Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (2)

Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (2) – Adrio König

God se verbond met Abraham (2)

Daar is twee besondere sake in verband met hierdie verbond waaraan ons nou breedvoeriger gaan aandag gee:

1.2.1 Die inhoud van die verbond met Abraham

As ons daaraan dink dat die verbond met Abraham deurloop tot in die Nuwe Testament, is dit belangrik om te weet wat die inhoud daarvan is. Die vraag is ook of die inhoud dwarsdeur die Bybel dieselfde bly. As ons Genesis 12, 15 en 17 ontleed, kry ons in elke hoofstuk drie kernelemente: die verhouding met God, die nageslag en die land.

Die inhoud van die verbond Genesis 12 Genesis 15 Genesis 17

Die verhouding met God 12:1a, 2b, 3a 15:1 17:1, 7

Die nageslag/die menigte van nasies 12:2a, 15:2-5, 18 17:4-6, 8-9

Die land 12:1 15:7, 18-21 17:8

 

Eintlik sou ’n mens hierdie drie elemente ook kon aflei uit die bekende verbondsformule: Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees. Daarin het ons die verhouding God-Israel, en dis vanselfsprekend dat ’n volk ’n nageslag en ’n land moet hê. Wat nie vanselfsprekend is nie, is die menigte nasies wat uit hom sal voortkom en in hom geseën sal wees (12:3).

 

Op die oog af, sou ’n mens baie maklik kon dink ons het hier ’n bloot natuurlike nasionale volksverbond. ’n Mens sou selfs kon dink die teken van die verbond, die besnydenis, is ook bloot “vleeslik”, net die teken dat ’n seuntjie ’n Israeliet (Jood) is. Maar skyn bedrieg. Kom ons kyk afsonderlik na hierdie verskillende elemente.

 

Eerstens, die verhouding met God is nie bloot natuurlik en ’n nasionale volksaak nie. Natuurlik was so ’n verhouding goed bekend in die omgewing van Israel. ’n Bepaalde volk het ’n bepaalde God gehad, en so het dit gebly. Dit was ’n gegewe, vanselfsprekend. Maar die verhouding tussen Israel en die Here was ’n geloofsverhouding. Daarom kan Hy hulle keer op keer deur die profete dreig dat die verhouding tot niet kan gaan. Die Here kan hulle in sy oordeel eenvoudig gelykstel met die ander nasies. “Julle Israeliete is vir My nie anders as die Kussiete nie, sê die Here. Ek het vir Israel uit Egipte laat trek, maar ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir” (Amos 9:7). Dit beteken die wonderlike uittog uit Egipte (hoofstuk 9), die geboorte van die volk, kom op dieselfde vlak as enige gewone volksverhuising wanneer die volk volhardend ontrou is aan die Here. Ons kry dieselfde bedreiging in Jeremia. Dis lekker om soms na ’n ander vertaling te luister. “Look, the days are coming, Yahweh declares, when I will punish all who are circumcised only in the flesh: Egypt, Judah, Edom, the Ammonites, Moab … For all those nations and the whole house of Israel too, are uncircumcised at heart” (9:24-25 NJB). Dit is opvallend dat, net soos in Amos, Juda en Israel hier in een asem en op dieselfde vlak as die heidense nasies genoem word. Daar was dus geen vanselfsprekende verhouding tussen God en Israel nie. Dit was ’n geloofsverhouding wat in stand gehou moes word.

 

In die Nuwe Testament word hierdie geloofskarakter van die verhouding God-Israel geradikaliseer. Dink maar net aan die einde van Jesus se aardse bediening as Hy besef die volk (veral die volksleiers) gaan nie na Hom luister en hulle bekeer nie. Dan kry ons die radikale uitsprake: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal oplewer” (Matt 21:43), en verder: “Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Matt 23:38). En Paulus skryf dit nog duideliker: “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref” (1 Tess 2:16).

