Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord van God (Johannes 1:6-8)

Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord van God (Johannes 1:6-8) – Francois Malan

 

Die Evangelis onderbreek sy himne oor die Woord wat die Lig is en in die duisternis skyn, om Johannes Doper se getuienis oor die Lig in prosa aan te bied. Sy getuienis gaan oor die Woord wat mens geword het in Jesus. Die optrede van Johannes die Doper was in opdrag van  God.

Hy moes getuig van die enigste Lig van Verlossing, die Verlosser van God se mense.  Dit was die hoogtepunt van Johannes se prediking en doop. Deur sy sending moes almal (vgl. v 4 Lig vir die mense), nie net Jode nie, in Jesus glo. Met ‘almal’ wil die Johannes-Evangelie aandui dat God  deur die getuienis van ‘n mens ander mense tot die lewe wil lei, ook vandag se mense. 

Dit gaan nie om Johannes nie. Hy was net die aankondiger van die goeie nuus. Daar was blykbaar ‘n misverstand deurdat sommige mense geglo het Johannes is die Lig (vgl. bv. Johannes 3:22-30; en Handelinge.19:1-7. Jesus noem Johannes  ‘die lamp’ Jn 5:35).  

Johannes die Doper se sending word hier in die overture tot die Evangelie opgesom. Daar word op sy getuienis uitgebrei in 1:19-34 en 3:22-30.  (Markus begin sy Evangelie met Johannes die Doper se optrede; Mk 1:1-8). Twee belangrike woorde in die Johannes-Evangelie word reeds hier genoem ‘getuienis’ en ‘glo’ (om te getuig word 31 maal in die Evangelie genoem, getuienis 14 maal; om te glo 88 maal)

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Woord van God in die skepping en die herskepping (Johannes 1:1-5)

Die Woord van God in die skepping en die herskepping (Johannes 1:1-5) – Francois Malan

1:1 ‘In die begin’ – soos in Genesis 1:1, maar anders as Genesis begin dit hier nie met die skepping nie, maar  met wat voor die skepping reeds was (vgl. 17:24). En dan die verrassing: nie in die begin was God nie, maar was die Woord.

Die Hebreeuse woord dabar lei tot die skeppingswerk van God: ‘Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig (Gen 1:3,6,9,ens; Ps 33:6). Verder is die Ou Testament vol van die Woord van God wat op die aarde werk deur sy woord, gebring deur profete, ontvang in gesigte, ens. (Jesaja 55:11). Die Griekse begrip van die woord, logos, lei tot die wese van die Godheid en van die mens. Aan die Griekssprekende wêreld moes Johannes in Grieks verduidelik wie Jesus is, en gebruik hy die taal van die Grieke. Maar vir die Christene was die Woord gelaai met ‘n spesiale betekenis: die goeie nuus van God se openbaring en verlossing deur Christus. Die vier Evangelies bied dit aan as God se woord deur Christus gepraat, oor Christus. Jesus doen God se werk en praat oor God se werk en is self God in sy wese. Wat Hy is en sê en doen is God se woord. Toe Johannes se Evangelie begin praat van die Woord, was dit ‘n begrip wat gevul was met inhoud.

 

‘en die Woord was by (pros) God’ – in die teenwoordigheid van God en selfs één met God, soos die volgende sinsnede sê: ‘en die Woord was self God’ – God in sy wese – maar daarmee vervang Hy nie vir God nie (nie ‘en God was die Woord nie’), maar  God by God.

Die goddelike natuur van die Woord word gesien in sy werk: in die skepping 1:1-5; openbaring 1:5,9-12,18; en verlossing 1:12-14, 16-17. In al hierdie werke druk God Homself uit deur die Woord, as die God wat praat, wat Homself openbaar deur die Woord (1 Kor 8:5,6).

