Kinders buite die huwelik

Kinders buite die huwelik – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Wat is God se gevoel oor kinders wat buite die huwelik gebore word. Ek en my gewese verloofde is na 3jaar uitmekaar en ons het ‘n seun saam. Kan dit wees dat God ons gestraf het oor ons ongehoorsaamheid ten opsigte van seks voor die huwelik dat ons paaie moes uitmekaar gaan?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Seks voor die huwelik en ons gebroke verhouding 

Die Jesus wat ons in die evangelies leer ken het, het ‘n besondere hart vir kinders en juis vir mense wat op die rand van die samelewing staan. God is die God van lewe en het jou kindjie baie lief. God het ‘n plan vir jou kind.

Die verbrokkeling en skade in jou huwelik is ‘n resultaat van jare se spanning, konflik en frustrasie. Dikwels leef ons buite God se wil en is die skade en seer wat daaruit voortvloei ‘n direkte gevolg van ons eie optrede. God se hart klop vurig vir gesonde verhoudings. Dit is sy wil dat mense in gesonde verhoudings met mekaar staan. God straf nie mense met slegte verhoudings nie. God seën mense met goeie verhoudings.

As ouers van ‘n kindjie het julle altyd die verantwoordelikheid teenoor julle kind en mekaar. Dink baie mooi oor wat God se wil is, en doen die regte ding. Korttermyn oplossings skep dikwels langtermyn probleme. Het julle werklik alle moontlike opsies oorweeg en beraders gaan sien?

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood?

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? – Kobus Kok

Piet vra:

Wanneer gaan ons hemel toe? Ek dink die oomblik as ons sterf, is ons in die hemel. Daar is nie ‘n tydsverloop in die terme wat ons tyd verstaan nie. Ek dink die tydsbegrip bestaan net vir ons as lewende mense en na ons gesterf het , gaan ons in ‘n ander dimensie in waar tyd nie bestaan nie. Daarom kan ons dan vir ewig lewe, want daar is nie ‘n tydsfaktor verbonde nie. U kommentaar asseblief.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? 

Die Nuwe Testament gee nie vir ons duidelike antwoorde oor presies wanneer ons hemel toe gaan nie. Sommige tekste soos die van Lukas se verhaal van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31) laat dit voorkom of ons dadelik in die hemel gaan wees en ander mense dadelik sal kan herken. Aan die ander kant vertel Jesus hier ‘n gelykenis, en dit moet nie letterlik verstaan word nie. Ander tekste, soos dié wat ons in Paulus vind (vgl. 1 Thes) skep die indruk dat mense in die grafte bly en dan met die wederkoms uit die grafte sal opstaan.

Piet slaan die spyker op sy kop en gee eintlik die regte antwoord in sy eie vraag. Die oomblik as ons sterf, verlaat die gees die liggaam. Die oomblik as dit gebeur, is tyd en ruimte eintlik nie meer van toepassing op ons nie. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, sal die dooie nie eens die tyd tussen sy/haar eie dood en die wederkoms noodwendig beleef nie – dit sal soos ‘n oogwink voel.

Hierdie dinge is egter almal spekulasie, omdat die Nuwe Testament dit nie vir ons eksplisiet verduidelik nie.  Die Gereformeerde kerklike tradisie onderskei haarself duidelik van sommige ander kerklike denominasies wat glo dat mense na hulle dood in een of ander tussen-tydperk gaan verkeer. Ons glo dat ons dadelik by God gaan wees, en indien ons nie dadelik by hom gaan wees nie, gaan ons nie eens weet dat tyd verloop het nie. Tyd gaan relatief wees na die dood.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Mense van die Bybel: Nikodemus

Mense van die Bybel: Nikodemus – Coen Slabber

Van Nikodemus lees ons net in die Evangelie volgens Johannes. Hy het Jesus een nag besoek en Hom as ‘n leermeester wat van God af gekom het, erken. Hoekom? Want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie. Die ander twee geleenthede waar ons van Nikodemus lees, is:

  • Johannes 7:50 – 52 – hier herinner hy die Fariseërs en priesterhoofde aan hulle eie wette. Hulle kon nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie. Dit was nadat die wagte nie vir Jesus gevange geneem het nie.
  • Johannes 19:39 – 42 – na Jesus se kruisiging het hy vir Josef van Arimatea gehelp om Jesus se liggaam met geurolie te behandel, die liggaam met doeke toe te draai en Jesus te begrawe.

Wie was Nikodemus?

Die naam Nikodemus is van Griekse oorsprong. Dit beteken waarskynlik “oorwinnaar oor mense.” In die Talmoed kry ons ‘n Hebreeuse vorm van die naam – Naqdimon.

