Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (4)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (4) – Adrio König

Ons is besig met die vraag: Waarom het God alles geskep? Ons het reeds na twee aspekte – die eer van God en die skepping self gekyk. Ons kom nou by die laaste aspek. 

 

2.1.3 Die verbond

Ons gaan nie nou hier breedvoerig in op die verbond as sodanig nie. Dit doen ons elders (hoofstuk 1.2 en 1.3). Hier gaan dit net oor die verbond as die doel van die skepping. Ons het nou agtereenvolgens oor die eer van God en oor die skepping self as doel van die skepping gedink. Maar dwarsdeur die bespreking het dit om God én mens in verhouding tot mekaar gegaan.

 

Toe ons die eer van God bespreek het, het ons dadelik aandag gegee aan die eer wat mense Hom moet toebring. Toe het ons ook daaraan gedink dat sy hoogste eer juis lê in sy selfprysgawe om mense te red. Dit het dus gedurende die hele bespreking gegaan oor God en mense in verhouding met mekaar. Toe ons daarna gedink het oor die skepping self, en veral die mens, as God se skeppingsdoel, het ons dadelik verwys na die mens wat bedoel is om die beeld van God te wees en na die heerlike voorreg dat die doel van ons lewe is om God te verheerlik en Hom te geniet. Dit beteken in beide gevalle het dit om God én mens gegaan, maar om God en mens in verhouding met mekaar.

 

En dan moet ons mos aan die verbond dink, die ooreenkoms wat  God met Israel gemaak het: ”Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.” Dit is veral Karl Barth wat die verbond die doel van die skepping genoem het. Daarmee het hy eintlik twee dinge bedoel:

  • Dat die verbond, dit is die saamleef van God en mens, die rede is waarom Hy die wêreld gemaak het.
  • Dat die wêreld die plek is waar die verbond gestalte moet kry, dit wil sê waar God en mens in gemeenskap moet saamleef.

’n Mens kan dit nogal ’n bietjie probeer aflei uit Genesis 2-4. Dit is opvallend hoe hierdie verhaal begin. Voor daar regtig voorsiening vir die mens op aarde is omdat die aarde nog kaal en dor was, maak God al die mens (2:4b-7). Maar direk daarna sorg Hy vir die mens (2:8 ev). Die tuin waar die mens kan woon, is baie idillies as ’n mens onthou die verhaal is in Israel geskryf, wat in daardie tyd hoofsaaklik maar ’n droë kalkklipperige wêreld was. God plant ’n pragtige tuin met ’n oorvloed water en vrugtebome. En die implikasie van Genesis 3:8 is dat die Here gereeld by hulle kom kuier het, en regtig in hulle lewens gedeel het.

 

Al kom die woord “verbond” nie in hierdie hoofstukke voor nie, is die boodskap van hierdie hoofstukke dat hier ’n baie noue verhouding tussen God en mens ontwikkel het, ’n verhouding waarin die Here die inisiatief geneem het en die mens versorg het, en die mens die geleentheid gekry het om die Here te gehoorsaam, te dien en te eer. Die Here gee aan die mens wonderlike verantwoordelikhede, en voorsien op ’n buitengewone manier in sy behoefte aan ’n maat (2:15-24).

 

Daar is interessante ooreenkomste tussen hierdie verhaal, dié van Abraham, en die uittog. In al drie gevalle neem God die inisiatief, in al drie is Hy die een wat getrou is en sy beloftes hou, in al drie stel die mense Hom herhaaldelik teleur. Ons sien hoe Adam en Eva wat aan Hom ongehoorsaam is, Abraham wat herhaaldelik leuens vertel om uit die moeilikheid te kom, en Israel wat telkens in die woestyn in opstand kom teen die Here.

