Die gebruik van God se Naam

Die gebruik van God se Naam – Francois Malan

Hannelie vra:

Ek wil graag weet wanneer gebruik jy tydens ‘n gesprek met iemand die woorde: God, Vader, Here, Jesus, Jesus Christus?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Eksodus 20:7 sê God: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

 

In Matteus 6:9 leer Jesus ons om te bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word.

 

Die Naam van God verwys na sy teenwoordigheid, soos wanneer iemand die naam Hannelie gebruik, veronderstel dit dat die persoon met jou wil praat of dat hy of sy oor jou wil praat. So ook wanneer die naam God, Vader, Here, Jesus, of Jesus Christus gebruik word, praat jy met hulle in gebed om hulle te loof, of te dank, of om iets van hulle te vra; of jy getuig teenoor iemand anders oor hoe hulle jou seën en bystaan en lei.

 

God het sy naam aan ons bekendgemaak sodat ons bewus kan wees van sy voortdurende teenwoordigheid by ons, en dat ons enige tyd met Hom mag praat, en oor Hom aan ander te getuig.

 

Om sy naam te misbruik beteken dat ons sy teenwoordigheid misken, sy krag geringskat deur sy teenwoordigheid te minag, en om die wese van God te verdraai. Misbruik beteken om dit te gebruik vir ‘n nietige doel: in Hosea 4:2 word bv. die vervloeking van iemand anders as ‘n nietige doel gesien. Maar dit tref ook die onnodige gebruik van die Godsnaam in die gewone daaglikse lewe, deur bv. mense wat nie kan praat nie sonder om die naam van die Here tussenin te gooi om hulle woorde sterker te laat klink, of uit gewoonte die naam van die Here te misbruik.

 

Om die Naam van ons Vader te heilig, beteken dat ons Hom vra dat ons Hom reg sal ken; dat ons Hom prys vir al sy werke, sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid; dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke, daarop sal rig dat sy Naam om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geëer en geprys word. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (1) – Adrio König

5.4 Eienskappe van die mens

5.4.1 Twee soorte eienskappe

Ons kan die mens se eienskappe in twee groepe indeel. Maar voor ons daarby kom, eers die basiese vraag: Hoe sal ons uitvind watter eienskappe God graag in ons lewe wil sien? In die geskiedenis is verskillende pogings aangewend om ’n beginsel of uitgangspunt te kry van waar ons na ons eienskappe kan vra. Adam en Eva in die Paradys is dikwels gebruik. Mense het presies probeer aflei hoe hulle voor die sonde was, wat hulle eienskappe was. Die gedagte was dan dat ons weer so moet wees. As ’t ware moet terugwerk Paradys toe.

Maar minstens twee dinge is tog duidelik. Eerstens dat daar nie regtig soveel inligting oor die mens in hierdie eerste drie hoofstukke gegee word nie. Hoofstuk 1 sê eintlik net ons is as God se beeld geskape, dat ons aangestel is om te heers, en dat mense bestaan uit mans en vroue sodat hulle kan vermeerder. Dis te min om enigsins ’n prentjie te vorm van wat ons bedoel is om te wees. Verder is dit ook duidelik dat die Bybel nie regtig so vreeslik geïnteresseerd is in die eerste hoofstukke van Genesis nie, dat daar nie baie keer daarna terugverwys word nie, veral nie om te verduidelik wat God met ons bedoel het nie. Daar word nooit in die Ou Testament na hierdie beginhoofstukke in die Bybel verwys nie, en net ’n paar keer in die Nuwe hoofsaaklik om die grootheid van Christus teenoor Adam te verduidelik.

 

Wat nou? Dikwels is eenvoudig lukraak sekere eienskappe uit die Bybel gekies en gerangskik. En mense het maklik by ’n paar uitgekom wat regtig belangrik is soos liefde. Ons is geroep om lief te hê. Dit leer ons tog uit Jesus se opsomming van die wet. Maar watter ander eienskappe nou? En hoe gaan ons besluit? Ons het tot dusver twee basiese verhoudings behandel waarin die mens tot God staan: Beeld en verbond. Kan dit ons nie help nie?

Eerstens is ons geskape om sy beeld te wees. Dit beteken tog dat daar ’n soort ooreenkoms tussen ons en Hom moet wees, soveel so dat mense uit ons lewe iets van Hom moet kan aflei. Maar dan kan ons tog verwag dat daar tussen sy eienskappe en ons s’n ’n mate van ooreenkoms moet wees. As ons dus gaan kyk na Wie God is, sal ons iets kan agterkom van hoe ons moet wees. As ons dus uit die Bybel leer wie en hoe God is, kan ons mos daaruit aflei hoe ons moet wees. Ons moet tog sy beeld wees. Mense moet Hom in ons kan herken. Ons het mos alreeds gesien die beeldwees veronderstel ’n bepaalde gelykheid/ooreenkoms tussen ons en Hom. Daar sal dus eienskappe in ons moet wees wat soos Syne is, wat ten minste ’n bepaalde ooreenkoms met sommige van sy eienskappe vertoon.

 

Maar ons leef ook in die verbond met Hom. En terwyl daar in terme van die beeld ’n bepaalde gelykheid/ooreenkoms tussen Hom en ons moet wees, moet daar nou weer juis ’n bepaalde ongelykheid tussen Hom en ons wees. Immers die verbond was nie ’n onderhandelde ooreenkoms tussen twee gelyke partye om ’n ronde tafel nie. Hy is eerste, en ons tweede. Maar ons het ook gesien hierdie ongelyke verhouding is ’n paslike ongelykheid. God neem die inisiatief, en ons moet reageer, ant-woord. Hy het die eerste woord, en ons die tweede. Ons het gesien dis eintlik

wonderlik dat God eensydig die inisiatief geneem het en steeds neem, dat dit die diepste rede is waarom die verbond nog bestaan.

 

Ons kan dus aanvaar daar sal twee soorte eienskappe wees,

  • eienskappe waarin ons Hom moet navolg, analogiese eienskappe kan ons dit noem,
  • en eienskappe waarin ons sinvol moet reageer op sy inisiatiewe, komplementerende eienskappe.

 

Eers ons beeldwees. Dit gaan om ’n bepaalde ooreenkoms tussen Hom en ons. ’n Mens skryf natuurlik “ooreenkoms” half met huiwering. Maar ons het nou oor en oor gesien dat daar spontaan mensvormig oor God geskryf word in die Bybel. Dit beteken dat ons reg en suiwer oor God kan en moet praat in terme van mense. En dat ons reg en suiwer oor mense kan en moet praat in terme van God!

 

Natuurlik kan die ooreenkoms tussen God en mens net beperk wees, nie absoluut nie. God is oneindig meer/groter/heerliker/heiliger as ons. Maar daar is wel beperkte ooreenkoms. Ons praat graag van ’n analogie, en van analogiese of analoë eienskappe.  En wat ons verbondsverhouding met Hom betref, weet ons nou al dis ’n ongelyke verhouding, maar dit is paslik. Daar is ’n sin waarin ons God komplementeer in hierdie verhouding, of liewer waarin ons die verhouding met Hom  komplementeer/volledig maak/afrond. Ons kan van komplementêre eienskappe praat.

 

As ons nou na die Bybel gaan met die vraag hoe God is en hoe Hy bedoel dat ons moet wees, kry ons maklik hierdie twee soorte eienskappe. Daar is eienskappe waarin ons van Hom verskil. Dit is eienskappe wat eintlik téénoor mekaar staan.

  • Hy is genadig; daarom moet ons dankbaar wees.
  • Hy heers met gesag; daarom moet ons gehoorsaam wees.
  • Hy gee aan ons beloftes; daarom kan ons hoop hê.

 

Maar hierdie verskille is paslike verskille. Dankbaarheid pas by genade, en gehoorsaamheid by gesag, en hoop by beloftes. Ons eienskappe is sinvolle reaksies op die inisiatiewe van die groot Verbondstigter. Hierdie reaksies pas by sy inisiatiewe soos ’n hol lens by ’n bollens. Dit vul eintlik sy inisiatiewe aan. Die verskille word eers ’n probleem as ons nie sinvol, paslik reageer nie, as ons met ondankbaarheid reageer op genade, of met ongehoorsaamheid/opstandigheid op gesag, of met moedeloosheid op sy beloftes. Dan pas dit nie meer nie. Dan word dit botsende verskille.

 

Die tweede groep eienskappe sluit direk by Syne aan, dit is analogiese eienskappe.

  • God is liefde, en Hy beveel ons om lief te hê.
  • God is vry, en Hy maak ons vry.
  • God is heilig, en Hy verwag van ons om heilig te wees.

Daar is natuurlik ’n hele aantal sulke eienskappe wat ons by die lys sou kon byvoeg soos goedhartigheid, geduld, reinheid, waaragtigheid.

 

Dit is almal analogiese eienskappe. Ons sal hierin nooit identies aan God kan wees nie, maar Hy wil ’n soort ooreenkoms, ’n analogie tussen Hom en ons hê. Ons is immers bedoel om sy beeld te wees. Omdat Hy liefde is, moet ons soos Hy liefhê. Miskien besef jy wat ons in werklikheid hier doen. Ons lei uit ons siening van God af hoe die mens behoort te wees. Ons lei antropologie af uit teologie-in-enger-sin.

 

Ons sou nog ’n hele aantal eienskappe kon noem onder die analogiese én onder die komplementerende eienskappe. Maar dis nie nodig nie. Met hierdie ses het ons ’n duidelike prentjie van God se doel met ons as mense. Hy wil hê dat ons Hom sal navolg in sy liefde, vryheid, heiligheid, en dat ons sinvol sal reageer op sy inisiatiewe met dankbaarheid en gehoorsaamheid en hoop. Dit kan interessant wees om een eienskap uit elk van die twee groepe te kies en effens vollediger daarna te kyk. Dit sal ons prentjie van wat God ’n mens bedoel het om te wees, helderder maak. Ons beginsel gaan wees om met ons siening van God te begin, en daaruit aflei hoe Hy ons bedoel om te wees.

 

Kom ons kyk na liefde as ’n analogiese eienskap, en na dankbaarheid as ’n komplementerende eienskap. Ons gaan by liefde begin.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (3) – Adrio König

5.3.2 God openbaar Homself in ’n Mens

Ons bely twee dinge oor Jesus: dat Hy tegelyk God en Mens is. Maar hoe is dit moontlik dat een Persoon tegelyk God en mens kan wees? Verskil God en mens dan nie soveel dat dit onmoontlik is, dat Hy ’n soort gesplete persoonlikheid sou moes hê nie? Mense probeer die vraag so antwoord dat hulle sy lewe in twee dele verdeel: Sekere dinge het Hy as God gesê of gedoen, en ander dinge het Hy as mens gesê of gedoen. Hy het as mens gesê dat Hy nie weet wanneer die wederkoms sou wees nie, en Hy het net as mens gesterf. Maar Hy het as God wonderwerke gedoen en uit die dood opgestaan.

Ons het egter nie grond in die Bybel om Jesus se lewe so in twee te deel nie. Die Evangelies skep die indruk van een Persoon wat ten volle by alles wat Hy gesê en gedoen het, betrokke was. Maar hoe is dit dan moontlik dat Hy beide was, God én Mens? God en mens verskil tog radikaal.

 

Is dit regtig so? Wat dan daarvan dat ons bedoel is om die beeld van God te wees? Veronderstel “beeld” nie juis ooreenkoms nie? Natuurlik nie identiteit nie, maar genoeg ooreenkoms dat die afgebeelde in die beeld herken kan word. As ek aan my doel beantwoord, moet mense iets van God in my kan sien, moet hulle uit my optrede kan aflei hoe God is. Dis tog wat “beeld” beteken.

 

Kom ons gaan hiermee na die Bybel. Jesus som die wet in twee gebooie op, liefde vir God en liefde vir mense. Die een woord wat die twee gebooie in gemeen het, is liefde. Jesus vat dus God se wil vir ons in een woord saam: liefde. Johannes skryf kernagtig oor God en watter woord gebruik hy? Ook liefde: God is liefde (1 Joh 4:8, 16). Die konklusie lê voor die hand. Omdat God liefde is, moet ons in liefde leef om te wys hoe Hy is. Daarom kan Jesus die wet opsom in twee liefdesgebooie. Paulus skryf dit pragtig: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld navolg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het … ” (Ef 5:1-2). Kernagtiger kan ’n mens dit nie uitdruk nie.

 

Liefde is ’n lewenshouding. Om God se beeld te wees, beteken dus om iets van sy lewenshouding en lewenswaardes te vertoon. En is dit nie presies wat Jesus gedoen het nie? Ons glo Hy is die openbaring van God. Dit beteken toe Hy mense vergeef het, het Hy gewys wie God is en wat God doen. Toe Hy mense genees het, van bose magte bevry het, kos gegee het, het Hy gewys wie en hoe God is. Maar is dit nie wat God ook van ons verwag nie? Moet ons nie ook vergewe en ook mense in nood help nie? Soos Jesus.

 

Maar dit beteken tog dat Jesus in sy één lewe, in presies dieselfde dinge wat Hy gedoen het, tegelyk gewys het hoe God is én hoe ons moet wees. Dit beteken verder dat Jesus wat ’n menslike lewe gelei het, in staat was om deur menslike optrede te wys hoe God is. Dit beteken nog ’n keer dat dit inderdaad paslik en reg is dat die Bybelskrywers in menslike terme oor God praat. En dit beteken op sy beurt weer dat God en mens nie regtig so radikaal verskil nie.

 

Maar hierna moet ons nog ’n keer kyk. Verskil God en ons regtig nie? Nee, God en mens verskil inderdaad, selfs baie. Die vraag is net: Hoe? In minstens twee opsigte. God is die Skepper en ons is skepsels.  Dit is ‘n radikale verskil, en dit sal nooit verander nie. Hy is ewig en ons is tydelik. Ons het ’n oorsprong, maar Hy nie. Hy is onsterflik en ons is sterflik. Hy moet ons uit genade deel gee aan die ewige lewe.

 

Verder het daar in die geskiedenis ’n tweede groot verskil ingekom, ’n verskil wat nie in beginsel bestaan soos die verskil Skepper-skepsel nie: God is heilig, maar ons is sondig. Hierop sou ons lank kon voortborduur. Ons is onbetroubaar, maar Hy is betroubaar. Hy gee om, maar ons is selfsugtig.  Die eerste verskil is wesenlik en sal altyd so bly, die tweede een is ons skuld. Dis glad nie hoe God dit bedoel het nie. Goddank dit is tydelik, ons sal terugverander word na wat God ons oorspronklik bedoel het. Op die nuwe aarde, in die nuwe Jerusalem sal niks inkom wat onrein is nie (Op 21:27). Dis waaroor God se hele opoffering in Jesus gaan: Om ons weer te maak soos Hy is, heilig.

 

Maar nou terug by ons opdrag: Ons is bedoel om die beeld van God te wees, om deur ons doen en late te wys hoe God is/wat God doen. Eintlik het dit ook van Israel as volk van God gegeld: Hulle moes die ander volke na Jerusalem lok sodat ook hulle die Here daar sou kom dien. Het hulle? Of is dit só dat die nasies later eerder Israel se God gespot het as om Hom in Israel se lewe te herken en te begin dien?

 

Ons kan lekker en breed uitwei oor hulle aanhoudende ongehoorsaamheid aan God. Maar is hulle nie maar verteenwoordigers van die mensdom nie? En ons wat onsself gelowiges, volgelinge van Jesus noem? Vaar ons soveel beter? Verduister ons nie eerder dikwels mense se uitsig op God nie?

Dis nie net Israel in die Ou Testament wat misluk het in God se doel met hulle nie. Die mensdom self het misluk. En nou?

 

Onthou uit ons bespreking van die verbond (Abraham, hoofstuk 1): Dis ’n eensydige verbond wat God alleen ingestel het en waaroor Hy alleen besluit. Hy laat nie die werk van sy hande vaar nie. Toe Israel en die mensdom misluk in sy doel met hulle, toe hulle nie sy beeld vertoon nie, toe gee Hy sy beeld aan hulle in ’n Jood uit Nasaret.

 

Jesus word herhaaldelik in die Nuwe Testament “die beeld van God” genoem (2 Kor 4:4-6; Kol 1:15; Heb 1:3), wat beteken dat Hy is soos ons bedoel was om te wees. Terwyl ons dit nie is nie, gee God in Jesus vir ons ’n voor-beeld van wat Hy met ons  bedoel. Soos ons in Jesus kan sien wie en hoe God is, wil God hê dat mense dit in ons kan sien. Martin Luther sou gesê het ons moet vir ander mense Christus word.

 

Dit kom duidelik uit in die “soos”-uitsprake van die Nuwe Testament. Ons moet soos Jesus word, wees, optree. Hier volg ’n aantal van hierdie uitsprake. Ywerige Bybellesers kan ’n keer die Nuwe Testament deurlees en dalk veel meer as net hierdie paar kry.

  • Ons moet soos Christus in liefde lewe (Ef 5:2).
  • Ons moet mekaar soos Christus liefhê (Joh 13:34).
  • Mans moet hulle vroue soos Christus liefhê (Ef 5:25).
  • Ons moet mekaar vergewe soos Christus ons vergeef het (Kol 3:13).
  • Ons moet onsself rein hou soos Christus rein is (1 Joh 3:3).
  • Ons moet so regverdig wees soos Christus (1 Joh 3:7).
  • Ons sal by sy wederkoms soos Christus wees (1 Joh 3:2).
  • Christus moet in ons gestalte kry (Gal 4:19).
  • Dieselfde gesindheid van nederige diens wat in Christus was moet ook in ons wees (Fil 2:5 ev)
  • Dieselfde werke wat Christus gedoen het, sal ons ook doen (Joh 14:12).

 

Daar is ook ’n ander reeks “soos”-uitsprake: Ons moet soos God wees. Dis natuurlik nie vreemd nie, want ons is juis bedoel om soos God te wees, om sy beeld te wees.

  • Ons moet soos God vergewe (Ef 4:32).
  • Ons moet soos God heilig wees (1 Pet 1:15-16).
  • Ons moet soos God barmhartig wees (Luk 6:36).
  • Ons moet soos God in die lig lewe (1 Joh 1:5-7).
  • Ons moet soos God volmaak wees (Matt 5:48).
  • Ons moet rus van ons werk soos God van Syne (Heb 4:10).
  • Ons goeie werke moet mense aan ons Vader herinner (Matt 5:16).

 

God gee dus aan ons sy beeld in ’n nuwe vorm: in sy Seun Jesus Christus. En Hy roep ons op om soos Christus te leef. Dan sal ons sy beeld vertoon omdat ons soos Hy sal leef. Maar kan dit? Natuurlik weet ons ons is geroepe om Jesus na te volg. Maar dis een saak om dit te weet. Dis ’n tweede saak om dit te doen.

 

Maar God sorg mos vir sy verbond! Is dit nie presies waar die Heilige Gees se werk inkom nie? Jesus staan mos nie net buite ons en wys ons hoe nie. Hy kom mos deur die Gees in ons in en verander ons lewe om soos Syne te word. Die Gees het ons deur die doop en die geloof aan Christus verbind sodat ons ou sondige lewe saam met Christus gekruisig en begrawe is, en ons in ’n nuwe lewe saam met Christus uit die dood opgestaan het. Hierdie nuwe lewe is natuurlik eintlik Christus se opstandingslewe: “Christus, wat julle lewe is … ” (Kol 3:4). En omdat Hy die beeld van God is, kan ons nou dié beeld vertoon, kan ons nou beantwoord aan die doel wat God met ons lewe het.

 

Dit beteken dat ons vir die soveelste keer beleef dat die groot temas van die Bybel, insluitende die mens as beeld van God, na Jesus lei.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Jy sal saam met My in die paradys wees

Jy sal saam met My in die paradys wees – Francois Malan

Loraine vra:

Ek wil graag weet in Lukas 23 vers 42 lees ons van die een kwaaddoener wat aan Jesus sê om aan hom te dink in Sy koninkryk. Jesus het hom geantwoord en gesê voorwaar Ek sê vir jou dat jy vandag saam met My in die Paradys sal wees. Kan ek dit so verstaan dat Jesus toe Hy sy asem uitblaas na die Paradys gegaan het, m.a.w Sy Siel het opgegaan na die hemel of dan die Paradys. Wat ek ook raak lees is dat die man van Jesus se koninkryk praat en Jesus van die Paradys. Ek sal dit waardeer as iemand my in geheel kan verduidelik van Jesus se woorde van Paradys en dan was Hy in die graf en het weer na die 3de dag opgestaan en het opgevaar na die hemel. 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Paradys is ‘n Persiese woord vir ‘n omheinde gebied soos ‘n park of ‘n tuin. Nadat die Grieke in 300 v.C. die Persiese wêreld ingeneem het, is die woord in Grieks opgeneem om ‘n ideale tuin te beskryf. Toe die Ou Testament in Grieks vertaal is in 250 v.C., is die Hebreeuse ‘tuin van Eden’ van Genesis 2:8 vertaal as ‘paradys’, die plek waar die mense gewoon het, en God met hulle verkeer het. Na die sondeval is hulle uit die tuin van Eden uit weggestuur (Gen.3:24)

 

Toe die geloof in Israel begin posvat dat God die oorspronklike geluk sou herstel, het die Paradys die naam geword vir die toekomstige woonplek van die regverdiges, wie se verhouding met God herstel is, soos dit voor die sondeval was. En dit het Jesus daar aan die kruis kom doen. Daarom gebruik Hy die woord Paradys wat vir die moordenaar aan die kruis ‘n bekende term sou wees.

 

Paulus gebruik die naam Paradys in sy brief aan die Grieke in Korinte. Hy sê die man wat in ‘n verrukking van sinne was, het daar woorde gehoor wat ‘n mens nie kan uitspreek nie (2 Kor 12:4). Johannes gebruik die naam Paradys in die brief aan die Griekssprekende gemeente in Efese. Aan elkeen wat die oorwinning behaal deur te volhard in die geloof en in liefde (wat by die Efesiërs begin verflou), sal Christus te ete gee van die boom van die lewe – m.a.w. die ewige lewe – wat in die Paradys van God is (Openb. 2:1-7; Gen.2:9). In Johannes 14:1 noem Jesus dit ‘die huis van my Vader.’

 

Die koninkryk van Jesus omvat die ganse skepping. Na sy opstanding sê Hy: Aan My is alle mag gegee (deur die Vader) in die hemel en op die aarde (Mat.28:18; vgl. Ef 5:5; 2 Petr.1:11; Openb 11:15). 

 

Hand.1:9-11 beskryf Jesus se hemelvaart, dat Hy deur die Vader opgeneem is na die hemel toe (v9, soos die engele dit ook verduidelik het, v11) terwyl sy dissipels dit gesien het as getuies dat Hy liggaamlik opgeneem is, maar met ’n verheerlikte liggaam. En dat Hy net so sal terugkom om ons ook op te wek met ‘n onverganklike, onsterflike liggaam (1 Kor.15:51-54).  

 

Skrywer: Prof Francois Malan