Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1) – Adrio König

8.3 Die verhouding Israel-kerk ná Pinkster

Dit bring byna vanselfsprekend die vraag na vore wat die verhouding dan is tussen Israel en die kerk omdat die kerk ná Pinkster hoofsaaklik uit gelowiges uit die heidene bestaan het. Daar is ’n standpunt van radikale diskontinuïteit. Dit beteken dat daar ’n absolute breuk is tussen Israel en die kerk, dat die kerk heeltemal ’n nuwe saak in die Nuwe Testament is waarvan daar geen sprake in die profesieë van die Ou Testament is nie.

Hierteenoor staan die standpunt dat daar inderdaad sterk kontinuïteit is tussen Israel (as die Godsvolk van die Ou Testament) en die kerk, maar dat hierdie kontinuïteit ’n bepaalde struktuur het waarin Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament die basis is waarop die kerk groei. Hierdie Israel is nie die huidige nasionale staat “Israel” of die Jode wat Jesus as Messias verwerp het nie.

 

Nadat ons nou net ons begrippe verduidelik het, behandel ons eers die standpunt van radikale diskontinuïteit; dus dat die kerk geen verband het met die Ou Testament nie, maar totaal nuut is.

 

Begripsbepaling

Die woord “Israel” kom in die Bybel in verskillende betekenisse voor. Voor die skeuring in die ryk word die 12 stamme “Israel”  genoem. Ná die skeuring is die Noordryk “Israel”, terwyl die Suidryk “Juda” is. Na die ballingskap van die Noordryk in 722, word dikwels weer na die Suidryk (Juda) as Israel verwys. In die Nuwe Testament is daar nog meer onderskeidings nodig. Daar is sprake van die ware Israel en die vleeslike Israel (Rom 9:6), van ware Jode en Jode na die vlees (Rom 2:28 ev), van kinders van Abraham (die ware Godsvolk) en nakomelinge van Abraham (wat nie regtig met die Here ’n verband het nie, Rom 9:6 ev).

 

In hierdie bespreking sal “Israel” hoofsaaklik in twee betekenisse gebruik word. In die eerste deel waar die verhouding Israel-kerk onder bespreking is, sal “Israel” gebruik word in die betekenis van die ware Godsvolk van die Ou Testament, die Ou-Testamentiese kinders van Abraham, en in die tweede deel waar die toekoms van Israel bespreek word, sal dieselfde betekenis geld, maar soms ook die betekenis van die huidige nasionale staat en volk wat vandag inderdaad bekend staan as “Israel”. Uit die verband sal dit telkens duidelik wees watter betekenis geld.

 

Radikale diskontinuïteit

Dit is ’n standpunt wat sterk verdedig word deur dispensasionaliste, dit is die teoloë wat ’n spesiale toekoms van Israel verwag, en veral oortuig is dat die onvervulde Ou-Testamentiese profesieë oor Israel eers in die Duisendjarige Vrederyk vervul sal word, en dan letterlik vir die herstelde volk Israel.

Hierdie teoloë praat graag van die misterie of geheimenis van die kerk en bedoel daarby dat daar niks oor die kerk bekend was voor God dit eers aan Paulus geopenbaar het nie. Hulle beroep hulle hiervoor op ’n paar uitsprake in die Nuwe Testament (Ef 3:1-6; Kol 1:24-27; Rom 16:25-26; 1 Kor 2:6-8), maar alles hang af van die betekenis van die uitspraak in Efesiërs. Hier word net kortliks hierdie standpunt oor hierdie teks weergegee. Die teks sal later breedvoerig bespreek word.

 

Efesiërs 3:1-6 Hier is sprake van ’n geheimenis wat nog nooit tevore geopenbaar was nie, en dit is dan volgens hierdie standpunt die geheimenis van die kerk. Dit sou dan beteken dat daar nooit in die Ou Testament sprake was van die kerk nie, en dat geen profesieë van die Ou Testament op die kerk betrekking gehad het of in/vir die kerk vervul is nie. Trouens die profete van die Ou Testament sou hiervolgens glad nie geweet het van die fase tussen die twee komste van Jesus, sy eerste koms en sy wederkoms nie. Hulle sou die twee komste as ’n eenheid gesien het.

