Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (2)

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (2) – Adrio König

Ons is nog besig om na heil en saligheid te kyk. In die vorige gedeeltes het ons na die doel van die skepping as ook na die Ou Testament gekyk. Nou gaan ons na die Nuwe Testament kyk. Hier gaan ons veral na vier aspekte kyk:

 

  1. 1.Heil sonder gawes (gedoen in vorige gedeelte).
  2. 2.Toekomstige heil (hierdie gedeelte).
  3. 3.Verheerliking (die volgende gedeelte).
  4. 4.Die ewige lewe.

 

2.3.2 Toekomstige heil

Waarna ons nou moet kyk, is die toekomstige apokaliptiese (bonatuurlike) deurbraak wat Jesus en die apostels verwag het. Dit is in elk geval vreemd om ’n situasie te kry waarin die Here en sy gawes losgemaak is van mekaar. Hoe kan dit nou aanvaarbaar wees dat ’n mens in gemeenskap met die Here leef, maar juis daarom sy gawes ontbeer, en juis daarom vervolg word? Dit kan tog onmoontlik die finale situasie wees.

 

En natuurlik is dit ook nie. In die Nuwe Testament het ons ’n tydelike noodsituasie wat wag op opklaring. Daarom is een van die grootste sake wat deur die hele Nuwe Testament loop, die verwagting van ’n nabye wederkoms. Hierdie ongekende spanning kom sterk na vore in Paulus se Romeinebrief. “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is … Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop” (8:18-19, 24). NLT vertaal die laaste sinnetjie: “Now that we are saved, we eagerly look forward to this freedom.” Daar wag ’n toekoms!

 

En dis onmoontlik vir die kinders van God wat weet hoe die heil in die Ou Testament gelyk het, om die onnatuurlike situasie van die Nuwe Testament as finaal te beskou, die situasie waarin ons op God se aarde permanent sy gawes moet ontbeer. Gelukkig spel die Nuwe Testament in bonatuurlike beelde uit hoe die heil uiteindelik sal lyk. En ons sal sien die heil skakel eintlik in die toekoms oor in ’n ander rat.

 

Maar net hier kan ons ’n fout maak. Die hoër rat is nie geestelike heil teenoor die aardse heil van die Ou Testament nie. Dit is nie waar dat die Ou Testament nog aards, tydelik, stoflik gedink het, maar dat ons nou ’n geestelike verwagting het van ewige hemelse geluksaligheid nie. Die toekomstige, volmaakte heil is net so aards en fisiek as dié in die Ou Testament. Die oorskakeling lê op ’n ander vlak. Dit gaan om die verheerliking. Maar daarna kyk ons later.

 

Kom ons kyk eers na die aardsheid van die toekomstige, finale vorm van heil. Alhoewel ons in die Nuwe Testament die nuwe verwagting het van die opstanding, is dit nog steeds die liggaamlike opstanding. Dit is dus mense wat in die toekoms die volle heil sal geniet. Dit gaan, net soos in die Ou Testament, nie om siele-heil nie, maar om “mense-heil”. En dis opvallend hoe hierdie liggaamlike opstanding beklemtoon word. Paulus sit selfs op hierdie punt die hele evangelie op die spel: “As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes” (1 Kor 15:16-17).

 

Die res van die hoofstuk beklemtoon juis dat dit ’n liggaamlike opstanding sal wees, en nie ’n geestelike opstanding soos sommige Christene toe – en nou! – geglo het nie. In 15:35-44 kom die Griekse woord vir liggaam tien keer voor! Verder gee die laaste hoofstukke in die Bybel ons dieselfde aardse, fisieke beeld van die finale heil. Die kinders van God sal in die gemeenskap van God en die Lam op die nuwe aarde die oorvloed van die gawes van God geniet.

 

Dis merkwaardig hoe sterk juis die Ou Testament na vore kom in hierdie laaste hoofstukke.