 

Natuurlik beteken dit nie dat Israel nou uit die heil uitgesluit is nie, maar wel dat hulle hulle besondere plek verloor het waarin God juis deur hulle die heidennasies wou bereik (hoofstuk 8.2).Hierna is die dissipels direk na die heidene gestuur, en toe hulle tot bekering kom, moes hulle Israel jaloers maak in die hoop dat Israel dan sal terugkom deur Jesus as Messias te aanvaar (Rom 11:11, 13-14). Israel se verbondsverhouding met die Here was dus uit en uit ’n geestelike saak, ’n geloofsaak.

 

Tweedens die nageslag en die menigte van nasies. Hierdie verbondseën kan die verbond nog makliker as die Godsverhouding na ’n natuurlike, “vleeslike” verhouding laat lyk. Maar kom onskyk noukeuriger. Van die begin af besef ’n mens hier is meer op die spel. Hier is eintlik twee beloftes wat inmekaar ingeweef is en dwarsdeur saamloop. Saam met die nageslag word beloof

  • dat al die volke van die aarde in Abraham geseën sal wees (Gen 12:3),
  • dat Abraham die vader van ‘n menigte van nasies sal wees, ja, dat die Here hom “tot nasies sal maak” (Gen 17:4-6),
  • dat nasies en konings van volke uit Sara sal voortkom (Gen 17:16).

Dit gaan dus in elk geval nie net om die volk Israel nie.

 

En dan dink ‘n mens dadelik aan die lyn wat deur die profete loop, dat al die nasies na Jerusalem sal stroom. Die bekendste voorbeeld is die profesie in Jesaja dat daar ‘n tyd kom wanneer die Sionsberg hoog bo ander berge sal uittroon (waarskynlik simbolies bedoel), en dan sal “al die nasies daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en sê: ‘Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe … sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe'” (2:3). Ons kry ongeveer dieselfde profesie in Miga 4:1-5.

Maar dieselfde gedagte van die volke wat na Jerusalem sal stroom, of elders die Here sal begin dien, kom dikwels en in verskillende vorms voor. Dink maar net aan die wonderlike profesie oor Egipte (Jes 19:18-25). Hierdie profesie eindig só: “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel,my eiendom.” Hier verskyn Israel weer op presies dieselfde vlak saam met ander nasies, maar nou in ‘n heerlikheidsverband, en nie onder die oordeel soos ons vroeër gesien het nie (Am 9:7).

Só word die belofte van ‘n nageslag aan Abraham vervul! Dis ‘n hoogs geestelike saak. Jeremia gee die sleutel om hierdie volkerebekerings te verstaan. Wanneer die volk hulle bekeer, sal die Here hulle só seën dat Israel “die troon van die Here” genoem sal word. Dan sal “al die nasies in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer” (Jer 3:17). Dit word in die volgende hoofstuk herhaal. As Israel hulle bekeer, “sal die nasies hulle seën van die Here verwag en in Hom roem” (4:1-2).

 

Sagaria het net so ‘n heerlike vooruitsig. Baie volke sal na Jerusalem kom en sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here” (Sag 8:21). Is dit nie presies wat die Here oorspronklik aan Abraham beloof het nie, dat alle volke in hom geseën sal wees? Maar hierdie belofte het van die begin af saam met die een geloop van die volke wat Jerusalem toe kom. Die twee is eintlik ‘n eenheid. Die Here sal die nageslag van Abraham seën, dan sal hulle baie word en so voorspoedig wees dat die volke gelok sal word om te kom kyk, en ook die Here te begin dien. Dit is wat ons die Ou Testament se “sendingmetode” noem (hoofstuk 8.1.3). Israel was nie geroepe om na die volke te gaan nie. Hulle moes net aan die Here getrou bly. Dan sou Hy hulle so seën dat die volke kom kyk.