 

En dit is presies hoe die verbond in die geskiedenis gewerk het … en nog steeds werk: God se trou en ons ontrou! Maar dit kon en moes alles anders gewees het. God het dit inderdaad anders bedoel. As Adam en Eva, as Abraham, as Israel konsekwent en getrou na die Here geluister het, sou die geskiedenis heeltemal anders geloop het. Dink maar net aan Israel. Die Here sou hulle so geseën het dat hulle so voorspoedig sou gewees het dat die volke na Jerusalem sou stroom en die Here daar saam met Israel sou kom dien het. Hieraan gee ons elders volle aandag (hoofstuk 8.1). Maar nou is dit net nodig om hierdie prentjie helder voor ons oë te kry. Die doel van die Here met die skepping van alle dinge was om in so ’n verhouding met ons te leef dat ons Hom en sy seëninge sou geniet, en Hom voortdurend daarvoor sou dank. Dit sou ’n verhouding van sorg van sy kant en dank en aanbidding van ons kant gewees het.

 

As ons nou terugkyk op die drie verskillende standpunte oor God se skeppingsdoel met ons en die wêreld, is dit duidelik dat ons hierdie standpunte nie téén mekaar hoef af te speel nie. Hulle sluit by mekaar aan en verryk mekaar.

  • Natuurlik gaan dit om die eer van God. Natuurlik moet ons Hom in liefde eer, verheerlik, aanbid, gehoorsaam en dien om dat Hy ons gemaak het om sy goedheid met ons te deel.
  • En natuurlik is sy doel dan dat ons met vreugde mense kan wees en dit kan geniet om te lewe, te werk en te speel, en ons lewe in sy diens en in diens van mense in nood te stel.
  • En natuurlik veronderstel sy eer en ons lewensvreugde as skeppingsdoel ’n verhouding tussen Hom en ons waarin Hy die inisiatief neem om ons te versorg en te beskerm, en ons antwoord met dankbare diens vir sy oorweldigende genade.

 

Maar nou die groot vraag: Wat het dit alles nou met heil en saligheid te doen? Dit het dan nou die hele tyd net gegaan oor God se skeppingsdoel.

Oor die heil/saligheid het baie gelowiges heeltemal ’n ander beklemtoning as dit waarmee ons nou hier werk. Dit gaan vir hulle glad nie oor hierdie aarde/wêreld en hierdie lewe nie, eerder oor die hemelse geluksaligheid eenmaal na die dood ver van hierdie aarde by die Here in die hemel. Hierdie aarde sou dan net ’n “jammerdal” wees wat moet verbygaan. Ons sou hier net pelgrims wees op pad na ons eintlike vaderhuis by die Here in die hemel. Ons sal by die dood die “tydelike” met die “ewige” verwissel en dan kry ons in die hemel die huis wat Jesus vir ons berei het. Hierdie aardse lewe sou dan maar net die tydelike voorbereiding vir die ewigheid by die Here in die hemel wees. Ons lewe in die hemel sou dan die eintlike lewe wees waarvoor hierdie lewe net ’n voorbereiding is. As dit so ongeveer jou oortuigings is, hou vas daaraan. Kom ons blaai nou deur die Bybel en kyk waar kry ons dit.

 

Maar intussen hou ons ook vas aan God se skeppingsdoel, want dis tog logies dat dit direk verband sal hou met heil/saligheid. God se skeppingsdoel was tog seker om ons salig, gelukkig, heel  te maak. En kort saamgevat het ons gesien God se doel was om ’n aarde te maak waar ons in sy gemeenskap en onder sy sorg kan leef en Hom in liefde daarvoor kan eer en dank.

 

Kom ons hou vas aan hierdie twee gekursiveerde paragrawe terwyl ons deur die Bybel blaai. Ons gaan by die Ou Testament begin en deurwerk tot die einde van die Nuwe Testament om in Openbaring 21, 22 te eindig.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (3) – Adrio König

Ons is besig om te kyk na die doel van die skepping – hoekom het God alles geskep? In die vorige gedeelte het ons na die eer van God gekyk. Ons gaan nou verder.

