Hoeveel beloftes is daar in die Bybel?

Hoeveel beloftes is daar in die Bybel? – Kobus Kok

Cameron vra:

Hoeveel beloftes, presies, is daar in die Bybel?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoeveel beloftes  is daar in die Bybel?

Daar is ‘n belofte vir elke dag van die jaar in die Bybel! Dit hang natuurlik af hoe mens na die beloftes van God kyk. Een van God se beloftes, kan ‘n belofte wees vir elke dag tot die einde van jou lewe. Soos dat God jou oneindig liefhet en dat hy getrou en regverdig is, en jy gered sal word. Eintlik is daar oneindige beloftes in die Bybel, afhangende van die lens wat jy gebruik om God se Woord te lees.  ‘n Verdere vraag is wat ons presies met “belofte” bedoel. Die Heilige Gees openbaar ook waarheid aan jou, en dikwels staan iets nie eksplisiet in die Bybel nie, maar gee God vir jou ‘n boodskap of “belofte”. Persoonlik is ek ongemaklik met die begrip “belofte” en om dit te gebruik as ‘n kategorie om te kan verwag dat God sekere dinge gaan doen, of behoort te doen. Uit Job se lewe leer ons dat die lewe dikwels baie onvoorspelbaar is, en dat dit wat ons dink “beloftes” is, nie altyd presies daarna uitsien soos ons dink nie. Vat maar net die voorbeeld van God se belofte aan sy volk dat hulle die beloofde land sal besit. Uit die geskiedenis weet ons dat dit ‘n baie komplekse saak is. Sommige mense gebruik die Bybel amper op n magiese manier, en is van mening dat die Bybel ronde getalle beloftes gee soos 365 of 100 of selfs 7 en 10. Mens kry baie sulke voorbeelde. Wees versigtig daarvoor.

 

Miskien moet ons die woord “presies” hoeveel beloftes daar in die Bybel is vervang met iets soos “watter geloofswaarhede” God in die Bybel gegee het – geloofswaarhede is waaraan ek altyd kan vashou ondanks die oppe en die affe van die lewe. Een so ‘n belofte is dat die wat glo, verseker kan wees van God se liefde en dat hulle die ewige lewe sal ontvang (Joh 3:16; 20:30-31). Implisiet in Openbaring 4:1-11, waar ons die troonsaal prentjie van God sien, word die verskillende kleure van die troon verbind met sekere geloofswaardhede, soos dat God die God van lewe is. Implisiet is daar die “belofte” dat God voorsien, en dat God in beheer is. So is daar baie tekste, een vir elke dag van die jaar tot die einde van jou lewe, waarin jy God se boodskappe van hoop, en Sy verbintenis om betrokke te wees by jou lewe, elke dag nuut kan ontdek. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Jesus se oorspronklike naam in Hebreeus?

Jesus se oorspronklike naam in Hebreeus? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

I.V.M die name van God en Jesus. Vorige antwoord God se Naam – Kobus Kok ‘n Leser vra: Die … bediening het my en my man deurmekaar begin maak, want daar is waarhede in sowel as dinge waarmee ek nie saamstem nie. Eerstens praat hulle van YHWH- Yahweh as God en sê Here is van Baäl afgestam. Dan my vraag oor die naam Jesus wat Jashua of Jesous in Hebreeus moet wees. Hoekom het die vertalings die name van God en Jesus verander?

God is tog erg oor dat ons Sy Naam moet ken. Prof Kobus Kok antwoord: Die korrekte uitspraak van God en Jesus se naam Die hele argument dat ons God “Jahweh” moet noem en indien ons dit nie doen nie, ons onsself skuldig maak aan die misbruik van God se naam is baie problematies. In die eerste plek het alle Jode nie Hebreeus gepraat nie. Daar is ook ‘n Griekse Ou Testament wat algemeen deur die Jode gebruik is in die tyd van Jesus. Ons navorsing toon aan dat wanneer Paulus die Ou Testament aanhaal, hy uit die Grieks aanhaal. God word Theos en Kurios genoem in Grieks. In die oorspronklike Griekse Nuwe Testament noem Jesus self sy Vader pater, wat die Griekse woord vir “pa” is (vgl. Joh 5:18). In Johannes 1:1 word Jesus die “logos” (woord) genoem en word die Vader “theos” (God) genoem. Die woord theos wat “God” beteken is die algemene woord wat vir enige god gebruik is. Met ander woorde, die Nuwe Testament het die algemene woord vir God (theos) en Vader (pater) en nog baie ander terme gebruik. Om God se naam te ken, beteken nie dat jy dit in Hebreeus sê nie, maar of jy Hom ken en in verhouding met Hom staan. Die fokus moet dus nie val op die uitspreek van die “korrekte” Hebreeus of Grieks nie, maar of jy hom ken op persoonlike vlak en ‘n intieme verhouding met God en Jesus staan. Net vir interessantheid, wanneer die Jode uit die Ou Testament gelees het, het hulle elke keer waar God se naam geskryf staan nie eers sy naam genoem nie! Hulle het geglo dat God so Heilig is dat mens sy naam nie eers oor jou lippe mag noem nie. So, die ouens wat so baie maak van die korrekte naam vir God en Jesus se argumente val almal op verskeie plekke plat. Onthou ook net dat as ons as Christene antwoorde soek op hoe ons goed moet doen, ons die Nuwe Testament raadpleeg, en dat daar tussen die Nuwe Testament en die Ou Testament ‘n belangrike ontwikkeling plaasgevind het, naamlik dat Jesus gebore is, gesterf en opgestaan het. Die kruis en opstanding van Jesus verander die interpretasie van die Ou Testament. Een so ‘n voorbeeld is die Joodse eetgewoontes wat Jesus heeltemal kom verander het. ‘n Ander voorbeeld is die besnydenis en die streng nakoming van Joodse feeste wat heeltemal verander op grond van die Jesus-gebeure. Skrywer: Prof Kobus Kok Ek het ook hierdie probleem en is deurmekaar. Was Jesus se naam aan hom in Grieks gegee deur die Vader en indien nie, wat was die Hebreeuse name van God en Jesus. 

