Leef uit jou Doop: 5.3 Die kinderdoop in die Bybel

Leef uit jou Doop: 5.3 Die kinderdoop in die Bybel – Adrio König

 

5.3 Die kinderdoop in die Bybel?

5.3.1 Daar is meer wat nie “in die Bybel” is nie

Dit is ’n ernstige saak. Die kinderdoop is nie in die Bybel nie – as ’n mens daarmee bedoel dat dit nie direk, duidelik daar staan nie. Hoe kan die meerderheid van die Christendom dan so lank met ’n praktyk aanhou wat nie in die Bybel staan nie? Want dit is duidelik dat daar geen direkte verwysing in die Nuwe Testament is na kindertjies wat gedoop is of ’n opdrag om kindertjies te doop nie.

Maar is die saak regtig daarmee afgehandel? Is daar nie ’n hele paar dinge wat na aan ons harte lê wat ook nie in die Bybel voorkom nie?

  • Daar is die vraag of vroue mag nagmaal gebruik. Dit staan nêrens in die Bybel nie. Daar is ook nie ’n voorbeeld van een wat dit wel doen nie.
  • Is daar iewers ’n voorbeeld van ’n vrou wat hemel toe gaan?
  • Daar is geen opdrag om nie meer die Sabbat op Saterdag te vier nie. Daar staan trouens dat dit ’n ewige gebod is.
  • Daar staan niks direk oor die Drie-eenheid in die Bybel nie.

 

Die Pinksterkerke en die Charismatiese beweging het egter geen probleme om saam met ons vroue toe te laat tot die nagmaal nie, om te glo dat vroue ook hemel toe kan gaan, om Sondag kerk te hou, en om in God Drie-enig te glo nie. Hierdie kerke is dus bereid, trouens selfs gretig:

  • om ’n saak grondig te ondersoek al staan dit nie direk in die Bybel nie,
  • om bepaalde dinge met mekaar in verband te bring,
  • om gevolgtrekkings daaruit te maak,
  • en om die resultaat as deel van hulle geloof te aanvaar.

Moet hulle dan nie óók bereid wees om na die kinderdoop te kyk en na te gaan of dit wel in terme van Bybelse gegewens verantwoord kan word nie?

 

5.3.2 Ruimte vir die kinderdoop?

Is daar nie sekere gegewens wat minstens ruimte vir die kinderdoop skep nie?

Eerstens het ons na die betekenisse van die doop gekyk en duidelik gesien dit is God wat in die doop werk (hoofstuk 2, veral 2.8). Die mens is wel “rondom” die doop aktief deur te glo en te vra om gedoop te word, maar in die doop self is dit net God wat aktief is terwyl die mens passief is. Dit staan wel nêrens uitdruklik net so in die Bybel nie, maar die betekenisse het ons gelei om dit af te lei.  Immers die betekenisse wys na God as die Gewer. Hy verenig ons met Christus, ons kan nie self nie; Hy vergeef ons sonde, ons kan nie self nie, en so kan ons aangaan met die een betekenis na die ander.

As God die een is wat sy gawes in die doop aan ons gee, kan Hy seker ook vir ’n baba gee as Hy wil.

Dis nog geen “bewys” vir die kinderdoop nie. Maar dit skep tog die ruimte dat die kinderdoop nie in beginsel onmoontlik is nie. As dit in die doop om die mens se aktiwiteit gegaan het, was die kinderdoop in beginsel uitgesluit.

 

Tweedens het ons gekyk na die interessante gebruik van die apostels om gou te doop, eintlik dadelik, en dat die dooponderrig eers agterna in die Briewe gegee is aan die mense in die gemeente; dus mense wat klaar gedoop is (3.4). Dit beteken in beginsel dat ook babas eers gedoop kan word en dan agterna die dooponderrig kan ontvang. As dooponderrig vóór die doop noodsaaklik was, was die

kinderdoop in beginsel uitgesluit.

 

Derdens het ons gesien dat die groot saak van die doop die nuwe lewe is, die lewe onder beheer van die Gees, die lewe waarin ons aan Jesus se opstandingslewe deelneem omdat ons in die doop saam met Hom aan die kruis was en saam uit die graf gekom het. Ons het gesien dat die Briewe omtrent geen aandag gee aan wat vóór die doop gebeur het nie, maar alle aandag aan dit wat ná die doop

moet gebeur (Rom 6; Kol 1-4). Dit hou in beginsel die deur vir die kinderdoop oop omdat babas wat gedoop is, ook hulle lewe voor hulle het om dit aan God te wy.