2.1.2 Die skepping self, spesifiek die mens

Hier het ons ’n ander standpunt oor die doel van die skepping: die skepping self, of meer spesifiek die mens. Dit kan gesien word as in teenstelling met die vorige een: die eer van God. Word die mens nou hier in die plek van God ingeskuif? Kom die mens nou in die middelpunt? Skuif die mens God nou uit? “Dan is dit mos suiwer humanisme” is ’n bekende slagspreuk wat sommige graag gebruik.

 

Trouens in die geskiedenis is Calvyn en Luther ook soms só teenoor mekaar gestel. Calvyn het inderdaad die eer van God beklemtoon, en Luther die heil van die mens. Sommige het dit gesien as ’n teenspraak. Vir Calvyn sou dit dan om God gegaan het, maar vir Luther om die mens. En dit sou dan onaanvaarbaar wees.

 

Maar dit kan mos nie so werk nie. Het ons dan vergeet van watter God ons praat? Ons praat dan van die God van liefde, van die God wat alles veil gehad het vir mense. Sou sy eer dan téénoor die heil  van mense staan? Of is sy eer juis om alles te gee om mense te red?

 

Dit lyk my ons kan maklik hierdie twee standpunte sien as twee kante van dieselfde saak: die skeppingsdoel van God.  Dit beteken dat die mens ’n eie waarde het. God se skeppingsdoel was om ’n aarde te maak waarop Hy mense kon sit om in gemeenskap met hulle te leef. Dit is wonderlik om ’n mens te wees. God se doel met ons is dat ons sy beeld sal wees, en daarvoor moet ons in ’n verhouding van liefde en trou met Hom leef. Waarom soek ’n mens nog na sin in die lewe? Omdat Hy vir ons omgee, het ons lewe klaar sin, ongeag al die ander omstandighede waarin ons kan beland.

 

Voor ons verder gaan, moet ons eers weer kyk na die begrip “doel”. Ons is God se skeppingsdoel. Ons het dus ’n doel. Maar net hier moet ons oppas. Daar is gevare aan die begrip “doel” verbonde. Ons leef in ’n Westerse samelewing waarin alles ’n doel het of ’n doel moet hê. Elke mens of ding moes iets beteken, nuttig wees. Ons leef in ’n kultuur van wedywering en prestasie. Ons sloof ons af om bo uit te kom. Ons kinders moet eerste staan (in die klas), of eerste kom (in sport). Die arme gemiddelde kind tel nêrens nie. Net die name van die “uitblinkers” verskyn op die lys.

 

En intussen vergeet ons om te lewe, en om ons kinders te leer lewe. Intussen vergeet ons om regtig te leef – dit het ook te doen met speel, ontspanning, niks doen. En veral met verhoudings, met saam wees, met vir-mekaar-daar-wees. Twee saam halveer die smart en verdubbel die vreugde. ’n Hollandse boek het die titel: “Die wêreld gaan aan vlyt ten onder.” Ek het ’n vriend wat sê sy grootste probleem is dat hy nie tyd het om sy geld te geniet nie. Stop! Begin lewe. Begin God dank vir die voorreg om ’n mens te wees.

 

Ons mag dus die lewe geniet. Ons mag die skepping van God geniet: die berge en bome (veral die vrugte!). En ons mag ons eie lewe ook geniet as die skepping van God. Ons mag ons potensiaal ontwikkel, ons verhoudings uitbou, ons lewe toewy aan die diens van ons Here en die mense in nood. En die meeste van alles: Ons mag God geniet. Die Westminster Kategismus antwoord soos volg op die vraag wat die doel van ons lewe is: Om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet. Dis so  jammer dat ons so ’n negatiewe beeld van God het as die een wat ons ten alle koste moet tevrede stel, as die een wat “waghou oor sy eer”, en so min aan Hom dink as die Een wat ons lewe die moeite werd maak, as die een wat goed en genadig en getrou en geduldig met ons is. Dink meer kere oor Hom as die pa van die verlore seun. Dit was ’n fees toe die seun weer terug was by sy pa (Luk 15). Die nadruk op ons lewe op aarde sal ons ook help om nie ’n eensydige hemelverlange te ontwikkel nie.