  • Dit gaan om die aarde. Ons het hier presies dieselfde nadruk as in Genesis 1. Dáár lees ons hoe God die hemel en die aarde geskep het, maar net die skepping van die aarde word bespreek. Hier sien Johannes ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Op 21:1), maar net die nuwe aarde word bespreek.
  • Die nuwe Jerusalem word in besonderhede bespreek (21:10-27). Ons moet onthou dat Jerusalem die eintlike simbool was van die teenwoordigheid van God by die volk. Dáár het Hy in die tempel gewoon, en daar het die volk tydens die groot feeste sy seëninge in sy teenwoordigheid geniet. Nou sal ons die finale vorm van die heil juis in die nuwe Jerusalem geniet.
  • Die stad word in terme van die tuin van Genesis 2 beskryf. Die tuin was gekenmerk deur die vrugtebome en die groot rivier. Nou kry ons juis dit in die nuwe Jerusalem: die groot rivier en die boom van die lewe (22:1-2). ’n Mens kan heelwat kleiner verwysings na die toekoms van die aarde hier byvoeg. Jesus beloof die nuwe aarde aan die sagmoediges (Matt 5:5). Paulus skryf: “Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders” (Rom 8:21, NLV). En net terloops, ons weet natuurlik dat hy nie hier na die hemel kan verwys nie, want dié is nie aan slawediens onderworpe nie. Verder kom hierdie nadruk op die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem natuurlik al in die Ou Testament self voor (Jes 65:17-25).

 

Verarming? Ek het min twyfel dat baie Christene hierdie nadruk op die aardsheid van die heil as ’n vreeslike verarming sal beleef. Daar is onder baie gelowiges ’n diep verlange na die hemelse geluksaligheid. Nie dat dit in ons eie geskiedenis altyd so was nie. Ons ken die ou verwysings na ons oorgrootouers waar die een wat op sterwe is, vir die ander sou gesê het: “Ek ontmoet jou by die Oospoort.” Dit was ’n duidelike verwysing na die nuwe Jerusalem (Op 21:12 ev).

 

Maar ons beslissende vraag is nie of ons daarvan hou of nie. Die beslissende vraag is wat ons hieroor in die Bybel kry. Ons het alreeds vroeër verwys na Psalm 115:16: “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee.” In die Nuwe Testament is daar ook nie duidelike verwysings daarna dat gelowiges hemel toe gaan nie. Daar is wel twee verwysings wat so geïnterpreteer word. Jesus verklaar dat Hy in die huis van sy Vader vir ons gaan plek gereedmaak. Daarna sal Hy weer kom en ons na Hom toe neem sodat ons ook kan wees waar Hy is (Joh 14:2-3).

 

Ons sal dus saam met Hom wees waar Hy is. Maar waar sal Hy aan die einde wees? Tog saam met die Vader in die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde (Op 21:22-23; 22:1). Terloops, ek het self effens huiwering om hierdie twee gedeeltes op hierdie wyse met mekaar in verband te bring, maar daar is onder gelowiges ’n wydverbreide Skrifbeskouing wat só werk, en ek probeer op hierdie wyse saam met hulle dink.

 

Die ander verwysing is Jesus se kruiswoorde aan die een moordenaar: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43). Die woord “paradys” kom net drie keer in die Nuwe Testament voor, hier, by Paulus (2 Kor 12:4) en in Openbaring 2:7. In nie een van die gevalle verwys dit na die einde nie, maar elke keer na die tyd waarin ons nou nog leef. Watter betekenis ons dus ook al aan paradys gee, en sommige is oortuig dit verwys na die hemel, dit sien op ’n voorlopige toestand. Die eindheerlikheid word in Openbaring 21, 22 beskryf: die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde.

 

Kom ons staan ’n oomblik weg van enkeltekste en kyk na groter lyne hieroor. Is dit so dat ons in die Bybel ’n duidelike lyn kry van God wat na ons op die aarde kom, en nie ons wat na God in die hemel gaan nie?