 

Hiermee is daar nog geen positiewe getuienis vir die kinderdoop op die tafel nie, maar is daar aanduidings in gegewens rondom die doop dat die kinderdoop nie in beginsel uitgesluit is nie.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 5.2 Moet ons Jesus deur die water volg?

Leef uit jou Doop: 5.2 Moet ons Jesus deur die water volg? – Adrio König

5.2 Moet ons Jesus deur die water volg?

Moet ons Jesus regtig deur die water volg? Kan ons Jesus regtig deur die water volg? Is Hy ook in sy doop ’n voorbeeld vir ons? Kom ons kyk wat ons oor sy doop in die Nuwe Testament kry. 

Die betekenis van Johannes se doop

Kom ons kyk eers na die betekenis van Johannes se doop. Kom ons vergelyk dit met die Christelike doop wat ons vandag het en wat Jesus eers aan die einde van sy lewe ingestel het (Matt 28:19).

♦  Johannes het nie in die Naam van die Vader en die Seun en die Gees gedoop nie.

♦  Johannes se doop kon mense nog nie deel gee aan Jesus se kruis, begrafnis en opstanding nie omdat Hy nog geleef het.

♦  Johannes se doop was nie ’n sakrament nie omdat dit ’n bekeringsdoop was. Dit word konsekwent in die Nuwe Testament “die doop van bekering” genoem, terwyl die Christelike doop nooit só genoem word nie. In Johannes se doop het dit gegaan oor dit wat die mens doen, die mens se bekering en belydenis, terwyl dit in die Christelike doop gaan oor dit wat God doen. Dit is waarom ons dit ’n sakrament noem.

Net dit alleen maak dit al vir ons onmoontlik om Jesus in sy doop te volg. Ons het nie meer daardie doop waarmee Hy destyds gedoop is nie. Ons het nou die Christelike doop, nie meer Johannes s’n nie. Dié het lankal uit die lewe van die kerk verdwyn. Trouens alreeds in die Nuwe Testament self is mense wat deur Johannes gedoop is, deur Paulus “oorgedoop” (Hand 19:1-7). Dis dus duidelik dat ons in die Christelike doop iets het wat heeltemal anders is as Johannes se doop. Maar daar is ’n saak wat nog belangriker is in Jesus se doop.

 

Die uniekheid van Jesus se doop

Jesus gaan na Johannes waar hy in die Jordaan doop (Matt 3:13-17). Hy gaan om gedoop te word. Dis merkwaardig dat Johannes nie wil nie (14). Waarom sou dit wees? Johannes se doel is om mense te doop. Dis sy werk. Maar hy wil nie vir Jesus doop nie? Die rede lyk my voor die hand liggend. Johannes het ’n bekeringsdoop gedoop. Hy het sondaars gedoop wat hulle bekeer het. Hulle doop was deel van hulle getuienis van bekering. Maar dan kon Jesus nie gedoop word nie. Hy is nie ’n sondaar nie. Hy moet Hom nie bekeer nie. Maar Jesus dring daarop aan. En dit nadat Hy erken het Johannes is eintlik reg. Dis tog wat die “nogtans” beteken: “Johannes, jy is heeltemal reg, eintlik behoort jy My nie te doop nie, maar jy moet dit nogtans doen.”

 

Wat gaan hier aan? Jesus gee die rede aan waarom hierdie ongewone, eintlik onpaslike doop tog bedien moet word: “Want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (1953). Wat kan dit beteken? In watter sin moes Jesus “geregtigheid vervul”? Sondaars moet dit doen om in die regte verhouding met God te kom. Maar Jesus is in die regte verhouding. Hy het nie geregtigheid nodig nie.

 

Maar ons het. En later sal Paulus baie skryf oor die geregtigheid wat ons moet hê, maar nie self het nie, en wat Christus dan vir ons verdien het by God (oa Rom 3). Is dit nie wat hier aan die gang is nie? Hy moet deur sy doop “alle geregtigheid vervul”. Beteken dit nie dat Hy nie net eers aan die kruis in ons plek gestaan het nie, maar al tydens sy doop? Is dit nie wat Paulus bedoel as hy skryf: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor 5:21). Deur Hom te laat doop, tree Jesus as ’n sondaar op.

 

Net so sterf Hy later aan die kruis as sondaar – maar in beide gevalle was dit oor ons sonde, nie oor sy eie nie. Maar dan lê sy doop deur Johannes op heeltemal ’n  ander vlak as iets waarin ons Hom moet navolg. Ons kan selfs nie. Ons kan nie in ander se plek voor God gaan staan soos Hy nie.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

  

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die wit steentjie

Die wit steentjie – Coen Slabber

Leonie vra:

Help my asseblief met die boek/teksvers waar daar oor ‘n “wit klippie” en gasvryheid gepraat word. Ek het ‘n paar jaar terug ‘n preek daaroor gehoor waar die ontvanger van die wit klippie soos familie in die huis is.

 

Antwoord

Dr Coen Slabber antwoord

In Openbaring 2 en 3 lees ons die briewe aan sewe gemeentes in Klein-Asië. Elkeen begin met ‘n spesifieke opdrag: Skrywe aan … Hier word na konkrete probleme in die gemeentes verwys. In die boodskap aan Pergamum (Openbaring 2:12 – 17) lees ons: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ‘n wit steentjie gee met ‘n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.

 

Luister  beteken gehoorsaam – die gemeente moet die Gees gehoorsaam en hulle bekeer en teen die verleiding veg. As hulle volhard, kry hulle deel aan die oorwinning van die verheerlikte Christus. Hulle kry ook ‘n oorwinningsprys: van die verborge manna  en ‘n wit steentjie met ‘n nuwe naam daarop gegraveer.

 

Wat beteken hierdie wit steentjie? In Openbaring is wit simbolies die teken van suiwerheid/reinheid. Suiwerheid hier verwys na verlossing of geloof of oorwinning. Wit verwys na die hemelse heerlikheid van almal wat oorwin. Dink aan die groot menigte wat voor die troon en voor die Lam staan: Hulle het wit klere aangehad (Openbaring 7:9).

 

Kom ons egter by die wit steentjie is die betekenis nie so duidelik nie. In die antieke wêreld mag die wit steentjie na verskillende dinge verwys het:

1.  ‘n Juweelsteentjie soos ons dit op die borssak van die hoëpriester gekry het. Joodse tradisie sê dat hierdie steentjies saam met die manna in die woestyn opgetel is. Die wit steentjie is dan ‘n kosbare geskenk van God.

2.  Gekleurde stene is gebruik om berekenings mee te maak. Dit beteken dat die Christen getel is onder die aantal gelowiges.

3.  Aan die einde van ‘n verhoor het die regter ‘n steentjie in ‘n kruik geplaas – wit beteken onskuldig en swart beteken skuldig – dit registreer die vonnis. Dit beteken dat Christene vrygespreek is voor God as gevolg van die werk van Jesus Christus.

4.  ‘n Wit steentjie (tessera) was teken van een of ander voorreg wat ‘n persoon gehad het. Hier is drie voorbeelde: 

  • Ryk mense het “kliënte” gehad – mense wat elke oggend van hulle beskermheer kos en geld vir die dag ontvang het. Hulle het ‘n tessera ontvang om hulle te identifiseer – hulle het die reg op gratis kos en geld.  Dit beteken Christene het die reg op die gratis gawes vir die lewe wat Christus gee.
  • ‘n Oorwinning by die spele was ‘n groot eer in die antieke wêreld. Uitstaande wenners het ‘n tessera ontvang. Dit het as “toegangskaartjie” gedien by toekomstige spele of by feesgeleenthede. Dit beteken die Christene is die wen atleet van Christus en deel in die heerlikheid van sy Here.
  • Die swaardvegter (gladiator) was die held wat die meeste bewonder is. Hulle moes dikwels aanhou veg totdat hulle uiteindelik doodgemaak is tydens ‘n geveg. As hy besonder goed was, is hy toegelaat om af te tree. Hulle ontvang dan ‘n tessera met die letters SP daarop. Dit is vir die Latynse spectatus – ‘n man wie se dapperheid bo alle twyfel bewys is. Dit beteken die Christen is die swaardvegter  vir Christus wat hom as dapper in die lewenstryd bewys het. Hy mag dus die rus wat Christus gee, ingaan

5.  Die heidene het ‘n hangertjie met ‘n geheime naam daarop om die nek gedra. Hierdie hanger was soms ‘n kosbare edelsteen, maar dikwels was dit net ‘n klippie. Die naam was gewoonlik dié van een van die gode en die doel was om die draer teen boosheid te beskerm. As dit die rede vir die wit steentjie is, beteken dit dat Christene die Naam van God of Jesus Christus op die steentjie gedra het. Hulle is dus veilig in lewe en in dood, want julle ken die Naam van die ware God – hulle het niks meer nodig nie

6.  Ingewydes in die kultus van Asklepius het ‘n steentjie met ‘n nuwe naam daarop gegraveer ontvang. Dit het beteken dat hulle hulle inisiasie suksesvol deurgegaan het.

7.  In die antieke wêreld is ‘n besonder gelukkige dag ‘n wit dag genoem. Toe Perikles Samos beleër het, het hy besef dat dit lank sal duur voor die stad sal oorgee. Hy verdeel sy leër in agt dele en elke dag trek hulle lootjies. Een van die boontjies was wit. Die groep wat die wit boontjie getrek het, was daardie dag van diens vrygestel – ‘n gelukkige dag.

 

Prof Jan du Rand reken dat die waarskynlike verklaring is dat die wit steentjie dien as toegang tot die Messiaanse feesmaal. Die nuwe naam kan teruggevoer word na Jesaja 62:2: Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die nuwe naam is dus die naam wat die gelowiges wat oorwin het, ontvang.

 

Verwysings:

Barclay, William (1976): The Revelation of John, Volume 1. The Saint Andrews Press, Edinburgh.

Du Rand, Jan (2007): Die A-Z van Openbaring.  Die Christelike Uitgewersmaatskappy

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Leef uit jou Doop: 5.1 Kinderdoop: Vooraf opmerkings

Leef uit jou Doop: 5.1  Kinderdoop: Vooraf opmerkings – Adrio König

5.1 Vooraf opmerkings

Terwyl daar groot groepe Christene is wat die kinderdoop verwerp, is daar ook groot groepe wat dit saam met die grootdoop aanvaar. Dit sal egter gou duidelik word dat dit baie moeiliker is om die kinderdoop te verduidelik as om dit te verwerp. Dit sal ’n veel langer hoofstuk word. Dit op sigself kan sommige mense al laat voel dis klaar ’n duidelike teken dat die kinderdoop ’n verlore saak is.

Maar miskien moet ’n mens tog versigtig wees. Dit is net so maklik om te argumenteer dat ons nog die Sabbat moet vier en nie die Sondag nie, omdat daar geen duidelike uitsprake in die Nuwe Testament is wat die Sondagviering gebied nie, en die wet van God ewig vasstaan. Daarom is dit nogal ’n taamlike argument om ons Sondagviering teenoor Adventiste te verduidelik. En met die Drie-eenheidsleer is dit nie anders nie. Dis baie makliker vir Jehova-getuies om die Drie-eenheidsleer belaglik te maak as vir ons om dit oortuigend te verduidelik.

Dis nie noodwendig waar dat die maklikste pad ook die regte pad is nie. Paulus het dit selfs baie moeiliker gehad om die vryheid van die wet te verduidelik as sy Judaïstiese teenstanders wat eenvoudig slaafs by die wet gebly het.

 

Misverstande

Daar is ’n paar misverstande wat eers uit die weg geruim moet word. Dit is nie waar dat die aanvaarding van die kinderdoop die verwerping van die grootdoop beteken nie. Trouens dis onsin. Daar is geen kerk op aarde wat die grootdoop verwerp nie. Dit is ’n wonderlike sakrament. Grootdope in kerke wat ook die kinderdoop aanvaar, is die teken dat die kerk regtig op die wêreld ’n wins maak. Dit is natuurlik nie noodwendig waar van kerke wat die kinderdoop verwerp nie omdat hulle ook hulle gemeentekinders grootdoop, en ook lidmate van ander kerke (oor-)doop.

Maar intussen aanvaar die kerke wat saam met die grootdoop ook die kinderdoop beoefen met vreugde elke moontlike kans om iemand te doop wat regtig van buite kom.

Die kwessie van oordoop, dit wil sê om iemand ’n tweede keer te doop, is ’n ander saak wat in hoofstuk 7 bespreek word.

Verder is dit ook ’n misverstand dat kerke wat deur besprinkeling doop, onderdompeling verwerp.  Die Gereformeerde kerke by name aanvaar al vir eeue lank sowel besprinkeling as onderdompeling. Trouens in die klas sieke doopformulier word onderdompeling self vóór besprinkeling genoem. Die feit dat hulle meestal deur besprinkeling doop, is ’n blote gewoonte.

Ons gaan vervolgens die argumente teen die kinderdoop een-een bespreek.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

  

 

Skrywer: Prof Adrio König