 

Ons is deel van die aarde, gemaak vir die aarde om op die aarde te bly en op die nuwe aarde verheerlik te word in die hemelse teenwoordigheid van die Here. “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee” (Ps 115:16). Ons mag nie toelaat dat ons godsdiens ons vervreem van die woonplek wat die Here vir ons gemaak het nie. Daar mag nie van ons gesê word nie: “They are so heavenly minded that they are of no earthly use.” Alhoewel ’n mens tog kan wonder of die gevaar nie groter is nie dat hulle van ons kan sê: “They are so selfminded that they are of no Godly use.

 

Gesonde selfvertroue help ’n mens om jou lewe te geniet. Dis ’n skande dat ons soms ons eie tekortkomings en mislukkings probeer wegpraat met: “Ag, ek is ook maar net ’n mens.” God het nie sukkelende, onbetroubare, treurige wesens geskep toe Hy mense gemaak het nie. Ons is bedoel om sy beeld te weerspieël. Dis ’n mondvol!

 

Ons kan moed skep, inisiatief neem, waag. Is hierdie nie ’n eensydig optimistiese prentjie van menswees nie? Is die klipharde waarheid nie dat ver meer as die helfte van die mense op aarde in armoede en nood en ellende leef nie, dat miljoene mense omtrent nooit rede het om te glimlag nie, dat talle en talle babas nie een dag ooit genoeg melk kry nie? Is dit nie ook die klipharde waarheid dat miljoene mense wat genoeg en meer as genoeg het om in oorvloed te leef, in eensaamheid of in

uitmergelende spanningsverhoudings leef met die mense naaste aan hulle nie? Is dit sinvol om met hulle te praat oor die mooi berge en bome en lekker vrugte en oor die uitdaging om ons potensiaal te ontwikkel en ons gemeenskap met God te geniet?

 

Nee, seker nie sonder meer nie. Maar dis nie God wat daarvoor verantwoordelik is nie. Die ellende op aarde kan ons liewer op ons eie rekening skryf. En dit geld globale en individuele verhoudings. Globaal is daar genoeg kos op aarde om alle mense te voed, en dis mense wat daarvoor verantwoordelik is dat vreeslik baie mense gereeld honger gaan slaap. Soms is dit hulle eie skuld, en soms ander mense of strukture s’n.

 

Maar ons het wel die boodskap dat God ons roep om vir ander om te gee. Ons het trouens dié Voorbeeld van alle voorbeelde wat sy lewe gewy het aan mense in nood, en wat ons roep om sy dissipels te wees. Ons, gelowiges, het ’n verantwoordelikheid om mense in nood te help. Dis goedkoop om net “geniet die lewe” te preek, en nie die struikelblokke in ander se pad te help verwyder nie. “Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood” (Jak 2:15-17). Dit beteken dat ons die nadruk oor die skeppingsdoel ’n bietjie moet verskuif. Daar is ’n verskil tussen die aarde soos God dit bedoel het, en die aarde soos dit tans lyk. Ons kan dus verwag dat daar ook ’n verskil sal wees tussen die oorspronklike skeppingsdoel van God vir ons, en sy doel in hierdie situasie van nood en ellende.

 

Kom ons probeer ons indink wat die verskil sou wees tussen Jesus se lewe in Palestina waarvan die Evangelies ons vertel, en hoe Jesus op aarde sou geleef het as daar geen sonde en ellende was nie. Dit sou in ’n sekere sin twee totaal verskillende lewens gewees het. Die lewe wat Hy regtig in Palestina geleef het, is ondenkbaar sonder die mense-in-nood om Hom. Sy genesings, vergifnis, sorg oorheers sonder meer sy lewe. Wat sou Hy gedoen het as daar nie mense-in-nood was nie? “One guess is as good as the other.” Maar ek dink Hy sou in die Tuin van Eden gaan bly het en die bome versorg en die vrugte geniet het. Dalk sou Hy nog meer bome geplant het en selfs nuwe soorte ontwikkel het. Wat is jou raai? Wat is die punt? Dat die toestand van die wêreld sy lewensingesteldheid en daarom sy lewensdoel bepaal het.

