Leef uit jou Doop: 4.3 Eers geloof, dan doop

Leef uit jou Doop: 4.3 Eers geloof, dan doop – Adrio König

4.3 Eers geloof, dan doop

Die teenstanders van die kinderdoop grond hulle argumente baie sterk op die Bybel. En dit is sonder meer duidelik dat daar ’n bepaalde volgorde in die Nuwe Testament is: eers geloof en dan doop. Dit word in elke doopgeval duidelik gestel of geïmpliseer dat mense eers geglo het en toe gedoop is.

En daar is uitsprake wat dit onomwonde stel: “Elkeen wat glo en gedoop word, sal gered word” (Mark 16:16, NLV). Ook in die sendingbevel is die volgorde duidelik: Eers “maak dissipels”, dan “doop hulle” (Matt 28:19). En die 1953-vertaling het nog Handelinge 8:37 in gehad wat uit moderne vertalings weggelaat word met die argument dat dit ’n latere invoeging is. Dit is deel van die gesprek tussen Filippus en die staatsamptenaar uit Etiopië. Daar het uitdruklik gestaan: “Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit (die doop) geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus die Seun van God is.”

Hierdie mense neem ook aanstoot teen allerlei kwinkslae om duidelike sake in die Bybel onder die mat in te vee. Dink maar aan Markus 16:16: “Wie tot geloof gekom het en gedoop is.” Hulle verwys selfs graag na die ou Statenvertaling: “Die gelooft zal hebben, en gedoopt zal zijn, zal zalig worden.”

Die argument word dan gebruik dat ons hier geen volgorde het nie, net die twee sake wat nodig is: geloof en doop. Marais het hom indertyd sterk op die spesifieke vorm van die Griekse werkwoorde

(aoristus) beroep en daaruit afgelei dat daar geen volgorde aangedui is nie sodat die doop ook in die praktyk voor die geloof sou kon kom. Sy gevolgtrekking was eenvoudig: “Daarmee is dit nie meer moontlik om die kinderdoop eksegeties te stuit of as onwaarskynlik af te wys nie” (aw 83).

Ook Handelinge 2:28 is só benader. Ook hier is die werkwoorde vir “bekeer” en “gedoop word” in die aoristus wat dan sou beteken dat die volgorde ook omgekeer sou kon word en mense eers gedoop word en hulle daarna bekeer.

Sulke argumente hou nie water nie. Niemand sal dit toepas op volwassenes nie. Niemand gaan heidene doop en dan hoop hulle hoor later die evangelie en kom tot geloof nie. Dis duidelik net ’n argument om die kinderdoop te probeer red.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 


 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 4.2 Die hoë betekenis van die doop en kinderdoop?

Leef uit jou Doop: 4.2 Die hoë betekenis van die doop en kinderdoop? – Adrio König

4.2 Die hoë betekenis van die doop en kinderdoop?

Dit is goed moontlik dat die groepe wat die kinderdoop verwerp, ook die groot saak waaroor dit gaan in hierdie boek wat jy in jou hand het, téén die kinderdoop sal gebruik, en hierdie boek sal beskou as ’n groot en sterk argument téén die kinderdoop.

Immers hoe onder die son kan die kinderdoop by hierdie hoë betekenis van die doop inpas? Dit gaan in die doop om vergifnis en reiniging van sonde, om vereniging met Christus, om ’n nuwe lewe. Dit pas mos nie by babas nie. Hoe kan hulle sonde vergewe word? Hoe kan hulle met Christus verenig word? Hoe kan hulle saam met Christus sterf, begrawe word en opstaan? Hoe kan hulle ’n nuwe lewe kry?

Is dit nie eenvoudig waar dat die hele betekenisrykdom van die doop asof uit een mond teen die kinderdoop getuig nie? Gaan dit nie klaarblyklik in die betekenis van die doop om mense wat self kan glo, om mense wat self besluite kan neem, om mense wat ’n eie bewuste lewe lei nie? En is dit dan nie byna vanselfsprekend dat daar geen verwysing na kinderdoop in die Nuwe Testament is nie?

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Liefde vir jou naaste

Liefde vir jou naaste – Francois Malan

Johan vra:

As wedergebore Christen, hoe belangrik is dit dat jy medegelowiges moet liefhê, of kan jy ‘n mens lief hê, maar nie van die persoon hou nie?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Jesus se opsomming van die wet behels ook ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Mat.22:39), dit is die maatstaf vir die wyse waarop ons moet liefhê. In die bergrede sê Jesus selfs: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar so nie? Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Mat 5:43-48; vgl. ook Lukas 6:27-36 waar dit selfs meer prakties uitgewerk word).

Liefde is nie slegs ‘n toegeneëntheid nie, maar ‘n wilsbesluit, om selfs jou vyand lief te hê, omdat ons deel geword het van God se groot liefde. Liefde is die vrug van die werk van die Heilige Gees in ons (vgl. Gal.5:22).

1 Joh 4:7-8 sê: Geliefde, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.

1 Joh 4:19-21: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê: ‘Ek het God lief’, en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.  

1 Joh 3:15-16: Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

‘Wedergebore Christen’ – die wedergeboorte kom van God af, en is nie uit ons self nie. Dit is die werk van die Heilige Gees wat ons kom oortuig dat Jesus God is wat uit liefde die straf op ons sonde gedra het in ons plek (vgl. Joh 3:3 opnuut gebore/van Bo gebore; Joh 3:5: uit die Gees gebore; Joh 14:16:8 die Heilige Gees wat ons oortuig van sonde, van die geregtigheid wat Jesus vir ons verwerf deur ons verhouding met God reg te maak, en van oordeel as ons nie glo nie; Joh 1:29 Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; Joh 1:1 Jesus is self ook God).

Romeine 8:14-16: Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God….julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: Abba, dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons Gees dat ons kinders van God is.

2 Kor 3:18 sê die Gees is besig om ons al meer te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.

‘n Wedergebore Christen het ‘n kind van die God van liefde geword, deur aan die liefdesoffer van sy Seun verbind te word deur God self, wat as die Gees van God ons kom wortel en grondves in die onmeetlike liefde van Christus, sodat ons deel word van die liefdeskrag van God om innerlike sterk te word in liefde, vervul met die volheid van God se liefde teenoor ander mense (Efesiërs 3:14-19).  

‘Kan jy ‘n mens lief hê maar nie van die persoon hou nie?’ – die liefde is juis bedoel om ons natuurlike voorkeure te oorskry. Daarin is ‘n wedergebore Christen anders as die tollenaars en heidene van Mat. 5:46,47 en die sondaars van Lukas 6:32-34. Ook ons as gelowiges hou van sekere mense en van ander nie, self van mede broers en susters in die Here. Maar as kinders van God is ons juis geroep om eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe, wat niks doen uit selfsug of eersug nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself; nie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in ons wees wat daar ook was in Christus Jesus wat Homself verneder het tot die dood aan die kruis (vgl. Filippense 2:2-11).

1 Petrus 1:22,23 sê: Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Dit is so dat ‘n mens meer aanklank vind by sekere persone as by ander; dat sommige mede-gelowiges se optrede en gesindhede dit moeilik maak om van hom of haar te hou, deurdat so ‘n persoon hooghartig en selfsugtig optree. Maar die liefde is juis daar om my voorkeure en afkeure te oorskry, om so ‘n persoon met liefde te wen.

Jesus het twaalf dissipels uitgekies uit ‘n skare van volgelinge, en een van die twaalf was ‘n verraaier, wat Hy tot op die end probeer wen het (Mark 3:13-19). Van die twaalf het hy by sekere geleenthede vir Petrus en Johannes en Jakobus saam met Hom geneem (vgl. Luk 8:51; Mat 17:1). Maar vir Petrus moes Hy een keer selfs sê ‘Satan! Jy is vir my ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê (Mat 16:23), maar as hy Jesus liefhet, gee Hy opdrag om sy skape te versorg (Joh 21:15-17); vir Johannes en Jakobus noem Hy seun van die donder (Mark 3:17), en as hulle vuur uit die hemel wil afbid op ‘n dorp van die Samaritane het Jesus hulle skerp tereggewys (Luk 9:54,55). En dan word Johannes die dissipel vir wie Jesus baie lief was, aan wie Hy sy moeder se versorging opdra voor Hy sterf (Joh 19:26,27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Leef uit jou Doop: 4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie

Leef uit jou Doop: 4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie

4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie

In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die rykdom van die doop in die Nuwe Testament. Indien die kinderdoop ’n aanvaarbare vorm van die Christelike doop is, moet dit voortvloei uit die betekenisse wat ons uit die Nuwe Testament gekry het. Ons kan nie ander teologiese beginsels vir die kinderdoop gebruik as vir die grootdoop nie.

Daar is groot groepe Christene wat hard en duidelik Nee sê vir die kinderdoop. Dink maar aan omtrent die hele Pinksterwêreld, die Baptiste, en ’n groot deel van die Charismatiese beweging. En hulle het baie sterk argumente om hierdie standpunt te steun. Alhoewel my eie simpatie duidelik by die aanvaarding van die kinderdoop lê, gaan ek in hierdie hoofstuk die taal gebruik van dié wat die kinderdoop verwerp, om te probeer om hulle argumente só te stel soos hulle graag sou wou.

Die eerste argument is dat daar geen verwysing na die kinderdoop in die Bybel is nie. Die voorbeelde wat soms wel aangehaal word, soos die gesinsdope, is nie aanvaarbaar nie omdat daar geen getuienis is dat daar wel babas in dié gesinne was nie. Trouens wat wel van hierdie gesinne geskryf word, dui eerder in die rigting dat daar inderdaad geen kindertjies was nie. Ons lees die woord is aan hierdie mense verkondig, hulle het geglo, en hulle was bly – alles dinge wat nie van babas geld nie

(Hand 16:32, 34).

 

Hier word verder graag verwys na allerlei vreemde argumente om tog kinderdoop in die Bybel te probeer kry. Indertyd het Willie Marais ’n boekie oor die kinderdoop geskryf waarin hy op vreemde maniere die kinderdoop probeer “red” het. Hy het byvoorbeeld selfs in Jesus se sendingbevel kinders probeer kry. Hy gebruik twee argumente. Die eerste een is dat die Grieks wys dat daar geen volgorde hoef te wees tussen dissipelsmaak aan die een kant, en doop en leer aan die ander kant nie. Mense sou dus ook eers gedoop kon word, en daarna geleer word, wat ruimte laat vir die kinderdoop. En die tweede argument is dat dit om “nasies” gaan, en nasies het tog babas. Hulle moet dus ook gedoop en geleer word. Sy gevolgtrekking is dan: “Matteus 28:19 bevestig daarom die vanselfsprekende vermoede dat ook suigelinge van die begin af gedoop is” (Die kinderdoop en besprinkeling, p 79).

 

FP Möller het destyds die onhoudbaarheid en selfs onwaardigheid van sulke argumente aangetoon (Die sakrament in gedrang, p 72 ev). Daar is ’n gedrongenheid in om iets te probeer sê wat daar eenvoudig nie staan nie. Dit is klassieke voorbeelde van die soort stryd waarna vroeër verwys is (1.3).

Die waarheid is dat daar geen duidelike verwysings na die kinderdoop in die Bybel is nie. En dit is tog vreemd. Die laaste boeke van die Nuwe Testament is waarskynlik baie na aan die einde van die eerste eeu geskryf. Dit is omtrent 70 jaar na Pinkster. Die dissipels was toe al omtrent almal dood. Dit was al die derde en vierde geslag na Christus. Kan ’n mens nie verwag daar moes toe al ’n verwysing na die kinderdoop gewees het as daar toe al kinderdoop was nie?

 Kan ’n mens regtig met so ’n belangrike gebruik aangaan sonder enige noemenswaardige steun in die Bybel? Die Bybel is tog ons maatstaf en rigsnoer.

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König