Behalwe die Johannes-evangelie het ons geen betroubare bron van hom nie. Nikodemus was ‘n Fariseër en lid van die Joodse Raad (Johannes 3:1 – 21). Hy was dus ‘n gesiene man en leier. Jesus self verwys na hom as die bekende leermeester van Israel. As ons Johannes 19:39 lees, moet ons aanvaar dat hy ‘n welgestelde man was: Nikodemus … het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. Uit sy onderhoud met Jesus (Johannes 3) kan ons aflei dat hy geleerd en intelligent was, maar skugter. Uit Johannes 7, waar hy Jesus verdedig, kan ons aanvaar dat hy die waarheid soos Jesus dit vroeër aan hom verduidelik het, aanvaar het.

Sy naam verskyn is sekere apokriewe dokumente soos die Evangelie van Nikodemus – middel vierde eeu. Hierdie werk is grotendeels gebaseer op ‘n vroeëre werk – Die Handelinge van Pilatus.

Sommige historici beweer dat hy dieselfde persoon is wat in die Talmoed vermeld word: Nikodemus ben Gurion. Daar word gesê dat hy ryk was en ‘n baie gewilde heilige was. Hy het selfs die mag gehad om wondertekens te doen. Volgens Christelike tradisie het hy tydens die eerste eeu as martelaar gesterf. Die presiese datum is onbekend. Volgens oorlewering word sy oorblyfsels saam met dié van Stefanus, Gamaliël en Abido gevind. Hy word deur beide die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse Kerke as heilige vereer.

Hoekom besoek hy vir Jesus?

Meeste mense voel dat daar iets meer in die lewe moet wees – ‘n groter waarheid wat ontdek moet word. Dit was ook die geval met Nikodemus wat Jesus in die nag opgesoek het. Moontlik het hy vermoed dat hierdie jong Rabbi dalk die beloofde Messias was wat God aan Israel beloof het. By daardie gesprek leer hy dat hy opnuut gebore moet word – iets wat hy nie verstaan het nie.

Nikodemus se sterkpunte

  • Hy was ‘n lid van die invloedryke Joodse Raad – ‘n man in ‘n magsposisie.
  • Hy het nie die wettisisme van die Fariseërs sommer aanvaar nie. Hy besoek Jesus om meer te wete te kom van die boodskap wat Hy verkondig.
  • Hy het moed gehad. Hy het Jesus persoonlik besoek om vrae te vra en by Hom die waarheid te hoor.
  • Hy het vir Jesus opgestaan toe die Fariseërs teen Hom saamgesweer het. Hy wys die Fariseërs en priesterhoofde daarop dat wat hulle wou doen teenstrydig met hulle eie wette was.
  • Hy het die Joodse Raad en Fariseërs verontagsaam deur Jesus se liggaam met waardigheid te hanteer en seker gemaak dat Jesus ordentlik begrawe word.
  • Hy was een van die min Joodse godsdiensleiers wat in Jesus Christus geglo het.

Nikodemus se swakpunte

Toe hy die eerste maal vir Jesus besoek het, doen hy dit in die nag. Waarskynlik was dit om te verseker dat niemand hom herken nie. Sou hy Jesus gedurende die dag besoek het, mag iemand hom by die Joodse Raad gaan verklaar het. Hy wou, op daardie vroeë stadium, nie openbaar dat hy wel ‘n volgeling van Jesus was nie. Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs, het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie (Johannes 12:42).

Wat kan ons by Nikodemus leer?

Nikodemus het nie gerus voordat hy die waarheid ontdek het nie. Hy wou graag verstaan en hy het besef dat Jesus die antwoorde het. Nadat hy ‘n volgeling van Jesus geword het, het sy lewe verander. Hy steek nie meer sy geloof in Jesus weg nie.

Afsluiting

Uit Nikodemus se gesprek met Jesus kry ons die beskrywende woord wedergebore. Jesus sê vir kom dat hy opnuut gebore moes word – iets wat hy glad nie op daardie stadium verstaan het nie. In hierdie gesprek kry ons ook die bekende vers: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber




Toets God ons geloof?

Toets God ons geloof? – Francois Malan

Henriette vra:

Toets God ons geloof?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Ps 26:2 vra die digter ‘Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.’

In Ps 17:3 bely die digter ‘As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.’

Die woord ‘toets’ word gebruik vir die suiwering van silwer en goud in die vuur, vgl. Ps 66:10 ‘U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer’ .

In Daniël 12:10 sê die groot engel vir Daniël: ‘Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly…’

1 Petrus 1:5-7: ‘En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.’

1 Petrus 4:12,13,16: ‘Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid…wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as die draer van daardie naam moet hy God verheerlik.’

Jakobus 1:3,5 ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.’

Jakobus 1:12-15 ‘Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinnaarsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.’

Lees ook Hebreërs 12:4-13. Vers 6: ‘…want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem…’ 10b-11: ‘…Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.’

In Romeine 8:17b sê Paulus: ‘…Aangesien ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.’

Hebreërs 5:8,9 sê van Christus: ‘…Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword…’

 

Skrywer: Prof Francois Malan