 

En ons s’n? Natuurlik kan ons nog altyd praat oor die skeppingsdoel as die skepping self en vreugde in ons eie lewe. Maar ons ingesteldheid verander. Ons kyk met ander oë na die skepping, na die mense om ons, en daarom na onsself. Of liewer: Ons behoort. Maar doen ons dit? Leef ons nie dalk ons eie lewe asof daar nooit sonde gekom het en al die ellende daarmee saam nie? Leef ons nie dalk ons eie lewe asof ons net die lewe kan geniet en by wyse van spreke soveel vrugtebome plant as wat ons wil en so goed moontlik voorsiening maak vir ons oudag nie? Alles vir onsself – in ’n wêreld van nood? Of leef ons regtig bewustelik en planmatig in ’n wêreld waar sonde en ellende beveg moet word in die Naam bo alle name? Is dit nie die doel wat God in hierdie omstandighede vir ons lewe het nie? En gaan dit dan nie nog altyd oor hierdie skepping as skeppingsdoel nie, maar nou ’n aangepaste doel met die oog op die behoefte wat hierdie skepping in hierdie spesifieke  omstandighede het nie?

 

Ons is besig met die vraag: Waarom het God alles geskep? Ons het na twee na twee aspekte gekyk. Volgende keer gaan ons na die laaste aspek – die verbond – kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (2) – Adrio König

Waarom het God alles geskep? In die vorige artikel het ons ‘n algemene oorsig gegee. Nou bespreek ons die eerste rede waarom God sou geskep het.

2.1.1 Die eer van God

’n Mens kan vir ’n oomblik wonder hoe die eer van God ’n beskrywing van die saligheid kan wees. Maar kom ons kyk. Vir baie Christene is die eer van God hoog op die agenda, en terég ook. Ons ken almal die Latynse spreuk: Soli Deo gloria, net tot eer van God. En alles behoort net tot eer van God te wees. Alles behoort op God gerig te wees en ter wille van Hom te bestaan. Ons kry dan ook herhaaldelik in die Nuwe Testament die bekende uitdrukking “tot Hom is alle dinge” (Rom 11:36; 1 Kor 8:6). God het dus alles geskep met die doel dat alles op Hom gerig sal wees en Hom sal vereer en verheerlik.

 

Daar is selfs die onderskeid gemaak tussen God se “objektiewe eer” en “subjektiewe eer”. Die hele skepping, alles wat bestaan, ook die onpersoonlike dinge, bestaan tot sy eer. Psalm 19:1-7 is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Die hemel, die uitspansel, dag en nag, alles onpersoonlike dinge, getuig van die mag van God. “Die hele aarde betuig sy mag” is GN (Gute Nachricht, ‘n Duitse vertaling) se vertaling van Jesaja 6:3. Dit word dan objektiewe eer genoem, lof aan God wat vas staan en nooit verander nie.

 

Maar ons as mense het die roeping om hierdie objektiewe eer subjektief te maak, persoonlik. Ons moet die eer van God wat alreeds in die natuur bestaan, verklank. En met hierdie perspektief kan ons nou maklik insien hoedat die eer van God as skeppingsdoel ons heil/saligheid kan wees. God het die mense geskape om Hom te verheerlik. Net wanneer ons Hom verheerlik, bereik ons werklik ons doel en kan ons regtig gelukkig (salig, heel) wees.

 

Natuurlik moet ’n mens nog weer nadink oor die gedagte van die eer van God as die doel van die skepping. Dit is hierdie gedagte wat aanleiding daartoe gegee het dat sonde gesien word as die aantasting van die eer van God. En omdat daar niks groter en heerliker is as Hy nie, is die aantasting van sy eer ook die groots moontlike oortreding wat begaan kan word. En daarom moes Hy die sonde straf met die hoogs moontlike straf, die verderf.