 

Dit verander dan in die Nuwe Testament waar Israel uit hierdie posisie verwerp word en die dissipels na die heidene moet gaan. Ons noem die eerste die sentripetale (middelpunt-soekende) metode, en die tweede die sentrifugale (middelpunt-vliedende) metode. Die teleurstelling is egter dat dit nie in die Ou Testament gewerk het nie. Israel was nooit werklik oor langer tydperke aan die Here getrou nie. Inteendeel, veral Esegiël moet hulle later verwyt dat die teendeel gebeur het. In plaas daarvan dat hulle die volke oorreed om die Here te eer, spot die volke met die Here omdat Hy die volk oor hulle ontrou in ballingskap laat gaan het (Eseg 36:1-32). In plaas van om eer aan die Here te bring, bring hulle oneer op sy Naam. “Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede” (Eseg 36:32). Kyk by hoofstuk 9.2.2. As Jesus dan as die laaste en die groot profeet Israel tot bekering kom roep, en hulle enduit nie luister nie, maar Hom verwerp, het hulle maat vol geword en word die koninkryk van hulle weggeneem. Hierna het ons reeds verwys (Matt 21:43; 23:37-38; 1 Tess 2:16).

 

En wat het nou van die nageslag van Israel en van die nasies geword? Is dié belofte tot niet? Paulus werk in Galasiërs 3 met Abraham. Ons gaan later in hierdie hoofstuk breedvoerig daaraan aandag gee. Maar intussen kyk ons net na die uitleg wat hy van die nageslag van Abraham gee, ‘n uitleg wat om die minste daarvan te sê, baie vreemd voorkom.

 

Hy skryf oor die verbond met Abraham, die seën aan Abraham, en die beloftes aan Abraham. En dan vervolg hy: “God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling gegee. Daar staan nie ‘aan nakomelinge’, meer as een nie, maar: ‘en aan jou nakomeling,’ net een, en hierdie nakomeling is Christus” (3:16). Soos reeds opgemerk, lyk dit na ‘n uiters vreemde uitleg. Die belofte kom dikwels in die Ou Testament voor, maar daar staan deurgaans “nageslag” (oa Gen 12:7; 13:15; 15:5, 18; 17:8; 24:7). En nageslag impliseer baie mense. Trouens die Here beloof dit self aan Abraham: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan … So baie sal jou nageslag wees” (15:5). Hoe kan Paulus nou daarvan één persoon maak, en die een sou dan Christus wees? Dit beteken Paulus skryf dat Abraham eintlik net een nakomeling gehad het, en dié was Christus. Maar dit kan mos nooit werk nie?! Nee, dit kan. Want die nageslag soveel “soos die sterre aan die hemel” het nie gewerk nie. Ons het mos nou net die geskiedenis gevolg. As Israel aan die Here getrou was, sou die Here hulle só seën dat die volke na Jerusalem sou stroom om die Here daar te kom dien. Dit was God se doel met die verbond met Abraham. Dit was glad nie om ‘n aparte volk te bou wat geen kontak met die nasies het nie. Die volk moes die aantrekkingskrag wees waarmee die Here al die nasies vir Hom wou wen.

 

Maar die teendeel het gebeur, hulle was so ontrou dat die Here hulle so moes straf dat die nasies met Hom en sy volk gespot het (Eseg). En uiteindelik moet Jesus aankondig dat die koninkryk
van hulle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat vrugte sal dra. Maar waar kry Hy hierdie volk? Deur sy dissipels na die heidene te stuur. Maar die heidene is mos nie die volk van God nie.

 

Hy soek vir Abraham ‘n nageslag. Hoe kan die heidene Abraham se nageslag word? Die lyn deur Isak het mos nie gewerk nie. Maar daar is ‘n nuwe “Isak”, Christus. Soos Abraham se eerste nageslag uit een nakomeling voortgekom het, uit Isak, so sal die tweede nageslag ook uit een nakomeling voortkom, Christus. Deur hierdie Nakomeling sal God ‘n nuwe volk verwek. Paulus werk waarskynlik hier met ‘n woordspeling. Hy is heeltemal reg, die Hebreeuse woord vir “nageslag” is ‘n enkelvoud en kan ook “nakomeling” beteken. En die geskiedenis dwing Paulus nou om hierdie uitweg te volg. Daar moet ‘n nuwe begin gemaak word, en dié begin is Christus. Alle paaie lei na Jesus!