 

1:2 Die vers herhaal die begrippe van vers 1 om dit te beklemtoon en te verduidelik: (i) hierdie Woord was in die begin by God; (ii) Hy was by God voor alle tye, en het nie eers ‘in die begin’ begin bestaan nie; (iii) ‘n skynbare teenstrydigheid: die Woord was God en was tog in gemeenskap met God.

 

1:3 Positief en negatief word bevestig dat die Woord die middelaar van die skepping is: alles deur die Woord; niks sonder Hom nie. Maar Hy is nie ‘n soort tussengod wat doen wat God in sy heerlikheid nie sou doen nie. Die skeppingswerk van die Woord is die werk van God deur Hom wat self God is.

 

1:4 Die Woord is nie net die middelaar  in die skepping nie, maar ook in die voortgang van die skepping. Hy is die lig en die lewe in die skepping; ook die lewe in die geboorte van die mens, en in die nuwe lewe van die herskepping van die sondige gevalle mens. Die nuwe skepping wat Jesus bring, is die doel van die oorspronklike skepping deur die Woord.

 

1:5 Die lig is aan skyn in die duisternis, wat aan die begin oor die skepping geheers het, toe die Gees van God oor die watermassas gesweef het (Gen 1:2) en in die duisternis van die gevalle mensheid. Die Lig is die heerlikheid van die mensgeworde Woord toe Hy op aarde was. Die heerlikheid van Jesus is sy liefde wat Hy bewys het deur vir ons te sterf, en deur sy oorwinning oor die dood met sy opstanding. Die Lig skyn in die tyd van die Helper/Trooster wat Jesus gestuur het om ons te oortuig en te lei en te versterk tot vandag toe.

Die duisternis kon nie beheer oor die lig kry nie, kon dit nie begryp nie, kon dit nie oorval nie, almal betekenisse van die woord katalambanoo (NAV ‘uitdoof’). Dit verwys na die duisternis in die skeppingstyd wat nie beheer oor die Lig gekry het nie, ook in die tyd van Jesus, en gaan voort in die tyd van die kerk se getuienis oor die Woord wat mens geword het. In die verband van 1:10-12 verwys die lig eerstens na die aanvaarding en aanneem van die waarheid van die openbaring wat Jesus is en bring. En die duisternis van die wêreld kan dit nie oorwin of uitdoof nie; maar kyk na Jesus se waarskuwing in Johannes 12:35.

Die lewe van Jesus waarvan die Evangelie gaan vertel word in 1:1-5 geplaas teen die agtergrond van sy verhouding tot die ewige God, die Here oor al die eeue, die Skepper van alles, Onderhouer van alles, en Verlosser van alles. Die Woord wat mens geword het, is die bemiddelaar in al God se werke, in skepping en nuwe skepping, en in altwee is Hy die Middelaar van die openbaring van God aan die mens, in wat Hy is en doen.

In elkeen van die hoofstukke van Johannes word getuig oor die Godheid van Jesus. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES: INLEIDING

DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES: INLEIDING – Francois Malan

Die raaisel wat die vierde Evangelie omring

 

Ons is vandag nie meer seker wie hierdie Evangelie geskryf het, waar dit geskryf is of wanneer nie. Die opskrifte van die vier Evangelies wat hulle aan bepaalde persone verbind, is later bygevoeg. Die vroegste getuienis oor die skrywers kom van Ireneus, biskop van Lyon in Frankryk wat in Smirna in die huidige Turkye groot geword het en sendingwerk in Gallië gaan doen het. Hy het as kind by Polikarpus gehoor dat Johannes die Evangelie in Efese geskryf het. Polikarpus van Smirna sou gesê het dat hy vir Johannes geken het, en ander persone wat die Here gesien het. Polikarpus het op 86 jaar in 155 n.C. in Rome op die brandstapel gesterf vir sy geloof (dus gebore in 69 n.C.). Ireneus het gesê Johannes het in Efese gebly tot die tyd van keiser Hadrianus (98-117 n.C.).