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Jesus se oorspronklike naam in Hebreeus?

Die Nuwe Testament het ons in die mees oorspronklike vorm in Grieks. Die rede is dat die mense in die Nuwe Testament Grieks gepraat het. Die meeste Jode byvoorbeeld, en selfs Paulus, het Grieks gepraat.

In die evangelie van Matteus (Mat 1:21-25) kry Maria en dan ook Josef in ‘n droom, van God af die opdrag om hulle babatjie Jesus te noem. In die oorspronklike Grieks staan daar ekalese (hy het genoem) to honoma auto (die naam van hom) Iesoen (Jesus). Die Griekse woord Iesoen is ‘n Griekse uitspraak van die oorspronklike Hebreeuse naam Jeoshua, wat redder/verlosser beteken. Net so is Paulus se naam ‘n Griekse uitspraak van die oorspronklike Shaoel (Saul).

In vers Matt 1:24 word die woord Emmanuel gebruik, wat die Hebreeuse word is vir God met ons, en dan vertaal die Griekse skrywer van Matteus dit en sê dit beteken “Met hemoon (met ons) ho Theos (die God). So, hier word die Griekse woord “Theos” vir God en vir Jesus gebruik deur die oorspronklike Bybelse skrywers. In die woord Emmanuel word die woord El vir God gebruik.

In konklusie. Ek weet nie waar hierdie vreemde leerstellings vandaan kom waarin mense beweer dat almal verkeerde woorde vir God gebruik nie. Indien hulle die moeite doen om die oorspronklike tale te bestudeer, sal hulle sommer vinnig raaksien dat hulle teorieë heeltemal die punt mis en besig is om valse leerstellings te verkondig. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Hebreers 6:6 – As jy eers een keer afdwaal is dit verby?

Hebreers 6:6 – As jy eers een keer afdwaal is dit verby? – Kobus Kok

Kobus vra:

Kan iemand asb vir my Hebreërs 6 vers 6 verduidelik.

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hebreers 6:6 – As jy eers een keer afdwaal is dit verby?

Daar is sommige tekste in die Bybel wat baie gelowiges deurmekaar kan maak, en selfs kan laat twyfel. Soms word dit gebruik om ander mense mee te oordeel. Een so ‘n vers is Hebreërs 6:6 wat sê dat dit feitlik onmoontlik is vir mense wat afvallig geword het om weer terug te keer na God. Volgens Hebreërs gebeur daar twee dinge as iemand sou afdwaal:

  • Hulle kruisig Jesus weer ‘n keer, en maak ‘n bespotting van Jesus voor die ganse mensdom
  • Sulke mense is soos grond wat goeie reën/water ontvang het, maar dan dorings en dissels oplewer (Heb 6:8).

Om hierdie teksgedeelte te verstaan, moet ons ook die antieke skryfstyl en gebruik van sake soos hiperbole verduidelik. Ten einde hulle punt te maak, sou die Bybelse skrywers dikwels van oordrywing gebruik maak. So vertel een van die evangelies vir ons byvoorbeeld dat mens eerder jou oog moet uitsteek as dit jou laat sondig, of die hand wat verkeerde dinge doen, moet afkap. Uit die aard van die saak is dit hiperbolies gestel – met ander woorde, deur middel van oordrywing probeer die skrywer sy boodskap kommunikeer.

 

Dit is ook die geval in Heb 6:6. Ons maak dikwels foute, en draai dikwels weg van God. Maar dan weet ons ook dat God se genade ons dikwels weer terugroep tot gehoorsaamheid. Vat maar net vir Petrus wat vir Jesus koelbloedig verloën. Tog het hy tot insig en bekering gekom, en Jesus het hom die rots van die kerk gemaak.

 

Die punt van Hebreërs is dat ons alles in die stryd moet werp, om Paulus se woorde te gebruik, om goeie vrugte op te lewer. So sal ons bruikbare instrumente in God se hand wees (Heb 6:7). Die skrywer van Hebreërs roep ons op om te onthou dat ons geloof hoop inhou en dat ons moet volhard, selfs midde moeilike tye (6:11-12). 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Beeld van God in Jakobus

Beeld van God in Jakobus – Francois Malan

Andries vra:

Die frase, “mense wat as die beeld van God gemaak is” kom ook in Jakobus voor (Jak. 3:9). Ek sal graag wil hoor hoe U meen hierdie frase deur Jakobus verstaan word en wat die betekenis daarvan binne die konteks van Jakobus 3 is.