 

En net soos die belofte aan Abraham het ook in Christus se geval dit nie by net een nakomeling gebly nie. Abraham is mos nie die einde van sy redenasie by Galasiërs 3:16 nie. Hy gaan voort tot by 3:26-29: Deur die doop is ons aan Christus verbind, en dan is ons ook “nakomelinge van Abraham”. Dus skielik is ons terug by die “baie”, by die groot nageslag. Maar hierdie keer deur Christus, want die lyn deur Isak het nie gewerk nie. Wat destyds deur die besnydenis gebeur het, gebeur nou deur die doop.

 

Skielik verstaan ‘n mens ook waarom die tussensin tussen 3:27 en 3:29 staan: Griek of Jood, slaaf of vry, man of vrou maak nie saak nie. Dit gaan nou immers om die menigte nasies wat beloof was vir Abraham. Hulle, die hele verskeidenheid, word nou nakomelinge van Abraham.

 

Wat ‘n lang verduideliking om een punt te maak, maar ‘n kernpunt: die nageslag en die baie nasies was ook nie bedoel as ‘n “vleeslike”, nasionale saak nie. Dit het diep geestelike waarde gehad. Die nageslag loop uiteindelik op Christus self uit. “Geesteliker” kan dit seker nie! Alle paaie lei na Jesus.

 

Derdens die land. Die laaste belofte in die verbond is die land. Ten minste dít lyk baie letterlik, “vleeslik”, volksgebonde. Die Here neem ‘n land van heidene af en gee dit aan sy volk. Ons moet egter nie die fout maak om te dink dit staan los van geloof nie. God het Israel se besit en bewoning van die land afhanklik daarvan gemaak dat hulle getrou en gehoorsaam aan Hom is. Die Here waarsku hulle nie net van tyd tot tyd dat hulle die land sal verloor en dat die land in die hande van vyande sal beland nie. Die ballingskap is die klassieke voorbeeld daarvan dat dit inderdaad gebeur het (Jes 6:12; Jer 17:1-4; Hos 9:3; Am 3:11; 7:11, 17).

 

Maar verder is dit interessant om die ontwikkeling van die landsbelofte na te gaan in die Nuwe Testament. Voor ons dit doen, moet ons net onthou dat die Hebreeuse woord wat met “land” vertaal word, ook “grond” of “aarde” kan beteken. In die Nuwe Testament word die landsbelofte nie meer aan Israel gebind nie. Dit word ‘n algemene belofte vir die gelowiges.

 

In die Bergrede beloof Jesus die land of die aarde aan die sagmoediges (Matt 5:5). Beide die 1983-vertaling en NLV vertaal met “die nuwe aarde”. Hulle het egter nie veel steun in ander moderne vertalings nie. Die punt is egter dit is duidelik ‘n voortsetting van die landsbelofte, maar nou vir die gelowiges, nie meer spesifiek vir Israel nie. Dieselfde gebeur in Efesiërs 6:3. Paulus beloof aan kinders wat in die Here glo dat dit met hulle goed sal gaan en hulle lank sal lewe op die aarde. Dit is duidelik ‘n verwysing na die vyfde gebod waar die land aan getroue Israeliete beloof word. Maar nogeens is dit ‘n veralgemening vir alle gelowige kinders, en word tereg met “aarde” vertaal, en nie met “land” soos in Eksodus 20:12 nie omdat gelowige kinders nie meer tot Israel en tot Kanaän beperk is nie.

