Alle Paaie lei na Jesus: Die verbond
Alle Paaie lei na Jesus: Die verbond – Adrio König
5.2 Die verbond
Dit is opvallend dat daar nêrens in die Bybel ’n poging aangewend word om die mens te ontleed nie. Niemand probeer noukeurig analities beskryf wat ’n mens is nie. Selfs in die Psalms en die Wysheidsliteratuur waar die enkele persoon sterk na vore kom, is dit omtrent altyd in verhoudings met ander of met God.
Trouens ons weet almal dat dit juis groepe mense in verhouding met God is wat ter sprake is in beide Testamente: Israel in die Ou Testament, en die geloofsgemeenskap, die kerk, in die Nuwe Testament. Maar van beide groepe geld dadelik dat hulle is wat hulle is op grond van hulle verhouding met God. Hulle verhouding met Hom is sonder meer beslissend vir wat hulle is.
Israel is nie ’n volk wat bo en behalwe hulle kultuur en volkslewe óók nog in gemeenskap met God leef of moet leef nie (kyk by hoofstuk 8.1). Voor God Abraham en Sara uitgekies het om uit hulle ’n volk te bou, was daar glad nie ’n volk soos Israel nie. En verder het God nie uit Abraham en Sara ’n volk gebou nie, maar ’n volk-vir-Hom. Israel is Israel omdat hulle die volk van God is. As hulle hulle verhouding met God prysgee of verwaarloos, word hulle soos die ander nasies, is hulle eenvoudig nie meer Israel nie. Die uittog, die geboorte van Israel as volk, nee, die geboorte van Israel-as-volk-van-God, word gelyk aan enige volksverhuising van watter heidense volk ook al. As Israel volhardend aan God ongehoorsaam is, sê Amos: “Julle Israeliete is vir My niks anders as die Kussiete nie, sê die Here. Ek het vir Israel uit Egipte laat trek, maar ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir” (9:7). Die unieke uittog uit Egipte waarvan die hele Ou Testament vol is (hoofstuk 9), word dus ’n gewone volksverhuising sonder enige godsdienstige betekenis.
En Jeremia laat die Here sê: “Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is … want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My” (Jer 9:25-26). Israel kom op dieselfde vlak as alle ander volke as hulle verhouding met die Here verval. Wat Israel Israel gemaak het, was die feit dat God hulle as sy volk voortgebring het.
Maar onthou Israel is die verteenwoordiger van die mensdom. God het ook nie mense sonder meer gemaak nie. Hy het mense as-sy-beeld en mense as-sy-bondgenote gemaak. Wat mense is, of liewer wat ons behoort te wees, sal dus beslissend bepaal word deur ons verhouding met Hom, en in besonder ons verhouding as sy beeld en sy bondgenote.
In die hoofstuk oor Abraham (hoofstuk 1) het ons reeds breedvoerig gekyk na die verbond. Ons gaan dus hier net ’n paar sake oor die verbond herhaal wat ons sal help om te verstaan wie ons behoort te wees in hierdie unieke verhouding. Die een groot saak was dat die verbond ’n monopleuriese verbond is. Dit het ’n enkelvoudige kant (mono-), maar ook ’n meervoudige kant (-pleuries). Die enkelvoudige kant is die feit dat God die inisiatief geneem het en voortgaan om dit te neem. Hy kom na Abraham, nie Abraham na Hom nie. Hulle onderhandel nie om ’n ronde tafel nie, Abraham staan op sy knieë en die Here kondig net die verbond af.
Dit is dus in beginsel ’n ongelyke verhouding, ’n verbond waarin ons net gevra word om te antwoord, nie die eerste woord te sê nie. Ons het in hoofstuk 1 gesien dit het wonderlike implikasies. Dit beteken onder andere dat God alleen sal besluit oor die verbond, dat Hy kan besluit om met die verbond voort te gaan ondanks die feit dat ons dit keer op keer verbreek. Israel se geskiedenis is vol daarvan.
Maar juis die ongelykheid maak die verhouding paslik. As dit ’n onderhandelde ooreenkoms was, het dit nie lank gehou nie. Voor Israel in die middel van hulle tog deur die woestyn was, sou God hulle al gelos het. Hulle was van die begin af traag, onwillig, in opstand (hoofstuk 9). Maar omdat God se motivering agter die verbond liefde was, en nie wins nie, het Hy eensydig besluit om aan te gaan – vir eeue lank. En gaan dit nie met ons dalk maar omtrent net so nie?
Maar wanneer ons by die eienskappe van die mens kom, sal hierdie basiese ongelykheid om nog meer redes belangrik wees.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König
Alle Paaie lei na Jesus: Wat is die mens?
Alle Paaie lei na Jesus: Wat is die mens? – Adrio König
Hoofstuk 5
In die vorige gedeelte het ons na die skepping gekyk. Nou gaan ons na verskeie aspekte van die mens kyk.
Die mens
5.1 Wat is die mens?
Dis ’n vreemde vraag. Hoe kan mense vra wat ’n mens is? Ons weet tog. Ons is dan self mense. Ons kan wel vra wat engele is, want ons kan hulle nie sien nie.
Ons kan vra hoe dit op die maan lyk, want ons was nog nie daar nie. Maar hoekom vra ons wat ’n mens is? Gaan kyk in die spieël. En tog staan daar hoeveel boeke op my rak – Afrikaans, Engels, Hollands, Duits – wat hierdie titel dra: Wat is die mens? Miskien is dit omdat daar so ’n onbeheerbare verskeidenheid onder mense is. En dan gaan dit nie net oor verskillende kleure en kulture nie. Dan gaan dit eerder oor die kwaliteit van menswees. Daar is uiterstes wat ’n mens in verwarring kan laat eindig: eerlik en bedrieglik, saggeaard en wreed, hardwerkend en lui, verstandig en stiksienig. Hoe lank sal ons aanhou? Wat is ’n mens? Wat/Wie is die mens wat ek gister ontmoet het? Wie is ek – regtig? Die man/vrou agter die masker, of die ware ek?
Dis mos nie waar van diere nie. Daar sal wel aggressiewe leeus en minder aggressiewes wees. Maar dis tog omtrent waar dit eindig. Daar is nie eerlike leeus en bedrieglike leeus nie, of betroubare en onbetroubare leeus nie. Maar wat het jy voor jou as jy ’n onbekende mens ontmoet? Kan jy hom/haar vertrou? En hoe maklik blyk dit nie agterna jy was heeltemal verkeerd in jou oordeel nie. ’n Vriend van my sê graag: “Ek hou nie van daardie man nie. Ek sal hom beter moet leer ken.” Maar dit kan ook andersom wees!
Dit is veral die etiese, morele kwaliteit wat op die spel is. Diere is nie kulturele, etiese en godsdienstige wesens nie. Dit is op hierdie terreine waar die onsekerheid en die verwarrende verskeidenheid ons laat vra: Wat is ’n mens? Maar juis omdat dit veral om waardes gaan, moet ’n mens miskien die vraag anders vra. Nie: “Wat is ’n mens?” nie, maar: “Wat behoort ’n mens te wees?” Dit is met hierdie vraag waarmee ons na die Bybel gaan.
Ander vakwetenskappe kan ander antwoorde gee. Op die vraag wat ’n mens is, sal fisioloë antwoord: driekwart water, verder ’n bietjie koolstof, kalsium en ’n paar ander spoorelemente. En dis waar. Baie sosioloë sal antwoord: ’n verhoudingswese. En dis waar. Sommige sielkundiges mag antwoord: ’n komplekse wese met ’n mengsel van emosie en denke. En dis ook waar. Maar dis nie waarde-oordele nie. En uiteindelik is dit waardes wat ons as mense van diere onderskei. Diere gee nie om vir mekaar nie. Diere help mekaar nie. En diere bedrieg mekaar ook nie, en skinder nie van mekaar nie.
Daarom gaan ons na die Bybel met twee vrae:
- Wat is die mens?
- Wat behoort die mens te wees?
- En in die Bybel gaan ons ’n rykdom perspektiewe kry.
Die Bybel is sonder meer ’n boek oor mense. Op elke bladsy gaan dit oor mense. Natuurlik is daar ook sprake van die natuur, van diere, van engele, van bose magte, en bo-al van God. Maar dit neem nie die feit weg dat die Bybel oor mense gaan nie.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König
Lukas 14:26 – 33
Lukas 14:26 – 33 – Francois Malan
Subeth vra:
Lukas 14: 26 – 33. Ek het ‘n jong seun van 20, my niggie se seun) wat nou skielik sê hy is ‘n ateïs. My Bybelkennis is nou nie van so ‘n aard dat ek vir hom Bybels korrek Lukas 14: 26 – 33 kan verduidelik nie. Hy peper my behoorlik met vrae, so ek is nou so dankbaar vir hierdie webtuiste. Kan u my asb van ‘n antwoord voorsien. Ek het gesê ek sal terugkom na hom toe oor die naweek, maar sal graag so gou moontlik wil terugvoer gee. Dit gaan maar beroerd in daardie huishouding. Sy pa het selfmoord gepleeg, hy knou sy sussie vreeslik af. Daarom lê hy baie swaar op my hart. Groete in Jesus.
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord
Die Griekse werkwoord miseoo wat in Lukas 14:26 gebruik word, beteken ‘om te haat’. Die Semitiese en Joodse denke word uitgedruk in uiterstes. Kyk bv. na Genesis 29:30-31 wat letterlik sê: Jakob het vir Ragel meer lief gehad as vir Lea (v.30), en in v31 word gesê God sien dat Lea gehaat word. ‘Haat’ word gebruik vir ‘minder liefhê’. In Deuteronomium 21:15-17 staan ook letterlik: as ‘n man twee vrouens het en die een liefhet en die ander een haat (NAV vertaal: een wat hy liefhet en een van wie hy nie hou nie), wat eintlik beteken dat hy die een meer liefhet as die ander een vir wie hy minder lief is.
Dit beteken dat die volgelinge van Jesus wat hulle familie moet haat, beteken dat die familie tweede plek moet inneem (NAV vertaal ‘haat’ in Lk 14:26 met: ‘afstand doen’). Familiebande moet nie kan inmeng met die absolute toewyding aan Jesus die Seun van God nie. Matteus 10:37 het die woord van Jesus weergegee met ‘liewer het’
In Lukas 14:27 gebruik Jesus kruisiging (die Romeine se metode om politieke opstandelinge dood te maak) as ‘n simbool van die uiterste foltering en vernedering waarvoor volgelinge van Jesus gereed moet wees om die prys te betaal vir die feit dat hulle vir Jesus kies, selfs as dit jou lewe sou kos.
Die twee gelykenisse in Lukas 14:28-32 van die bouer en die koning was bedoel om mense wat vir Jesus wil volg te waarsku, dat om ‘n volgeling van Jesus te word, is die belangrikste besluit van jou lewe, en moet goed oordink word soos ‘n goeie besigheidsman of politikus. Niemand kan deur ‘n vlaag van emosie in die koninkryk van God ingedryf word nie; jy moet eers goed rekenskap gee van die prys van dissipelskap. Jesus wil hê dat iemand wat op die pad van navolging begin, daarmee end-uit sal volhou. Dit beteken ook dat jy bereid sal wees om jou te onderwerp aan jou teenstander, deur jou selfhandhawing prys te gee, en jou aan Jesus oor te gee om onvoorwaardelik vrede te maak.
Lk 14:33 sê: jy moet selfs bereid wees om van jou rykdom en besittings afstand te doen. Geen ander band mag jou bind nie as net die band met Jesus nie. Daarmee word nie gesê jy mag nie besittings hê nie, maar dat jy vry moet bly om Jesus te gehoorsaam, ook met die verantwoordelike spandering van jou besittings.
Die keuse vir Jesus is die heel belangrikste, want Hy is God (vgl. Johannes 1:1-3) wat sy lewe vir ons kom aflê het aan die kruis, om vir al ons sonde te betaal, en ons verhouding met God reg te maak vir nou en tot in die ewigheid, sodat ons as kinders van God mag lewe, wat doen wat ons hemelse Vader sê.
Skrywer: Prof Francois Malan.