 

            In die Evangelie word nie gesê dat Johannes dit geskryf het nie, maar die skrywer praat in die laaste deel van die Evangelie van ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het:’  in 13:23-26 lê hy op die bors van Jesus, in 19:25-27 gee Jesus sy moeder oor in die sorg van die dissipel, in 20:1-10 hardloop hy en Petrus graf toe, in 21:1-14 is dit hy wat die opgestane Jesus aan die strand herken, in 21:20-24 sê die skrywers van die Evangelie dat hulle die geliefde dissipel se getuienis oor Jesus gehoor het en dat hy van die dinge opgeteken het wat hulle in die Evangelie geskryf het.

Die naam van Johannes, die seun van Sebedeus en dissipel van Jesus (volgens die ander Evangelies) word nie in hierdie Evangelie genoem nie, behalwe die verwysing in 21:2 na die seuns van Sebedeus wat ná Jesus se opstanding saam met Petrus en ander gaan visvang het, waaronder die lieflingdissipel ook genoem word in 21:7.   

 

Verskil van die ander drie Evangelies

 

Die Vierde Evangelie begin met Jesus reeds voor die skepping (1:1-18). Lukas se geslagslys van Jesus gaan terug tot by Adam die seun van God (Lk 3:38). Matteus begin by Abraham (Mt 1:1). Markus begin met Jesaja se profesie (Mk 1:2). Johannes se inleiding maak ‘n verklaring oor Jesus voordat die verhaal vertel word. Die verhaal ontvou byna heeltemal in Judea en veral in Jerusalem (slegs 24 verse handel oor Jesus in Galilea, 2:1-12; 4:43-54, en die res van hoofstuk 4 in Samaria). Die ander Evangelies vertel hoofsaaklik van Jesus se bediening in Galilea, en van sy dood in Judea.

            Die feeste in Jerusalem is prominent in Johannes. Ten minste na drie (vier?) Paasfeeste word verwys, wat ‘n bediening van twee (drie?) jaar impliseer. Jesus se werksaamhede in Galilea kon in een jaar ingepas word volgens die ander drie Evangelies.

            Die sinoptiese (sunopsis wat saam oorsien kan word) Evangelies het baie gelykenisse en versamelings van woorde van Jesus oor die koninkryk van God (Mt veral ‘koninkryk van die hemel’). Johannes het min gelykenisse (baie meer metafore – vergelykings) maar baie gesprekke: dialoë en monoloë veral oor die Evangelis se interpretasie van die betekenis van Jesus se sending.

Elke Evangelie gee ‘n eie interpretasie en verklaring van Jesus, gesien na sy opstanding, in die lig van die Ou Testament en van die omstandighede van die gemeentes vir wie hulle skryf. Johannes het die interpretasie verder deurdink. Die sinoptiese Evangelies vertel van Jesus se aankondiging dat die koninkryk kom en dat Hy moet sterf, maar wys nie wat die verband tussen die twee is nie. Johannes se tema is van die begin af dat Jesus deur sy eie mense in sy eie plek verwerp word (1:11). Jesus het dikwels in Jerusalem gepreek en hulle het besluit dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe sodat die hele nasie nie verlore gaan nie (11:50).

Die hele Johannes-evangelie is eintlik ‘n lydensgeskiedenis van die opgestane Here. Hy is die lewe en die lig wat in die duisternis skyn, en die duisternis kon dit nie oorweldig nie. Hoewel Johannes skaars die koninkryk noem (Joh. 3:3,5; 18:36), skemer dit dwarsdeur die Evangelie deur (Jesus word 15 keer koning genoem, en sterf as ‘koning van die Jode’). Maar Johannes lê klem op die persoonlike aard van geloof en verlossing van sonde, en daarom is sy sleutelterm ‘lewe’ en ‘ewige lewe’, wat die lewe in die koninkryk van God beskryf. Die opstandingslewe wat Christus deur die Heilige Gees gee is nou reeds ‘n werklikheid vir elke gelowige. In hierdie Evangelie ontmoet ons God self wat oordeel en red, uit sy genade en waarheid (1:14,17). Die skrywers sê die Evangelie is geskrywe ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (20:31). In elke hoofstuk word daarop gewys dat Jesus God is.