 

Uiteindelik het ons die heerlike perspektief op die nuwe aarde (Op 21, 22). Dit kan beskou word as die vervulling van die belofte aan sagmoediges, maar veral as vervulling van die landsbelofte aan Israel. Ons moet immers onthou “Israel” het intussen in ‘n nuwe gestalte na vore gekom: met Christus as die nakomeling en die gelowiges as die menigte wat uit Hom (weer-)”gebore” is. Dit is nou “die ware Israel” (Gal 6:16).

 

Dit beteken dat ook die derde belofte in die Abrahamverbond uit en uit geestelik verstaan moet word. Dit alles wys in die rigting dat die verbond van die Here met Abraham van die begin af ‘n geestelike saak was, dat dit ‘n geloofsverhouding was. Ons sal later in die deel oor Abraham in die
Nuwe Testament sien dat Abraham die vader van alle gelowiges word (Rom 4:16), en dat ook die besnydenis ‘n geloofsakrament was (Rom 4:11-12). Dit alles beteken dat Abraham en die Here se verbond met hom ‘n baie ryk tema in die Bybel is, en op ‘n wonderlike manier op Jesus uitloop, dié Nakomeling van Abraham.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Vervloeking (2)

Vervloeking (2) – Francois Malan

Sonja vra:

Vervloeking Ek het Francois Malan se antwoord van 15 April 2011 gelees, maar het nog steeds ‘n vraag. As iemand ‘n vloek op jou plaas – wat dit ook al mag wees – en jy weet nie daarvan nie, kan dit enigsins jou skade berokken? Dit terwyl jy glo en vertrou dat God jou ten alle tye sal beskerm van dit wat boos is. Jy is in sy liefdevolle arms/hande. Waarom voel mense dat ‘n vloek op jou uitgespreek is as dinge nie goed met jou gaan nie? Siekte, verhoudings wat skipbreuk lei ens. Waarom gee mense krag tot die soort van goed?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Eers iets oor die betekenis van ‘vloek’ en seën’:

 

            Vloek beteken ‘n verwensing of vervloeking onder die aanroep van Goddelike mag, sodat God Hom aan jou onttrek. In Romeine 1:18,24 word gesê dat die toorn van God daarin bestaan dat Hy jou aan jouself en jou eie begeertes oorgee, om te doen wat jy wil sonder sy leiding en sy seën.

 

            Seën beteken dat God by jou is, dat Hy teenwoordig is om jou te lei en te beskerm selfs in tye van swaarkry en lyding.

 1.  Die vloek wat iemand op jou sou plaas beteken dat hy of sy die Here vra om jou te los. Die persoon se woord kan nie die Here dwing om jou aan jouself oor te laat nie. Daaroor sal die Here besluit. Daarom hang dit van jou verhouding met die Here af. As jy in die Here Jesus glo as die Seun van God wat vir jou sonde gesterf het en jy Hom liefhet, verseker Hy jou dat jy God se kind is vir wie Hy nooit sal los nie

 

            Johannes 1:12: Almal wat Hom (Jesus Christus, die Woord van God wat mens geword het en self God is (Jn 1:1,14) aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.

 

            Galasiërs 3:10 sê: almal wat staat maak op die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet opgeskryf staan nie. Maar 3:13 sê: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang (soos Hy aan die kruis in ons plek)..

 

2.  Waarom voel mense dat ‘n vloek op jou uitgespreek is as dinge nie goed met jou gaan nie. Siekte, verhoudings wat skipbreuk lei ens. –

 

Om kind van God te wees beteken nie dat dit altyd net goed sal gaan met ons nie, maar dat God by ons is in ons lyding en moeilikhede.

 

            Romeine 8:38,39 sê Paulus: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

 

3.   Waarom gee mense krag tot die soort van goed –

 

Ons leef in die eindtyd of laaste dae tussen die eerste koms van Jesus en sy wederkoms.

1 Timoteus 4:1,2 sê: Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.

 

4.   Jy is in sy liefde volle arms/hande –

 

Ps 91 sê dat die Almagtige Here die mens wat Hom lief het sal red en beskerm aan alle kante; dat jy nie hoef bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag nie. Op Hom kan jy vertrou.