Hulle sou verwag het dat die koninkryk van God in een enkele fase sou aanbreek wanneer die Messias kom en die heerlikheid herstel word wat Israel in die tyd van koning Dawid gehad het. Eers met die koms en aardse optrede van Jesus sou dit dan duidelik geword het dat die koninkryk van God in twee fases sal kom: eers die geestelike, innerlike koninkryk met die koms van Jesus en die heilige Gees en die tyd van die kerk, en ná die wederkoms die tweede, letterlike fase wanneer Israel herstel sal word en Jesus letterlik in Jerusalem op die troon van Dawid oor die hele aarde sal regeer.

 

Dit beteken dat die tyd van die kerk, die tyd waarin ons nou leef, die tyd tussen die eerste koms en die wederkoms van Jesus, ’n onverwagte tussentyd is, en dat God eers daarna sy eintlike doel bereik, om Israel te herstel. Dat hierdie tyd waarin ons nou leef, ’n onverwagte tussentyd is, is eers ná die koms van die Gees aan Paulus geopenbaar.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Wat beteken veertien

Wat beteken veertien – Francois Malan

Hyla vra:

As ek wil weet wat beteken n syfer, waar begin ek. Bv. In Matt 1: 17 word daar na 3 x 14 geslagte verwys. Iewers het ek gelees dat 14 is die numerise waarde van “Dawid” in Hebreews wat heenwys na Jesus as seun van Dawid. Hoe weet ek dat dit is wat 14 beteken? En dan hoekom 3 x 14?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die Ou Testament is oorspronklik in Hebreeus geskryf (die Nuwe Testament in Grieks). Die Hebreeus het oorspronklik slegs die medeklinkers van woorde geskryf. Later is klinkers onderaan bygevoeg. Die Hebreeus vir Dawid is DWD. Hebreeus het nie syfers nie en gebruik die alfabet vir syfers: Alef (A=1), Bet (B=2), Gimmel (G=3), Dalet (D=4), He (H=5), Waw (W=6). D4+W6+D4=14.

 

Matteus se geslagslys van Jesus deur Josef begin van Abraham tot Dawid 14 geslagte:

1 Abraham, 2 Isak, 3 Jakob, 4 Juda, 5 Peres, 6 Gesron, 7 Ram, 8 Amminadab, 9 Nagson,

10 Salmon, 11 Boas, 12 Obed, 13 Isai, 14 Dawid (vgl. Rut 4:18-23).

 

Van Dawid tot die ballingskap in Babilonië 14 geslagte:

1 Salomo, 2 Rehabeam, 3 Abia, 4 Asa, 5 Josafat, 6 Joram, 7 Ussia, 8 Jotam, 9 Agas, 10 Hiskia, 11 Manasse, 12 Amon, 13 Josia, 14 Jojagin en sy broers.

 

Na die Babiloniese ballingskap begin dit weer by Jojagin tot by Josef 14 geslagte:

1 Jojagin, 2 Sealtiël, 3 Serubbabel, 4 Abihud, 5 Eljakim, 6 Asor, 7 Sadok, 8 Agim, 9 Elihud,

10 Eleasar, 11 Mattan, 12 Jakob, 13 Josef, 14 Jesus.

 

Soms is ‘n geslag oorgeslaan en is die kleinseun genoem as kind van sy oupa (vgl. bv. die geslagsregister in 1 Kronieke 3). Die skrywer wou dit in drie groepe van 14 indruk – of dit is om die betekenis van Dawid te onderstreep is moontlik. 14 =  2×7 en sewe word dikwels gebruik vir die verhouding tussen God (3 Vader-Seun-Heilige Gees) en sy mense oor die wêreld (4 windrigtings: Oos-Wes-Noord-Suid).  