 

Dis alles baie netjies en logies geformuleer. Maar watter indruk skep dit werklik oor God? Lyk Hy nie soos iemand wat baie gesteld is op sy eer en nie vreeslik vergewensgesind is nie? Daarom is dit wonderlik dat ’n mens die saak ook anders kan verstaan. Dit is nie waar dat dit vir God net om sy eie eer gaan ondanks alles wat met mense gebeur nie. Is dit nie eerder waar dat God ons juis rede wil gee om Hom te eer nie? En is die motivering wat Hy ons gee, nie juis dat Hy ons deel gee aan sy lewensvreugde sodat ons in sy gemeenskap regtig gelukkig kan wees nie? Dan eer ons Hom mos van harte, en nie uit dwang nie.

 

Ons weet wel dat die Babiloniërs geglo het onbelangrike gode het die mense gemaak omdat hulle nie meer bereid was om self al die swaar werk vir die belangrike gode te doen nie. Maar dis mos nie hoe die God van Israel werk nie.

 

Die eerste Vatikaanse Konsilie van die Katolieke Kerk het soos volg oor die skeppingsdoel besluit: “God het die wêreld deur sy goedheid en oneindige mag geskape, nie om sy geluk te vermeerder of om volmaakter te word nie, maar om sy geluk en volmaaktheid te openbaar deur die goedheid wat Hy aan die  skepsels gee.”

 

Ons kan van twee kante af na hierdie formulering kyk. Die skeppingsdoel van God is om sy goedheid met ons te deel. Dit is nie net ’n baie mooi formulering nie, maar dis ook die waarheid. Hoe graag wou God nie sy grootheid en heerlikheid en goedheid met Israel deel nie. Hy wou hulle voorspoedig maak sodat al die volke Jerusalem toe sou stroom om Hom daar te kom dien en iets van sy goedheid daar te ervaar (Jes 2:2-5; 60:3; Jer 3:17).

 

Ons moet immers onthou dat die doel van die skepping die eer van God is, maar watter God? Dis die God van liefde, die God wie se grootste eer juis sy eie selfprysgawe is, die liefdesoffer in die vernedering en kruisdood van sy geliefde Seun. Die eer van God is nie selfsug nie, dit kos Hom iets, alles!

 

Maar daar is ook ’n ander kant. Die besluit lui ook dat God nie die wêreld geskep het om sy geluk te vermeerder nie. Die gedagte agter hierdie formulering is dat God se volmaaktheid beteken dat Hy klaar alles het en op geen manier iets kan bykry nie. Die ou bekende formule is dat Hy selfgenoegsaam is. Dit is ’n baie goeie gedagte solank ons daarmee bedoel dat God nie deur ander wat ryker is as Hy, verryk kan word nie.

 

Maar sou ons nie tog kon sê dat God Homself kan verryk nie? Is dit regtig waar dat God klaar alles het en alles is, en in geen opsig meer kan kry of meer kan word nie? Is die teendeel nie eerder waar nie? Het God nie Homself verryk deur sy skepping nie? Hy het die eer en heerlikheid bygekry wat sy skepsels Hom gee, wat Hy nooit tevore gehad het nie omdat daar nog nie skepsels was nie. Het Hy nie in verhoudings gekom waarin Hy nie tevore was nie, en ook nuwe ervarings gehad nie?

  • Hy het die Skepper geword, wat Hy nie tevore was nie,
  • later die God van Abraham, Isak en Jakob,
  • later die teleurgestelde God omdat Israel so ontrou aan Hom is,
  • nog later die Vader wat die hoogste offer gebring het.

Dink maar net aan die geweldige geskiedenis wat God deur die eeue deurgemaak het met Israel, en later met die kerk en die wêreld.

 

Dit is alles natuurlik ’n gevolg van die skepping. Maar is dit nie ook deel van sy doel met die skepping nie? Was dit nie dalk regtig iets wat God bedoel het nie: Om met mense in gemeenskap te leef en  hulle in sy heerlikheid te laat deel nie? Het dit nie tot die vermeerdering van sy eer gelei nie? Het Hy nie baie dinge beleef wat Hy nooit anders sou beleef het as Hy nie geskep het nie, positiewe dinge én negatiewe dinge? Het dit nie sy ervarings veel ryker gemaak nie?