 

Inhoud

 

Na die inleiding (1:1-18) volg Jesus se openbare optrede (hoofstukke 1-12), dan sy bediening aan sy dissipelgroep (13-17), sy dood en opstanding (18-20), en ‘n naskrif oor die sending van die kerk. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (3) – Adrio König

11.3.3 Ons siening van die heil (hoofstuk 2)

Daar is geen manier om oor die heil te dink los van Jesus nie. Vroeër het sekere groepe Hom graag “Heiland” genoem. Die benaming kom nog uit die tyd van die eerste vertalings in die volkstale soos die King James Version (Saviour) en die Statenvertaling (Heiland). Deesdae word dit gewoonlik met Redder vertaal. Dit het meestal in die Ou Testament voorgekom en verwys na die Here wat mense uit nood red.

Jesus verdien vir ons die heil: vergifnis, regverdiging, redding, en hoeveel ander woorde kan ons gebruik. Hierdie woorde veronderstel dat die ou verhouding herstel word. Ons sondeskuld word weggeneem, ons word regverdig verklaar, ons word uit die gevaarposisie bevry, ons kom terug in die regte verhouding met die Here.

 

Maar Jesus herstel nie net wat verbreek is nie. Hy doen meer. Hy verryk ook ons siening van die heil. Hy plaas ons toekoms op ’n ander vlak as die oorspronklike. Daar was altyd mense wat net aan ons redding gedink het as ’n herstel van wat ons verloor het, as “paradise lost, paradise regained”. Maar die begrip “verheerliking” bring ’n nuwe dimensie van die heil na vore. Jesus is nie net ’n herhaling van die eerste Adam nie, Hy is ’n verheerlikte mens. Die eerste Adam was ’n “lewende wese”, maar die tweede Adam is ’n “lewendmakende Gees” (1 Kor 15:45). Dis nogal moeilik om ’n goeie vertaling te kry vir die Grieks, maar wat dit ook al presies beteken, dit is veel meer as net ’n lewende wese.

 

En ons deel in hierdie plus. Ons word ook verheerlik (Rom 8:30). Ons sterf as ’n “natuurlike liggaam”, maar ons sal opstaan as ’n “geestelike liggaam” (1 Kor 15:44). In 2.3.3 het ons na die betekenis van “geestelike liggaam” gekyk. Die “ewige lewe” hou dieselfde gedagte in (2.3.4). Ons kry nie net die lewe van die eerste Adam terug nie, ons kry ’n aandeel in Jesus se lewe, sy opstandingslewe wat die dood finaal agter Hom het. Dit beteken dat “ewige lewe” nie net ons gewone lewe is wat ewig sal aanhou nie, maar lewe op ’n ander vlak, ’n ander kwaliteit lewe. Dit kom mooi na vore in Openbaring 21, 22 waar ons inderdaad iets kry van ’n herhaling van die tuin in Genesis 2 (Op 22:1-3), maar óók ’n radikale oortreffing daarvan met die veilige en heerlike stad en God en die Lam wat Self die lig is sodat die son nie eens meer nodig is nie.

 

Dit is teen hierdie tyd seker eintlik meer as net duidelik dat Jesus dus nie die passiewe eindpunt is waarheen elke groot tema in die Bybel ons lei nie. Hy is die groot “Veranderaar, Vernuwer, Verheerliker”.

  • Hy beëindig en vervang wat nie regtig werk nie.
  • Hy bereik God se doel met die dinge wat langs die pad vasgeloop het.
  • Hy verryk ons siening van sentrale sake in die Bybel oneindig.

 

Dit beteken die titel van hierdie boek sou ook iets soos die volgende kon gewees het:

Jesus lei alle temas in die Bybel na die punt waar God hulle wil hê.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König