  • God skep die aarde om mense daarop te sit en dan kom Hy na hulle toe (Gen 2:16; 3:8).
  • Wanneer die Here besluit om vir Hom ’n nuwe volk te skep, doen Hy dit nie in die hemel nie, maar op aarde (Gen 12 ev).
  • As Hy met hulle gemeenskap wil hê, kom Hy na hulle toe in die tempel. Hulle glo selfs dis sy woonplek.
  • As Hy die mensdom wil verlos, maak Hy nie van die mense gode nie, maar God word mens.
  • Hy vat nie die gereddes hemel toe nie, Hy kom in Jesus aarde toe, bevry mense van bose magte, en doen versoening aan die kruis op ’n bultjie buite Jerusalem.
  • As Hy dan vir Hom onder die heidene ’n gemeente wil versamel, neem Hy nog ’n keer nie mense na Hom toe nie, Hy stuur sy Gees aarde toe en versamel hulle hier.
  • En as Hy uiteindelik alle teenstand oorwin en alles nuutmaak, vernietig Hy nie die aarde en vat al sy kinders na ’n ander plek (hemel) toe nie. Hy vernuwe die aarde en kom woon by sy kinders in die  nuwe Jerusalem op die nuwe aarde.

 

Is dit nie dalk die eerste “eenrigtingstraat” in die geskiedenis nie: van die hemel na die aarde? En beteken dit nie dat God getrou is, dat Hy sy doel bereik: Om mense op aarde te hê en daar met hulle in gemeenskap te leef nie? Maar nou die hemel? Verloor ons dit dan? Miskien tog nie. Waar sou die hemel wees? Ek weet nie. Maar ek weet ten minste dit moet wees waar God is. Maar as Hy dan aan die einde by ons op die nuwe aarde is, sal hierdie nuwe aarde dan nie wees waar die hemel dan is nie? En is dit nie dalk die diepste betekenis van “hemel op aarde” nie?

 

Ons het reeds verwys na die Joodse teoloog Martin Buber wat ons Christene beskuldig van “verraad aan die aarde”. Ons het die neiging om die aarde gering te skat. Hoe lank het ons nie gesing nie: “Hoe skoon die aarde, dit het min waarde”? Hoe het gelowiges nie alles wat “aards” is, vermy en net na die hemel verlang nie.

  • Wie het die aarde gemaak?
  • Waarom vertel die hele eerste skeppingsverhaal net van die fisieke dinge wat gemaak is? Sou dit nie die fisieke, harde kante van die werklikheid belangrik maak nie?
  • En wie het die eerste mens uit die stof van die aarde gevorm? Onthou daar staan in werklikheid dat Adam uit adamah (stof, grond) gemaak is. Lê dit nie ’n baie noue verband tussen mens en grond/aarde nie?
  • Wie werk eeue lank al met mense op aarde?

 

Ons sal moet leer dat ons vir die aarde gemaak is. Of liewer: Ons sal moet leer dat ons vir God op die aarde gemaak is om op aarde in sy gemeenskap te leef en sy seëninge te geniet. As God ons hier geplaas het, en Hy nie afsien van sy doel met ons nie, sal ons hier bly, maar natuurlik op die skoongemaakte en nuutgemaakte aarde.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (1)

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (1) – Adrio König

 

Ons is nog besig om na heil en saligheid te kyk. In die vorige gedeeltes het ons na die doel van die skepping as ook na die Ou Testament gekyk. Nou gaan ons na die Nuwe Testament kyk. Hier gaan ons veral na vier aspekte kyk:

  1. 1.Heil sonder gawes.
  2. 2.Toekomstige heil.
  3. 3.Verheerliking.
  4. 4.Die ewige lewe. 

 

2.3 Die Nuwe Testament

2.3.1 Heil sonder gawes

In die vroeë jare het dit redelik goed met Israel gegaan. En onder Dawid en Salomo selfs baie goed. Maar na die skeuring in die Ryk en uiteindelik die ballingskappe en die terugkeer van Juda, het dit hoe langer hoe slegter gegaan. Aanvanklik het die profete die ballingskappe tereg toegeskryf aan die straf van God omdat Israel voortdurend aan Hom ontrou en ongehoorsaam was. Maar later het die ellende so groot geword dat hulle dit nie meer net aan die oordele van die Here kon toeskryf nie. Toe het hulle geleidelik tot die oortuiging gekom dat die bose magte die wêreld binnegeval en oorweldig het, en dat hulle ellende wat hoe langer hoe erger geword het, deel is van die bose magte se aanslag op God se volk. En daarmee het die hele bonatuurlike wêreld deel van hulle geloof geword. Ons praat van die apokaliptiek of die apokaliptiese wêreldbeskouing.

 

Omdat die bose magte die wêreld oorgeneem het en op aarde regeer, gaan dit so sleg. Maar nou het dit ook nodig geword dat God met bonatuurlike middele die bose magte sal oorwin en die heerskappy op aarde sal terugkry. Dit kon nie gebeur met die gewone aardse en historiese middele wat in die Ou Testament bekend was nie. Hael en droogtes en vrektes onder die vee kon nie die bose magte oorwin nie.

 

Dit het egter ook beteken dat die aarde anders waardeer is as vroeër. Dit was nie meer die goeie aarde waar God seënend by sy volk wou woon nie. Dit was die gevalle wêreld wat radikaal verander en vernuwe sou moes word om ’n nuwe aarde te word. Hierdie perspektief kry ons alreeds in sommige laat profete. Jesaja het alreeds ’n wonderlike profesie oor die nuwe hemel, nuwe aarde en nuwe Jerusalem (65:17-25).

 

Hierdie situasie van die duiwel en die bose magte wat op aarde oorgeneem het, is die agtergrond van Jesus se aardse bediening. Ons is so gewoond aan die Evangelies dat ons nie eens besef hulle teken ‘n heeltemal ander prentjie van die wêreld as die Ou Testament nie. In die Ou Testament is daar byna nie sprake van bose magte nie, in Jesus se omgewing is dit vervuil van hulle. Niks anders oor Jesus se optrede kry meer aandag as sy wonderwerke nie, en onder die wonderwerke staan die uitdrywing van bose magte voorop. Herhaaldelik lees ons in die Nuwe Testament dat die duiwel in die tyd van Jesus op aarde regeer (Joh 12:31; 14:30; 16:11; 1 Joh 5:19), en Jesus se bediening word selfs opgesom met: “Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom” (Hand 10:38).

 

Die bose magte was egter deel van ’n baie groter geheel. Ons praat van die apokaliptiese wêreldbeeld. Ons kan dit ook die bonatuurlike wêreldbeeld noem. Die wêreldbeeld van die Ou Testament is natuurlik. Die seën van die Here is natuurlike dinge: reën, goeie oeste, vrede. Die oordele van die Here ook: hael, swak oeste, vyande. Heil is net so natuurlik: om op aarde al hier die seëninge in gemeenskap met die Here te geniet en Hom daarvoor te dank. Wie dit lank genoeg geniet het, het tevrede gesterf.

 

Wie nog nie genoeg kans gehad het nie, was in opstand teen die dood. Maar hiervan kry ons nie meer iets by Jesus nie. Hy beloof nie om Israel van sy vyande (die Romeine) te bevry nie. Hy beloof nie goeie oeste en groot gesinne nie. Ons kry ewe skielik heeltemal ’n ander prentjie. Ons hoor nou van ’n wêreldeinde en van talle bonatuurlike verskynsels: die Seun van die mens sal op die wolke kom, sterre sal op die aarde val, dooies sal opstaan, die gelowiges sal verheerlik word, alle mense sal geoordeel word, die ongelowiges sal na die verderf gestuur word, en die kinders van God sal vir ewig op die nuwe aarde in sy hemelse heerlikheid deel.

 

Vir die Ou Testament is dit vreemde beelde. Van die opstanding van die dooies lees ons net een keer met sekerheid in die Ou Testament, in die boek Daniël wat baie laat geskryf is (12:2). Verder is daar net korter dele in enkele laat boeke in die Ou Testament soos Jesaja 24-27, en dele uit Sagaria en Esegiël wat ook maar net iets van hierdie bonatuurlike beelde het. Die eintlike agtergrond vir hierdie apokaliptiese wêreldbeeld is sekere boeke wat wel in die Katolieke se Bybel opgeneem is, die sogenaamde apokriewe boeke (soos 2 Esdras – soms ook 4 Esdras genoem), maar nie in die Protestante s’n nie.

 

Jesus sluit dus nie aan by die bekende natuurlike aardse Ou-Testamentiese beelde nie, maar by die beelde wat in die tyd tussen die Ou Testament en die Nuwe ontwikkel het en in sy tyd vrylik deur sommige groepe onder die Jode gebruik is.

 

Net so verander die situasie van gelowiges heeltemal. In die Ou Testament het die Here sy kinders geseën met oorvloed as hulle aan Hom gehoorsaam is. Hulle het sy gawes in hierdie lewe in gemeenskap met Hom geniet, en as hulle dit lank genoeg kon doen, het hulle tevrede gesterf. Hulle het oorvloed geniet omdat hulle aan Hom getrou was.

 

Maar in die Nuwe Testament kry sy kinders juis swaar omdat hulle aan Hom getrou is. Dis presies die teenoorgestelde. Jesus verseker hulle ook dit gaan gebeur. “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg … Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely” (Joh 15:20-21). “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33). En Paulus skryf: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim 3:12).

 

Wat is dan nou in hierdie lewe heil? In die Ou Testament was dit voorspoed in gemeenskap met die Here. En nou? Om vervolg te word kan tog nie heil/saligheid wees nie. Johannes sê die heil nou is om nou reeds deel te hê aan die ewige  lewe. Volgens hom kry ons nie eers by die opstanding deel daar aan nie. “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe” (Joh 3:36). “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe” (Joh 6:54).

 

Paulus sien die heil wat ons nou reeds geniet, as ons vereniging met Jesus sodat ons ou lewe in diens van die sonde klaar beëindig is en ons nou reeds deelneem aan Jesus se opstandingslewe (Rom 6; Gal 2:19-20). Hy noem ook die vrede van God wat ons nou reeds kan geniet. Maar ook in hierdie geval is daar ’n radikale verskil tussen die twee Testamente. In die Oue is God se vrede (sjaloom) dat ons in hierdie lewe in voorspoed sy gemeenskap geniet. In die Nuwe geniet ons vrede in ons harte ondanks die feit dat ons verdruk en vervolg word. Ons moet mooi lees hoe die apostel dit stel: “Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou … ” (Fil 4:7). Dit beteken al is ons ontsteld, miskien juis omdat ons vervolg word, sal ons nogtans vrede in ons gemoed hê. Al sê ons gesonde verstand vir ons dat ons glad nie vrede kan hê nie omdat dit sleg met ons gaan, sal ons nog die Here se vrede ervaar.

  • In die Ou Testament was heil dus om in gemeenskap met die Here sy aardse gawes van voorspoed te geniet.
  • Maar in die Nuwe Testament is dit om die gemeenskap van die Here te geniet sonder sy aardse gawes, maar wel met ’n vooruitsig.

En hierdie vooruitsig is die saak waarna ons nou moet kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus : Die Ou Testament – aardse heil

Alle Paaie lei na Jesus : Die Ou Testament – aardse heil – Adrio König

2.2 Die Ou Testament – aardse heil

Dit mag vir sommige lesers ’n verrassing wees, of dalk ’n teleurstelling, maar die gedagte van ’n geluksalige lewe na die dood by die Here in die hemel kom nie in die Ou Testament voor nie.