 

Jesus se laaste woorde aan sy volgelinge was: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat. 28:20).

 

Die Heilige Gees van God woon permanent in die persoon wat aan Jesus behoort (Rom 8:9,11).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede dood

Die tweede dood – Francois Malan

Deon vra:

Die tweede dood. Kan geeste vernietig word? Let veral op Opb 20:14 Gaan hulle saam met die aarde vernietig word of deel vorm van die nuwe aarde? Opb 2:11 Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie. Opb 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. Opb 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. Opb 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die vraag is nie heeltemal duidelik gestel nie. Na wie of wat verwys ‘die geeste’? Is dit na ‘bose geeste’?

 

Efesiërs 6:1,12 verwys na die duiwel en die bose geeste in die lug teen wie die gelowige moet stry.

Matteus 25:41 praat van die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is deur God en waarheen die ongelowiges ook gestuur word op die oordeelsdag.

Matteus 18:8,9 praat van die ewige vuur wat ook genoem word die vuur van die hel.

Judas 7 praat van engele wat hulle nie in hulle eie magsgebied gehou het nie wat gestraf word met die vuur wat ewig brand.

 

Die tweede dood is soos Openb 21:8 aangehaal dieselfde as die poel wat brand met vuur en swawel. In Openb 20:10 word gesê die duiwel en die dier en die valse profeet sal daar dag en nag gepyning word.

 

Met die aanhaling van Openb 20:14 wat sê dat die dood en die doderyk ook in die vuurpoel gegooi word, word bedoel dat die hel ewig is, en dat daar geen dood meer beskikbaar is vir hulle wat onder God se ewige oordeel val nie. Openb 20:15 voeg nog by: As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

 

Dit alles is waarskuwings vir ons wat lewe om ons heil en die verlossing van ons sonde by Jesus Christus te ontvang, deur in Hom te glo as ‘die Woord van God, wat self God is, die Seun van die lewende God wat mens geword het en vir ons sonde aan die kruis gesterf het (vgl. Joh.1:1,14); dat Hy aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, die reg gegee het om kinders van God te word (Joh 1:12); dat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).   

 

Jou vraag: Kan geeste vernietig word? Let veral op Opb 20:14 Gaan hulle saam met die aarde vernietig word of deel vorm van die nuwe aarde?

 

Uit die tekste hierbo lyk dit nie asof die bose geeste vernietig gaan word nie, maar dat hulle ewige straf van God ontvang, en nie deel is van die nuwe hemel en nuwe aarde wat vir die gelowiges saam met Christus geskep word nie. Romeine 8:17 sê: Aangesien ons deel het aan die lyding van Christus, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Sonde van die vaders

Sonde van die vaders – Francois Malan

Sonja vra:

SONDE VAN DIE VADERS Het reeds die antwoord gelees wat op 14 April 2009 gepubliseer is, maar wil graag net in eenvoud my vraag stel. Dit is as voorbeeld asseblief. As my “pa” gesondig het teenoor die Here en hy het nooit berou getoon nie waarom is dit dat sy kinders en die se kinders onder die sonde nie vrygespreek sal word nie as die kinders en die se kinders in God glo en nie eers bewys is van die sonde wat plaasgevind het nie. Het Jesus nie aan die kruis gesterf vir al ons sondes nie? Waarom glo mense dat die sondes van die vader tot in die derde, vierde geslag sal geld en ek as kind daaronder lei.