 

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Jakobus skryf waarskynlik aan Joodse-Christene wat verspreid oor die Griekssprekende wêreld woon (1:1) om aan hulle praktiese wysheid en leiding te gee om in die sondige wêreld en onder verdrukking te volhard in die lewenswandel van ‘n Christus-gelowige, as kinders van God, en nie die verkeerde praktyke van die heidense wêreld te volg nie.

 

Daar word op 14 gevaarpunte gewys, waarvan 3:1-12 handel oor die beheer van die tong omdat dit bepalend is vir jou eie lewe en vir die gemeenskap. Dit is ongerymd dat ‘helse’ impulse nog deurwerk in wat God se mense in gesprekke kwytraak. Die mag van die tong word vergelyk met ‘n skip se klein stuur wat die groot boot stuur – so is die woorde wat ‘n mens praat die rigting en koers wat jou lewe bepaal Die tong word ook vergelyk met ‘n klein vlammetjie wat ‘n bosbrand aansteek – so is die tong ‘n brandgevaar wat uit die hel aangesteek word. Daarom moet die tong onder beheer gekry en gehou word (vgl. die gebed in Ps 141:2 oor ‘n wag voor my mond; Efes 4:31).  

 

Vers 7 wys daarop dat die mens geskape is om beheer uit te oefen oor die diereryk (Gen.1:26), en daarom in staat behoort te wees om sy tong te beheer. Maar vers 8 wys daarop dat geen mens nog sy tong kon tem nie, omdat die mens gedryf word deur sy eie neiging en drang tot die bose. Die uitwerking van die bose tong is noodlottig. Dit is gevul met gif wat die dood meebring (Ps 140:4 in Rom 3:13-14 aangehaal). Ons woorde kan onheil, ongeluk, dood en verwoesting saai onder mense.

 

Vers 9 wys dat dié verskriklikheid in die kring van die gelowiges plaasvind: Met die mond loof ons die Here en Vader – in die gemeente se samekoms en in die alledaagse lewe loof ons tereg die Here Jesus en God die Vader. Maar direk daarna gebruik ons ons spraakvermoë om ‘n medemens te vloek – presies die teenoorgestelde van wat ons pas teenoor God gedoen het (vgl. Ps 62:5).

 

In die Griekse teks word gesê: ‘daarmee (met die tong) vloek ons die mense wat volgens die gelykenis van God gemaak is (NAV met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is). Daarmee sluit Jakobus aan by die Griekse vertaling van die Ou Testament wat deur die Griekssprekende Joodse-Christene as hulle Bybel gebruik is voordat daar nog enige boek van die Nuwe Testament geskryf is. Genesis 1:26 verwys na die beeld (Grieks: eikoon –volgens diebeeld/gelykenis; Hebreeus: tselem – volgens die beeld/afbeelding/skaduwee),en die gelykenis (Grieks: homoioosis volgens die ooreenkoms/gelykenis; Hebreeus: demut gelykernis/gestalte /ooreenkoms) van God. Dir beteken dat die mens in ‘n besondere verhouding tot God staan(vgl. Ps 8:6-9).  

 

Die rede waarom Jakobus die ‘gelykenis’ van God hier vir die medemens gebruik is om aan te dui dat God betrokke is, nie net wanneer die mens Hom bewustelik betrek en loof nie, maar ook wanneer iemand kwetsende woorde teen sy medemens gebruik, en  dink dat dit God nie raak nie. Wie ‘n mens se eer aantas, tas God self aan, want God het die mens aangestel as sy verteenwoordiger op aarde, wat moet heers oor die diereryk (Gen 1:28) en om die aarde te bewerk en op te pas (Gen 2:15). Elke mens is ‘n skepping van God (Ps 139:13-18; Joh 1:3) en Hy hou al wat lewe in stand (Job 12:9,10; Kol. 1:17).

 

Vers 10 vermaan die gelowiges om nie hulle tong vir goed en kwaad te gebruik nie. Die tong behoort gebruik te word om God en die medemens te loof, goed te praat oor God en sy mense en nie in woede of naywer jou medemens te begin vloek nie (vgl. Efes 4:29)..

 

Vers 11-12 gebruik die beelde van ‘n fontein wat slegs een soort water kan lewer, en vrugtebome wat aan hulle vrugte geken kan word (Mat 7:15-20). Wanneer jy jou medemens vloek is dit duidelik dat jou lof aan God net skyn is en nie uit jou hart kom nie (Mark. 7:20-21). In Matteus 12:33-37 waarsku Jesus juis dat ‘n mens op grond van sy woorde vrygespreek of veroordeel sal word op die oordeelsdag (vgl. Mat.5:21-22 hoe God waak oor die lewe van elke mens).

 

Skrywer: Prof francois Malan