 

Dat Jesus die Seun van Dawid is, kom reeds uit 2 Sam 7:13-14 waar die verwagting begin. Vgl ook Mat. 22:41-46 waar David se Ps 110:1 op Jesus toegepas word. Soos Dawid is Jesus ook Koning (Dawid was ook profeet en het soms as priester opgetree). Matteus wil juis wys dat Jesus die Gesalfde Koning is (Die Griekse woord vir Gesalfde is Christus, en in Hebreeus Messias), die Messias wat die Jode verwag het (vgl Mat 26:63; 28:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Alle Paaie lei na Jesus: Israel en die volke in die aardse bediening van Jesus

Alle Paaie lei na Jesus: Israel en die volke in die aardse bediening van Jesus – Adrio König

8.2 Israel en die volke in die aardse bediening van Jesus

Ons moet duidelik onderskei tussen die tyd van Jesus se aardse bediening, en die tyd ná sy opstanding en die koms van die Gees.

Tydens sy aardse bediening sluit Jesus in baie opsigte direk aan by die Ou Testament. Jesus word dikwels ’n profeet genoem (Matt 21:11, 46; Mark 6:15; Luk 7:16; 24:19; Hand 3:22 ev; 7:37). Hy word selfs dié profeet genoem (Joh 6:14), wat beteken dat Hy die groot profeet was wat Israel in die eindtyd verwag het (Deut 18:15-22).

 

Hierdie titel “profeet” sê meer oor die aard en doel van Jesus se aardse bediening as wat ons gewoonlik dink. Net soos Johannes die Doper sluit Jesus direk aan by die profete van die Ou Testament wat die volk opgeroep het om hulle te bekeer. Sowel Johannes as Jesus preek bekering (Matt 3:2; 4:17). Beide beperk hulle tot Israel. Jesus beklemtoon dit selfs: “Moenie met ’n pad na die heidennasies afdraai nie … ” (Matt 10:5), “Ek is net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur” (Matt 15:24).

 

En die sending? Onthou ons is tydens Jesus se aardse optrede in ’n sekere sin nog in die Ou Testament. Sowel Johannes die Doper as Jesus tree op as Ou-Testamentiese profete wat die volk na die Here toe terugroep sodat die Here hulle kan begin seën en die volke uiteindelik sal naderstroom om te kom kyk wat in Jerusalem aangaan en dan dáár saam met Israel die Here begin dien (Jes 2:2-5). Dit was die Ou Testament se sendingmetode. Die Here het al aan Abraham beloof dat Hy alle volke in hom sal seën.

 

Toe dit teen die einde van Jesus se bediening al duideliker begin word dat Israel ook na Hom nie wil luister nie, het Hy met skerp waarskuwings probeer om hulle tot besinning te roep, en hulle selfs begin dreig dat God hulle gaan verwerp uit hulle unieke verhouding met Hom. “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer” (Matt 21:43). Hierdie dreigement word ’n oordeelsaankondiging: “Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Matt 23:38). Die kruisiging word die finale breuk omdat dit die uiterste vorm was waarin die volk dié Profeet van God kon verwerp.

 

En dan eers, ná die opstanding, kom die radikale wending na die nuwe benadering: “Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Matt 28:19). Dit lui die finale fase in van God se betrokkenheid by alle nasies. Eers was Hy direk by alle mense betrokke (Gen 1-11). Toe wou Hy deur Israel by alle volke betrokke wees (Gen 12 – Matt 28). En nou wil Hy deur die heidene wat tot geloof kom, vir Israel terugwen, en só by die hele wêreld betrokke wees.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (3) – Adrio König

8.1.3 Die volke

Hierdie voorbeelde van mense wat deel van Israel geword het, was maar net ’n klein stroompie van dit wat die Here regtig vir die volke beoog het. As die oordeelsuitsprake teen die volke volop is, is die heilsuitsprake minstens net so volop.