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

 

  • Waarom is dit dat sy kinders en die se kinders onder die sonde nie vrygespreek sal word nie as die kinders en die se kinders in God glo? –

 

Die gedagte kom van Eksodus 20:5,6 wat eintlik die volk Israel wat uit hulle slaweskap in Egipte bevry is, wil leer en waarsku teen afgode en die aanbidding van beelde. En die moeilike woord is ‘Ek reken die kinders die sondes van hulle vaders toe’ – die woord vir ‘toereken’ in Hebreeus pakad het ‘n wye verskeidenheid van betekenisse: ‘toereken’ soos in verantwoordelik stel vir, maar ook bv. Hom ‘bekommer’ oor hulle. En daarom die byvoeging: maar Ek betoon (of doen) liefde (of lojale verbondenheid) aan duisende wat My liefhet en my gebooie onderhou.

 

Eksodus 20:5,6 sê: Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My (dit teenoor diens aan ander gode of afbeeldings van God in 20:3,4). Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van die wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (vgl. Deutr. 5:9,10).

 

Hoe die liefde van die Here sy straf verander, blyk reeds  toe Israel teen die Here en Moses in opstand gekom het en geweier het om in Kanaän in te gaan. Toe  pleit Moses by die Here: Laat U groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde. Maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag. Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het. Toe het die Here geantwoord: Ek vergewe hulle, soos jy gevra het (Num 14:17-20). Toe is die vaders in die woestyn gedurende 40 jaar dood as hulle straf, maar hulle kinders is daarna in Kanaän ingelei.

 

Maar dat elke mens vir homself rekenskap moet gee voor die Here blyk reeds uit Esegiël 18. Daar word vertel dat die Jode in ballingskap in Babel die onlogiese spreekwoord gehad het: die pa’s eet groen druiwe en dan word die kinders se tande stomp. So seker as Ek leef, sê die Here my God: julle sal nie meer dié spreekwoord in Israel gebruik nie. Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf. Wie leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen:…..So iemand leef volgens my wil en hy sal bly lewe, sê die Here my God (Eseg.18:2-5,9).

Lees verder in Eseg. 18 na ‘n goeie pa wat ‘n slegte seun het en elkeen vir sy eie lewe verantwoording moet doen (18:10-13), ‘n slegte seun wat ‘n goeie seun het – hy sal nie sterf vir sy pa se sondes nie (18:14-18); elkeen sal sy eie gevolge dra (18:19-20), en die goddelose wat hom bekeer sal bly lewe (18:21-23); en as iemand ophou om die wil van die Here te doen sal hy nie bly lewe nie (18:24)…Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie, sê die Here my God, maar dat hy hom bekeer en bly lewe (18:32).

 

In Romeine 14:12 sê Paulus: Elkeen van ons sal oor homself aan God rekenskap moet gee.

 

  • Het Jesus nie aan die kruis gesterf vir al ons sondes nie? –

 

Jesus se belofte is dat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê  (Joh 3:16,36). Want Hy het vir al ons sondes betaal aan die kruis. Maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh 3:36).     

In Joh 5:24 sê Jesus: Dit verseker Ek julle: Wie luister wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood in die lewe oorgegaan.

 

  • Waarom glo mense dat die sondes van die vader tot in die derde, vierde geslag sal geld en ek as kind daaronder lei? –

‘n Kind wat in ‘n huis groot word waar God nie gedien word nie, het die nadeel dat hy of sy van kleins af nie vir Jesus by sy of haar ouers leer ken nie. Maar kan Hom leer ken op baie ander maniere: bv. by die skool, of by maats, of deur boeke, veral die Bybel. En aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Joh 1:12)

 

In Matteus 10:34-39 sê Jesus dat daar verdeeldheid in huisgesinne sal kom oor Hom. Party sal in Hom glo en ander nie. En iemand wat sy pa of ma liewer het as vir Hom, is nie werd om aan Hom te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. So ernstig kan die besluit wees om in Jesus te glo en Hom te volg as jy grootword in ‘n huis wat nie die Here wil dien nie. 

 

Maar die mense wat in Jesus glo kan seker wees dat die Heilige Gees van God in hulle kom woon het en hulle kinders van God gemaak het om saam met Jesus erfgename van God te wees. En aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Romeine 8:12-17). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan