Leef uit jou Doop: 5.1 Kinderdoop: Vooraf opmerkings

Leef uit jou Doop: 5.1  Kinderdoop: Vooraf opmerkings – Adrio König

5.1 Vooraf opmerkings

Terwyl daar groot groepe Christene is wat die kinderdoop verwerp, is daar ook groot groepe wat dit saam met die grootdoop aanvaar. Dit sal egter gou duidelik word dat dit baie moeiliker is om die kinderdoop te verduidelik as om dit te verwerp. Dit sal ’n veel langer hoofstuk word. Dit op sigself kan sommige mense al laat voel dis klaar ’n duidelike teken dat die kinderdoop ’n verlore saak is.

Maar miskien moet ’n mens tog versigtig wees. Dit is net so maklik om te argumenteer dat ons nog die Sabbat moet vier en nie die Sondag nie, omdat daar geen duidelike uitsprake in die Nuwe Testament is wat die Sondagviering gebied nie, en die wet van God ewig vasstaan. Daarom is dit nogal ’n taamlike argument om ons Sondagviering teenoor Adventiste te verduidelik. En met die Drie-eenheidsleer is dit nie anders nie. Dis baie makliker vir Jehova-getuies om die Drie-eenheidsleer belaglik te maak as vir ons om dit oortuigend te verduidelik.

Dis nie noodwendig waar dat die maklikste pad ook die regte pad is nie. Paulus het dit selfs baie moeiliker gehad om die vryheid van die wet te verduidelik as sy Judaïstiese teenstanders wat eenvoudig slaafs by die wet gebly het.

 

Misverstande

Daar is ’n paar misverstande wat eers uit die weg geruim moet word. Dit is nie waar dat die aanvaarding van die kinderdoop die verwerping van die grootdoop beteken nie. Trouens dis onsin. Daar is geen kerk op aarde wat die grootdoop verwerp nie. Dit is ’n wonderlike sakrament. Grootdope in kerke wat ook die kinderdoop aanvaar, is die teken dat die kerk regtig op die wêreld ’n wins maak. Dit is natuurlik nie noodwendig waar van kerke wat die kinderdoop verwerp nie omdat hulle ook hulle gemeentekinders grootdoop, en ook lidmate van ander kerke (oor-)doop.

Maar intussen aanvaar die kerke wat saam met die grootdoop ook die kinderdoop beoefen met vreugde elke moontlike kans om iemand te doop wat regtig van buite kom.

Die kwessie van oordoop, dit wil sê om iemand ’n tweede keer te doop, is ’n ander saak wat in hoofstuk 7 bespreek word.

Verder is dit ook ’n misverstand dat kerke wat deur besprinkeling doop, onderdompeling verwerp.  Die Gereformeerde kerke by name aanvaar al vir eeue lank sowel besprinkeling as onderdompeling. Trouens in die klas sieke doopformulier word onderdompeling self vóór besprinkeling genoem. Die feit dat hulle meestal deur besprinkeling doop, is ’n blote gewoonte.

Ons gaan vervolgens die argumente teen die kinderdoop een-een bespreek.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

  

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 4.6 Besprinkeling is nie regtig doop nie

Leef uit jou Doop: 4.6 Besprinkeling is nie regtig doop nie – Adrio König

4.6 Besprinkeling is nie regtig doop nie

Hier gaan dit oor die metode van doop. Maar die meeste Christene wat die kinderdoop verwerp, is oortuig die metode het alles met die betekenis te doen. En besprinkeling is heeltemal onaanvaarbaar.

Die Skrif self is duidelik oor die metode as indompeling of onderdompeling, en heg

geweldig groot betekenis daaraan.

Daar word veral drie argumente gebruik ten gunste van onderdompeling en teen besprinkeling.

♦  Die eerste is dat dit in die Bybel duidelik is dat mense onderdompel is.

♦  Die tweede is dat die Griekse woord vir doop eintlik “onderdompel” beteken.

♦  En die derde is dat die betekenis van die doop vereis dat dit deur onderdompeling gedoen word.

 

Onderdompeling is duidelik in die Bybel

As ’n mens na die doopvoorbeelde gaan kyk, lees jy telkens hulle het in die water ingegaan en na die doop weer uitgekom (Hand 8:38, 39). Jy lees dit ook van die doop van Jesus (Matt 3:16). Verder word die doop ’n “bad” genoem, en ’n mens kan tog nie in ’n paar druppels water bad nie (die Grieks van Ef 5:26; Tit 3:5). Telkens lees ons ook van die doop as ’n “afwassing” (Hand 22:16; 1 Kor 6:11). Dit alles kan op geen manier met besprinkeling in verband gebring word nie.

 Verder is dit belangrik op watter plekke hulle gedoop het. Dit was gewoonlik in ’n rivier, soos Johannes wat Jesus in die Jordaan gedoop het. Ons lees selfs dat Johannes ook by Enon naby Salim gedoop het “omdat daar baie water was” (Joh 3:23). ’n Mens het nie baie water nodig vir

besprinkeling nie.

 

Die Grieks vir “doop” beteken “onderdompel”

Dit word soms so sterk gestel dat mense selfs sê oral waar “doop” in die Nuwe Testament voorkom, moet dit eintlik  “onderdompel” wees. Jesus se sendingbevel moet dus eintlik lui: “Maak dissipels en onderdompel hulle … ” Dikwels word ook die argument gebruik dat ons almal weet “doop” is “onderdompel”. Ons gebruik die woord self só. Ons praat van ’n “doopsous” en dan bedoel ons iets moet in die sous ingesteek word. Iemand “doop” die beskuit in die koffie.

 

Die betekenis van die doop vereis onderdompeling

Dink maar net aan die bekende betekenis dat God ons deur die doop met Christus verenig sodat ons saam met Hom begrawe is en opgewek is. Om saam met Hom begrawe te word, moet ’n mens tog onder die water verdwyn, en om saam met Hom op te staan, moet jy dan weer uit die water uitkom. Om onder die water te verdwyn, is ook ’n mooi simbool dat ons saam met Hom sterf.

Dit is die sterk argumente teen die kinderdoop. Dit is argumente wat doelbewus met Bybelse stof werk, en daarom moet ’n mens ernstig daarna kyk. Dit is opvallend dat hierdie hoofstuk ’n baie kort hoofstuk is, en dit is ’n aanduiding hoe maklik dit is om die kinderdoop te verwerp. Daar is nie lang en ingewikkelde redenasies nodig nie. Dis “straight forward”. Lees net die Bybel met ’n oop gemoed, en die uitkoms is duidelik.

 

Kom ons vat dit alles kortliks saam.

Die hoë betekenis van die doop wat juis in hierdie boek ontwikkel word, maak die kinderdoop in beginsel onmoontlik. Daar is geen manier om die hoofbetekenisse van die doop op ’n baba toe te pas nie. ’n Baba se sonde kan nie vergewe word nie, ’n baba kan nie ’n nuwe lewe kry nie, ’n baba kan nie met Jesus verenig word, saam met Hom begrawe word en weer opstaan nie. Verder is die Bybel duidelik dat daar ’n volgorde is: eers geloof en dan doop. Die doopvoorbeelde in die Bybel is ook duidelik: Almal wat gedoop is, het eers tot geloof gekom.

 En na alles is Jesus ons voorbeeld en wil elke Christen Hom getrou navolg. Dit moet ons ook met die doop doen. Ons moet Jesus ook deur die water volg. Die pogings om die kinderdoop met die besnydenis te red, is ongegrond. Die besnydenis was deel van die ou verbond, of op sy beste deel van die vleeslike kant van die verbond met Abraham. Daar is ook geen sprake in die Nuwe Testament van ’n oorgang tussen die besnydenis en die doop nie. Die Joodse gelowiges wat self gedoop is, het aangehou om hulle seuntjies te besny.

En ten slotte is die besprinkeling wat die metode vir die kinderdoop is, ook onbybels. Die doop kan nie anders as deur onderdompeling bedien word nie, behalwe in uiterste omstandighede soos ’n gesondheidskrisis. Die doopvoorbeelde in die Bybel is onderdompeling, die Griekse woord vir “doop” beteken eintlik “onderdompel”, en die betekenis van die doop vereis dat dit deur onder dompeling bedien word.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

 




Lig in Genesis 1:3

Lig in Genesis 1:3 – Francois Malan

Theodor vra:

 ‘Lig’ in Gen 1:3 Hieroor is al baie besin en geskryf. Met die vele vertolkings is ek veral waaksaam teen monopolisering en verabsolutering. Hoe kan ons egter weet of ons afleidings geldig is? (Elke ketter het sy letter?) Ek probeer “die verhouding tussen God en mens” as kontekstuele raamwerk gebruik vir vertolking.

Help asseblief met dié voorbeeld. Lig in Gen 1:3 kan aanvullend ‘n verwysing/aankondiging wees oor God se openbaringe. Lig maak sigbaar _ letterlik en figuurlik. So gesien kan Gen 1:4 ook dui op onderskeid tussen ‘openbaringe’ en ‘nie-openbaringe’. God se openbaringe is waar en getrou sonder om allesomvattend te wees. Vir my dui dit ook op God se openbaringe as bron vir “die klein wit kol van my wete” (Opperman: Man met Flits) Suksesvolle verbandsoeking kan bydra tot meer aanvaarding van geldigheid. Joh 8:12 kry uit hierdie invalshoek die nuanse dat Jesus “die Goddelike mensgeworde openbaring is, van God se liefdevolle en genadige heilsplan vir die mens”. Help asseblief om rigting te gee aan my verdere verkenning en verbandsoeking.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Terwyl die skrywer van Genesis die voorgeskiedenis van die mensheid beskryf, het latere Bybelskrywers, bv. Johannes, die eerste elf hoofstukke van Genesis as oergeskiedenis gebruik, met eksemplariese betekenis. So word bv. Adam se sonde (Rom.5:14), Kain se broedermoord (1 Joh 3:12) en Noag se redding (Mat.24:37-39; Hebr.11:7) voorbeelde van God se handelinge met die mens. Vir Genesis is dit voorgeskiedenis wat die roeping van Abraham voorafgaan, vgl. Gen.6:4 se ‘voortyd’ (NAV ou tyd) in Hebreeus ‘olam, die onafsienbare tyd, ‘n ver perspektief op die rand van die ewigheid. Genesis wil egte geskiedenis gee, met kronologie en al, van die aartsvaders se ouderdomme.

So word ‘lig’ in Gen 1:3-5 nie as ‘n emanasie van God beskryf nie, maar as ‘n skepping van God. In Openbaring 21:22-24 word die nuwe Jerusalem wel as beeld van die hemel beskryf sonder ‘n tempel, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam (van Openb 5:6) is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe… In Openbaring kom die lig van die heerlikheid van God af, sonder son en maan, soos op Genesis 1:3-5 se lig op die eerste skeppingsdag, voor die skepping van die son en die maan op die vierde dag (vgl. Eseg.43:2).

            In Genesis word lig egter nie as ‘n uitdrukking van God se wese gesien nie, maar as sy eerste skeppingswerk in ‘n reeks, soos die skepping van die aarde en die see, van plante, die son en maan elkeen met sy eie taak as tekens van dag en nag, visse, voëls en diere, wat alles voorberei word as woning vir die mens, wat na die beeld van God geskep word om God se aarde te bewerk en oor die diere te heers (Gen 1:26-28).

            Dit is so anders as Israel se bure, die antieke Midde-Ooste se wêreldbeeld met die son as god (Re in Egipte; Sjamasj van Babilonië; en in die Weste Helios van die Grieke en Sol invictus van die Romeine) en die maan as god (in Babilonië die vader van Sjamasj, deur Abram vereer voor sy roeping; Thoth in Egipte; Selene in Griekeland, en die Romeinse Luna). Teenoor sy bure se afgode, spreek God ‘n woord, en lig, en die die res van die skepping verskyn op die bevel van God se skeppende woord.

Die Evangelie volgens Johannes volg Genesis 1:1-3 met sy eerste vyf verse (Jn 1:1-5). Johannes identifiseer die skeppende Woord van God met Jesus, die Seun van God, self God, wat God se openbaring van Homself aan die mens is (Jn 1:18); en die Gees van God wat skeppend oor die waters gesweef het, met die Heilige Gees deur wie die mens weergebore (van Bo gebore, Jn 3:5-8 ) word om ‘n mens te oortuig van sonde, geregtigheid (dat die mens se verhouding met God reggemaak word deur die offer van sy geliefde Seun, Jn 1:29; 3:16) en oordeel (oor die mense wat nie in Christus glo nie; Jn 16:7-11).

            Van Jesus as die Woord van God sê Johannes 1:4 dat die Woord nie slegs die Middelaar  by die skepping is nie, maar ook by die voortbestaan en onderhouding van die skepping steeds God se Middelaar bly. Daarom omsluit die woorde ‘in Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense’ die lewe en lig vir die mens in die skepping sowel as in die nuwe skepping. Johannes beklemtoon die tweede aspek, nl. die herskepping, aangesien dit te doen het met die verlossingswerk van die Woord/Seun van God vir die mensdom. Maar die nuwe skepping veronderstel die oorspronklike skeppende werk deur die Woord en sy doel met die skepping.         

            Joh 1:5 se stelling oor die lig wat skyn in die duisternis wat dit nie kan oorweldig nie, omvat die geskiedenis en die tyd van die Evangelis. Die lig het in die oer-duisternis van Gen 1:2 geskyn, en voortgegaan om te skyn te midde van die duisternis van die mens wat in sonde geval het. Met die lewe van Jesus op aarde, die Woord van God wat mens geword het (Jn 1:14), het die lig met groter helderheid geskyn. En met die koms van die Heilige Gees om as God in elke gelowige te kom woon, skyn die lig in die lewe van die mense wat deur die Gees aan Jesus se dood en opstanding verbind is, en daarom saam met die Seun van God, kinders van God kan wees. Dit is dié mense wat die lig van die evangelie glo en aanvaar (vgl. Joh 1:12; Rom 8:9-17).

            Joh 1:9 sê: die ware lig, wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hier word ‘lig’ as ‘n metafoor gebruik (Lk 11:34-36; Efes.1:18). Hier is die Woord van God self die Lig wat die bestaan van elke mense verlig – positief lei die verligting tot verlossing en ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God; en negatief lei dit tot die oordeel oor die mense wat die lig haat en nie na die lig toe kom nie, sodat hulle lewe nie aan die kaak gestel sal word nie (vgl. 3:17-21). Die stelling raak die beperkte tyd wat Jesus in Palestina opgetree het, sowel as die voortgaande verhouding van die Woord van God met die mens en die wêreld.

Joh 8:12 se ‘Ek is die lig vir die wêreld’ begin met ‘n belangrike segging ‘Ek is’ (in Grieks ego Ek, eimi Ek is) wat verwys na God se selfbenaming in Eksodus 3:14 aan Moses  om vir die volk te sê ‘Ek is’ het hom na hulle gestuur (van die woorde af kom die naam Jahweh wat die Jode nie wou uitspreek nie om die Naam van die Here nie te onteer nie, Eks 20:7. Daarom het die Masorete, wat in 7e-11e eeu na Christus die Hebreeuse teks van die Ou Testament, wat sonder vokale geskryf was, van vokale voorsien het, die vokale van adonai Here onder die JHWH geskryf, wat aanleiding gegee het tot die foutiewe uitspraak Jehovah (NAV Here; OAV HERE).

                Die woorde van Jesus word uitgespreek tydens die loofhuttefees, wat die uittog uit Egipte deur die woestyn jaarliks herdenk (vgl. Jn 7:2; Deutr 16:13-15). Die tempel was elke nag verlig met ‘n menigte lampe as herinnering aan die wolk wat snags soos ‘n vuur oor die tabernakel geword het (Eks 14:19-25; 40:38) en op die sewende dag het die rabbi’s ‘n fakkeldans uitgevoer. Anders as ‘n lampverligte tempel, simbool van die teenwoordigheid van die Here wat hulle verlos het en weer sal verlos uit die onderdrukking van die Romeine, sê Jesus vir die volk wat deurnag feesvier, dans en sing in die lig van hulle fakkels: Ek is die lig vir die wêreld! (vgl. Ps 27:1 Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?)

            Joh 8:12 lui: ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.’ Soos Israel die wolkkolom gevolg het uit die land van hulle slawerny, deur die woestyn na die beloofde land (Num.9:15-23), roep Jesus mense om Hom te volg as sy dissipels, leerlinge. Deur Jesus, die Lig vir die Wêreld, te volg gee aan die gelowige die sekerheid dat hy/sy die gevare en valstrikke van die duisternis sal vermy; met die belofte dat hy/sy die ‘lig wat lewe gee’ volg – bevry uit die ryk van die dood tot die lewe in die koninkryk van die lig (vgl. Jn 11:25,26). Die pad van die gelowige lei na heerlikheid via Golgota (vgl. Jn 12:24-26).

‘Die klein wit kol van my wete’ – loop saam met die wonderlike belofte dat die Gees van God in ons kom woon om ons te lei, te sterk en te bewaar, die Gees van die waarheid wat by ons kom bly en in ons is, wat ons aan God verbind (Jn 14:15-20).  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Leef uit jou Doop: 4.5 Geen verband tussen doop en besnydenis

Leef uit jou Doop: 4.5 Geen verband tussen doop en besnydenis – Adrio König

4.5 Geen verband tussen doop en besnydenis

Mense wat die kinderdoop aanvaar, lê gewoonlik baie klem op die verband tussen doop en besnydenis. ’n Mens hoor dikwels: “Die doop het in die plek van die besnydenis gekom.” Dié wat die kinderdoop verwerp, stem glad nie hiermee saam nie. Daar is ’n baie algemene oortuiging dat die verbond met Abraham die ou verbond is en dat die Skrif duidelik daaroor is dat die ou verbond deur die nuwe vervang is (Jer 31:31 ev), die verbond wat Jesus deur sy kruisdood ingestel/bevestig het.

 

Die verbond met Abraham is ’n natuurlike, nasionale verbond wat beteken dat as iemand (net seuntjies) besny is, hy ’n Israeliet of ’n Jood was. Dit het niks met geloof te doene gehad nie. Daarom het Christus ’n nuwe verbond kom instel, die verbond van die geloof. In hierdie verband word dikwels verwys na die seëninge wat aan die verbond met Abraham verbind was: die groot nageslag en die land. Dit is tog volkome aardse seëninge met geen geestelike betekenis nie.

Daar is ander wat wel toegee dat die verbond met Abraham nie bloot ’n nasionale, vleeslike verbond was nie. Maar hulle maak dan ’n duidelike onderskeid tussen twee kante van die verbond met Abraham: ’n geestelike kant, en ’n vleeslike, nasionale kant. Die geestelike kant was Abraham se verhouding met God en sy geloof. Sy eie besnydenis was dan ook inderdaad ’n geestelike saak. Paulus skryf immers: Abraham “het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het” (Rom 4:11). Maar dit het net van Abraham gegeld.

Die baba-seuntjies wat daarna besny is, en ook die volwasse heidene, het net ’n vleeslike teken ontvang wat niks met geloof te doene gehad het nie, maar suiwer met Joodwees. Daarom word daar ook in Handelinge gepraat van die verbond met Abraham as “die verbond van die besnydenis” (Hand 7:8, 1953-vertaling). Dit het na die vleeslike kant van die verbond verwys, en dié is opgehef deur Christus. Daarom is daar geen verband tussen die besnydenis en die doop nie. Die besnydenis was ’n vleeslike saak, die doop is ’n geestelike saak, ’n geloofsaak. Trouens Paulus het ook die besnydenis skerp afgewys, wat dit onwaarskynlik maak dat dit in die doop kon oorgaan.

Die verskil blyk ook uit die feit dat net mans en seuntjies besny is terwyl almal wat tot geloof kom, gedoop moet word, ook vroue. En verder blyk dit duidelik uit die Nuwe Testament dat die doop nie in die plek van die besnydenis gekom het nie. Immers die Joodse Christene het nadat hulleself gedoop is, nog steeds hulle babaseuntjie laat besny (Hand 21:20-21).

En wanneer ander Christene hulle op Kolossense 2:11- 12 beroep, word hulle daarop gewys dat dit daar oor ’n geestelike besnydenis gaan (“die besnydenis deur Christus”), en glad nie oor die letterlike een nie.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König