 

Sou ons dus inderdaad kon sê die doel van die skepping was dat God nuwe ervarings wou opdoen en Homself daardeur verryk?

 

Ons is besig om na die doel van die skepping te kyk. In hierdie gedeelte het ons na die eer van God gekyk. In die volgende gedeelte gaan ons na die skepping self, spesifiek die mens, kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (1) – Adrio König

Heil – Saligheid

2.1 Die doel van die skepping

Natuurlik is heil of saligheid een van die sentrale temas in die Bybel. Maar wat bedoel ons regtig as ons hierdie woorde gebruik? Dis interessant dat mense dikwels twee sake verwar: die saligheid, en die weg tot saligheid. As ons praat oor weergeboorte, bekering, regverdiging, sondevergifnis, praat ons nie oor die saligheid nie, maar die weg tot saligheid, die manier waarop ons in die heil deel kry. Die pad Kaapstad toe is tog nie Kaapstad nie.

 

In hierdie bespreking gaan dit nou oor die saligheid self, nie die heilsweg, die pad daarheen nie.

“Heil” is nogal naby aan “heel”. Sou “heil” (saligheid) kon beteken dat alles heel, reg, in orde is, reg werk, sy doel bereik? Kom ons kyk.

 

Ons sou seker kon begin om te vra waarom God alles geskep het. Hy het seker nie sommer uit die bloute besluit om te skep, en toe sommer lukraak daarmee voortgegaan nie. Ons kan seker verwag om in die Bybel aanduidings te kry van ’n skeppingsdoel. En dis seker redelik om te aanvaar dat saligheid iets met hierdie doel van God te doen het.

 

As ons in die geskiedenis rond lees, is dit interessant hoe graag teoloë standpunte téénoor mekaar gestel het: Ek/Ons is reg, jy/julle is verkeerd. En natuurlik is daar aspekte van die boodskap van die Bybel waaroor ons inderdaad so moet dink. Ons kan nie maar glo wat ons wil oor die wonderwerke en die kruis en die opstanding van Jesus nie. Wie ontken dat Jesus deur sy kruisdood versoening vir ons by God bewerk het, kan hom- of haarself seker beswaarlik nog ’n Christen noem.

 

Maar dit geld tog regtig nie vir al die aspekte van die Bybelboodskap nie. Die vraag of die doop van gelowiges se babas reg of verkeerd is, lê tog nie op dieselfde vlak nie, of die vraag of weergeboorte of bekering eerste kom nie – ’n vraag wat in elk geval heel moontlik op ’n misverstand berus. Ons moet ’n gevoel ontwikkel vir wanneer dit om die wese van die evangelie of die hart van die Bybelboodskap gaan, en wanneer verskillende standpunte eerder verrykend op mekaar kan inwerk as om gelowiges onnodig teenoor mekaar in kampe op te stel.

 

Kom ons kyk na die vraag waarom God alles sou geskep het. Omdat ons nie duidelike en direkte verwysings daarna in die Bybel kry nie, kan ons dalk tog wel uit ’n algemene bespreking van die groot lyne in die Bybel aanduidings daarvan kry. In die geskiedenis het daar veral drie sake na vore gekom:

  • die eer van God
  • die skepping self
  • die verbond

 

Maar soos reeds genoem, is hierdie sake eerder téénoor mekaar gestel en teen mekaar afgespeel. Terwyl ons na hierdie sake kyk, gaan ons vra of dit regtig nodig is. Kan hierdie verskillende sienings mekaar nie dalk juis onderling verryk nie? ’n Mens moet in hierdie bespreking onthou dat ons uitgangspunt is dat die doel van die skepping die saligheid/heil is. Ons sal regtig gelukkig wees, heel wees, as ons bereik wat God met die skepping bedoel het.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König