Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (2) – – Adrio König

11.2.2 Israel (hoofstuk 8)

Daar is nogal ooreenkoms tussen Israel en die mens. Beide loop vas. Nie een van die twee bereik God se doel met hulle nie. En net soos met die mens kom Jesus dan vir Israel ’n nuwe begin gee. God se doel met hulle het nie gewerk deur Abraham se eerste nakomeling, Isak, en sy nageslag nie. Nou kom daar ’n nuwe nakomeling, Jesus (Gal 3:16).

En weer net soos met die mens, los Jesus dan nie vir Israel langs die pad en vervang hom nie, maar gee hom ’n nuwe vorm. Aan die kruis maak Hy die verbond met Abraham oop vir alle mense (Gal 3:14), sodat van toe af “Israel” bestaan uit alle mense wat deur die doop en die geloof aan Jesus verbind is. Die stam van die olyfboom is nog dieselfde: die ware Godsvolk van die Ou Testament. Maar die takke het verander. Die ongelowige Jode is die takke wat afgebreek is, en toe is daar wilde takke op die mak boom geënt, die heidene wat tot geloof gekom het in Jesus as die Here (Rom 11).

 

Dit beteken dat Jesus ’n duidelike onderskeid maak tussen blote afstammelinge/nageslag van Abraham en kinders van Abraham (Joh 8:34-39; Rom 9:6-7). Maar hierdie onderskeid het altyd bestaan, sedert Sara en Hagar, en Isak en Ismael (Gal 4:21-31). Paulus verwys dan ook met hierdie soort onderskeid terug na die Ou Testament (Rom 2:25-29).

 

God se doel met Israel was om deur hulle die heidene nader te trek omdat die God van Israel ook die God van alle nasies is. Maar dit het nie gebeur nie. Inteendeel, Israel was so aanhoudend ontrou en ongehoorsaam aan die Here dat Hy hulle so moes straf dat die nasies later die spot met die Here gedryf het oor dit so sleg met sy volk gaan (Eseg 36:16-32).

 

Toe het Jesus gekom as God se laaste profeet om hulle tot bekering te roep. En toe hulle uiteindelik ook vir Hom verwerp, is hulle uit die besondere posisie verwerp wat hulle gehad het in God se heilsplan (Matt 21:43; 22:8; 23:37-39).

 

Na Jesus se opstanding kom dan die radikale omkeer en as ’t ware die herstrukturering van God se heilsplan en van Israel as die volk van God. Van toe af is die gelowige heidene op presies dieselfde vlak as die gelowige Jode in die verbond. Hulle is saam die ware Israel (Ef 2:6). En terwyl Israel in die Ou Testament net getrou aan die Here moes wees en dan so geseën sou word dat die heidene na Jerusalem sou stroom om saam met hulle die ware God te kom dien, moet die nuwe vorm van Israel, die kerk, nou uitgaan na die heidene toe en hulle tot geloof in Jesus oproep. En die Jode wat Jesus as Messias verwerp het, toe en nou? Die heidene wat tot geloof gekom het en nou die kerkbanke volsit, moet die Jode jaloers maak op hulle Messias. So kan hulle nog altyd deel in die heil en weer deel word van die ware Israel. Dit beteken dat die huidige Joodse volk nie meer deel van God se heilsplan is nie, en dat hulle land en geskiedenis nie meer in ’n besondere verhouding tot die Here staan nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was. Vraag

Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was – Francois Malan

Japie vra:

Volgens Johannes 13:23 en 19:26 word gepraat van die dissipel wie Jesus baie lief gehad het. Wie was dit? Baie dankie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die skrywer praat in die laaste deel van die Evangelie van ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: in 13:23-26 lê hy op die bors van Jesus, in 19:25-27 gee Jesus sy moeder oor in die sorg van die dissipel, in 20:1-10 hardloop hy en Petrus graf toe, in 21:1-14 is dit hy wat die opgestane Jesus aan die strand herken, in 21:20-24 sê die skrywers van die Evangelie dat hulle sy getuienis oor Jesus gehoor het en dat hy van die dinge opgeteken het wat hulle in die Evangelie geskryf het.

 

Hy is moontlik ook ‘die ander dissipel’ vir wie die hoëpriester geken het, en wat vir Petrus toegang tot die binnehof verkry het (18:15-16). Dit is onwaarskynlik dat die ongeleerde Johannes uit Galilea (vgl. Hand 4:13) bekend was by die hoëpriester in Jerusalem.

 

Daar is ook ‘n moontlikheid dat dit die geliefde dissipel was wat saam met Andreas vir Jesus opgesoek het nadat Johannes die Doper vir Jesus as die Lam van God aangewys het (Jn 1:35-40), omdat die skrywer hom nie identifiseer nie.

 

Die naam van Johannes (die seun van Sebedeus en dissipel van Jesus, volgens die ander Evangelies) word nie in hierdie Evangelie genoem nie, behalwe die verwysing in 21:2 na die seuns van Sebedeus wat ná Jesus se opstanding saam met Petrus en ander gaan visvang het, waar die lieflingsdissipel in 21:7 ook genoem word.

   

In die Evangelie word nie gesê dat Johannes dit geskryf het nie. Die slot van die Evangelie veronderstel dat volgelinge van die ‘geliefde dissipel’ sy herinneringe en die betekenis daarvan opgeteken het in die Evangelie. Of die ‘geliefde dissipel’ die dissipel Johannes was, word betwyfel, maar is ‘n moontlikheid, wat in die vroeë kerk aanvaar is..

 

Ons is vandag nie meer seker wie hierdie Evangelie geskryf het, waar dit geskryf is of wanneer nie. Die opskrifte van die vier Evangelies wat hulle aan bepaalde persone verbind, is later bygevoeg.

 

Die vroegste getuienis oor die skrywers kom van Ireneus, biskop van Lyon in Frankryk wat in Smirna in die huidige Turkye groot geword het en sendingwerk in Gallië (Frankryk) gaan doen het. Hy het as kind by Polikarpus gehoor dat Johannes die Evangelie in Efese geskryf het. Polikarpus van Smirna sou gesê het dat hy vir Johannes en ander persone wat die Here gesien het, geken het. Polikarpus het op 86 jaar in 155 n.C. in Rome op die brandstapel gesterf vir sy geloof (dus gebore in 69 n.C.). Ireneus het gesê Johannes het in Efese gebly tot die tyd van keiser Hadrianus (98-117 n.C.). Clemens van Alexandrië (150-215) het beweer dat Johannes ná die dood van keiser Domitianus (96 n.C.), wat hom na Patmos verban het, terug is Efese toe. Die anti-Marsion proloog tot Lukas  (200 n.C.) beweer dat Johannes Openbaring op Patmos geskryf het en die Evangelie daarna. Papias van Hiërapolis sou in 135 n.C. geskryf het dat daar in Efese twee grafte van twee Johannesse is, en hy het die ouderling Johannes nog geken, maar die apostel Johannes was toe blykbaar al dood (volgens Eusebius Hist. 3.39.6 geskryf in 311 n.C.). .

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (1) – Adrio König

11.2 Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge

Maar daar is temas wat ons na Jesus lei juis omdat hulle vasgeval het en nie hulle doel bereik het nie. Die opvallende voorbeelde is die mens en die volk Israel, en dan die skepping self.

11.2.1 Die mens (hoofstuk 5)

Ons is bedoel om God se beeld te wees, om mense aan Hom te herinner en na Hom te lok. Maar dit het nie gewerk nie, of liewer ons het nie in ons doel geslaag nie. Dit is die herhaalde storie van die Ou Testament: Adam, Noag, Israel. Ons het deur ons sonde van ontrou en ongehoorsaamheid eerder mense se uitsig op God verdof en verdraai. En daarom het God ’n nuwe voorbeeld aan ons gegee van wat Hy met ons bedoel het: die Mens Jesus. Hy is die beeld van God (2 Kor 4:4; Kol 1:15; Heb 1:3). In Hom kan ons dus sien hoe God lyk.

 

Maar Jesus het ons nie opsy geskuif en vervang en in ons plek gekom soos die tempelkultus nie. Hy is nie eksklusief die beeld van God nie. Hy kom ons wys wat God met ons bedoel het. En dan kom verander Hy ons vasgeloopte lewe sodat ons inderdaad God se doel met ons kan bereik – deur Hom. Dit beteken dat ons onherroeplik aan Jesus vasgekoppel is. Ons word met Hom verenig deur die doop en die geloof, soveel so dat Paulus kan skryf “Christus is ons lewe,” en weer: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Kol 3:4; Gal 2:19-20).

 

Daarom is daar soveel oproepe in die Nuwe Testament dat ons “soos Jesus” moet wees. Hy los ons dus nie eenkant nie, Hy vat ons saam. Saam met Hom kan ons inderdaad God se wil vir ons lewe bereik.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus eindig en vervang bepaalde dinge (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus eindig en vervang bepaalde dinge (2) – Adrio König

11.1.2 Die wet (hoofstuk 3)

Daar is ’n sin waarin Jesus ook die wet beëindig en vervang. Hy word selfs die einde van die wet genoem (Rom 10:4). En in Hebreërs lees ons die wet was maar net ’n skadubeeld of ’n vae aanduiding (GN) van dit wat nog in die toekoms gewag het (10:1). Hierdie radikale uitsprake sluit natuurlik direk aan by dié oor die tempeldiens, en het net soveel aanstoot gegee.

Dis juis hierdie twee sake wat aanleiding daartoe gee dat Stefanus gevang word: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die tempel en die wet van Moses te sê nie” (Hand 6:13). Maar ons moet op hierdie punt mooi onderskei omdat daar ’n ander sin is waarin die wet sy volle betekenis behou soos ons in hoofstuk 3.5 en 3.6 gesien het.

 

Die presiese bewoording van Romeine 10:4 help ons baie. Die nuwere Afrikaanse vertalings bemoeilik net die saak. Die 1953-vertaling is nie so duidelik nie, maar dit gee die betekenis die beste weer: “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” GN vertaal ongeveer soos volg: Sedert Christus gekom het, is die wet nie meer die pad na God nie. Van nou af geld: God neem almal aan wat glo. Wat beteken dit? Nie dat Christus die wet as sodanig beëindig het nie, maar wel ’n bepaalde funksie van die wet, en dan ’n funksie wat die wet eintlik nooit bedoel was om te hê nie, maar wat gaandeweg deur die Jode aan die wet toegeken is: om ’n mens by God aanvaarbaar te maak. Daar was genoeg uitsprake in die Ou Testament wat sommige Jode oortuig het dat dit inderdaad die betekenis van die wet was: As jy die wet kan hou, sal God met jou tevrede wees. Ons het hierdie siening breedvoerig bespreek  onder 3.5. Ons het toe ook gesien dat dit ’n hoogs emosionele saak was wat gemoedere kon opjaag. Die Joodse Christene het die besnydenis as deel van die wet beskou, en geëis dat heidene wat tot geloof in Jesus kom, besny moet word om gered te word. Dit is aan hierdie vermeende betekenis van die wet dat Jesus dan ’n einde maak, nie aan die wet as lewensreël vir gelowiges nie. Daarvoor gebruik Paulus nog altyd die wet as rigsnoer, selfs as die basis van sy vermanings aan gemeentes.

 

Maar vir die Jode en Joodse Christene was die verwerping van die wet as heilsweg ’n ingrypende saak. Dit is interessant om in hierdie lig ’n oomblik te kyk na Galasiërs 3:12, wat ’n aanhaling is uit Deuteronomium 27:26. Paulus gee ’n negatiewe interpretasie aan hierdie teks uit Deuteronomium, maar dit het oorspronklik ’n positiewe betekenis gehad. In Deuteronomium is dit die samevatting van ’n lys sondes wat ’n vloek op ’n mens laat rus. Dit is die bekende sondes wat dikwels verbied word soos onsedelikheid, onbarmhartigheid, oneerlikheid, en is nie veel meer as ’n aantal konkretiserings van die Tien Gebooie nie. Die samevatting lui dan: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie.” Op sigself is dit tog nie snaaks nie. Dis ’n oproep om gehoorsaam aan die Here te leef.

 

Waarom gee Paulus dan daaraan ’n negatiewe betekenis? Omdat hy dit teenoor die geloof stel. Teenoor: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe,” stel hy: “God spreek ons vry omdat ons glo.” En waar daar só ’n teenstelling is, is die keuse vir Paulus vanselfsprekend: geloof, nie doen nie; Christus, nie die wet nie.

 

Maar nog ’n keer: Waarom interpreteer Paulus hierdie uitspraak so negatief, terwyl dit heeltemal positief bedoel is in Deuteronomium? Omdat daar tussen die tyd van Deuteronomium en Paulus ’n lang geskiedenis lê waarin die Joodse leiers die wet verhef het tot die heilsweg, in plaas van soos dit oorspronklik, ook in Deuteronomium, bedoel is: as lewensreël vir die volk van die Here. Veral ná die ballingskap het die leiers probeer om ten alle koste te verhoed dat so ’n ramp hulle ooit weer tref. En hulle het dit gedoen deur die onderhouding van die wet te verabsoluteer as dié manier om God tevrede te stel, en dit ten koste van die lewenshouding van geloofsvertroue.

 

Dit alles beteken dus dat selfs ons opskrif bokant hierdie paragraaf: Jesus beëindig en vervang iets, nie altyd dieselfde betekenis het nie. Die tempelkultus het geen besondere afwykings vertoon nie. Jesus het dit nie beëindig en vervang nie omdat dit in sy egte vorm ontoereikend was nie, maar eenvoudig omdat dit ontoereikend geword het toe Hy gekom het. Hy het gebring wat oneindig meer en beter was as die bestaande, al was die bestaande nog ongeskonde. Daarom het Hy dan ook die hele tempelkultus beëindig, en nie net ’n deel daarvan nie. En verder het Hy dit nie net beëindig nie, maar dit ook vervang, dit wat oneindig beter was in die plek daarvan gesit.

 

Maar wat die wet betref, vervang Jesus nie die wet as sodanig nie, maar net ’n aspek van die wet, en boonop ’n aspek wat nie regtig by die wet gehoort het nie, maar later bygevoeg is en dit eintlik verwring het. ’n Mens sou dus ook kon sê Jesus herstel  die wet in sy oorspronklike funksie. Hy beëindig net die wanfunksionering daarvan.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König