Dit is opvallend dat die belofte wat die Here aan die begin aan Abraham gedoen het dat in hom al die volke geseën sal word, alreeds in Genesis telkens herhaal word (22:18; 28:14). Verder kom talle uitsprake oor heil vir die volke verspreid voor in die Profete en die Psalms.

  • Die nasies word opgeroep en uitgenooi om die Here te loof (Ps 49:2; 96:7).
  • Die nasies sal hulle seën van die Here verwag en in Hom roem (Jer 4:2).
  • Die nasies sal na Jerusalem stroom om die Here daar te kom dien (Jes 2:2-5; 55:5; 60:3; Sag 8:23).
  • Mense oor die hele wêreld sal Hom as Here erken en hulle tot Hom bekeer (Ps 22:28).
  • Spesifieke volke word genoem, veral die groot moondhede soos Egipte, Assirië (Jes 19:19-25).

 

Opvallend van hierdie bekering van die nasies is die feit dat hulle nie op hulle eie, los van Israel en Jerusalem en die tempel, tot bekering kom nie. Hulle sal na Jerusalem stroom en die Here dáár saam met Israel in die tempel kom dien (Jer 3:17). “Die heersers van die volke vergader saam met die volk van die God van Abraham” (Ps 47:10, NLV, 1983 se “verenig met” is te sterk). “Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om my Naam te dien … na my heilige berg toe bring” (Jes 56:6-7). Die hele wêreld moet dus in Sion in die heil kom deel. Die tempel “sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke” (Jes 56:7). Dit kan ook wees dat dit is wat die belofte aan Abraham oorspronklik bedoel het: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

 

Intussen beteken dit nie dat die Here net in Jerusalem gedien sal word nie. Die gedagte is ongetwyfeld dat die volke dit wat hulle in die tempel kry, sal saamneem na hulle eie lande. In Jesaja is daar twee merkwaardige perspektiewe. Binne-in Egipte sal daar altare wees waar die Egiptenaars offers aan die Here sal bring. En die Egiptenaars en die Assiriërs sal saam die Here dien. “Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot ’n seën wees” (19:23-24)! Dis merkwaardig dat Israel hier selfs tweede (derde!) viool speel. Hulle kom eenvoudig by Egipte en Assirië by. En dan die groot feesmaal vir “al die volke” op die berg Sion, “’n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn” (25:6-7).

 

’n Mens kan in hierdie verband daaraan dink dat Kores, wat Israel uit Babel sou laat teruggaan Jerusalem toe, selfs die Here se “Messias” genoem word (“gesalfde,” Jes 45:1).

 

Hoe sal hierdie volkere-bekering tot stand kom? Nie deur aktiewe “sendingwerk” deur Israel nie. Die gedagte van uitgaan en mense inbring, kom nog nie algemeen in die Ou Testament voor nie. As Israel aan die Here getrou is, sal Hy hulle só seën dat die volke na Jerusalem sal stroom om dit te sien, en Hom daar saam met Israel sal begin dien (Jes 2:2-5). Daarom word Israel en die dienaar van die Here ’n lig vir die nasies genoem (Jes 42:6; 49:6; 60:1-3; Sag 8:23).

 

Tegnies kan ons hier onderskei tussen die Ou Testament se sentrifugale (middelpunt-soekende) “sendingmetode” teenoor die Nuwe Testament se sentripetale (middelpunt-vliedende) metode. Die eerste beteken dat volke inkom na die middelpunt toe (die Here, Jerusalem, die tempel), en die tweede dat die gelowiges uit gaan na die volke toe.

 

Dit alles beteken dat daar meer as een perspektief op die volke in die Ou Testament is, dat alles nie duidelik is oor hoe dit sal afloop nie. Daar is van vernietigende oordele sprake, maar ook van groot bekerings en volkere-togte na Jerusalem. Miskien is die grootste probleem dat die Here nie sy doel bereik het nie omdat Israel so aanhoudend ontrou was aan Hom. Die Ou Testament is in die geheel die mislukte geskiedenis van die ontrou van die volk téénoor die trou van God. Daarom was daar nog ’n Testament nodig.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König