Die skrywers van die Ou Testament ken nie regtig iets soos lewe na die dood nie. Vir Ou-Testamentiese gelowiges is die dood ’n verskrikking. Hulle klou met alle geweld aan die lewe vas. Waarom? Juis omdat hulle die Here ken en liefhet. Hulle wil in gemeenskap met die Here bly en sy seëninge geniet, en hulle is oortuig dat hulle dit net in hierdie lewe vóór die dood kan doen.

 

Kom ons luister na dele uit die jong, vroom koning Hiskia se gesprek met die Here as hy hoor hy gaan sterf. Sy eerste reaksie: “Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: ‘Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oor gawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë’” (Jes 38:2-3). As die Here dan beloof dat hy 15 jaar kan bykry, skryf hy sy roerende lied waarin ons onder andere lees: “Ek het gedink ek sal die Here nie meer sien nie,” want “In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof” (Jes 38:11, 18-19).

 

Die Ou Testament is vol van hierdie hartstogtelike vashou aan die lewe hier op aarde. Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. Ons luister na ’n Psalmdigter wat ernstig siek is en bang is hy kan doodgaan. “Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep … ek vat al aan die doderyk … Dit is of ek al tussen die dooies is … dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U u hand teruggetrek het … Word daar in die graf van u troue liefde vertel? … Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood?”  (Ps 88:3-6, 12-13) Natuurlik is dit retoriese vrae met as antwoord: Natuurlik nie!

 

Uit talle ander, net nog een voorbeeld: “Nie die dooies prys die Here nie, nie dié wat die graf in is nie, maar óns, ons (wat nog lewe) prys die Here, nou en vir altyd!” (Ps 115:17-18).

 

Het hulle aanvaar dat daar lewe na die dood is? ’n Mens moet mooi dink voor jy antwoord. Wat bedoel die vraag? Dis duidelik dat hulle aanvaar het daar is ’n soort bestaan na die dood, in die doderyk, kom ons sê maar ’n skimbestaan, ’n donker, vreesaanjaende bestaan, maar dit kon nie lewe genoem word nie omdat lewe vir hulle die geleentheid was om God te loof. Dis tog juis die diepste rede waarom hulle nie kans gesien het om te sterf nie. Dit was uit liefde vir God! Net in hierdie lewe op aarde kon hulle sy gemeenskap geniet en Hom daarvoor loof en dank.

 

Daarom die opstand as ’n gelowige arm is en swaarkry, en nog erger as so ’n persoon vroeg in sy/haar lewe moet sterf. Wat ’n dreigende vroeë dood betref, is gelowiges in opstand eenvoudig omdat hulle nie genoeg geleentheid gehad het om die Here te geniet en te loof nie. Dink weer aan koning Hiskia. En wat die swaarkry betref, is Psalm 73 die klassieke voorbeeld. Hy wat die Here dien, ly elke dag, maar die goddeloses se oë peul uit van vet (73:4-14). Dit word vir hom ’n geweldige geloofskrisis.

 

Luister na Job se klag as dit regtig met hom swaar gaan en hy bang is hy kan doodgaan. Hy kla teen die Here: “My lewensdae is min genoeg, laat my tog met rus dat ek darem ’n bietjie vreugde kan hê voordat ek weggaan na die stikdonker land toe en nooit weer terugkeer nie, na die land van die donker nag met sy diep duisternis waar niks georden is nie, waar die lig self donker is”  (Job 10:20-22). Hierdie stikdonker nag kan nie lewe wees as die sin van die lewe is om God te loof nie. Dit kan net ’n vreesaanjaende skimbestaan wees.

 

Dit is net bejaarde gelowiges wat tevrede sterf. En ons lees eintlik net van Abraham, Dawid en Job. Hulle het genoeg geleentheid gehad om God te geniet en te dank. Job is ’n mooi voorbeeld. Ná sy vreeslike lyding het die Here Job twee keer so ryk gemaak as voor die tyd – en hy was voor die tyd klaar skatryk! (1:3) Hy het ná sy lyding nog 140 jaar geleef, oorgenoeg tyd om die rykdom te geniet wat die Here hom gegee het, en die Here daar voor te dank. Die laaste woorde oor hom kan eerder soos volg vertaal word: “Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n ryk, vervulde lewe gehad” (42:17). Juis daarom is daar by Job geen melding van ’n klag omdat hy moes sterf nie. Hy was tevrede. Hy het genoeg tyd gehad om God en sy gawes te geniet en Hom daar voor te dank.

 

Wat beteken dit alles? Eindig ons nie baie na aan wat ons die skeppingsdoel van God genoem het nie? Hy het ’n aarde gemaak om hier met ons in gemeenskap te leef, vir ons te sorg, en ons die geleentheid te bied om Hom daarvoor te loof en te dank en te dien.

 

Dit sou beteken dat heil/saligheid en skeppingsdoel ten minste wat die Ou Testament betref, dieselfde is. En dit sou ook beteken dat daar van ’n hemelse geluksaligheid ná hierdie lewe geen spoor in die Ou Testament is nie. Daar is uitsprake wat die teendeel bevestig. “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee” (Ps 115:16).

 

Aardse seëninge Hierby moet nog ’n belangrike faset kom. Die Ou Testament is vol van wat ons ’n voorspoed-evangelie kan noem. Dit was van die begin af die belofte van die Here: As Israel aan Hom getrou is, sal Hy hulle seën, en sy seën sal voluit “aards” wees: groot oeste, goeie vee-aanteelt, baie kinders, oorwinning oor die vyande. Dit is wat vrede in die Ou Testament beteken het (sjaloom).  Alreeds aan Abraham gee Hy hierdie soort beloftes: “Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak” (Gen 12:2). Veral in die tyd van Dawid word hierdie belofte waar. En as dit daarna hoe langer hoe slegter met die volk gaan – waaraan ons later aandag sal gee – kry ons die beloftes van die Messias. Hy sal kom om die heerlikheid te herstel wat Israel onder die groot koning Dawid geniet het (Jes 9:6). En dit was voluit aardse heerlikheid.

 

Nêrens word die aardsheid van die heil wat God aan sy gehoorsame volk beloof, beter omskryf nie as in Psalm 144:11-15: “Red my van die swaard wat my bedreig, bevry my uit die mag van vreemdelinge … Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir ’n paleis. Mag ons skure vol wees en oorloop van kant tot kant. Mag ons kleinvee in hulle duisende aanteel, in hulle tienduisende vermenigvuldig op ons weivelde. Mag ons beestrop ’n groot kalweroes oplewer. Mag ons nooit oorval en weggevoer word nie … Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met (heil vir) die volk wie se God die Here is!” Die teendeel was ook waar. Die oordele van die Here was aardse oordele. As die volk aan Hom ontrou is, het Hy hulle gestraf met droogte, hael, slegte oeste en vee-aanteelt, vyande wat hulle oorweldig.

 

Daar is Christene wat vergeet het die Here het ons uit die aarde, op aarde, en vir die aarde gemaak. Dis nie verniet dat die Bybel begin met die aarde en eindig met die nuwe aarde nie. ’n Joodse geleerde het ons as Christene daarvan beskuldig dat ons verraad pleeg aan die aarde.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die dra van ‘n Hoofbedekking

Die dra van ‘n Hoofbedekking – Kobus Kok

Mynie vra:

Wat is die rede vir die Hooftooisel wat mans en vroue oor hul hoofde gegooi het. word dit vandag nog gebruik?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die dra van ‘n hoofbedekking – hoekom mans hulle hoedens afhaal as hulle bid

Prof. Kobus Kok

 

In die antieke Mediterreense wêreld in die tyd van die Nuwe Testament is daar geglo dat jy jou hoof moet bedek in die publiek. Dit het egter van tyd tot tyd en tussen verskillende ekonomiese klasse verskil, en die ruimte waarin die persoon verkeer het ook op verskillende tye in die geskiedenis ʼn rol gespeel in die sosiale reëls rondom hoofbedekkings (vgl. die uitspattige haarstyle in die Flavian 80-90 nC periode). Dit sien ons in die beelde uit verskillende tye en uit graffiti teen mure soos Pompeii wat sosiale interaksie uitbeeld, asook in Romeinse geskrifte wat behoue gebly het (kyk gerus http://en.wikipedia.org/wiki/Women_in_Ancient_Rome ).

 

Romeinse beelde uit die eerste eeu illustreer die tipiese kleredrag van die eervolle vrou. Net prostitute en vrouens met slegte karakter het sonder ‘n hoofbedekking rondgeloop en dit was as oneervol beskou. Die groot rede wat dikwels aangegee word, was dat vrouens mans met hulle hare kon verlei. Dit sien ons in antieke tekste waar mans oor vrouens se los hare kommentaar lewer (vg. Catullus; Ovid; Cicero). Die gebruik was dat vrouens enige deel van hulle liggame wat mans kon verlei, moes toemaak. Juis om hierdie rede lees ons in 1 Korintiërs 11:4-5 dat vrouens wanneer hulle bid of profeteer, ‘n hoofbedekking moet dra (1 Kor 11:5). Die eerste Christene het in huiskerke bymekaargekom. In die huis kon vrouens sonder hoofbedekkings rondloop,  maar met tyd het die huiskerke “publieke ruimtes” geword, en daarom het die Christene sensitief geword vir die verkeerde boodskap wat dit na buite kon uitstuur, veral in ʼn plek soos Korinte met die groot berg waar prostitute voorgekom het en ʼn baie onsedelike stad was. Volgens Korintiërs mag mans nie ʼn hoofbedekking dra as hulle bid of profeteer nie (1 Kor 11:4). Hierdie tipe gebruike kom nog steeds in Mediterreense kulture voor, veral by die Moslems. Vandag is baie mense van mening dat dit goed is om ‘n Joodse mantel met tossels te koop en afgesonder te “bid in jou eie tent” of “geestelike kamer”. Dit was regtig nie die manier hoe die antieke mense dit gesien het nie en maak daarvan iets wat dit nie in die Bybelse tyd was nie. Tot vandag toe nog sal die Amish vrouens ook hoofbedekkings dra omdat daardie gewoonte vir eeue lank in gebruik is (vir kerke wat dit vandag nog vereis, sien http://en.wikipedia.org/wiki/Christian_headcovering ). Hierdie mense glo dat ʼn vrou altyd ʼn hoofbedekking moet dra omdat sy enige tyd kan bid.

 

Ek onthou hoe die dra van hoede in die NG Kerk in die laat sewentiger jare en tagtiger jare nog ‘n gebruik was. Die tannie voor my se groot blou hoed het altyd gemaak dat ek nie die dominee kon sien nie. Die snaakse is dat dit ‘n misinterpretasie van die Bybelse tekste is en dat kerk en gewone lewe geskei was. In die publiek, die oomblik as die vroue in die karre geklim het, het hulle die breë hoede afgehaal.

 

In die antieke tyd was die dra van hoofbedekkings ‘n vereiste vir enige waardige vrou wat in die publiek verskyn. Die van ons wat al massa-Christelike byeenkomste of openings by skole gesien het, sal weet dat alle mans onmiddellik hulle hoedens sal afhaal as hulle bid. Dit kom van die teksgedeelte in 1 Kor 11:5, en het met tyd deel van die Europese kulturele erfenis geword.

Vir meer inligting lees: Bruce Winter, Roman Wives, Roman Widows

Hier onder is ‘n voorbeeld van so ‘n beeld met ʼn vrou en die hoofbedekking, met die tipiese kleredrag van die tyd. 

 Hoofbedekking

 

Skrywer: Prof Kobus Kok