlossing deur Jesus Christus is egter ‘n openbaring van God self, gekenmerk deur genade en waarheid. Getrou aan sy eerste verbond wat God vervul met ‘n tweede eksodus/uittog wat lei tot die nuwe orde van die ewige koninkryk en genadige en regverdige koningskap van God oor die lewe van elke mens. Die naam Jesus Christus word vir eerste maal genoem. Jesus beteken ‘die Here is Verlosser’, Christus: ‘Gesalfde’ as  priester en offer vir ons sonde, profeet met God se woord, koning wat regeer oor die heelal en sy kerk.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Johannes 1:9-13 Reaksies op die Woord van God in die wêreld

Johannes 1:9-13 Reaksies op die Woord van God in die wêreld – Francois Malan

Die himne oor die Woord wat die Lig is, word voortgesit na die onderbreking oor die getuie. 

 

1:9 ‘Die ware lig…was aan kom in die wêreld.’ Dit verwys na twee sake: volgens verse10-11 verwys dit na die menswording van die Woord en die hele aardse bediening van Jesus; volgens vv12-13 gaan dit om dié mense deur die eeue na wie toe die Woord aan die kom was en is. Die Ou Testament verwys na die woord van die Here, of dat die Here gesê het. Dit is telkens dié Woord van God wat mens kom word het in Jesus.

            ‘Die ware Lig’ verlig die mens se denke, openbaar God aan die mens, en die pad van die ware lewe voor God. ‘Wêreld’ verwys na die ganse mensdom, ook van die Ou Testament, maar veral van die Nuwe. (Ligkom  16 maal voor; wêreld 74 maal, soms as geskape wêreld, meesal as mensewêreld, ook as sondige wêreld).

 

1:10 ‘Hy was in die wêreld’ – van die begin af, en waar God gepraat het, was dit die Woord van God. ‘Die wêreld het deur Hom  ontstaan’ (soos 1:3 sê) – by die skepping en voortgang deur die eeue; ook by die ontstaan van elke mens.  ‘En die wêreld het Hom nie geken (of erken) nie’ –  die mense het die lig nie geken en waardeer  vir wat Hy is nie, en die Lig nie aanvaar of in Hom geglo nie. Aanvaar is ‘n wilsbesluit vir of téén Hom. ‘Hom ken’ verwys na ‘n persoonlike verhouding van mense met die Lig.

 

1:11 ‘sy eiendom’ – volgens Johannes 1:3 is Hy die Skepper van alles en daarom die Eienaar daarvan. Hier verwys ‘sy eiendom’ in die eerste plek na die Jode (Deutr. 7:6; Ps 135:4), maar ook na die mense van die wêreld (Ps 24:1). Jode en nie-Jode het die Woord deur die eeue nie aangeneem nie. Die woord vir aangeneem, parelabon, beteken ook ‘om in jou huis te ontvang/verwelkom, om vriendelik te ontvang’. Jesus was soos iemand wat uit sy eie huis uitgesluit was. Hy, die Heer en Eienaar van die wêreld en die mensdom, staan buite en klop aan die deur (Openb 3:20).  So begin die Evangelie met die lyding en verwerping van Jesus.

 

1:12 Maar die werk van die Woord van God was en is  nie sonder vrug nie. Aan almal wat Hom in geloof aangeneem het, het die Woord die voorreg gegee om kinders van God te word. Hoe die ‘aanneming’ geskied word in Jn 1:13 verduidelik met die begrip ‘wedergeboorte’, wat in 3:1-21 verder uitgewerk word. ‘Kinders van God’ druk die besondere liefdesband met God en afstamming van God uit (1:13). Ons word kinders van God slegs deurdat Jesus Christus ons  begenadig. Die geloof in die Naam van Jesus kom slegs in Johannes en 1 Johannes voor. Dit impliseer dat ons Jesus as God erken en Hom in kinderlike vertroue aanneem in die volle omvang van sy openbaring, om volgens sy woord en voorbeeld te lewe.

 

1:13 Om ‘kinders van God’ te word is geheel en al God se werking. Mans en vrouens is nie in staat om kinders van God te verwek nie. Letterlik: ‘wat nie uit bloeddruppels of uit die wil van die vlees nie, of uit die wil van ‘n man nie’ –  ‘bloeddruppels’ word figuurlik gebruik vir afstamming (NAV ‘van nature’); die ‘wil van die vlees’ verwys na seksuele omgang, die ‘wil van ‘n man’  verwys na menslike inisiatief; ‘maar  uit God gebore is’ – dit word verder uitgewerk in 3:3-5. Die diepste grond vir die kindskap van God is die werk van God deur die Heilige Gees, wat die mens oortuig sodat hy/sy glo dat Jesus God is wat vir ons sonde gesterf het, en dat die Heilige Gees ons aan Christus se dood en opstanding verbind. Die oortuigingswerk van die Heilige Gees word in hoofstukke 14 en 16 verder uitgewerk.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan