Alle Paaie lei na Jesus: Die wet in Handelinge

Alle Paaie lei na Jesus: Die wet in Handelinge – Adrio König

3.4 Die wet in Handelinge

Noudat ons na Jesus se houding teenoor die wet gekyk het, gaan ons kyk na die wet in Handelinge. Ons is nie altyd so goed bewus daarvan nie, maar in Handelinge is die wet die eintlike strydpunt.

Maar om dit te verstaan, moet ons eers net na die agtergrond van Handelinge kyk. Ons moet van die begin af duidelik onderskei tussen vier groepe:

  • die Jode,
  • die apostels,
  • die Joodse Christene,
  • en heiden-Christene.

 

Die Jode wat tot geloof gekom het, het Jesus as Messias (Christus) aanvaar. Hulle was egter nog steeds Jode, net Christen-Jode. Hulle het nog gereeld die tempel besoek en die Joodse feeste gevier (Hand 3:1; 5:12; 5:20-21; 5:42; 22:17; 24:18), en Paulus was nog bereid om ’n offer in die tempel te gaan bring (Hand 21:24-28; 24:17-20).

 

Kom ons kyk nou watter rol die wet in die interaksie tussen hierdie vier groepe gespeel het. Ons gaan agtereenvolgens kyk na Handelinge 6:12-14; 11:1-3; 13:38-39; 15:1, 5; 18:12-15; 21:20- 21; 21:28.  Die woord wet gaan elke keer gekursiveer word om die  punt te beklemtoon.

1.    ’n Sekere groep Jode kom in Jerusalem in opstand teen Stefanus. Hulle sweep mense op om hom voor die Joodse Raad te beskuldig: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander” (Hand 6:13-14). In hierdie geval is dit Jode wat Stefanus daarvan beskuldig dat hy die tempel en die wet minag.

2.    Nadat Petrus die heiden Kornelius besoek het en hy en sy gesin tot bekering gekom het, moet Petrus hom in Jerusalem gaan verantwoord voor Christen-Jode wat hom beskuldig: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet” (Hand 11:3). In hierdie geval is dit Christen-Jode wat Petrus beskuldig dat hy nie die wet (die reinheidswette) hou nie. Maar natuurlik sou die Jode self dit ook gedoen het. Dit beklemtoon net nog ’n keer die punt dat Christen-Jode nog steeds Jode was.

3.    Paulus preek vir Jode in die sinagoge in Antiogië in Pisidië: “Wat aan julle verkondig word, is die vergewing van sondes deur Hóm … Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie” (Hand 13:38-39). In hierdie geval is dit Paulus wat ontken dat ’n mens deur wetsonderhouding gered kan word.

4.    “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie’” (Hand 15:1). Kyk ook 15:5. Hier is dit Christen-Jode wat heiden-Christene probeer oortuig hulle moet die wet hou om gered te word.

5.    Die Jode kom in Korinte teen Paulus in opstand en beskuldig hom voor die goewerneur: “Hierdie man probeer die mense oorhaal om God op ’n manier te vereer wat in stryd is met ons wet” (Hand 18:13). Nogeens is dit Jode wat Paulus beskuldig dat hy die wet minag.

6.    “Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: ‘Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.” In die volgende verse vra hulle Paulus dan om self tempel toe te gaan en ’n reinigingshandeling uit te voer. “Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou.” Paulus willig dan in en gaan doen dit (Hand 21:20-26). Hier is dit Christen-Jode wat nog die wet “stiptelik” hou.

7.    “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig” (Hand 21:28). Jode beskuldig Paulus dat hy die wet oortree.

 

Wat het ons nou in hierdie ses verwysings?

  • Jode beskuldig Christene dat hulle nie die wet hou nie (1 en 5, 7).
  • Christen-Jode beskuldig Petrus dat hy nie die wet hou nie, en hulle hou self nog die wet en probeer heiden-Christene oortuig om die wet te hou anders kan hulle nie gered word nie (2, 6, 4).
  • Paulus probeer Jode oortuig dat die wet hulle nie kan vryspreek van sonde nie (3).

 

Dit alles lyk, om die minste daarvan te sê, na ’n groot ver warring.

 

Die Jode Natuurlik wil die Jode nog hê dat almal die wet moet hou. As ’n mens mooi na die voorbeelde kyk, gaan dit vir hierdie Jode nie soseer oor die heidene nie, maar oor die ander Jode wat tot geloof in Jesus gekom het. Hoe kan hulle nou ophou om die wet te hou? Dis dan die Here se wet. Dis alles maklik om te verstaan.

Die Christen-Jode Maar dis interessant dat gelowiges uit die Jode ook nog die wet wil hou. En hulle het gemeen die apostels ondersteun hulle hierin. Petrus-hulle het dan self nog gereeld die tempel besoek, en Paulus is nog bereid om self ’n offer in die tempel te gaan bring.

Paulus en Petrus Paulus verkondig selfs aan Jode, dus nie net aan heidene nie, dat die wet hulle nie kan red nie, net Jesus. En die feit dat Petrus wel in Kornelius se huis ingaan en saam met hom eet, getuig daarvan dat ook hy in hierdie situasie nie die reinheidswette gehou het nie. Dis presies die teenoorgestelde as wat die Christen-Jode vir die heidene gesê het: Julle kan nie deur Jesus gered word as julle nie meer die wet onderhou nie (Hand 13:38-39; 15:1).

 

Dit is verder ook nog duidelik dat Petrus self maar met hierdie saak moeilikheid gehad het. Eers moes die Here hom deur ’n wonderwerk oortuig dat hy wel die evangelie aan Kornelius moet gaan verkondig (Hand 10), en later het hy weer teruggeval in sy ou oortuigings dat heidene onrein is toe hy nie in Galasië saam met gelowiges uit die heidene wou nagmaal gebruik nie. Hieroor het Paulus hom skerp aangeval (Gal 2:11-14). Dis dan ook interessant dat Petrus nooit êrens in Handelinge of in sy Briewe regtig op hierdie probleem ingaan nie. Dit is uiteindelik Paulus wat ons help om dit te verstaan.

 

Kom ons probeer ’n paar dinge vasmaak.

1.    Paulus en die ander apostels beklemtoon nie die wet nie. In nie een van die preke van Petrus of Paulus kom die wet as selfstandige item voor nie. Hulle preek dat Jesus, die opgestane Here, die Jode se Messias (Christus) is. Gaan gerus ’n keer die opsommings van hulle preke self na (Hand 2:14 ev; 3:12 ev; 4:8 ev; 5:29 ev; 10:34 ev; 13:16 ev; 17:21 ev).

2.    Die wet kom net een keer in een van hierdie preke voor, en dit is omdat Paulus Jesus verkondig as die Verlosser van sonde, en dan net ter verduideliking byvoeg dat dit dus nie die wet is wat ’n mens van sonde kan vrymaak nie, maar Jesus (Hand 13:38-39).

3.    Verder kom die wet net een keer voor as ’n selfstandige punt van bespreking, en dit is in die vergadering in Jerusalem waar Paulus en Barnabas saam met die apostels en ouderlinge in Jerusalem vergader (Hand 15). Die rede vir hierdie vergadering was die aanval van Christen-Jode op Paulus se sendingwerk onder die heidene. Hulle het die heiden-Christene probeer oortuig dat hulle bo en behalwe hulle geloof in Jesus, ook nog die wet moet hou om gered te word. Die uitkoms van die vergadering was dat die gelowiges uit die heidene nie meer die wet hoef te hou nie.

4.    Dit alles beteken dat die probleem veroorsaak is deur Jode én Christen-Jode wat daarop aangedring het dat die heiden-Christene nog die wet moet onderhou om gered te word. Dit het dus glad nie oor die wet-in-die-algemeen gegaan nie, maar oor die vraag hoe ’n mens gered word. Na die wet-in-die-algemeen sal ons later kyk.

5.    Van die Jode kan ’n mens die reaksie verstaan dat die wet onontbeerlik is vir redding. Die wet was vir hulle omtrent die een en al. Daarna het ons vroeër in hierdie hoofstuk gekyk.

6.    Maar wat van die Christen-Jode? Waarom het hulle nog so vasgeklou aan die wet? Die apostels het immers nie bedoel dat dit net die heidene is wat net op Jesus hoef te vertrou en nie daarby ook nog die wet hoef te hou om gered te word nie. Paulus preek dit in die sinagoge vir twee groepe: Jode en heidene wat reeds die Joodse geloof (die Ou Testament) aanvaar het (Hand 13:14-16). En hierdie preek lewer hy lank voor hy enigeen van sy Briewe geskryf het. Hy het waarskynlik sy eerste Brief, die een aan Galasië, omtrent in die tyd van Handelinge 20 se gebeure geskryf. Terloops, die boek Handelinge is natuurlik lank na die tyd eers geskryf, maar dit vertel die geskiedenis van direk na Pinkster.

7.    Nogeens, waarom hou die gelowiges uit die Jode dan so lank aan met die wet? Wel waarom sukkel Petrus so, Petrus wat ’n apostel was wat gedurende die hele aardse bediening van Jesus met Hom saamgeloop het? Hoe moes die Here nie met hom werk nie om hom te oortuig om die evangelie aan die heiden Kornelius te bring! (Hand 10) En waarom val hy later weer terug in sy ou oortuigings en weier om nagmaal saam met heiden-Christene te gebruik? Ons moet onthou hoe sterk godsdienstige oortuigings is, veral as ’n mens dit met “moedersmelk ingekry het” en jou hele lewe ernstig daarvolgens geleef het. En ons moet ook onthou hoe radikaal die veranderings was wat daar in die geloof van die Ou Testament gekom het as gevolg van Jesus se werk. Die hele tempel-, priester-, offerdiens het verval. Die besnydenis het weg geval. Die honderde wette van Levitikus het. Dit was vir die gelowige Jode ’n skok om te aanvaar dat hulle nie God se guns moes verdien deur sy wet te hou nie. En het baie van ons nie ook so ’n paar reëls waaraan ons krampagtig vashou om in die Here se goeie boekies te bly nie?

 

Kan ons die hele diskussie beter verstaan uit die Briewe? Wat sê Paulus oor die wet en ons saligheid?

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus se houding teenoor die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus se houding teenoor die wet – Adrio König

3.3 Jesus se houding teenoor die wet

Ons het na die wet in die Ou Testament en die Jode se interpretasie van die wet gekyk. Maar wat was Jesus se houding teenoor die wet?

In die Nuwe Testament kom die “wet” in ’n hele paar betekenisse voor. Dit kan na die eerste vyf boeke verwys, of na die Tien Gebooie, of na bepaalde dele van die eerste vyf boeke soos byvoorbeeld in Hebreërs waar dit verwys na die tempelkultus (tempel, priesters, offers). Jesus se houding teenoor die wet is nie so eenvoudig nie. Hy is baie positief oor die wet, maar nie sonder voorbehoud nie.

 

Daar is geen twyfel nie dat Hy die wet hoog geag het. Hy verklaar uitdruklik dat Hy nie gekom het om die wet ongeldig te maak nie, maar inteendeel, om die wet sy volle betekenis te laat kry (Matt 5:17 ev). Nie eens die kleinste deeltjie van die wet mag wegval nie, en sy volgelinge moet getrouer aan die wet wees as die skrifgeleerdes en Fariseërs. Dit is nogal baie gevra, want dit was juis hulle wat die wet so stiptelik probeer nakom het. ’n Mens kan selfs wonder hoe sy volgelinge dit ooit sou kon reg kry.

 

Maar as jy verder in die Bergrede lees, word dit duidelik. Jesus kritiseer of herroep of verander nie in die Bergrede die wet nie. Hy radikaliseer die wet. Dit is immers sy verklaarde oogmerk: om die wet sy volle betekenis te laat kry. Dit beteken in sy letterlike vorm in die Ou Testament het die wet nog nie regtig tot sy reg gekom nie. Dis juis wat die skrifgeleerdes en Fariseërs nie gedoen het nie. In plaas daarvan om by die kern van die wet, by sy geestelike betekenis, te kom, het hulle die wet veruiterlik en verletterlik.

 

Selfs al in die tyd van die Ou Testament was daar sprake daarvan om alles waarop dit in die wet neerkom, kernagtig saam te vat. Dáár lees ons alreeds dat ons die Here met hart en siel en al ons krag moet liefhê, en elders dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (Deut 6:5; Lev 19:18). Die skrifgeleerdes het self hierdie samevatting van die wet geken (Luk 10:27), maar dit is nie die pad wat hulle met die wet geloop het nie. Inteendeel, hulle kon selfs ’n manier ontwikkel waarop ’n kind liefde en hulp aan sy ouers kon weier sonder om te voel hy of sy het die wet oortree (Mark 7:9-13).

 

Maar Jesus kom in die Bergrede tot die werklike diepte en geestelike betekenis van die wet. Die wet lui letterlik: Jy mag nie doodslaan nie. Maar Jesus sê jy kan met jou woorde iemand vermoor. Die wet lui letterlik: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, maar Jesus sê jy hoef dit nie net letterlik te doen nie, jy kan in jou hart onrein wees (Matt 5:21-30). Ook wat die reinheidswette betref, was Jesus se standpunt dat dit meer oor die innerlike as oor die uiterlike gaan. Oor rein en onrein kossoorte was sy siening dat dit wat jou onrein maak, nie die kos is wat in jou ingaan nie, maar eerder dit (die woorde) wat uit jou uitkom, omdat dit wys dat daar kwaad binne-in jou  is (Mark 7:14-23). Tereg skryf Markus dat Jesus daarmee alle kos rein verklaar het (7:19).

 

Verder het Jesus natuurlik nog volkome binne die wet geleef. Hy het die tempel gerespekteer, trouens dit juis ernstiger geneem as die skrifgeleerdes en Fariseërs wat die handelaars daar toegelaat het, terwyl Hy die tempel as ’n gebedshuis beskou het en dit daarom gereinig het (Matt 21:12 ev). Hy het die priesters en die offers gerespekteer. Hy het melaatses wat Hy gesond gemaak het, na die priesters gestuur, en voorskrifte oor offers gegee (Luk 16:14 ev; Matt 5:23-24). Hy het tydens die feeste Jerusalem besoek, en gelykenisse vertel van mense wat in die tempel bid (Joh 2:13; 5:1; 7:10-11; Luk 18:9-14).

 

’n Mens moet onthou dat Jesus nie ’n Christen was nie, maar ’n Ou-Testamentiese Joodse gelowige. Selfs sy volgelinge was tot laat in Handelinge nog steeds niks anders nie as Jode wat hoofsaaklik van die ander Jode verskil het in hulle geloof dat die Messias alreeds gekom het. (Natuurlik het dit groot implikasies gehad vir die wyse waarop hulle die Ou Testament verstaan het.)

 

Dat die Messias gekom het, is dan ook die groot boodskap van Paulus as hy op sy sendingreise in elke stad eers die Jode in die sinagoges gaan toespreek het. Hy het hulle uit die Skrif (die Ou Testament) probeer oortuig dat Jesus die Messias (Christus) is wat hulle verwag het (Hand 17:1-3; 18:5). Was Jesus aan die ander kant ook krities teenoor die wet? Of was Hy krities teenoor die wyse waarop die skrifgeleerdes en Fariseërs die wet geïnterpreteer en toegepas het? Hy bots herhaaldelik met hulle oor die Sabbat. Maar telkens blyk dit Hy is nie teen die viering van die Sabbat nie, maar Hy is daarteen dat die letterlike uitvoering van die Sabbatsgebod in die weg staan van menslikheid en hulp aan mense in nood. Omtrent elke botsing oor die Sabbat vind plaas nadat Hy deur ’n wonderwerk iemand genees of gehelp het (Luk 13:10 ev; 14:1-6; Joh 5:1-17; 9:13 ev). Hy is dus al weer by die kern van die wet, by die “geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23) teenoor die wettiese, letterlike nakoming daarvan.

 

Daar is nog ’n goeie voorbeeld van die feit dat Jesus nie negatief oor die wet was nie, maar oor die skrifgeleerdes en Fariseërs se interpretasie van die wet. In ’n hoofstuk met snydende kritiek op hulle wetsinterpretasie, wys Jesus op die volgende: Hulle “gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat hulle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23). Ons lees in Numeri 18:12 en Deuteronomium 14:23 dat Israel  tiendes moes gee van hulle koring en wyn en olie (die land bouprodukte) en ook die eerstelinge van hulle grootvee en kleinvee. Maar intussen het die skrifgeleerdes toe sommer al die onbelangrike tuinkruie ook bygevoeg in hulle ywer om die wet nog strenger en strenger te maak sodat hulle al meer verdienste by God kan verwerf. Maar hierdie krampagtige “verfyning” van die wet het die allergrootste gat in die wet geskeur, want die essensie, die kern, die hart van die wet het in die slag gebly:

  • Die geregtigheid, dit is om reg te laat geskied aan mense in nood.
  • Die barmhartigheid, dit is om méér te doen as net reg te laat geskied, om ook goed te wees vir ander en hulle te help.
  • Die betroubaarheid, dit is dat mense op jou kan reken.

 

Dit is die probleem met alle mense wat alles tot in die fynste besonderhede wil uitwerk. Hulle verloor die geheel uit die oog. Die Engelse sê: “For the trees they cannot see the wood.” Daarteenoor staan die nadruk van Jesus. Telkens gaan dit oor die kern, oor die beginsel.

  • “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Matt 7:12).
  • “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37 ev).
  • “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh 13:34).
  • “Wat volgens die wet van God die swaarste weeg, is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23).

 

Mense wat tog probeer aantoon dat Jesus krities teenoor die wet was, wys graag op Lukas 16:16. Hulle meen dat Jesus hier die einde van die wet aangekondig het. (“Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig.”) Maar dit kan ook net beteken dat daar by Johannes ’n nuwe tydperk begin, die tydperk waarvan die koninkryk en Jesus self eintlik die middelpunt is. Maar ons weet mos dat die wet nog vir Hom gegeld het.

 

Daar is egter wel hier en daar opmerkings van Jesus wat sekere bepalings van die wet buite werking stel. So skryf Jesus ’n bepaling van die wet aan Moses toe en trek dit terug. Moses het die mans toegelaat om van hulle vrouens te skei, maar dit was omdat hulle sulke harde harte gehad het. Jesus laat dit egter nie verder toe nie behalwe in die geval van owerspel (Matt 19:7 ev). En andersyds het Jesus se optrede natuurlik daartoe gelei dat sy volgelinge later heelwat van die wet eenvoudig as agterhaald beskou het, soos die tempeldiens, die priesters, die offers (Hebreërs!). Maar Jesus self het dit nog nie tydens sy aardse bediening gedoen nie.

 

Ons het vroeër al opgemerk dat Jesus nie ’n Christen was nie, maar ’n Jood. Ons het nou daarby geleer dat Hy as Jood getrou was aan die wet, maar die wet op ’n veel dieper vlak as die Jode van sy tyd verstaan het. Wat Jesus gedoen het, veral aan die einde van sy lewe in sy kruis en opstanding, het veroorsaak dat daar uiteindelik ’n nuwe vorm van die Joodse godsdiens ontstaan het: die Christendom.

 

Ons gaan in die volgende artikel kyk na die wet in Handelinge.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet – Adrio König

3.2 Die Jode se interpretasie van die wet

Ons het na die wet in die algemeen en die wet in die Ou Testament gekyk. Dit bring ons by die Joodse leiers se interpretasie van die wet. Die uittog (hoofstuk 9), die verbond (hoofstuk 1), en die wet was die fondament van Israel se verhouding met die Here en met mekaar. Met die uittog het God Homself aan Israel verbind en “die God van Israel” geword, en dus ook die volk gekies as sy volk.

’n Mens kan die uittog as die geboorte van die volk beskou. Deur die verbond het Hy beloof om verantwoordelikheid vir hulle te neem, en van hulle verwag om Hom in liefde te gehoorsaam. Deur die wet het Hy konkreet vir hulle gesê hoe Hy wil hê dat hulle sal lewe.

 

Van hierdie drie het die wet geleidelik vir Israel die belangrikste geword, reg of verkeerd. Baie Israeliete het die wet uit dankbaarheid en met vreugde gehou. Lees ’n keer Psalm 119 aandagtig deur. Ek gee net ’n paar kort aanhalings. Onthou woorde soos bevele, gebooie, verordeninge, insettinge, voorskrifte is almal verwysings na die wet.

  • Om volgens u verordenings te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld (v 14).
  • Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie (v 16).
  • Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe (v 32).
  • Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde (v 35).
  • In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig (v 47).
  • Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig (v 48).
  • U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde (v 54).
  • Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe (v 56).

 

Uiteindelik het hulle ontrou aan die wet egter oorheers ondanks die vermanings en waarskuwings van die profete, en uiteindelik het hulle weens hulle ontrou en ongehoorsaamheid aan die Here in die vernietigende ballingskap beland. In die ballingskap het hulle alles verloor wat vir hulle waarde gehad het. Dit is dus te verstane dat hulle ná hulle terugkeer uit die ballingskap alles in hulle vermoë gedoen het om ’n herhaling daarvan te probeer voorkom. Hulle wou nou ten alle koste die wet hou. Veral Esra en Nehemia het groot nadruk daarop gelê.

 

Op sigself was daar nog niks daarmee verkeerd nie. Hulle het immers nog die wet gehou omdat hulle die volk van die Here was en aan Hom gehoorsaam moes wees. Maar geleidelik het al meer van hulle die wet begin hou om by God aanneemlik te word, om op hierdie manier in ’n verhouding met God te kom. Daarom het hulle geleidelik ook die wet meer as God self verheerlik. Die wet het hulle behoud geword. In plaas daarvan dat hulle die volk van die Here was wat deur Hom aan die wet gebind was, het hulle ter wille van die wet begin leef.

 

Dis nie vreemd dat die “skrifgeleerdes” of rabbi’s juis in hierdie tyd na vore gekom het nie. Vroeër het die priesters die taak gehad om die volk die wet te leer. Maar ná die ballingskap kom daar so ’n konsentrasie op die wet dat ’n gespesialiseerde studie van die wet nodig word. Ons lees: “Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer” (Esra 7:10). Hieruit het die hele tradisie van intensiewe studie van elke fyn bepaling van die wet gegroei en die nuwe amp van skrifgeleerde of rabbi ontwikkel, die teoloë van Israel in die tyd van Jesus. Die neiging was om in al fyner detail in te gaan en al voorskrifteliker te word, sodat die hele lewe van die Israeliet later deur fyner onderdele van die wet gereël is.

 

Dit is teen hierdie oormatige “wetsverfyning” wat Jesus uiteindelik geprotesteer het in een van die skerpste oordeelshoofstukke in die hele Bybel (Matt 23). Ons kyk later daarna. Dis verder interessant om na te gaan hoe hulle siening en waardering van die wet in hierdie tyd voor Jesus ontwikkel het. Hulle het altyd die Pentateug of die Torah gesien as die eintlike openbaring van God. Maar geleidelik het hulle alle ander boeke wat daarna gekom het, aan die wet begin meet. Alle verhoudings tussen God, mense, Israel en die wêreld is aan die wet onderwerp. Die wet sou dan die instrument wees waarmee God alles geskep het.

 

Maar hulle het later selfs geleer dat God voor elke skeppingswerk eers die wet geraadpleeg het. Trouens die wêreld, die mense en Israel self sou net terwille van die wet geskep wees. ’n Mens kan skaars anders as om te dink aan wat die Christene later oor God self bely het: Uit Hom, deur Hom, en tot Hom is alle dinge. Dit is omtrent wat die wetsgetroue Jode later oor die wet geglo het.  Wie die wet gehoorsaam, ontvang God se goedkeuring, die geregtigheid, die lewe self, en ’n aandeel in die nuwe wêreld van God. Hulle was oortuig dat dit vir ’n mens moontlik is om die hele wet volkome te hou. Dit was inderdaad ook nodig, want net só het hulle die goedkeuring van God gekry. Hulle het geglo Abraham het dit gedoen selfs nog voor die wet regtig by Sinai afgekondig was. Hiervolgens was dit nie meer die geval dat Israel die wet moes hou omdat hulle God se volk was nie. Dit was eerder só dat hulle die wet moes hou om God se guns te verdien. Dit is hierdie oortuiging wat die apostels later verwerp.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk Jesus se houding teenoor die wet.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament – Adrio König

3.1 Die wet in die Ou Testament

Ons woord “wet” is nie regtig ’n goeie vertaling van die Hebreeus Torah nie. Hierdie Hebreeuse woord kom meer as 200 keer in die Ou Testament voor en word in verskillende verbande gebruik. Oorspronklik kan dit iets beteken soos “rigtingwyser” of “aanwysing” of “onderrig”.

Kenmerkend is dat dit spesifiek vir uitsprake van die Here gebruik word. Die wet dra dus die gesag van die Here. Soms word net die Tien Gebooie die Torah genoem, maar soms ook die hele boek Deuteronomium, en selfs die hele Pentateug, dit is die eerste vyf boeke, waarin daar natuurlik nie net wette/ voorskrifte opgeneem is nie, maar die wonderlike geskiedenisse van die skepping en God se begin met die volk Israel, en waarin selfs die oordele van die Here aangekondig word (Deut 4:44; 28:61; Neh 8:3).

 

Wanneer daar in die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys word, kom dit dikwels voor in die kombinasie van “die wet (Torah) en die profete” (Matt 5:17; 7:12; 22:40). Soms word ook na ’n derde groep verwys. Jesus praat van “die wet en die profete en die Psalms” (Luk 24:44), maar later was dit meer algemeen om te verwys na “die wet en die profete en die geskrifte”.

 

Watter boeke het hulle onder hierdie drie dele ingedeel? Nie presies wat ons vandag daaronder verstaan nie.

  • Die wet was die eerste vyf boeke (die Pentateug), of soms die eerste ses (die Heksateug) as Josua ook daarby kom.
  • Die profete is al die ander geskiedenisboeke van Rigters af tot by Konings, met die uitsondering van Ester en Rut, en dan ook die boeke wat ons vandag nog die Profete noem.
  • Die geskrifte is die derde groep, en dis nogal ’n “deurmekaar” groep wat wysheidsboeke (Job, Spreuke, Prediker) insluit, maar ook digterlike boeke (Psalms, Hooglied, Klaagliedere), ses historiese boeke (Ester, Rut, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia) en dan nog Daniël ook.

 

In die tyd van Jesus was daar nog groot verskil onder die Jode oor die gesag van hierdie groepe boeke. Die Sadduseërs was ’n baie “konserwatiewe” groep wat net die Torah as gesaghebbend erken het, en omdat daar niks van die opstanding in staan nie, het hulle ook nie aanvaar dat daar ’n opstanding sal wees nie. Die Fariseërs was die meer “liberale” groep wat ook die ander twee groepe boeke aanvaar het en daarom geglo het daar sal ’n opstanding wees. Dit kom immers duidelik in Daniël 12:2 voor.

 

Dit was een van die belangrike take van die priesters om die volk te onderrig in die wet en om die wet te interpreteer. Ons het in Haggai 2:10-12 ’n mooi voorbeeld van hoe die priesters genader is met ’n vraag hoe die wet verstaan moes word. Maar ons kan ook uit hierdie besonderhede aflei hoe radikaal hulle die wet in hierdie tyd (na die ballingskap) geïnterpreteer en toegepas het.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk hoe die Jode die wet geïnterpreteer het.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König